Stuur ons op rampspoed af of sal ons leer hoe om ons volke ’n ander koers te laat inslaan? U Bybel bied die antwoord – vir u, en vir u nasie!


Kan enige nasie of ryk lank voortbestaan? Vir langer as 200 jaar was die Verenigde State ’n groot mag op die wêreldtoneel, maar in die eerste jare van die 21ste eeu sien ons dat die VSA se mag afneem en ander magtige nasies of bondgenootskappe – soos China en die Europese Unie – al hoe meer politieke, ekonomiese en militêre mag uitoefen. Kan die VSA nog veel langer standhou?

Die wêreldregerende ryke van die verlede bestaan nie meer nie. Die groot Babiloniese Ryk het byvoorbeeld baie nasies verower, insluitend die koninkryk van Juda in die Midde-Ooste. Die geskiedskrywer, Herodotus, skryf: “Benewens sy enorme grootte, het Babilon enige stad in die bekende wêreld in luisterrykheid oortref” (The Histories, Boek Een, afdeling 178).

Wat het met daardie magtige ryk gebeur? Babilon se verdorwenheid het gelei tot God se oordeel.

Die profeet Daniël het in die bladsye van u Bybel die opkoms en val van ander groot ryke voorspel. Hy het die opkoms en val van die Romeinse Ryk voorspel. Wat het van die antieke Romeinse Ryk geword? Daardie magtige ryk het vir langer as 500 jaar geduur, maar het uiteindelik in 476 n.C. tot ’n einde gekom. Geskiedkundige Edward Gibbon het die oorsake van die ryk se val opgesom: “Na ’n noukeurige ondersoek, kan ek vier hoofoorsake onderskei vir die ondergang van Rome, wat vir ’n tydperk van meer as een duisend jaar in bedryf was. 1. Die skade van tyd en natuur. 2. Die vyandige aanvalle van die barbare en Christene. 3. Die gebruik en misbruik van middele. 4. Die onenigheid in eie geledere van die Romeine” (The Decline and Fall of the Roman Empire, Hoofstuk 71).

Hedendaagse ryke het ook gekom en gegaan. In die 20ste eeu het die Duitse “Derde Reich” met militêre “blitzkrieg”-aanvalle sy heerskappy oor groot dele van Europa en Noord-Afrika uitgebrei. Adolf Hitler se ambisie het die verowering van die Sowjetunie ingesluit, maar hy het misluk. Die geallieerde magte het die Derde Reich verslaan. Die Sowjetunie, of die Unie van Sosialistiese Sowjetrepublieke, het uit 15 republieke bestaan wat van oos na wes, oor 11 000 myl gestrek het. Hierdie groot supermoondheid het hom in sy kommunistiese ideologie verlustig; dit het geveg vir die harte van nasies en volke regoor die wêreld – en uiteindelik het dit gefaal.

Nou het daardie eens magtige moondheid in 15 versukkelende nasiestate versplinter, met twaalf van hulle verbind in die Gemenebes van Onafhanklike State. Wie kon die ineenstorting van so ’n groot supermoondheid voorspel het? U sal verbaas wees om te verneem dat ’n klein groepie Christene wat op die Bybel staatmaak, nog altyd verstaan het dat Oos-Europa uiteindelik uit die ystergreep van die Sowjetunie sou ontsnap.

Hoe het hulle geweet? Bybelprofesieë het die opkoms van ’n ander groot supermoondheid, wat in Openbaring die Dier genoem word, voorspel. Meer as 50 jaar gelede het mnr. Herbert W. Armstrong geskryf dat Oos-Europa met Wes-Europa sou herenig en dat Rusland “gedwing sou word om haar heerskappy oor Hongarye, Tsjeggo-Slowakye en dele van Oostenryk prys te gee” (Good News, April 1952, bl. 16).

Kort na Rusland se inval in Hongarye in 1956, toe baie “kundiges” geglo het dat die “Ystergordyn” vir ewig oor die nasies van Oos-Europa gesak het, het die Plain Truth-tydskrif hierdie verbasende stelling gemaak: “Die weg word voorberei vir ’n reuse derde mag in wêreldpolitiek – ’n Europese Federasie van Nasies wat magtiger sal wees as hetsy Rusland of die Verenigde State! ... Ons het jare vooruit getoon wat sou word van Rusland se rampspoedige Ryk in Oos-Europa” (Plain Truth, Desember 1956, bl.3).

Sal vandag se Westerse nasies dieselfde patroon van agteruitgang en verval of ineenstorting volg as die nasies wat hulle voorafgegaan het? Sal  Groot Brittanje, Kanada, Australië en Nieu-Seeland ook agteruitgaan en tot ’n val kom? Sal die Verenigde State al hoe meer orkane soortgelyk aan Katrina, aardbewings en ander natuurrampe ervaar? Sal ons voortgaan om terreuraanvalle te beleef? Die geskiedenis en die Bybel toon dat keer op keer wanneer nasies die God van die Skepping verwerp, hulle geoordeel sal word. Sal die Westerse wêreld voortgaan met sy verwerping van Bybelse waarheid? Die filosoof Georg Hegel maak die opmerking: “Wat ervaring en die geskiedenis ons leer is die volgende – mense en regerings het nooit enigiets uit die geskiedenis geleer of gereageer op die beginsels wat uit geskiedenis afgelei is nie” (The Philosophy of History).

Die geskiedenis van die wêreld is die verhaal van nasies en ryke wat voorspoedig was en later tot ’n val gekom het. Sal ons lesse uit die geskiedenis leer? Party ryke het stadig agteruitgegaan voor hulle algehele verval. Ander is skielik vernietig of verower. Die groot ryke van die verlede is nou niks meer as artefakte in museums of gebroke monumente waar die ryke eens floreer het nie. Brittanje het eens op ’n tyd die wêreld se grootste ryk beheer. Teen 1921 het dit ongeveer 15 miljoen vierkante myl beslaan – ’n derde van die wêreld se totale grondoppervlakte – wat ongeveer ’n kwart van die wêreld se bevolking bevat het. Daar is gesê dat “die son nooit oor die Britse ryk ondergaan nie”. Na ’n laaste kortstondige uitbreiding kort na die Tweede Wêreldoorlog, het ’n proses van “dekolonisasie” begin en teen 1960 het die Britte die grondgebiede prysgegee wat vandag bestaan uit Indië, Parkistan, Burma, Sri Lanka, Irak, Ghana, Nigerië, Somalië en groot dele van Afrika suid van die Sahara, asook die Palestynse Mandaat en dele van Egipte en die Soedan. Oor die afgelope 40 jaar het Brittanje die meeste van haar oorsese besittings prysgegee, die mees onlangse was die teruggawe van Hong Kong aan Chinese soewereiniteit in 1997. Die son het lankal reeds oor die Britse ryk gesak.

Sal die supermoondheid, Amerika, ’n soortgelyke verval in die gesig staar? Elke nasie – elke ryk – van die verlede het tot ’n val gekom, net soos Griekeland en Rome. U kan weet watter nasies of ryke in die 21ste eeu tot ’n val sal kom. Bybelprofesieë onthul die toekoms van die Westerse nasies, mits u weet wat die sleutel is om die moderne afstammelinge van antieke Bybelse nasies te identifiseer.
Verbaas dit u? Onthou, daar is ’n God in die hemel wat hier op aarde ’n groot plan uitwerk. Hy gee rebelse mense duisende jare om met hul eie mensgemaakte godsdiens, wetenskap, regering, sakewêreld, onderwys en maatskaplike instansies te eksperimenteer. God laat mense toe om hul eie vleeslike weg van selfsug, oorlog en geweld te volg, maar Hy het ’n plan – en soos ons uit die geskiedenis en die Bybel sien, gryp Hy in wêreldsake in om die mensdom te help om blywende lesse van lewe en dood te leer.

Lesse geleer?

Het ons lesse uit die geskiedenis geleer? Die beroemde filosoof George Santayana, skryf in sy bekende verhandeling Reason in Common Sense: “Diegene wat die verlede nie kan onthou nie, is gedoem om dit te herhaal”. Sal ons in die Westerse wêreld die lesse van die geskiedenis leer, of sal ons die patroon van al die groot koninkryke en ryke volg wat voor ons gekom en gegaan het – wat tot die hoogtes van mag en oorheersing geklim het en dan in agteruitgang en vergetelheid verval het?

Bélsasar, die laaste koning van Babilon, was een groot heerser wat ’n les uit die geskiedenis moes leer. Tog het hy aangedring op sy eie goddelose leefwyse en het ander mense in losbandigheid gelei. Sy ryk het die straf daarvoor betaal. Daardie diepsinnige les is in die anale van die geskiedenis en in die bladsye van u Bybel aangeteken. Die profeet Daniël was in die stad Babilon die nag toe die Persiese ryk dit oorweldig het. Deur Daniël het God vir koning Bélsasar laat weet wat met hom en sy ryk gaan gebeur. Die verbasende verloop van gebeure is in hoofstuk 5 van die boek Daniël aangeteken, in die bekende verhaal van die “skrif aan die muur”. Koning Bélsasar het ’n fees voorberei – ’n groot partytjie – vir duisende van sy vorste. Hulle het wyn uit die goue bekers gedrink wat uit God se Tempel in Jerusalem geplunder is. “Op dieselfde oomblik het daar vingers van ’n mens se hand te voorskyn gekom en teenoor die kandelaar op die kalk van die muur van die koninklike paleis geskrywe, en die koning het die deel van die hand gesien wat geskrywe het. Toe het die gelaatskleur van die koning verander, en sy gedagtes het hom verskrik, en die gewrigte van sy heupe het losgeraak, en sy knieë het teen mekaar geslaan” (Daniël 5:5-6).

Die koning het Daniël gevra om hierdie raaisel uit te lê. Wat het hierdie geheimsinnige hand geskryf? “En dit is die skrif wat geskrywe is: Mené, mené, tekél ufarsín. Dit is die uitleg van die woord: Mené – God het u koningskap getel en daar ’n einde aan gemaak; tekél – u is op die weegskaal geweeg en te lig bevind; perés – u koninkryk is verdeel en aan die Meders en Perse gegee” (Daniël 5:25-28). Toe: “In dieselfde nag is Bélsasar, die koning van die Chaldeërs, gedood. En Daríus, die Meder, was twee-en-sestig jaar oud toe hy die koningskap ontvang het” (Daniël 5:30–6:1).

Vandag is die skrif aan die muur vir die Verenigde State en Groot Brittanje. Die waarskuwingstekens is rondom ons, namate ons nasies al hoe meer dekadent (vervalle) en onsedelik raak. Tog is daar nog tyd vir ons om ons op nasionale en individuele vlak te bekeer. Sal ons na God se waarskuwings luister?

Gedurende die afgelope paar jaar het Amerika skokkende rampe ervaar. Op 11 September 2001 het terroriste vliegtuie gekaap en in New York se Wêreld Handelsentrum en die Pentagon in Washington, D.C. vasgevlieg. Duisende mense is in die aanvalle dood. In September 2005 het orkaan Katrina die suidelike kus van die Verenigde State vernietig. Die stad New Orleans was oorstroom. Katrina is “die ergste natuurramp in die Amerikaanse geskiedenis” genoem.

Hierdie rampe het getoon hoe kwesbaar en onvoorbereid ons is. Kan enige nasie bekostig om honderde miljarde dollars verliese te ly? Watter lesse behoort ons uit hierdie katastrofes te leer? Is dit bloot ’n verwagte deel van die siklus van die geskiedenis en die natuur? Of is God besig om kragtig in te gryp om ons wakker te skud uit ons sedelike en geestelike verval? As ons met onsself eerlik wil wees, moet ons erken dat ons nasies ver van die God van die Bybel en Sy Seun, Jesus Christus, afgedwaal het! Indien ons in die Westerse wêreld aanhou om die Tien Gebooie en die Woord van God, die Bybel, te ignoreer, te verafsku en te verwerp, sal ons meer natuurrampe in die gesig staar – totdat ons dit deur ons dik, vleeslike koppe kry dat ons na God met ganser harte moet soek! Die profeet Jesaja gee vir ons hierdie vermaning, bemoediging en belofte: “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik” (Jesaja 55:6-7).

Ons moet nou geestelik optree! Party hardekoejawels sal natuurlik skepties bly, maar diegene wat God met behulp van Sy Woord soek, sal begrip en gemoedsrus verkry.

’n Antieke les

Ons het gesien dat groot ryke nie vir ewig bly voortbestaan nie. Hulle verrys, gaan agteruit en verval. Sal die Westerse nasies lesse uit die geskiedenis leer? Koning Bélsasar het die lesse geïgnoreer wat hy by sy voorganger, Koning Nebukadnesar, wat eers oor die Babiloniese Ryk regeer het, moes leer. Daniël het Bélsasar herinner aan die lesse wat hy moes leer by hierdie vorige koning: “Wat u betref, o koning, die allerhoogste God het aan u vader Nebukadnésar die koningskap en grootheid en heerlikheid en majesteit gegee. En vanweë die grootheid wat Hy hom gegee het, het al die volke, nasies en tale gebewe en vir hom gesidder; wie hy wou, het hy gedood, en wie hy wou, het hy laat lewe, en wie hy wou, het hy verhoog, en wie hy wou, het hy verneder. Maar net toe sy hart hom verhef het en sy gees verhard is om oormoedig te wees, is hy van die troon van sy koningskap afgestoot, en die heerlikheid is hom ontneem. En hy is uit die mense verstoot, en sy hart het soos dié van die diere geword, en hy het saam met die wilde-esels gewoon; hulle het hom plante laat eet soos die beeste, en deur die dou van die hemel is sy liggaam natgemaak totdat hy erken het dat die allerhoogste God mag het oor die koningskap van die mens en daaroor kan aanstel wie Hy wil” (Daniël 5:18-21).

Nebukadnesar het ’n dure les geleer. Hy het probeer regeer sonder om aan God erkenning te gee en hy het vreeslik daardeur gely! Moet ons ook die lesse op die harde manier leer, of sal ons aandag skenk aan God en aan Sy Woord, die Bybel?

Die profeet Daniël het reeds voorspel dat Babilon tot ’n val sou kom en vervang sou word deur die ryk van die Mede en die Perse. Koning Nebukadnesar het ’n droom gehad wat geeneen van sy astroloë vir hom kon uitlê nie. Die profeet Daniël het egter nie net vir die koning vertel wat sy droom was nie, maar het ook die uitleg daarvan gegee: “U, o koning, het ’n gesig gehad – kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei” (Daniël 2:31-33).

Die profeet Daniël het vir die koning vertel wat die droom se betekenis was: “U, o koning, koning van die konings, aan wie die God van die hemel die koningskap, die krag en die sterkte en die eer verleen het, en in wie se hand Hy in die hele bewoonde wêreld die mensekinders, die diere van die veld en die voëls van die hemel gegee het, sodat Hy u as heerser oor hulle almal aangestel het – ú is die hoof van goud” (vers 37-38).

Hier onthul God die mag en gesag wat Hy, die Skepper van die heelal, aan die “kop van goud” – Nebukadnesar en sy koninkryk – gegee het. Die droom het egter die einde van Nebukadnesar se koninkryk voorspel en die totstandkoming van ander ryke na syne: “En ná u sal daar ’n ander koninkryk opstaan, geringer as dié van u; daarna ’n ander, ’n derde koninkryk, van koper, wat oor die hele aarde sal heers; en die vierde koninkryk sal hard wees soos yster, juis omdat yster alles fynstamp en verpletter; en soos die yster wat vergruis, sal hy dit alles fynstamp en vergruis” (vers 39-40).

Watter ryke het hierdie droom beskryf? Agtenswaardige Bybelgeleerdes stem vandag saam oor hul identiteit en vervulling. Die kop van goud verteenwoordig die Babiloniese Ryk van 625 v.C. tot 539 v.C. Hierdie ryk is vervang deur die Medo-Persiese Ryk van 558 v.C. tot 330 v.C., wat verteenwoordig is deur die bors en arms van silwer. Die buik en lendene van koper beeld die Grieks-Masedoniese Ryk van Alexander die Grote uit, van 333 v.C. tot 31 v.C. Die twee bene van yster dui op die Romeinse Ryk van 31 v.C. tot 476 n.C. Laastens, die tien tone aan twee voete van yster gemeng met klei, dui op ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk.

Die droom het een baie belangrike laaste detail onthul. Die vier wêreldlike koninkryke wat in Nebukadnesar se droom voorgestel word, sal almal tot ’n einde kom. Hulle sal vervang word deur wat ons ’n vyfde Koninkryk noem, die toekomstige Koninkryk van God.

“U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het” (vers 34-35).

Wat is die klip wat die beeld getref het? Daniël beskryf die betekenis daarvan: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (vers 44).
Ja, die Koninkryk van God sal binnekort na hierdie aarde kom! Slegs God kan vir ons blywende vrede bring.

Sal ons onsself bekeer?

Regdeur die geskiedenis van die wêreld was dit uiters seldsaam om enige samelewing te vind wat hulle van hul goddelose weë  afgesien het. Nineve, die hoofstad van antieke Assirië, langs die Tigrisrivier, was een van net ’n paar en het in werklikheid God se oordeel vertraag. Die profeet Jona het met God se waarskuwing na die burgers van Nineve gekom: “En Jona het begin met een dagreis ver die stad in te gaan en het gepreek en gesê: Nog veertig dae, dan word Ninevé verwoes” (Jona 3:4). Hoe het die inwoners van Nineve daarop reageer? Het hulle God se profeet Jona geïgnoreer? Nee! “En die manne van Ninevé het God geglo en ’n vasdag uitgeroep, en groot en klein het hulle met rougewaad beklee. En toe die berig die koning van Ninevé bereik, het hy opgestaan van sy troon en sy mantel afgehaal en in rougewaad gehuld in die as gaan sit” (vers 5-6). Kan u u indink dat enige wêreldleier vandag hom op so ’n wyse voor God sal verootmoedig?

Die Assiriërs het gereageer op Jona se waarskuwing. Hulle het hulle bekeer van hul goddelose weë en God het hulle gespaar. Die gebeure het in die agtste eeu voor Christus plaasgevind. God het Nineve vir nog baie jare gespaar en die nasie selfs gebruik om antieke Israel te straf en sy mense in ballingskap weg te voer. Nadat Assirië die “Noordelike Koninkryk” – Israel – in ballingskap weggevoer het, was daardie koninkryk (Israel) verlore vir die geskiedenis en het hulle bekend geword as die “verlore tien stamme”.

Die profeet Jesaja teken aan wat God se doel was om Assirië te gebruik om Israel te straf. Jesaja haal God aan wat sê: “Wee Assur! die roede van my toorn en ’n stok is hy – in hulle hand is my grimmigheid! Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie, en Ek sal hom bevel gee teen die volk van my grimmigheid, om buit te maak en roof in te samel en om hulle tot ’n vertrapping te maak soos modder van die strate. Maar hý bedoel dit nie so nie, en sy hart dink nie so nie; maar om te verdelg, is in sy hart, en om nasies uit te roei, nie min nie” (Jesaja 10:5-7).

God het die koninkryk van Israel gewaarsku om hulle te bekeer, maar die mense het geweier om hulself te verander. Daarom het die Assiriërs die tienstammige Huis van Israel verower en die gevangenes ver na die ooste in Assirië weggevoer. Israel se finale ballingskap het ongeveer 721 v.C. plaasgevind. Uiteindelik het Assirië egter tot sy vleeslike weë teruggekeer en in 612 v.C. het God toegelaat dat die Mede Nineve vernietig.

God het ook Sy waarskuwings aan Juda gestuur, maar daardie nasie het ook in hul sondes volhard. Om dié rede het God die koninkryk van Babilonië onder koning Nebukadnesar gebruik om die Huis van Juda te straf. Die meerderheid van die Jode is oor ’n tydperk van twee dekades na Babilon gedeporteer, wat geëindig het met die vernietiging van Jerusalem in 586 v.C. As ’n jongman is Daniël en drie van sy vriende gevange geneem en opgelei in die kultuur en literatuur van Babilon. Daardie jong manne het volhard in die goddelike waardes wat hulle in Juda geleer is en God kon Daniël gebruik om Nebukadnesar se droom uit te lê – en om die goeie nuus te verkondig van ’n toekomstige groot Koninkryk wat vir ewig sal bly staan!

Ja, die Koninkryk van God sal vir ewig bly staan! U kan daarop staatmaak! Dit is die goeie nuus wat ons met u wil deel in hierdie tydskrif! Selfs as u nasie nie op God se Woord ag slaan nie, sal u individueel geseën word indien u God se waarheid wat aan u onthul is, glo en daarop reageer! Daardie waarheid onthul ook die toekoms van “hedendaagse Israel” – die nasies wat afstammelinge is van die “verlore” tien stamme – insluitend die VSA, Groot Brittanje en die Britse afstammelinge, en baie van die volke van Noordwes Europa. Indien u nog nie ’n eksemplaar het nie, skryf of skakel om ’n gratis eksemplaar te bekom van ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika. Dit onthul die Bybelse oorsprong van ons Westerse nasies. Bybelprofesieë onthul wat geskiedkundiges, wêreldleiers en politieke ontleders nie van kennis dra nie! Maar u, as getroue student van u Bybel, kan verstaan.

Soos gereelde lesers van die Wêreld van Môre weet, is baie Bybelprofesieë tweeledig – daar is ’n eindtydse vervulling wat ooreenstem met ’n antieke vervulling. Profesieë toon inderdaad dat die eindtydse afstammelinge van Assirië weereens die eindtydse afstammelinge van die verlore tien stamme van Israel sal straf. Sal u gereed wees wanneer dit gebeur? Weet u wat die tekens is om voor uit te kyk? Hou aan om die Wêreld van Môre te lees, bestudeer u Bybel en u sal leer hoe om wêreldgebeure in die lig van profesieë te verstaan.

Of die Westerse nasies uit die lesse van die geskiedenis leer al dan nie, ons kan ons individueel bekeer – en ons moet! Die dag van God se oordeel teen die mensdom se mislukte weë kom vinnig nader. Daardie nasies en individue wat hulle tot God bekeer, sal geseënd wees. Wat moet u doen? Moenie wag vir u nasie om te verander nie. Dit is nou die tyd om van ganser harte na God te soek.