Wat behoort die Kerk te doen? Is dit genoeg om die regte dinge te glo, of is daar iets wat ware Christene behoort te doen as ’n gevolg van hul geloof? Te midde van soveel godsdienstige verwarring, het u Bybel die antwoord!


Miljoene evangelies-gesinde Protestante en selfs baie mense in verskillende “Kerk van God”-groepe raak al hoe meer verward oor die vraag: “Wat is die Werk van God”? In ’n toenemend sekulêre tyd, deurdrenk deur ’n gees van eiesinnigheid en opstand teen gesag, het baie mense ’n soort van “elke man vir homself” gesindheid aangeneem, in teenstelling met wat Jesus Christus so duidelik vasgestel het. Nogtans is dit heeltemal onbybels en potensieel gevaarlik!

Hoe so?
Die rede is dat God se geïnspireerde woord duidelik openbaar dat ons Skepper wil hê dat Sy mense moet saamwerk as ’n “liggaam” (1 Korinthiërs 12:12-28). In daardie “liggaam” – gelei deur Christus deur middel van die Heilige Gees – plaas Hy sommiges as Apostels, sommiges as profete en sommiges as leraars (vers 28). God se Woord sê tog aan ons, deur die apostel Paulus, Christus Self “het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ’n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:11-15).

Gee ag daarop dat hierdie gawes en verantwoordelikhede gegee is “vir die werk van bediening” – dat hierdie werk “eenheid” in die Kerk sal bring, sodat diegene wat minder weet, nie “soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering” nie. My vriende, u kan nie ’n bediening hê, tensy die Kerk mense “bedien” nie. God het herders en leraars en andere verorden “vir die werk van bediening”. Dwase mense mag dink dat hul self kan besluit om “’n leraar te wees” – maar God se weg is duidelik; Hy besluit Self, deur middel van Sy bewese menslike dienaars, wie gekies sal word vir die rolle van diens om Sy Werk te doen. Onthou: “God is nie ’n God van wanorde nie, maar van vrede” (1 Korinthiërs 14:33).

Luister!
Indien God se geïnspireerde Woord niks vir u beteken nie, gaan dan voort en “doen u eie ding”! Indien u egter werklik “die vrees van God het” – ’n diepe eerbied vir die ware God en Sy Woord – lees dan die volgende met ’n oop gemoed en hart.

God se opdragte

Jesus Christus het Sy volgelinge beveel: “Gaan die hele wêreld in en verkondig die evangelie aan die ganse mensdom. Hy wat glo en hom laat doop, sal gered word; maar hy wat nie glo nie, sal veroordeel word” (Markus 16:15-16). Hoeveel mense aanvaar nogtans dat hulle God se Werk doen as hulle met een of twee bure praat? Wat dan van die mense wat nie eens ernstig probeer om die ware Evangelie enigsins te verkondig nie? Dink u eerlik, vir een oomblik, dat Christus se opdrag uitgevoer kan word deur gawe en goedgemanierde mense wat net rondsit en met mekaar praat, of wat ’n goeie voorbeeld stel en ’n “lig” is?

Is dit wat Jesus Christus Self werklik gedoen het?
Nee, definitief nie!
Jesus Christus het eerder gedurig groot skares toegepreek. Die Skrif beskryf een geleentheid waar Hy bonatuurlik 5,000 mans – buiten vrouens en kinders – gevoed het, wie na Sy geïnspireerde lering geluister het, (Mattheüs 14:14-21). Jesus het nie tuis gebly en opgetree as ’n goeie buurman nie. Hy het Homself voltyds in Sy bediening gewerp, om die Evangelie te verkondig aan soveel mense as wat Hy moontlik kon bereik! In die dae voor radio en televisie, het dit beteken om te loop en te loop oor die hele platteland van Judea! Dit was Sy geïnspireerde voorbeeld aan ons vandag. Hy het persoonlik die Twaalf Apostels opgelei, saam met ten minste “sewentig ander ... en hulle twee-twee voor Hom uit gestuur na elke stad en plek waar Hy sou kom” (Lukas 10:1). Christus het daarna Sy volgelinge beveel om te bid dat selfs meer leraars geroep mag word om die Werk te doen (vers 2).

Later het die apostel Paulus met sy helpers deur die hele Romeinse Ryk gereis – gepreek en die mense geleer van Jesus Christus en Sy boodskap van die toekomstige Koninkryk van God (Handelinge 8:12, 28:31). Paulus het talle sinagoges besoek en elke geleentheid benut om groot groepe mense toe te spreek, om sy deel te doen, sodat “alle nasies” in staat kon wees om ’n kragtige getuienis te hoor van die komende Koninkryk van God en God se boodskap van vergifnis deur Jesus Christus (Mattheüs 24:14).

Liefde beteken om “die beste te lewer”

Die geïnspireerde voorbeeld van Jesus Christus en Sy Apostels toon duidelik dat – indien hulle dit sou kon doen – hulle sekerlik die geleentheid sou benut om die moderne tegnologie van radio, televisie en Internet aan te wend om die Evangelie aan alle nasies te verkondig! Indien ons werklik ons medemense liefhet en hulle graag vandag met God se Waarheid wil bereik, sal ons sekerlik “ons uiterste bes doen” om die moderne werktuie tot ons beskikking te benut, om God se boodskap aan elke nasie op die aarde te verkondig!

Dink! Hier is ons nét voor die “Groot Verdrukking” – wat Jesus Christus beskryf as die ergste tyd van beproewing, moeilikhede, dood en vernietiging in die hele menslike geskiedenis (Mattheüs 24:21-22). Dink u dat Christus sou wou hê dat Sy ware dienaars maar net klein “Bybelstudie-groepies by die huis” sou moes hê waar hul met mekaar sit en gesels en sodoende heeltemal faal om die hele wêreld so goed hulle moontlik kan, te evangeliseer en deur dit te doen voorkom dat miljarde verwarde mense ten minste ’n getuienis ontvang van God se naderende Koninkryk om hul te waarsku aangaande hulle dreigende noodlot?

Selfs in Spreuke beveel God se Woord ons: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).

Ja, die Almagtige God sal elke individu vergoed “volgens sy werk”. Vandag is die enigste werklik effektiewe manier om die byna sewe miljard mense met God se Waarheid te bereik, via die radio, televisie, die Internet en publikasies. Ware Christene regoor die aarde wil natuurlik graag Christus se opdrag uitvoer om die Evangelie aan die hele wêreld te verkondig. Hulle sal nie tevrede wees om “alleen te sit”, afgesonder van die Werk wat die egte Waarheid van die Bybel verkondig en “hul uiterste bes doen” om daardie Waarheid, as ’n getuienis, regoor die aarde te versprei nie. U, lesers van die Wêreld van Môre, besef dat in hierdie einste tydskrif ons die Waarheid verkondig – net soos ook in ons Tomorrow’s World TV-uitsendings en op ons Webtuiste, www.wvm.co.za.

Daar is sekerlik ook ander aspekte verbonde aan die “Werk” van God. Christus het Sy volgelinge beveel om ’n “lig” vir die wêreld te wees (Mattheüs 5:14-16). Ons woorde behoort altyd “met sout besprinkel” te wees (Kolossense 4:6) sodat ons woorde andere na die Waarheid kan lei. Soos die apostel Petrus ons beveel, moet Christene “altyd bereid [wees] om verantwoording te doen aan elkeen wat van julle rekenskap eis omtrent die hoop wat in julle is, met sagmoedigheid en vrees” (1 Petrus 3:15).

Enige regdenkende persoon behoort egter te besef dat, hoewel hierdie persoonlike dade van evangelisasie goed en van hulp mag wees, hulle nie eens naastenby begin om die “Werk” van Christus se boodskap aan miljarde verwarde mense regoor die aarde, te verkondig nie. Die miljarde mense wat vandag leef, behoort ten minste ’n “getuienis” van die ware Evangelie oor Christus se naderende Koninkryk, te ontvang (Mattheüs 24:14). Ons in hierdie Werk weet dat ons deur die “deure” moet gaan wat Christus vir ons oopmaak om daardie miljarde mense te kan bereik, wat nie bereik is of dalk nooit bereik sal kan word deur slegs persoonlike evangelisasie nie!

Dit is nie dat klein “Bybelstudie-groepe by die huis” verbied word nie. Bybelstudie by die huis kan met tye baie nuttig wees. In my 58 jaar in Christus se voltydse bediening, het ek egter gevind dat baie van hierdie kleiner groepe dikwels baie oorgeneem of oorheers word deur selfbevorderde, onopgeleide en dikwels ongebalanseerde individue wat snaakse en dikwels eenvoudig onbybelse idees en teorieë bevorder. Dit kan verwag word wanneer hul leiers nie verbind is aan die ware Werk van God nie, wat nie opgelei is nie, en nie gewillig is om hulle te onderwerp, selfs aan ware leraars wat deur God verorden is en die volle Waarheid onderrig nie.

Paulus het die evangelis Titus daarop gewys dat ’n ware Christelike ouderling “een [is] wat vashou aan die betroubare woord wat volgens die leer is, sodat hy in staat kan wees om met die gesonde leer te vermaan sowel as om die teësprekers te weerlê. Want daar is baie wat tugteloos is, wat onsin praat en verleiers is, veral die wat uit die besnydenis is; hulle mond moet gestop word. Hulle keer hele huise onderstebo deur te leer wat nie betaam nie, ter wille van vuil wins” (Titus 1:9-11). Dus, ware leraars behoort “opgelei” te wees net soos Jesus Sy dissipels vir drie-en-’n-half jaar opgelei het. Die apostel Paulus het ook jong manne opgelei, soos Timotheüs (Handelinge 16:1-5), Titus en andere – om saam met hom te werk, saam met hom te reis, hy het aan hulle onderrig gegee en hulle voorberei om hom te help om die Romeinse Ryk te evangeliseer, sover dit in hul vermoë was. Dit is God se voorbeeld. God se Koninkryk sal georganiseerd wees en dit is noodsaaklik dat ons almal leer om ons te onderwerp aan gesag en om saam te werk as ’n “span” – soos ons dit sekerlik sal moet doen vir alle ewigheid!

God se Regering is georganiseerd!

Hoe onwillig hulle ook al mag wees om dit te erken, baie van die mense wat teësinnig is om werklik ’n noemenswaardige Werk van verkondiging van die Evangelie aan die hele wêreld te doen, is selfsugtig en ietwat introverte of “onafhanklike” individue wat nie enige iemand wil toelaat om aan hulle te sê wat om te doen nie! Hulle is dikwelsonwillig om hulle aan gesag te onderwerp – moontlik omdat hulle in die verlede seergekry het deur die misbruik van sodanige gesag. Hierdie mense is selfs nie bereid om hulle te onderwerp aan regverdige leierskap in die ware Kerk nie, soos God Sy mense lei deur Sy dienaars. Hulle wil nie nederig hulle deel doen as lede van ’n georganiseerde “span” nie – die Liggaam van Christus in hierdie tyd! U Bybel onthul nogtans duidelik dat elke mens wat hoop om in Christus se naderende Koninkryk te wees – Sy ware Regeringwat op hierdie aarde gevestig sal word – gewillig moet wees om hul aan andere te onderwerp in die Liggaam van Christus! Bestudeer asseblief 1 Korinthiërs 6:1-6 daarmee in gedagte!

Let op hoe die apostel Paulus die evangelis Titus “beveel” dat hy “ouderlinge [moet] aanstel in elke stad” en dan beskryf hy die kwalifikasies van hierdie ouderlinge (Titus 1:1-9). Paulus verduidelik vervolgens dat die ouderlinge in staat moet wees om die monde te stop van “tugtelose” verwarde mense wat onsin praat en net hul eie sin wil hê(verse 10-11)!

Die Liggaam van Christus moet inderdaad georganiseerd wees, en die leiers daarvan moet ware gesag hê om orde en eenheid van doelstelling te handhaaf. Alle ware Christene moet bereid wees om teregwysing te aanvaar en hul te onderwerp aan gesag. God se geïnspireerde opdrag in die boek van Spreuke herinner ons herhaaldelik aan hierdie beginsel! Kyk na Spreuke 12:1: “EEN wat die tug liefhet, het kennis lief; maar wie die teregwysing haat, is dom”. Lees nou Spreuke 13:18: “Armoede en skande is vir hom wat die tug verwerp; maar hy wat die teregwysing in ag neem, word geëer”.

Lees aandagtig Spreuke 15:31-33 en mediteer daaroor: “Die oor wat na die teregwysing tot die lewe luister, sal onder die wyse vertoef. Hy wat die tug verwerp, ag sy eie lewe gering; maar hy wat na die teregwysing luister, verkry verstand. Die vrees van die Here is die tug van die wysheid, en nederigheid gaan die eer vooraf”.

Neem asseblief kennis: “... nederigheid gaan die eer vooraf”. Indien u ’n koning of priester in Christus se naderende Koninkryk wil wees (Openbaring 5:9-10), moet u uself verootmoedig, u moet leergierig wees en u moet bereid wees om uself te onderwerp aan die leierskap wat die lewende Jesus Christus in Sy ware Kerk geplaas het. Hoe anders kan Christus daarop staatmaak dat u werklik gehoorsaam en lojaal aan Hom sal wees dwarsdeur die hele ewigheid?

Samuel en Saul

Lees weer die verhaal van Samuel en Saul in 1 Samuel 15:1-23. Hier het God Sy menslike kneg, Samuel, gebruik om aan Koning Saul van Israel te sê wat om te doen. Saul het egter probeer om “speletjies te speel” en God se bevel afgewater. Hy het nie al die vyande vernietig nie, ook nie al die diere van die Amalekiete soos God hom duidelikdeur Samuel beveel het nie. God het Samuel dus geïnspireer om te sê: “Want wederstrewigheid is ’n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp” (1 Samuel 15:23).

Die volgende hoofstukke van 1 Samuel wys dat God hierdie bevel ondersteun het en Saul as koning van Israel verwyder het. Die grote God beveel ons ook om dinge volgensSy manier te doen – nie om ons menslike redenasies te gebruik om dit “af te water” of om op een of ander manier die direkte opdrag wat in Sy geïnspireerde woord gegee word, te systap nie.

God is besig om ’n gesin saam te stel van Gees-gebore kinders wat hulself al sou bewys het deur ’n leeftyd van gehoorsaamheid aan God en ’n bereidwilligheid om hulself te onderwerp aan Sy Regering – selfs daardie regering deur mense geadministreer. Hulle sou al geleer het om saam te werk as deel van ’n “span” – en sal gereed wees om saam te werk vir alle ewigheid. Dit is hierdie soort individu wat homself waarlik onderwerp wat binnekort oor hierdie hele wêreld, onder Jesus Christus in Sy Koninkryk, sal regeer!

Ons moet dus nie selfsugtig of in onsself gekeer wees nie. Ons moet leer om saam te werk om God se Werk te doen – soos Hy ons beveel. Ons moet dit in liefde en in eensgesindheid hier en nou doen ter voorbereiding vir ons deel in Christus se komende Regering. Dit is ’n lewensbelangrike deel van ons opleiding as Christene!

God beveel Sy mense in Efesiërs 4:1-6 om daarna te streef om die eenheid van die “Gees” te behou en sê: “Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop” (verse 4-5). Liewe leser, u behoort ten volle te bewys of u in daardie “een liggaam” van ware Christene is wat getrou daarna streef om God se gebooie te onderhou en Sy Werk te doen!

God-verordende leierskap

Die Almagtige God sê aan ons dat Hy ware leiers in Sy Kerk plaas, in rolle soos apostels, evangeliste en herders. Hoekom dan? “Vir die werk van bediening” en om eenheidin die liggaam van Christus te bring. Eerlikwaar, sonder God se verordende leierskap tussen Sy mense, sal die bevoegtheid om ’n kragtige “Werk” van die prediking van Sy boodskap aan “al die nasies” te doen, eenvoudig nie moontlik wees nie!

God waarsku ons: “Aanskou onder die nasies en merk op, en staan verstom, verstom; want Ek gaan iets in julle dae doen wat julle nie sal glo as dit vertel word nie” (Habakuk 1:5). God is nou besig om hierdie ware Werk – hoofsaaklik gelei deur die Tomorrow’s World TV-program en hierdie tydskrif – as ’n belangrike deel van Sy geprofeteerde eindtydse prediking van die ware boodskap van die komende Regering van God, gebaseer op Sy wette en om Sy mense te waarsku van die naderende Groot Verdrukking.

As ’n ware leraar van Jesus Christus, het ek, saam met die ander leraars wat deel is van hierdie Werk, sekerlik ’n verantwoordelikheid om die volle Waarheid van God te verkondig, om te help om Sy mense voor te berei om deel te wees van die span op wie die lewende Christus kan staatmaak om lojale lede te word van Sy Regering op hierdie aarde in die Wêreld van Môre. Sal u na God se oproep luister en by ons aansluit om deel te wees van hierdie lewensbelangrike Werk?