Regslui beskryf die “helder lyn-reël” as ’n duidelike standaard, afgelei van objektiewe feite, wat geen ruimte laat vir dubbelsinnigheid of interpretasie nie. Anders as regulasies wat “balanserende toetse” behels, is ’n helder lyn-wet duidelik omskryf. “Was hy oor die ouderdom van 21?” “Was haar wetlike regte aan haar voorgelees?” Die helder lyn is ’n duidelike maatstaf van onderskeiding – mens is óf aan die een kant van die saak óf aan die ander kant.

God bepaal ook dikwels helder lyne van onderskeiding. Of dit nou die skeiding is van koring en onkruid, die korrels van die kaf of skape van bokke, God is heeltemal bevoeg om Sy mense te sorteer, dus die ganse heelal wat Hy geskape het.

Een van die baie “helder lyne” wat mense skei volgens die manier waarop hulle op God reageer, is hul gesindheid teenoor Sy woord – veral teenoor Sy geopenbaarde profesieë. Wanneer mense Bybelse profesieë sien gestalte aanneem, sal diegene wat nie “God in erkentenis hou” nie (Romeine 1:28), baie anders reageer as diegene wat God se woord toelaat om hulle in te lig oor wat hulle waarneem.

Hoe mense dink bepaal dikwels wat hulle dink. In die jare wat voorlê, namate meer en meer Bybelse profesieë gestalte aanneem, sal ons groot verskille sien in hoe die mense dink oor die dinge wat hulle waarneem – wat dan sal lei tot groot verskille in wat hulle dink en doen in reaksie op daardie dinge.

Jesus Christus sê dat die denke wat slegs ingelig word deur wêreldse menslike visie, blind is vir geestelike dinge – en dat daar dinge is wat slegs God kan openbaar. God openbaar dat die wêreld in duisternis verkeer, maar God se woord verlig dit vir ons – indien ons gewillig is om te sien.

Sommige mense verwerp wat God openbaar en aanvaar dat hulle uitsluitlik van die wêreld om hulle inligting ontvang. Andere word egter ook deur geloof ingelig – God se geopenbaarde kennis. Welke weg u ook al kies sal ’n helder lyn skep wat u sal uitsonder van ander mense in u reaksies op die toekomstige gebeure wat u sal waarneem. Hoe sal u reageer op profesieë wat gestalte aanneem?

Daar mag ’n tyd kom – dalk gouer as wat u dink – wanneer u so ’n scenario onder oë sal moet sien. Stel u voor wat sal gebeur, indien – slegs indien – die bestendigheid in die Midde-Ooste nog verder versleg totdat die gevolglike oorlog en die gevolge daarvan (ingekorte energievoorsiening, vrese vir kernwapens en wêreldwye ekonomiese chaos) veroorsaak dat alle betrokke partye dit aanvaar wat vandag verwerp word as ’n “radikale” oplossing. Stel u voor dat, in ruil vir gebiedskonsessies en erkenning van ’n Palestynse staat, die Arabiese nasies Israel se reg om te bestaan erken. Verbeel u dat – in ruil daarvoor dat Arabiere toegelaat word om Oos-Jerusalem te beheer onder die beskerming van ’n internasionale vredesmag wat bestuur sal word uit Europa – Ortodokse Jode toegelaat sal word om hul antieke offers te hervat en moontlik selfs ’n tempel te bou.

Indien u al vir ’n geruime tyd ’n leser van die Wêreld van Môre is, sal u weet die Bybel voorspel ’n verstommende rol vir die stad van Jerusalem in eindtydse gebeure. Indien u egter nie van Bybelse profesieë geweet het nie en daar kom ’n tyd dat iemand aan u vertel dat ’n Israelse profeet die onlangse politieke gebeure duisende jare gelede voorspel het, wat sal u sê? Sou u sê: “Wel, dit is maar ’n blote toeval wat natuurlik ontwikkel het uit voortslepende wêreldtoestande”? Of sou u vra: “Wat het God nog geprofeteer?”

Onlangse vervulde profesieë

Moderne Israel is die mees onwaarskynlikste van nasies. Terwyl hulle teruggedeins het vir die swaar belastinglas onder Koning Salomo se seun, Rehábeam, het die noordelike tien stamme in opstand gekom en ’n aparte koninkryk onder Jeróbeam (1 Konings 12) gevorm. As gevolg van hulle sondes het die noordelike koninkryk, wat die Bybel “die huis van Israel” noem, in ballingskap gegaan onder die Assiriërs (721 v.C.) en die suidelike koninkryk van Juda, wat bestaan het uit Juda, die klein stam van Benjamin en ’n gedeelte van die Leviete, onder die heerskappy van die konings van Juda gelaat. Vervolgens het die afgodsdienende koninkryk van Juda in Babiloniese ballingskap gegaan (604 v.C.), hulle gevolglik bekeer en na die heilige land teruggekeer (539 v.C.). Onder Romeinse heerskappy was hierdie nasie later bekend as Judea; en na Rome se vernietiging van die Joodse staat in 70 n.C. het die Diaspora van die Jode begin, wat hulle regdeur die bekende wêreld versprei het.

God sê egter dat die afstammelinge van die antieke koninkryk van Juda, wat ons vandag ken as die Jode, na hulle land sal terugkeer en hulle plek “in die laaste dae” sal hervestig, die tyd net voor die wederkoms van die Messias. Kyk wat sê God oor hierdie tyd deur die profeet Sagaria, toe Juda in Babiloniese ballingskap was: “Kyk, Ek maak Jerusalem vir al die volke rondom tot ’n beker van bedwelming, en ook teen Juda sal dit wees tydens die beleëring teen Jerusalem. En in dié dag maak Ek Jerusalem tot ’n baie swaar klip vir al die volke: elkeen wat dit optel, sal hom daarmee sekerlik seermaak; en al die nasies van die aarde sal daarteen vergader word. In dié dag, spreek die Here, sal Ek al die perde met verwarring slaan en hulle ruiters met waansin; maar oor die huis van Juda sal Ek my oë oophou, terwyl Ek al die perde van die volke met blindheid slaan. Dan sal die stamhoofde van Juda in hulle hart sê: Die inwoners van Jerusalem is vir my ’n sterkte deur die Here van die leërskare, hulle God. In dié dag sal Ek die stamhoofde van Juda maak soos ’n pan met vuur onder ’n hoop hout en soos ’n brandende fakkel onder gerwe – hulle sal regs en links al die volke rondom verteer; maar Jerusalem sal nog bewoond wees op sy plek in Jerusalem” (Sagaria 12:2-6).

 Dit het werklikwaar gebeur tydens ons leeftyd! Juda het teruggekeer na antieke Judea en Jerusalem herower, net soos so lank gelede geprofeteer was. In ’n reeks oorloë het Juda die omliggende vyandige nasies gebrand soos “’n brandende fakkel onder gerwe”, en dit is die regeerders [stamhoofde] van Juda, nie sy koning nie, wat hierdie verbranding doen. Die klein nasie van Israel word akkuraat beskryf as “’n pan met vuur onder ’n hoop hout”. Jerusalem is ook werklik ’n “baie swaar klip vir al die volke” en word by die jaar nog meer so.

Diegene wat egter nie glo dat God die mag het om die loop van die geskiedenis te voorspel nie, maak dit af as maar net die normale verloop van gebeure. Deeglik onderrig in die dogma dat hulle slegs ingelig kan word deur die fisiese wêreld en wat hulle daarvan kan aflei, kan hulle omtrent enigiets weg rasionaliseer. Vir hulle is daar geen God wat dinge kan openbaar wat hulle nie andersins te wete kan kom nie.

Die onwaarskynlike geval van Jerusalem

Waarom Jerusalem? Vandag mag dit as vanselfsprekend aanvaar word dat Jerusalem so ’n belangrike plek in die wêreld is, eenvoudig omdat dit vir die laaste eeu so prominent in die nuus was. Waarom egter Jerusalem? As mens daaroor nadink, lyk dit of die stad ’n baie onwaarskynlike geskilpunt kan wees. Dit is nie op ’n belangrike handelsroete, soos die meeste ander groot wêreldstede nie. Sy ligging was bepaal deur die Fontein van Gihon in die Kidronvallei aan die voet van die ou stad. Jerusalem beskik oor geen groot natuurlike hulpbronne nie, anders as ander Midde-Oosterse stede soos Abu Dhabi. Dit het nie toegang tot die see nie, anders as Londen, Tokio, Buenos Aires, Kaapstad of selfs Haifa. Jerusalem se geografie is onopvallend; dit is op lae berge geleë, tussen die Middellandse See en die Jordaanrivier vallei.

Jerusalem sit wydsbeen oor die belangrikste noord-suid invalsroete van die Midde-Ooste. Indien u ’n rustige plek soek, is Jerusalem nie daardie plek nie! Dit het ’n gewelddadige geskiedenis, beginnende as ’n dorpie van die Jebusiete wat Dawid in ’n strooptog verower het. Die koning het ’n nabygeleë dorsvloer gekoop, en sy seun – Koning Salomo – het ’n buitengewone tempel daar gebou. Sedert daardie tyd was niks meer dieselfde nie. Vir eeue, sedert die eerste Moslemse verowering, word daardie een klein flentertjie rots op die berg Moria oorheers deur die Rotskoepel-moskee. Nou, in ons dae, kyk Jode, Christene en Moslems almal na die stad as een van hulle heiligste plekke.

Waarom Jerusalem? Gaan daar iets aan wat die wêreld nie kan sien nie? Logies gesproke, behoort dit nie so belangrik te wees nie, maar die Bybel verduidelik waarom moderne politieke gebeure wat Jerusalem raak, standhoudend is met profesieë van duisende jare gelede: Die God van Abraham, Isak en Jakob het ’n antieke aanspraak op die stad. Deur die profeet Sagaria openbaar God: “En die woord van die Here van die leërskare het gekom en gesê: So spreek die Here van die leërskare: Ek ywer oor Sion met ’n groot ywer, ja, Ek ywer met groot grimmigheid daarvoor. So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon; en Jerusalem sal genoem word: Die stad van trou, en die berg van die Here van die leërskare: Die heilige berg” (Sagaria 8:1-3).

Jerusalem, die terrein van Salomo se tempel en die geprofeteerde hoofkantoor van God se toekomstige Koninkryk hier op aarde, word begeer deur selfs diegene wat God teenstaan. Kyk wat die apostel Paulus skryf: “Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf, die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is. Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?” (2 Thessalonicense 2:3-5).

Hierdie antieke plek behoort aan die God van Abraham, Isak en Jakob – nogtans begeer iemand anders dit. Is dit moontlik dat wêreldgebeure stadig besig is om te fokus op een klein stukkie rots op die lae berg bekend as Moria – of Sion – in die Midde-Ooste? Die Tempelberg in Jerusalem is geprofeteer om die oog van die storm te wees in toekomstige wêreldgebeure. Baie min mense in hierdie wêreld kan dit al insien, maar kan ons dit insien? Hoe gaan ons reageer op die werklike vervulling van die gebeure wat God voorspel het? Word ons deur geloof ingelig?

Die profeet Daniël het openbaar dat, in die dae wat lei tot die einde van hierdie tydperk, ’n groot leier sal opstaan en Jerusalem binne sal val. “… en die volk van ’n vors wat sal kom, sal die stad en die heiligdom verwoes ... En hy sal een week [7 jaar] lank met baie ’n sterk verbond sluit, en gedurende die helfte van die week [3½ jaar] sal hy slagoffer en spysoffer laat ophou; en op die vleuel van gruwels sal daar ’n verwoester wees ...” (Daniël 9:26-27).

Hierdie heerser sal die her-ingestelde daaglikse offers vanaf die heilige plek wegneem. “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31).

Dít is die tyd wanneer die Groot Verdrukking begin – wanneer die offers weggeneem sal word. Vir die offers om weggeneem te kan word, moet daar egter eers mee begin word, of dit nou ook al in ’n herboude Tempel of op ’n altaar op ’n heilige plek is! Is u bewus daarvan dat, vir die eerste maal in bykans twee duisend jaar, groepe Jode besig is om voorbereidings te tref om weer met die antieke offers te begin? Die gereedskap word voorberei, die heilige klere word gemaak, priesters word geïdentifiseer en daar word selfs gepoog om die Sanhedrin weer ingestel te kry. Kan dit wees dat die Tempel reeds bestaan – hoewel slegs as los gedeeltes – gereed om aanmekaar gesit te word op die terrein waar dit was in Salomo se tyd (1 Konings 6:7)?

Boere teel selfs beeste in die hoop om die “rooi koei” wat nodig is vir die herwyding van die priesterskap, te kan voorsien (Numeri 19:1-10). Sonder hierdie wyding [heiligmaking] kan die offers nie gebring word nie – dus sal diegene wat eindtydse profetiese gebeure dophou, weet dat die slag van die rooi koei een van die eerste belangrikste mylpale is in hierdie finale opeenvolging van eindtydse gebeure.

Hoe gaan u reageer?

U reaksie gaan afhang van hoe ingelig u is – behou u God in erkentenis, of nie? Dit maak ’n groot verskil in wat u in staat is om te sien. God sê dat die profete ons oë is. “Want die Here het oor julle uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë – die profete – toegesluit ... So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ’n verseëlde boek ... En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is” (Jesaja 29:10-13).

Die apostel Paulus verduidelik dit verder: “En omdat hulle dit nie die moeite werd geag het om God in erkentenis te hou nie, het God hulle oorgegee aan ’n slegte gesindheid, om te doen wat nie betaam nie” (Romeine 1:28).

 Party mense sê: “Ek sal wag totdat ek al hierdie dinge sien gebeur en dan sal ek begin om God te gehoorsaam”.

Volgens God se woord is diegene met hierdie gesindheid besig om hulle self te bedrieg. “... hy [die ongeregtigde] wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen en met allerhande verleiding van ongeregtigheid in die wat verlore gaan, omdat hulle die liefde tot die waarheid nie aangeneem het om gered te word nieEn daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid” (2 Thessalonicense 2:9-12).

Gedurende daardie tyd sal die ware Kerk van God erg vervolg word. “Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam. En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat. En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei. En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel. Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:9-13).

Onderhouding van God se wet en die glo van God se woord, sal ’n goeie begrip verleen aan daardie mense wat God in erkentenis hou (Psalm 111:10). Daardie mense wat God egter nie in erkentenis hou nie – hulle wat Sy geopenbaarde kennis verwerp – sal anders reageer as diegene wat dit aanvaar, en sal aan die ander kant van die helder lynwees. Hulle sal vatbaar wees vir misleiding.

Die Bybel sê aan ons dat die wêreld sal optrek om te veg teen die hoop van die mensdom – die ware Messias, Jesus Christus. Dit sal vir hulle lyk na die verstandige ding om te doen. “Kyk, daar kom ’n dag vir die Here; dan sal wat van jou buitgemaak is, binne-in jou verdeel word, o Jerusalem! Want Ek sal al die nasies versamel om oorlog te voer teen Jerusalem; en die stad sal ingeneem en die huise geplunder en die vroue onteer word, en die helfte van die stad sal uitgaan in ballingskap; maar die orige deel van die bevolking sal nie uit die stad uitgeroei word nie. En die Here sal uittrek en stryd voer teen dié nasies soos op die dag van sy stryd, die dag van oorlog” (Sagaria 14:1-3).

Waar trek ons nou?

Indien u al lank die Wêreld van Môre lees, weet u dat ons lank reeds die Bybelse waarskuwing verkondig dat, namate die einde van hierdie tydvak nader, daar eers ’n finansiële en militêre ineenstorting van Amerika en Groot Brittanje sal wees. ’n Groot godsdienstige en politieke mag sal in Europa verrys – die herlewing van die Heilige Romeinse Ryk – wat wonderbaarlike tekens sal verrig en groot dinge sal spreek. Met die seën van hierdie mag sal een of ander ooreenkoms aangegaan word wat die hervatting van die antieke Tempeloffers sal toelaat (met of sonder ’n volledige nuwe Tempelgebou). Wanneer daardie offers weer stopgesit word, sal dit die begin aandui van ’n 3½ jaar periode van groot verdrukking oor die hele wêreld en dit sal ’n toppunt bereik met Jesus Christus se wederkoms.

Die grootste deel van die wêreld sal hierdie verwikkelinge afmaak as die natuurlike werkinge van gewone menslike politieke en militêre pogings. Hulle sal God se hand in dit wat gebeur ontken, en sal selfs teen Hom veg heel aan die einde van hierdie tydvak. Diegene wat deur God se woord ingelig is sal egter anders wees.

Hoe is u ingelig? Veronderstel u dat u slegs kan staatmaak op die fisiese wêreld om u – of aanvaar u die feit dat u ook ingelig kan word deur geloof – kennis deur God geopenbaar? Wanneer ons eers deur geloof ingelig is, moet ons daarvolgens handel. Christus sal die skape van die bokke skei – die koring van die kaf – Sy heiliges van die mense van die wêreld. Waar u is, hang grootliks daarvan af of u gewillig is om te glo wat God sê, en daarvolgens te handel terwyl u nog kan.

Jesus raai ons aan: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Sal u?