Daar is ’n verskil tussen onregverdige oordeel en ware onderskeiding

Die Westerse media gebruik dikwels onnadenkend die woorde vooroordeel en partydigheid. Die woord vooroordeel beskryf ’n partydige en negatiewe gesindheid teenoor ’n ander persoon of groep mense en die gevolg daarvan is gewoonlik onverdraagsaamheid en openlike vyandigheid teenoor hulle. Vooroordeel is meestal ’n sterk teensin in iemand wat slegs gebaseer is op vooropgestelde idees of aannames oor ras, etnisiteit, ouderdom, geslag, godsdiens of ander faktore. Die woord voortrek hou verband met vooroordeel en word dikwels gebruik om ’n sterk, onregverdige voorkeur of goedgunstigheid te beskryf wat onregverdig aan een persoon betoon word teenoor iemand anders. Partydigheid verwys na eensydige sekterisme of kliekvorming – gesindhede wat deelnemers dikwels motiveer in die politieke arena.

Die sosiale media is vol haatdraende en skokkende reaksies op partydigheid asook beledigende skeltaal en beskuldigings van verskeie “ismes” soos rassisme, anti-Semitisme, seksisme en chauvinisme. Al hierdie opruiende welsprekendheid blaas die vuur van haat aan, wat lyk of dit elke dag hewiger word. In die nuus is beskuldigings van partydigheid onder politici aan die orde van die dag.

Dit lyk asof dit die menslike aard is om bevooroordeeld te wees en dan mense te bevoordeel of hulle voorkeur te gee op grond van daardie vooroordele.

Die Bybel leer volgelinge van Jesus Christus om beslissings te maak, om verskille te onderskei en voorkeur aan sommige dinge te gee en ander dinge te verwerp. Sodanige Christelike onderskeidingsvermoë word dikwels verkeerdelik in dieselfde kategorie as hierdie sondige praktyke geplaas – vooroordeel, voortrekkery en partydigheid – terwyl sonde verwelkom word en die versuim om onderskeidingsvermoë aan die dag te lê nou beskou word as die hoogtepunt van verligting en onbevooroordeelde denke. Opregte volgelinge van Christus moet sulke idees verwerp!

 

God se oordele is goed

Die Almagtige God is nie bevooroordeeld, voortrekkerig of partydig nie. Hy sê deur die apostel Paulus vir ons: “Daar is nie meer Jood of Griek nie, daar is nie meer slaaf of vryman nie, daar is nie meer man en vrou nie; want julle is almal een in Christus Jesus” (Galásiërs 3:28). Dit is duidelik dat om aan ’n spesifieke ras, etniese groep, ekonomiese status of biologiese geslag – manlik of vroulik – te behoort, nie sonde is nie en dit behoort dus nie ’n basis vir vooroordeel of partydigheid te wees nie.

Daar word egter van ’n Christen verwag om te onderskei tussen sonde en regverdigheid soos dit in die Bybel omskryf word. Net so moet Christene hulleself distansieer van diegene wat behep is met twisgierigheid en argumentering asook die mense wat ander slegmaak en bose agterdog koester (1 Timótheüs 6:3-5). Christene word ook dié opdrag gegee: “Laat elkeen wat die Naam van Christus noem, afstand doen van die ongeregtigheid” (2 Timótheüs 2:19). Die Skepper-God besluit wat ongeregtigheid of wetteloosheid is. Om te doen wat God sê is Christelikheid, nie voorkeur gee nie. Deur sonde raak te sien en te kies om ’n mens self daarvan te distansieer, is nie vooroordeel nie. Deur ’n ware volgeling van Christus te wees, is nie partydigheid nie.

 

Onderskeidingsvermoë is ’n Christen se lewenswyse

God het antieke Israel opdrag gegee om onpartydig te wees wanneer hulle oordeel (Exodus 23:2-9; Levítikus 19:15). Hy het Israel egter ook beveel om nie soos die nasies rondom hulle op te tree nie (Levítikus 18:3, 24; Deuteronómium 18:9). Gedurende Jesus Christus se tyd het godsdienstige Jode in wese die heidene vermy, deur so te sê niks met hulle te doen te hê nie. In ’n visioen aan die apostel Petrus, openbaar God egter dat daar ook redding aan die heidene gebied word. Trouens die doel van Petrus se visioen was nie om aan te dui dat dit nou toelaatbaar is om onrein vleis te eet nie, maar het eerder daarop gewys dat geen mens as minderwaardig of onrein beskou behoort te word nie (Handelinge 10:28) en dat God niemand voortrek nie (vers 34). (Verwys na ons Julie-Augustus 2020 artikel “Wil u dít regtig eet?” vir meer inligting.)

Jakobus het ons ook teen vooroordeel en partydigheid gewaarsku. Trouens, dit is sonde (Jakobus 2:1, 8-10). Niemand behoort egter tot die gevolgtrekking te kom dat, om vooroordeel, voortrekkery of partydigheid, te vermy, beteken dat ’n Christen alle dinge moet goedkeur wat deur God as sonde in Sy Woord as sonde bestempel word nie. Om “polities korrek” te wees, is nie God se benadering nie en dit behoort ook nie die benadering te wees van diegene wat Christus volg nie. Die Vader en Seun noem enige oortreding van God se heilige Wet presies wat dit is: sonde (1 Johannes 3:4).

Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, lees “Sins of Racism, Anarchy and Secularism!” en “Racism in America: A Thing of the Past?” by TomorrowsWorld.org.