Vir 70 jaar lank was koningin Elizabeth II ’n rots van stabiliteit vir die Verenigde Koninkryk. Wat kan ons leer uit haar besonderse voorbeeld?

Hoe merkwaardig is dit nie dat die laaste amptelike plig van haar majesteit koningin Elizabeth II, by haar huis Balmoral Castle in Skotland, die aanstelling van haar 15de eerste minister Liz Truss was, nadat Boris Johnson bedank het. Die koningin het op die ouderdom van 96 broos gelyk, maar was steeds haar gewone opgeruimde, vriendelike self en vasbeslote om met haar pligte voort te gaan. Slegs twee dae later, op Donderdagmiddag, 8 September 2022, het die onverwagte nuus van haar skielike afsterwe, skokgolwe deur die land en regoor die wêreld veroorsaak. Deeglik voorbereide planne vir haar begrafnis en die amptelike oordrag van magte aan haar seun en erfgenaam Charles, is dadelik in werking gestel. Na ’n leeftyd wat hy vir hierdie oomblik voorberei het, was Charles nou koning, Staatshoof, hoof van die kerk van Engeland en hoof van die Statebond.

Elf dae van rou en deeglike voorbereidings het ’n hoogtepunt bereik met die koningin se begrafnis op 19 September 2022. Dit was ’n droë, stil en sonnige dag. Groot skares het langs die begrafnisroete saamgedrom om die optog te sien en om hulle stille waardering en respek vir ’n baie geliefde monarg te betoon. Ná die begrafnisdiens in Westminster Abdy het ’n optog, te voet, gevolg rondom die St. James Park, langs die Mall, [’n seremoniële roete] en verby Buckingham-paleis waarna daar per motor voortgegaan is na Windsor kasteel vir haar teraardebestelling op dieselfde plek waar ander afgestorwe lede van haar familie ook begrawe is. Miljarde mense regoor die land en Statebond – inderdaad ’n wêreldwye gehoor – kon deel in die begrafnisverrigtinge deur uitgebreide mediadekking.

’n Mens hoef net ’n paar van die vele media-uitsendings oor die koningin te lees om tot die gevolgtrekking te kom dat sy ’n hoogsgerespekteerde en spesiale dame was. Hoe het dit gebeur? Elizabeth het in 1936 op tienjarige ouderdom die regmatige erfgenaam geword en haar ouers het ’n program begin om haar vir daardie rol voor te berei. Haar tienerjare het saamgeval met die swaarkry en ontberings van die oorlogsjare, waartydens die standvastige en pligsgetroue voorbeeld van haar vader, koning George VI, ’n kragtige en doeltreffende invloed op haar gehad het.

Anglikaanse leiers het die jong prinses onderrig met betrekking tot dienslewering, pligsbesef, voorbeeldigheid en om haar woord gestand te doen. Tydens die hoogtepunt van die diens met haar kroning, het hulle verduidelik dat sy voor God as koningin aangestel word en deur haar eed ingeseën was om haar verantwoordelikhede na te kom. Dit alles het in Elizabeth ’n vasbeslotenheid ingebou om haar hart daarin te plaas om haar mense getrou as hulle koningin te dien. In haar openbare diens van 70 jaar – die tweede langste van enige monarg – het sy nóóit afgewyk van die waardes, wat sy geglo het deur God aan haar gegee is om te volg nie – selfs al het die samelewing rondom haar onverbiddelik verander.

Ons sal almal baat vind daarby om ’n paar belangrike stellings te onthou wat sy gedurende haar heerskappy gemaak het. Dit openbaar ’n persoon wat diep en passievol daartoe verbind was om almal wat na haar as koningin opgekyk het te dien. Benewens die oorsig van verskeie redes waarom so baie mense haar as spesiaal beskou het, sal ons iets buitengewoon spesiaal erken aangaande die posisie wat sy op die troon beklee het. Die Windsor vorstehuis in Londen is deesdae die leidende koningshuis in die wêreld. Die troon van hierdie vorstehuis het ook verrassende Bybelse verbintenisse met enorme profetiese implikasies vir die jare wat voorlê. Dit is ’n troon wat bestem is om nog groter wêreldwye betekenis te verkry as gevolg van ’n toekomstige Bekleër wat oor die hele wêreld sal heers!

 

Onbaatsugtig toegewy aan plig

Die koningin was baie geliefd vanweë haar onbaatsugtige toewyding aan haar pligte. Sy het haar woord gehou en haar vroeë belofte en lewenslange verbintenis nagekom om haar onderdane, op tuisbodem en in die buiteland, dwarsdeur haar lewe te dien. Haar hart en siel was baie duidelik in alles wat sy gedoen het. Sy het geglo dit is wat God van haar wou hê en dat Hy haar daarvoor voorberei het. In ’n toespraak op die dag van haar kroning in 1953, het sy beloof: Ek het myself in opregtheid verbind om u tot diens te wees, soos so baie van u ook aan my beloof het. Regdeur my lewe en met my hele hart, sal ek daarna streef om u vertroue waardig te wees.

Tydens haar eerste televisie-uitsending van 1957 het sy gesê: “Ek kan u nie in die geveg lei nie. Ek maak nie wette nie of pas nie geregtigheid toe nie. Ek kan egter iets anders doen. Ek kan u my hart en my toewyding gee aan hierdie ou eilande asook aan al die mense van ons broederskap van nasies.” Vir baie mense wat vandag leef, was sy die enigste koningin wat hulle geken het – geliefd en gewaardeer as ’n noodsaaklike, skynbaar permanente agtergrond vir hulle lewens. Sy het haar hart vir ons gegee en in ruil daarvoor het ons ons liefde en lojale ondersteuning aan haar gegee. Met haar dood is daardie liefde uitgedruk as hartseer. Soos sy self gesê het: “Hartseer is die prys wat ons vir liefde betaal.” Ons kan waarlik daarvan getuig dat van die koningin gesê kan word dat wanneer die regverdiges in gesag is, die mense bly is (Spreuke 29:2).

 

Arbeidsvreugde

Wat baie duidelik vir diegene ná aan die koningin was, was dat sy haar diens as Staatshoof, hoof van die kerk van Engeland en hoof van die Statebond baie geniet het. Sy was altyd vriendelik en altyd gereed met ’n glimlag. Sy was beskeie en nederig, met ’n verfrissende, aansteeklike sin vir humor wat gesien kon word in die James Bond komiese toneel wat sy by die Olimpiese Spele in Londen in 2012 uitgevoer het – dit het gelyk asof sy die stadion met ’n valskermsprong binnekom – asook haar bekende middagtee in Junie 2022 wat sy met ’n virtuele Paddington-beer by Buckingham paleis gedeel het.

Sy het daarvan gehou om mense te ontmoet en dit het gelyk of sy oor die ideale temperament, opleiding, sterk samestelling en goeie gesondheid beskik vir die veeleisende rolle wat sy vervul het. Sy het in haar rolle ingegroei en dit met selfversekerdheid uitgevoer wat groot lof en respek afgedwing het vir alles wat sy vir haar land en die Statebond gedoen het. Sy het die gesindheid van verdraagsaamheid en regverdigheid oor alle mense in die Verenigde Koninkryk verpersoonlik. Sy het die Britse koninkryk internasionaal geїntegreer deur haar gebruik van die uitsaaimedia en het meer as 100 lande besoek tydens haar heerskappy. Sommige mense sou sê dat sy op die hoogtepunt van haar roem die mees herkenbare vrou in haar leeftyd was.

 

Die opbou van die Statebond

In ’n tyd toe die ou Britse Ryk besig was om te verbrokkel, het die koningin begin om die Statebond uit te brei deur die aanvanklike sewe lande te laat ontwikkel tot die familie van 56 nasies waaruit dit tans bestaan. Die koningin was die noodsaaklike gom wat die Unie en die Statebond vir meer as 70 jaar bymekaar gehou het – ’n indrukwekkende prestasie, in terme van enige standaard.

Haar begrip van leierskap was eenvoudig, dog diepgaande: Oor die jare het ek opgemerk dat sommige eienskappe van leierskap algemeen is en dit gaan dikwels daaroor om maniere te vind wat mense kan aanmoedig om hulle pogings, talente, insigte en entoesiasme saam te voeg en hulle te inspireer om saam te werk (A speech by The Queen at the United Nations General Assembly, 2010, Royal.uk, 6 Julie 2010). Sy het hierdie selfde denke verpersoonlik en ’n talent gehad om mense bymekaar te bring en hulle te verenig.

 

Bestendige Godsdienstige geloof

Die koningin was ’n vrou met ’n standvastige godsdienstige geloof wat dit duidelik gemaak het dat haar geloof in God die anker van haar lewe is. In ’n 2002-uitsending het sy gesê: “Ek weet presies hoeveel ek op my eie geloof staatmaak om my deur die goeie en die slegte tye te lei.”

Sy het met haar kroning die hoof van die kerk van Engeland geword en daardeur ’n pouslike titel geërf wat eerstens gegee was aan die Engelse monarg Henry VIII: Defender of the Faith. In werklikheid het sy die verdediger van alle Britte geword, ongeag hulle geloof. Haar godsdiensoortuiging was dié van ’n heelhartig toegewyde Anglikaan – ’n toenemend skaars karaktereienskap om te vind in ’n multikulturele en toenemend verwêreldse Brittanje. Sy het nogtans geglo dat sy ’n burgerlike plig verskuldig is teenoor al haar onderdane – ongeag of hulle ander gelowe aanhang of glad nie ’n geloof het nie. Die verandering van Brittanje in ’n multi-etniese samelewing wat gedurende haar heerskappy ontwikkel het, het geduld en groot vaardigheid vereis om almal wat sy ontmoet het, waardevol te laat voel. Dit het aansienlike diplomatieke vermoë geverg, sowel as verdraagsaamheid wat byna wêreldwyd waardeer is.

Jonathan Sacks, die voormalige hoofrabbi van die VK, het die koningin lof toegeswaai as een van hedendaagse se groot verenigende magte van Brittanje. Ter opsomming van sy siening van die koningin se bydrae, het hy getuig: Sy was die stille heldin van diens en in ’n era van selfbeheptheid was sy ’n rolmodel van plig en onbaatsugtigheid wat sy ongevraag vervul het (The Times, 31 Mei 2012). Die koningin se benadering tot die lewe was verfrissend eenvoudig en openhartig: Elke dag is ’n nuwe begin. Ek weet dat die enigste manier om my lewe te lei, is om te probeer doen wat reg is, om langtermyn gevolge in ag te neem, om my beste te gee in alles wat die dag oplewer en om my vertroue in God te stel.

 

Moed en lewenskragtigheid deur beproewings

Sy het beproewings en ontberings met moed, veerkragtigheid en ’n ontembare gees die hoof gebied. Om vir só lank koningin te wees, sou nooit sonder uitdagings wees nie, maar haar beproewings en uitdagings was dikwels aan die publiek bekend – vir die hele land om te sien en kennis te neem van hoe sy dit hanteer.

Alle gesinne gaan deur krisistye en koninklikes is geen uitsondering nie. Die koningin en haar man het met koninklike troues gedeel, koninklike egskeidings en koninklike sterfgevalle, waarskynlik verál die ontydige dood van prinses Diana en die sluipmoord op lord Mountbatten. Die gesinshuis, Windsor kasteel, het in 1992 gedeeltelik afgebrand – ’n jaar wat moeilik genoeg was om as haar annus horribilis (Latyns vir aaklige jaar) genoem te word.

As gevolg van die openbare ampte wat sy beklee het, het nasionale en selfs internasionale beproewings ook háár beproewings geword waarop sy kommentaar moes lewer en geleenthede vir haar om hoop en aanmoediging te bied vir ’n beter môre, soos sy dit onvergeetlik gedoen het tydens die inperkings van die COVID-19 pandemie. Sy het gesê: “Ons behoort troos daarin te vind dat, alhoewel ons moontlik nog meer sal moet verduur, beter dae sal terugkeer: Ons sal weer by ons vriende wees; ons sal weer by ons gesinne wees; ons sal weer ontmoet” (“Die koningin se uitsending aan die VK en Statebond,” Royal.uk, 5 April 2020).

Sy het in 2008 in ’n uitsending gesê: “Wanneer die lewe moeilik lyk, gaan die moediges nie lê en die stryd gewonne gee nie; in plaas daarvan is hulle des te meer vasbeslote om vir ’n beter toekoms te veg.” Waar het haar innerlike krag en lewenskragtigheid vandaan gekom? Die antwoord is gedeeltelik in haar opmerkings oor die 75ste herdenking in 2019 van die D-Day-invalsdag: “Die oorlogstydgenerasie – my generasie – is lewenskragtig.”

Wat die koningin egter sterker gemaak het toe sy ouer geword het, was haar gesinsopvoeding, haar man Philip en haar verhouding met God, namate sy Hom verstaan het. Die koningin het dit só te kenne gegee: “Niemand van ons kan die verloop van tyd vertraag nie en terwyl ons dikwels fokus op alles wat in die jare tussenin verander het, bly baie daarvan onveranderd, met inbegrip van die Evangelie van Christus en sy leerstellings.” (Volgens Edward wat haar aangrypende boodskap gelewer het, ITV.com, 16 November 2021.)

Die enigste blywende ding wat in die lewe vir ons almal oorbly, is uiteindelik slegs ons verhouding met God. Net soos ons koningin geglo het, het die leerstellings van die Bybel nie verander nie. Al wat ons behoort te doen – die moeilike deel – is om dit in ons lewens toe te pas. ’n Deel van daardie Evangelie is dit: Eer alle mense. Heg waarde aan die broederskap. Vrees God. Eer die koning (1 Petrus 2:17). Die oplossing om al ons nasionale en persoonlike probleme te oorkom, is vervat in die Evangelie van Christus en Sy leerstellings. God sal ons Sy krag gee wanneer ons daarvoor vra en indien ons die lewenswyse volg wat Hy vir ons wil hê.

 

Die Bybelse troon van Dawid

Wat is ten slot van sake die verbasende Bybelse aspek van die koningin se troon? Diegene wat geskiedenis noukeurig bestudeer in die lig van Bybelse profesie sal erken dat die troon van die Britse monarg nagespoor kan word tot by die troon van die Bybelse koning Dawid. Omdat Dawid ’n man na God se hart was (Handelinge 13:22), het God sy Verbondsbelofte met Dawid bevestig dat sy troon vir ewig gevestig sou word (2 Samuel 7:16; Psalm 89:3-4, 28-37) wat beteken dat sy geslagslyn nooit sou ophou bestaan nie. In konteks beskryf Psalm 89 duidelik sy geslagslyn en sy vestiging in elke generasie. God vergelyk die waarskynlikheid dat hierdie Verbond misluk met die beëindiging van die natuurlike orde van dae en nagte wat Hy daargestel het – iets wat nog nooit, ooit gebeur het nie (Jeremia 33:17-22). Die Skrif toon duidelik dat, uiteindelik, vir ewig net op Jesus Christus kan dui. Daar word geprofeteer dat die terugkerende Christus die troon van Dawid in besit sal neem en oor die hele aarde sal regeer (Jesaja 9:6-7; Lukas 1:32-33; Handelinge 2:29-30).

Dit beteken dat daar in elke geslag, van koning Dawid af tot vandag toe, afstammelinge van Dawid se bloedlyn beskikbaar was om op die troon van Dawid te heers. Daardie geslag sou nooit ophou bestaan, uitsterf of beëindig word nie. Dit is belangrik dat dit daarop dui dat slegs Jesus die Messías, Dawid se troon kon beërf indien Hy letterlik uit Dawid se geslagslyn gebore is. Die twee Bybelse geslagsregisters van Christus toon duidelik dat dit die geval is: Sy wettige afkoms gaan terug na Dawid via Salomo (Matthéüs 1:6), terwyl Sy bloedlyn via sy moeder teruggespoor word na Dawid deur Natan – nog een van Dawid se seuns (Lukas 3:31).

Wat weet ons dus van Dawid se geslagslyn? Sien ons enige bewyse dat dit vandag bestaan? U hoef nie verder te kyk as die troon wat tans in Londen gevestig is nie! Dit dateer, volgens betroubare bronne, terug na Edward I in 1296 n.C., wat terugdateer voor die Skotse geslagslyn van konings en dan nog verder terugstrek in die newels van tyd tot by die konings van Ierland. Dit is belangrik om daarop te let, dat dit gesê word dat al hierdie vorste oor ’n steen gekroon is wat vandag die Stone of Destiny of Stone of Scone genoem word, waarna ook verwys word as Jakob se pilaarsteen.

Dit alles behoort ons te oortuig om hierdie antieke en uiters spesiale troon, wat regdeur ons spesiale koningin se 70-jarige ampstermyn voortbestaan en floreer het, nog meer te waardeer en te respekteer. Dit mag dalk voorkom of dit misluk in sy Britse manifestasie – dit het inderdaad al verskeie kere gelyk of dit deur sy lang en veelbewoë geskiedenis misluk het. God sal egter altyd Sy Verbondsbelofte eerbiedig en die koninkryk van Dawid sal altyd in een of ander vorm seëvier. Wanneer die verheerlikte Jesus Christus na die aarde kom om God se Koninkryk oor álles te vestig, sal Hy daardie glorieryke troon vir ewig beklee – ’n troon wat God beloof het om in elke geslag regdeur die geskiedenis te bewaar.

Indien u meer wil weet – en daar is soveel meer om oor verslag te doen – vra vir ons gratis boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?, by u naaste streekkantoor of lees dit aanlyn by www.wvm.co.za. Dit mag dalk net daartoe lei dat u u opinie op die lewe en wat geprofeteer is gaan gebeur in die jare wat voorlê, radikaal gaan verander.