Die geskiedenis is besaai met die verwoeste en stoflike oorblyfsels van eens magtige ryke wat nie meer bestaan nie. Kan die nasies van vandag die lesse leer wat hulle voorgangers geïgnoreer het.

Die Chinese volk is weereens op pad na politieke en ekonomiese status as supermoondheid. Die eens groot Britse Ryk het verbrokkel en die Verenigde Koninkryk sal dalk nie eers “Brexit” oorleef nie. Vir bykans 6,000 jaar, van antieke Babilon tot ons moderne tyd, het die beskawing magtige nasies se ondergang gesien en hoe ander nasies opgang maak. Een finale, geprofeteerde ryk of supermoondheid gaan binnekort tot stand kom.

Gerald Weston, die Hoofredakteur van die Wêreld van Môre, het lesers in 2019 daaraan herinner dat die Verenigde State besig is om die einde van sy tyd as die wêreld se grootste supermoondheid te nader:

Die Verenigde State is steeds die toonaangewende wêreldmoondheid, maar sal dit nie vir altyd wees nie – so verbasend as wat dit vir baie Amerikaners mag klink. Geen ryk het vir altyd stand gehou nie. Ons kan ons voorstel dat die burgers van die vorige beskawings ook verwag het dat hulle regerings sou bly voortbestaan. Die “onoorwonne” stad Babilon met sy magtige ryk het in een nag voor die Meders en Perse geval. Nie een van hulle het dit sien kom nie. Die Persiese Ryk het geval voor die waaghalsige verowerings van Alexander die Grote en sy Grieks-Macedoniese Ryk, wat later voor die opkomende mag van Rome geval het. Soos ons weet, het Rome se mag en oorheersing ook tot ’n einde gekom. Baie mense oor die hele wêreld heen beywer hulle vir Amerika se ondergang, maar weet nie wie die vakuum sal vul of wat die gevolge sal wees nie (“Ons grootste hoop”, Wêreld van Môre, Januarie-Februarie 2020).

Vir meer as 200 jaar was die Verenigde State ’n groot mag op die wêreldtoneel. In die jare sedert die val van die Sowjetunie en in die nadraai van die wêreldwye oorlog teen terreur, het ons die V.S. sien agteruitgaan terwyl ander wêreldmagte al hoe meer politieke, ekonomiese en militêre mag uitoefen.

Ons behoort nie verbaas te wees nie. Die ryke van die verlede wat oor die wêreld geheers het, bestaan nie meer nie. Die groot Babiloniese Ryk het byvoorbeeld baie nasies verower, wat die koninkryk van Juda insluit. Die antieke Griekse geskiedkundige Herodotus het geskryf: “Benewens die enorme grootte van Babilon oortref dit ook enige stad in die bekende wêreld wat sy prag betref” (Histories, 1,178).

Wat het met Babilon gebeur? Hulle sedeloosheid het tot die oordeel van God gelei. Terwyl ons die toenemende verwerping van die God van die Bybel rondom ons sien posvat, kan ons self enigiets anders verwag? Die filosoof Georg Hegel het die bekende opmerking gemaak: “Wat ervaring en die geskiedenis ons leer, is dat mense en regerings nooit enigiets uit die geskiedenis geleer het of hulle handelswyse volgens die beginsels wat daaruit afgelei word, verander het nie” (The Philosophy of History, 1857, bl. 6).

Wat kan ons uit die verlede leer? Wat sê die Bybel vir ons met betrekking tot die toekoms? Die profeet Daniël het die opkoms en ondergang van groot ryke voorspel, met inbegrip van die Romeinse Ryk. Wat het met daardie ryk gebeur? Dit het vir meer as 500 jaar ná die Romeinse Republiek voortgeduur. Selfs daardie magtige ryk het egter sy eerste inkarnasie in 476 n.C. sien ontbind.

Moderne ryke het ook gekom en gegaan. In die 20ste eeu het die Duitse “Derde Reich” sy bewind oor ’n groot deel van Europa en Noord-Afrika uitgebrei. Adolf Hitler se ambisies sluit die verowering van die Sowjetunie in, maar hy het nie daarin geslaag nie. Geallieerde leërs het die Derde Reich verslaan. Die Sowjetunie, oftewel die Unie van Sowjet-Sosialistiese Republieke, het uit 15 republieke bestaan wat oor 11,000 kilometer van oos na wes gestrek het. Hierdie supermoondheid was baie trots op sy kommunistiese lewensbeskouing. Dit het geveg vir die harte van nasies en volke regoor die wêreld – maar uiteindelik het dit ook misluk.

 

Die ondergang van nasies is geprofeteer

Wie sou die ondergang van so ’n groot supermoondheid kon voorspel? U mag dalk verbaas wees om te hoor dat ’n klein groepie Christene wat geïnspireer was om die waarheid te verstaan wat in die Bybel geopenbaar is, die hele tyd besef het dat Oos-Europa uiteindelik uit die greep van die Sowjetunie sou loskom. Hoe het hulle dit geweet? Bybelprofesie voorspel die opkoms van nog ’n groot supermoondheid, wat die “dier” in die boek Openbaring genoem word. Meer as 65 jaar gelede het die Good News-tydskrif, wat deur Herbert W. Armstrong gepubliseer was, met vrymoedigheid verklaar dat Oos-Duitsland weer by Wes-Duitsland sou aansluit en dat Rusland “gedwing sal word om afstand te doen van haar beheer oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en dele van Oostenryk” (“Will German Rearmament Stop Russia?,The Good News, April 1952).

Kort na Rusland se inval in Hongarye in 1956, toe baie “kundiges” geglo het dat die “Ystergordyn” vir altyd oor Oos-Europa gesak het, het die tydskrif The Plain Truth hierdie ongelooflike stelling gemaak: “Die weg word voorberei vir ’n reuse derde mag in die wêreldpolitiek – ’n Europese Federasie van Nasies wat magtiger sal wees as Rusland of die Verenigde State! ... Ons het jare vooruit daarop gewys wat met Rusland se rampspoedige ryk in Oos-Europa sou gebeur” (“Foretold 22 Years Ago!,” Desember 1956).

Selfs honderd jaar gelede het mense nog steeds gesê dat “die son   nooit sal ondergaan oor die Britse Ryk nie”. Binne ’n eeu het daardie groot ryk egter verbrokkel. Na ’n finale vlaag van uitbreidings onmiddellik na die Tweede Wêreldoorlog, het ’n proses van dekolonisasie begin en teen 1960 het die Britte die grondgebiede prysgegee wat vandag Indië, Pakistan, Burma [nou Myanmar], Sri Lanka, Irak, Ghana, Nigerië en Somalië uitmaak, sowel as ’n groot deel van Afrika, suid van die Sahara die Palestynse Mandaat, dele van Egipte, Soedan en Hongkong. Vir een of twee geslagte daarna het Brittanje ’n mate van sy eertydse glorie as ’n lid van die Europese Unie herwin. Selfs dié poging het misluk toe hulle hulleself met “Brexit” opgesaal het nadat Britse kiesers hulle EU-lidmaatskap verwerp het.

Die V.S. president Donald Trump het ’n veldtog begin onder die slagspreuk “Maak Amerika weer groot”. Sal hy slaag of sal die V.S. ’n agteruitgang ervaar soos dié van Groot-Brittanje, Griekeland en Rome? U kan te wete kom watter lande of ryke in die 21ste eeu opgang sal maak of sal ondergaan. Bybelprofesie openbaar die toekoms van die Westerse nasies, indien u die sleutel het om die moderne nasate van antieke Bybelse nasies na te speur.

 

Onthou of herhaal?

Die woorde van die befaamde filosoof George Santayana herinner ons, “Diegene wat die verlede nie kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal” (The Life of Reason: Reason in Common Sense, 1905, bl. 103). Sal ons in die Westerse wêreld die lesse uit die geskiedenis leer of sal ons die patroon van alle groot koninkryke en ryke volg wat voor ons gekom en gegaan het?

Koning Bélsasar van Babilon was ’n magtige heerser wat die lesse uit die geskiedenis moes leer. Hy het egter daarop aangedring om sy eie goddelose lewenswyse te handhaaf en het ander mense tot losbandigheid gelei. Sy ryk het die prys betaal. Daardie diepgaande les is opgeteken in die bladsye van die geskiedenis asook in die bladsye van u Bybel. Die profeet Daniël was in die stad Babilon gedurende die nag toe die Persiese leër dit verower het. God het deur Daniël aan Bélsasar vertel wat met hom en sy ryk gaan gebeur. Daardie verstommende opeenvolging van gebeure is in hoofstuk 5 van die boek Daniël opgeteken. Koning Bélsasar het ’n fees – ’n groot partytjie – vir die adel voorberei. Hulle het wyn uit goue bekers gedrink wat uit die tempel van God in Jerusalem geplunder is. “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:5-6).

Die koning het Daniël versoek om dit wat op die muur geskryf is, uit te lê. Wat het die geheimsinnige hand geskryf? “En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené – God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekél – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; peres – u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee” (Daniël 5:25-28). “In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het” (Daniël 5:30; 6:1).

Vandag is die skrif aan die muur vir die Verenigde State en Groot-Brittanje. Die waarskuwingstekens is oral rondom ons namate ons nasies meer verval en sedeloos raak. Indien ons in die Westerse wêreld voortgaan om die Tien Gebooie en die Woord van God, die Bybel, te ignoreer, te verag en te verwerp, sal ons meer rampe in die gesig staar – totdat ons uiteindelik besef dit is nodig om God met ons hele hart te soek! Die profeet Jesaja gee aan ons hierdie vermaning, bemoediging en belofte: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

Ons moet nou tot geestelike aksie oorgaan! Sommige mense sal natuurlik skepties bly. Diegene wat God egter deur Sy Woord soek, kan begrip en gemoedsrus hê.

 

’n Les van lank gelede

Ons het die opgang van groot ryke gesien, sowel as hulle verval en ondergang. Sal die Westerse lande die lesse uit die geskiedenis leer? Koning Bélsasar het die lesse van sy voorvader, koning Nebukadnésar, wat oor die Babiloniese ryk regeer het geïgnoreer. Daniël het Bélsasar herinner aan die lesse wat hy moes geleer het:

“Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader [voorvader] Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil” (Daniël 5:18-21).

Nebukadnésar het probeer regeer sonder om God te erken en daarom het hy geweldig gely! Bélsasar het egter hierdie les geïgnoreer en moes die prys betaal (Daniël 5:22). Moet ons ook lesse op die moeilike manier leer of sal ons aandag gee aan God en Sy Woord, die Bybel?

Nadat Nebukadnésar ’n droom gehad het wat nie een van sy raadgewers kon uitlê nie, het Daniël nie net die inhoud van sy droom aan die koning vertel nie, maar ook die uitleg daarvan gegee: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Daniël het vir die koning gesê wat die droom beteken. “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – ú is die hoof van goud” (verse 37-38).

Hier het God openbaar dat Hy, die Skepper van die heelal, mag en outoriteit gegee het aan die “hoof van goud” – Nebukadnésar en sy koninkryk. Die droom het egter die einde van Nebukadnésar se koninkryk en die vestiging van ander koninkryke ná syne voorspel: “En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (verse 39-40).

Watter ryke word in hierdie droom beskryf? Gerespekteerde Bybelgeleerdes stem vandag saam oor hulle identiteit. Die hoof van goud het die Babiloniese Ryk van 625 v.C. tot 539 v.C. voorgestel. Hierdie ryk is deur die Medo-Persiese Ryk van 558 v.C. tot 330 v.C. vervang, wat voorgestel was deur die bors en arms van silwer. Die buik en dye van brons dui op die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote van 333 v.C. tot 31 v.C. Die twee bene van yster dui op die Romeinse Ryk van 31 v.C. tot 476 n.C.

 

’n Toekomstige herlewing

Ten slotte verteenwoordig die tien tone aan die twee voete van yster, wat met keramiekklei gemeng is, ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk. Die moderne stigters van die Europese Unie het die Romeinse Ryk doelbewus as ’n model beskou en selfs die huidige V.K. premier Boris Johnson, wat in die klassieke letterkunde van antieke Rome en Griekeland onderrig is, het die beste eienskappe van die Romeinse Ryk in sy boek, The Dream of Rome, lof toegeswaai. Soos een resensent dit gestel het: “Boris Johnson het tot die slotsom gekom dat die probleem met die Europese Unie is dat dit nie meer soos die Romeinse Ryk is nie” (“Empire building”, The Guardian, 4 Februarie 2006).

Nebukadnésar se droom het openbaar dat selfs die herleefde Romeinse Ryk tydelik sou wees. Dit sal vervang word deur wat ons ’n vyfde Koninkryk kan noem – die Koninkryk van God. “U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (Daniël 2:34-35).

Wat is die klip wat die beeld getref het? “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).

 

Kan ’n nasie berou hê?

Dwarsdeur die geskiedenis van die wêreld was samelewings wat bereid was om hulle van hulle bose weë te bekeer, uiters skaars. Ninevé, die hoofstad van antieke Assirië, was een van hierdie min samelewings en het God se oordeel inderwaarheid uitgestel. Die profeet Jona het met die waarskuwing van God na die burgers van Ninevé gekom: “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes. En die manne van Ninevé het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit” (Jona 3:4-6). Kan u uself voorstel dat enige van die wêreldleiers van vandag hulleself voor God sal verootmoedig?

Die Assiriërs het op Jona se waarskuwing gereageer. Hulle het hulle van hulle bose weë bekeer en God het hulle gespaar. Dit het in die agtste eeu v.C. gebeur. God het Ninevé vir baie jare gespaar en het selfs die nasie gebruik om antieke Israel te straf en sy mense in ballingskap te neem. Nadat Assirië die “Noordelike Koninkryk” – Israel – verower het, het daardie koninkryk in die geskiedenis verlore geraak en sy volke het bekend geword as die “verlore tien stamme”.

Die profeet Jesaja boekstaaf God se voorneme om Assirië te gebruik om Israel te straf. Jesaja haal God aan waar Hy sê: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:5-7).

God het die Koninkryk van Israel gewaarsku om hulle te bekeer, maar die mense het geweier. As gevolg hiervan het die Assiriërs die tien stamme van die Huis van Israel verower en die ballinge na Assirië weggevoer. Israel se finale ballingskap het omstreeks in 721 v.C. plaasgevind.

Uiteindelik was die vryskelding van Assirië egter so tydelik soos hulle gesindheid van berou. Die geskiedenis getuig van die wreedheid van dié nasie en in 612 v.C. het God die Meders toegelaat om Ninevé te vernietig.

God het ook Sy waarskuwings aan die koninkryk van Juda gerig, maar daardie nasie het ook in hulle sondes volhard. God het dus die koninkryk van Babel onder koning Nebukadnésar gebruik om die huis van Juda te straf. Die meerderheid Jode is oor ’n tydperk van twee dekades na Babilon weggevoer, wat geëindig het met die vernietiging van Jerusalem in 586 v.C. As jong manne is Daniël en drie van sy vriende in ballingskap weggevoer en is later opgelei in die kultuur en literatuur van Babilon. Daardie jong manne het volhard in die goddelike waardes wat hulle in Juda geleer het en God kon Daniël gebruik om die droom van Nebukadnésar uit te lê en die goeie nuus bekend te maak van ’n toekomstige Koninkryk wat vir ewig sal bestaan!

 

Sal u berou hê?

Selfs as u volk nie ag slaan op die Woord van God nie, kan u individueel geseën word indien u leef en handel volgens God se geopenbaarde Waarheid wat die toekoms van die nasies openbaar wat uit die tien verlore stamme afstam – waaronder die V.S., Groot-Brittanje, die nasies van Britse afkoms en baie van die volke van Noordwes Europa. Om meer te wete te kom oor die opkoms en ondergang van die nasies wat afkomstig is uit antieke Israel, kontak die streekkantoor die naaste aan u (‘n lys verskyn op bladsy 2 van hierdie tydskrif) om ’n gratis eksemplaar aan te vra van ons insiggewende boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika? Dit openbaar uit u Bybel en die geskiedenis, die oorsprong van ons Westerse nasies. Bybelprofesie openbaar wat geskiedkundiges, wêreldleiers en politieke ontleders nie weet nie!

Soos gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet, baie van Bybelprofesie is “tweeledig” – daar is ’n eindtydse vervulling wat soortgelyk aan ’n antieke vervulling is. Profesie wys inderdaad dat die eindtydse nakomelinge van Assirië, die nageslag van die koninkryk van Israel – die tien verlore stamme – sal straf. Sal u gereed wees wanneer dit gebeur? Ken u die tekens waarna u behoort op te let? Gaan voort om die Wêreld van Môre te lees en u Bybel te bestudeer en u sal in die lig van Bybelse profesie wêreldgebeure verstaan.

Of die Westerse nasies die lesse uit die geskiedenis leer of nie, u en ek kan ons persoonlik bekeer en ons behoort dit te doen. Die dag van God se oordeel oor die verdorwe weë van die mensdom kom vinnig nader. Die nasies en individue wat hulle tot God wend, sal geseën word. Moenie wag totdat u nasie verander nie. Dit is nou die tyd dat u God met u hele hart soek!