In ons moderne, wêreldse tydvak is die meeste mense se aandag toegespits op hulself – op hul werk, hul vermaak en die verkryging van materiële dinge. Min van hulle verstaan of sien die verband tussen wydverspreide weerverwante gebeure en historiese Bybelse voorspellings. Nogtans is daardie ontnugterende profesieë nou besig omgestalte aan te neem! Reg oor die aardbol is omgewingsrampe wat lankal voorspel was besig om miljoene mense se lewens te raak. Dit lyk asof ons nou ’n kritieke kruispad in die geskiedenis van die menslike beskawing nader – een wat duidelik in die Skrif gemeld word.

Eindtydse profesieë en die weer

Toe Jesus gevra was: “Wanneer sal hierdie dinge wees, en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?”, antwoord Hy dat Sy Wederkoms sal plaasvind gedurende ’n tydperk gekenmerk deur oorloë en gerugte van oorloë “hongersnode ... pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Mattheüs 24:3-8). Die apostel Johannes sien in ’n visioen vier perderuiters wat die einde van hierdie tydvak sal inlei (Openbaring 6:1-8). ’n Wit perd stel vals godsdiens voor. ’n Rooi perd stel oorlog en geweld voor wat reg oor die wêreld sal versprei. ’n Swart perd, met ’n ruiter wat ’n skaal in sy hand hou, stel ’n tydperk vanskaarste, stygende voedselpryse en hongersnood voor. ’n Vaal perd stel voor: Dood deur honger, siektes en natuurlike rampe wat een kwart van die aarde sal tref! Die profeet Joël voorspel dat die dag van die Here – Christus se Wederkoms – ongekende rampe sal meebring, insluitende ’n vernietigende tydperk van droogte waarin “die koring ... verwoes [is], die mos ... weggedroog [het] ... al die bome van die land ... verdor [het] ... Is die spys nie weggeruk voor ons oë nie?” (Joël 1:10-16). Die profeet Jeremia het gepraat van ’n tyd van oordeel wat gaan kom, insluitende ’n tyd van “groot droogte ... omdat daar geen reën op die aarde is nie ... daar geen gras is nie” (Jeremia 14:1-6). Jesaja het aangaande Egipte die volgende voorspel: “En die waters sal uit die groot waterplas verdwyn, en die rivier sal uitdroog en droog lê ... elke saailand van die Nyl sal verdor ... En die vissers sal klaag” (Jesaja 19:5-8). Berigte van reg oor die aardbol toon dat hierdie toestande al meer vandag voorkom en voorspel dat dit nog erger gaan word– vererger deur wêreldwye klimaatsverandering!

Wêreldwye droogte-toestande

Gedurende die laaste dekade het droogtes en uiterste weerstoestande ’n aantal gebiede in die Verenigde State geteister. Arizona is in sy twaalfde jaar van droogte en suidelike Kalifornië het so pas sy droogste herfs en winter in meer as ’n eeu ervaar. Een koerant in Palm Springs berig selfs: “Ons het windstorms en ’n kwaai winterryp [wat sitrus en ander oeste ernstig beskadig het] gehad, maar geen beduidende reënval nie ... hierdie is een van die ernstigste droogtes in omtrent ’n 100 jaar”. Weervoorspellers voorsien dat hierdie droogte na Nevada, Utah, westelike Kolorado en Nieu-Mexico gaan uitbrei. Droogte toestande duur ook voort in Wyoming en westelike Suid Dakota, en in die Texas, Oklahoma en Kansas streke. Hoë temperature en lae reënval het ook die suidoostelike state geteister, insluitende noordelike Florida, Georgia en Alabama. In April het swaar ryp amper die hele vrugteoes (appels, perskes, pruime en kaalperskes) en ’n groot deel van die druiweoes in Missouri en Indiana vernietig, asook ernstige skade aangerig aan die winter koringoes in sentrale Kansas en Alabama.

In oostelike Australië het die Murray-Darling Kom (’n gebied wat ongeveer vier keer die oppervlakte van die Verenigde Koninkryk beslaan) “die ergste droogte in die nasie se geskiedenis” beleef (www.timesonline.co.uk, 19 April 2007). Die 55,000 boere in hierdie gebied verbou bykans al die land se pitvrugte, groente, rys en katoen (www.timesonline.co.uk). Hierdie weerverwante misoeste voorspel dramatiese verhogings in voedselpryse. In 2006 het die droogte Australië se winter-koringoes met nagenoeg 60 persent laat daal. Aangesien Australië, naas die Verenigde State, die tweede grootste uitvoerder van koring in die wêreld is, beteken dit ’n laer inkomste vanuit uitvoere en minder graan vir Australië se vernaamste markte in Asië en die Midde-Ooste (www.stuff.co.nz, 24 Maart 2007).

Nuusberigte lui, “Meer as 5.5 miljoen mense in suidwestelike China ondervind ’n tekort aan drinkwater as gevolg van ernstige droogte” (www.news.bbc.co.uk, 24 Maart 2007). Lae reënval in China affekteer ook ses miljoen lewende hawe en ’n halfmiljoen hektaar grond. In noordwestelike China benodig honderde duisende mense nood- watervoorrade as gevolg van ’n gebrek aan reën. Om sake te vererger, besoedel miljarde ton onbehandelde chemiese- en rioolafval die vernaamste riviere en maak die water ondrinkbaar en giftig vir die waterlewe in die riviere.

Groot dele van Afrika word deur ernstige droogte-toestande gekwel. Suid-Afrika, wat gewoonlik mielies na ander Afrika lande uitvoer, moet noodgedwonge mielies invoer as gevolg van “die ergste droogte in 40 jaar. Sommige ouer mense sê dit is die ergste droogte ooit” (Mail and Guardian, 17 Maart 2007). Indien mieliepryse bly styg, sal baie boere genoodsaak wees om ’n groot deel van hulle aanteelvee te slag. Een boer “vervloek die slegte weer, wat hy glo, die ergste in sy loopbaan as boer is”. Hy sê: “My oes is verlore ... Dit is aaklig” (ibid.). Weervoorspellers is bevrees dat hierdie droogte die begin is van ’n lang droë periode vir die somerreënval gebiede van Suid-Afrika – wat vererger kan word deur klimaatsverandering. Ander dele van suidelike en oostelike Afrika gaan alreeds vir jare lank gebuk onder droogte-toestande. Boonop daal die watervlakke in die Victoria meer – ’n bron van die Nyl rivier, die langste rivier in die wêreld – teen ’n kommerwekkende tempo. Ongeveer 45 persent van die daling kan toegeskryf word aan droogte en 55 persent aan swak-beplande hidro-elektriese damme wat tans die uitvloei uit die meer beheer. Die toenemende aanvraag na elektrisiteit en besproeiing in die tien lande wat die Nyl Kom uitmaak (wat 10 persent van die vasteland van Afrika beslaan en die tuiste is van miljoene mense) kan lei tot konflikte en wateroorloë oor toegang tot hierdie kwynende hulpbron (www.irn.org.).

Historiese waarskuwings!

Die Bybel meld dat God lank gelede baie ernstige waarskuwings aan Israel gerig het – waarskuwings wat hulle met die res van die wêreld moes deel (sien Deuteronomium 4:1-10). God waarsku: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het ... sal [Ek] julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper ... julle land sal sy opbrings nie gee nie” (Levitikus 26:14-20). God het later hierdie waarskuwings herhaal: “Maar as jy nie luister na die stem van die Here jou God ... nie, sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal ... jou hemel wat bo jou hoof is, sal koper, en die aarde wat onder jou is, yster wees ... Die Here sal die reën van jou land poeier en stof maak ... totdat jy verdelg is” (Deuteronomium 28:15-24). Die Skrif toon “al hierdie vloeke sal oor jou kom ... omdat jy nie geluister het na die stem van die Here jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie ... Omdat jy die Here jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie” (Deuteronomium 28:45-47). Terwyl die mensdom die omgewingsperke van die aarde oorskry en God se geestelike wette teen afgodediens, diefstal, owerspel, moord, aborsie en ander gruwels ignoreer, behoort ons nie verbaas te wees dat hierdie historiese en betekenisvolle profesieë nou gestalte aanneem nie!