Ek het as kind in 'n hoofstroom Protestantse kerk grootgeword. My ouers, susters en ek het gereeld dienste bygewoon in ’n groterige kerk in suidwes Missouri. Die preke was taamlik algemeen, soms filosofies of vervelig, maar net om kerk by te woon het ons darem “beter laat voel.” Ons het maar die kerk bygewoon wat ons familie altyd bygewoon het. Dit het dus gelyk na die regte ding om te doen. Dit het nooit by ons opgekom om onsself af te vra: “Waar is God se ware Kerk vandag? Waar op hierdie aarde vandag is die lewende Jesus Christus waarlik besig om te werk deur die mens te gebruik om Sy Werk te doen?”

Die meeste mense vra hulleself ook nooit soortgelyke vrae af nie.

Tog is daar vandag verbysterende gebeure op die onmiddellike horison. Dit word in u Bybel voorspel. Een kwart van die hele Bybel bestaan uit profesieë. Ons lees dat Paulus sê: “Verkondig die woord; hou aan tydig en ontydig; weerlê, bestraf, vermaan in alle lankmoedigheid en lering; want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim. 4:2-4). Preek u leraar ooit oor die volledige boodskap van die Bybel? Verduidelik en bring hy gereeld die kragtige eindtyd profesieë van die Bybel onder u en u geliefdes se aandag? Daar is 'n hele aantal spesifieke gebeurtenisse waarvoor ware Christene op die uitkyk moet wees. Hierdie gebeurtenisse sal binnekort duidelik toon dat die mensdom aan die einde staan van hierdie huidige tydperk - die tydperk van die mens se heerskappy op die aarde onder die invloed van Satan die duiwel (Op. 12:9).

Êrens op hierdie aarde het God ware diensknegte wat die eindtydgebeure, waarop ons almal behoort te let, getrou en in geheel verkondig. God het Sy Profeet Amos geïnspireer om te sê: “Want die Here HERE doen niks tensy Hy sy raadsbesluit aan sy knegte, die profete, geopenbaar het nie. Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:7-8).

Talle godsdiensleiers praat oor die eindtyd. Maar wie, in alle eerlikheid, maak aan u bekend - dikwels vooruit - om na spesifieke gebeurtenisse op te let? En wie help u, vandag, om die ware betekenis te verstaan agter die traumatiese omwentelinge in die weersomstandighede, die toenemende aardbewings, die terroriste aanvalle en die aaklige oorloë in Afrika, die Midde-Ooste en elders wat hierdie planeet nou begin bedreig?

Wie maak werklik sin hieruit?

Jesus sê in Johannes 8:31-32: “As julle in my woord bly, is julle waarlik my dissipels. En julle sal die waarheid ken, en die waarheid sal julle vrymaak”. Weereens, as u in Christus se “Woord” moet bly, wie maak werklik daardie Woord vir u betekenisvol? Wie haal voortdurend aan - nie net uit wêreldse geskrifte nie - maar uit die geïnspireerde Woord van God? Wie daag u voortdurend uit: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Tess. 5:21)?

Ons redakteurs en skrywers van die Wêreld van Môre-tydskrif hoop opreg dat elkeen van u intekenare geïnspireerd sal wees om waarlik in u Bybel te delf, die Skrifgedeeltes op te soek en die lewensbelangrike waarheid te bewys wat u in hierdie tydskrif kry deur dit te ondersoek in u eie Bybel! Slegs dan sal u die waarheid verstaan wat u vry sal maak van al die verwarring, halwe waarhede en die misleiding wat ons moderne godsdiens in 'n warboel gedompel het.

Ek het dikwels oor die jare vroom mense van verskeie godsdiensgroepe en kultusse teëgekom wat as selfopgelegde taak die evangelie op straat verkondig. Ek het hulle nou en dan oor sleutel kwessies in die Bybel ondervra. Dit is nogal amusant, eintlik hartseer, om te sien hoe word hierdie ywerige jongmense en selfs ouer garde, van beide geslagte, verleë en hoe hulle selfs met vrees vervul word wanneer hulle gekonfronteer word met duidelike Bybelse bewyse wat die handvol Skrifture waarmee hulle vertroud is, weerspreek. Hulle besef skielik dat hulle ‘uitgevang’ is. Hulle het geen antwoorde op die duidelike en juiste waarhede oor die talle basiese beginsels in die Bybel nie!

Ek is seker dat u sal opmerk wanneer u die Wêreld van Môre-tydskrif lees of die World Tomorrow video’s kyk, dat ons verseker ‘anders’ is! Ons maak staat op die direkte bewoording uit die Bybel wat telkemale aangehaal word om stellings te bewys. Ons probeer werklik hard om die basiese waarheid in die Bybel so maklik as moontlik te verduidelik. As u regtig ons literatuur bestudeer - en veral die voortreflike Bybelstudiekursus - sal u merk dat 'n bestendige lewenswyse in die Bybel uitgespel word wat ver verhewe is bo wat die meeste kerke in die wêreld verkondig. 'n Basiese “sleutel” tot insig is om bereid te wees om te doen wat God sê. Die meeste gelowe in hierdie wêreld van belydende Christene beoefen en verkondig ongelukkig 'n boodskap wat 'n mens ‘goedkoop genade’ kan noem. Hulle bevorder 'n leë sentimentele aanvaarding van die PERSOON van Christus, terwyl hulle absoluut ongenaakbaar staan teenoor die kragtige boodskap van gehoorsaamheid wat Hy deurentyd verkondig. Ons haal dikwels aan van die jongman wat na Jesus gekom het en vra wat hy moet doen om die ewige lewe te beërwe. Jesus gee 'n eenvoudige antwoord: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matt. 19:17). Jesus het toe 'n paar van die Tien Gebooie aangehaal om aan te dui na watter wet Hy verwys.

Wanneer hulle in 'n hoek gedryf word, sal die meeste predikers van die belydende Christendom egter onomwonde verklaar: “U hoef nie die Tien Gebooie te onderhou nie!” Natuurlik voeg hulle by dat die gebooie 'n goeie riglyn is of dat dit goeie beginsels is. Hulle sal ook soms voorgee dat hulle preek oor gehoorsaamheid aan God se gebooie. Hulle weier egter volstrek om hulle volgelinge te leer om die vierde gebod te onderhou of om hulle te weerhou van alle vorme van moord en doodslag, of om egskeiding en hertrou, wat eintlik egbreuk is, onomwonde te verdoem. Hoe dikwels haal u leraar die volgende direkte verduideliking van Jesus oor egbreuk aan: “Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat van sy vrou skei, behalwe omrede van hoerery, maak dat sy egbreuk pleeg, en elkeen wat die geskeie vrou trou, pleeg egbreuk” (Matt. 5:32).

Moet dus nie toelaat dat u mislei word nie! Die onus in hierdie dae van die naderende einde van die ‘wêreld’ is dus op u om vas te stel en te bewys waar God se volledige boodskap vandag verkondig word. U moet weet! Probeer om die talle Skrifture werklik te sien soos dit daar geskryf staan, Skrifture wat sê: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar” (Op. 14:12). Vra God opreg vir ware begrip. Dan eers sal u dwarsdeur die flou argumente van die leraars sien wat die duidelike leerstellings van die Bybel omseil. Onthou ook te alle tye Jesus Christus se kragtige uitdaging: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Luk. 6:46).

Moenie toelaat dat u so maklik om die bos gelei word nie! Herinner uself aan God se ernstige waarskuwing: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat arm is en verslae van gees, en wat bewe vir my woord” (Jes. 66:2). Ons hoor dikwels president Bush sê: “Moenie met Texas mors nie” en ek sê dan nou: “Moenie met die Bybel mors nie!” U as leser - insluitend die dominees, pastore en priesters wat hier lees - word aangeraai om ontsag te hê vir die ware Skepper wat binnekort gaan ingryp en 'n einde sal maak aan al die “speletjies” van belydende godsdiensleiers met Sy Woord! Ons sê dikwels vir u dat God ons inlig hoe om die Bybel waarlik te verstaan, naamlik: “Die vrees van die HERE is die beginsel van die wysheid; almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof bestaan tot in ewigheid” (Ps. 111:10).

Ons in hierdie eindtydse Werk van die lewende God het 'n verantwoordelikheid om die volle Waarheid onder al die nasies te verkondig: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Ten einde hierdie doel te vervul, verskuif ons hoofkantoor na Charlotte, Noord-Carolina, want die ekonomie aldaar is meer gunstig om God se Werk te bevorder. Soos hierdie Werk groei in grootte en omvang sal ons binnekort meer televisie uitsendings kan bekostig, terwyl die sirkulasie van die Wêreld van Môre-tydskrif veelvoudig sal toeneem. So sal ons dan vir God beter dien - ook vir u - in elke opsig. Ons sal wel vir 'n kort rukkie aan bande gelê wees met vertragings in posversendings asook op ander gebiede as gevolg van die verskuiwing na Charlotte, maar oor die algemeen sal ons die Werk baie beter kan doen vanaf ons nuwe tuiste.

U as vriende en intekenare word vriendelik versoek om tot God te bid vir seëninge in hierdie Werk en ook wat betref ons verskuiwing na die nuwe hoofkwartiere te Charlotte. Ook wil ek van hierdie geleentheid gebruik maak om u te bedank vir u belangstelling in die Wêreld van Môre-tydskrif en God se kosbare Waarheid! Mag God u seën en lei wanneer u in Waarheid optree en Hom volg. Omdat u geloof en die oortuiging van u gemoed het om God waarlik en opreg te gehoorsaam, om te doen wat Hy sê, sal God u verstand sekerlik open om in te sien waar Hy vandag Sy Werk doen.