Baie vooraanstaande politici en leiers het lankal reeds tot die besef gekom dat ’n wêreldregering die enigste ware oplossing vir onsomvangryke menslike probleme is. Dit is die enigste soort Regering wat ware vrede en stabiliteit kan bring! Die mensdom se pogings om so ’n regering die lig te laat sien, het egter nog altyd totaal en al misluk. Die heraldiese Volkebond wat na die Eerste Wêreldoorlog gestig is, kon nie verhoed dat 50 miljoen mense tydens die Tweede Wêreldoorlog – die ergste oorlog in menseheugenis – uitgedelg is nie! Die Verenigde Nasies, wat na die Tweede Wêreldoorlog gestig is, het ook totaal misluk om vrede te bring. Gedurende die afgelope paar dekades het letterlik hordes oorloë oor die wêreld heen gewoed maar, op een of ander manier, steeds ongestoord voortgegaan ondanks die bestaan van die sogenaamde “Verenigde” Nasies. Die mensdom se nietige pogings sal onsuksesvol wees, want die mensdom ken nie die “weg” na vrede nie. Vir enige regdenkende mens behoort dit al duideliker te word.

Aangesien godsdienste wat deur die mens geskep is, gefaal het om ’n oplossing te bied vir die mens se probleme, glo die meeste geleerde mense vandag nie meer in ’n ware God nie. Dit is verstaanbaar, want die mensdom het hulle van ware godsdiens gedistansieer. Die meeste godsdienste van hierdie wêreld onderrig en tree op, op ’n manier wat totaal en al teenstrydig is met die Waarheid wat in die Bybel onthul word. Diegene wat bereid is om te verstaan, kan nogtans weet dat daar ’n werklike God is. Daar is ’n groot Skepper en Regeerder van die heelal. Hy is besig om ’n opperdoel hier op aarde te bewerkstellig. U persoonlik kan daardie doel verstaan, mits u gewillig is.

In die Nuwe Testament van die Bybel word die Apostel Petrus deur God geïnspireer om die volgende te skryf: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ’n lamp wat in ’n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte” (2 Petrus 1:19). Indien u bereid is om die feite van die geskiedenis in ag te neem, kan u aan uself bewys dat die God van die Bybel – telkens – ingegryp het om die belangrike gebeure in die mens se geskiedenis te lei. Hy is ’n ware Geestelike Persoonlikheid wat die opkoms en ondergang van nasies en ryke bepaal. Koning Nebukadnésar van die antieke stad Babel was een van die magtigste monarge in die mens se geskiedenis, tog het God hom letterlik sy verstand laat verloor om vir hom, asook vir ons, ’n belangrike les te leer. Waarom het God dit gedoen? Hy verduidelik: “Op ’n besluit van die bodes berus die bevel, en ’n woord van die heiliges is die saak, met die bedoeling dat die lewendes kan erken dat die Allerhoogste mag het oor die koningskap van die mens en dit gee aan wie Hy wil, en die nederige onder die mense daaroor aanstel” (Daniël 4:17).

God gryp inderdaad in – wanneer Hy so besluit – om mense se sake te bestuur ten einde Sy uiteindelike doel te verwesenlik. Die algemene voorwaardes wat Hy stel om leiding te gee word regdeur die Bybel – die geïnspireerde Woord van God – geprofeteer. Die meeste “hoofstroom” Christelike kerke faal daarin om dit te begryp. Hulle verwys slegs na ’n “liewe Jesus” wat oënskynlik onbetrokke is by wêreldsake asook die opkoms en ondergang van nasies. God sê nogtans vir ons in Sy geïnspireerde Woord: “Want die getuienis van Jesus is die gees van die profesie” (Openbaring 19:10). God het die Bybel deur Jesus Christus geïnspireer – en meer as ’n kwart van die hele Bybel is profesie!

Dit is dus nodig dat ons verstaan! Namate die nasies en menslike instellings rondom ons stelselmatig uitmekaar begin val, namate baie van ons verwagtings en drome in hierdie menslike samelewing in duie begin stort, is dit nodig dat ons fokus op die enigste ware antwoord – die werklike God van die Bybel! Hy sál ingryp, selfs nog in die leeftyd van die meeste van u wat hierdie boekie lees! Hy sal ’n wonderlike nuwe wêrelddie Wêreld van Môre – tot stand bring, ’n splinternuwe samelewing wat gebaseer sal wees op die beginsels van liefde, vreugde en vrede. Indien u werklik u Bybel bestudeer, sal u vind dat hierdie feit keer op keer openbaar en verduidelik word. Let op hoe die geïnspireerde apostel Petrus in een van sy vroegste preke vir ons sê dat God “Hom mag stuur wat vooraf aan julle verkondig is, naamlik Jesus Christus, Hom wat die hemel moet ontvang tot op die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:20-21).

In hierdie boekie sal u lees van daardie “tyd van wederoprigting” wat binnekort sal plaasvind, wanneer ons Skepper sal ingryp om die mensdom van sy eie dwaasheid te red! Hy sal ons letterlik van selfvernietiging red (Matthéüs 24:22)!
 

Die ware Jesus Christus SAL ingryp

In Openbaring 11:15 word daar in u Bybel die verskriklikste gebeurtenis van die aarde se geskiedenis aangeteken. Hier word die laaste van die sewe basuine van Openbaring geblaas en stemme in die hemel kondig aan: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”

Ja, die lewende Christus sal binnekort die Regerings van ons oorloggeteisterde wêreld oorneem! Aanvanklik mag die nasies van hierdie wêreld Sy volmaakte Regering teenstaan maar Christus sal terugkeer met al die krag van God om vrede op hierdie aarde af te dwing, “en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer” (Openbaring 19:15). Christus sal terugkeer as Opperheerser oor al die ander regeerders en konings van hierdie aarde wat dan aan Hom onderworpe sal wees. “En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (vers 16).

Honderde jare voor Jesus Christus se menslike geboorte, het God die profeet Jesaja geïnspireer om ’n profesie aan te teken oor wat Sy taak uiteindelik sal wees. “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:5-6).

Let daarop dat Christus die “Vredevors” genoem word. Dit is omdat Hy alleen die mag het om werklik vrede te bring! God sê ook: “... tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde”. Met Christus as Wêreldheerser sal die mensdom herstel van die verskriklike verwoesting wat Sy Wederkoms voorafgegaan het. Die mens sal vermenigvuldig, die aarde vul en die Wette en weë van God se Regering sal regoor die aarde versprei.

Namate die mense geleidelik leer om die Tien Gebooie en al God se Wette te gehoorsaam, sal daar ’n werklike “toename” in vrede op hierdie aarde wees. Vrede, vreugde en geluk sal tussen nasies en individue toeneem wanneer hulle toenemend leer om God se weë en Sy volmaakte Wette te gehoorsaam, wat die enigste weg na vrede is.
 

Die organisasie van God se Koninkryk

Die stelsel en samestelling van God se Regering op hierdie aarde is reeds in u Bybel geprofeteer!

Soos ons in Openbaring 11:15 gesien het, sal Christus Koning wees oor al die nasies van hierdie aarde. Hy sal op ’n werklike troon op die aarde sit wanneer Hy terugkeer. ’n Engel het, voor Christus se geboorte as mens, geprofeteer: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:32-33).

Wie sal onder Christus regeer? Abraham is ongetwyfeld deur God opgelei om ’n baie senior pos met ’n groot verantwoordelikheid in die toekomstige wêreld van môre te beklee. Die Skrif noem Abraham die “erfgenaam van die wêreld” (Romeine 4:13). Ja, God sal Abraham beloon vir sy geloof deur hom aan te stel in ’n posisie van diensbaarheid oor die hele aarde!

In Eségiël 37:15-28 dui God aan dat Hy Israel en Juda sal herenig. Wat hierdie twee nasies aanbetref, sê Hy die volgende: “En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie” (vers 22).

Christus sal veral regstreeks oor die nasies van Israel regeer, want Sy hoofkantoor sal in Jerusalem wees. Let op hoe die Skrif pertinent Sy Regering oor die “huis van Jakob” beskryf. God het daardie huis, wat ook as die huis van Israel bekend staan, geroep om Sy uitverkore volk en ’n lig vir die res van die wêreld te wees. Hulle is nie as gunstelinge gekies nie, maar as ’n volk om ’n taak te verrig – waarin hulle jammerlik misluk het. Gedurende die komende duisendjarige Regering van Christus, sal die huis van Israel met die huis van Juda herenig word en saam sal hulle die leiernasie van die aarde wees om onder Christus die voorbeeld te help stel om sodoende Sy Regering oor die ganse aarde toe te pas   .

Onder Christus as Koning van konings, sal die herrese koning Dawid regstreeks oor die verenigde huis van Israel regeer. “En my kneg Dawid sal koning oor hulle wees, en hulle sal almal een herder hê; en hulle sal in my verordeninge wandel en my insettinge onderhou en daarna handel” (vers 24).

Israel sal onder Christus en Dawid weereens die weg na vrede leer – die Israeliete sal leer om God se verordeninge en insettinge te onderhou en te gehoorsaam!
 

Regeerders onder Dawid

Elke stam van Israel sal onder Dawid sy eie individuele regeerder hê – een van die twaalf Apostels. Jesus self het voor Sy dood hulle benoem vir hierdie amp: “En dit is julle wat altyddeur by My gebly het in my versoekinge. En Ek beskik vir julle ’n koninkryk soos my Vader dit vir My beskik het, sodat julle kan eet en drink aan my tafel in my koninkryk en op trone sit om die twaalf stamme van Israel te oordeel” (Lukas 22:28-30).

Ons kan die aanname maak dat Daniël – die man wat deur koning Nebukadnésar, onder God se leiding, aangewys is om aangestel te word as “heerser oor die hele provinsie Babel” (Daniël 2:48) – ’n posisie van heerskappy oor die heidense nasies in die Millennium gegee sal word. Trouens, hy sal moontlik ’n baie hoë posisie beklee, soortgelyk aan dié van Dawid, aangesien God hom gebruik het om oor die grootste Heidense ryk in die aarde se geskiedenis, “die hoof van goud”, te help regeer (vers 38).

Gedurende die Millennium sal daar aan daardie Christene wat in hierdie lewe in genade en kennis toegeneem het, posisies van leierskap onder Christus gegee word. “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf” (Openbaring 2:26-27). Ons merk ook dat Christus “ons konings en priesters vir onse God gemaak [het], en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

Deur die “gelykenis van die ponde”, wys Jesus vir Christene dat ons in hierdie lewe ons menslike natuur moet oorwin. Ons behoort ons tyd en talente ten goede aan te wend volgens die Wette van God en ons voorberei op ’n posisie van leierskap en verantwoordelikheid in die Regering van God wat Hy binnekort op hierdie aarde sal vestig. Let op die stelling wat Jesus gemaak het aan die man wat die meeste vermag het deur tien ponde wins te toon: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17). Aan die man wat ywerig genoeg was om vyf pond ekstra te maak, sê Jesus: “En jy moet wees oor vyf stede” (vers 19).

Ware Christene word geroep om onder Christus te dien in die heerskappy van hierdie wêreld! Waarom word daardie boodskap nie vandag in alle kerke verkondig nie?
 

Duisendjarige regering

Selfs die welbekende wêreldse geskiedskrywer, Edward Gibbon, erken in hoofstuk 15 van sy bekroonde werk, The Decline and Fall of the Roman Empire, dat die eertydse Christene in God se komende Wêreldregering geglo het: “Die antieke en gewilde leerstelling van die Millennium was besonder nou verbind met die Wederkoms van Christus. Aangesien die skeppingswerk in ses dae voltooi is, is die bestaanstydperk vasgestel as sesduisend jaar in die huidige staat, volgens ’n tradisie wat aan die profeet Elia toegeskryf kan word. Oreenkomstig dieselfde vergelyking kan die gevolgtrekking gemaak word dat hierdie lang tydperk van swoeg en sweet wat nou byna verstreke is, gevolg sou word deur ’n vreugdevolle Sabbat van ’n duisend jaar en dat Christus, saam met ’n triomfantlike groep heiliges en die uitverkorenes wat die dood vrygespring het of wat wonderbaarlik opgewek is, op aarde sal regeer tot en met die tyd wat vasgestel is vir die laaste en algemene opstanding”.

Ja, die eertydse Christene het God se doel asook die rede verstaan waarom Hy sommige mense uit hierdie huidige samelewing na Sy Kerk roep, om voor te berei vir “die Wêreld van Môre!

Ware Christene behoort te leer om God se Wette en weë nou te gehoorsaam en daarvolgens te leef sodat hulle in staat sal wees om ander mense te onderrig en op te lei om die weg van vrede gedurende die eerskomende Millennium uit te leef wanneer die Koninkryk of Regering van God oor hierdie aarde sal heers!

Hier is ’n spesifieke voorbeeld van hoe God se Regering die nasie van Israel tydens die Millennium sal regeer. Onthou dat, soos die meeste van ons lesers weet, wanneer daar in die Bybel verwys word na “Israel” of “Huis van Israel”, dit gewoonlik verwys na die tien stamme van die “Noordelike Koninkryk” of na al twaalf stamme – wat volgens die Skrif die hedendaagse afstammelinge is wat die volke van die Verenigde State, Brittanje en die nasies van Britse afkoms, die volke van noordwes Europa, asook Suid-Afrika, insluit. Hierdie onderskeiding is belangrik vir ’n persoon om die eindtyd profesie te verstaan. U kan uself vergewis van daardie nasionale identiteite indien u ons baie insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, bestel en bestudeer. Op u versoek sal dit absoluut gratis aan u gestuur word. In die Millennium sal God die Vader steeds die algehele Opperheerser en Regeerder van die heelal wees. Onder Hom sal Jesus Christus wees, wat binne enkele jare sal kom om hierdie aarde as Koning van die konings te regeer.

Koning Dawid sal onder die heerskappy van Christus uit die dood opgewek word, onsterflik wees en in beheer geplaas word oor die hele herenigde Huis van Israel. Onder Dawid sal elkeen van Jesus se twaalf Apostels ’n koning wees oor een van die twaalf stamme van Israel.

In elke stam, onder heerskappy van een van die twaalf Apostels, sal sommige van die heiliges wees wat in hierdie huidige tyd oorwin en geleer het om hulleself aan God se wil te onderwerp en Sy Regering uit te oefen. Soos ons sien uit die gelykenis van die talente, sal sommiges regeerders wees oor gebiede wat verskeie stede kan insluit. Ander heiliges mag ’n posisie, soortgelyk aan dié van ’n burgemeester, onder hierdie regeerders beklee.

Ander Geesgebore heiliges sal werk hê om te doen. Ongeag hulle spesifieke posisie, sal hulle gesindheid soos dié van Dawid wees: “Ek wil liewer by die drumpel staan in die huis van my God as om te woon in die tente van goddeloosheid” (Psalm 84:10). Daar sal geen hartseer of berou of jaloesie wees nie. Almal sal na die beste van hulle vermoë dien en volkome vreugde in hulle diensbaarheid ervaar.

Onder die Koninkryk of Regering van God, saamgestel uit Christus en die Geesgebore heiliges, sal menslike leiers wees wat sal help om die fisiese volke van Israel te lei. Die Skrif profeteer op baie plekke dat hierdie volke ’n eindtydse gevangenskap sou deurmaak en dat hulle in die Millennium in hulle antieke tuisland in en om Jerusalem, weer bymekaar sal kom. Daar sal hulle almal volgens God se Wette, die enigste weg na vrede, onderrig word.

“En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:3).

Selfs al sal hulle God se Wette geleer word, sal baie mense eers gedwing moet word om dit te gehoorsaam! “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (vers 4).

Ware Christene behoort te leer hoe om God se Wette en weë nóú reeds te gehoorsaam en daarvolgens te lewe sodat hulle ander mense gedurende die eerskomende Millennium kan leer en touwys maak om die weg van vrede te volg wanneer die Koninkryk of Regering van God sal heers oor die aarde.


Israel was GESEȄND onder God se Regering

God se hantering van antieke Israel illustreer dikwels die patroon van hoe Hy in die toekoms met alle nasies sal handel. Baie profesieë in die Ou Testament betreffende die Millennium verwys spesifiek na Israel. Aangesien God geen aannemer van die persoon is nie (Handelinge 10:34), is hierdie slegs ’n voorbeeld van wat God in beginsel vir alle nasies sal doen, namate hulle Christus sal dien en gehoorsaam.

Waar God verwys na die uiteindelike herversameling van die Verenigde State, Brittanje en die ander hedendaagse afstammelinge van antieke Israel voorspel Hy: “En Ek sal die lot van my volk Israel verander, en hulle sal die verwoeste stede bou en bewoon, ook sal hulle wingerde plant en die wyn daarvan drink, en tuine aanlê en die vrugte daarvan eet. En Ek sal hulle plant in hul land, en hulle sal nie meer uitgeruk word uit hul land wat Ek hulle gegee het nie, sê die Here jou God” (Amos 9:14-15).

Die vervulling van hierdie profesie lê nog in die toekoms, want God sê Israel sal op daardie tydstip “nie meer” uit sy land geruk word nie. Dit beskryf die groot fisiese seëninge wat God op Sy volk Israel sal uitstort – met inbegrip van die Verenigde State, die volke van Britse afkoms en die volke van noordwes Europa – wanneer Hy hulle, na Christus se Wederkoms, sal terugbring van hulle toekomstige geprofeteerde gevangenskap en hulle na die lande van hulle voorouers in die Midde-Ooste sal terugkeer.

Word ’n toekomstige gevangenskap geprofeteer? In ’n skrifgedeelte wat meer as ’n honderd jaar nadat antieke Israel in gevangenskap geneem is geskryf is, profeteer God deur Jeremia dat daar ’n toekomstige gevangenskap van Israel sal wees, maar dat die volke van Israel na hierdie gevangenskap na hulle antieke tuisland in en om Jerusalem, sal terugkeer ná Christus se Wederkoms (Jeremia 30:1-11). Bestudeer hierdie profesie noukeurig! Let op dat dit ’n toekomstige straf en herstel van beide “Israel en Juda” voorspel (vers 4). Dit is ’n tyd van nasionale straf en gevangenskap vir die Verenigde State en die volke van Britse afkoms, kort voor die Wederkoms van Jesus Christus.

“En op dié dag, spreek die Here van die leërskare, sal Ek sy juk [die juk van ons gevangenskap] verbreek van jou nek af en jou stroppe stukkend ruk; en vreemdes sal hom nie meer diensbaar maak nie. Maar hulle sal die Here hulle God dien en hulle koning Dawid wat Ek vir hulle sal verwek” (vers 8-9). Met Christus se koms sal Israel uit gevangenskap gered word. Dawid en al die heiliges sal uit die dood opgewek word om hulle plekke as konings en priesters in God se Regering in te neem om onder Christus op hierdie aarde te regeer.

“Jy dan, wees nie bevrees nie, o my kneg Jakob, spreek die Here; en wees nie verskrik nie, o Israel! Want kyk, Ek verlos jou uit ver plekke en jou nageslag uit die land van hulle gevangenskap; en Jakob sal terugkom en stil en gerus wees sonder dat iemand hom skrikmaak” (vers 10). Uiteindelik sal daar vrede na hierdie oorloggeteisterde wêreld kom – die ganse “Huis van Israel” sal nie meer deur enige nasie bevrees gemaak word nie!

 

VREUGDE onder God se Regering

Waar God na dié profesie in geheel verwys, sê Hy: “... aan die einde van die dae sal julle dit verstaan” (vers 24). Jeremia 31 gaan voort met dieselfde profesie (vers 1) en God vertel van Sy seëninge aan Israel op daardie tydstip: “Ek sal jou weer bou, en jy sal gebou word, o jonkvrou van Israel! Jy sal jou weer versier met jou tamboeryne en uittrek in die koordans van die spelers. Jy sal weer wingerde plant op die berge van Samaría; die planters sal plant en die vrugte geniet” (Jeremia 31:4-5).

Dans, sing, blydskap en vreugde sal oorvloedig wees. Israel sal verheug wees oor God se seëninge wanneer Christus die Israeliete weer sal terugbring na die Heilige Land, waar hulle die “hoof-volk” sal wees en ’n voorbeeld sal stel vir alle nasies van die wêreld onder Sy Regering.

Na hulle nasionale straf en gevangenskap, sal die Israeliete berouvol en boetvaardig terugkeer: “Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei” (vers 9).

Wanneer hulle egter terugkeer, sal God hulle op elke moontlike wyse begin seën – geestelik en fisies. “En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie. Dan sal die jonkvrou haar verheug in die koordans, ja, die jongmanne en die oues tesame; en Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en hulle tot blydskap bring uit hulle kommer” (vers 12-13).

Deur gehoorsaam te wees aan God se weë, sal daar ’n oorvloed van voedselsoorte wees om te eet en te drink – daar sal uiteindelik oorvloedige blydskap in die mense se harte wees!

Alle ernstige Bybelgeleerdes is vertroud met Jesaja 11 as ’n beskrywing van Christus se komende Regering van ’n duisend jaar op aarde. Hier word Christus beskryf as die “tak” of afstammeling van Ísai. Hy sal die volmaakte Wêreldregeerder wees wat God se Gees ten volle gebruik. Die Skrif sê vir ons: “Hy sal nie regspreek na wat sy oë sien nie” (vers 3) – inteendeel, Hy sal in staat wees om die gedagtes en harte van mense oral te kan lees. Hy sal die armes en onderdruktes “in geregtigheid” oordeel en sal die bose met die doodstraf straf, wat vrees sal inboesem in die harte van diegene wat boosheid beplan (vers 4).

Na Christus se terugkeer, sal selfs wilde diere se wrede en kwaai natuur weggeneem word. “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja” (vers 6). Selfs die slange sal mak wees: “... die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk” (vers 8).

Die belangrikste van alles is dat alle mense oral die weë van God uiteindelik sal leer en dit alleen kan vrede bring. “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (vers 9).

Dit is die wonderlike tyd waarvan die geïnspireerde apostel Petrus gepraat het as “die tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21). God het inderdaad hierdie geseënde heerskappy van Jesus Christus op aarde in letterlik talle profesieë regdeur u Bybel beskryf.

Dit was – en is – die boodskap van Jesus Christus! Dit is die enigste ware manier om werklik vrede te vind!

 

Toestande tydens die Millennium

Sommige oorlewendes vanuit die vorige tydperk van die aarde, sal van nasies afkomstig wees wat veroorsaak het dat die nasies van Israel bedorwe geraak het. Om hulle nederigheid te leer en hulle in staat te stel om Sy weë ten volle te leer ken, sal God gebruik maak van sommige van daardie mense om diensknegte van Israel in die Heilige Land tydens die beginjare van die Millenium te wees. “Want die Here sal Hom oor Jakob ontferm, en Hy sal Israel nog verkies en hulle in hul land [Jerusalem en omliggende streke] laat vestig; en die vreemdeling sal hom by hulle voeg, en hulle sal hul aansluit by die huis van Jakob. En die volke sal hulle neem en op hul woonplek bring; en die huis van Israel sal hulle in die land van die Here as besitting verwerwe, as slawe en slavinne; en hulle sal dié gevange hou wat hulle as gevangenes weggevoer het, en oor hulle drywers heers” (Jesaja 14:1-2).

Christus sal tydens Sy heerskappy, as die Here van die here, begin om die hele wêreld tot bekering te bring en te red. Om dit te doen sal dit nodig wees om die mensdom te stroop van die blindheid wat oor die aarde gekom het as gevolg van Satan se misleidings (Openbaring 12:9).

Jesaja skryf: “En Hy sal op hierdie berg vernietig die uitgespreide sluier wat al die volke omsluier, en die omhulsel waarmee al die nasies bedek is. Hy sal die dood vir ewig vernietig …” (Jesaja 25:7-8).

Alle volke sal God dan leer ken. Hulle blindheid en godsdienstige verwarring sal nie meer bestaan nie en almal wat gewillig is, sal uiteindelik bekeer word.

Die herrese heiliges sal God se weg onderrig – God sal die volke seën wanneer hulle gehoorsaam is. “Want ’n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou. Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien; en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (Jesaja 30:19-21).

Dit sal ’n verbasende ervaring vir sommige mense wees om skielik ’n stem agter hulle te hoor praat wat hulle waarsku om nie een van God se Gebooie te oortree nie! Ja, die heiliges van God – wat uit die Gees gebore is en sodoende gees geword het tydens die opstanding – sal in staat wees om te besluit wanneer hulle sigbaar of onsigbaar wil wees.

Daar sal geen “bedrieëry” met betrekking tot God se Wet wees nie!

Binne ’n paar jaar, namate mense oor die hele wêreld in kontak kom met die Almagtige God, sal Hy miljoene mense wat doof, blind of stom is op ’n bonatuurlike wyse genees! “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel; want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis” (Jesaja 35:5-6).

Let daarop dat nie net mense nie, maar ook die grond genees sal word en die aarde sal met God se seën, weereens behoorlike reënval ontvang. “En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water” (vers 7).

Dit sal ook ’n tyd van lofliedere, blydskap en vreugde wees. “... en die losgekooptes van die Here sal teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry, maar kommer en gesug vlug weg” (vers 10).

 

Die WEG na seëninge

Die wêreld kon nou reeds vrede en vreugde ervaar het, maar weier om God se weë te volg. God het die apostel Paulus geïnspireer om die ganse mensdom – Israeliete sowel as Heidene – te beskryf: “Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie” (Romeine 3:16-17).

Die rede waarom die wêreld nie vrede kan hê nie is omdat hulle weier om God se Gebooie as ’n lewenswyse te gehoorsaam! Soos ons gesien het; met Christus se koms om Sy Regering te vestig, sal die “wet” van God uit Sion uitgaan en die “woord van die Here” uit Jerusalem.

Diegene wat hulleself geheel en al onderwerp daaraan om al God se Gebooie nou te gehoorsaam, sal die beste gekwalifiseerd wees om die hoogste posisies in God se Regering te beklee tydens die komende millenniale heerskappy van Christus. Hy sê: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Matthéüs 5:19).

Die rede hiervoor is omdat God vrede in Sy Koninkryk sal vestig – dié wat die Wet oortree, sal uitgesluit word! Ja, ons sal vrede en voorspoed ervaar wanneer almal geleer het om God se Gebooie te gehoorsaam! Dan sal die wêreld met fisiese oorvloed geseën word. Die siekes en kreupeles sal genees word. Die miljoene geestelik verblinde mense sal God werklik leer ken!

Gedurende Christus se millenniale heerskappy, word die mense op aarde uitgebeeld wat onder God se volmaakte Regering leer sing, dans en jubel van vreugde oor die wonderlike lewenswyse wat hulle sal ervaar!

Soos ons gesien het, sal selfs die wilde diere se natuur verander na vreedsaamheid. Die mens sal uiteindelik tot die besef kom dat dit werklik meer geseënd is om te gee as om te ontvang (Handelinge 20:35). Al hulle frustrasies en skuldgevoelens sal uiteindelik verdwyn. Dan sal hulle “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” (Filippense 4:7) ervaar.

Onder God se Regering en Sy volmaakte Wette, sal mense leer dat Jesus ernstig was toe Hy gesê het: “Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Dit is hoe die gelukkige, vreugdevolle Millennium daar sal uitsien!

 

Hoe en waarom hierdie wêreld die spoor byster geraak het!

Kom ons ondersoek nou waarom ons oorloggeteisterde wêreld is soos dit is en waarom en hoe die Millennium soveel beter gaan wees!

Baie min mense begryp volkome dat hierdie beslis nie God se wêreld is nie. Ek het in ’n “hoofstroom”-kerk grootgeword waar ek in die Sondagskool geleer was om te sing, “This is my Father’s world”, vertaal as “Hierdie is my Vader se wêreld”. Indien ons egter sal toelaat dat God se geïnspireerde Woord ons die Waarheid meedeel, sal ons ’n totaal ander verduideliking vind. God het die apostel Johannes geïnspireer om in Openbaring 12:9 te beskryf hoe Satan, die duiwel, op die aarde neergewerp is: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp”.

Glo u persoonlik ook dat die “hele wêreld” mislei is, soos die Bybel dit duidelik en herhaaldelik uiteensit? Dit is noodsaaklik dat u dit aan uself sal bewys deur hierdie onderwerp in God se Woord te bestudeer, want dit word op baie verskillende maniere te kenne gegee. Indien ons die Bybel wil glo, behoort ons te begin besef dat hierdie wêreld inderdaad mislei is deur die regstreekse invloed van Satan die duiwel, want Satan word die “god” van hierdie wêreld genoem.

Let op: “Maar as ons evangelie dan nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korinthiërs 4:3-4). Satan is dus die onsigbare geestelike wese wat in der waarheid in hierdie tydvak die “god” is van die nasies op die aarde – gedurende hierdie spesifieke tydperk van 6,000 jaar wat lei tot Christus se Wederkoms as Koning van die konings. Die grote God, die Skepper, het toegelaat dat dit so moes gebeur om sodoende die mensdom te “toets” en ook om ons te help sodat ons leer, deur middel van menslike lyding, dat die mens se weë nie die gewenste gevolge sal hê nie. Dan, wanneer Christus ingryp, kan die mensdom dit soveel meer waardeer van hoe wonderlik God se weë in vergelyking met dié van ons s’n is!

Gedurende hierdie huidige tydperk is Satan die duiwel egter besig om verkeerde gesindhede te “verkondig” en beïnvloed hy mense om voortdurend verkeerd op te tree. Die apostel Paulus herinner die Christene van Éfese dat hulle “tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efésiërs 2:2). Satan die duiwel is dus besig. Hy is voortdurend “besig” met bedrywighede om die mensdom van God en Sy ware weë weg te lok. Hy is die bron van baie lyding en boosheid wat plaasvind in vandag se wêreld soos die oorloë, verkragtings, martelings en verskeie ander gruwels.

God maak dit duidelik dat Satan in die Millennium verban sal word. God beskryf in die boek Openbaring hoe Hy – na Christus se Wederkoms – ’n groot engel sal stuur om met Satan af te reken: “En ek het ’n engel uit die hemel sien neerdaal, met die sleutel van die afgrond en ’n groot ketting in sy hand. En hy het die draak gegryp – die ou slang wat die duiwel en die Satan is – en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ’n kort tydjie ontbind word” (Openbaring 20:1-3).

Dit is duidelik uit bostaande skrifgedeelte dat Satan die een is wat die “nasies verlei [mislei]” het. Vir die wêreld om ware vrede en vreugde te ervaar, moet hy vir die ganse duisend jaar van Christus se heerskappy oor die aarde “gebind” wees (Openbaring 20:1-3). Daarom sal dit gedoen word!

Dan, ná die Millennium, sal hy vir ’n betreklike kort tydjie losgelaat word (Openbaring 20:7-8). Op daardie stadium sal dit egter verstommend wees om te sien hoe vinnig Satan klaarblyklik in staat sal wees om “die nasies te verlei [mislei] wat in die vier hoeke van die aarde is”! Dit blyk dat die mens baie ontvanklik is om deur Satan en sy demone, die spoor byster te raak en om verkeerd beïnvloed te word deur sy vals leraars. Ten einde ware vrede en vreugde gedurende Christus se heerskappy te herstel, moet Satan en al sy demone uit die weg geruim word!

 

Die WAARHEID moet in ere herstel word

Die apostel Paulus waarsku die Christene van sy tyd: “Want ek weet dit, dat ná my vertrek wrede wolwe onder julle sal inkom en die kudde nie sal spaar nie. Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan. Daarom moet julle waak en onthou dat ek drie jaar lank nag en dag nie opgehou het om elkeen met trane te vermaan nie” (Handelinge 20:29-31).

Om u eie ontwil, dink asseblief daaroor of u waarlik “die hele raad van God” volg waarna Paulus sopas verwys het (vers 27)! Dit is sekerlik so dat die meeste van u ’n deel van die Bybel en ’n deel van Christus se ware leerstellings verstaan – miskien selfs ook ’n bietjie wat betref die profesie en die ontsaglike doel waarvoor God u geskape het. Om Jesus egter net “aan te neem” deur by een of ander kerk om die hoek aan te sluit met die hoop om “na die hemel te gaan” wanneer u te sterwe kom, is nie waaroor ware Christenskap gaan nie! Die meeste mense wat hulleself “Christene” noem is nog nooit geleer wat die werklike doel van die menslike bestaan is nie! Dit is noodsaaklik dat u dit ten volle verstaan en die “hele raad” van die Almagtige God navolg (Job 15:8; Handelinge 20:27).

Ons het sopas Paulus se waarskuwing gelees dat “wrede wolwe” sal kom om baie mense van die Waarheid van God “weg te lok”. Paulus het God se mense ook dringend gewaarsku teen ’n groot “afvalligheid” (2 Thessalonicense 2:1-12). Hy skryf: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is; en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (verse 7-8).

Wat het Paulus met “Wetteloosheid” bedoel? Is dit bloot die oortreding van menslike wette wat hier deur Paulus beskryf word? Nee! Paulus verwys duidelik na iets meer as “verkeerswette” wat oortree word. Paulus beskryf hier ’n godsdiensstelsel – die “verborgenheid van ongeregtigheid” – wat stadig maar seker besig was om die naam van Christenskap oor te neem, wat Christus se leerstellings en praktyke verdraai en mense oortuig om God se groot geestelike Wet te versaak!

Bykans alle gerespekteerde geskiedkundiges weet dat daar ’n drastiese verandering plaasgevind het in die belydende Christelike kerk gedurende die eeu na Christus en die oorspronklike Apostels se dood. ’n Geskiedkundige skryf: “Vir vyftig jaar na St. Paulus se dood hang daar ’n sluier oor die Kerk waardeur ons vergeefs probeer loer; en wanneer dit uiteindelik, rondom 120 n.C. lig met die geskrifte van die vroegste kerkvaders, vind ons ’n kerk wat in talle opsigte baie verskil van die een in die dae van St. Petrus en St. Paulus” (Jesse Lyman Hurlbut, The Story of the Christian Church, bl. 41).

Op wie se gesag het die vroeëre biskoppe hierdie drastiese veranderings aangebring? Het God of Jesus Christus hulle beveel om Sy Kerk te verander sodat dit baie verskil van die oorspronklike Kerk wat Christus en die Apostels geken het?

Hoegenaamd nie!

Selfs na Jesus se dood het Hy sélf vir die Apostels gesê: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld” (Matthéüs 28:19-20).

Op wie se gesag het die sogenaamde “kerkvaders” weggedoen met die leerstellings van Jesus Christus en die oorspronklike Apostels? Hulle het dit feitlik uitgewis vir hulle volgelinge. Die waarheid is dat hulle geen sodanige gesag gehad het nie! Dit is waarom God die apostel Judas geïnspireer het om ware Christene te vermaan: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas vers 3-4).

Judas sê vir ons dat dit letterlik nodig sal wees om te “stry” – om te veg – vir die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is.” Hy waarsku teen sekere mense wat “ingesluip” het om die begrip van genade na “ongebondenheid” te verander – na ’n lisensie vir mense wat mislei is om te dink dat hulle ongehoorsaam kan wees aan God se groot geestelike Wet en steeds op een of ander manier die Koninkryk van God kan binnegaan!

Dit, my vriende, is presies wat die meeste “hoofstroom” Christene vandag glo. Baie kerke praat oor die Tien Gebooie as ’n goeie “algemene riglyn”. Indien u hulle egter in ’n hoek dryf, sal die oorgrote meerderheid hoofstroom predikante egter sê dat ’n Christen nie gebonde is om die Tien Gebooie as ’n lewenswyse te onderhou nie! Dit is een rede waarom God vir Judas geïnspireer het om ons te vermaan om te stry vir die ware geloof wat “eenmaal aan die heiliges oorgelewer is”.

 

HERVESTIG ware Christenskap!

Wat sou dit beteken om die oorspronklike Christenskap van Christus en die Apostels te hervestig? Watter verskille sou ons vind indien die “oorspronklike Christenskap” van die Nuwe Testament waarlik weereens onderrig en beoefen sou word?

Nou toe nou! Hierdie hervestiging sal veel meer behels as wat die meeste van u moontlik besef, want, soos die geskiedkundige Hurlbut erken, vind ons teen 120 n.C. ’n belydende Christelike kerk wat “in talle opsigte baie verskil van die een in die dae van St. Petrus en St. Paulus”.

Die gerespekteerde geskiedkundige, Will Durant skryf: “Christendom het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem. Die Griekse denkwyse, wat besig was om uit te sterf, is oorgedra in die teologie en liturgie van die Kerk; die Griekse taal, wat vir eeue oor filosofie geheers het, het die werktuig van Christelike literatuur en rituele geword; die Griekse geheimenisse is oorgedra na die indrukwekkende misterie van die Mis. Ander heidense kulture het bygedra tot die samesmelting van verskillende godsdienste. Die idees van ’n goddelike drie-eenheid het vanuit Egipte gekom ... asook ’n persoonlike onsterflikheid as beloning en straf; die verering van die Moeder en Kind asook die mistieke teosofie wat Neoplatonisme en Gnostisisme meegebring het en die Christelike geloofsbelydenis verberg het …” (The Story of Civilization, Vol. 5, Durant, bll. 595, 599).

Vir honderde jare gedurende die Middeleeue, was die ware Christenskap van Christus en die Apostels inderdaad “verborge”. Mense het verkeerdelik, in Jesus se naam, ’n totaal ander lewenswyse en benadering tot God onderrig. Vals leraars het die oorspronklike Heilige Dae wat in opdrag van God onderhou moes word en wat deur Christus en die Apostels onderhou is, vervang met heidense dae en   Soos die geskiedkundige Jesse Lyman Hurlbut skryf: “Die gebruike en seremonies van die heidendom het geleidelik in die aanbidding ingesluip. Sommige van die ou heidense feeste het kerkfeeste geword met verandering van naam en aanbidding. Om en by 405 n.C. het beelde van heiliges en martelaars in die kerke begin verskyn, eers as gedenktekens, maar is daarna vereer, verafgod en aanbid” (The Story of the Christian Church, bl. 73).

Teen daardie tyd het vals gelowiges wat hulleself as “Christene” voorgedoen het, geleidelik “heidense feeste” soos Kersfees, Paasfees en die Dag van die Heiliges in die belydende Christelike kerk ingebring. Wat dan van die Almagtige God se vierde gebod? Wat van die weeklikse dag van rus en aanbidding wat beveel is? “Solank die kerk nog hoofsaaklik Joods was, is die Sabbat van die Hebreërs onderhou; maar namate dit toenemend heidens geword het, het die eerste dag geleidelik die plek van die sewende dag ingeneem” (ibid., bl. 45).

Was dit God se idee? Het God Sy goddelike Wet geleidelik verander sodat Sy aanbidders die “dag van die son” – Sondag – kon eer soos die heidene vir eeue reeds gedoen het?

Hoegenaamd nie!

Soos talle gesaghebbendes sal erken, het die vroeë ware Christene – nie-Jode sowel as Jode – almal die sewendedag Sabbat as dag van aanbidding onderhou. Geskiedkundiges is dit eens dat daar met hiérdie gebruik volgehou is vir ten minste ’n geslag of twee na die dood van die twaalf Apostels! God het nie Sy Wet verander nie. Die apostel Paulus het aan Christene dié opdrag gegee: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is” (1 Korinthiërs 11:1). Die apostel Johannes merk op: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het” (1 Johannes 2:6).

Hierdie twee Apostels, soos al die ander, het geweet dat Jesus Christus gekom het om die volmaakte voorbeeld te stel en dat Christene, versterk deur die Heilige Gees, Sy voorbeeld behoort te volg. Hierdie was die algemene beginsel in die apostel Paulus se tyd, namate die Christendom deur die Romeinse Ryk versprei het. Geskiedkundiges erken hierdie feit, soos wat die volgende betekenisvolle aanhaling ons herinner: “Oral, veral in die oostelike dele van die Romeinse Ryk, sou daar Joodse Christene wees wie se uiterlike lewenswyse nie merkbaar van dié van die Jode verskil het nie. Hulle het dit as vanselfsprekend aanvaar dat die Evangelie (die godsdiens van Moses) onafgebroke voortgesit was vir hulle met die Nuwe Verbond, wat Jesus tydens die Laaste Avondmaal met Sy Dissipels, ingestel het ... nie beteken     het dat die verbond wat tussen God en Israel aangegaan is, nie langer van krag was nie. Hulle het steeds die Pasga-, Pinkster- en Huttefeeste onderhou ... die weeklikse Sabbat en die Mosaïese regulasies wat voedsel betref. Volgens sommige geleerdes, moes hulle so oortuig gewees en so sterk gestaan het dat hulle die oorheersende element in die Christelike beweging was tot en met die val van Jerusalem in 70 n.C.” (Judeo-christianisme, “Paul and Jewish Christianity”, Davies, 1972, bl. 72, aangehaal uit Bacchiocchi, From Sabbath to Sunday, bl. 151).

Die ware Kerk van God wat Sy weeklikse en jaarlikse Sabbatte onderhou het, was dus vir ongeveer die eerste 40 jaar na Christus se opstanding die “oorheersende element” onder diegene wat hulleself “Christene” genoem het. Ware Christene het steeds die voorbeeld gevolg wat deur die Jerusalem Kerk van God gestel is!

Wie het gewaag om alles te verander?

Op wie se gesag het die sogenaamde “kerkvaders” weggedoen – feitlik vernietig vir hulle volgelinge – met die leerstellings van Jesus Christus en die oorspronklike Apostels? Die waarheid is dat hulle géén sodanige gesag gehad het nie!

 

Hoe het die oorspronklike Christenskap daar uitgesien?

Die geïnspireerde apostel Paulus het vir die ouderlinge in Éfese gesê: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie. Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het” (Handelinge 20:27-28).

Watter soort lewenswyse sou ’n mens kon waarneem onder die nie-Joodse Christene indien ’n mens insae sou kon hê in die “Kerk van God in Korinthe”, soos Paulus die Christene hier aangespreek het. Watter Wette van God en Bybelse leerstellings sou uitstaan as anders as die van hoofstroom “Christelikheid” soos dit vandag beoefen word?

Eerstens, selfs om teenwoordig te wees wanneer die vroeë Christene bymekaargekom het, sou mens die lewensbelangrikheid daarvan moes begryp om gehoorsaam te wees aan elkeen van die Tien Gebooie – met inbegrip van die vierde Gebod. Die vierde Gebod lui: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die Here jou God; dan mag jy géén werk doen nie – jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie” (Exodus 20:8-10).

Hierdie gebod, meer as al die ander, herinner die gelowige daaraan dat die ware God die Skepper is. God het die sewende dag “heilige tyd” gemaak – nie Sondag, wat die eerste dag van die week is nie. Hy het dit reg aan die begin tydens die Skeppingstyd gedoen – lank voor daar enige Jode was. Die Sabbat was nie vir die Jode ingestel nie! Jesus Christus self sê: “Die sabbat is gemaak vir die mens” (Markus 2:27). Die Sabbat is ingestel toe die mens geskape is en het later deel gevorm van die gekodifiseerde geestelike Wet – die Tien Gebooie – wat God Self op twee kliptafels geskryf het (Exodus 34:28).

Deur gereeld op die sewende dag – die dag wat begin met sononder op Vrydag en eindig met sononder op Saterdag – te aanbid, was die vroeëre Christene deurgaans bewus van die feit dat die ware God wie die Tien Gebooie aan hulle gegee het, om die grondslag van die regte lewenswyse te openbaar, die Skepper van die hemel en aarde was! Die vroeë Christene het ook die jaarlikse Heilige Dae onderhou – sewe jaarlikse feeste wat uitdruklik in die Bybel beveel word. Christus en die Apostels het Christene geleer om te leef volgens “elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Matthéüs 4:4; Lukas 4:4). Die enigste geskrewe Woord van God wat daardie tyd beskikbaar was, was wat ons nou die Ou Testament noem.

Uit die Ou Testamentiese boek van Sagaria, sou eertydse Christene lees en verstaan dat wanneer die Messias terugkeer na die aarde as die Koning van die konings, Hy alle nasies – Jode sowel as nie-Jode – sou lei om die Huttefees te onderhou – een van die sewe jaarlikse feeste wat God Sy mense beveel om te onderhou.

Soos Sagaria skryf: “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16). Dan gaan die profeet voort deur ons in te lig dat God sal verhoed dat dit reën in die land van enige nasie wat weier om die Huttefees te “onderhou” (vers 17)! Dit, my vriende, sal plaasvind gedurende die eerskomende heerskappy van Jesus Christus!

 

Christus is ernstig!

Klink dit asof die ware Christus van u Bybel ernstig is wanneer Hy gehoorsaamheid aan God se Wette beveel? Ja, inderdaad! Let op: “Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Is u vertroud met daardie aspek van die Bybelse Jesus Christus?

Indien ’n persoon saam met die oorspronklike Christene by Korinthe sou vergader, sou daar opgemerk kon word dat hulle nie die Paasfees onderhou het nie. Inteendeel, hulle het die Pasga en die Dae van Ongesuurde Brode onderhou – twee van die jaarlikse feeste wat God beveel het onderhou moet word (1 Korinthiërs 5:6-8). Nadat Paulus hulle herinner het dat Jesus Christus as ons Paaslam geoffer is, gee hy opdrag aan die Christene in Korinthe: “Laat ons dan feesvier” (vers 8). Die konteks waarin Paulus skryf hou verband met die Pasga en Ongesuurde Brode en dit is duidelik dat hy hierdie Nie-Joodse Christene vermaan het om die Fees van Ongesuurde Brode te onderhou – die Fees wat verband hou met Pasga en plaasvind net daarna!

Verder, indien ons gereeld saam met die eertydse Kerk van God in Korinthe sou vergader, sou ons hoor hoedat een van die ouderlinge Paulus se eerste brief aan hulle voorlees waarin hy geskryf het: “Maar ek sal in Éfese bly tot Pinkster toe” (1 Korinthiërs 16:8). Pinkster? U was moontlik onder die indruk dat Pinkster ’n eenmalige gebeurtenis was toe die Kerk ontstaan het en Petrus vir ’n reuse skare gepreek het en 3,000 mense tot bekering gekom het (Handelinge 2).

Nee. Pinkster was ook een van die sewe jaarlikse feeste wat in Levítikus 23 beveel word wat deur die eertydse Christene onderhou is. Hierdie feeste wys na en help ons ook om die Meesterplan, wat God hier op aarde uitwerk, te herdenk. Sonder die onderhouding van hierdie ware Bybelse Heilige Dae – wat Christus en die vroeë Kerk onderhou het – is die meeste van vandag se kerkgangers heeltemal onkundig aangaande die Plan waarmee God nou, gedurende hierdie tydperk, besig is met die mensdom! Ons het ’n goed gedokumenteerde boekie saamgestel wat hierdie Godgegewe feeste en hulle betekenis ten volle verduidelik, met die titel Die Heilige Dae – God se meesterplan. Bestel gerus u gratis eksemplaar.

Met bogenoemde inligting in gedagte, behoort dit duidelik te wees dat hierdie wêreld heeltemal deur Satan die duiwel, in die war gebring is! Hierdie kragtige geestelike wese – die huidige “god” van hierdie wêreld – het die meeste belydende predikante, onderwysers en opvoedkundiges, asook die oorgrote meerderheid mense op hierdie aarde vandag mislei! God se Woord maak dit baie duidelik!

Daarom kan ons baie beter verstaan hoe en waarom hierdie wêreld die spoor op so baie maniere byster geraak het. Die godsdiensstelsel – met inbegrip van talle vals oortuigings en idees aangaande God en Sy algehele Plan van redding – sy onderwysstelsel, sy politieke stelsel en die ganse struktuur van hierdie wêreld, is verdorwe deur die geslepe konkelary van Satan die duiwel. Die Bybel noem hierdie hedendaagse “stelsel” van die wêreld, “Babilon”. Dit is waarom God Sy ware heiliges beveel: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). Ons moet dit dus doen en besef dat daar ’n dringende behoefte is vir die “tye van die wederoprigting van alle dinge, waarvan God van ouds af gespreek het deur die mond van al sy heilige profete” (Handelinge 3:21).

 

ONDERRIG in die Wêreld van Môre

Aangesien Satan die duiwel die mens heeltemal verwar het in sy soeke na godsdiens, behoort dit nie as ’n verrassing te kom dat hy die mens ook in sy soeke na opvoeding verwar en mislei het nie. Jesus Christus sê: “Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi. So sal julle hulle dan aan hul vrugte ken” (Matthéüs 7:19-20).

Die “vrugte” – die gevolge – van die hedendaagse onderwys is maar al te duidelik vir enigiemand wat dit wil raaksien. Die meeste geskiedkundiges besef deeglik dat Duitsland voor die Tweede Wêreldoorlog die “mees geleerde” nasie ter wêreld was. In verhouding het Duitsland meer mans en vroue met gevorderde akademiese en professionele grade gehad as enige ander nasie op aarde! Dit was egter die verkeerde tipe onderrig wat miljoene van hierdie “geleerde” mense voorberei het om vir Adolf Hitler se leuens te val en die gevolg was dat hierdie “geleerde” nasie deel gehad het aan die marteling en uitdelging van miljoene Jode en ander mense!

Hierdie opleiding – wat so dikwels selfs tot ’n mate in ons hedendaagse samelewing gevind word – bestaan hoofsaaklik uit die bestudering van materiële dinge. Die geestelike lewensaspekte word bykans totaal en al verontagsaam. Karakterontwikkeling – die onderrig van die regte waardes en om respek vir diegene in gesagsposisies te toon, word feitlik heeltemal afgeskeep, so ook die werklike doel vir die mens se lewe. Die rede hiervoor is dat die “vername opvoedkundiges” in ons skole en instellings van hoër onderrig self nie eens weet wat hierdie waardes of doelstellings is nie! Hoe kan daar dan enigsins van hulle verwag word om hierdie soort kennis en begrip aan ander mense oor te dra?

Daarom gaan die “vrugte” van hoër onderwys in vandag se samelewing al te dikwels gepaard met hoër selfmoordsyfers, gebroke gesinne, die ontwikkeling van ’n siniese en agnostiese beskouing van God en die Bybel asook die ineenstorting van respek vir ouers, leiers en vir mense oor die algemeen. ’n Redelike mate van tegniese en materialistiese inligting mag oorgedra word, maar daardie kennis en waardes wat die lewe die moeite werd maak, word feitlik heeltemal afgeskeep!

 

’n Nuwe ONDERWYSSTELSEL

Wanneer u die talle skrifgedeeltes oor Christus se komende Regering lees, is dit duidelik dat ’n totaal ander onderwysstelsel binnekort oor hierdie ganse wêreld ingestel gaan word! Die grondslag van hierdie onderwysstelsel sal die ware kennis van God en Sy lewenswyse wees! Die hedendaagse “intelligente leiers” van hierdie wêreld mag hulle neuse hiervoor optrek, maar gedurende die Millennium sal leerkragte ware kennis onderrig wat vrede en vreugde tot stand sal bring. Studente sal natuurlik geleer word om te lees, te skryf en om wiskunde te doen. Hulle sal ook suiwer wetenskap geleer word en ons behoort daarop te let dat baie van die “hedendaagse wetenskap” tog korrek en besonder nuttig is. Hulle sal egter ook tot die besef kom dat daar agter hierdie wonderlike en ingewikkelde skepping die “Opperwese” is, die God wat die Skepper van hemel en aarde is, wat ons met ’n doel geskape het. Leerders sal nie net van die fisiese wette wat orde skep in ons wêreld leer nie, maar ook van die geestelike wette wat menslike geluk en welstand reguleer.

Dit is dikwels moeiliker om onwaarhede en verkeerde begrippe af te leer as wat dit is om die suiwer waarheid in die eerste plek aan te leer. Daarom mag dit ’n geslag of twee neem om mense te help om waarlik die ontsagwekkende en wonderlike weë van God, wat elke fase en faset van die lewe raak, te verstaan. As deel van hierdie lewenswyse sal mense die regte soort musiek, kuns en literatuur geniet. Daar sal geen afskuwelike en pornografiese tonele meer wees in enige vorm van vermaak wat beskikbaar mag wees nie.

God het ons manlik en vroulik geskape. Let op Sy eerste opdrag aan Adam en Eva: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en ...” (Génesis 1:28). God is dus nie teen seks nie! Hy het dit trouens geskep as ’n wonderlike en pragtige daad waardeur ’n jong man en vrou saamgesnoer word en om hulle verhouding in die huwelik te versterk – natuurlik ook om kinders te verwek. God is ’n Gesin en Hy wil graag hê dat die menslike gesin die lesse van vrygewigheid en mededeelsaamheid leer asook om te dien sodat ons later in Sy Gesin kan dien tot in alle ewigheid. Gedurende die Millennium sal daar dus nie langer enige afstootlike klem gelê word op seks as bloot iets meganies wat sonder ware liefde en intense sorgsaamheid in die huwelik plaasvind nie. Daar sal eerder volledige kursusse aangebied word oor “Hoe om ’n gelukkige huwelik te hê”, “Hoe om kinders op te voed”, “Hoe om ’n gesinsbegroting op te stel” en soortgelyke onderwerpe wat praktiese voordele sal inhou.

U mag dalk dink dat dit baie outyds klink. In ons huidige omstandighede mag dit so wees, maar die gevolg van hierdie suiwer onderrig, vermaak en ’n lewenswyse wat ons hele beskawing sal deursyfer, sal gelukkige gesinne, gelukkige kinders en ’n verdieping van geluk en vrede, sowel as finansiële voorspoed tot gevolg hê – baie meer as wat die mensdom al ooit tevore ondervind het.

Regdeur ons huidige samelewing, in Amerika en elders, sien ons gedurig die swak gedrag van oneerlike politici, sakemanne en ander leiers. In die Millennium sal daar egter geen skandale soos ’n “WorldCom-skandaal” of ’n “Enron-skandaal” wees nie. Mense sal nie langer deur korrupte regerings- of sakeleiers of deur ons nuttelose en korrupte onderwysstelsel uitgebuit word nie. Soos ons reeds gesien het, sal Christus eerder ’n Koninkryk daarstel waar regverdige besluite geneem sal word tot voordeel van die sagmoediges van die aarde!

Rasseverhoudings sal ook by hierdie nuwe onderrig ingesluit word. God het per slot van sake aan Sy mense opdrag gegee om regverdig en billik te wees teenoor die “vreemdeling” in antieke Israel – hoeveel te meer nie onder die Nuwe Verbond nie! God sê vir Sy mense in Israel: “En as ’n vreemdeling by jou in julle land vertoef, mag julle hom nie verdruk nie. Die vreemdeling wat by julle vertoef, moet vir julle wees soos ’n kind van die land wat onder julle is. En jy moet hom liefhê soos jouself, want julle was vreemdelinge in Egipteland. Ek is die Here julle God. Julle mag geen onreg doen in die gereg, in lengtemaat, gewig of inhoudsmaat nie” (Levítikus 19:33-35). Rasse en etniese “minderhede” sal nie langer onder Christus se komende Regering onderdruk word deur die meerderheid, in enige deel van die wêreld nie!

 

Ware opvoeding begin tuis

Bykans alle gesaghebbendes erken dat opvoeding per slot van rekening in die huis behoort te begin. Gans te min ouers besef egter vandag wat hierdie verantwoordelikheid behels of bestee tyd daaraan om dit te verwesenlik. Die God van die Bybel het aan Sy mense in antieke Israel opdrag gegee: “En hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees; en jy moet dit jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan. Ook moet jy dit as ’n teken bind op jou hand, en dit moet as ’n voorhoofsband tussen jou oë wees” (Deuteronómium 6:6-8).

Die God wat lewe en asem aan ons gee, verwag dus van ouers om hulle kinders van babatyd af die regte lewenswyse te leer. Dié lewenswyse is gebaseer op liefde en eer vir hulle Skepper. Dit is ook gegrond op liefde en eer vir hulle ouers – wat die vyfde van die Tien Gebooie is. Dit is gebaseer daarop om aan mense te leer hoe om elke mens wat na die beeld van God geskape is, behoorlik te respekteer. Trouens, die hele panorama van “verordeninge” wat in die Ou Testament gegee is, het betrekking op regverdigheid, billikheid, goedhartigheid en spontane besorgdheid teenoor mense. Dit word gans te min in vandag se wêreld besef.

Een van die grootste struikelblokke wat ouers daarvan weerhou om hulle kinders in die huis te onderrig, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog begin. Vir die eerste keer het miljoene vroue begin om buitenshuis te werk – in geheel gesien, het baie nooit ten volle na die huis teruggekeer nie! Die moderne moeder is dus dikwels te besig en uitgeput om ontelbare ure met haar jong seuns en dogters deur te bring om sodoende vir hulle die regte lewenswyse, basiese kennis van hoe om behoorlik te praat, rekenkunde te doen en algemene praktiese waardes te leer. Die geld wat hierdie jong werkende moeders verdien, word dikwels verslind deur ekstra belasting, ekstra uitgawes vir klere, reisgeld, kinderversorging en ander behoeftes wat gepaard gaan met die feit dat sy werk. Baie min of niks word dus uiteindelik by die “addisionele” geld gevoeg wat vir die gesin beskikbaar behoort te wees. Indien daar enigiets “ekstra” is, word dit dikwels gespandeer op ’n tweede televisiestel, ’n tweede motor en ander dinge wat op die ou einde geen bydra lewer tot die voordeel van die gesin of samelewing nie. Om die waarheid te sê, die tyd en moeite wat opgeoffer word ten opsigte van die geweldige voordeel wat dit inhou om voltyds ’n moeder te wees, kan nie vergelyk word nie.

Vroue sal gedurende die Millennium waarlik “bevry” wees om meer tyd tuis by hulle eie kinders deur te bring. Soos in die verlede en selfs in baie hedendaagse kulture, sal gesinne effens groter wees – gevolglik sal kinders meer gebalanseerd wees omdat hulle meer tyd met broers en susters onder die regstreekse leiding van ouers deurbring. Daar sal meer “groentetuine” wees waarin gesinne saam werk om groente en vrugte te verbou. Meer diere soos koeie, bokke en perde sal waarskynlik aangekoop word, sodat kinders meer bewus kan wees van waar melk regtig vandaan kom! Dit mag dalk vreemd klink vir sommige van die ouer garde, maar miljoene jongmense vind dit vandag moeilik om te besef dat die melk wat hulle drink, nie van ’n fabriek afkomstig is nie, maar uitgemelk word uit die uier van ’n koei! Ek het persoonlik ervaar hoe jonger mense letterlik verbyster is wanneer hulle besef waar melk regtig vandaan kom!

Al die bogenoemde feite sal kinders help om te verstaan dat hulle kos en klere afkomstig is van die aarde en dat die Skepper wat die weer beheer, per slot van rekening betrokke is in alles wat ons eet, aantrek en gebruik.

Om van die natuur geïsoleer te wees – van die praktiese lewenswyse soos hierbo aangedui – het die gevolg dat miljoene onvergenoegde jongmense vir wie die lewe goedkoop geraak het, dink dat onderwysers en ouers daar is om geminag te word en wat geen begrip het van die feit dat God die Skepper is van alles wat bestaan nie. Daarom voel hierdie jongmense na ’n tyd totaal “leeg” en dit is ’n feit, soos vantevore aangedui, dat die hoogste selfmoordsyfers voorkom onder die jongmense wat die hoogste geleerdheid het in vandag se samelewing!

Ondanks die sarkasme en sinisisme wat deur hedendaagse “opvoeders” uitgespreek word betreffende onderrig van die regte lewenswyse wat hierbo genoem is, spreek die “vrugte” van hedendaagse opvoeding vanself.

 

RESPEK vir onderwysers

Teen die agtergrond van vreedsame, plattelandse gemeenskappe tydens die Millennium, sal daar onderwysers van hoogstaande gehalte wees. Hierdie onderwysers sal deeglike vergoeding ontvang en hoogs gerespekteerd wees en sal geheel en al verskil van die hedendaagse verdorwe samelewing waar onderwysers dikwels byna in armoede leef en ontelbare struikelblokke in die gesig staar in ’n poging om hulle werk te doen. Dít terwyl mense wat nie eers hulle skoolloopbaan voltooi het nie, miljoene verdien deur gillend en skreeuend ’n tipe “musiek” te produseer of op ’n sportveld rond te spring of mekaar selfs letterlik disnis te slaan. In die toekomstige wêreld, sal die mensdom se waardes geheel en al verander. Mense sal iets produseer wat die moeite werd sal wees, hulle sal ook behoorlik daarvoor vergoed word!

Leerkragte in opvoedkundige instansies sal onder Christus se komende Regering van uitstaande karakter wees. Die Bybel openbaar hierdie benadering herhaaldelik. Onderwysers sal voorbeelde stel wat studente sal waardeer en wil navolg. In die wêreld wat voorlê sal onderwysers nie net knap wees nie; hulle sal ook spontane besorgheid betoon teenoor hulle studente. Hulle sal opregte belangstelling in hulle studente se lewens toon en sal in elke opsig behulpsaam wees op elke moontlike manier en hulle lewenservarings met studente deel.

Hulle sal nogtans nie net “maatskaplike werkers” of “baba-oppassers” wees soos vandag so algemeen die geval is nie. In die toekomstige wêreld sal onderwysers ’n veeleisende leerplan en hoë akademiese standaarde daarstel in ’n poging om vir studente ’n opregte gevoel van bevrediging te gee wat voortspruit uit suksesvolle arbeid. Aangesien die kennis wat hulle oordra prakties van aard sal wees en deur hoogsgerespekteerde individue onderrig sal word, sal studente leer om uitdagings te waardeer namate hulle in ware kennis en begrip toeneem.

Skole en kolleges sal nie meer “akademiese fabrieke” wees wat duisende jongmense oplewer met net bloot tegniese kennis nie. Dit sal eerder gemeenskapsgebaseerde opvoedkundige instellings wees wat tot stand gebring is met die oog daarop om voort te bou op die basiese opvoeding wat reeds tuis aangebied word, met betrekking tot die regte lewensbeginsels, praktiese kennis en tegniese inligting met inbegrip van hoe om hierdie kennis toe te pas om werklik die welstand van die hele wêreld te bevorder.

Tydens die Millennium sal leerkragte weet dat hulle studente, met slegs die enkele uitsondering, tuis goed opgevoed is deur albei ouers. Daarom sal onderwysers vol vertroue die rol speel ter aanvulling van wat reeds deur ouers gedoen is. Daar sal goeie kommunikasie en samewerking tussen ouers en onderwysers en tussen onderwysers en studente wees. Skole en gesinne sal mekaar onderling ondersteun om wel-opgevoede en bekwame individue te ontwikkel. Dit sal moontlik gemaak word deurdat hulle in ’n samelewing sal leef wat gebaseer is op die Skepper se beginsels wat intense vrede, voorspoed en produktiwiteit tot gevolg sal hê en wat enigiets wat die mens tevore geken het, sal oortref.

 

Landbou en gesondheid

Gedurende die Millennium sal die algehele benadering tot landbou en gesondheid grootliks verskil van die klem wat vandag sigbaar is in baie “mega-boere” en landbou-besighede. Vandag kraai wins koning, ten koste van voedselgehalte en gesondheid. In die wêreld wat voorlê, met die lewende Jesus Christus regstreeks in beheer, sal boere egter beskik oor dit wat die Bybel die “vrees van God” noem, om hulle te lei. Hulle sal bereid, selfs ywerig wees, om hulle medemense werklik te dien in die wyse waarop hulle landbouprodukte produseer en versprei.

Dit sal selfs die wyse beïnvloed waarop hulle na hulle grond omsien. In ons moderne tyd, het meganisasie die mensdom se vermoë uitgebrei om die aarde te gebruik en te misbruik. Omvangryke woestyngebiede is in produktiewe landbougrond omskep. Weens die misbruik van ons grond, is daar uitgestrekte gedeeltes van die aarde wat weer na woestyngebied terugkeer. Dit sal bydrae tot die komende hongersnood wat deur Jesus Christus geprofeteer is (Matthéüs 24:7).

Onder Christus se heerskappy, sal boere egter met groot sorg gebruik maak van natuurlike bemesting en omgewingsvriendelike tegnieke om te verseker dat die grond nie uitgeput raak van die voedingstowwe wat die natuur voorsien onder optimale omstandigdhede nie.

Deesdae is die vleis wat ons eet dikwels ’n “chemiese mengsel” van hormone en chemikalieë wat deur wetenskaplikes saamgestel is om die groei van diere te versnel en boerderywinste sodoende te verhoog. Wanneer ons egter chemikalieë aan ons lewende-hawe gee, is die uiteinde dat ons hierdie middels self inkry. Vir meer as 20 jaar, vanaf die 1950’s tot die 1970’s, het baie Amerikaanse boere ’n chemiese middel wat stilbestrol genoem word in hulle beesvoer gemeng om die groei van hulle diere te versnel. Hierdie chemiese middel wat in sommige lande aan swanger vroue gegee is vir die voorkoming van miskrame, is uit die mark onttrek nadat dit gekoppel is aan ’n verhoging in risiko van kanker, maar nie voordat dit reeds miljoene mense in gevaar gestel het nie.

Nog ’n ongesonde neiging onder winsbehepte boere is dat dooie diere aan lewende-hawe gevoer word. Hierdie praktyk veroorsaak die gevaarlike verspreiding van siektes onder troppe vee. Een van die siektes wat by beeste voorkom, bovien spongiform ensefalopatie, kan oorgedra word na mense as die breinvernietigende Creutzfeldt-Jacob siekte (ook bekend as “malkoeisiekte”) wanneer ’n persoon die vleis van ’n aangetaste bees sou eet.

Waarom sulke praktyke?

Soos in die geval van so baie ander aspekte in die hedendaagse samelewing, is gierigheid die motief. Ons sakemanne – dikwels ook die owerhede wat veronderstel is om hulle behoorlik leiding te gee – is veel meer geïnteresseerd daarin om meer geld te maak of om “omkoopgeld” te ontvang, in plaas daarvan om te verseker dat die gesondheid van hulle medemens ten alle koste beskerm word!

Ons sien deesdae hoe groot stukke grond in Amerika opsygesit word vir die verbouing van mielies aangesien sommige boere oortuig is daarvan dat hulle meer geld kan maak deur dit te verkoop vir die vervaardiging van etanol. Dit veroorsaak dat koringoeste verklein. Die gevolg is dat die koste van ’n maatemmer koring die hoogte ingeskiet het en die wêreld se voorraad koring om brood en ander produkte te lewer, op die laagste vlak ooit is. Nogtans duur bevolkingsontploffings voort in baie gebiede waar toenemende miljoene mense oorleef op ’n hongersnood dieet!

 

VREUGDEVOLLE onderrig!

Ter ondersteuning van alles wat in hierdie boekie beskryf word, is die geïnspireerde besef dat die Gesin van God die uiteindelike opvoeders in die Millenium sal wees. Daardie familie sal nie slegs uit God en Jesus Christus bestaan nie, maar sal ook God se Geesgebore seuns en dogters insluit wat nou reeds opgelei word as “leermeesters” vir die Millenium. Die Bybel maak dit duidelik dat priesters in antieke Israel die primêre leermeesters – buite huisverband – in daardie samelewing was. U Bybel openbaar ook duidelik dat ware Christene van vandag geroep word om “priesters” of leermeesters in die Millennium te wees. Die geïnspireerde lied van die heiliges help ons om ons uiteindelike doelwit te verstaan: “Toe sing hulle ’n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:9-10). Ons sien dus dat die ware heiliges van God nie net die “konings” gaan wees wat Christus, as Koning van die konings, gaan bystaan nie (Openbaring 19:16), maar ook leermeesters sal wees!

Ons sal Christus bystaan deur Hom te help om die hele wêreld se regering-, onderwys-, reg-, maatskaplike en godsdiensstelsels te herorganiseer! Dit sal ’n ontsaglike geleentheid en uitdaging wees! Met die Wederkoms van Christus sal letterlik miljoene mense van regoor die aarde uit alle vorms van slawerny en onderwerping kom. Wat vir Israel voorspel word, is net ’n “toonbeeld” van wat in daardie tyd met elkeen sal gebeur. God se Woord sê: “Hulle sal kom met geween, en met smekinge sal Ek hulle lei; Ek sal hulle bring by waterstrome, op ’n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie; want Ek is vir Israel ’n Vader, en Efraim is my eersgeborene … En hulle sal kom en op die hoogte van Sion jubel en toestroom na die seëninge van die Here, na die koring en die mos en die olie en na die jong skape en beeste; en hulle siel sal wees soos ’n welbesproeide tuin, en hulle sal verder nie meer kwyn nie” (Jeremia 31:9, 12). God se Woord sê: “So sê die Here: Bedwing jou stem van geween en jou oë van trane; want daar is loon vir jou arbeid, spreek die Here; en hulle sal uit die land van die vyand terugkom. Ja, daar is verwagting vir jou nakomelinge, spreek die Here; en die kinders sal terugkom na hulle grondgebied” (vers 16-17).

Nog later in hierdie hoofstuk openbaar God die grondslag vir die volkome lewenswyse en die vreugde wat op daardie tydstip na die wêreld sal kom: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die Here. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die Here: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die Here; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die Here; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie” (Jeremia 31:31-34).

Die Tien Gebooie – die ontsagwekkende geestelike Wet wat God aan Abraham en sy dienaars gegee het (Génesis 26:5) lank voordat dit vir Israel gekodeer is – openbaar ’n lewenswyse wat die ganse mensdom in staat sal stel om te leer hoe om ons Skepper lief te hê en Hom te dien en Sy goddelike seën te ontvang, asook hoe om ons medemense waarlik lief te hê. Die gevolg is om sodoende ’n ongekende mate van vrede en vreugde te smaak.

In die Nuwe Testament openbaar God deur die apostel Johannes: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6). Die “oorwinnaars” – die ware heiliges van God – word geroep om “priesters” van God en van Christus te wees en sal Christus uit die aard van die saak bystaan om die regte lewenswyse aan die ganse wêreld bekend te stel.

Wat ’n wonderlike toekoms!

Elke mens op aarde kan uitsien na ’n tyd wanneer diegene wat nog leef regstreeks deur die Geesgebore seuns en dogters van God onderrig sal word op ’n wyse wat totaal en al gebaseer is op liefde en spontane besorgdheid. Vir baie mense is dit moeilik om God se Woord waarlik te glo. Vir diegene van ons wat dit egter kan doen, sê God: “En ons het die liefde wat God tot ons het, leer ken en geglo. God is liefde; en hy wat in die liefde bly, bly in God, en God in hom” (1 Johannes 4:16).

Wanneer mense letterlik deur liefde omring word – wanneer hulle gedurig beskerm, gelei en aangemoedig word deur diegene wat algehele spontane besorgdheid vir hulle het, sal die vlak van geluk en “die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan” ’n werklikheid wees. Dit is die soort wêreld wat God besig is om voor te berei! Dit is die soort heerskappy wat die lewende God wil hê dat ons sal aanleer, ter voorbereiding om Jesus Christus by te staan om Sy Millenniale Regering tot stand te bring.

In die boek Hebreërs, dui God aan dat die mens vir ’n wyle “weinig minder as die engele gemaak” (Hebreërs 2:6-7) is. Dan gaan die skrywer voort: “Alle dinge het U onder sy [die mense] voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (vers 8). Dit is duidelik dat die einddoel van God is dat die mens uiteindelik ten volle kinders van God sal wees – met algehele mag oor die heelal onder God en Christus.

In Sy laaste volledige gebed, versoek Jesus die Vader: “Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo – dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is” (Johannes 17:20-22).

Indien u hierdie verse deeglik in hulle konteks lees, is dit duidelik dat Christus se doel was dat Sy getroue heiliges “een” sal word met die Vader, net soos Hy en die Vader een is. Die waaragtige toekoms vir diegene wat hulleself en hulle lewens waarlik aan God oorgee, is om die algehele mag en heerlikheid van die Godgesin met die Vader en Christus tot in alle ewigheid te deel! Saam sal die ware heiliges Christus bystaan om te regeer, te onderrig – in genesing en bemoediging – so ook om die seuns en dogters van die mense regoor hierdie aarde te seën.

Indien ons “dit maak”, sal ons in staat wees om op ’n gereëlde basis saam te werk, nie net met Christus en die Vader nie, maar ook met die belangrike “helde” van die Bybel – Abraham, Isak, Jakob, Josef, Moses, Elía, Elísa, Dawid, Petrus en Paulus, Sara en Rut, asook talle ander. As geestelike wesens in die werklike “Gesin van God” – wat uit Sy Gees saamgestel is – sal ons in staat wees om te dien, te skep, te beplan en suksesvol te wees saam met hierdie wonderlike persoonlikhede waarvan ons vir so baie jare in God se Woord gelees het!

God se Woord sê tog vir ons dat ons nie bloot in ’n fisiese verhouding met God getree het soos by die berg Sinai nie, maar soos God dit stel: “... julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem en tienduisende engele, by die feestelike vergadering en die gemeente van eersgeborenes wat in die hemele opgeskrywe is, en by God, die Regter van almal, en by die geeste van die volmaakte regverdiges” (Hebreërs 12:22-23).

Gedurende daardie glorieryke toekoms, wat binnekort met Christus se Wederkoms gevestig gaan word, sal ons in staat wees om geestelike samesyn te geniet met die grootste leiers van die Bybel en baie ander sulke getroue dienaars – die geeste van regverdiges wat volmaak gemaak is vir nou en vir ewig!

In daardie geseënde rol sal ons ook die wonderlike geleentheid hê om die opregte liefde, wysheid en spontane besorgdheid van God met daardie mense wat sal voortleef regdeur die Millennium te deel. Mag God dit vir u toekoms beskik! Mag God almal van ons help om Sy werklik ontsagwekkende doel vir ons lewens te begryp! Mag God ook elkeen van ons help om ons uiterste bes te doen om gereed te maak vir ’n plek van liefde en diens in die werklike Wêreld van Môre!


 

Die Lewende Kerk van God bied ’n verskeidenheid van gratis literatuur aan met inbegrip van ’n Bybelstudiekursus, boekies en die Wêreld van Môre-tydskrif. 

Die volgende boekies is geskryf met die doel om u te help om God se doel met die wêreld en u lewe in die besonder beter te verstaan.

Om u gratis literatuur aan te vra, verwys asseblief na die vorige bladsy vir die adres in Suid-Afrika, of verkry u Afrikaanse literatuur via die Internet by www.wvm.co.za

Glo u die ware Evangelie?

Hervestig die oorspronklike Christenskap

Twaalf Sleutels tot Verhoorde Gebed