Die meeste verslaggewers en nuuslesers word daarvan bewus dat die wêreld ’n al hoe meer gevaarlike plek word. Nóg die Verenigde Nasies, nóg Amerikaanse kragvertoon, het tweedrag voorkom of die groot probleme opgelos wat die mensdom in die gesig staar. Min mense besef vandag dat gewigtige en algeheel onverwagte gebeure net oorkant die horison lê en wag. Selfs buitelandse beleidsdeskundiges, wat potensiële gevare in die toekoms sien, erken dat hulle nie ’n duidelike beeld het van wat die toekoms inhou nie. Bybelse profesieë openbaar egter in ooglopende besonderhede ontnugterende gebeure, wat op die punt is om te ontvou, op die wêreldtoneel.

Wêreld-skuddende veranderings gaan Europa én Duitsland tot die middelpunt van die wêreldtoneel slinger. Hierdie skielike en verrassende ontwikkellinge gaan ernstige gevolge inhou vir Amerika, Brittanje en die mense wat van Noord-Westelike Europese lande afkomstig is. Hierdie gebeure ontwikkel volgens ’n plan en vir redes wat God lank gelede reeds in die Bybel omskryf het. Hierdie dramatiese verandering in wêreldgebeure is voorspel om Christus se terugkeer na die Aarde vooraf te gaan. U het nie net nodig om te verstaan wát gaan gebeur nie, maar ook waaróm. U kan dit nie bekostig om die rigting waarin die wêreld beweeg, te ignoreer nie.

Verontrustende Ooreenkomste

Sosiale en politieke toestande in Europa begin vandag op ’n onheilspellende dog onmiskenbare manier, toestande naboots wat bestaan het nét voor die uitbreek van die twee vorige wêreldoorloë. In beide die twee voor-oorlogse tydperke was daar ’n toename in maatskaplike onenigheid, ondoeltreffende pogings deur geleerdes en liberale politici om probleme op te los en ’n groeiende ontevredenheid onder die algemene publiek teen leiers wat uit voeling was met die bevolking. Beide tydperke het die totstandkoming van opswepers met grootse planne en idees gesien wat as kampioene van die ontevrede en ontnugterde massas voorgekom het. Die jare wat die eerste Wêreldoorlog voorafgegaan het was geëtiketteer as ’n tydperk van “senuagtige glans” en die jare voor die tweede Wêreldoorlog as “onrustige kalmte”. Gedurende hierdie onbestendige tye het baie mense ontvlugting gesoek in ligsinnige vermaaklikhede, terwyl ander leiers gevolg het wat idealistiese beloftes gemaak het.

Dieselfde kragte is weer besig om vandag na vore te kom - veral in Europa, wat toenemend bekommerd raak oor misdaad, werkloosheid, politieke korrupsie en vreemdeling immigrasie. In Westelike Europa voel baie bedreig deur vreemdelinge wat oor hulle grense stroom op soek na politieke asiel, werk, mediese dienste en ander voordele. Liberale politici word gesien as korrup en onbekwaam (vgl. Newsweek, April 19, 2002, bll. 12-16). Demokratiese prosesse kom lomp en ondoeltreffend voor. Godsdiens is ontoepaslik vir ’n toenemende getal mense en morele waardes verkrummel. Verdraagsaamheid, paaiery en oproepe tot rede het nie al die mensdom se probleme opgelos nie. Historikus Richard Overy skryf dat “daar weer eens in Europa ’n siniese verwerping van parlementêre politiek is en ’n groeiende wantroue in politici ... Europa moet intens bekommerd wees oor die snelle opkoms van die vêr Regses” - wie se kandidate weer eens inbreuk maak op politieke mag (Evening Standard, Junie 15, 2002). ’n Klimaat van frustasie en begeerte tot verandering kom weer na vore, net soos voor die tweede Wêreldoorlog.

Die globale stryd van 1914 tot 1917 het ryk, uit-voeling-regeringstelsels in Rusland, Duitsland, Oostenryk-Hongarye en Turkye tot ’n val gebring. Ondoeltreffende pogings van liberaal-demokratiese leiers het die opkoms van diktators en militariste in Duitsland, Italië en Japan bevorder; wat die wêreld in 1939 tot in die tweede Wêreldoorlog gedryf het. Vandag wonder baie: gaan liberale, demokratiese, selfhelp, elite politici vervang word met meer outoritêre leiers? Gaan wêreldmagte wat die wêreld vir ’n paar eeue gelei het - Amerika, Brittanje en Frankryk - kragdadig uitgedaag word, deur nuwe teënstaanders op die wêreldtoneel? Kan Amerika, die wêreld se enigste supermoondheid, val? Gaan Duitsland, vir die derde keer in ’n eeu, probeer om Europa én die wêreld te oorheers? Niemand weet blykbaar nie, maar die geskiedenis gee belangrike insigte - én die Bybel openbaar wesenlike antwoorde!

Ontnugterende Lesse

Presies wat kan ons ontdek deur na die verlede te kyk? Dat ons eenvoudig so in ons moderne geslag daarop fokus om in die huidige te leef, dat ons vergeet die geskiedenis is geneig om homself te herhaal. Die gevolg is dat ons geen rede sien om lesse uit die geskiedenis te leer nie. Die Duitse skrywer, Peter Schneider, waarsku egter dat “die geskiedenis homself wel herhaal, maar slegs na ’n verandering van kostuum” (The German Comedy, bl. 179). Om te verhoed dat ons foute van die verlede herhaal, moet ons wakker wees vir ou tendense en neigings wat weer mag opduik, maar in ’n ietwat ander vorm.

Historici het opgemerk dat “die pad na oorlog [die tweede Wêreldoorlog] ... uitgelê was met patrone van staatsoptrede wat eeue oud is” (Civilization Past & Present, Wallbank, et al., 6th ed., bl. 854). Ondanks verdragte wat onderhandel was en lippetaal aan die Volkebond, het “elke staat sy eie beste belang gesoek in die ingewikkelde na-oorlogse [eerste Wêreldoorlog] landskap” (ibid., bl. 843). Die gevolg was, “om te verwag dat twintigste-eeu state geensins anders sou wees as hulle ewebeeld in vorige tye, was om aan te neem dat daar ’n groot verandering in politieke gedrag plaasgevind het, wat eenvoudig nie gebeur het nie” (ibid., bll. 841-842). Die gedragspatroon wat nasies oor eeue ten toon gestel het, is ’n rigsnoer van hul toekomstige optrede! Dit is waarom dit so belangrik is om lesse uit die geskiedenis te verstaan.

Aan die einde van die tweede Wêreldoorlog het Winston Churchill ’n ses-volume geskiedenis van die oorlog geskryf, insluitend gebeure wat tot die begin van die vyandighede gelei het. Sy doel was “om die lesse van die verlede voor die toekoms te lê” (The gathering Storm, bl. iv). Hy het geskryf: “Ek hoop van harte dat deur die verlede te bepeins leiding sal gee vir die dae wat kom ... vir ’n nuwe geslag (ibid., bl. v). Churchill het geweet waarvan hy praat, want hy het sy eie geslag gewaarsku in 1934 - vyf jaar voor die uitbreek van die tweede Wêreldoorlog - dat “geen lesse uit die verlede is geleer nie, nie een van hulle is toegepas nie, en die situasie is onvergelykbaar meer gevaarlik” (ibid., bl. 93). Om die toekoms van Duitsland te kan verstaan, moet ons sy historiese posisie in Europa en sy voorneme verstaan.

Duitsland se Sleutelposisie

As gevolg van Duitsland se grootte, geografiese posisie en die geaardheid van sy mense, hou sy doelwitte, oogmerke en optredes wydverspreide gevolge in vir Europa en die wêreld. Die Italiaanse joernalis, Luigi Barzini, het amper 20 jaar gelede geskryf dat “dit vandag wil voorkom asof die toekoms van Europa ... soos dit reeds vir baie eeue was ... afhang van die toekoms van Duitsland ... en van Duitsland se besluite” (The Europeans, bl. 69, 267). Barzini se waarnemings was gebaseer op die feit dat Duitsland “weer eens die rykste, sterkste, mees doeltreffende, ordelike, produktiewe, wetenskaplik en tegnologies gevorderde, asook die mees volksryke nasie van Westelike Europa geword het” (ibid., bl. 69). Die vereniging van Duitsland in 1989 het 80 miljoen Duitsers in die hart van Europa gekonsentreer. Met die voorgestelde uitbreiding van die Europese Unie na die ooste (’n tradisionele gebied van Duitse belangstelling en invloed), sal Duitsland die geografiese middelpunt word van ’n opkomende Europese reus, wat Amerikaanse oppergesag sal uitdaag.

Huidige gebeure in Europa weerspieël ook ’n neiging soos beskryf deur Samuel Huntington, ’n Harvard Universiteit deskundige van internasionale verhoudings. Huntington skryf dat in die opkomende wêreld van globale politiek, “kern-state van die hoof beskawings die twee Koue Oorlog supermoondhede [die Verenigde State en Soviet Unie] vervang, as pole van aantrekking en wegstoting van ander lande” (The Clash of Civilizations and the Remaking of World Order, bl. 155). Hy omskryf ’n kern-staat as “die sterkste, kulturele middelpunt staat” in ’n streek, kultuur of beskawing en meld dat Frankryk en Duitsland kern-state in Europa is (ibid., bl. 135). Frankryk en Duitsland het oor die eeue heen ’n wipplank stryd gevoer om Europa te oorheers. Vandag is die Franse ster aan die kwyn, terwyl die Duitse ster aan die opkom is. Buitelandse beleidsontleder, John Newhouse, sien Duitsland as “die mees belangrikste lid van die EU” wat die dinge in Europa begin beheer (Europe Adrift, bl. 301). Terwyl hy die gevolgtrekking maak “soos Duitsland gaan, so gaan Europa” (ibid., bl.301), waarsku hy ook dat “die nuwe Duitsland ... besig is om die probleem te word ... onder die oppervlak ... ’n nuwe tendensie, of neiging, is stadig besig om vorm aan te neem ... by een of ander punt gaan dit [Duitsland] kragtig poog om die gaping te oorbrug met die wêreld se pasaangeërs en mag selfs baie goed daarin slaag” (ibid., bl. 152). Wat is Duitsland se bedoelings dan en waarheen is dit oppad?

Duitsland se Oogmerke

As ons oë het om te sien, is dit nie te moeilik om te ontdek wat die voorneme van die Duitse leiers is nie. In ’n ontnugterende waardebepaling van die verlede, het militêre geskiedskrywer John Laffin gedokumenteer hoe, vir amper 20 jaar voor die uitbreek van die tweede Wêreldoorlog, Hitler se “toesprake en geskrifte, sy dade en gebare en sy bedoelings duidelik gemaak het”. Wêreldleiers in die 1930’s het egter gefaal om hierdie openbare bewyse ernstig op te neem (Hitler Warned Us, jacket). Hitler se Mein Kampf wat in 1925 gepubliseer was, omskryf sy doelwitte om Duitsland tot sy regmatige posisie as voorste nasie op die aarde te herstel, om die Jode en ander ondergeskikte rasse te elimineer, om meer lebensraum - lewensruimte - vir Duitsland te skep en om alle Germaanse mense in een Groter Duitse Ryk saam te voeg. Soos Laffin uitwys, “hierdie beloftes was waarskuwings wat ons, totdat dit te laat was, verkies het om te ignoreer” (ibid., bl. 157). Een les van die geskiedenis is dat ons versigtig moet luister na wat invloedryke Duitsers sê en doen, omdat hulle woorde en dade vandag klinkklaar voor ons lê!

Franz Joseph Strauss, ’n vorige Duitse minister van verdediging en finansies, het in 1965 ’n oorsig gegee van sy idees oor die toekoms van Duitsland en Europa. Dit is insiggewend om na sy vooruitskouing te kyk in die lig van wat vandag gebeur - hoe dit Duitse voornemens weerspieël. Duitsland was die afgelope jare die “leidende apostel” vir ’n Verenigde Europa. Strauss het verduidelik: “Duitsland benodig Europa méér as enige ander land ... dit het in die Europese idee nie net ’n manier gesien om te vergoed vir die onmiddellike verlede nie [om twee Wêreldoorloë te begin], maar ’n eerbare uitlaat vir sy formidabele energie. Deur by te dra tot die vorming van ’n Europese Federasie vind Duitsland self ’n nuwe identiteit” (The Grand Design, bl. 9). Strauss het gesien dat deur ’n Verenigde State van Europa te skep, “Europa weer die geskiedkundige rol kan vervul wat dit begin verloor het aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog ... as ons terugkyk na die Europese kontinent van 1914, moet ons onthou dat dit die spilpunt van die wêreld was ... die toppunt van glansrykheid op hierdie aarde” (ibid., bl. 40, 92). Strauss het ’n pragtige ontwerp vir ’n vreedsame Europa gehad, maar Duitse leiers besef dat die pad na Europese eenheid, ook ’n pad na mag en glorie is - ’n doel waarna Duitsland gestreef het vir eeue!

Strauss het ander ontnugterende aanmerkings gemaak. Hy het verklaar dat “die tydvak van kragpolitiek nog nie tot ’n einde gekom het nie ... ons moet ’n nuwe beginpunt kry wat die politieke aangesig van die wêreld verander ... en elke geleentheid aangryp soos dit na vore kom” (ibid., bl. 12, 24). Dit is hoe die vorige Duitse Kanselier, Helmut Kohl, die hereniging van Duitsland benader het: terughouding en dan beweging wanneer die tyd reg was. Die skielike vereniging van die twee Duitslande het die wêreld verbaas! Strauss het ook verklaar dat, aangesien Duitsland die derde grootste ekonomiese krag in die wêreld is, “die tyd moet kom wanneer daardie ekonomiese krag politieke uitdrukking soek op die wêreldtoneel” (ibid., bl. 77). Hy het openlik verklaar dat dit “baie makliker vir Duitsland sal wees om ’n terugkeer te maak as ’n lid van ’n internasionale familie, as lid van ’n Europese Federasie, dan as ’n Duitse Ryk” en dat “ons Europese benadering die enigste ontsnapluik is wat ons gehad het” (ibid., bl. 104).

Nêrens is die herlewing van Duitsland meer duidelik as in die trillende, polsende stad Berlyn nie - die geskiedkundige hoofstad van Duitsland sedert die dae van die Pruisiese keisers. Hierdie eens uitgebombardeerde stad, wat doelbewus verdeel was deur die seëvierende geallieerde nasies na die tweede Wêreldoorlog, het uit die as verrys en is besig om die mees moderne hoofstad in Europa te word. Die Reichstag is herontwerp en herbou. ’n Glinsterende nuwe Kanselary staan op die bank van die Speerivier en indrukwekkende nuwe regeringskantore nader voltooiing. Reuse konstruksiekrane oorheers die stadsprofiel van Berlyn en sy moderne vervoerstelsel is die mees uitgebreide van enige Europese stad. Hierdie wedergebore hoofstad, wat op ’n grootse skaal uitgelê is, is ’n krediet tot hardwerkende Duitsers en hul visie. Dit verteenwoordig ook die uitdaging om ’n hoofstad te skep wat “Duitsland se ambisie en strewe weerspieël” (Foreign Policy, Summer 1998, bl. 145). Menigte wonder: waarheen lei hierdie aspirasies uiteindelik?

Duitsland se Geprojekteerde Toekoms

Bybelse profesieë en buitelandse beleidsdeskundiges verskaf beide ontnugterende waardebepalings van Duitsland se toekomstige rigting. Sedert die einde van die tweede Wêreldoorlog was Duitsland tevrede om saam met Frankryk te werk om ’n Europese Unie te bou. Hierdie reëling van gerieflikheid en noodsaaklikheid is egter aan die verander. Duitsers begin geïrriteerd raak oor hulle finansiële bydrae tot die Europese skatkis om ander nasies in Europa te moderniseer. Duitsland raak ook moeg daarvan om hom kleiner voor te doen sodat Frankryk groter kan vertoon en jonger Duitsers wil ook beleidsrigtings volg wat meer in Duitsland se belang is. Dit is nie verbasend nie, aangesien Duitsland die sterkste nasie in Europa met die grootste bevolking is.

Otto von Bismarck, die skrander Pruisiese staatsman, het jare gelede reeds opgemerk: “Ek het altyd die woord 'Europa' gekry uit die mond van daardie politici wat iets van ander moonthede wil hê, waarop hulle nie durf aandring in hulle eie naam nie” (Statecraft, Thatcher, bl. 325). Ander het geskryf: “Duitsland het altyd eiebelang beleidsrigtings nagevolg in verband met Europa” (The German Predicament, Markovits & Reich, bl. 204). ’n Vorige V.S.A. Nasionale Veiligheidsraadgewer, Zbigniew Brzezinski, het opgemerk dat “deur homself vry te koop met Europa, herstel Duitsland sy eie grootheid, terwyl hy ’n sending kry wat nie outomaties Europa se afkeer en vrees teen Duitsland sal mobiliseer nie” (The Grand Chessboard, bl. 63). Hy waarsku egter dat as die dryfveer om Europa te verenig weifel, “sal Duitsland waarskynlik meer aanmatigend en beslissend uitdrukking gee aan die omskrywing van sy nasionale belang” en probeer om sy historiese rol van “orde in Europa skep” te laat geld (ibid, bl. 73-74). Brzezinski voorsien die herverrysing van Mitteleuropa onder die invloed van Duitsland - soos in die Middeleeue gedurende die Heilige Romeinse Ryk. ’n Beleidskrif wat vrygestel is deur Duitsland se regerende politieke partye kom essensieël tot dieselfde gevolgtrekking: “As Europese integrasie nie vorder nie, mag Duitsland daartoe geroep word, of deur sy eie veiligheidsbeperkinge versoek word, om die stabilisasie van Oos-Europa op sy eie en op die tradisionele wyse te probeer bewerkstellig” (CDU/CSU skrif, Reflections on Europe, Sept. 1, 1994). Duitsland se tradisionele metodes het vernietigende gevolge vir ander nasies gehad. Wat hou dit vir die toekoms in?

Duitsland in Profesie

Dosyne profesieë fokus op die gebeure wat gaan plaasvind net voor Jesus Christus se terugkeer na die Aarde. Hierdie lank-voorafvertelde gebeure kom ooreen met wat vandag op die wêreldtoneel ontwikkel. Die apostel Paulus skryf “dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom” soos mense selfbehep, selfsugtig, toenemend onbeleefd en op die najaag van persoonlike plesier toegespits raak (2 Timotheus 3:1-5). Jesus voorspel dat Sy terugkeer - en die einde van die tydvak - voorafgegaan sal word deur ’n tyd van godsdienstige misleiding, sosiale anargie, oorloë, geweld en etniese twis (Mattheus 24:3-14). Die apostel Johannes het die opkoms van ’n eindtyd “Dier” voorsien, aan wie tien “konings” (d.i. nasies of koninkryke), hulle oppermag sal afstaan (Openbaring 13:1-10; 17:12-14). Die profeet Daniël openbaar dat hierdie militaristiese, dierlike mag die laaste heropstanding van ’n politieke sisteem is, wat gegrond is in die Romeinse Ryk en die Heilige Romeinse Ryk van die Duitse nasie (Daniël 7:19-27). Om meer te leer van hierdie deurslaggewende profesieë, vra gerus ons gratis boekie, Die Dier van Openbaring, aan.

Daniël se verwysing na die “koning van die Noorde” en Johannes se verklaring dat tien konings hulle oppermag aan hierdie leier afstaan, dui daarop dat hierdie “koning” verteenwoordigend óf ’n kernstaat óf die leiernasie is in ’n unie of federasie van state (Daniël 11:40-43). Die “koning van die Noorde” sal aan die beheer staan van ’n Assiries-oorheersde mag en mag homself ’n Assiriër wees (vg. Jesaja 7:18-20; 10:1-5; Hosea 11:5). Daar is geprofeteer dat hierdie laaste herlewing van die Romeinse Ryk, Israelitiese nasies sal aanval en onderwerp in die “laaste dae” omdat hulle God vergeet en Sy weë verwerp het (sien Jeremia 30). God noem Assirië “die roede van my toorn ... Ek sal hom stuur teen ’n roekelose nasie” (Jesaja 10:5-6). God het reeds tevore Assirië gebruik om Sy uitverkore nasie te straf en die Skrif dui aan dat dit weer gaan gebeur. God waarsku die afvallige nasies van Israel: “Ek maak onheil gereed teen julle, en Ek dink ’n plan uit teen julle ... Nogtans het my volk My vergeet” (Jeremia 18:11, 15). Verskriklike onheil lê voor vir ons gruwelik sondevolle nasies, insluitend ’n tweede gevangenskap wat enigiets wat die wêreld nog gesien het, sal oorskadu (sien Esegiël 5-7; Jesaja 11:11-12). Hierdie drastiese ommeswaai van gebeure sal skielik en onverwags kom (Jesaja 8:14; Jeremia 6:26), as ’n direkte strafgerig van God.

In Bybelse profesieë verwys God na moderne nasies deur hul antieke name te gebruik. Amerika, Brittanje en ander nasies van Noord-Wes Europese afkoms, word na verwys as Israelitiese nasies. Dit is omdat hulle afstammelinge is van Jakob wie se naam verander was na Israel. Daar word na moderne Duitsland verwys deur sy antieke naam “Assirië” te gebruik. Baie profesieë omtrent die “koning van die Noorde” het spesiale toepaslikheid tot moderne Duitsland. Die nasie wat God bring teen sondige nasies van Israel, is bekend vir sy hoogmoedige, meester-ras filosofie (Jesaja 10:8). Hulle praat ’n vreemde taal (Jeremia 5:15) en besit kragtige wapens wat hulle met dodelike akkuraatheid gebruik (Jeremia 6:22-23; Hosea 11:5-6). Assirië word ook voorgestel as ’n “groot arend” wat die huis van Israel wegdra (Esegiël 17:1-16). Die arend is al vir eeue die simbool van Duitsland.

Vandag is Duitsland ’n bondgenoot van Amerika en Brittanje. Bybel profesieë dui egter aan dat Israel se bondgenote - insluitend Assirië - skielik sal verander na vyande van Israel (Esegiël 23:5-24). God gaan die Duitsers se merkwaardige aanlegte gebruik - insluitend hulle militêre bekwaamheid - om Sy doel te bereik. Duitsland sal God se werktuig van tugtiging wees omdat “wanneer hulle oorlog maak, doen hulle die werk, soos hulle dit in vredestyd doen, so deeglik, doeltreffend en wenslik as moontlik, sonder om links of regs te kyk, soos die gehoorsame werksmense wat hulle is” (Barzini, bl. 94). Nadat hierdie werk afgehandel is, sal God nodig hê om die “grootsheid van die hart van Assirië se koning en ook die gepraal van sy hoë oë” te straf, omdat hy spog dat hy dit deur sy eie krag en wysheid gedoen het (Jesaja 10:12-13). Uiteindelik sal die Duitsgeleide Europese Federasie en die Israelitiese nasies dieselfde lesse moet leer - dat trotsheid moet plek maak vir nederigheid (Sagaria 10:10-11) asook dat gehoorsaamheid aan die wette van God, ongehoorsaamheid moet vervang. Nadat hierdie lesse geleer is, sal God die merkwaardige talente van die Duitsers gebruik om die verpletterde samelewings in die Koninkryk van God te herbou. God openbaar dat “In dié dag sal Israel die derde wees naas Egipte en Assirië, ’n seën in die midde van die aarde ... Geseënd is my volk Egipte en my maaksel Assirië en my erfdeel Israel!” (Jesaja 19:24-25).

Kritici mag spot met hierdie scenario, maar Bybel profesieë omtrent Israelitiese nasies en hul eindtydse teenstander - Assirië - is baie duidelik. Simbole van nasionale identiteite help om Bybelprofesieë wat sin maak oop te sluit vir die tendense wat besig is om te ontwikkel in die wêreld vandag en om te openbaar waarheen wêreldgebeure op pad is. Dit is waarom ons aangeraai word om die Skrif te bestudeer (2 Timotheus 2:15) en om wêreldgebeure dop te hou (Markus 13:32-37), sodat ons nie onkant gevang word wanneer hierdie dinge begin gebeur nét voor Jesus Christus se terugkeer nie. Alleen diegene wat op en wakker is, wat hulle bekeer en verander het (Handelinge 2:38-40), wat aanhou om die werk te doen wat Jesus aan hul opgedra het - sal hierdie komende stryd van arende vryspring (Openbaring 3:8-13). Gaan dit ú insluit?