Is die dood die einde van menslike bestaan? Sal u weer ’n fisiese gestalte aanneem? Sal u die hele dag doelloos in die hemel rondhang met niks om vir ewig te doen nie? Die wonderlike, bemoedigende waarheid van hierdie saak is aan die meeste mense onbekend, maar dit word in u Bybel openbaar! God het ’n plan vir die hele mensdom – ’n baie spesiale beloning vir vandag se ware Christene!
Hoofstuk 1
Erfgename van ’n belofte
U het moontlik al meningspeilings gesien waar mense oor hulle grootste vrese uitgevra word. Daar is in een bekende meningspeiling bevind dat mense meer bevrees is om in die openbaar te praat as wat hulle vir die dood is. Dit mag vir ons lagwekkend wees wanneer ons jonk en gesond is om in die openbaar te praat maar dit is inderdaad ’n uitdaging waarvoor baie mense nie kans sien nie. Slegs enkeles van ons sal egter eerder sterf as om in die openbaar te praat. Ons het waarskynlik ’n idee van wat sal gebeur wanneer ons ’n toespraak afsluit, maar hoeveel mense weet regtig wat sal gebeur wanneer hulle sterf?
Beteken die dood ’n permanente einde van ons kortstondige bestaan? Baie mense kan nie die idee verdra van om nie te bestaan nie. In plaas daarvan om aktiewe, energieke lewens te leef, mors hierdie mense hulle tyd om beangs te wees oor wanneer hulle uiteindelik sal sterf. Sommige mense soos die bekende futuris Ray Kurzweil, hoop dat ons ’n tyd nader wanneer mense hulle biologiese beperkings kan oorkom en hulleself in masjiene kan “programmeer” wat vir ewig sal “lewe”. In ’n paar van die ander uiterste gevalle tref mense voorsorg om hulle liggame na hulle dood te bewaar deur tegnieke soos bevriesing van hulle liggame teen uiters lae temperature – met die hoop dat die wetenskap dit eendag moontlik sal maak om lewe in hulle lewelose vlees en bene terug te bring.
Is die verlenging van ons huidige lewens werklik die antwoord op ons probleme? Hoeveel lewens word gefolter deur pyn, berou, droefheid, eensaamheid en hartseer? Wanneer ons die Bybel se verhale van die lewens van die vroegste mense lees, sien ons dat hulle eeue lank geleef het. Adam het vir 930 jaar geleef; sy seun Set vir 912 jaar; Enos vir 905 jaar; Kenan vir 910 jaar; Mahalálel vir 895 jaar; sy seun Jered vir 962 jaar en sy kleinseun Methúselag vir 969 jaar. Het hulle lang lewens vir hulle tevredenheid gebring? Het hulle in ’n wêreld vol vrede en voorspoed geleef? Geensins! “Toe die Here sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die Here berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart” (Génesis 6:5-6).
Nee, ’n langer lewe beteken nie noodwendig ’n vervulde, doelgerigte lewe nie. Ten spyte van die mens se beste pogings om ewige lewe in die vlees op te wek, sê die Skrif: “En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel” (Hebreërs 9:27). Die dood is waarlik ’n vyand van die mensdom (1 Korinthiërs 15:26) en is werklik onvermydelik: Die dood het aangebreek vir almal wat al ooit geleef het. Amerikaners mag die bekende tong-in-die-kies opmerking van hulle stigtingsvader Benjamin Franklin onthou: “In hierdie wêreld is niks seker nie, behalwe die dood en belasting”. ’n Paar mense mag belasting ontduik, maar die dood is die een ding wat almal in gemeen het.
Ná die dood ... wat dan?
Wat sal dus met elkeen van ons gebeur wanneer die dood onvermydelik aanbreek? In die Westerse wêreld hou die meerderheid mense vas aan die “hoofstroom” of tradisionele sienings van hemel en hel – hoewel getalle besig is om al minder te word. Die Pew Navorsingsentrum het in 2015 berig dat 72% van die Amerikaners aan die hemel glo. Die hemel word gedefinieer as ’n plek “waar mense wat goeie lewens gelei het, vir ewig beloon word”. (“Most Americans believe in heaven and hell”, Pew FacTank, 10 November 2015). Interessant genoeg, het net 58% van hulle hul geloof in ’n hel uitgespreek, “waar mense wat slegte lewens geleef het en sterf sonder om berou te hê, vir ewig gestraf word”.
Beteken die dood dalk eenvoudig net wedergeboorte in ’n ander liggaam? Die meningspeiler, George Barna, het jaar na jaar bevind dat Oosterse godsdienstige konsepte meer gewild raak in Amerika. ’n Paar jaar gelede het 18% van die mense wat deel van Barna se opname was, gesê hulle glo in een of ander soort reïnkarnasie. Sommige mense glo dat die siel moontlik as ’n menslike wese of dalk as ’n dier mag terugkom, afhangende van ons gedrag gedurende hierdie lewe en dat ons net die siklus van reïnkarnasie sal beëindig wanneer ons deur ons eie veeleisende pogings volmaaktheid bereik. Sommige van hulle beskryf hierdie volmaaktheid as die volledige verlies van die eie-ek. Ander mense verwag om die ewigheid in die hemel saam met een of ander goddelike wese deur te bring. Om dalk na ’n “saligmakende visie” van God te kan staar, in ewige aanbidding vasgevang, en met geen besondere werk om te doen nie.
Ander mense sê weer dat ons net een keer leef en dat indien ons nie die regte Godheid aanbid nie, ons die ewigheid sal deurbring deur om in die vlamme van ’n ewigbrandende vuur gemartel te word. Hulle sê dat indien u in ’n tyd of op ’n plek gebore is waar u nooit van die regte Godheid gehoor het nie, u vir die hel bestem is. Dit lyk onregverdig en skrik baie mense af wat opreg na begrip streef.
Dit is nodig dat u die waarheid weet!
Is daar enige manier waarop ons met sekerheid die waarheid te wete kan kom met betrekking tot wat gebeur wanneer ons sterf? Die goeie nuus is dat ons oor die waarheid ingelig is en ons dit uit ’n bron, wat toon dat dit uniek betroubaar is, kan bewys: U Bybel! Die waarheid is dat diegene wat Jesus Christus waarlik volg, erfgename van ’n wonderlike belofte is – ’n belofte wat ons sal erf wanneer ons uit die dood opgewek word. Soos die apostel Paulus skryf: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en volgens die belofte erfgename” (Galásiërs 3:29). Die apostel Petrus beskryf ons beloning as “’n onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis” (1 Petrus 1:4). Let daarop dat hierdie beloning ’n erfenis is wat vir vandag se Christene bewaar word. Ons is erfgename maar het nog nie die erfporsie van ’n wonderlike belofte ontvang nie (Romeine 8:14-17). Wat is daardie belofte wat vir ons bestem is om te erf? Dit is iets so wonderlik dat die mensdom nog nooit so iets ervaar het nie, nog minder kan begin ons daardie wonder te verstaan sonder God se hulp. Soos Paulus skryf: “Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ’n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet” (1 Korinthiërs 2:9). Lees verder om meer te wete te kom oor hierdie verstommende belofte en wat dit vir u sal beteken!
Hoofstuk 2
Die ewige lewe: ’n Geskenk
Baie Bybelgeleerdes is bekend met hierdie baie bemoedigende vers: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23). Hoeveel mense verstaan egter werklik wat hierdie vers beteken?
As onvolmaakte mense sondig ons en vra dan vergifnis. Ons verstaan dat God ons nie “onmiddellik” sou doodmaak weens ons sonde nie. Selfs daardie onbekeerde sondaars wat vleeslike en losbandige lewens leef, het nog nie die volle loon vir hulle sondes betaal nie. Ons verstaan dat sondaars hulle volle loon na hierdie leeftyd sal kry.
Presies wat is daardie loon dan? Let daarop dat bogenoemde skrifgedeelte nie bevestig dat “die loon van die sonde” onsterflike lewe in die helse vuur is nie. Die loon van sonde is geensins ’n soort onsterflike lewe nie; dit is die dood – die afwesigheid van lewe. Waarom stel so baie mense dan die “loon van die sonde” voor as ’n ewige lewe van pyniging? Om vir ewig te leef – volgens dieselfde vers slegs beskikbaar as “die genadegawe van God” – is die teenoorgestelde van “dood”.
Is die siel onsterflik?
Die rede waarom baie belydende Christene nie die eenvoudige woorde van God glo nie, is die algemene en foutiewe leerstelling dat almal ’n “onsterflike siel” het wat nooit sal sterf nie – ’n onsterflike siel wat vir ewig sal leef, óf in die pyniging van die “hel” of die vreugde van die “hemel”. Dink só daaraan: Indien ons alreeds onsterflikheid besit, hoef ons dit nie as ’n gawe van God te ontvang nie!
Ja, so vreemd as wat dit mag voorkom vir diegene van ons wat grootgeword het om net die onbybelse aannames van die hoofstroom “Christendom” te hoor, is die waarheid dat totdat ons deur God se gawe by die opstanding met onsterflikheid “beklee word” (1 Korinthiërs 15:52-53), ’n siel kan sterf! Die profeet Eségiël het dit duidelik gemaak toe hy geskryf het: “... die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Eségiël 18:4, 20). Die Hebreeuse woord vir “siel” is nephesh, wat na fisiese lewe verwys; dit is dieselfde woord wat gebruik word om seediere in Génesis 1:21 te beskryf.
U mag dalk dink: “Dit is dan in die Ou Testament, wat sê die Nuwe Testament oor die siel?” Dit mag u verbaas om te verneem dat Jesus se leerstelling dieselfde was: “En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel [Grieks psuche, “lewe”] sowel as die liggaam kan verderwe in die hel [gehenna vuur]” (Matthéüs 10:28). Glo u u Bybel? Glo u wat Jesus gesê het? God is by magte om siel en liggaam in die hel – die gehenna vuur – te vernietig. In plaas daarvan om die siel as “onsterflik” te beskryf sê Jesus Christus duidelik dat die siele sowel as die liggame van die goddelose mense vernietig sal word!
Die Bybel leer ons dat daar wel ’n menslike gees is – die gees in die mens (1 Korinthiërs 2:11; Job 32:8, 18) – wat in samewerking met die brein die merkwaardige menslike intellek moontlik maak. Alhoewel God met ons dood (Prediker 3:21) beslag lê op hierdie gees, bevat dit beslis die rekord van alles wat ons ooit geweet en ervaar het, vir God se toekomstige gebruik (soos ons sal sien)! Die Skrif maak dit duidelik dat daar geen bewussyn ná die dood is nie! Die dooies loof God nie (Psalm 115:17), hulle dank Hom nie en dink nie eers aan Hom nie (Psalm 6:5). Trouens, hulle weet niks nie (Prediker 9:5)! Die siel is inderdaad sterflik en tot en met ’n toekomstige opstanding, is die dooies duidelik net dit: Dood. Die gewilde leerstelling van die bewuste, onsterflike siel is eenvoudig ’n wanbegrip en word deur verskeie stellings in u Bybel weerspreek!
“Paradys” word verkeerd verstaan
Tog glo baie mense verkeerdelik dat hulle dadelik na die hemel sal gaan wanneer hulle in geloof sterf – dat daar nie vir hulle ’n toekomstige opstanding nodig is om by God te wees nie. Waar kom hulle aan die idee? Sommige mense se wanbegrip is gebaseer op ’n onjuiste vertolking van Jesus se woorde aan die dief wat langs Hom gekruisig is: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees” (Lukas 23:43). Baie mense besef nie dat die woord “vandag”, wat gebaseer is op die werklike Griekse teks, met die vorige gedeelte van die sin verbind behoort te wees nie. Die korrekte vertaling behoort te lees: “Ek sê vir jou vandag, jy sal saam met My in die Paradys wees”. Ja, die dief sal saam met Christus in die Paradys wees, maar wanneer? Wat is die Paradys? Waar is dit?
Die Skrif sê dat Paulus in ’n visioen weggeruk is in die Paradys (2 Korinthiërs 12:4) en dui aan dat die boom van die lewe in die paradys is (Openbaring 2:7). Dit dui ook aan dat die boom van die lewe in die Nuwe Jerusalem is, soos wat Christus sê, uit die hemel na die aarde sal neerdaal sodra die voorbereiding daarvan voltooi is (Openbaring 3:12; 21:2; 22:2). Die Nuwe Jerusalem sal nogtans nie gereed wees voordat die heiliges ’n duisend jaar lank op die aarde regeer het, met die voleinding van God se plan nie (Openbaring 20–22). Die Paradys wag vir ’n toekomstige openbaarmaking en aankoms op aarde! Die dief, net soos Christus beloof het, sal saam met Hom in die Paradys wees nadat hy opgewek is uit die dood – maar daardie tyd is in die toekoms.
Wat meer is, nadat Hy gesterf het, was Christus Self nie in die Paradys nie – Hy het ook nie daarheen gegaan op die dag dat Hy die belofte gemaak het nie! Jesus het gesterf en het toe drie dae en drie nagte in die graf deurgebring – totaal onbewus van alles – nie in die Paradys nie! Christus was nie bewus van enigiets nie, totdat God die Vader Hom op die derde dag tot lewe opgewek het, ter vervulling van die Skrif (Matthéüs 12:40)!
Die Evangelie van Johannes bevestig die waarheid dat siele nie na die hemel gaan wanneer hulle sterf nie. Die apostel Johannes skryf: “En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is” (Johannes 3:13). As die Logos, die Woord, was Christus se woonplek in die hemel voordat Hy na die planeet Aarde gekom het as die vleesgeworde Woord, Jesus.
Alhoewel ontelbare patriarge geleef en gesterf het voordat die Apostel hierdie woorde neergeskryf het, het slegs een Goddelike Persoonlikheid, nou as Jesus Christus bekend, uit die hemel neergedaal en opgevaar na die hemel! Petrus gee sy eerste preek weke na Jesus se dood en opstanding en hy kon eenvoudig sê: “Broeders, ek kan vry-uit met julle spreek oor die aartsvader Dawid, dat hy gesterf het en ook begrawe is, en sy graf is by ons tot vandag toe ... Want Dawid het nie in die hemele opgevaar nie” (Handelinge 2:29, 34). Dawid is dood in die graf, onbewus van enigiets, in afwagting vir die opstanding – net soos al die ander getroue heiliges!
Jesus en Sy Apostels het andere geleer wat die Ou Testament in verband met die dood onderrig het. In die boek Prediker lees ons: “Want die lewendes weet dat hulle moet sterwe, maar die dooies weet glad niks nie, en hulle het geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis word vergeet” (Prediker 9:5). Wat beteken “hulle het geen loon meer nie”? Ons weet dat die Skrif sê dat menslike wesens ewige beloning of straf sal ontvang. Wat hierdie Skrifgedeelte aan ons verduidelik is dat die dood nie ’n ander soort bewustelike toestand is nie. Wanneer ons dood is “weet ons niks” – net soos wanneer ons in ’n diep, droomlose slaap is.
Die apostel Paulus bevestig dit wanneer hy aan diegene in Thessaloníka skryf:
“Maar, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie” (1 Thessalonicense 4:13-15).
Paulus se woorde is duidelik: Die dooies is dood, maar ons het hoop vir hulle – dat God hulle sal terugbring. Daardie hoop is nie gegrond in onbybelse idees van bewustelike bestaan wat na die dood voortduur nie – ons hoop weerspieël eerder dié van die apostel Paulus, “dat daar ’n opstanding sal wees van die dode” (Handelinge 24:15)! Ja, God sál in die opstanding aan diegene wat in die geloof gesterf het, die ewige lewe gee – iets wat ons as mense nie het nie.
Is God regverdig?
Die bogenoemde Skrifgedeeltes behoort dit baie duidelik te maak dat diegene wat nou dood is, wérklik dood is – hulle is nie bewuste, onsterflike siele wat wag om teruggeplaas te word in menslike liggame nie. Wie sal egter die ewige lewe ontvang? Die oorgrote meerderheid mense wat geleef en gesterf het, het nooit eers die naam van Jesus Christus gehoor nie. Miljarde mense het slegs ’n valse evangelie oor ’n valse Christus gehoor. Net ’n relatief klein groepie mense het die geleentheid gehad om die ware Evangelie van Jesus Christus te hoor en daarop te reageer. Tog sê die Skrif vir ons dat ons nie verlossing sonder Jesus Christus kan verkry nie: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Beteken dit dat God wispelturig of onregverdig is?
Sommige godsdienstige denkers, soos die Protestantse hervormer Johannes Calvyn, het die mense geleer dat God miljarde siele geskep het wat Hy willens en wetens vooruit bestem het om vir ewig in die hel te ly. Ander mense sê dat God alle siele wil red, maar dat dit Christene se taak is om die wêreld met Sy boodskap te bereik – indien hulle misluk, sal die siele wat nog nooit die naam van Jesus Christus gehoor het nie, vir alle ewigheid in die hel gepynig word.
Die Bybel verseker ons egter dat God regverdig, genadig en billik is. Ons het gesien dat die Bybel ons leer dat ’n mens wat dood is, dood bly tot en met die opstanding. Paulus en Jesus het albei na die dood verwys as “slaap” en iemand wat dood is, is onbewus van alles en bly ook in die graf tot en met die opstanding. Dink aan Jesus se woorde: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28-29). Ander vertalings gebruik die woord “oordeel” in plaas van “veroordeling”.
Ja, sonder ’n opstanding, sou die siel vir ewig dood wees. Ons hoop is nie op ’n fiktiewe ewigheid in die hemel as ’n soort liggaamlose siel nie, maar in ’n toekomstige opstanding tot lewe. Lees verder om uit te vind wat die opstanding – eintlik daardie opstandings – vir u en u geliefdes sal beteken!
Hoofstuk 3
Drie opstandings
Na aan die einde van Sy eerste koms het Jesus Christus aan Sy dissipels gesê: “Ek sal nie veel meer met julle spreek nie; want die owerste van hierdie wêreld kom en het aan My niks nie” (Johannes 14:30). Die apostel Johannes het aan die Christene van sy tyd gesê: “Ons weet dat ons uit God is en die hele wêreld in die mag van die Bose lê” (1 Johannnes 5:19). Paulus het geskryf: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4).
Paulus noem Satan die “god van hierdie wêreld” as gevolg van sy geweldige mag en invloed en God laat dit toe om Sy eie doel te verwesenlik. In Openbaring noem die apostel Johannes die Satan ’n bedrieër wat “die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9).
’n Verblinde wêreld
Het die Apostels dit self uitgedink? Het Christus oordryf? Natuurlik nie! Indien die Bybel egter ondubbelsinnig verklaar dat Satan die heerser van hierdie wêreld is en dat die hele wêreld mislei word – al bely byna een-derde van die wêreld se bevolking ’n vorm van “Christelikheid” – wat beteken dit vir Christene? Die gevolge is duidelik. So skokkend soos dit mag voorkom, die oorgrote meerderheid mense wat in die byna 6,000 jaar sedert Adam geleef en gesterf het, is verblind en hulle is nie in staat om te verstaan en te leef volgens die ware Evangelieboodskap wat Jesus Christus gebring het nie! Die massa van die mensdom wat verblind is sluit die oorgrote meerderheid in van diegene wat hulleself vandag “Christene” noem!
Is dit iets wat ons self kan “regmaak”, sonder God se hulp? Nee! Ons het die hulp van God se Gees nodig vir die geloof en insig wat tot redding lei. Paulus verduidelik: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14).
Die verstommende waarheid is dat God die verstand van relatief min mense gedurende hierdie huidige tydperk open. Jesus sê uitdruklik aan Sy dissipels: “Niemand kan na My toe kom as die Vader wat My gestuur het, hom nie trek nie” en “dat niemand na My toe kan kom as dit hom nie deur my Vader gegee is nie” (Johannes 6:44, 65). Petrus verduidelik dat verlossing in hierdie tydperk slegs aangebied word aan “die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:39). Paulus openbaar dat, volgens God se eie algehele plan en tydsberekening, slegs ’n paar mense in hierdie leeftyd deur God geroep word terwyl andere nie geroep word nie (1 Korinthiërs 1:26-29; Romeine 11:7-8, 32).
Verbaas dit u? Dink! Indien die oneindig goeie en almagtige God regtig almal in hierdie huidige tydperk wou red, sou Hy dit nie kon doen nie? Selfs Jesus Christus het aan die einde van Sy drie-en-’n-half jaar bediening net 120 dissipels gehad (Handelinge 1:15). Jesus het met die massas gepraat en Hy het verduidelik: “Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie” (Matthéüs 13:13). Jesus het níe in gelykenisse gepraat om Sy boodskap vir die skare duideliker te maak nie. Hy het eerder gelykenisse gebruik sodat net Sy paar verkose dissipels kon verstaan: “En Hy sê vir hulle: Aan julle is dit gegee om die verborgenheid van die koninkryk van God te ken, maar vir hulle wat buite is, kom alles deur gelykenisse, sodat hulle kan kyk en kyk, en nie sien nie; en hoor en hoor, en nie verstaan nie, dat hulle hul nie miskien bekeer en die sondes hulle vergewe word nie” (Markus 4:11-12).
Hierdie waarheid wat in die Bybel geopenbaar word, weerspreek direk wat die meeste van ons in die hoofstroom “Christendom” geleer is – dat Jesus in gelykenisse gepraat het “sodat almal kon verstaan”. Trouens, presies die teenoorgestelde is waar! Jesus het in gelykenisse gepraat, sodat die algemene publiek dit nie sou verstaan nie! Jesus het nie probeer om die wêreld op daardie tydstip te bekeer nie! Hy het geweet dat God slegs ’n paar gelowiges uitkies in hierdie hedendaagse era, as deel van ’n veel groter plan. Een van God se name in Hebreeus is El Shaddai – God, die Almagtige. Niks sou die Almagtige God kon keer om die hele wêreld nou in hierdie tydperk te bekeer nie – indien dit werklik Sy voorneme was!
Hierdie is nie spekulasie nie; selfs wêreldse geskiedkundiges gee erkenning aan die geskiedkundige waarheid van wat die vroegste Kerk se lidmate geglo en geleer het aangaande die feit dat God verskillende opstandings vir verskillende tye en verskillende groepe van die mensdom beplan. In The Decline and Fall of the Roman Empire het die bekende geskiedskrywer Edward Gibbon die volgende geskryf:
“Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was nou verbonde aan die Wederkoms van Christus. Aangesien die werke van die skepping in ses dae voltooi is, is die bestaanstydperk in hulle huidige staat, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf is, op sesduisend jaar vasgestel. Volgens dieselfde vergelyking is afgelei dat hierdie lang tydperk van arbeid en twis, wat nou byna verstreke is, met ’n vreugdevolle Sabbat van duisend jaar opgevolg sal word en dat Christus, met die triomfantelike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood ontvlug het of wat wonderbaarlik uit die dood opgewek is, op die aarde sal regeer tot die tyd aanbreek wat vir die laaste en algemene opstanding aangewys is” (hoofstuk 15, deel 2).
Ja, soos Gibbon uitwys, het die eerste-eeuse Kerk – die Apostoliese Kerk – verstaan dat die heiliges eerste opgewek sou word om vir ’n duisend jaar saam met Christus te regeer, voor die algemene opstanding.
Hulle is nie vir ewig verlore nie!
Wat beteken dít vir die miljarde mense wat geleef en gesterf het sonder om ooit die boodskap van Jesus Christus te hoor? Ons leer duidelik uit die Skrif dat ons nie saligheid sonder Hom kan verkry nie: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie” (Handelinge 4:12). Hoe kan ons Petrus se eenvoudige woorde dan met die waarheid van ’n liefdevolle en regverdige God versoen? Let op wat het Jesus Christus aan die mense van Kapérnaüm, wat Sy boodskap verwerp het, gesê: “En jy, Kapérnaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot die doderyk toe neergestoot word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. Maar Ek sê vir julle dat dit vir die land van Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag as vir jou” (Matthéüs 11:23-24).
God het Sodom en Gomorra deur vuur vernietig (Génesis 19). Tog het Jesus Christus gesê dat dit vir Sodom “verdraagliker” in die oordeelsdag sal wees as vir Kapérnaüm. Hoe kan dit wees? Christus het gesê dat as Sodom Sy werke gesien het, daardie volk tot bekering sou kom en God sou die bose en perverse stad gespaar het. Indien ons glo dat God regverdig is en as ons Jesus glo wanneer Hy sê dat hierdie mense beslis tot bekering sou kom indien hulle dieselfde geleentheid gehad het as wat Sy toehoorders gehad het, dan behoort ons te glo dat hulle daardie geleentheid sal kry. Hoe kan dit wees?
Meer as een opstanding!
Soos ons sal sien, beskryf God se Woord meer as een opstanding – nie net een nie! Let op hoe u Bybel die eerste groep mense beskryf wat uit die dood opgewek sal word – diegene wat tot die lewe opgewek sal word wanneer Jesus Christus weer kom.
“En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank. En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding. Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:4-6).
Hierdie eerste opstanding sal diegene insluit “wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God” (vers 4). Hierdie heiliges wat in die eerste opstanding ingesluit word, sal tot onsterflikheid opgewek word en sal duisend jaar lank saam met Jesus Christus heers. Ons noem hierdie tydperk die Millennium wat “duisend jaar” beteken (vers 4).
Let daarop! Indien daar ’n “eerste” opstanding (vers 5) is, moet daar ’n tweede opstanding wees. Dieselfde vers sê inderdaad dat “die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie.” (Om die waarheid te sê, die Skrif beskryf ook ’n derde opstanding, soos ons later sal sien.) Die Skrif noem hierdie eerste opstanding ’n “beter opstanding” (Hebreërs 11:35) in vergelyking met die opstandings wat daarop volg. Waarom? Getroue Christene van hierdie huidige tydperk wat deel sal hê aan die eerste opstanding, sal in die Koninkryk van God ingebore word as onsterflike, verheerlikte kinders van God. Ons sal die aarde beërwe en vir duisend jaar saam met Christus op hierdie aarde regeer as konings en priesters (Openbaring 5:10). Gedurende die Millennium sal Satan gebind wees en hy sal nie die mensdom kan beïnvloed nie (Openbaring 20:2). Diegene wat vandag deur God geroep word, moet Satan se invloed oorwin – iets waarmee daar nie in die Millennium geworstel sal hoef te word nie, totdat Satan weer teen die heel einde vrygelaat word. Anders as vandag, waartydens slegs ’n relatief klein groepie mense geroep word, sal almal gedurende die Millennium God se weg ken en daarvolgens kan leef (Jesaja 11:9). Hierdie duisendjarige tydperk van vrede, voorspoed en geestelike oorvloed sal die aarde voorberei vir die volgende dramatiese stap in God se plan vir die mensdom!
In Openbaring 20:5 lees ons dat nadat die Millennium voleindig is, “die ander dode” opgewek sal word tot fisiese lewe. U kan in Eségiël 37 lees hoe daardie tyd beskryf word. Hier word dit duidelik gemaak dat hierdie tweede opstanding een tot lewe van vlees en bloed is, nie tot onsterflike glorie, soos die geval sal wees met die eerste opstanding nie. Wie is “die ander dode”? Hulle is die massas mense wat nooit ware Christelikheid aangeneem het nie. Dit sluit byvoorbeeld die volke van Tirus, Sidon, Sodom en Gomorra in wat Christus gesê het, guns en verdraagsaamheid ná bekering sal ontvang, in hulle tyd van oordeel – daardie “oordeelsdag” waarvan ons vroeër gelees het, wat deur Jesus genoem word in Matthéüs 11:24. Dit sluit selfs die volkere van Israel in vir wie God geestelik verblind het (Romeine 11:25). Inderdaad, die oorgrote meerderheid mense wat ooit geleef het, sal in hierdie tydperk van oordeel uit die dood opgewek word – nie as geestelike wesens soos dié in die eerste opstanding nie, maar as fisiese wesens, soos Lasarus was, toe Christus hom uit die dood opgewek het (Johannes 11:43-44), presies soos dit in Eségiël 37 beskryf word.
Die Groot Wit Troon Oordeel
In hierdie merkwaardige tyd ná die duisendjarige heerskappy van Jesus Christus en Sy verheerlikte heiliges, sal miljarde mense wat voorheen geestelik verblind was, uiteindelik uit die pyn van die verlede leer en God sal hulle die geleentheid gee om waarlik tot inkeer te kom, die Evangelie te glo en uiteindelik die Koninkryk van God te beërf. Soos Petrus skryf: “Die Here vertraag nie die belofte soos sommige dit vertraging ag nie, maar Hy is lankmoedig oor ons en wil nie hê dat sommige moet vergaan nie, maar dat almal tot bekering moet kom” (2 Petrus 3:9).
Let op na die beskrywing van die tyd in Openbaring 20:11-12 wanneer “die dode, klein en groot” na fisiese lewe opgewek sal word:
“En ek het ’n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ’n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.”
Die Griekse woord vir “boeke” in vers 12 is biblia. Ja, na die tweede opstanding word die “boeke” – die Bybel – vir die eerste keer geopen vir die miljarde mense wat voor die Millennium geleef en gesterf het sonder om die ware Evangelie van Jesus Christus te hoor en te verstaan. Gedurende die periode van die Groot Wit Troon Oordeel, sal miljarde mense hulle eerste werklike geleentheid hê om die waarheid te leer. Hulle sal een spesiale voordeel hê wat ons nie vandag het nie, aangesien hulle in staat sal wees om te onthou wat die gevolge was toe die mensdom in hierdie tyd hulle eie koppe gevolg het asook om dit te vergelyk met die realiteit van ’n beter wêreld rondom hulle, wat dan deur Jesus Christus regeer sal word. Hulle sal terugkyk na vandag se moderne beskawing en sien wat baie mense nie vandag sien nie: Ons huidige stelsel of samelewing is nie die een wat die Skepper-God ingestel het nie. Inteendeel, God het die menslike beskawing 6,000 jaar onder die gesag van Satan gegee om ons eie besluite te neem, om ons eie idees te beproef en om op ’n harde manier lesse deur menslike lyding te leer.
Wil God hê dat Sy skepping swaarkry? Is Hy nie ’n God van genade sowel as geregtigheid nie? Sou Hy nie ’n plan kon beraam om almal wat ooit geleef het te bereik, om niemand sonder hoop te laat en die geleentheid te gee om te kies nie? In hierdie twee opstandings sien ons die glorieryke vertoning van God se genade, geregtigheid en regverdigheid. Indien u meer inligting wil hê oor hierdie merkwaardige tweede opstanding, oorweeg dit om ons gratis boekie, Is Hierdie die Enigste Dag van Redding?, te bestel. U kan die Suid-Afrikaanse streekskantoor kontak om u eie gratis eksemplaar te bekom.
Baie mense verstaan God se plan om Sy waarheid aan die wêreld te openbaar en die gereddes te beloon totaal verkeerd. Baie mense begryp ook nie Sy plan om diegene te straf wat verlossing verwerp het nie. Lees verder vir die gerusstellende, bemoedigende en inspirerende waarheid betreffende die regverdige straf wat op daardie hardnekkige goddelose mense wag wat God se groot geskenk van redding willens en wetens verwerp!
Hoofstuk 4
Straf of om gestraf te word
Dit is jammer dat daar deur die geskiedenis heen diegene was wat God se genade en verlossing korrek verstaan het en dit tog willens en wetens opsetlik heeltemal verwerp het. Selfs na die tydperk van die Groot Wit Troon Oordeel sal daar diegene wees wat doelbewus sal kies om in opstand te leef en te weier om onder die goedertierenheid en barmhartigheid van God te leef. Alhoewel God aan elke mens ten volle ’n regverdige geleentheid sal gee om verlossing te aanvaar, verstaan ons dat daar ’n paar hardnekkige mense sal wees wat Jesus Christus vir ewig sal verwerp.
Hy sal nie hierdie opstandige mense dwing om Hom te gehoorsaam nie. Hy sal hulle in die poel van vuur vernietig.
Na die Millennium en die tydperk van die Groot Wit Troon Oordeel, sal almal wat deur die geskiedenis heen al geleef en gesterf het, terwyl hulle die waarheid verstaan het en dit nogtans doelbewus geïgnoreer en verwerp het, in die derde opstanding uit die dood opgewek word – die opstanding tot die die ewige straf deur dood in die poel van vuur.
Ja, God is regverdig. Hy herinner ons: “My kom die wraak toe, Ek sal vergelde” (Hebreërs 10:30). Terwyl hulle voor die poel van vuur staan in doodsangs vir die lot wat op hulle wag, sal die goddelose mense dan in die vuur gewerp word en vir ewig verbrand word (Openbaring 21:8). Hulle sal nooit weer leef nie. “Want die loon van die sonde is die dood [die ewige dood], maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).
Sommige mense mag dalk sê: “Hoe wreed dat ’n regverdige en barmhartige God sondaars vir alle ewigheid sal martel as gevolg van besluite wat hulle dalk honderde jare gelede geneem het!” Is u een van die menigtes wat nog nooit kon verstaan hoe dit vir Christene moontlik is om ewige geluk saam met God te kan geniet, terwyl hulle terselfdertyd daarvan bewus is dat hulle ongeredde geliefdes in helse marteling, brand en ondenkbare pyn – vir ewig – verduur? Indien u só ’n persoon is, dan het u die vertroosting nodig wat voortspruit uit kennis van die waarheid!
Die waarheid oor die “hel”
Eerstens, die poel van vuur waarvan ons in die Skrif lees, is verseker nie die hel waaraan die meeste mense dink wanneer hulle aan God se straf vir die goddelose dink nie. Vandag kry die oorgrote meerderheid mense in die Westerse wêreld hulle “idee” van goddelike straf nie uit die Bybel nie, maar wel uit die geskrifte van ’n Italiaanse digter van die 14de eeu. Dante Alighieri, die skrywer van La Divina Commedia (of in Engels, The Divine Comedy) het sy lang gedig geskryf as ’n voorstelling van die maatskaplike en politieke probleme van sy nasie. Sy beskrywing van die hel het nege onderwêreldse streke wat elkeen ’n ergerwordende ewige marteling vir sondaars uitbeeld. In een deel van Dante se gedig, met die titel “Inferno”, vind ons dat wellustige sondaars die ligste straf in die eerste vlak van die hel ontvang; die laagste vlak van die hel is bestem vir diegene wat deur Dante beskou is as die mees weersinwekkende verraaiers van die geskiedenis – nie alleenlik Judas Iskariot nie, maar ook die Romeinse verraaiers Brutus en Cassius, wat betrokke was by die moord op Julius Caesar.
Baie mense is verbaas wanneer hulle ontdek dat Dante se beskrywings byna geen ooreenkoms toon met die “hel” wat in u Bybel beskryf word nie.
Laat ons egter eers vra: Presies wat bedoel die Bybel met hel? In die King James Version en New King James Version is die Hebreeuse woord wat dikwels as “hel” vertaal word, sheol – dit beteken eenvoudig ’n “gat” of “graf”. Dit beteken nie ’n plek met ’n ewig-brandende vuur nie! Die woord sheol kom 65 keer in die Ou Testament voor, maar in die King James Version word dit net 31 keer as “hell” vertaal! Dit word nog 31 keer as “grave” vertaal en drie keer as “put”. Wanneer u die New International Version lees, sal u sien dat sheol nooit as “hell” vertaal is nie. Dit gebruik net die Bybelse en taalkundig korrekte term, “grave”. Soos u kan sien, brand niemand in sheol nie!
Drie “helle” in die Bybel
In die Nuwe Testament is daar drie Griekse woorde in wat as “hel” vertaal word – Tartarus, Hades en Gehenna – elkeen se betekenis verskil van mekaar.
Die Griekse woord Tartarus dui ’n situasie van inperking aan en u Bybel toon dat dit op gevalle engele van toepassing is, nie op sondige mense nie. Let op: “Want as God die engele wat gesondig het, nie gespaar het nie, maar hulle in die hel [Tartarus] gewerp en aan kettings van duisternis oorgegee het, om vir die oordeel in bewaring gehou te word ...” (2 Petrus 2:4). Soos ’n vakkundige bron verduidelik: “Die werkwoord tartaroo, wat as ‘in die hel gewerp’ in 2 Petrus 2:4 vertaal is, dui aan dat hulle aan Tartarus oorgelewer word, wat nie Sheol of hades óf die hel is nie, maar die plek waar daardie engele – na wie se spesifieke sonde in daardie gedeelte verwys word – opgesluit is om ‘bewaar te word vir oordeel;’ hierdie plek word beskryf as ‘kettings van duisternis’”. (An Expository Dictionary of Biblical Words, W.E. Vine, bl. 300).
Die Griekse woord hades, net soos die Hebreeuse sheol, beteken eenvoudig “gat” of “graf”. Wanneer u die New King James Version lees, sal u sien dat Hades dikwels nie vertaal word nie. Lank terug sou boere wat Ou Engels gepraat het, praat van “helling their potatoes”, wat nie beteken het om dit te verbrand nie maar wel om dit onder die grond te bewaar.
Wat nog meer van toepassing tot ons bespreking van die poel van vuur is, is die Griekse woord Gehenna wat die vuur beskryf wat die siele van goddelose mense sal vernietig (Matthéüs 10:28). Gehenna is afgelei van die Hebreeuse uitdrukking Ge Hinnom – met verwysing na die Vallei van Hinnom, suid van Jerusalem. In antieke tye is die vallei van Hinnom gebruik as ’n plek om Jerusalem se vullis te stort. Die vure het voortdurend gebrand, gestook deur die stad se vullis, wat die dooie liggame van veroordeelde misdadigers ingesluit het. Gevolglik het Gehenna ’n simbool van oordeel geword wat met vuur geassosieer was.
Dieselfde woord, Gehenna, word ook in Matthéüs 5:22 gebruik toe Jesus gesê het: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur” – Gehenna vuur. Ja, onboetvaardige sondaars sal in ’n poel van vuur gegooi word. Gehenna-vuur verwys na hierdie finale lot van die goddelose: Om tot as verbrand te word, totdat hulle nie meer bestaan nie – nie om vir ewig te brand, sonder einde nie. Onthou die bevel in Eségiël 18, verse 4 en 20: “Die siel wat sondig, díe moet sterwe”. Dit is die “tweede dood” wat in Openbaring 20:6 beskryf word, waarvan die eerstelinge – Christene wat in die eerste opstanding tot onsterflikheid opgewek is – uitgesluit is.
Die tweede dood – uitwissing in die poel van vuur – is finaal; dit is ’n dood waaruit daar geen opstanding is nie. Dit is die ware “hellevuur” van u Bybel. Na die Groot Wit Troon Oordeel sal alle menslike wesens wat ooit geleef het, tot een van twee eindes gekom het: Hulle sal verheerlikte kinders van God wees, opnuut gebore om vir ewig in die onsterflike gesin van God te leef óf hulle sal heeltemal vernietig wees in die poel van vuur, om nooit weer te lewe nie. Elkeen van ons sal vir ewig leef óf vir ewig sterf. Daar is geen derde opsie nie. Dan sal Satan self “in die poel van vuur” gewerp word en vir ewig gepynig word (Openbaring 20:10). Ons lees: “En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp” (Openbaring 20:14-15).
Petrus skryf dat die aarde heeltemal deur vuur gesuiwer sal word: “Maar die dag van die Here sal kom soos ’n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand” (2 Petrus 3:10).
Dus, met al hierdie dinge wat beplan is vir die toekoms van die mensdom, waarom het God dit beskik dat ’n groep Christene in ons huidige tydperk, voor al die ander mense, gered word? Is u een van daardie mense wat God nou roep? Lees verder om meer te wete te kom oor die beloning wat God vir vandag se getroue Christene voorberei het en oor wat hulle gedurende die Millennium sal doen – tot in ewigheid!
Hoofstuk 5
Die beloning van dié wat gered is
Die meeste mense wat hulleself “Christene” noem, het slegs ’n vae idee van wat hulle Christelike beloning ná die dood sal wees. Moontlik is u een van die baie mense wat glo dat hulle ’n “deftige woonhuis” in die hemel sal hê of ten minste ’n wonderlike kamer in ’n herehuis. Mense kry dikwels daardie verkeerde idee as gevolg van ’n wanbegrip van Johannes 14:2 waarin Jesus vir ons sê: “In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei.”
Die Griekse woord mone, soos dit hierbo as “woning” vertaal is, word beter in moderne spreektaal as “kamer” of “deftige kamer” vertaal. Jesus se Vader se huis het baie kamers. Wat is egter die Vader se huis? Lees in Jeremia 35 dat die “huis van die Here” – die tempel van God – ’n verskeidenheid kamers het wat ooreenstem met die besondere werk wat die inwoner van elke kamer doen (vers 4). God se aardse huis was ’n voorbeeld van die Vader se huis in die hemel (Hebreërs 8:5). Let daarop dat die Bybel nêrens die hemel self die Vader se huis noem nie – die Vader se huis is in die hemel. Christus het van Sy dissipels af weggegaan om vir hulle ’n plek voor te berei. Hy het nie vir hulle gesê dat die plek in die hemel sou wees nie. Hy het wel vir hulle gesê dat Hy na die hemel sou gaan om vir hulle plek in die Vader se huis voor te berei! Wanneer ’n kok ’n ete in die oond voorberei, sê ons nie dat die ete die oond is nie en die ete word beslis nie in die oond bedien nie! Dit is verstommend wanneer ons dan verder lees dat wanneer die Nuwe Jerusalem na die planeet Aarde kom ná die Groot Wit Troon Oordeel, dit die Vader se huis sal wees. Christus is besig om vir vandag se getroue Christene hulle plekke voor te berei in die Nuwe Jerusalem wat na die Aarde sal kom! “En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God” (Openbaring 21:3).
’n Vlugtige verskyning voor die Vader!
Het u dalk die idee dat ons die ewigheid sal deurbring om op wolke te sit, op harpe te speel en vir altyd na die aangesig van God te staar? Dit is glad nie die waarheid nie! Ja, die Skrif beskryf wel ’n kort, toekomstige tydperk waarin getroue Christene wat uit die dood opgewek is, met harpe voor God se troon sal staan: “En ek het gesien iets soos ’n see van glas, gemeng met vuur. En die oorwinnaars oor die dier en oor sy beeld en oor sy teken, oor die getal van sy naam, het ek by die see van glas sien staan, met siters van God” (Openbaring 15:2). Wanneer ons van koning Dawid van ouds lees wat sy Here met musiek prys, kan ons dit waardeer hoe ons deur musiek ons toenemende liefde vir ons Verlosser kan uitdruk.
Hierdie kort oomblik word egter dikwels verkeerd verstaan en verkeerd geïnterpreteer en ons beloning is soveel meer as dit – soos wat dit in die Skrif en elders in Openbaring geopenbaar is! Let eerstens op dat hierdie siterspelers nie op wolke rondsweef nie. Hierdie musikante – Christene wat uit die dood opgewek is wat die geprofeteerde “dier” van Openbaring oorwin het, staan op die “see van glas”. Indien ons sê dat dit “die” see van glas is, dui dit daarop dat dit dieselfde see van glas is wat Johannes vroeër in sy visioen gesien het. Inderdaad, vroeër in Openbaring, ná ’n beskrywing van God se troon, lees ons, “... en voor die troon was daar ’n see van glas, soos kristal” (Openbaring 4:6). Dus is die see van glas vóór God se troon, maar waar is God se troon? Ons weet dat God se troon na die planeet Aarde sal kom ná die Millennium wanneer die nuwe Jerusalem sal “neerdaal van God uit die hemel” (Openbaring 21:2).
Die huwelik van die Lam
Wanneer ons hierdie Skrifte bymekaar sit, kan ons sien dat die heiliges wat uit die dood opgewek is, vir ’n kort tydjie na hulle opstanding op die see van glas voor God se troon in die hemel sal byeenkom. Wat sal die heiliges daar doen? Sal hulle net musiek speel om God te vereer of behels dit iets meer?
Die antwoord kan gevind word in ’n belofte wat Jesus Christus aan Sy dissipels gemaak het. Gedurende Sy tyd op aarde het Jesus Homself met ’n bruidegom vergelyk (Matthéüs 9:15). Waarlik, dit is wat Hy sal wees!
“Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak. En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges. Toe sê hy vir my: Skryf – salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God” (Openbaring 19:7-9).
Hoe kan blote menslike wesens met die Seun van God trou? Selfs as ons die eenvoudigste blik werp op die wêreld rondom ons sal dit ’n fundamentele feit openbaar: Elke spesie reproduseer volgens sy eie soort. Wanneer twee honde paar, produseer hulle nie ’n kat nie. Die paring van twee voëls produseer nie ’n vis nie. Indien God Homself reproduseer, sal Sy nageslag soos Hy wees en hulle sal ten volle lede van Sy Goddelike Gesin wees! God is inderdaad die Vader “van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang” (Efésiërs 3:14-15). God wil hê dat elke mens vrywillig sal kies om Sy seun of Sy dogter te word! God wil hê dat ons uit die vleeslike, sondige weë van die wêreld sal uitkom. Soos die apostel Paulus aan die Korinthiërs skryf, met verwysing na die Ou Testament: “Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; en Ek sal vir julle ’n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige” (2 Korinthiërs 6:17-18).
Ons doen dit egter nie uit ons eie nie. Nadat ons ware bekering beleef het, geloof beoefen het en behoorlik gedoop is volgens die manier wat God beveel, gee Hy aan ons die gawe van die Heilige Gees. Sodra ons die gawe van die Heilige Gees ontvang, word ons verwekte kinders van God! Ons word die werklike erfgename van God – mede-erfgename of gesamentlike erfgename met Christus. Lees dit self:
“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders, deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word” (Romeine 8:14-17).
’n Alles-oortreffende doel
Dink asseblief sorgvuldig oor die werklike betekenis van Jesus se laaste gebed aan sy Vader in Johannes 17. In die wonderlikste gebed wat ooit in die Bybel aangeteken is, vra die Seun van God Sy Vader: “En nou, Vader, verheerlik My by Uself met die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was” (Johannes 17:5). Jesus was van die begin van die skepping af by God en daar word aan ons vertel: “Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie” (Johannes1:3). Hier het Christus die Vader gevra om Hom tot Sy volle heerlikheid te herstel soos wat Hy gehad het toe Hy as die Ou Testament se “Logos” opgetree het en namens die Vader die ganse heelal geskep het!
Nadat Jesus op daardie laaste Pasga-aand voor Sy kruisiging vir Sy dissipels gebid het, het Hy vir diegene gebid wat ná hulle sou kom en in Hom sou glo:
“Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het” (Johannes 17:20-23).
Kan ons die wonderlike versoek wat die Seun van God in hierdie gebed gerig het, ooit ten volle begryp? Hy het gevra dat ons, wat “deur hulle woord in My sal glo”, met Hom – in die opstanding – in die heerlikheid sal deel wat Hy nou met die Vader deel. Ja, Jesus het regtig bedoel wat Hy in hierdie geïnspireerde gebed gesê het. Hy het gevra dat Sy ware volgelinge uiteindelik volle kinders van God kan word en kan deel in die eenheid van die Godgesin! U Skepper en Verlosser het nie gesterf sodat Hy ’n hele “skare” vol minderwaardige wesens kon hê om te geniet nie. God die Vader het Jesus Christus uit die dood opgewek en Jesus het toe die eersgeborene van baie broeders geword – in der waarheid “jonger gesinslede” van die “Godsoort” in die Godgesin wie in staat is om te deel in liefde en samesyn, op ’n meer persoonlike vlak as wat selfs die gelukkigste menslike gesinne vandag deel.
As lede van die Godgesin sal ons inderdaad familietrekke van ons Vader en Jesus Christus toon. Het u al ooit gewonder hoe Jesus Christus nou lyk? Die Bybel openbaar hoe Hy lyk:
“... en tussen die sewe kandelaars Een soos die Seun van die mens met ’n kleed aan wat tot op die voete hang, en gegord om die bors met ’n goue gordel. Sy hoof en hare was wit soos wit wol, soos sneeu, en sy oë soos ’n vuurvlam, en sy voete soos blink koper wat gloei soos in ’n oond, en sy stem soos die stem van baie waters. En in sy regterhand het Hy sewe sterre gehou, en ’n skerp tweesnydende swaard het uit sy mond uitgegaan, en sy aangesig was soos die son wat skyn in sy krag” (Openbaring 1:13-16).
Onvergelykbare heerlikheid
Kan u uself dit voorstel? Sy gesig skyn soos die son! Diegene van ons wat bereid is om werklik ons harte, verstand en wil aan ons Vader in die hemel te onderwerp en deur Jesus Christus tot ware bekering na Hom te kom, kan uitsien na hierdie wonderlike soort heerlikheid! Die God van die Bybel wil hê dat ons almal ware kinders sal word – nie minderwaardige wesens wat God bloot Sy kinders noem nie! Onthou dat God ná Christene se ware bekering Sy Goddelike natuur binne-in hulle plaas. Die apostel Johannes skryf: “Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:2). Ja, ons sal letterlik soos Jesus Christus “lyk”! Ons sal “verheerlik” word as volle seuns van God – volle broers van Jesus Christus! Die Bybel verklaar duidelik dat Christus die “eersgeborene kan wees onder baie broeders” (Romeine 8:29).
Na Christus se opstanding het Hy verskeie kere aan die Apostels en ander mense verskyn. Aanvanklik het hulle Hom nie eers herken nie. Hy het ’n bietjie anders gelyk as wat Hy gedurende Sy menslike lewe gelyk het. Christus het nogtans na Sy opstanding byna altyd vir ander mense soos ’n mens voorgekom en met mense op so ’n wyse omgegaan, sodat hulle sou verstaan wat Hy sê en nie bang sou wees nie. Hy het selfs die vermoë gehad om die wonde van Sy kruisiging aan Sy liggaam te vertoon om die ongelowige apostel Thomas te help om te glo (Johannes 20:14-17).
Met dit alles in gedagte, kan ons verstaan waarom Petrus geïnspireer was om aan ons God se Goddelike krag te openbaar: “... waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur” (2 Petrus 1:3-4). Na wedergeboorte in die Gesin van God, sal ons God se eie Goddelike natuur hê! Wat sal ons egter met daardie natuur doen? Baie mense neem verkeerdelik aan dat daar vir die heiliges wat uit die dood opgewek is niks besonders sal wees om te doen nie. U Bybel openbaar egter dat die heiliges, wat letterlik lede van God se Gesin sal word, werk sal hê om te doen – ’n vreugdevolle en vervullende werk wat nie in die hemel sal plaasvind nie! Lees verder om meer oor daardie werk te wete te kom!
Hoofstuk 6
Die Koninkryk van God
Soos ons gesien het, sal Christene wat gedurende hierdie huidige tydperk in die geloof sterf, met die eerste opstanding volle kinders van God word wat in staat sal wees om met Christus en die Vader te kommunikeer en deel te hê in Hulle idees, beplanning en projekte. Ons sal in staat wees om deel te hê aan verskeie toekomstige kreatiewe projekte en aktiwiteite regdeur die groot heelal. Die profeet Jesaja was geïnspireer om aan ons te vertel, “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6).
Ons sal egter een baie belangrike taak hê om te doen – vir ’n duisend jaar lank! Wanneer Jesus Christus weer kom, sal Hy kom as Koning en die Koninkryk van God vestig en Hy sal oor die planeet Aarde heers! Dit sal vandag se getroue Christene wees, hulle wat uit die dood opgewek is as die heiliges en lede van Sy gesin, wat onder Hom sal regeer gedurende die duisendjarige Millennium, wat die tydperk van die Groot Wit Troon Oordeel sal voorafgaan.
Heerskappy en onderrig op aarde
Die mense van die fisiese nasies van die wêreld sal onderrig en leiding nodig hê gedurende die Millennium. Net soos wat Christus na Sy kruisiging uit die dood opgewek is en aan Sy dissipels verskyn het, sal die heiliges wat uit die dood opgewek is in die Millennium hulleself aan mense kan manifesteer. As konings en priesters sal ons lei en onderrig. Trouens, die priesters in antieke Israel was ook hulle leermeesters. Gedurende die Millennium sal ons mense leer om volgens God se manier te leef – die weg van die waarheid, die weg van die Bybel, die manier waarop Christus geleef en onderrig het. As konings en priesters sal ons vir die wêreld die weg na vrede leer:
“Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:20-21).
Verbaas dit u? Dit behoort nie! Die Skrif sê vir ons dat Christene wat uit die dood opgewek is, die Lam – Jesus Christus – sal volg waar Hy ookal gaan (Openbaring 14:4)! Soos ons vroeër gesien het sal hulle dadelik na hulle opstanding en transformasie Hom volg vir die huwelik van die Lam in die hemel. Dan sal hulle Hom na die planeet Aarde volg, waar Hy – en hulle – in die Koninkryk van God sal regeer. Vir ’n duisend jaar lank sal die heiliges wat uit die dood opgewek is op die aarde werk, nie in die hemel nie!
Alhoewel die feit van die aardse heerskappy van die heiliges duidelik in die Skrif geleer word, het dit al baie mense verwar. Die misverstande word egter maklik uit die weg geruim vir diegene wat bereid is om al die Skrifgedeeltes bymekaar te bring.
Jesus sê byvoorbeeld vir Sy dissipels: “Verbly en verheug julle, omdat julle loon groot is in die hemele” (Matthéüs 5:12). Hy het nie vir hulle gesê dat hulle beloning permanente verblyf in die hemel sou wees nie. Hy het eerder die grootheid van daardie beloning beklemtoon wat – tot en met die opstanding – vir Christene in die hemel bewaar sal word. Christus het vir ons gesê Hy gaan hemel toe om dit voor te berei (Johannes 14:3). Die apostel Petrus beskryf hierdie beloning as ’n “onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis ... wat in die hemele bewaar is vir ons” (1 Petrus 1:4). Weereens sien ons dat die erfenis in bewaring gehou word vir vandag se Christene, wat deur Christus uit die hemel gebring sal word wanneer Hy terugkeer om op die aarde te heers (Jesaja 40:9-10). Ons is nou slegs erfgename en het nog nie ’n erfenis ontvang nie (Romeine 8:14-17). Jesus sê eerder vir ons: “Ek kom gou, en my loon is by My” (Openbaring 22:12).
Interessant genoeg, die Griekse woord topos, wat dikwels as “plek” vertaal is soos in Johannes 14:3, het ook die betekenis van “geleentheid” – Christus het inderdaad ’n wonderlike geleentheid vir die heiliges wat uit die dood opgewek is, voorberei. Daardie geleentheid is om te regeer op die aarde onder Jesus Christus in die Koninkryk van God.
Let ook op dat ons van daardie beloning in die Saligsprekinge leer, toe Jesus die belonings vir Sy volgelinge beskryf het wie se eienskappe Hom behaag: “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Matthéüs 5:5). Hoe duidelik is dit! Baie mense is bekend met hierdie vers, maar min van hulle glo dit! Ons sal die aarde beërwe. God se Woord sê dit duidelik aan almal wat dit sal lees en glo: “... ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10)!
Vier elemente van ’n koninkryk
Om die beloning van die heiliges ten volle te verstaan, moet ons begryp wat dit beteken om onder Jesus Christus in die Koninkryk van God te regeer. Laat ons eerstens verstaan wat ’n koninkryk werklik is. Elke koninkryk het vier basiese elemente: ’n Heerser, ’n grondgebied, wette en onderdane. Hoe is dit van toepassing op die Koninkryk van God?
Eerstens, die Koninkryk van God het ’n Heerser, soos die Bybel dikwels verduidelik. Let op wat Johannes skryf: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self” (Openbaring 19:11-12). Jesus Christus, wat baie krone dra, sal na die aarde terugkeer as ’n seëvierende Koning (Sagaría 14:3-4).
Hier is nog ’n beskrywing van Jesus se voorkoms tydens Sy Wederkoms:
“En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).
Ja, die Heerser van die vinnig-naderende Koninkryk van God sal Jesus Christus Self wees! Bid u, “laat u koninkryk kom”? Sien u verlangend en afwagtend uit na Jesus se terugkeer na die planeet Aarde? Die apostel Johannes het verseker gretig daarna uitgesien. Johannes sluit af met die voorlaaste vers in u Bybel, met sy gebed en vurige hoop: “... ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).
Waar sal die Koning se grondgebied wees? Wanneer Jesus Christus kom, sal die hele aarde Sy grondgebied wees en die hele mensdom Sy onderdane. Die Skrif beskryf dat die hele wêreld die weg na vrede sal leer. Elke jaar sal mense na Jerusalem gaan om hulle Koning te aanbid. Alle mense op aarde sal leer om dieselfde Bybelse Heilige Dae te onderhou soos wat Jesus en die Apostels onderhou het. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaría 14:16).
Elke nasie op aarde sal die Koning aanbid en sal die Huttefees onderhou. Baie mense besef nie dat die Heilige Dae vir Christene steeds ten volle van toepassing is nie. Die Nuwe Testamentiese Kerk is op die feesdag van Pinkster gestig, hoewel baie mense vandag vergeet dat Pinkster een van die Bybelse Heilige Dae is wat God aan Sy mense gegee het. In die boek Handelinge lees ons dat skares mense bymekaargekom het om die Pinksterfees te onderhou. Die Apostels het vir hulle gepreek en duisende mense het tot bekering gekom. Die mense het byeengekom om die dag te onderhou omdat onderhouding daarvan in die Skrif beveel word! Soos die Bybel aan ons vertel, word Pinkster ook die fees van die weke genoem (Deuteronómium 16:10), die fees van die oes (Exodus 23:16) en die dag van die eerstelinge (Númeri 28:26).
Ware Christene verstaan vandag dat Pinkster die geleentheid in God se plan van verlossing herdenk wanneer Hy die “eerstelinge” roep om gered te word gedurende hierdie huidige tydperk, om voor te berei om onder Christus in die Millennium te regeer. Om meer te wete te kom in verband met hierdie wonderlike waarheid, bestel gerus ons gratis boekie, Die Heilige Dae – God se meesterplan.
Wat sal die Wet van die Koninkryk wees? Gedurende die Millennium sal die heiliges wat uit die dood opgewek is God se Wet toepas. Die profeet Jesaja gee ons ’n inspirerende voorsmaak van wat sal kom:
“En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).
In die Skrif is ’n berg dikwels die simbool van ’n regering wat natuurlik God s’n insluit. Die Regering van God sal op die aarde heers en Jerusalem sal die hoofstad van die wêreld wees. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaría 8:3).
Onder die heerskappy van die Koninkryk van God sal die mensdom se teenstrydige en onregverdige wette nie meer bestaan nie. God se Wette sal vanuit Jerusalem onderrig en geadministreer word en die Tien Gebooie is die grondslag van daardie Wette. Onthou dat Jesus gesê het: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie.” Hy gaan toe voort om verskeie van die Tien Gebooie te noem (Matthéüs 19:17-19). In werklikheid het Jesus in Sy “Bergpredikasie” die Tien Gebooie uitgebrei. Hy het dit meer omvattend gemaak en selfs meer bindend, omdat dit nodig is dat Christene die Tien Gebooie geestelik ook nakom, nie net fisies nie!
Die onderdane in die Koninkryk sal die mense wees wat bly leef het tot in die Millennium in ’n veranderde wêreld!
Wat sal die impak vir daardie onderdane wees om God se Wet in wese te beleef en toe te pas? Die Koninkryk van God sal gevestig word na verskeie jare van verskriklike verwoesting en dood regoor die wêreld. Teen daardie tyd sou miljarde mense gesterf het as gevolg van oorlog, hongersnood en siektes. Oorlewendes sal fisies en emosioneel verpletter wees deur gebeure wat die wêreld geskud het as gevolg van die Groot Verdrukking en die Dag van die Here. Hoewel die mensdom dan al gewoond geraak het aan wydverspreide ongeregtigheid, korrupsie en geweld, sal Christus die Koning, geregtigheid en vrede bring: “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4). Jong manne en vroue sal nie meer geleer word om in oorloë te veg nie. Ja, in die Koninkryk van God sal Christus die Koning, die hele mensdom opnuut die weg van vrede leer:
“Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:7-9).
Bestem vir leierskap
Onthou dat Christus dit nie op Sy eie sal doen nie – Hy sal vandag se getroue Christene, die heiliges wat uit die dood opgewek is, die geleentheid in die Millennium gee om Hom te help! In Lukas 19 het Jesus die gelykenis van die ponde gegee en openbaar dat getroue Christene oor stede sal regeer – sommige van hulle sal vyf stede bestuur en sommige sal oor tien stede toesig hou. Jesus leer ons ook dat diegene wat oorwin, oor nasies sal heers (Openbaring 2:26). Vandag se ware Christene, wedergebore tydens hulle opstanding en transformasie in God se glorieryke, onsterflike Gesin, sal ’n lewensbelangrike rol speel in die oplossing vir hierdie wêreld se probleme!
In God se Koninkryk sal koning Dawid opgewek word om oor die huis van Israel asook die huis van Juda te heers wanneer die twee nasies weer een word (Eségiël 37:17-19, 24). Jesus het ook aan die twaalf Apostels gesê dat hulle oor die twaalf stamme van Israel sal regeer:
“En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel. En elkeen wat huise of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van my Naam verlaat het, sal honderd maal soveel ontvang en die ewige lewe beërwe” (Matthéüs 19:28-29).
Diegene wat geroep word om in die eerste opstanding te wees, het werklik ’n merkwaardige geleentheid!
Tot in ewigheid!
Vir ’n duisend jaar sal die mensdom die voordele van ’n lewe onder die welwillende heerskappy van Jesus Christus beleef, saam met die heerskappy van die heiliges onder Hom. Dan, vir ’n tydperk daarna – heel moontlik vir ’n tydperk van 100 jaar, soos dit moontlik deur Jesaja 65:17-20 geïmpliseer word – sal die Groot Wit Troon Oordeel volg. Soos in die vorige hoofstuk bespreek, is dit gedurende hierdie tydperk wanneer die tweede opstanding sal plaasvind en die verstand van diegene wat gesterf het sonder om die waarheid van God te verstaan, uiteindelik geopen sal word sodat hulle ook ’n keuse kan uitoefen om kinders van God te word.
Uiteindelik, wanneer die Millennium én die Groot Wit Troon Oordeel verby is, sal diegene in God se Gesin ’n selfs gróter erfporsie ontvang. Let daarop dat God nie slegs die aarde aan Christene gee nie (Matthéüs 5:5) – Hy gee selfs aan ons die ganse heelal: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7; Romeine 8:32). Dink net aan hierdie verstommende belofte: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom [die mensdom] nie onderworpe is nie” (Hebreërs 2:8).
“Niks” wat nie onder hom gestel is nie? “Alles” in onderwerping? Ja, dit is die belofte. Die Griekse uitdrukking wat in Hebreërs 2:8 vertaal word as “alle dinge” is ta panta – wat letterlik beteken “alles”. Soos Griekse woordeboeke verduidelik, ta panta se suiwer betekenis is “die heelal”. God wil aan u gesag gee, saam met miljarde ander mense, nie net oor die aarde nie, maar oor die heelal! Ons kan dit egter eers ontvang nadat ons die ewige lewe beërf het – slegs nadat ons eers God se onsterflike kinders geword het om saam met Christus in Sy Koninkryk te heers tot in alle ewigheid! Ons werk tydens die Millennium, so noodsaaklik as wat dit sal wees, is slegs ’n voorsmakie van dit wat later gaan kom. God se doel is om ons voor te berei om oor die heelal te heers. Ons sal in staat wees om oombliklik na verafgeleë sterrestelsels te reis. Ons sal nie deur tyd en ruimte beperk word nie. God wil hê dat ons die skepping sal vrymaak van verval en korrupsie. Paulus skryf, “... die skepping self vrygemaak sal word van die slawerny van die verganklikheid tot die vryheid van die heerlikheid van die kinders van God” (Romeine 8:21).
Waarlik, God het ’n verstommende eindbestemming vir Sy getroue kinders in gedagte. Ons sal aktief, vervuld en wonderlik gelukkig wees tot in alle ewigheid. Die profeet Jesaja voorspel die koms van die Messias en Sy ewige Koninkryk deur te skryf: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:5-6).
Wil u graag deel van die wonderbaarlike toekoms wees wat God vir u aanbied? Sien u uit na die dag wanneer God se genade-troon na die aarde sal kom? Slegs dán sal daar uiteindelik geen pyn, lyding en dood meer wees nie. Johannes beskryf ons inspirerende, uiteindelike eindbestemming: “En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan” (Openbaring 21:4).
Dit is die ewigheid wat God vir u voorberei het. Mag God u help om te verstaan wat Sy groot liefde en plan vir u is en mag Hy u help om voor te berei vir u ontsagwekkende ewige eindbestemming!
Hoofstuk 7
Roep God U?
Soos ons vroeër in hierdie boekie gelees het, God roep nie die meeste van die mensdom tot bekering en doop tydens hierdie huidige 6,000 jaar lange tydperk in die menslike geskiedenis nie. Gewilde evangeliste met goeie bedoelings mag dalk menslike emosies opwek deur “altaaroproepe”, maar tensy God sélf mense geestelik wakker skud en hulle verstand vir Sy waarheid open, sal hulle in wese onoortuig, ongeroep en onbekeerd bly. Die waarheid is dat die meeste mense hulle geleentheid vir verlossing, ten tye van die “tweede opstanding” – die Groot Wit Troon Oordeel – sal kry. Vir sulke individue sal hulle lewens in hierdie huidige tydperk, eendag as ’n kragtige “getuie” dien van die diepte van menslike swakheid en verdorwenheid in lewens wat van God afgesny is. Die Werk van die Wêreld van Môre en die Lewende Kerk van God is daar om sulke individue ’n kragtige waarskuwing te gee ten opsigte van die verskriklike eindtyd wat binnekort gaan plaasvind. Wanneer daardie tyd aanbreek en planeet Aarde in die greep is van die Groot Verdrukking, sal miljoene mense wat hierdie boodskap gehoor het, weet waar God gewerk het en sal gedurende die Groot Wit Troon Oordeel meer gereed wees om Sy weë met vreugde aan te gryp.
Reageer op God se oproep!
Die feit dat u hierdie boekie lees, beteken dat God u dalk wel nou roep om een van sy eerstevrugte te wees! U mag moontlik bestem wees vir wat die Skrif die “beter opstanding” noem. Indien wel, sal u nie hierdie oproep van die hand wil wys nie! Vir die grootste deel van die mensdom sal saligheid tydens die Millennium of die Groot Wit Troon Oordeel kom – wanneer “Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Miga 4:2). Diegene wat vandag deur God geroep word, kan met Sy hulp en deur Sy krag die misleiding van Satan weerstaan en oorwin en kan Geesvervulde lewens vol vrede en vreugde met diepe betekenis lei.
Indien u voel dat God u dalk tot berou, bekering en doop mag roep en u wil meer oor God se weë weet, kontak asseblief die streekkantoor die naaste aan u. Daar is ’n lys op die www.wvm.co.za webwerf asook agter in ons gedrukte boekies. Een van ons verteenwoordigers sal graag met u gesels op ’n tyd en plek wat u verkies.`