In The War of the Worlds is die inval deur vreemdelinge in ons wêreld, afkomstig van die planeet Mars, uitgebeeld. Hierdie bekende roman wat deur H.G. Wells geskryf is en afspeel gedurende Engeland se Victoriaanse era, is later verwerk vir radio en grafies uitgebeeld deur Hollywood-draaiboeke. Die eerste rolprent wat gebaseer is op die roman, wat in 1953 vervaardig is, word erken as ’n kulturele ikoon waarop toekomstige wetenskapfiksie-films geskoei is.
Ons is almal bekend met die barbaarse aanslag deur die magte van Hamas teen Israel op 7 Oktober 2023. Vandag is ons getuies van ’n werklike toename in wêreldkonflik wat ’n aggressor behels wat in elke opsig so onversetlik is in sy doelwit as daardie buiteruimtelike indringers van Wells se storie – ’n soewereine staat wat weier om toe te gee aan die eise van sulke vyande soos die beleërde aardbewoners wat volksmoord in die gesig staar. Die godsdienstige saak wat die dryfveer vir die ideologie is, is byna net so vreemd in ons Westerse denkwyse soos indringers van Mars. Die konflik het geen politieke oplossing nie – slegs ’n godsdienstige uiteinde.
Mei 2024 bring ons by die sewende maand sedert die aanval op 7 Oktober 2023. Die reaksie op hierdie maande van oorlog is gekenmerk deur die Westerse wêreld se beklemtoning van menseregte vir die Palestyne. Westerse beleidmakers en kundiges beskou die oplossing vir die probleme in terme van politieke teorie.
Sedert die Franse Rewolusie en die stigting van die Verenigde State, het die Westerse wêreld gebeure toenemend in terme van menseregte beoordeel. Die 1947 Verenigde Nasies-verdeling van die land met die naam Palestina, is deur hierdie politieke karakter gedryf. Die stigting van die staat met die naam Israel ’n jaar later, was eweneens polities (sien “Jerusalem: Die pad vorentoe” in die November-Desember 2024-uitgawe van die Wêreld van Môre).
’n Genadelose en vasberade mentaliteit
Die inval in Israel op 7 Oktober 2023 deur die magte van Hamas was nie bloot ’n politieke gebeurtenis nie. Hamas stel geensins belang in menseregte soos dit deur die Weste gedefinieer word nie, maar hulle streef eerder na die stigting van ’n Islamitiese staat wat die gebied, wat nou Israel genoem word, insluit. Vir Islam is politiek noodwendig ondergeskik aan godsdiensdoelwitte en vir baie Islamiete is dit ’n sleuteldoelwit om Jode die reg te ontsê om in Israel te woon. Die Houthis in Jemen en Hezbollah in Libanon, wat self namens die Palestyne by die huidige konflik betrokke wil raak, beskou dit as ’n stryd vir godsdienstige oorheersing – nie vir menseregte nie.
Meningsopnames wat in Gasa en die Wesoewer gedoen is, toon almal oorweldigende steun vir Hamas en hulle optrede van 7 Oktober 2023. Die bevolking daar is “geleer” om te streef na die vernietiging van die staat Israel en die uitkoms van so ’n vernietiging sou ’n Islamitiese staat wees, nie ’n demokratiese een nie.
Iran, die primêre weldoener van Hamas, word ook deur die meeste mense in die Weste verkeerd vertolk. Die ondergang van Shah Reza Pahlavi se regime in die laat 1970’s word steeds beskou as die mislukking van die Shah om daardie land vinnig genoeg te verwesters. Die omgekeerde was egter waar; hy het Iran só vinnig verwesters dat die tradisies van sy Sjiïtiese Moslem-erfenis op die punt was om vernietig te word. Die daaropvolgende bewind van die Ayatollahs het daardie erfenis hervestig. Dit is nie verwestering waarna hulle streef nie, maar eerder Islamitiese oorheersing.
Wapenstilstande en vredesooreenkomste tussen Israel en Hamas, soos dit deur Westerse denke gedefinieer word, het dus min waarde. Vir Hamas en hulle spilmoondhede, bied sulke vertragings bloot ’n blaaskans om voor te berei vir die volgende aanslag.
Die Westerse wêreld toon groot onkunde hieroor, aangesien hulle ’n poging aanwend om die konsep van die stigting van ’n Palestynse staat te hernu in reaksie op die aanvalle van 7 Oktober. ’n Palestynse staat – die sogenaamde “Twee-Staat-Oplossing” – sal nié ’n herhaling van 7 Oktober verhoed nie. Hamas beheer die Gasastrook sedert 2006, soms in bondgenootskap en soms in stryd met die sekulêre Fatah-faksie. Hulle invloed het die strook effektief en doelbewus voorberei vir voortgesette konflik met Israel.
’n Nuwe onafhanklike Palestynse staat sou nie vrede bring nie – dit sou nog ’n deelnemer in die godsdienstige konflik inbring, wat, soos Hamas, gestig sou word met die uitsluitlike doel om Israel en die Jode uit die Midde-Ooste te verdryf en verkieslik beide die staat en sy mense in die proses te vernietig.
Israel is nie meer ’n heiligdom nie
Daar is verskeie faktore wat in gedagte gehou moet word om die huidige situasie ten volle te verstaan.
Eerstens was die stigting van die staat Israel in 1948 ’n slag vir Moslem-aspirasies, wat ’n ander dominante godsdienstige mag in die vorm van Sionistiese Judaïsme tot stand gebring het. Vir die Islamitiese denkwyse was dit ’n terugslag. Die totstandkoming van die staat Israel, het tot gevolg gehad dat die Jode wie ondergeskiktes in die Arabiese wêreld was, ’n verandering ondergaan het om ’n voordelige en beherende posisie te beklee. Die Israeliese oorwinning in die 1948 Arabies-Israeliese oorlog het ’n nuwe mag in die Midde-Ooste ingelui.
Alhoewel klein Joodse gemeenskappe vir eeue lank regdeur die Arabiese wêreld gefloreer het, het hulle geen soewereine status gehad nie, ten spyte van ’n sekere mate van vryheid om hulle godsdiens te beoefen. Hulle was onderworpe aan vervolging en het min voordele geniet in terme van menseregte. Met die totstandkoming van die staat Israel het hierdie gemeenskappe binne Arabiese nasies onderworpe geraak aan toenemende vervolging en het min voordele in terme van menseregte geniet tot op ’n punt waar Jode na Israel of ander Westerse nasies moes emigreer ter wille van hulle veiligheid. Die jarelange dienskneg het verrys om gesagvoerder in die streek te word. Regoor die Arabiese wêreld is die voortgesette bestaan van die Israeliese staat ’n bitter herinnering aan dié nederlaag.
In hierdie opsig het ’n woordvoerder van die al-Qassam-Brigade op 14 Januarie 2024 – honderd dae na die aanvalle van 7 Oktober 2023 – die motief vir die aanvalle beskryf as “die begin van [Israel se] werklike tydelike en ruimtelike verdeling en die ‘bring van rooi [verse] as ’n aansoek van ’n verfoeilike godsdienstige mite wat ontwerp is vir aggressie teen die gevoelens van ’n hele nasie in die hart van sy Arabiese identiteit’” (The Palestinian Chronicle, 14 Januarie 2024). Die hedendaagse soektog na ’n rooi vers word gekoppel aan die verwagte herbouing van die derde tempel in Jerusalem, aangesien dit nodig geag word vir reinigingsrituele wat met tempelaanbidding verband hou.
Nog ’n belangrike stukkie inligting wat ons benodig om die huidige situasie behoorlik te begryp, is dat die hedendaagse staat Israel ongetwyfeld as ’n Sionistiese onderneming gevestig is. Die bedoeling van die stigters daarvan was om ’n veilige plek vir Jode te skep sodat hulle nie meer onderworpe sou wees aan die moorde op Jode wat Europa in die negentiende en vroeë twintigste eeu geteister het nie – hulle sou veilig wees teen die wreedhede van nasies sodat ’n gruweldaad soos die Holocaust nooit weer sou plaasvind nie.
Die gebeure van 7 Oktober het die verwagting vernietig dat Israel ’n veilige plek is; die sterfgevalle wat op 7 Oktober aangeteken is, was die grootste aantal Jode wat in een dag vermoor is sedert die Holocaust self. Israel staar nou eksistensiële vrae oor sy plek in die wêreld in die gesig. Die vraag of Israel ’n staat vir Jode of ’n Joodse staat is, word meer dringend.
Sion, Sionisme en profesie
Waar laat dit die Sionistiese staat op die pad vorentoe? Sal die huidige uitdagings ’n hernieude gevoel van godsdienstige ywer onder Israel se leiers bring om Joodse godsdienspraktyke meer openlik te onderhou? Sinagoge-bywoning het ’n oplewing beleef ná 7 Oktober. Ultra-ortodokse en ver-regse politieke partye het in Februarie se plaaslike verkiesings vordering gemaak.
Inderdaad, godsdienstige Jode het baie meer betrokke geraak by Israeliese politiek sedert die 2005-onttrekking uit Gasa op bevel van die destydse eerste minister Ariel Sharon, wat gelei het tot die ontwikkeling van regse godsdienstige politieke partye wat nou deel van die regering is. Hierdie partye sal natuurlik invloed wil uitoefen oor wat in die toekoms met Gasa gebeur. Behoort dit weer deel te wees van die land Israel – Eretz Israel, soos hulle dit beskou?
Die voortdurende kwessie wat betref vrystelling van militêre diens vir Ortodokse mans wat by yeshivas – Torah-studiesale – ingeskryf is, kry ’n nuwe dimensie. Tans kan sowat 15 persent van die bevolking militêre opleiding en om opgeroep te word vryspring deur aanspraak te maak op hierdie wet om vrystelling te eis. Sedert 7 Oktober het ten minste 2,000 manne hulle nogtans aangemeld vir militêre diens terwyl groepe ultra-Ortodokse Jode, Haredim, gewillig nuttige ondersteuning vir die militêre optrede verskaf het. Vroue van Haredim was instrumenteel in die oprigting van kombuise om kosher-kos te voorsien aan diegene wat in die weermag dien.
’n Antieke boek – die Bybel – wat deesdae deur die wêreld verwerp word, spreek hierdie vrae aan. Dit is interessant dat tydens die Eerste Wêreldoorlog, ’n bietjie meer as ’n eeu gelede, die Bybel geraadpleeg is om die mees geskikte datum te kies waarop generaal Edmund Allenby, Jerusalem in die voorhoede van die Britse leër moes binnegaan. Allenby het homself in die rol gesien as die vervulling van profesie.
In sy boek, A Peace to End All Peace, spreek David Fromkin menings uit oor Britse betrokkenheid by Israel aan die begin van die twintigste eeu en sê dat “Bybelse profesie die eerste en blywendste van die vele motiewe was wat daartoe gelei het dat Britte die Jode na Sion wou laat terugkeer” (1989, bl. 298). Deesdae word Bybelse insig oor Israel en Jerusalem verwerp deur beleidmakers wat ’n oorlog op politieke vlak voer, onbewus van wat werklik besig is om te gebeur.
Christus, die ware en enigste Vredemaker
Die Bybel beskryf egter wel wat in Israel en spesifiek in Jerusalem, gaan gebeur. Die stryd vir die reg om in die land tussen die rivier en die see te bly, sal nie eindig voordat die Messías terugkom nie. Die Skrif sê vir ons dat hierdie oorlog in een of ander vorm sal voortduur tot en met Sy verskyning (Sagaría 14:1-4).
Die situasie sal so moeilik raak dat die koning van die Noorde – ’n Bybelse mag wat met Europa geassosieer word – hom sal beywer om beheer oor Jerusalem en die Midde-Ooste te verkry (Daniël 11:29-39). Dit sal die stelsel om te offer beëindig wat weer begin is (Daniël 8:13-26; 12:9-10). Om meer te wete te kom, versoek ’n gratis eksemplaar van Die Midde-Ooste in Profesie by die streekkantoor naaste aan u. Die kontaklys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif of lees dit aanlyn by wvm.co.za.
Regdeur die Skrif voorspel die profete ’n toenemende, internasionale, eindtydse besorgdheid oor wat in die Midde-Ooste en Israel – maar verál in Jerusalem – gebeur. Daar word ook melding gemaak van ’n toenemende ywer vir Judaïsme, wat lei tot die hervatting van offers in die tempel, wat die toorn en woede van die Moslemwêreld sal laat toeneem.
Die stryd is nie polities nie, maar godsdienstig. Selfs die koning van die Noorde sal godsdienstige steun vir sy pogings hê (Openbaring 13:11-17). Hierdie godsdienstige stryd sal slegs opgelos word deur die Wederkoms van die Koning van die konings met die leërs van die hemel om die leërs van hierdie wêreld te vernietig (Openbaring 11:15-18).