Terwyl globale onstabiliteit toeneem en die wêreld die risiko loop vir konflik om uit te bars, waarsku burgers van baie lande dat demokrasie sélf in gevaar is. Wat is egter die uitspraak van die Hemel oor hierdie mees verhewe menslike vorm van regering?
’n Mens mag 2024 dalk die jaar van demokrasie noem. Die tydskrif Time het in Desember 2023 opgemerk dat “2024 nie net ’n jaar van verkiesings gaan wees nie. Dit is heel moontlik dié verkiesingsjaar. Wêreldwyd sal meer kiesers as ooit tevore in die geskiedenis na die stembus gaan, aangesien ten minste 64 lande (plus die Europese Unie) – wat ’n gesamentlike bevolking van ongeveer 49% van die mense in die wêreld verteenwoordig – ook veronderstel is om nasionale verkiesings te hou wat nog vir baie jare in die toekoms gevolge sal inhou”.
Aangesien meer mense as ooit tevore na die stembus gaan om die vorm, aard en rigting van hulle eie regerings te bepaal, behoort 2024 die belangrikste jaar in die geskiedenis van demokrasie te wees. In plaas daarvan het daar in 2024 baie krete opgegaan vanuit alle oorde wat gewaarsku het oor die moontlikheid van demokrasie se naderende ondergang. In Duitsland het nuusdienste gewaarsku dat 2024 se verkiesings in werklikheid ’n “verkiesing oor demokrasie” was. Kenners van buitelandse beleid het verklaar dat die verkiesing van die Europese Parlement gedurende 2024 noodsaaklik was vir die teenkanting teen die aftakeling en ondermyning van demokratiese norms in lidlande.
Waarskynlik het die ernstigste waarskuwings oor hoe “demokrasie op die spel is” gekom van die veldtogte van vise-president Kamala Harris en voormalige president Donald Trump. Opnames toon dat die meerderheid Amerikaners inderdaad glo dat demokrasie in ernstige gevaar verkeer. Nog belangriker is dat elke kant glo dat die ander kant die een is wat daardie gevaar veroorsaak.
Ondanks al die driftige pleidooie dat ons “demokrasie moet red”, lyk dit of mín mense ’n belangrike vraag vra: Is dit die moeite werd óm demokrasie te red?
Dekades gelede, toe die politieke wetenskaplike Francis Fukuyama, The End of History and the Last Man geskryf het, het baie mense gevind dat hulle saamstem met sy ontleding dat die mens se soeke na die uiteindelike vorm van regering om menslike welvaart te vermeerder, verby was. Fascisme is gediskrediteer. Dit is bewys dat kommunisme ’n mislukking was. Sosialisme was duidelik onsuksesvol. Die wenner in die kompetisie van millennia – die toppunt van menslike politieke organisasie – was liberale demokrasie, gekombineer met markgebaseerde ekonomieë. Slegs liberale demokrasieë het hulleself waardig getoon dat menslike belegging vorentoe suksesvol is en in staat is om die beste in die mensdom na vore te bring.
Die dekades sedert Fukuyama se boek het ’n uitbreiding van die wêreld se demokrasieë plaasgevind. Hulle het nogtans ook waargeneem dat die samelewing al nader aan die rand van ondergang beweeg. In tye soos hierdie wanneer nasies hulleself uitmekaarskeur en internasionale konflikte dreig om ons te verswelg in ’n wêreldoorlog waarby veelvuldige kernmoondhede betrokke is, moet ons weet: Behoort ons ons vertroue in demokrasie te plaas om ons probleme op te los? Of is dit moontlik dat demokrasie dit erger maak?
Dit is tyd om demokrasie van naderby te beskou om te besef wat die Skepper van die mensdom daaroor te sê het en watter hoop Hy aanbied vir ’n wêreld wat ’n desperate behoefte aan ’n ware goeie regering het.
Radikale stappe na selfbestuur
Deur die geskiedenis heen het die meeste mense onder die heerskappy van diktators, generaals of konings geleef. Demokrasie het nog nooit lank gehou nie. Athene wat dalk die bekendste model van antieke demokrasie was, het as sodanig vir minder as 200 jaar geduur. Selfs daardie “demokrasie” was slegs deur vrye volwasse mans [nie slawe nie] van Athene beoefen – minder as 30 persent van sy bevolking.
Regering deur ’n monargie was baie meer algemeen deur die eeue heen. Selfs die antieke Hebreërs het monargie bo hulle vroeë heerskappy deur regters verkies. Heersers, ongeag hulle godsdiens, sou oor die algemeen aanspraak maak op die “goddelike reg van konings” en hulle het gereken dat hulle slegs aan hulle gode verantwoordbaar was terwyl die onderdane onderworpe was aan hulle grille en giere – dit is één ding vir die onderdane om ’n heerser uit te daag, maar wie sou dit waag om God uit te daag?
Vanuit hierdie perspektief kan ons verstaan presies hoe radikaal die stap was wat koning John van Engeland in 1215 geneem het toe hy ingestem het tot die Magna Carta (“Groot Handves”) – ’n dokument wat erken dat selfs die koning van Engeland aan die gesag van die wet onderworpe was. Alhoewel dit deur die jare heen betwis en gewysig is, het die Magna Carta, Engeland onderskei as ’n nasie wat hoofsaaklik deur die wet regeer word eerder as deur mense.
Daardie reël het nogtans soms onderdrukkend geword. Vyfhonderd jaar na die Magna Carta was Britse koloniste in Noord-Amerika ontevrede oor wat hulle as onregverdige toepassing van die wet beskou het. Hulle was ook ontevrede om deur ’n koning en ’n parlement van oorsee regeer te word. Die koloniste het in opstand gekom en hulle eie grondwetlike republiek gestig – eers met die Articles of Confederation in 1781 en daarna met die Grondwet van die Verenigde State in 1789. Byna 250 jaar later is dit aangevul deur ’n Handves van Regte en 17 daaropvolgende wysigings, is die grondwet steeds die toonaangewende dokument van die V.S. wetgewing. Dit is ook algemeen nagevolg deur ander nasies regoor die wêreld.
Die nasie se stigters het ’n poging aangewend om die groot mag van nasionale soewereiniteit ten volle by die mense te laat inslag vind. Hulle was nie tevrede met ’n benadering van magsdeling tussen ’n koning en ’n parlement, soos hulle onder Britse bewind ervaar het nie. In Amerika sou die burger “koning” wees.
Die ontwerpers van die Amerikaanse republiek was ook nie tevrede om die leisels van die Amerikaanse sedewette aan enige geloof oor te laat nie. Beïnvloed deur die werk van filosowe soos Thomas Hobbes, John Locke en Jean-Jacques Rousseau, het die stigters probeer om die regering te vestig op die konsep van ’n sosiale kontrak – ’n wedersydse ooreenkoms tussen die mense van ’n samelewing oor die wette wat deur hulle almal aanvaar sou word, die kultuur wat hulle sou aanvaar en die vryhede wat hulle sou erken of selfs prysgee ter wille van sosiale orde.
Die V.S. sou ’n radikale eksperiment wees met betrekking tot vryheid van onderdrukking asook persoonlike vryheid, gegrond op ’n radikale aanvaarding van die soewereiniteit van sy mense. Die ontwerpers van die nuwe nasie se regering was egter nie onkundig wat betref die lesse van die geskiedenis nie. Hulle het byvoorbeeld die geskiedenis van Athene geken wat algemeen beskou word as die geboorteplek van demokrasie, om en by 2,500 jaar tevore. Hulle het die gevare van ’n direkte of suiwer demokrasie geken – een waarin die ménse besluit, direk, selfs oor die kleinste kwessies van beleid en praktyk.
In 1787 het James Madison geskryf dat “sulke demokrasieë nog altyd ’n spektakel van onstuimigheid en twis was; nog altyd onversoenbaar gevind met persoonlike sekuriteit of die regte van eiendom; en dit was oor die algemeen so kort in hulle leeftyd, as wat hulle in hulle dood gewelddadig was”. Een jaar later, toe hy met die Grondwetlike Konvensie van die jong nasie gepraat het, het Alexander Hamilton opgemerk dat die antieke suiwer demokrasieë van die geskiedenis “nooit een kenmerk van ’n goeie regering gehad het nie. Hulle karakter was een van tirannie; hulle gestalte misvormd”.
Tussen die foute van sulke direkte of suiwer demokrasieë was die neiging om in die rigting van “bende-heerskappy” te beweeg, waar die meerderheid van hulle, tiranniese mag oor die minderheid uitgeoefen het. Enige wreedheid, enige onreg, enige despotisme kon tot ’n wet verklaar word in ’n suiwer demokrasie indien ’n meerderheid mense dit so sou verkies by die stembus.
Demokrasieë het ook die geleentheid geskep om tiranne na vore te bring – juis een van die gevare wat die nasie se stigters spesifiek probeer het om in hulle nuwe land onmoontlik te maak. Vir hierdie doel het hulle beplan om die magte van die regering te verdeel in afsonderlike en opponerende takke, wat deur middel van kontrole tussen hulle beheer word.
Die resultaat van hulle poging was om Amerikaanse demokrasie deel te maak van ’n grondwetlike republiek. Die doel om van die regering ’n republiek te maak, waarin die burgers demokraties leiers sou verkies om hulle in regeringsake te verteenwoordig, was bedoel om ’n versperring te wees teen die chaos wat gepaardgaan met suiwer demokrasieë. Die burgers sou soewerein bly, aangesien die leiers ooreenkomstig die besluite van die mense gedien het en daardie leiers wat nie aan die mense se wense voldoen het nie, sou aan die einde van hulle termyn deur nuwe leiers vervang word.
Deur die regering grondwetlik te maak en dit te organiseer ooreenkomstig ’n geskrewe grondwet wat as die wet van die land sou dien, het beteken dat Amerikaanse demokrasie grootliks ingeperk kon word. Regte en beskerming kan in die V.S. Grondwet gekodeer word om dit te bewaar van verandering selfs deur ’n meerderheid. Die volk se soewereiniteit sou behoue bly aangesien selfs die grondwet deur die mense se verkose verteenwoordigers verander kon word maar slegs deur “groot meerderhede” wat sou help om die omvattendste moontlike ooreenkoms te waarborg en oorhaastige, radikale veranderings te voorkom.
Die grondwet sou ook die samewerkende, hoewel teenstrydige aard van regeringsgesag omskryf, wat sou verhoed dat te veel mag in die hande van ’n paar mense bly. Uitvoerende mag sou by ’n enkele individu berus – ’n demokraties verkose president. Wetgewende mag sou berus by ’n kongres van demokraties verkose verteenwoordigers in twee kamers. Die hoogste regterlike gesag het berus by aangestelde, onafhanklike regters. Elke afdeling is ontwerp om van die ander afhanklik te wees vir funksies wat dit nie kon verrig nie en sou sy magte deur die ander gekontroleer word sodat dit nie sy funksies in ’n geleentheid kon omskep om groter beheer oor te neem nie.
Baie mense beweer nogtans dat om ’n grondwetlike republiek te wees, beteken dat die V.S. nie ’n demokrasie is nie, dit nodig is om die stigters se woorde meer noukeurig te lees. Soos Alexander Hamilton tydens die bekragtiging van die V.S. Grondwet opgemerk het, “is die werklike beginsel van ’n republiek dat die mense behoort te kies wie hulle wil hê, om hulle te regeer”. Wat betref die statute van die nasie of sy saamgestelde state, het niemand anders as George Washington sélf, gesê: “Die basis van ons politieke stelsels is die reg van die mense om hulle regeringswette te maak en te verander”. Die grondwet moes as “heilig verpligtend vir almal” beskou word, maar slegs “totdat dit verander word deur ’n uitdruklike en geloofwaardige daad van die hele volk”.
Die nasie wat deur die stigters van die V.S. gevorm is, het soewereiniteit, demokraties op die skouers van burgers geplaas, terwyl dit op vernuftige wyse teen die misbruik van ’n direkte demokrasie beskerm word, deur die uitoefening van daardie soewereiniteit binne die struktuur van ’n grondwetlike republiek te plaas. Die nasie was waarlik, om Abraham Lincoln se woorde te gebruik, ’n regering “van die mense, deur die mense, vir die mense”. Hierdie grootse eksperiment in selfbestuur is oor die algemeen as ’n dramatiese sukses beskou en die wysheid en versiendheid van die stigters van die V.S. word byna universeel erken.
’n Noodlottige en onvermydelike fout
Die digter T. S. Eliot het geskryf dat die mens “gedurig probeer ontsnap uit die donkerte buite en binne homself deur te droom van stelsels wat so volmaak is dat niemand goed hoef te wees nie”. Dit is presies wat die stigters van die V.S. probeer doen het – wat die ontwerpers van elke liberale demokrasie probeer doen. Met die doel dat die mense nie afhanklik is van ’n potensieel korrupte heerser of ’n potensieel korrupte aristokrasie nie, maak die mense in demokrasieë hulle eie heersers.
Die fundamentele tekortkoming bly steeds: Mense is nie goed nie (Matthéüs 19:17) en geen stelsel van selfbestuur kan mense bevry van die korrupsie wat hulle self veroorsaak nie.
Die stigters van die V.S. het – tot hulle krediet – dit erken. In 1788 het James Madison kortweg gesê: “Is daar geen morele deug onder ons nie? Indien daar nie is nie, is ons in ’n ellendige situasie. Géén teoretiese kontrole en geen vorm van regering kan ons veiligheid bied nie”. Tien jaar later het John Adams opgemerk dat wanneer die moraliteit van burgers slegs oppervlakkig word – ’n lagie vernis wat van buite goed lyk, terwyl begeerlikheid en vulgariteite binne-in verberg word – dan “sal hierdie land die ellendigste woonplek in die wêreld wees”, met niks in die Amerikaanse regeringsvorm wat moontlik is om die mense se immoraliteit in bedwang te hou nie.
Baie mense sou sê dat sommige demokrasieë inderdaad besig is om van die ellendigste woonplekke in die wêreld te word. Met geen kultuur of etiese stelsel, buiten dít waaroor almal in die “sosiale kontrak” saamstem, is samelewings besig om te disintegreer in mededingende groepe van ideologies-gedrewe kampe, wat mekaar daarvan beskuldig dat hulle dít wat die beste betreffende ons nasies is vernietig. Met geen erkende bron van wat reg of verkeerd is en wat meer gesag het as die stembus – geen interne kontrole wat die agteruitgang van die menslike natuur in toom hou nie – vind die mees verdorwe dade en lewenswyses toenemend plaas onder die beskerming van misleidende wette. Met geen erkenning van die gesag van die Goddelike Ontwerper van die mensdom – wat Hom vervang het met die soewereine wil van die mense – word selfs die mees fundamentele instellings van die mens, soos die familie, herdefinieer en herskep volgens die heersende politieke grille en giere.
Trouens, selfs die rampe van direkte demokrasieë wat die stigters probeer vermy het – tirannieë, maklik gemanipuleerde kiesers en agteruitgang in die kwaliteit van leierskap – begin vorendag kom. Watter stelsels die ontwerpers ook al ingestel het, kon net die onvermydelike vertraag, nié keer nie.
Die filosoof Plato wat omring was deur die “moeder” van alle demokrasieë in antieke Athene, het dikwels uitgevaar teen die idee dat ’n volk homself demokraties sou kon regeer. In sy klassieke werk The Republic, het hy duisende jare gelede gewaarsku dat demokrasieë nie leiers van hoë morele waardes oplewer nie, so ook nie heersers met betekenisvolle wysheid en vermoëns of verteenwoordigers wat werklik omgee vir die mense deur wie hulle verkies is nie.
Demokrasieë bring eerder leiers na vore wat uitblink in een spesifieke vaardigheid: Om verkies te word.
In sy klassieke werk, Democracy in America, het die negentiende-eeuse Franse politieke filosoof Alexis de Tocqueville dieselfde magte in die jong nasie aan die werk waargeneem. Hy het opgemerk dat diegene wat die beste kan lei, selde tot hulle amp verkies word en dat besluite deur stemming oor die algemeen – byna onvermydelik – op ’n relatief oppervlakkige basis geneem word. Gevolglik het de Tocqueville opgemerk dat die publiek “dikwels instem met die lawaai van ’n bedrieër of swendelaar wat die geheim ken om mense se keuses te manipuleer”, terwyl diegene wat werklik die mense goed sou kon dien, deur die kiesers geïgnoreer word (Boek 1, Hoofstuk 13, vertaling Henry Reeve).
Kan ons sien hoe hierdie waarhede in ons eie nasies ten toon gestel word? Ons moet onsself eerlik afvra: Lewer ons demokratiese prosesse – watter vorm dit ook al aanneem – die wysste leiers op? Die heel bekwaamste?
Ons sou op ’n dwaalspoor wees indien ons so dink. Ons nasies word toenemend deur individue bestuur sonder die wysheid of die vermoëns wat deur hulle amp vereis word. Hulle blink eerder uit in een enkele vaardigheid wat ons regeringstelsel van hulle vereis: Die vermoë om kiesers te oortuig om die werk vir hulle te gee.
Daar is eenvoudig geen stelsel van menslike regering wat ons teen die menslike natuur kan beskerm nie.
Demokrasie teenoor God
Veral in Amerika, het sommige mense probeer om die beginsels van demokrasie, soos dit weerspieël word in die geïnspireerde woorde van die Bybel, te sien met die hoop om God se goedkeuring te verkry vir die regeringsvorm wat hulle gekies het.
Sommige mense het byvoorbeeld beweer dat die drieledige skeiding van magte ondersteun word in die lof wat in Jesaja 33:22 aan God gegee word: “Want die Here is ons Regter, die Here is ons Aanvoerder, die Here is ons Koning: Hý sal ons verlos.” Dit is waar dat al drie kategorieë van mag – die uitvoerende, wetgewende asook die regterlike gesag genoem word. Wie by sy volle positiewe is, sou drie magte wat verenig is in die een Almagtige God, ’n voorbeeld van skeiding van magte noem? Dit is inderdaad heeltemal die teenoorgestelde!
’n Beginsel uit die Skrif geld egter wel – ’n beginsel wat deur die Here Self oorgedra is wanneer Hy sê: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes” (Matthéüs 12:25). Hoewel daar baie menslike wysheid is in hoe die stigters van die V.S. die skeiding van magte gereël het – toe hulle menslike ambisie téén menslike ambisie gestel het, soos James Madison dit gestel het – die geopenbaarde goddelike wysheid meld dat so ’n situasie beslis in verwoesting sal eindig.
Waarom verwag ons dan om te bewys dat ons reg is – die ontwerpers van ons moderne demokrasieë of Jesus Christus? Trouens, die Bybel is gevul met geopenbaarde waarhede wat dit heeltemal en onvermydelik duidelik maak dat demokrasie – in al sy vorms – nie ’n Goddelike regering is nie, ongeag die verhewe doelwitte daarvan.
Demokrasie se fundamentele konsep byvoorbeeld, is dat soewereiniteit by die mense berus en dat heersers hulle gesag slegs verkry met “die instemming van die wat regeer word” – in Thomas Jefferson se bekende woorde – is heeltemal teenstrydig met die Skrif in alle lektuur behalwe die mees radikale leesstof, verdraaide aannames en verbeeldingryke vertolkings. Die universele getuienis van God se Woord is inderdaad heeltemal gekant teen demokrasie.
Hou die teregwysing wat aan Nebukadnésar gegee is in gedagte. Die magtige koning van Babilon het uit die oog verloor hoe afhanklik hy van die God van die hemel was vir sy plek en posisie. Die Ewige het hom toe tydelik die verstand van ’n dier gegee, gestroop van alle rasionaliteit, “dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17).
Hierdie waarheid – dat God vir Homself die aanstelling van owerhede en magte voorbehou – word in baie gedeeltes deur die Bybel geopenbaar. God het elders vir Daniël geïnspireer om te sê: “Hy sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21). In elke vorm van regering wat God skep – met inbegrip van die antieke nasie Israel, die eerste-eeuse Kerk en selfs die gesin self – is daardie regering altyd van bo af ondertoe gestruktureer, met posisies wat deur middel van aanstelling toegeken word, gebaseer op grond van waarneembare vrugte (bv. Titus 1:5).
Wanneer u wel Skrifgedeeltes vind waarin die mense die vorm van regering bepaal, kan God se goedkeuring nie waargeneem word nie. Weereens, heeltemal die teenoorgestelde – in die geval van die volk se verwerping van Samuel se seuns as regters oor hulle – selfs toe daardie seuns hulle nie goed van hulle taak gekwyt het nie – het die Ewige verklaar dat Hy hierdie verwerping sien as ’n weiering van Sy eie heerskappy oor die volk (1 Samuel 8:7). Die enigste duidelike melding van ’n stemmery in die bladsye van die Bybel is dié van Paulus in die dae voor sy bekering toe hy gestem het om Christene dood te maak (Handelinge 26:10). Hoofsaaklik, is al die wêreldse wysheid van demokratiese regering en die plasing van soewereiniteit in die hande van die mense waaroor regeer word, in plaas van die heersers, weerspieël dit nié die wysheid van God nie.
Dit weerspieël egter die gees en aard van Satan die duiwel, die eerste wese, wat wou uitstyg bo die Een wat oor hom geheers het en vir homself gesag toegeëien het (Jesaja 14:12-14). Dit is sy gees wat nou in hierdie wêreld werksaam is (Efésiërs 2:2). Behoort ons dan verbaas te wees dat die gees deur wié ons politiek oorheers word ook die een is om beheer vir onssélf toe te eien en mag op te eis asof die wysste en veiligste plek daarvoor in ons eie hande is?
’n Glorieryke belofte
Deel van die droom wat steeds die demokrasieë van die wêreld voortdryf – selfs al veroorsaak hulle die toenemende chaos wat inherent aan hulle is – is dat lewe vry van brutale tirannie, vry van onderdrukking en vry van korrupsie bereik kan word slégs deur menslike pogings. Elke poging van die mensdom is tog van die begin af tot mislukking gedoem as gevolg van een basiese bestanddeel: onssélf. Ons kan eenvoudig nie vertrou word wanneer die regering in ons hande is nie.
Ons ken nie die weg na die vreedsame lewens waarna ons smag nie (Jeremia 10:23; Jesaja 59:8). Al struikel ons letterlik daaroor, vind ons dit is ’n smal pad en ’n moeilike pad (Matthéüs 7:13-14). Dit behels nie die skep van stelsels wat ons in staat stel om te vermy om die goeie te kies nie, maar vereis eerder dat ons onsself as individue en as ’n beskawing aan die Wette van God onderwerp – iets wat heeltemal teenstrydig is met ons natuur (Romeine 8:7).
Die Skepper van die mensdom het ons egter nie sonder ’n oplossing gelaat nie. Die Bybel openbaar dat God Sy Seun, Jesus Christus, sál terugstuur na hierdie aarde om hierdie samelewing te regeer en in die Koninkryk van God te heers. Daardie Regering sal nie deur mededingende skares of teenstrydige partye regeer word nie. Dit sal deur Christus Sélf regeer word, “wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here” (1 Timótheüs 6:15).
Met die verloop van ’n duisend jaar sal daardie Koninkryk uiteindelik bereik wat geen menslike regering nog óóit kon doen nie. Dit sal die gebrekkige menslike natuur verander totdat dit ooreenstem met God se eie natuur, “Want dit is die verbond wat Ek ná dié dae sal sluit met die huis van Israel, spreek die Here: Ek sal my wette in hulle verstand gee en dit op hulle hart skrywe; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees” (Hebreërs 8:10).
Oorloë sal eindig, ongelykheid sal afgeskaf word en elke individu sal die geleentheid hê om ’n vervulde en oorvloedige lewe te lei onder die bevrydende Wette van sy Skepper (Jakobus 1:25).
God die Vader soek na diegene wat verstaan dat hulle nie geroep is om op die regerings van hierdie wêreld te vertrou en te veg met hierdie wêreld se gebroke en wêreldse werktuie, asof hulle Sy Seun vóór Sy tyd kon troon nie (Johannes 18:36). In plaas daarvan is Hy na diegene op soek wat gereed is om hulle vertroue in Hom te stel – om Hom toe te laat om hulle eie harte en gedagtes vandag te verander, sodat hulle Hom kan help om die harte en gedagtes van die mensdom van môre te verander.


