Wat kan u doen om seker te maak dat u die waarheid leer met so baie onkunde en misleiding rondom ons?

Groot gedeeltes van die moderne onderwys is gebaseer op ateïstiese of selfs anti-Goddelike konsepte. In die komende Millennium sal God se wyse ’n algehele omwenteling in die onderwys meebring. U kan egter God se egte waardes van onderwys nou reeds ervaar!


Wat neem die Tien Gebooie en gebed se plek in noudat dit in baie Amerikaanse klaskamers verbied is? Selfs al is die meeste van die land se belangrikste en mees prominente universiteite in die naam van Christelikheid gestig, ignoreer die meeste opvoeders vandag die grondslag van die waarheid – God se woord. Studente word geleer dat daar geen absolutes en geen opperste gesag is nie, behalwe die eie ek. In plaas van God se ewige wet, word aan hulle humanisme en materialisme geleer.

Hoe het ons opvoedkundige stelsels hulle klem verskuif? Baie universiteite wat gestig is om die Bybel te doseer en God se morele wet te handhaaf, het teen die 1960’s hawens geword van nihilisme en anti-God sentimente. Aan die begin van die 19de eeu, neem hulle die struktuur en later die ideale van die Duitse universiteite en filosowe aan.

’n Sleutelfiguur onder hierdie filosowe was Friedrich Nietzsche, wie se filosofie nie net ateïsties was nie, maar ook sterk anti-Goddelik. Hy het geskryf: “God is dood, maar gegewe die weg van die mens, mag daar dalk nog vir duisende jare grotte wees waarin sy skaduwee gesien sal word. Ons behoort nog sy skaduwee ook te oorwin” (The Gay Science, Nietzsche, 1882, deel 108). Nietzsche is nou dood, maar sy filosofie lewe tot vandag toe in die gedagtes van die anti-Goddelikes voort. Gedurende die onstuimige 1960’s spring dit selfs uit die filosofie-boeke tot in die hoofnuus-opskrifte, toe die gerespekteerde tydskrif TIME op die buiteblad van sy 8 April 1966 uitgawe vra: “Is God dood?”

Baie intellektueles van die 18de en 19de eeue het korrek ingesien dat die Christenskap van sy apostoliese oorsprong afgedwaal het en dat hulle die heidense gebruike van die omliggende gemeenskap oorgeneem het. In plaas daarvan om die moderne onderwys op die Christelikheid se ware fondament te herbou, het baie intellektueles probeer om daardie grondslag heeltemal te vernietig! Hulle verwerp een soort valse godsdiens en die valse onderwys daarvan, maar probeer om dit te vervang met godlose onderwys eerder as goddelike onderwys.

Die ware grondslag van onderwys

Die Christenskap, soos verkondig en beoefen deur Jesus Christus en die Apostels, het ’n voorbeeld vir alle tye gestel. Daardie voorbeeld het die navolging van die geestelike wette van God – die Tien Gebooie – ingesluit, so ook die weg van liefde wat deur Jesus Christus geleer is toe Hy vir Sy volgelinge gesê het: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak” (Johannes 8:31-32).

In teenstelling hiermee lees ons ’n skokkende verklaring in die boek Openbaring: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, watdie hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Hierdie groot gevalle engel wat die duiwel en Satan genoem word, mislei nie net ’n paar mense nie, maar die oorgrote meerderheid. Om bloot deel te wees van die een-derde van die mensdom wat hulleself “Christene” noem, is geen waarborg dat ’n mens nie mislei is nie!

Presies wat is hierdie waarheid waaroor Satan die hele wêreld mislei? Daar is natuurlik wetenskaplike waarhede wat getoets en bewys kan word. Die wetenskap kan tot ’n mate, die “wat” en “hoe” van natuurwette beskryf, maar dit kan nie die waarom van ons bestaan verduidelik nie! Sulke waarhede strek verder as die natuurwette en kan slegs verklaar word deur die Een wie daardie wette geskep het. Wat sê die Skepper dus van die waarheid? Terwyl Jesus tot Sy Vader gebid het op die aand voor Sy kruisiging, bid Hy vir Sy dissipels: “Heilig hulle in u waarheid; U woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Ja, God se Woord is die waarheid! U kan gerus aan uself bewys dat die Bybel die openbaring van die Skepper-God is. Die apostel Paulus skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee” (2 Timótheüs 3:16). Die Griekse woord wat vertaal word as “ingegee”, is theopneustos en beteken “geïnspireer” of “goddelik uitgeasem”. Die Engelse New International Version vertaal dit as volg: All Scripture is God-breathed. Terwyl Paulus dit geskryf het was die boeke wat ons die “Ou Testament” noem die enigste gekanoniseerde “Skrif”. Vandag wil baie Christene egter die duidelike leerstellings van die Ou Testament ignoreer en neem hulle slegs die Nuwe-Testamentiese geskrifte in aanmerking. Die Nuwe Testament verskil egter: Die hele Skrif is deur God ingegee, geïnspireer of uitgeasem!

Hoe leer ’n mens?

Ware onderwys moet gebaseer wees op die waarheid wat God geopenbaar het in Sy Woord. Hoeveel administrateurs van universiteite, professore of studente weet wat die werklike doel en betekenis van die lewe is? Die meeste aanvaar die evolusionêre konsep dat die mens slegs ’n dier is.

Is dit dan waar? Is daar dalk iets wat ’n onderskeid maak tussen ’n dier se brein en die menslike verstand? Wetenskaplikes weet dat die menslike brein baie meer “werkverrigting” lewer vir die gewig daarvan in vergelyking met ander spesies sin. ’n Paar wetenskaplikes het tot die slotsom gekom dat hierdie kapasiteit slegs verduidelik kan word deur die teenwoordigheid van ’n geestelike komponent. Hierdie wetenskaplike gevolgtrekking, hoewel nie algemeen aanvaar nie, stem ooreen met die geopenbaarde Skrif. Die apostel Paulus skryf: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is?” (1 Korinthiërs 2:11).

Die gees wat Paulus hier beskryf is nie die Heilige Gees nie en ook nie ’n “onsterflike siel” nie. Dit is ’n geestelike essensie wat met die fisiese brein kombineer om mense baie meer te bemagtig as diere (Job 32:8). Hierdie begrip strook met die wetenskap en die Skrif en dit verduidelik ’n aspek van die menslike verstand wat ’n raaisel vir die meeste opvoeders en “kenners” bly. Sir John Maddox, redakteur-emeritus van Nature, skryf in ’n klassieke Time magazine artikel: “Hoe die brein dit regkry om te dink, is ’n strikvraag met ’n millenniale tydskaal. Alle diere het ’n brein om hulle in staat te stel om rond te beweeg. Seine van die sintuie – oë, ore, neusgate of vel, wat die geval ookal mag wees – stuur boodskappe na die rugmurg, wat die ledemate op die gepaste wyse laat reageer. Denke behels egter dat alternatiewe reaksies oorweeg word, waarvan baie nog nie ervaar is nie, maar slegs in die verbeeldingsoog gesien word. Die vermoë om bewus te wees van wat in die kop aangaan is ’n verdere raaisel. Binne die volgende eeu sal elektroniese winkels (of webtuistes) allerhande soorte toestelle adverteer wat ’n paar funksies van die menslike brein sal naboots, maar neuro-wetenskaplikes sal nog steeds sukkel om die denkende masjien in ons koppe te verstaan” (ThinkingTIME, 29 Maart 1999, bl. 206).

Maddox, ’n wêreldbekende fisikus, het voorspel dat selfs die raaisel van menslike denke binne die volgende eeu steeds nie opgelos sal wees nie. Wanneer ’n mens die Skrif verstaan, sien ons dat onderwys wat slegs op materiële en fisiese kennis gebaseer is, hopeloos te beperk is. Wanneer ’n opvoedkundige stelsel die bestaan van God en van gees verwerp, verwerp dit die fundamentele werklikheid en die beslissende waarheid!

Die mensdom se mislukte onderwysstelsel

Indien ons moderne onderwysstelsel nie al die antwoorde wat ons soek oplewer nie, behoort ons dan beïndruk te wees met die stelsel self? Universiteite kan sekerlik suksesvolle onderrig aanbied in sommige gebiede van materiële kennis. Wat gebeur dan wanneer hierdie instellings afgesny word van die waardes waardeur hulle gelei behoort te word?

Wat gaan aan in die moderne universiteit? ’n Ongelukkige akademikus skryf die volgende: “Die gemiddelde Amerikaner dink steeds dat die klaskamer die middelpunt van aktiwiteite van ’n universiteit is. Omdat dit goeie verhoudings met die publiek tot gevolg het (sowel as met die wetgewer), moedig universiteite se administrateurs sulke vergesogte idees aan. Universiteite onderling weet egter hoe anakronisties en totaal verkeerd hulle is. ’n Vise-kanselier van ’n Big Ten Universiteit is gevra om die missie van sy universiteit te beskryf, waarna hy vyf afsonderlike areas van verantwoordelikheid gelys het: Ekonomiese ontwikkeling, diens aan die staat, die skepping van nuwe kennis, opleiding van nagraadse studente en heel laasteonderrig gee” (Profscam, Sykes, bl. 29).

Die moderne universiteit het afgedwaal van sy oorsprong af. Nie net minimaliseer dit die onderrig van waardes nie, dit minimaliseer ook die waarde van onderrig. Daar is sekerlik waarde in navorsing, ekonomiese ontwikkeling en openbare diens, maar ware onderwys, soos die Skrif dit voorhou, strek egter veel verder as die bevordering van kennis. Studente moet geestelike waardes geleer word, waarsonder al die ander werksaamhede tot ondergang sal lei!

Kan ’n mens waarlik opgevoed word sonder om te onderskei tussen reg en verkeerd? Die apostel Paulus veroordeel kragtig die intellektuele mense wat die waarheid en die werklikheid van God verwerp: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheiddie waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:18-22).

Dwarsdeur die Bybel is aanklagte teen anti-Goddelike onderwys baie sterk: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie. Die Here het uit die hemel neergesien op die mensekinders, om te sien of daar iemand verstandig is, wat na God vra. Hulle het almal afgewyk, tesame het hulle ontaard; daar is niemand wat goed doen, ook nie een nie. Het al die werkers van ongeregtigheid dan geen kennis nie, die wat my volk opeet asof hulle brood eet? Hulle roep die Here nie aan nie” (Psalm 14:1-4).

God: Die Grootste Leermeester

Ware onderwys moet gebaseer word op die waarheid van God. Alle ander fondamente is slegs ydelheid. Slegs ’n Christen met ’n bereidwilligheid om die Here aan te roep – om van die Groot Onderwyser te leer en Sy voorbeeld te volg, sal ’n behoorlike fondament bou om ware kennis te ontvang. Jesus Christus het Sy studente geleer: “... as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Hy noem daarna verskeie van die Tien Gebooie.

Waarom is die Tien Gebooie die grondslag van ware opvoeding? Omdat dit duidelik aan ons vertel wat reg is en wat verkeerd is! Dit openbaar die weg van vrede en voorspoed wat God vir die hele mensdom bestem het. Wat gebeur met diegene wat God se duidelike wette ignoreer? Die apostel Paulus skryf: “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Koning Dawid van ouds het van die onderwys wat van ’n stewige fondament afkomstig was, geskryf: “Hoe lief het ek u wet; dit is my bepeinsing die hele dag. U gebooie maak my wyser as my vyande, want hulle is myne vir ewig. Ek is verstandiger as al my leermeesters, want u getuienisse is my bepeinsing. Ek het meer verstand as die ou mense, want ek bewaar u bevele. Ek het my voete teruggehou van elke verkeerde pad, dat ek u woord kan bewaar. Ek het van u verordeninge nie afgewyk nie, want Ú het my geleer” (Psalm 119:97-102).

God het Koning Dawid geleer en Hy wil al Sy mense leer. Eers wanneer ‘n mens begin om die geestelike wette van God toe te pas, soos geleer word uit die Bybel en wat deur Jesus Christus beklemtoon word in die Bergpredikasie, kan u beter begrip en ware kennis hê. Ons lees in Psalm 111:10: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand.”

Indien u daarna streef om Hom te gehoorsaam, sal God deur die Heilige Gees geestelike kennis aan u openbaar. Paulus gaan voort deur die verskil tussen die kennis van ’n bekeerde Christen en ’n onbekeerde persoon te verduidelik: “Want wie van die mense weet wat in ’n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God. Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Korinthiërs 2:11-12).

Net soos ’n dier se brein nie die “dinge van die mens” kan verstaan nie, so kan die vleeslike, natuurlike verstand van die mens nie die “dinge van God” verstaan nie. Paulus gaan voort om te verduidelik: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word” (1 Korinthiërs 2:14). Geestelike waarheid word geestelik beoordeel, maar dit kan nie verkry word deur die natuurlike menslike verstand sonder die gawe van God se Heilige Gees nie (Handelinge 2:38).

Omdat dit ware onderrig verwerp het, ken ons moderne wêreld nie die weg na ware vrede nie. Christene kan egter die waarheid ken en kan uitsien na die vinnig naderende tyd wanneer al die nasies uiteindelik studente van die Groot Opvoedkundige sal word. Wat sal môre se onderwys behels? Die Skrif gee die volgende bemoedigende beskrywing: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vas staan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem. En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:2-4).

Sulke vrede sal slegs na die wêreld kom deur ware onderwys in die toekomstige Koninkryk van God. U kan daardie vrede egter nou in u eie lewe hê. Daar sal eersdaags ’n rewolusie in die onderwys van die hele wêreld ontstaan, maar u kan dieselfde in u eie lewe hê deur die bestudering van die Bybel – die beginpunt van waarheid. Soos Jesus Christus gesê het: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6). Daardie waarheid sal u lewe vir ewig verander!