Kan u uit die Bybel bewys wie of wat die geprofeteerde Antichris werklik is? 
Hierdie is nie die een of ander geheime, kriptiese onderwerp nie. 
U korrekte begrip hiervan mag bepaal of u in staat sal wees om die rol wat God vir u in Sy koninkryk beplan te vervul, al dan nie!

Angswekkende gebeure speel hulle af in Amerika en groot dele van die Westerse, sogenaamde “Christen”-wêreld. Die uitwissing van die Tweeling­torings in New York en die verwoesting van die Pentagon in Washington DC, het die gedagtes van miljoene mense op Bybel­profesieë laat fokus. Daar word nou gewonder: “Wat is die doel van God hierin?”

Geprofeteerde gebeure is inderdaad besig om momen­tum te kry. Soos Jesus opdrag gegee het, moet ons almal “waak en bid”, want gedurende hierdie geslag sal werklik af­grys­like, Satan-geïnspireerde tragedies groot dele van hier­­die samelewing tref. Die “Antichris” sal direk vir baie van hierdie gebeure verantwoordelik wees!

Na 11 September 2001 het baie begin wonder: “Is die on­heil­­­spellende Osama bin Laden die geprofeteerde eind­tyd “Antichris”? ’n Dekade vroeër het sommige mense ver­moed dat Saddam Hussein die Antichris was. Voor hom was Mikhail Gorbachev onder verdenking. Selfs van­­dag nog beskou sommige mense Adolf Hitler as die ver­persoonliking van die Antichris.

Kan ons ten midde van al hierdie idees en verwarring werk­lik weet? Kan dit uit die Bybel bewys word wie of wat die “Antichris” werklik is?

Onthou, mense het allerhande teorieë rondom hierdie onder­werp. Onlangs het die evangelistiese leier, Jerry Falwell, sy opinie verkondig dat die komende Antichris waar­­skynlik van Joodse afkoms en uit die stam Dan sal wees. Wat mnr. Falwell oënskynlik nie verstaan nie, is dat die Israelitiese stam van Dan duisende jare gelede al weg­ge­­breek het van Juda – of die “Jode” – en ’n heeltemal ander nasie is! Geskiedkundig het die meeste Protestante teoloë van vorige geslagte aangeneem dat die pous van Rome die “Antichris” was. Die oorspronklike stigter van Protestantisme, Martin Luther, het op 18 Augustus 1520 ver­klaar: “Ons hier is van die oortuiging dat die pousskap die setel van die ware en egte Antichris is”. (The Prophetic Faith of Our Fathers, Le Roy Froom, Volume 2, bl. 121).

Later het Johannes Calvyn, die stigter van dít wat die Presbiteriaanse Kerk geword het, in sy Institutes of the Christian Religion verklaar: “Sommige mense dink ons is te streng wanneer ons die Roomse pous die Antichris noem. Diegene wat dié opinie huldig, besef egter nie dat hulle dieselfde klag van verwaandheid teen Paulus self, wie se manier van praat en wie se taal ons aangeneem het, gebring het nie … ék sal kortliks wys dat (Paulus se woorde in 2 Thessalonicense 2) geen ander ver­tolking as dít van toepassing op die pousskap, geld nie”.

Was daardie belydende Christelike leiers korrek? Of is daar ’n ander antwoord? U mag dalk vra: “Wie gee jou die reg om aanspraak op korrektheid te maak? Hoe kan jy straks die waarheid weet, terwyl so baie van die leiers van die belydende Christendom van mekaar verskil?”

In Psalm 111:10, leer die geïnspireerde woord van God ons: “Die vrees van die Here is die beginsel van die wys­heid. Almal wat dit beoefen, het ’n goeie verstand. Sy lof be­­staan tot in ewigheid”.

Menigte van u weet dat óns in die Werk van Christus, glo in die onderhouding van God se gebooie. Daarom kon ons u vooruit vertel van die meeste van die belangriker profetiese gebeure wat tans realiseer. Maar, soos hulle sê: “Die gehalte van iets kan slegs vasgestel word nadat dit op die proef gestel is”. Geprofeteerde gebeure kry momen­tum! Wat ek u in hierdie boekie gaan vertel, kan bewys word, mits u dít wat ek skryf, sorgvuldig met die Bybel vergelyk en werklik die teksverse waarna ek verwys, bestudeer. U sal binnekort sien dat wêreldgebeure, in­sluitende godsdiensgebeure, die patroon wat ek sal beskryf, direk sal volg, dus sal u binne­kort weet wie reg is aangaande hierdie lewensbelangrike onderwerp.

Om hierdie onderwerp van die “Antichris” te onder­soek, is nie bloot om ’n geheime, kriptiese onderwerp te onder­soek nie. Om hierdie onderwerp reg te verstaan, mag absoluut onontbeerlik wees vir die oorlewing van u en u gesin in die jare wat voorlê. Meer belangrik nog mag dit bepaal of u deel sal hê in die eerste opstanding met Christus se wederkoms, en sodoende u rol in die Koninkryk van God te vervul, al dan nie!

’n Magtige godsdiensleier sal waarskynlik nog ge­durende hierdie geslag op die toneel verskyn. Hy sal in­druk­­wekkende tekens en wonderwerke doen. Hy sal die finale verpersoonliking wees van dít wat die Bybel beskryf as die “Antichris”.

Tog, soos ons sal sien, was daar in die verlede – en is daar nog steeds­ – baie Antichriste! Onderliggend aan al hul misleidings, is die “gees van die Antichris” – die verkeerde benaderings en vals leerstellings wat biljoene menslike wesens verblind het vir die begrip van God se Waarheid. Die “leer­stelling” van die Antichris word nie ver­staan deur die meeste van die wêreld se godsdiensleiers nie.

“Hoe so?” mag u vra.

Omdat daar ’n baie werklike Satan, die duiwel, bestaan. Jesus Christus noem hom by twee geleenthede “die owerste van hierdie wêreld” (Johannes 12:31; 14:30). Satan is die groot verleier. Die apostel Johannes maak dit baie duidelik dat Satan die oorgrote meerderheid van die mensdom mislei: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

“Maar ek is nie mislei nie!” sal u sê. Moet nie te seker wees nie!

Ons gaan u nou in hierdie boekie toon wat bo alle twyfel die opperste misleiding is wat Satan aan die al­ge­mene Christendom afgesmeer het. Die wydverspreide mis­­leiding rakende die “Antichris” is maar die “puntjie van die ysberg” van die ontsaglike godsdiensmisleiding wat in die naam van “Christelik­heid” plaasvind. Hierdie mis­leiding is weliswaar só deeglik dat duisende belydende Christenleraars en -priesters sélf mislei is en sodoende nie eens besef dat hulle ’n blinde leuen voortdra nie! Jesus Christus beskryf die valse godsdiensleiers van Sy dag dien­­ooreenkomstig: “Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal altwee in die sloot val” (Mattheus 15:14).

Hoe miljoene mislei is

Hierdie massa-misleiding kom so wydverspreid en ge­loofwaardig voor omdat baie van die massa-misleiding se leer­stellings oppervlakkig “goed lyk”. Die meeste van die massa-misleiding se volgelinge sal sê dat ons in Christus moet glo. Hulle sal sê dat Christene liefde, goedheid, genade en geduld moet betoon en “goed moet doen” aan hulle mede­mens: gee aan die armes en ondersteun hos­pitale, wel­willend­heidsorganisasies en tehuise vir onge­hude moeders. Hulle sal sê dat Christene op Jesus se “wet van liefde” moet reageer.

Dit klink alles bybels. Dit klink baie goed!

Hierdie volgelinge vertel u egter nie watter van God se wette onderhou moet word en presies hoe God se wette onder­hou moet word nie. Hulle sal met sentiment praat van Christus as die “Heer” van ons lewens, maar sal egter onafwendbaar faal om te verduidelik dat, as Jesus die “Heer” is, ons Hom moet gehoorsaam. Hulle sal u nooit ver­tel dat Jesus direkte en deurgaanse gehoorsaamheid aan al die Tien Gebooie geleer het nie!

Daarom, as gevolg van hierdie Satan-geïnspireerde misleiding, is baie van die bloed­dorstigste oorloë van die moderne geskiedenis tussen belydende “Christen” nasies in Europa gevoer. Aan beide kante het biskoppe hul troepe geseën tydens die gereedmaking vir oorlog. Duisende jong mans – baie slegs tieners – het dan teen die een of ander bult uitgehardloop om ander jong mans, wat telkens aan dieselfde kerkgroep as húlle behoort, te skiet of brutaal te deurboor! Almal was oënskynlik “Christene”. Almal was oënskynlik lede van die “liggaam van Christus” – die Kerk waarvan Jesus die lewende, aktiewe Hoof is (Efesiërs 1:22-23).

Maak dit u effens “ongemaklik” om dit te lees? Wel, dit behoort! En nog belangriker, ek hoop en bid dat dit u aan die dink sal kry. Te veel van ons het grootgeword in die een of ander algemene kerk en ons godsdienstige uitgangspunte as vanselfsprekend aanvaar, bloot aange­neem dat alles goed sal gaan as ons net saam met die skares beweeg, vermeng in die wêreld en redelik ordentlike, “gerespekteerde” lewens leef. Dit is presies hoe die meeste van ons gruwelik mislei is, soos ek self ook mislei was in vroeëre jare, en so het ons in ’n valse evangelie, ’n verkeerde lewenswyse en ’n “ander” Jesus Christus begin glo!

Satan wil hê dat u die “teiken mis”

Een van die Griekse woorde vir “sonde” in die Nuwe Tes­tament beteken letterlik: “om die teiken te mis”. So is Satan genoeë daarmee om u in God en Christus te laat “glo”, solank hy u net steeds kan beheer en “die teiken kan laat mis”. Sy doel is om u, wat hom en sy demone gaan ver­vang, uit die toekomstige Koninkryk van God te hou, deur u te verblind vir dit wat werklik gebeur! God het die apostel Jakobus geïnspireer om te skryf: “Jy glo dat God een is. Jy doen goed; die duiwels glo dit ook en hulle sidder” (Jakobus 2:19). Jakobus verduidelik verder dat die ware Christen nie slegs in God moet glo nie, maar aan die wil van God moet toegee en doen wat Hy sê (verse 20-23). Jakobus skryf: “Sien julle dan nou dat die mens geregverdig word uit die werke en nie alleen uit die geloof nie?” (vers 24).

“Geregverdig word uit werke?” Ja – tesame met ge­loof! Lees vers 24 self. Dit behoort baie duidelik te blyk dat ware Christenskap baie meer behels as om bloot in geloof te aanvaar dat Christus se dood – wat ’n gratis geskenk van God is – ten volle betaal vir ons sondes. Wanneer ons Christus se offerande aanvaar, moet ons ’n letterlike “verbond met ons Skepper” sluit, om op te hou sondig in die toekoms – om werklik toe te gee sodat Christus Sy gehoorsame lewe ín ons, deur die Heilige Gees, kan leef! God se geïnspireerde Woord sê vir ons: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Ons moet ons dus bekeer van sonde, en die verbreking van God se geestelike wet, die Tien Gebooie. Dit behels ’n lewe van nederige gehoorsaamheid – die “werke” van die onderhouding van God se wette en gebooie.

Laat ons verstaan dat niemand verlossing kan verdien nie; dit is ’n geskenk van God! Die genadegawe van God lei na die geskenk van die heiligmaking (Efesiërs 2:8-10; Romeine 6:23). Diegene wat gewillig is om God te gehoorsaam (Handelinge 5:29,32) en wat onder ware ge­nade is, sal God se “maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke” wees (Efesiërs 2:10). God se genade skakel nie die nodigheid vir gehoorsaamheid en die onderhouding van Sy gebooie uit nie. Die apostel Paulus waarsku dat mens die genade van God tevergeefs kan ontvang (2 Korintiërs 6:1), dit terwyl die apostel Petrus Christene ook vermaan: “wees nugter en hoop volkome op die genade wat julle deel word by die openbaring van Jesus Christus” (1 Petrus 1:13). Hy gaan voort met die verwagting dat ons moet handel “soos gehoorsame kinders” (vers 14, ver­gelyk vers 2).

Wanneer mense egter op slinkse wyse “genade” mis­bruik – deur “goedkoop genade” sonder ware be­kering van sonde te leer, is dit die ware wese van die leer­stelling van die Antichris! Hierdie valse konsep het toege­laat dat miljoene belydende Christene gereeld en uit ge­woonte die Tien Gebooie verontagsaam, dog steeds aan­neem dat hulle “goeie Christene” is.

Die apostel Judas is geïnspireer om ons te waarsku teen híer­die misleiding: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aan­wend om aan julle oor ons gemeenskaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. Want sekere mense het ingesluip wat lank tevore al opgeskryf is vir hier­­die oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid, en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).

Let daarop dat Judas ons vermaan teen vals leer­meesters wat die idee van “genade” as ’n middel tot “on­ge­­bondenheid” gebruik, as toestemming om God se wette te verontagsaam!

“Nooit! My leraar sal dit nooit doen nie!” mag u protesteer.

Ek is jammer, vriende, maar die moontlikheid bestaan dat hy of sy sal bevestig wat ek sê indien u die leraar direk nader met dié vraag: “Pastoor Smit, verwag God van ware Christene om die Tien Gebooie te onderhou?” In­dien u die vraag direk in hierdie woorde vra, sal die meeste leraars begin mompel in die lyn van “gered deur ge­nade”. Hulle mag dan haastig byvoeg dat die Tien Gebooie ’n goeie morele riglyn is, maar dat “jy dit nie hoef te onderhou nie, aangesien jy gered word deur genade”.

Indien u volhou en aandring op ’n direkte antwoord in die verband, sal hy moontlik die kwessie opsy wil sit óf verwys na die “nuwe” gebooie van Christus. Miskien sal hy einde ten laaste met die sak patats vorendag kom en sê wat feitlik alle algemene kerke eintlik leer – dat die Tien Gebooie aan die “kruis vasgespyker is” met Christus se dood, of dat die apostel Paulus op ’n manier daarmee “weggedoen” het! Soos ek nou sal verduidelik, is hierdie die “kern” van die leerstelling van die Antichris!

Hoe so?

Waarom is dit so ’n ernstige saak? Omdat dit ’n “wettelose samelewing” tot gevolg het – ’n samelewing wat afgesny is van God aangesien die Tien Gebooie welis­waar Sy karakter weerspieël. God se ontsaglike doel behels dat ons Sy “goddelike natuur” deur die Heilige Gees ontvang (2 Petrus 1:4). Dit behels dat ons deur ’n proses van geestelike groei en “oorwinning” gaan, om so­doende God se eie karakter te weerspieël en in staat gestel word om saam met Christus in Sy komende Koninkryk te regeer. Jesus meld spesifiek: “En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met ’n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het” (Openbaring 2:26-27).

’n Leerstelling van ONGEHOORSAAMHEID

Die ware heiliges van God word deur Hom voorberei om Satan en sy demone te vervang as heersers oor die aarde. Satan is tans “die god van hierdie wêreld” (2 Korintiërs 4:4). Hy is nou “die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van ongehoorsaamheid werk (Efesiërs 2:2).

Tog sê die apostel Paulus vir ons: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die ge­ringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” (1 Korintiërs 6:2-3).

Waarom het u nie baie meer gehoor aangaande hierdie ontsaglike doel van die ware Christen om heerskappy uit te oefen in die toekoms nie? Dit is omdat Satan wil verhoed dat hierdie kennis die mense bereik, sodat hulle so­doende nie in staat sal wees om hom en sy demone te vervang in die regering van hierdie aarde nie. Daarom het hy, die “vader” van leuens (Johannes 8:44) die oorgrote meerderheid van die mensdom mislei – in­sluitende twee biljoen belydende Christene – rakende God se doel vir die mens en die wyse om daardie doel te bereik!

Wat Satan se misleidings betref is daar sekerlik nie een só groot soos sy stelsel van “vervalste Christenskap” nie! Die apostels het geweet dat dit sou gebeur. Paulus waar­sku: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval [afvalligheid van die waarheid] kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die ver­derf [die wettelose mens, NV], … Want die verborgen­heid van die ongeregtigheid [die geheime krag van die wette­loosheid, NV] is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou uit die weg geruim is; en dan sal die onge­regtige [wettelose, NV] geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van Sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thessalonicense 2:3, 7-8).

Let daarop dat die valse godsdienstige stelsel “die verborgenheid van ongeregtigheid” genoem word. Kort voor Christus se wederkoms sal ’n figuur genaamd “die mens van sonde” of “die seun van die verderf” aan die hoof hiervan staan. Na hiérdie man, wat dade en tekens en “wonders van die leuen” (vers 9) sal uitvoer, word elders in die Skrif verwys as die groot “valse profeet” wat wonderwerke doen (Openbaring 13:13; 19:20).

U moet egter besef dat Paulus gesê het hierdie vals Christenskap “al aan die werk [is]” (2 Thessalonicense 2:7) ten tye van sy skrywe hiervan – soos dit steeds van­dag die geval is. Die voorstanders van hierdie stelsel van wetteloosheid, praat van liefde en van die Heer, maar hulle los Christus se kragtige instruksie om die gebooie van God te onderhou uit. Tog weet ons dat, toe die jong man by Jesus kom en Hom vra wat hy moet doen om die ewige lewe te kan hê, Hy geantwoord het: “as jy in die lewe wil in­gaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17). Jesus be­gin dan om van die Tien Gebooie op te noem. Met Sy Bergpredikasie vertel Jesus ons: “Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele” (Mattheus 5:19).

Uit daarmee: wie maak aanspraak op die mag om “weg te doen” met hierdie duidelike lering van Jesus Christus? Moontlik u leraar, u kerk?

Paulus waarsku weer eens die Christene van sy tyd: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, laat julle jul dit goed geval” (2 Korintiërs 11:4). Onwetend het die meeste van ons grootgeword deur te hoor van ’n “ander Jesus”, ’n “ander gees” en baie beslis ’n “ander evangelie” as die een wat Jesus en die apostels gepreek het!

Weer eens, waarom?

Omdat Satan elke beskikbare taktiek aangewend het om mense sover te kry om die “leerstelling van die Anti­chris” te glo! Indien u bereid is om realiteit in die gesig te staar; indien u werklik die ware doel waarvoor u gebore is, wil vervul, moet u verstaan wat daardie leerstelling is en dit ten alle koste vermy!

Jesus self waarsku ons: “Pas op dat niemand julle mis­lei nie, want baie sal onder My Naam kom en sê: Ek is die Christus!, en hulle sal baie mense mislei”. (Mattheus 24:4-5). Let daarop dat dit “baie mense” is wat mislei sal word. En hoe? Hulle sal mislei word omdat hierdie “baie” valse leraars sal kom “in Jesus se Naam”. Begryp dit! Hulle gebruik Jesus se eie Naam om mense te mislei! Hulle kom as “Christen” predikante en leraars, maar hul bood­skap is duidelik in teenstelling met die bood­skap wat Jesus self gepreek het.

Omdat “Christen” op die buitekant van die pakket ge­stempel is, maak die meeste mense onnadenkend die aanname dat Christus die inhoud van die pakket moet onder­skryf! Hierdie misleide mense versuim egter om werklik hul Bybels te bestudeer. Hulle laat na om alle dinge te beproef, soos God beveel, dus word hulle maklik mislei deur ’n valse “Christelikheid” geskoei op die leer­stelling van die “Antichris”.

Die woord “Antichris” word die eerste keer gemeld in 1 Johannes 2:18: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is”. Eerstens sién ons die “Antichris” waarvan hulle ge­hoor het. Dit is natuurlik die “valse profeet” van Open­baring en die “mens van sonde” waarvan Paulus geskryf het. Tog identifiseer sommige mense die Antichris ver­keerdelik as die komende wêrelddiktator en politieke stelsel genaamd “die Dier” in Bybelprofesie. Hulle ver­geet dat die ware “mag agter die troon” die ge­heim­sinnige “hoer” van Openbaring 17 is en dat hierdie gevalle vrou die Dier van Openbaring “ry” of beheer.

Die Hoer van Openbaring 17

Miljoene mense – selfs baie teoloë – word stomge­slaan deur die geheimsinnige “hoer” van Openbaring 17. Tog be­­stee die Woord van God die grootste deel van ’n ganse hoof­stuk, insluitende baie verwysings elders, aan hierdie nood­­saaklike onderwerp. Wie is hierdie “hoer” en wat is haar verband met die Antichris?

Wie ook al hierdie groot “hoer” is, is baie magtig. Sy het die dood van ontelbare miljoene in die verlede veroorsaak en nóg miljoene sal in die toekoms aan haar hand sterf. Sy is bestem om die lewens van alle mense wat tydens die eindtyd leef ingrypend te verander – in­sluitend talle van u wat tans hierdie boekie lees! Hierdie hoer sit wydsbeen oor ’n stelsel wat talle nasies en menigtes saamsnoer: “En hy sê vir my: Die waters wat jy ge­sien het, waar die hoer op sit, is volke en menigtes en nasies en tale” (Openbaring 17:15). Hierdie hoer bestaan deur­lopend tot en met Christus se wederkoms! God se Woord verduidelik die “tien horings” of tien konings (vers 12) wat teen daardie tyd na vore sal tree: “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uit­ver­kore en getrou, … En die tien horings wat jy op die dier ge­sien het, hulle sal die hoer haat en haar verlate maak en naak, en haar vlees eet en haar met vuur brand” (verse 14,16).

Hedendaagse teoloë en Bybelkommentators probeer om “polities korrek” te wees in hul verwysings na die groot hoer. Let byvoor­beeld op hierdie verduideliking uit die “Ex­positor’s Bible Commentary”, Volume 12, bll. 553-554: “In groot opsigte beheer die vertolking van hier­die hoofstuk die vertolking van die hele boek Openbaring. Vir ’n meerderheid Bybelverklaarders ver­teenwoordig Babilon die stad Rome. Die dier verwys na die Romeinse Ryk met sy onderdanige provinsies en mense as geheel. Die sewe koppe [berge] (vers 9) is die sewe verkose vorstehuise van Romeinse heersers sedert Augustus tot Domitianus. Die tien konings is hoofde van kleiner en on­rus­tige state wat angstig is om te ontsnap uit die ver­knegting onder koloniale mag. Johannes se voorspelling van die val van Babilon is sy aankondiging van die dreigende verbrokkeling van die Romeinse Ryk in alle aspekte”.

Terwyl die kommentators Babilon korrek identifiseer met die stad Rome, veralgemeen hulle dat “vroeë Christen lesers sou verstaan dat wanneer hulle ook al met die dood gedreig is deur enige wêreldlike mag ... hulle in werklik­heid die bloed­dorstige moeder van die hoere in die gesig gestaar het vir wie God op die punt was om te oordeel en vir ewig te vernietig” (bl. 557).

Selfs al verstaan hulle “Babilon” se identiteit reg, was daardie geleerdes, soos die meeste vandag ook, nie in staat om te sien dat die “vrou” – die groot hoer – die Dier (heden­daagse Babilon) “ry” nie. Sy word duidelik uitgebeeld as een wat heeltemal apart van die Dier is – die ryk van tien finale konings wat hul mag en krag oorgee aan die een superdiktator genaamd “die Dier”. Dit is voor-die-hand-liggend dat die vrou nie die Dier kan “ry” én terselfdertyd die Dier kan wees nie!

Talle geleerdes besef egter wel dat die Dier van Openbaring 17, die Romeinse Ryk en sy “her­lewings” in verskeie vorme is. Vir ’n boeiende en deeglike ver­duideliking aangaande die identiteit van hierdie “Dier” van Openbaring 17, kan u gerus skryf om ’n eksemplaar van ons boekie genaamd “Die Dier van Openbaring” te ontvang. Dit sal gratis aan u gestuur word indien u dit versoek.

Wie IS hierdie “vrou”?

In die Nuwe Testament word die term “vrou” deur­gaans gebruik as simbolies vir ’n kerk. Paulus skryf by­voor­beeld aan die Kerk van God in Korinte: “Ag, as julle my net ’n bietjie in my dwaasheid wou verdra! Verdra my tog maar! Want ek is jaloers oor julle met ’n goddelike jaloers­heid, want ek het julle aan een man verbind, om julle as ’n reine maagd aan Christus voor te stel” (2 Korintiërs 11:1-2). Die ware Kerk word hier beskryf as “verbind” tot Jesus Christus, in die posisie van ’n ver­loofde vrou aan haar aanstaande, wat Jesus Christus is.

In Efesiërs 5:23-24 skryf Paulus: “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees”. Dié ver­ge­lyking identifiseer weer die ware Kerk in die posisie van ’n vrou – een wat onderdanig is aan haar man, Christus. In Openbaring 12:1-5 lees ons ook die besielende verhaal van die “vrou”, dié keer as antieke Israel, die “ver­gadering [kerk] in die wildernis” (Handelinge 7:38), wat deur God gebruik is om die Messias voort te bring: “’n man­like kind …, wat al die nasies met ’n ystersepter sou regeer”.

Vers 6 hervat die vertelling oor die “vrou”, nou die ware Nuwe Testamentiese Kerk, wat vlug na die woestyn na “’n plek wat deur God gereedgemaak is”. Die daarop­volgende verse maak dit selfs nog duideliker dat hierdie “vrou” inderwaarheid die ware Kerk van God is wat deur God Self beskerm word teen die woede van Satan.

Wanneer ons dus kom by die “vrou” van Openbaring 17, behoort dit voor die hand liggend te wees, as ons die Bybel toelaat om sy eie simbole uit te lê, dat hierdie vrou inder­daad ’n kerk is! Hierdie kerk, wat “op ’n skar­laken­rooi dier sit” (vers 3), is egter waarlik ’n geestelike “hoer”.

Sy het gehoereer met die leiers en konings van hierdie wêreld (vers 2) en die bewoners van die aarde het gees­telik “dronk” geword vanweë haar valse leerstellings. Sy is die “moeder” kerk, wat geboorte skenk aan geestelike “hoere” (vers 5). Soos aangedui, word sy vereenselwig met “verborgenheid”, soos ook die antieke heidense ge­lowe voor haar.

’n VERVOLGINGSKERK 

Hierdie “vrou” is ook ’n kerk van groot vervolging. Die apostel Johannes is geïnspireer om te skryf: “En ek het die vrou gesien, dronk van die bloed van die heiliges en van die bloed van die getuies van Jesus, en ek het my uitermate verwonder toe ek haar sien” (vers 6).

Dink tog hieroor!

Wie is hierdie groot gevalle vrou, ’n magtige kerk, wat dronk was en weer eens “dronk sal wees van die bloed van die heiliges”? Sy vervolg klaarblyklik die ware Christene, die ware “heiliges” van God. Hulle word beskryf in Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof van Jesus bewaar”.

In teenstelling met die gebodsonder­houdende Kerk van God, verwerp hierdie groot afvallige kerk en haar “dogter” kerke die nodigheid om die Tien Gebooie te on­der­­hou as ’n lewenswyse! In hul geestelike dronken­skap redeneer hulle op die een of ander wyse rondom die eenvoudige en duidelike leringe van Jesus: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheus 19:17).

Lees ons geskiedkundig van ’n groot kerk wat miljoene mense gedurende die Middeleeue vervolg het? Het so ’n kerk weliswaar bestaan?

In sy behoorlik nagevorsde boek, A Woman Rides the Beast (bll. 243-244) beskryf skrywer Dave Hunt wat die “vrou” vir honderde jare gedurende die Middeleeue ge­doen het:

“So het die Rooms-Katolieke geloof ‘die mees vervolgende een geword wat die wê­reld nog ooit gesien het … [wat aan­ge­dring het daarop] dat die troon die Christen [Ka­to­lieke] geloof afdwing op al sy onder­dane. Innocentius III het talle meer Christene ver­moor in een agtermiddag … as wat enige Romeinse keiser gedoen het ty­dens sy ganse heerskappy’. Will Durant skryf openlik: ‘Vergeleke met die ver­volging van dwaalleer in Europa van 1227 tot 1492, was die vervolging van Christene deur die Romeine gedurende die eerste drie eeue na Christus ’n matige en menslike prosedure.

Deur die nodige toegewings te maak wat van ’n historikus verwag kan word en wat toe­gelaat word deur ’n Christen, moet die Inkwisisie, tesame met die oorloë en ver­volgings van ons tyd, geklassifiseer word as een van die donker­ste vlekke opgeteken in die ge­skiedenis van die mensdom, wat ’n bru­taliteit onthul ongekend in enige dier’”.

Toe Johannes dus hierdie “vrou” of afvallige kerk “dronk met die bloed van die heiliges” gesien het, het hy be­slis nie oordryf nie. Selfs menige Katolieke skrywers was al besonder verleë oor dit wat hul kerk vir honderde jare beoefen het. Met die uitgebreide argiewe wat nou be­kend is – priesters wat jong manne gesodomiseer het, talle pouse wat openlik minnaresse aangehou en buite-egtelike kinders dwarsoor Italië verwek het en hoë poste wat in die kerk aangebied en verkoop is vir geld – blyk dit vir baie ob­jektiewe historici dat hierdie magtige kerk die on­om­wonde verpersoonliking van boosheid in bykans elke op­sig was.

Daniël se “ANDER HORINKIE”

Die profeet Daniël is geïnspireer om hierdie smerige gods­dienstige stelsel as ’n “ander horinkie” te beskryf. Ná die vier groot heersende koninkryke van die Heidense wêreld – Babilon, Medo-Persië, Alexander se Grieks-Macedoniese Ryk en uiteindelik Rome – beskryf Daniël ’n “ander horinkie” wat tussen die vorige oplewings van die Romeinse Ryk opkom: “Terwyl ek op die horings ag gee, kom daar ’n ander horinkie tussen hulle op, en drie van die vorige horings is daarvoor ontwortel; en kyk, in hierdie horing was oë soos mens-oë, en ’n mond wat groot dinge spreek ” (Daniël 7:8).

In verse 25-27 van dieselfde hoofstuk is Daniël geïnspireer om die optrede van hierdie verwaande “ander horinkie” te beskryf en hoe dit sal voortduur tot en met die wederkoms van Christus en Sy heerskappy oor die nasies: “En hy sal woorde spreek teen die Allerhoogste en die heiliges van die Allerhoogste mishandel; en hy sal probeer om tye en wet te verander, en hulle sal in sy hand oorge­gee word gedurende ’n tyd en tye en die helfte van ’n tyd. Maar die gereg sal sit, en hulle sal hom die heerskappy ont­neem om dit vir goed te verdelg en te vernietig. Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ’n ewige koninkryk en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees”.

Let daarop dat hierdie “ander horinkie” anders is as die heidense ryk (vers 24), aangesien dit eintlik ’n gods­diens­tige ryk is! Let ook daarop dat hierdie smerige stel­sel se menslike leier “woorde spreek teen God”, ware Christene vervolg en beplan om tye en die wet te ver­ander. Die Rooms-Katolieke kerk het presies dít ge­doen, soos die Skrif voorspel het – deur te leer dat die Tien Gebooie ondergeskik is aan die gesag van die kerk en dat dit by wyse van daardie gesag God se bevelende sewende­daagse Sabbat (Eksodus 20:8-11; Hebreërs 4:9-11) kon ver­ander en dit vervang met die heidense “dag van die son” in plaas van God se Sabbatdag.

Die welbekende eietydse historikus, Will Durant, skryf: “Die ernstige stemming van die Joodse Sabbat is verplaas na die Christelike Sondag wat dit vervang het in die tweede eeu” (The Story of Civilization, volume 3, 1972, bl. 599). Hoe het dit gebeur? ’n Rooms-Katolieke studie­kur­sus vertel ons dat “die [Roomse] Kerk die verpligting ver­plaas het van Saterdag na Sondag” (Father Smith Instructs Jackson). Die Catholic Mirror stem saam: “Die Ka­tolieke Kerk … uit hoofde van haar Goddelike missie, het die dag van Saterdag na Sondag verander” (23 September 1893). Indien u meer inligting verlang aan­gaan­de die ware Bybelse Sabbat, skryf asseblief vir ons kragtige en insig­gewende boekie, “Watter dag is die Christelike Sab­bat?”

Die pousdom vooruit voorspel

Soos ons gesien het, is die “ander horinkie” van Daniël be­­skrywend van die valse kerk en veral haar segsman, die pous, wat “woorde teen God” spreek. In die Nuwe Testa­ment inspireer God die apostel Johannes om die “her­lewing” van die laaste Dier, die Romeinse Ryk, te be­skryf (Openbaring 13:1-10). Dan, in verse 11-14, word “’n ander dier” beskryf wat opkom, wat soos ’n “Lam” of soos Christus lyk, maar soos ’n “draak” praat, Satan die duiwel (Openbaring 12:9). Hierdie uitsonderlike slim en on­heil­spel­lende valse profeet oefen al die mag van die eerste dier [die herleefde Romeinse Ryk] in sy teen­woordigheid uit en veroorsaak dat die aarde en die wat daarop woon die eer­ste dier, waarvan die dodelike wond genees is (Openbaring 13:12), aanbid. Met ander woorde, hierdie groot valse profeet is in staat om die meeste van die mens­dom te oorreed om die herleefde Romeinse Ryk te eer en gehoorsaam!

Dan lees ons: “Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hy gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaard­wond ontvang het en lewendig geword het” (verse 13-14).

Namate hierdie stelsel ontwikkel sal ’n “man van sonde” geopenbaar word; iemand wat vermetel genoeg is om vir hom­self die titels en gesag toe te eien wat net aan God behoort. Hy sal as ’n ware “god” in die tempel van God sit en som­mige van die titels van God gebruik. Trouens, hoewel Jesus vir God “Heilige Vader” noem, noem die Rooms-Katolieke die pous “Mees Heilige Vader” en “die Plaasvervanger van Christus” – wat let­ter­lik beteken “in die plek van Christus”.

Dave Hunt beskryf die godslasterlike aansprake van die pousdom:

“Die algehele onderdanigheid wat Rome ver­­eis, is deur vele pouse uitgespreek, maar geen­­een het dit duideliker gestel as Nicholas I (858-67) nie:

‘Dit is duidelik dat die pouse nóg gebind nóg ontbind kan word deur enige aardse mag, nie eens deur dié van die apostel [Petrus], as hy sou terugkeer na die aarde nie, aangesien Konstantyn die Grote erken het dat die pouse die plek van God op aarde be­­klee, waarvan die goddelikheid daarvan nie ge­oordeel kan word deur enige lewende wese nie. Ons is dus onfeilbaar, en wat ook­al ons op­tredes is, is ons voor niemand daar­voor aan­spreeklik behalwe onsself nie’” (A Woman Rides the Beast, bll. 153-154).

Sodoende het die pouse aanspraak gemaak daarop dat hulle “die plek van God op aarde” beklee! En wat selfs meer angswekkend is, is dat hulle voortgaan om sulke aan­sprake te maak en selfs daarmee wegkom in ons soge­naam­de “moderne” wêreld. Omdat die Rooms-Katolieke Kerk so ’n alomteenwoordige en magtige entiteit is, is die media gewoonlik versigtig om selfs die mees verregaande en godslasterlike aansprake van die moderne pouse en gees­­telikes aan te val.

Maar hoe is dit alles bestem om u lewe te raak?

Die Dier en die Vrou – weer eens saam

Min mense besef dat die sogenaamde “Heilige” Romeinse Ryk besig is om reg onder ons neuse te herleef! Dwarsdeur die grootste deel van kontinentale Europa is daar groot druk vir algehele Europese eenheid. Een van die grootste rolspelers in hierdie geopolitiese skaakspel is – reg geraai! – die pous self.

In sy gedetailleerde en onthullende boek, The Principality and Power of Europe (bll. 36-37), verduidelik Britse skrywer Adrian Hilton wat besig is om te gebeur:

“Met sy besoek aan Oostenryk in 1983 het die pous hom téén nasionale en kunsmatige grense dwarsoor Europa uitgespreek. Hy het bygevoeg:

‘Europeërs moet die dreigende inter­nasionale konfrontasies van state en allian­sies oorkom en ’n nuwe verenigde Europa skep wat strek vanaf die Atlantiese Oseaan tot by die Oeralgebergte’.

In 1988 gaan hy voort met hierdie tema toe hy die Europese parlement in Strasbourg toe­­gespreek het; ’n geleentheid waar talle mense gevra het waarom ’n pertinente gees­­telike leier, sake van politieke eenheid be­­spreek het. In 1991 som die Sunday Telegraph die pous se planne vir die ‘evan­geli­sasie’ van Europa soos volg op:

‘Hy is stadig besig om die dekmantel aan te neem wat hy ernstig beskou as sy God­delike Reg – as nuwe Heilige Romeinse Keiser, wat heers vanaf die Oeralgebergte tot by die Atlantiese Oseaan’”.

Hoewel die Bybel definitief nie aandui dat die laaste pous die “keiser” van hierdie herleefde Heilige Romeinse Ryk sal wees nie, dui dit egter duidelik daarop dat hy die “mag agter die troon” sal wees. Soos God duidelik aan ons toon, “veroorsaak” die komende valse profeet dat almal wat nie hierdie stelsel aanbid nie, “gedood word” (Openbaring 13:15). Dus, soos baie pouse in die Middel­eeue gedoen het, sal hy die mag van die staat – die “Dier” – gebruik om sy wil op die ganse Westerse wêreld af te dwing!

Onthou u wat onder Adolf Hitler gebeur het? ’n Klop aan die deur en ’n ma of pa word gegryp en deur die staats­­polisie in ’n trok geboender omdat hulle die een of ander “polities verkeerde” ding gedoen of kwytgeraak het! Dink u dit kan nie wéér gebeur nie? Indien wel, kan u nie meer verkeerd wees nie!

Die God wat aan ons lewe gee, beskryf duidelik hoe die vrou weer eens die Dier “ry”. Die meeste mense besef nie dat die valse leringe en gebruike van hierdie gevalle “vrou”, die hele wêreld deurtrek het nie. Dit is presies wat Johannes geïnspireer was om te skryf: “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Selfs opregte Protestante en Lutherse is onwetend gees­telik dronk gemaak deur die heidensheid van hierdie stel­sel: “en die bewoners van die aarde het dronk geword van die wyn van haar hoerery” (Openbaring 17:2). Wat elke leser moet besef is dat Satan die onsigbare “god” van hier­­die huidige wêreld is (2 Korintiërs 4:3-4) en dat “alle nasies” geestelik dronk is.

Ter beskrywing van hierdie volledige stelsel en die “hoer­­dogters” wat uit die “moeder” Rome voortgekom het, sê die gerespekteerde Critical and Experimental Commentary die volgende:

“Nie slegs Rome nie, maar die Christen­dom as geheel het, net soos Israel as geheel, ’n hoer geword … Eksterne omvangryk­heid regoor die wêreld, en interne mee­gaand­­­heid daarmee saam – wêrelds­gesind­heid by uitstek en inhoud – word ge­sim­bo­li­seer deur die wêreldstad se naam, ‘Babilon’” (Volume 6, bl. 710).

Ekumenisme – Godsdienstige Hoerery?

Vandag se nuus is vol artikels aangaande die eku­me­niese beweging. Een opskrif lees: “Rooms-Katoliek, Oosters-Ortodokse Leiers hervat samesprekings”. Nog ’n op­­skrif lees: “Anglikaanse, Lutherse Alliansie gevorm”. Toe­­nemend meer van die Protestante kerke probeer saam­kom en sommige berei voor om terug te keer na “moeder” – die Rooms-Katolieke Kerk. Met verwysing na die Rooms-Katolieke en Oosters-Ortodokse same­sprekings, doen die San Diego Union-Tribune op 9 Julie 2000 verslag:

“‘Uiteindelik kon die kerke selfs hul ou dis­puut oor die pous se bevoegdheid oplos’, is ge­sê deur Eerwaarde Robert Stephano­polous, dekaan van die Grieks-Ortodokse Katedraal in New York en veteraan van ekumeniese vergaderings.

‘Dit kan in een opsig redelik gou gebeur, maar wanneer ek sê redelik gou, praat ons steeds teen die agtergrond van ’n duisend jaar’, het hy gesê”.

Hierdie erkenning van die pous se gesag kan baie vin­niger plaasvind as wat Robert Stephanopolous reken. Net soos toe die Oos-Europese lande begin wegbreek het van die Sowjetunie, vind wêreldgebeure soms skynbaar oor­nag plaas! Sodoende kan honderde miljoene by­komende lede tot die Rooms-Katolieke kerk gevoeg word oor die volgende paar jaar namate haar dogters terugkeer tot die skoot.

Die klein Kerk van God, hier en daar versprei in klein groepies, sal in vergelyking hiermee soos ’n klein vlekkie lyk. Ons het waarlik begrip, geloof en moed nodig om dit deur die moeilike jare wat voorlê te maak. Want Jesus het gesê: “Want daar sal valse christusse en valse profete op­staan, en hulle sal groot tekens en wonders doen om, as dit moontlik was, ook die uitverkorenes te mislei” (Mattheus 24:24).

In die toekoms sal ons sien hoe toenemend meer druk deur die pous uitgeoefen word om Jerusalem ’n “inter­nasionale stad” te maak, moontlik onder die gemeen­skap­like beheer van die Vatikaan en die Verenigde Nasies of die een of ander internasionale agentskap. Die genade­lose druk deur die ekumeniese beweging sal ook toeneem. Die Groot Moederkerk sal met toenemende drif haar dogters roep om terug te keer “huis toe”.

Binne die volgende paar jaar sal die “tweede” Dier van Openbaring 13 op die toneel verskyn. Ons lees van hier­die man in Openbaring 13:11-14: “En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aan­bid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neer­daal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hy gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die be­woners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig ge­word het”.

Hierdie toekomstige magtige godsdiensleier sal soos ’n “lam” lyk. In Openbaring 14 sien ons dat Christus as die “Lam” beskryf word. Dus sal hy voorkom asof hy Christus is! Johannes sê egter dat hy “praat soos ’n draak”. In Openbaring 12:9 is Johannes geïnspireer om te skryf: “En die groot draak is neer­gewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde en sy engele is saam met hom neergewerp”.

Satan, die duiwel, word duidelik hier in die boek Openbaring geïdentifiseer as die “draak”. Hierdie toe­koms­tige valse profeet sal daarom vir biljoene mense voor­­kom soos ’n Christusfiguur, maar sy boodskap sal van Satan, die duiwel wees. Tog sal hierdie charismatiese leier “groot tekens” doen en selfs vuur uit die hemel laat neer­daal! Hy word ook in 2 Thessalonicense 2 beskryf as die “mens van sonde … die teenstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, so­dat hy in die tempel van God ás God sal sit en voorgee dat hy God is” (verse 3-4). Hierdie toekomstige gods­diens­­leier, sê u Bybel, sal aanbid word deur sy volge­linge!

Hierdie man sal ’n paar jaar voor Christus se weder­koms op die toneel verskyn, want Christus sal hom “tot niet maak” “met die verskyning van Sy wederkoms” (vers 8). Maar hierdie man word genoem “die ongeregtige” [“die wettelose”, NV]. In vers 7 skryf Paulus: “want die ver­­borgen­heid van ongeregtigheid [die geheime krag van die wetteloosheid, NV] is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is”. Gedurende daar­die era van donkies en oskarre, praat Paulus nie van ver­keers­­reëls nie! Hy praat van ’n man en ’n hele gods­diens­stelsel wat onder sy leierskap staan: “die geheime krag van die wetteloosheid” wat vanselfsprekend ’n lering is teen die wette van God en wie dit ook self gereeld breek.

Net soos in Openbaring 13, lees ons: “… hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met aller­hande verleiding van ongeregtigheid in die wat ver­lore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aan­ge­­neem het om gered te word nie” (2 Thessalonicense 2:9-10).

Ons almal moet besef dat ons in ’n geestelike oorlog ge­wikkel is. Die magte van Satan beweeg vinnig om hul doel te bereik. Onder Satan se invloed, binne die volgende paar jaar, en met die beperkte mag wat God Satan toelaat om uit te oefen in hierdie wêreld se atmosfeer waarvan hy die “owerste” is (Efesiërs 2:2), sal die duiwel se magte on­ge­kende gesag aan ’n godsdienspolitiese stelsel onder hul be­heer gee – en dit sal geskied onder die vaandel van “Christendom”! Baie min Protestante, Ortodokse of ander gods­diensleiers sal die geloof en moed hê om die aanslag teen te staan. Hulle sal die gevreesde “merk van die Dier” af­dwing en verskriklike vervolging van die ware Chris­tene – die ware heiliges van God – meebring.

BAIE Antichriste!

Ons het gesien wat die Bybel sê rakende “die” Anti­chris, maar belangriker nog, moet ons oplet dat Johannes geïnspireer is om te skryf “[daar bestaan] nou ook baie antichriste” (1 Johannes 2:18). Dit moet dus duidelik wees dat die term “Antichris” nie nét op die valse profeet van toepassing is nie, hoewel hy sekerlik die leidende woord­voerder sal wees wat die leerstelling van die Anti­chris verkondig. Onthou liewer dat “Antichris”, soos die meeste hedendaagse geleerdes erken, eenvoudig ’n gees of persoon in opposisie met Christus beteken.

Johannes beskryf voorts die baie wat “Antichriste” is: “Wie is die leuenaar, behalwe hy wat ontken dat Jesus die Christus is? Dit is die Antichris wat die Vader en die Seun loën. Elkeen wat die Seun loën, het ook nie die Vader nie. Wat julle dan van die begin af gehoor het, laat dit in julle bly. As in julle bly wat julle van die begin af gehoor het, dan sal julle ook in die Seun en in die Vader bly” (verse 22-24). Let daarop dat Johannes geïnspireer is om Chris­tene te vermaan om te kleef aan die oorspronklike lering wat aan hulle gegee is: “laat dit in julle bly … wat julle van die begin af gehoor het”. Dit sou beteken dat “dit” wat “in julle moet bly” Jesus Christus se direkte lering aan­gaande die Wet van God is.

Want Jesus het van die begin af vir hulle geleer om die gebooie te onderhou. Hy het hulle voortdurend gewaarsku daarteen om Sy Naam te gebruik en steeds ongehoorsaam te wees aan Sy leringe! Jesus sê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). En ook: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is” (Mattheus 7:21).

Dus “bly” ons in Christus en in die Vader deur God te gehoorsaam en te leef soos Jesus werklik gedoen het – deur elke woord van God. Jesus verduidelik: “As iemand My liefhet, sal hy My woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en ons sal na hom toe kom en by hom woning maak. Hy wat My nie liefhet nie, bewaar my woorde nie; en die woord wat julle hoor, is nie myne nie, maar is van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 14:23-24).

Johannes se eerste sendbrief beskryf voorts die “gees van die Antichris” in fynere besonderhede: “Geliefdes, glo nie elke gees nie, maar stel die geeste op die proef of hulle uit God is, want baie valse profete het in die wêreld uitgegaan. Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God; en elke gees wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie, is nie uit God nie; en dit is die gees van die Antichris waarvan julle gehoor het dat hy kom, en hy is nou al in die wêreld. Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is groter is as hy wat in die wêreld is” (4:1-4).

’n Noodsaaklike sleutel tot die begrip van die lering van die Antichris is om te verstaan dat hierdie vals lering nie die volle menslikheid van Jesus Christus erken nie. Dit erken nie dat Christus werklik “in die vlees gekom het nie”.

“Waarom?” mag u vra. Wat is so spesiaal daaraan dat Christus “in die vlees gekom het”?

Ons moet eerstens verstaan waarom Satan voortdurend probeer om mense te mislei om ongehoorsaam te wees aan God se Wet, die Tien Gebooie. So ’n verbreking van die wet behels sonde want “sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). So ook is die “loon van die sonde … die dood” (Romeine 6:23). Indien Satan mense daarvan kan weer­hou om God te gehoorsaam en sodoende verhoed dat hulle toegee aan God sodat Hy Sy eie aard en karakter in hulle kan bou, dan sal hierdie ongehoorsame mans en vroue dus steeds onder die doodstraf wees. As hulle afge­sny is van God sal hulle nie in staat wees om voor te berei om konings en priesters te word in Christus se komende Koninkryk op aarde nie (vergelyk Openbaring 5:10) en so­doende sal hulle nie Satan en sy demone kan vervang nie.

Duiwelse argumente

Om mense te weerhou daarvan om selfs te probeer om God se gebooie te gehoorsaam, gebruik Satan die leer­stelling van die Antichris om die idee te verkondig dat die mens­dom nie in staat is om dit te onderhou nie! Die leringe van die Rooms-Katolieke Kerk, sowel as die meeste Protestante kerke, verkleineer in effek Jesus se mens­­likheid en impliseer op verskeie wyses dat Hy nie ten volle “in die vlees” was nie. Hul teologie maak die aflei­ding dat Hy nie werklik op dieselfde wyse as ons bloot­gestel was aan die “verleidings van die vlees” nie, en dus was Hy nie werklik so in die versoeking soos ons nie, selfs dat Hy nie in staat was tot sonde nie. Volgens hulle het Christus nie werklik vir ons ’n voorbeeld gestel terwyl Hy ten volle vlees was nie. Satan wil hê dat ons glo dat ons nie God se gebooie kan onderhou nie en dat Jesus nie kón sondig en hulle verbreek nie!

Die Rooms-Katolieke Kerk neem hierdie idee selfs verder. Dit verkondig valslik dat alle menslike wesens sedert Adam en Eva, behalwe die “Maagd Maria”, gebore is met “erfsonde”, en nie by magte is om God se gebooie te onderhou nie. Slegs Maria, volgens hul leerstelling, is be­skerm deur ’n “Onbevlekte Ontvangenis” en het ’n vol­maakte en sondelose lewe gelei wat haar in staat gestel het om die “Moeder van God” te word. Volgens hierdie leer­stelling kón Maria sondig, maar het nie, terwyl ons Verlosser nie gesondig het nie en ook nie kon nie! Indien dit waar is, maak dit Maria, nie Jesus nie, ons eintlike voor­beeld van ’n sondelose menslike lewenswyse! Watter be­lediging vir ons ware Verlosser!

Tog vertel die boek Hebreërs ons: “want deurdat Hy self onder versoeking gely het, kan Hy dié help wat ver­soek word” (2:18). En ook: “Want ons het nie ’n Hoë­priester wat nie met ons swakhede medelye kan hê nie, maar een wat in alle opsigte versoek is net soos ons, maar sonder sonde” (4:15). Was dit deur die een of ander bo­natuurlike krag van Sy eie? Was Jesus “ten volle God” ter­wyl Hy in die menslike vlees was? Die waarheid is dat Hy die Persoonlikheid is wat met die Vader was sedert die begin: “In die begin was die Woord, en die Woord was by God en die Woord was God” (Johannes 1:1). Maar later “[het] die Woord … vlees geword” (vers 14).

Baie teksverse onthul duidelik dat Jesus in die vlees nie die­selfde onbeperkte krag kon uitoefen wat Hy gehad het voor Sy vleeswording nie. Die evangelie van Markus ver­tel ons byvoorbeeld wat Jesus by Sy skeptiese familie en vriende in Sy eie area gevind het: “En Hy kon daar geen krag doen nie, behalwe dat Hy ’n paar siekes die hande op­­ge­lê het en hulle gesond gemaak het” (Markus 6:5). Jesus self sê: “Ek kan uit Myself niks doen nie” (Johannes 5:30). Terwyl Hy in die vlees was, het Jesus verkies om nie mense gesond te maak in ’n ongelowige atmosfeer nie.

Die volle menslike Jesus is in “alle dinge” soos ons ook, versoek, tog is hy sonder sonde. Met dít in gedagte, word dit duidelik dat daar vir ons ook ’n manier is om die Tien Gebooie te onderhou terwyl ons ten volle vlees is! Maar hoe? Net soos Jesus dit gedoen het! Hebreërs vertel ons verder: “Hy wat in die dae van Sy vlees gebede en smekinge met sterk geroep en trane aan Hom geoffer het wat Hom uit die dood kon red, en ook verhoor is uit die angs” (5:7). As Jesus letterlik in trane moes uitroep na die Vader om “uit die dood” gered te word, moet dit duidelik wees dat Hy waarlik in die menslike vlees was, en dat ons ook op dieselfde wyse moet uitroep vir God se hulp! Jesus het dus vir ons die “voorbeeld gestel” in die onder­houding van die Tien Gebooie in die menslike vlees! Ons het ’n Verlosser en Hoëpriester wat werklik ten volle die verleidinge van die menslike natuur waarteen ons moet meeding, verstaan. Ons sal sien dat Christus ons sal be­magtig deur Sy Gees in ons om die versoekings te weer­staan en die Tien Gebooie te onderhou terwyl ons ten volle vlees is!

Die leerstelling van die Antichris sê presies die teen­oorgestelde. Hoewel Satan slim genoeg is om mense nie direk te leer om te sondig nie, baan die Antichris­leer­stelling nietemin die weg vir misleide mense om gereeld een of meer van die gebooie van God ongestraf te ver­breek en tóg te voel dat hulle op ’n manier “goeie Christene” is.

’n Universele lering

Hierdie slim redenasie, wat in die meeste kweekskole dwars­­oor die wêreld geleer word, lei soos volg: Omdat God se wet geestelik is en ons slegs vleeslik, kan ons nie die heilige, regverdige wet van God onderhou nie. Dus moes Christus dit vir ons onderhou. Nou “neem ons net Christus aan” en Sy geregtigheid word op ’n manier aan ons “toegereken”, sonder enige vereiste vir regverdige werke.

Die bogenoemde redenasie maak dan staat op ’n hele reeks misverstande en verdraaiings van die apostel Paulus se geskrifte. Misleide teoloë plaas ’n slim “kinkel” op letter­lik dosyne verse in Paulus se briewe om die een­voudige, duidelike leringe van Jesus Christus, die apostel naaste aan Hom, Johannes, en Sy broer, Jakobus, te weer­spreek. Dit is een van die redes vir Martin Luther se bekende stelling dat die boek Jakobus ’n “sendbrief van strooi” is. Luther het die feit gehaat dat Jakobus direkte ge­­hoor­saamheid aan die Tien Gebooie geleer het (vergelyk Jakobus 2:8-12).

Die apostel Petrus is selfs geïnspireer om ons te waar­sku dat “Paulus ook met die wysheid wat aan hom gegee is, aan julle geskryf het, net soos in al die briewe. Hy spreek daarin oor hierdie dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat die ongeleerde en onvaste mense ver­draai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf” (2 Petrus 3:15-16). Ja, Petrus het gesê dat mense Paulus se ge­skrifte sou “verdraai” tot hul eie verderf! Petrus gaan voort met die geïnspireerde waarskuwing: “Noudat julle dit dan vooruit weet, geliefdes, moet julle op jul hoede wees dat julle nie miskien meegesleep word deur die dwaling van sedelose mense en wegval uit julle eie vastig­heid nie” (vers 17).

’n Waarskuwing daarteen om nie meegesleur te word deur die dwaling van “sedelose mense” nie? Absoluut! Want dit is presies hoe Petrus geweet het dat misleide mense Paulus se geskrifte sou “verdraai” in ’n verskoning om aan die geestelike wet van God, die Tien Gebooie, ongehoorsaam te wees!

Werklik, hierdie boodskap moet nou meer as ooit tevore gehoor word. Miljoene mense in hierdie misleide wêreld is werklik verwar deur godsdiens. Hulle het óf dood­gewoon verveeld geraak met algemene godsdiens en/of ontnugter geword deur georganiseerde godsdiens in die algemeen. Dus het sommige mense eenvoudig “be­lang verloor”. Tog het miljoene ander bykans hul eie gods­diens “versin”! Soos die Newsweek tydskrif (8 Mei 2000) onlangs verslag gedoen het oor hedendaagse tieners en hul gelowe:

“Eerder as om absolute waarheid te soek in leerstellings, kruis hulle kerklike grense, skrander verbruikers in die wye mark van geloofstelsels. Menigte beskryf hulself as geestelik, eerder as godsdienstig. ‘Ek glo daar is ’n hoër hand aan die werk in my lewe, maar ek het nie ’n naam daarvoor nie’, sê Amy McKinney, 18. ‘Wanneer ek bid, vra ek nie ’n god om alles reg te maak nie. Pleks daarvan vra ek myself om sterk te wees’. Pleks van strenge nakoming van leerstellings, neem baie tieners ’n gees van eklektisisme en ’n wantroue van absolute waarhede aan. In ’n 1999 opname onder tieners deur die godsdienstige navorser George Barna, het meer as die helfte met die stelling “Alle godsdiensgelowe leer ewe geldige waarhede”, saamgestem. Waar die navorsers van die vorige geslag vandag Zen probeer het en môre Metodisme, voeg tieners stukkies van verskeie gelowe by­mekaar: ’n bietjie Boeddhistiese medi­tasie en ’n bietjie Rooms-Katolieke rituele, wat­ter mengsel ook al byklank vind op daardie stadium”.

“Watter mengsel ook al byklank vind”? Dit is verskriklik!

Moderne godsdienstige ANARGIE

Hierdie algehele verwarring lei natuurlik tot gods­dienstige wanorde, maar dit baan ook die weg onheil­spellend vir miljoene van hierdie jongmense om baie vat­baar te word vir die massa-misleidings wat die komende valse profeet sal pleeg. Wat gaan al hierdie miljoene ver­warde tieners doen wanneer hierdie man op die toneel ver­skyn en homself begin ten toon stel “met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thessalonicense 2:9)?

Verswelg deur die opgewondenheid en massa­histerie wat die sataniese tekens van die “ongeregtige” [wettelose, NV] sal vergesel (vers 8), sal die meeste van hierdie jong­mense toegee onder die ontsaglike druk, geïnspireer deur Satan, om ’n gemene saak te maak met hierdie toekomstige “herlewing” en om “terug te keer na tradisie”. Want daar is werklik dwarsdeur die grootste deel van Wes-Europa en Noord-Amerika ’n hunkering na spesifieke leer­stellinge en riglyne in die godsdiensveld en morele op­trede. Miljoene mense is siek en sat vir die aanstellerige en dubbelsinnige gepratery van hul pre­dikante en priesters. Hulle begin besef dat die meeste van hierdie belydende godsdienstige “leiers” nie van enigiets absoluut seker is nie!

Baie van hierdie godsdiensleiers bevraagteken die geldig­heid van Jesus se maagdelike geboorte, Sy wonder­werke en Sy opstanding uit die dood. Hulle bevraagteken die ware inspirasie van die Bybel. Hulle bevraagteken die idee van Jesus se Wederkoms en of daar werklik ’n letter­like Koninkryk van God hier op aarde gevestig sal word met Christus as Koning.

Is dit so dat “alle godsdiensgelowe … ewe geldige waar­hede” leer, soos meer as die helfte van die tieners in Barna se opname glo?

Is alle godsdienste gelyk? Kan u sommer enigiets glo en dieselfde seën van God die Skepper ontvang en die ewige lewe op u eie voorwaardes verkry?

Die enigste manier om definitief en werklik reg te wees oor hierdie sake is om vir jouself op die een of ander wyse te bewys of die Bybel direk geïnspireer is deur die ware God wat die heelal geskape het! As die Bybel slegs ge­deel­telik geïnspireer is, soos wat talle mense vandag glo, dan kan elke persoon na hartelus kies watter deel van die Bybel hý dink, geïnspireer is. Dan, deur menslike rede­na­sie te gebruik, kan hy leef volgens daardie deel van die Bybel, selfs al blyk dit in direkte teenstelling met ander dele van die Bybel te wees. Onthou dat die Christus van die Bybel niks anders as “beslissend” was nie. Jesus het nie “geklets” nie. Hy sê: “Ek is die deur van die skape. Al­mal wat voor My gekom het, is diewe en rowers; maar die skape het nie na hulle geluister nie” (Johannes 10:7-8). En: “Voorwaar, voorwaar, Ek sê vir julle, wie nie by die deur in die skaapstal ingaan nie, maar van ’n ander kant af inklim, hy is ’n dief en ’n rower” (vers 1).

Later sê Jesus: “My skape luister na My stem, en Ek ken hulle, en hulle volg My” (vers 27). Die meeste van u, die lesers, het Christus se stem “gehoor” spreek deur hier­die Werk. U weet dat ons nie met die woorde van die Bybel speel, dit swartsmeer, dit vermy of wegskram daar­van nie. Ons het oor en oor bewys dat God, die Skepper, die Bybel direk geïnspireer het. Dit is God se “Ver­brui­kers­­handleiding” vir die mensdom. Dié handleiding is spesifiek in dít wat van ons verwag word om te doen.

Die kern van die saak

Die teksverse waarin die Antichris die duidelikste beskryf word, vind ons in 2 Johannes 6-7: “En dit is die liefde, dat ons wandel volgens Sy gebooie. Dit is die gebod soos julle van die begin af gehoor het dat julle daarin moet wandel. Want baie verleiers het in die wêreld ingekom: die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie. Dit is die verleier en die Antichris”. In hierdie skrifdeel sien ons eerstens hoe Johannes geïnspireer is om “liefde” te om­skryf: “dat ons wandel volgens Sy gebooie”. In hierdie konteks is die “gebooie” waarvan hier gepraat word duidelik God die Vader se gebooie (vergelyk vers 4), nie enige “nuwe” gebooie van Jesus nie. Selfs al het Johannes in die 90’s n.C. geskryf, on­geveer 30 jaar na Christus se kruisiging en 20 jaar ná Paulus se dood, is daar nie eens ’n beduidenis dat God se ge­booie “aan die kruis vasgespyker is” nie óf deur die apostel Paulus mee “weggedoen” is nie! Dan herinner Johannes sy lesers daarvan dat hierdie gebooie dié is wat hulle “van die begin af” gehoor het. Met ander woorde, hulle is die duidelike lering van Jesus in die Berg­predikasie, Mattheus 19:17 en elders.

Dan in vers 7, waarsku Johannes dat die “verleiers” nie onderrig dat “Jesus Christus in die vlees gekom” het nie. Hy beskryf sulke leringe as “Antichris”. Die belangrik­heid van Jesus Christus wat “in die vlees gekom het” is dat die tyd wat gebruik word in die oorspronklike Grieks, teen­­­woordige deurlopende tyd is. Die tydsgebruik in die sin (in die Grieks) dui op iets wat tans besig is om te gebeur.

Die bekende Expositor’s Bible Commentary probeer hier­­die Skrifgedeelte (2 Johannes 7) verduidelik in die volgende woorde:

“Snaaks genoeg is die tyd verander van die ver­lede tyd naamlik ‘het in die vlees ge­kom’ [le luthota] (1 Johannes 4:2) na die teenwoordige tyd, ‘komende in die vlees’ [erchomenon]. Dit sou dus moontlik wees om dit te vertolk as ’n verwysing na Jesus se terugkeer (m.a.w. sal kom) in die vlees (ver­gelyk 1 Johannes 2:28; 3:2). Maar aan­gesien ons van geen geskil weet in hierdie area nie, blyk dit onwaarskynlik te wees. Dodd [sowel as die Afrikaanse vertalers] ver­­berg die betekenis deur erchomenon in die verlede tyd te vertaal, asof die betekenis daar­­van eenvoudig dieselfde is as dié in 1 Johannes 4:2 en bied dan die verbasende ver­­duideliking dat ‘ons skrywer nie vaardig is in die woordspeling van die Griekse idioom nie’ (Johannine Epistles, bl. 149).

Dit is egter baie veiliger om aan te neem dat die skrywer wél die verskil ken tussen ’n teenwoordige tyd woordstuk en ’n vol­tooide teenwoordige tyd (verlede tyd) woord­­stuk en dat sy bedoeling is om iets te sê wat verder strek as wat hy in 1 Johannes 4:2 gesê het”.

Soos daardie hoogs opgeleide Griekse geleerdes erken, sê Johannes waarlik iets wat “verder” strek as sy stelling in 1 Johannes 4:2! Johannes sê nie slegs dat Christus ten volle in die menslike vlees gekom het nie. God het Johannes in hierdie latere skriftuur geïnspireer om te open­baar dat Christus huidiglik “in die vlees” kom!

Hoe?

Soos ons reeds gesien het, sê Jesus: “As iemand My lief­­het, sal hy My woord bewaar, en my Vader sal hom lief­­hê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak” (Johannes 14:23). Deur die Heilige Gees leef Christus en die Vader letterlik binne die waarlik bekeerde Christen, lei Hulle hom, inspireer hom en bemagtig hom om die gebooie te onderhou en God se lewenswyse te volg!

Die apostel Paulus is ook geïnspireer om dít baie duidelik te maak toe hy skryf: “Ek is met Christus ge­kruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oor­­gegee het” (Galasiërs 2:20).

Dit is die “sleutel”. Deur die Heilige Gees leef Christus letterlik Sy lewe in ons menslike vlees! Hy sal ons die krag gee om God se gebooie te gehoorsaam!

Godsdienstige teenstanders daag die ware Christen uit deur te sê: “U kan nie die Tien Gebooie onderhou nie! Hulle is geestelik en u is slegs vleeslik”. Maar ’n persoon wat ge­lei word deur God se Heilige Gees kan in waarheid ant­woord: “U is reg. Uit my eie menslike krag kan ek nie, maar tot die mate waartoe ek toegee aan God se Heilige Gees, kan en sal ek God se gebooie onderhou! Christus in my help my om nie dood te slaan, te steel, te lieg, eg te breek, te begeer, my ouers te onteer, God se Sabbat te breek, afgode te aanbid, God se Naam ydellik te gebruik of ’n ander “god” voor Sy aangesig te hê nie. Ek mag van tyd tot tyd fouteer, maar ek sal my dan bekeer en my sonde voor God bely en Sy vergifnis verkry (1 Johannes 1:8-9). Dan sal ek gou na God se weg terugkeer en deur Sy Gees toeneem in genade en kennis. Ek is nie volmaak nie, maar deur Christus wat Sy lewe in my leef, groei ek na volmaaktheid en volg God se wet as my basiese lewensweg”.

Christus leef in die ware Christen

Die leerstelling van die Antichris is dus dat Christus nie letter­lik Sy lewe binne Sy mense vandag leef nie! Dit is die valse lering dat Christene vandag ’n lewe anders as dié wat Jesus geleef het kan leef en steeds Sy ware volgelinge kan wees. Dit sluit dikwels die idee in dat Christus in ons plek regverdig was en daarom hoef ons nie te wees nie. Ons neem Hom net aan en Sy geregtigheid word aan ons toe­gereken. In effek, “lei God Homself om die bos” en gee voor dat ons werklik regverdig is, terwyl ons nie eint­lik is nie.

Hierdie leerstelling is ’n vervloekste leuen!

“Jesus Christus is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Hy sal dieselfde lewe vandag in u en my leef as wat Hy amper 2000 jaar gelede geleef het toe Hy die aarde in die menslike vlees bewoon het. In daar­die tyd het Hy voortdurend gehoorsaamheid aan al God se gebooie geleer (Mattheus 5:19). Ons het gesien wat Sy antwoord was aan die jong man wat Hom gevra het hoe om die ewige lewe te beërwe: “Onderhou die gebooie” (19:17). Naby die einde van die era van die apos­tels, inspireer God die apostel Johannes om die ware heiliges van God te beskryf: “Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad” (Openbaring 22:14).

Daar is vandag ’n menigte valse predikers wat die leer­stel­ling van die Antichris leer, ’n leerstelling wat onge­hoor­­saamheid aan God se gebooie goedkeur, ’n leer­stelling van “geen dade”. Die apostel Paulus sê van hier­die predikante: “Want sulke mense is valse apostels, be­drieg­­like arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self ver­ander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks be­sonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (2 Korintiërs 11:13-15). U sal hier op­merk dat Satan “predikante” het wat regverdig voor­kom. Dis ironies dat hulle einde, hul uiteindelike be­loning, volgens hul “werke” sal wees, presies dit wat hulle probeer ontken!

God wil hê dat ons Sy gebooie gehoorsaam, goeie dade ver­rig en volgens elke woord van Hom leef! As u eers hier­die beginsel verstaan, kan u die “gees van die Antichris” duidelik begryp en verstaan hoe om te toets of enige godsdiensleier se idee of leerstelling van God is! Dan sal u, deur ywerige studie van God se Woord en voort­durende gebede, ’n dieper begrip verkry van die ware doel van u lewe en ’n nadere kontak met die Lewende God ervaar as wat u ooit gedroom het moontlik is.

U sal sien wie werklik van God is, Sy ware Kerk, wat die­selfde Evangelie wat Hy deur Jesus Christus gestuur het, getrou verkondig. In hierdie eindtyd sal hierdie Bood­skap – van gehoorsaamheid aan God se Koninkryk en heerskappy – as ’n getuienis aan alle nasies verkondig word (Mattheus 24:14). U lees daardie Boodskap op hier­die oomblik!

In Openbaring 12:17 word die ware Kerk van God be­skryf as ’n vrou wat deur die duiwel vervolg word. Hier­die Kerk is ’n oorblyfsel. Die lede daarvan is diegene wat “die gebooie van God bewaar en die getuienis van Jesus Christus hou”. Die ware heiliges van God word in die­selfde woorde beskryf in Openbaring 14:12: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”.

Ja, Jesus Christus sal vandag in Sy mense leef en woon deur die Heilige Gees. Tot die mate waartoe hulle toegee aan Hom, sal hul lewens van volledige en algehele gehoor­saam­heid getuig, net soos Jesus s’n in die vlees gedoen het. Hul gewoontes, tradisies, en lewenswyse sal dieselfde wees as Syne in elke opsig, want Hy verander nie. En Hy sal binne hulle leef! Dan kan Christus en die Vader ten volle seker wees dat Hul mense ten volle aan God oorge­gee is, wat gedurig ware Christene aan Sy goddelike aard en karakter deelagtig maak, en hulle sodoende voorberei om konings en priesters te wees in die letterlike Koninkryk van God wat binnekort op aarde opgestel gaan word. “En van Jesus Christus, die getroue getuie, die eers­geborene uit die dode en die Owerste oor die konings van die aarde! Aan Hom wat ons liefgehad het en ons van ons sondes gewas het in sy bloed en ons gemaak het konings en priesters vir sy God en Vader, aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen” (Openbaring 1:5-6).

Ondersoek uself eerlik. Het u werklik vantevore Chris­ten­skap verstaan? Leef Christus werklik sy lewe in u? Het u die geestelike “ruggraat” om te reageer op die kennis wat u pas ontvang het?

Hervestig die Christenskap van die Apostels

Soos baie van ons lesers reeds weet, is ons in hierdie Werk besig om die ware Christenskap van Jesus en die apostels te hervestig – aan diegene wat daarna wíl luister. Hier­­die ware “Christenskap van die Apostels” het werklik ver­lore geraak sover dit algemene “Christendom” betref. Dit is belangrik om te besef dat indien Jesus Self vandag in ’n tipiese Protestante of Katolieke kerk sou instap, Hy mense daar sou vind met ’n totaal verskillende konsep van God as wat Hy geleer het.

Hierdie mense onderhou verskillende dae om God te aan­­bid, dae wat heidens in oorsprong is en in totaliteit faal om die ware God aan te dui en Sy groot plan verstaanbaar te maak soos wat die Bybelse Heilige Dae doen. Jesus sou vind dat die meeste van hierdie belydende “Christene” geen idee het hoe om waarlik die Tien Gebooie te onder­hou, óf watter belang Christus op hulle geplaas het nie (sien Mattheus 19:17). Hierdie verblinde individue voer oor­­log met Brittanje (byvoorbeeld) in die een geslag, Spanje in die volgende, Duitsland en Japan in die ander. Hulle en hul misleide predikante let glad nie op Jesus se baie duidelike opdrag in Mattheus 5:43-44 nie: “Julle het gehoor dat daar gesê is: Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand moet jy haat. Maar Ek sê vir julle: Julle moet jul vyande liefhê; seën die wat vir julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg”.

Hierdie belydende Christene is totaal verblind vir die feit dat ware Christene nou “opgelei” word om konings en priesters te word onder leiding van Jesus Christus en om onder Hom te dien in die heerskappy van die wêreld vir die volgende eenduisend jaar (sien Openbaring 5:9-10; 20:6)! Hierdie mense neem eerder aan dat, in teenstelling met Jesus se leringe, hulle met hul dood “hemel toe” sal gaan en niks hoef te doen nie! So het vals leerstellings van belydende Christenskap hulle verblind vir die hele doel wat God hier op aarde bewerk!

In ’n tipiese kerk vandag sal Jesus mense vind wat ’n sentimentele gevoel teenoor Hom as persoon het, maar wat feitlik geen begrip het van die kragtige boodskap wat Hy gepreek het nie. Hulle praat van “die Heer, Liewe Jesus Christus”, maar inderwaarheid is Hy nie hul “Heer” nie, omdat hulle Hom nie gehoorsaam of selfs begryp hoé hulle Hom moet gehoorsaam nie! Jesus self het herhaaldelik gesê: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46).

En weer: “Nie elkeen wat vir my sê: Here, Here! sal in­gaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk” [julle wat die wet van God oor­tree, NV] (Mattheus 7:21-23). Inderdaad, diegene wat ver­suim om ware gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie te preek en dit toe te pas, is in baie groot moeilikheid!

God se Woord maak dit duidelik dat die oorgrote meer­derheid van menslike wesens vandag mislei is. Want God praat van “duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei” (Openbaring 12:9). Die apostel Paulus waarsku die Korintiërs: “Maar as ons evangelie nog bedek is, is dit bedek in die wat verlore gaan, naamlik die ongelowiges in wie die god van hierdie wêreld die sinne verblind het, sodat die verligting van die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is, op hulle nie sou skyn nie” (2 Korintiërs 4:3-4).

Die apostel Judas waarsku ons spesifiek: “Geliefdes, terwyl ek alle ywer aanwend om aan julle oor ons gemeen­skaplike saligheid te skrywe, het ek die noodsaaklikheid gevoel om julle deur my skrywe te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorge­lewer is. Want sekere mense het ingesluip wat al lank te­vore opgeskryf is vir hierdie oordeel, goddelose mense wat die genade van onse God verander in ongebondenheid en die enigste Heerser, God, en onse Here Jesus Christus verloën” (Judas 3-4).

Dit is opvallend dat Judas deur God geïnspireer is om uit te wys dat hierdie valse leraars “genade” sal verander in “ongebondenheid”, wat presies is wat hulle vandag doen! Want die algemene Protestante lering is dat ’n mens “gered” word deur ’n sentimentele aanvaarding van Christus se dood en dat daar op daardie stadium niks anders is wat ’n mens hoef te doen nie! Geen gehoor­saamheid aan die Tien Gebooie nie. Geen vereiste “toe­name” in genade, kennis en Christelike volwassenheid nie. Geen verdere “oorwinning” oor die menslike natuur, die wêreld of Satan, die duiwel, nie.

Wat u moet DOEN

Onlangse nuusberigte uit baie lande dui aan dat Rooms-Katolieke vervolging van godsdiens­minder­hede voort­gaan. Hoewel die Rooms-Katolieke Kerk geleer het om te glimlag en welgevallig op te tree teenoor nasies waar Protestante of ander gods­dienste in die meerderheid is, kom die ou duiwels van haat en outoritarisme vinnig na vore wanneer hulle in beheer is.

’n Onlangse artikel in die Christianity Today tydskrif (Augustus 2000, bl. 30) doen verslag: “In Maart is onge­veer 70 Protestante gesinne uit die Meksikaanse neder­setting Plan de Ayala, in die staat Chiapas, gesit deur die dorp se Rooms-Katolieke meerderheid. ‘Veertien huise is deur ’n skare verwoes toe die Protestante na die heuwels ge­vlug het vir beskerming’, vertel Sewendedagadventiste se pastoor Isias Espinosa”. Hierdie is slegs ’n klein voor­smakie van die soort godsdiens­ver­druk­king wat deur hier­die magtige kerk beoefen word! En haar leiers beklem­toon steeds dat hulle die enigste ware kerk is, dat andere in effek slegs “tweederangse Christene” is. Let op hierdie ver­slag van 5 September 2000 deur Victor Simpson van die Associated Press:

“In sy beskuldiging van sekere Katolieke teoloë dat hulle die fundamentele waarhede van die kerk manipuleer, het die Vatikaan Dins­dag, wat genoem word toenemende pogings om alle godsdienste as gelyk uit te beeld, verwerp … die Vatikaan verwys ewen­wel na die ‘persoonlike waardigheid’ van individue en nie van leerstelling nie. Dit is die tweede onlangse dokument deur die gemeente [die Rooms-Katolieke ‘Ge­meente vir die Leerstelling van die Geloof’] wat waarsku teen misbruik deur Katolieke in hul handelswyses met ander gelowe en denomi­nasies. Die Italiaanse media berig dat die gemeente ook waarsku teen die term ‘susters­kerke’ en sê dat dit die Katolieke Kerk se identiteit as ‘moeder’ van alle kerke weerspreek. Daardie doku­ment is nog nie vrygestel nie. Kardinaal Joseph Ratzinger het herhaaldelik tydens ’n nuus­kon­ferensie verwys na ’n neiging in die rig­ting van godsdienstige relativi­tisme.

‘Die gebrek aan eenheid tussen Christene is seker­lik ’n wond vir die kerk’, lees die doku­ment, en dit noem dat sodanige gebrek aan eenheid ‘die algehele vervulling van haar universaliteit in geskiedenis’ ver­hinder.

Die verklaring wat ’n komplekse teologiese dokument is, is getiteld “On the Unity and Salvific Universality of Jesus Christ and the Church”.

Dus erken die Rooms-Katolieke Kerk nie slegs dat dit die “moeder” van alle belydende Christenkerke is nie, dit dring selfs daarop aan! En dit dring ook daarop aan dat sy alleen die “sleutels” tot God se Koninkryk besit!

Dit is waarlik tyd om wakker te skrik!

Dit is tyd vir almal wat in God glo om terug te keer en te bewys of hul godsdiensgelowe en -gebruike werklik uit die Bybel kom, of uit “Babilon”. Want God die Skepper vertel almal wat wil luister: “omdat al die nasies ge­drink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel gehoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:3-4).

Hoewel “daar ook nou baie antichriste [bestaan]”, soos die apostel Johannes skryf (1 Johannes 2:18), is dit ook waar dat die verpersoonliking van die Antichris die vol­ledig­ste uitgedruk gaan word in die groot valse profeet wat in 2 Thessalonicense 2:1-10 en Openbaring 13:11-14 be­skryf word. Hierdie geslepe individu gaan moontlik binne die volgende vyf tot vyftien jaar op die wêreldtoneel ver­skyn. Hy sal aanvanklik voorkom as ’n groot “vrede­maker” en weldoener van die mensdom. Kort voor lank sal hy begin wonderwerke verrig en selfs vuur uit die hemel roep (Openbaring 13:13)!

Maar weer eens sal sy lering “Antichris” wees. Daar sal baie rituele, prag en praal en baie bloemryke praatjies wees. Maar daar sal nie die duidelike lering van Jesus van Nasaret wees nie – om God se gebooie te onderhou en letter­lik Christus na te volg, deur oor te gee om Jesus Christus Sy gehoorsame lewe in ons te laat leef deur die Heilige Gees.

Onthou altyd: dit is die “sleutel”!

Satan, die duiwel, is heel tevrede om u “in Jesus te laat glo”, solank u Christus ’n valse Christus is. Hy is heel tevrede om u toe te laat om na die “kerk van u keuse” te gaan, solank hy u kan mislei om na ’n kerk te gaan wat gelei word deur verblinde, gebods­verwerpende teoloë. Soos Jesus sê: “as een blinde ’n ander blinde lei, sal al­twee in die sloot val” (Mattheus 15:14).

Ek wil u in Christus se naam aanspoor: begin asseblief om u Bybel te bestudeer soos nog nooit tevore nie! Doen uself ook die guns en skryf in vir ons absoluut gratis be­moedigende en hulpvaardige Bybelstudiekursus genaamd Die Wêreld van Môre Bybelstudiekursus. Bestudeer hier­die kursus en volg Paulus se geïnspireerde vermaning: “Beproef alle dinge; behou die goeie” (1 Thessalonicense 5:21).

Ek spoor u weer aan om dadelik te skryf en u gratis kopie van ons onthullende boekies genaamd Die Dier van Openbaring en Watter Dag is die Christelike Sabbat? aan te vra. Hierdie boekies, tesame met hierdie een wat u nou lees, sal vir u die volle prent skilder en die aard van die mag­tige en dreigende magte wat nou in Europa vorendag kom, bewys.

Soos Jesus gesê het: “Waak”. Hou u oë op die her­lewing van die Heilige Romeinse Ryk. “Waak” en sien hoe dit stadig maar seker begin om algehele mag in die groot­ste gedeelte van Europa te bekom en dan na Sentraal en Suid-Amerika versprei om uiteindelik oor feitlik die hele wêreld te heers. “Waak” en sien hoe ander kerke stappie vir stappie, geflikflooi, oortuig of uiteindelik ge­dwing word om terug te keer na die “moeder”-kerk. Om die waarheid te sê sal u teleurgesteld wees om te sien hoe baie sogenaamd toegewyde Protestante en evangelis­tiese leiers slim gemanipuleer word om soveel van dit waarin hulle altyd geglo het, prys te gee wanneer werklike druk op hulle toegepas word.

Sal u ook u rug op die God van die Bybel keer? Sal u ook aansluit by of voortgaan as lid van ’n verwaterde “Christenskap” waar misleide kerk­gangers gereeld God se bevelende Sabbat verbreek, waar hulle “toegelaat word”, of selfs aangemoedig word, om te veg en te moor in menslike oorlogvoering, teenstrydig met Jesus se lering (Mattheus 5:43-45)? Sal u deel wees van ’n kerk waar prag en praal en die aanbidding van afgode beoefen word, en waar die hele konsep van letterlike gehoorsaamheid aan die Tien Gebooie as ’n lewenswyse nie geleer word nie en waar slim argumente teen die behoefte vir Christene om God se gebooie te onderhou, gereeld aangewend word teen die­gene wat waag om te luister na God se werklike woorde?

Binnekort sal die uiteindelike verpersoonliking van die Antichris op die wêreldtoneel verskyn. Hy sal eers as ’n vrien­delike en sagmoedige “vredemaker” verskyn en gelei­delik meer en meer gesag uitoefen. Sy gesag sal ver­sterk word deur vals wonderwerke wat Satan deur hom sal doen (Openbaring 13:13). Dan sal aanbiddende massas skree van opgewondenheid wanneer hulle hom sien en die leerstelling van die Antichris sal feitlik die hele belydende Christendom deurtrek, almal behalwe die “klein kuddetjie” (Lukas 12:32) wat in Openbaring 12:13-17 beskryf word.

Vir u eie ewige welstand, bid vir ware begrip, geloof en moed. Gehoorsaam Jesus se opdrag: “Waak dan en bid altyd­deur, sodat julle waardig geag mag word om al hier­die dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).