Vraag: My vriend se pastoor sê die aartsengel Míchael is dieselfde geestespersoonlikheid as Jesus Christus. Sê die Bybel werklik enigiets daarvan dat Míchael en Jesus een en dieselfde persoon is?

 

Antwoord: Sommige mense glo dat Judas 9 ’n bewys is dat Jesus Christus en die aartsengel Mígael dieselfde wese is. Hulle redenasie is dat die term “aartsengel”, van die Griekse archangelos, enkelvoud is en dus moet verwys na die bestaan van een opperste aartsengel. Hulle verbind dan hierdie vers met 1 Thessalonicense 4:16 – die enigste ander Nuwe-Testamentiese gebruik van die woord – wat sê: “Want die Here self sal van die hemel neerdaal met ’n geroep, met die stem van ’n aartsengel en met geklank van die basuin van God”.

Die aanname – ’n verkeerde een – is dat die terugkerende Christus dus dieselfde geestespersoonlikheid as die aartsengel Mígael is.

Om ’n aartsengel te beskryf wat neerdaal “met die stem van ’n aartsengel” maak natuurlik omtrent net soveel sin as om ’n menslike man te beskryf wat “met die stem van ’n man” sing. Dit is baie meer rasioneel vir Paulus om na drie verskillende klanke te verwys – Christus wat terugkom met ’n triomfantlike geroep, die stem van ’n aartsengel wat Sy koms aankondig en die basuin van God wat die mensdom tot aandag roep. Dit is hoe ons Paulus se woorde in 1 Thessalonicense 4:16 die beste kan verstaan.

 

Sy Engele

Nog ’n verkeerde argument veronderstel dat aangesien Openbaring 12:7 Mígael en ’n leër van “sy engele” beskryf wat teen Satan “die draak” veg, moet Mígael die unieke hoof van daardie leër wees en moet dus dieselfde persoonlikheid wees as Jesus Christus, wie die Skrif elders beskryf as die bevelvoerder van magtige engele (Matthéüs 13:41).

Dit is ook ’n foutiewe aanname. Elke weermag het range en eskaders, sodanig dat ’n sersant en ’n generaal albei ’n groep soldate “my manne” kan noem. Mígael wat “sy engele” het, sluit nie uit dat Mígael self ’n engel onder Jesus Christus is nie. Neem ook die konteks van Michael se oorlog in ag. Die Skrif beskryf Michael wat teen die draak en sy engele veg. Dit is duidelik dat, hoewel Satan “sy engele” het, hy nie Jesus Christus is nie – dit is dieselfde met Mígael. Satan was eens ’n heerser oor engele, een wat volmaak was in sy weë (Eségiël 28:14-16). Sy bestaan as die helder “Lucifer” of “môrester” – ster wat nog ’n ander term vir engel en boodskapper in Hebreeus is – het hom nie in minder van ’n posisie geplaas as dié van ’n magtige aartsengel of “gerub wat beskut” nie.

Die Skrif maak dit duidelik dat geen engel meer as ’n dienskneg is nie. Engele mag nie aanbid word nie (Kolossense 2:18; Openbaring 22:8-9) en is beperk in hulle amp. Indien Mígael en Christus dieselfde wese was, sou ons nie die hemelsbreë verskillende maniere kon sien waarop hulle met Satan omgegaan het nie. Let daarop dat Mígael nie Satan in Judas 9 bestraf het nie – in skerp teenstelling met Christus se venynige teregwysing aan Satan in Lukas 4:8.

Let ook daarop dat Judas vir Jesus Christus direk in verse 1, 4, 17 en 21 van sy sendbrief noem. Hy verbind op geen manier sy vermelding van Mígael in vers 9 met enige verwysing na Jesus Christus nie. Hy behandel hulle as twee afsonderlike wesens – wat hulle inderdaad is.

 

Daardie Rots Was Christus

Waar was Jesus Christus dan voordat Hy as mens na die aarde gekom het? Die Skrif verduidelik dat die Woord – die Logos – God was, en van ewigheid af by God die Vader was (Johannes 1:1). Die Woord was nie ’n geskape engel nie. Inderdaad, dit was die Woord – nie God die Vader nie – met wie die eertydse Israeliete interaksie gehad het, “want hulle het gedrink uit ’n geestelike rots wat gevolg het, en die rots was Christus” (1 Korinthiërs 10:4). Jesus Christus het baie duidelik aan Sy mede-Jode gesê dat hulle God die Vader nooit geken het nie – net Hy self het Hom geken en dit was Hy wat die Vader aan hulle geopenbaar het (Johannes 1:18; 17:25).

Geen blote geskape engel kon ’n geskikte offer vir die sondes van die mensdom wees nie; slegs die goddelike, ewige Logos, die volmaakte Seun van God wat ten volle vlees gemaak is, kon daardie rol vervul – en daardie goddelike Wese het altyd bestaan, sonder ’n skepper. Die Skrif openbaar duidelik dat Mígael die aartsengel ’n geskape wese is wat onder Christus dien.