Terrorisme het die verhoudings tussen volke drasties verander en die geopolitiese uitkyk omskep. Geprofeteerde gebeure, wat uiteindelik die hele wêreld sal oorweldig, is aan die toeneem. Geen nasie sal gespaar word van die dreigende Derde Wêreldoorlog nie, maar daar is wonderlike nuus wat voorlê na die traumatiese tye wat ons sal beleef.

Die wêreld sal nooit weer dieselfde wees na die verskriklike terroriste aanvalle wat die Wêreldhandelsentrum se tweelingtorings in New York platgevee en die Pentagon in Washington erg beskadig het nie. Duisende mense het gesterf en biljoene rande se skade aangerig.

Die gebeure van 11 September 2001 het die Verenigde State van Amerika in ’n internasionale oorlog teen terrorisme gedompel wat beloof om uitgestrek, duur en veeleisend te wees. Die terroriste het simbole van Amerikaanse ekonomiese en militêre mag, wat dreig om uitgeput te raak deur ’n verlengde oorlog op baie fronte dwarsdeur die wêreld, getref.

Die London Daily Telegraph berig op 30 Desember 2001 dat ’n tekort aan kruismissiele die VSA se planne vir ’n volskaalse aanval op Irak, omver gewerp het. Aanvalle in 1998 teen Afghanistan en die Soedan en drie jaar gelede teen Kosovo het die Amerikaanse voorraad bykans uitgeput. Die hoeveelheid konvensionele lug-gelanseerde missiele wat aan die einde van 2001 oor was, was na bewering minder as 30. Die voorraad gesofistikeerde, dodelik-akkurate wapens is besig om so uitgeput te raak dat militêre hoofde die vervaardigers, Boeing, onder druk plaas om vervaardiging te versnel.

Die Telegraph berig: “Dit is ook waarskynlik dat die Amerikaanse Vloot nie sal wil hê dat hul voorraad van Tomahawks (see-gelanseer kruismissiele) uitgeput raak nie en sodoende die nagmerrie scenario skep, waar die wêreld se enigste supermoontheid sonder ’n lewensvatbare langafstand missielmag sal wees”.

Die wêreld se magtigste nasie staar ’n ongekende toets van sy voornemens en hulpmiddels in die gesig. Indien sy ekonomie versuim om te herstel of sy militêre aanvalle nie daarin slaag om internasionale terrorisme ’n knou toe te dien nie, kan die internasionale prestige van Amerika onherstelbaar beskadig word.

In die jaarverslag wat op 31 Oktober 2001 vrygestel is, neem die Wêreldbank kennis van ongewone gelyktydige ekonomiese afnames in die Verenigde State, die Europese Unie en Japan, wat gekoppel met die negatiewe uitwerking van die aanvalle op 11 September 2001, veroorsaak het dat ekonomiese groeikoerse dwarsoor die wêreld gesteier het. Die verslag berig dat die aanvalle “nuwe en onvoorspelbare magte ontketen het wat die risiko op ’n globale afname wesenlik verhoog het”.

Daar is verwag dat groei in ontwikkelende lande in 2001 met 2,9 persent sou daal, effens meer as die helfte van die 5,5 persent koers van 2000. Latyns-Amerika, Oos-Asië en Afrika Suid van die Sahara is veral hard getref. Volgens die verslag het handelsgroei bykans tot stilstand gekom en van 13.1 persent na 1 persent gedaal in 2001; ongekende syfers sedert die olieskokke van die 1970’s.

Die Federale Reserwebank in Washington het desperaat probeer om die Amerikaanse ekonomie tot herstel te skok deur herhaaldelik die rentekoerse te sny in die hoop dat die laer koerse meer beleggings en besteding sou aanmoedig.

Die laer rentekoerse, wat ’n geskatte nege maande neem om ’n effek te toon, dreig om die waarde van die Amerikaanse dollar te ondermyn, dieselfde tyd wat die Europese Unie die euro amptelik as hul wisseleenheid aanvaar het. Dit is ook die eerste keer wat ’n enkele geldeenheid dwarsoor die kontinent gebruik word sedert die Romeinse Ryk.

Analiste erken dat ’n nuwe supermoontheid aan die opkom is. Binnekort sal die Europese Unie sy eie multi-nasionale weermag hê en dit is geskeduleer om teen 2004 nog 10 lande van Oos-Europa en die Middellandse See in te sluit. Met ’n bevolking van bykans 450 miljoen mense sal dit die wêreld se derde mees bevolkte politieke entiteit wees, naas China en Indië.

Die wêreld is getuienis van die stadige val van die Amerikaanse Ryk en die opkoms van ’n Europese Ryk, wat beloof om ’n dramatise en traumatiese invloed op elke bewoner van die planeet te hê. ’n Magsoorname is onderweg wat moeilikheid vir almal voorspel.

Benoude volke

Toe Jesus deur Sy dissipels uitgevra was aangaande die teken van Sy koms en van die einde van die tyd, beskryf Hy die gebeure wat Sy Tweede Koms sou voorafgaan. Hy waarsku van godsdiensmisleiding, oorloë en gerugte van oorloë, hongersnood, siekte-epidemies en natuurlike rampe wat dwarsdeur die wêreld algemeen sal voorkom. “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” vertel Hy hulle (Mattheus 24:7-8).

Christus se beskrywing van wêreldtoestande toon baie duidelik presies dít aan wat koerantopskrifte en nuusuitsendings daagliks verkondig. Multi-nasionale militêre alliansies begin onder moonthede vorm aanneem. Die verspreiding van antraks, pokke en ander siektes dwarsoor die westerse wêreld en verder, is werklike vrese. Tog sê Christus dat hierdie toestande maar ’n begin van smarte is. Toestande sal versleg totdat alle menslike lewe in gevaar gestel en deur vernietiging bedreig word! “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (verse 21-22).

Wanneer al die nasies van die aarde volslae radeloos is, sal Jesus Christus met geweldige mag ingryp om hierdie grootskaalse lewensvernietiging te voorkom. “En dadelik ná die verdrukking van daardie dae sal die son verduister word, en die maan sal sy glans nie gee nie, en die sterre sal van die hemel val, en die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal die teken van die Seun van die mens in die hemel verskyn, en dan sal al die stamme van die aarde rou bedryf en die Seun van die mens sien kom op die wolke van die hemel met groot krag en heerlikheid” (verse 29-30).

In Lukas se weergawe van Christus se Olyfbergprofesie, waarsku Jesus Christus ons om nie verskrik te word deur hierdie “dae van wraak” nie. Hy dui aan dat daar “groot nood in die land [sal] wees en toorn oor hierdie volk” soos profesië vervul word (Lukas 21:22-23). “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid” (verse 25-27).

Alle nasies sal onderwerp wees aan groot spanningsdruk en dwang. Niemand sal onaangeraak gelaat word, deur hierdie rampspoedige gebeure, nie. Mense in alle lande sal verdwaas gelaat word deur die dramatiese verandering in toestande, namate die aarde skud met natuur rampe wat ’n geweldige tol aan menselewens eis. In teenstelling sal die meeste van die mensdom, voordat hierdie gebeure ’n klimaks bereik, versonke in selfgenot wees, totaal onbewus van die snel verslegtende internasionale toestande, waarsku Christus.

Wie kan ontken dat die wel-af Westerse lande en baie van die res van die wêreld in ’n materialistiese gefuif van ongekende mate is, in die afgelope jare?

“Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon” (verse 34-35).

Die wêreld ’n gewapende kamp

Ons leef in ’n absoluut ballistiese wêreld. Aartsvyande Indië en Pakistan het elk kernwapens afgevuur en sodoende die vlak van gevaar op aarde verhoog deur ’n oorwegend Hindoenasie teen ’n oorwegend Moslemnasie af te speel.

Wêreldleiers besef dat, wanneer hulle daartoe gedryf word, óf Indië óf Pakistan atoomaanvalle teen die ander kan loods. Sou dit gebeur, sal die Islamitiese en Asiatiese wêrelde in volskaalse oorlog gedompel word en dit kan ander nasies soos ’n maalstroom insuig!

Die Bybel toon duidelik dat daar aan die einde van die tye ’n groot militêre opbou deur baie nasies sal wees, wat tot ’n hoogtepunt gelei sal word met die gebruik van gevreesde kern, chemiese en biologiese wapens in volskaalse wêreldoorlog.

“Roep dit uit onder die nasies, heilig ’n oorlog! Wek die helde op, laat al die krygsmanne nader kom, opruk! Smee van julle pikke swaarde en van julle snoeimesse spiese; laat die swakke sê: Ek is ’n held. Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek!” (Joël 3:9-11).

Indië en Pakistan het hul militêre mag getoets en veroorsaak dat die wêreld van hulle kennis neem, nadat hulle hul kernontploffings gedoen het. Hulle word nie meer as derderangse militêre magte beskou nie. Iran en Irak streef ook koorsagtig daarna om kernvermoëns te bekom en dit is al jare lank bekend dat Israel wél daaroor beskik.

Scott Ritter, ’n Amerikaner wat op ’n Verenigde Nasies ondersoekspan gedien het, het gewaarsku dat Irak drie kernbomme het wat slegs die splytbare stowwe kortkom om hulle te aktiveer. Daar is vrese dat Saddam Hoesein die opskorting van internasionale monetering gebruik het om sy soektog na die “oordeelsdag wapen” na te volg.

Profesieë toon dat chemiese en biologiese middels, sowel as interkontinentale ballistiese missiele met kern plofkoppe, dwarsoor die ganse planeet afgevuur sal word gedurende hierdie komende Derde Wêreldoorlog, of Groot Verdrukking. Dit is baie ontnugterend en skrikwekkend om te besef dat alle lewensvorme uitgewis kan word, namate nasies weer eens in die waansin van oorlog verval om hul verskille by te bring.

Oorlog teen Christus

Christus se wederkoms sal nie deur die oorlogvoerende volke van die wêreld verwelkom word nie; dieselfde volke, op die punt om wêreldselfmoord te pleeg. Hulle sal Hom as ’n invaller uit die buitenste ruimte beskou en verenig om teen Hom oorlog te voer! Dit sal ’n tyd van uiterste druk vir alle lande wees.

“Waarom woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!” profeteer koning Dawid (Psalm 2:1-3).

Selfs massiewe vereniging van al die wêreld se weermagte en wapens sal belaglik wees in vergelyking met God se ontsaglike mag. “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik” (verse 4-5).

God die Vader sal Jesus Christus as Koning oor die ganse aarde aanstel. Hy sê vir Christus: “Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot” (verse 8-9).

Dit sal vir Christus nodig wees om al hierdie militêre magte se aandag te trek op die enigste manier wat hulle ken: ontsaglike superieure mag! Gebeure in die Midde-Ooste sal hierdie finale eindtydse stryd afskop, wanneer Jerusalem omring sal wees deur leërs.

“Kyk, daar kom ’n dag vir die HERE; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; ... En die HERE sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog ... En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:1-3, 9).

Die boek Openbaring toon duidelik dat Christus sal terugkeer as ’n oorwinnende gevegsman om alle nasies te onderwerp, voordat Hy Sy Koninkryk kan vestig en vrede op aarde kan meebring. “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid ... En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige” (Openbaring 19:11, 14-15).

Ondanks ’n wêreld wat deurtrek is met geweld, dood en hartseer, sal die nasies Jesus Christus se baie nodige ingryping verwelkom en hulle bekeer van hul vernietigende handel en wandel? Die skokkende, bykans ongelooflike antwoord is: Nee!

“En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid. En die vier-en-twintig ouderlinge wat voor God op hulle trone sit, het op hulle aangesig geval en God aanbid en gesê: Ons dank U, Here God, Almagtige, wat is en wat was en wat kom, dat U u groot mag aangeneem en as koning geheers het. En die nasies was vertoornd, en u toorn het gekom” (Openbaring 11:15-18). Hierdie vertelling toon dat God in die mense se sake moet ingryp om “die verderwers van die aarde te verderf” (vers 18).

Onder diegene wat Christus se wederkoms op die mees aggresiewe manier sal teëstaan, sal die herrese Romeinse Ryk in Europa wees, ’n veelnasie godsdienstige en politiese stelsel wat met ekonomiese en militêre mag sal saamsmelt en die wêreld sal verbaas (Openbaring 17:1, 15). “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin @ want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings @ en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (vers 14).

Duiwelse magte sal miljoene soldate opsweep wat van die Ooste af op die Midde-Ooste sal toesak. “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God ... En hulle het hul versamel op die plek wat in Hebreeus genoem word Armagéddon” (Openbaring 16:14, 16). Hulle sal buite Jerusalem by Megiddo bymekaarkom voordat hulle ’n volskaalse aanval op Christus in Jerusalem loods.

Die profeet Joël beskryf ook hierdie uiteindelike stryd tussen Jesus Christus en die volke van die wêreld. “Ek [sal] al die nasies versamel ... Haas julle en kom aan, alle nasies rondom, en versamel julle. Laat u helde, HERE, daarheen aftrek! Die nasies moet hulle klaarmaak en optrek na die dal van Jósafat; want daar sal Ek sit om gerig te hou oor al die nasies rondom ... Menigtes, menigtes in die dal van beslissing, want naby is die dag van die HERE in die dal van beslissing! Die son en die maan word duister, en die sterre trek hulle glans in. En die HERE brul uit Sion, en uit Jerusalem verhef Hy sy stem” (Joël 3:2, 11-16). Die profeet Daniël beskryf Christus simbolies as ’n rots wat die nasies wat teen Sy goddelike heerskappy rebelleer, sal verbrysel (Daniël 2:34-35, 44).

Uiteindelik sal die mensdom se bloedige nalatenskap oor die eeue van oorlogvoering en die vernietiging van miljoene lewens in gewapende konflik tot ’n vinnige, beslissende einde gebring word deur Jesus Christus, die Koning van konings en Vredevors. Hy sal in geregtigheid oorlog voer en vrede dwarsoor die aarde bewerkstellig. Nasies sal nie meer hul ploegskare in swaarde verander nie. Christus sal die mensdom se afskuwelike geneigdheid tot moord en vernietiging omkeer.

Net soos Jesus voorspel het, is nasies werklik in diepe angs in hierdie eindtyd, verdwaas deur skrikwekkende neigings en skielike, dramatiese veranderings in wêreldtoestande. Mense van alle nasionaliteite kan God dank vir Sy planne dat Jesus Christus Sy Koninkryk op aarde gaan vestig.

Soos Jesaja profeteer: “… en die heerskappy is op sy skouer … tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid” (Jesaja 9:5-6).