Die meeste mense hou nie daarvan om die werklikheid in die oë te kyk nie, veral nie wanneer die opdoemende werklikheid onaangenaam is nie. Dit is baie makliker om anderkant toe te kyk – met die hoop dat “slegte dinge” nooit sal gebeur nie. Dit is ook makliker om uit te stel as om tot die daad oor te gaan. Aksie vereis inspanning, en ware aksie mag vereis dat ons dinge verander eerder as om gemaklik met die stroom langs te dryf.

As ’n dienaar van die lewende God, is ek “wagter” oor die moderne “Huis van Israel” (nie alleenlik Juda nie). Dit word van my vereis dat ek God se volk waarsku van wat voorlê. Die geïnspireerde woord van God sê: “As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Esegiël 33:6-7).

God sê ook vir Sy dienaars: “Roep uit die keel, hou nie terug nie, verhef jou stem soos ’n basuin! En verkondig aan my volk hulle oortreding en aan die huis van Jakob hulle sondes” (Jesaja 58:1).

Ek moet al u getroue lesers plegtig waarsku – dié van u wat verstaan – dat gebeure en tendense wat nou besig is om plaas te vind, ’n duidelike “teken” vir ons behoort te wees dat die einde van hierdie huidige era nou voor die deur lê. ’n Ware stortvloed van smerigheid en pornografie kom tans op ons samelewing neer. Al meer rolprente en televisie produksies beklemtoon die misbruik van seks op elke moontlike manier. Benewens die gereelde uitbeelding van angswekkende en ongevraagde geweld, ontug en egbreuk, beklemtoon ons “vermaak” toenemend verskeie vorms van seksuele perversie.

Moontlik nog erger, is dat baie van ons vooraanstaande politici en regters besig is om te help om hierdie perverse lewenswyse wat op ons niksvermoedende mense afgesmeer word, te bevorder. Liberale politici het selfs die President van die Verenigde State aangeval en probeer diskrediteer omdat hy die konstitusionele wysiging ondersteun het wat verklaar dat ’n wettige huwelik tussen een man en een vrou is.

Hoe ver het ons gekom!
Wat hierdie misleide wêreld nie verstaan nie, maar wat u Wêreld van Môre lesers moet verstaan, is dat hierdie soort gedrag beslis daarop dui dat die einde van hierdie wêreld se samelewing werklik baie naby is. In wat werklik ’n grondliggende profesie vir ons Engelssprekende wêreld is, het die Ewige God vir ons voorvaders sekere basiese kwessies geskets. God sê: “As julle in my insettinge wandel en my gebooie hou en dit doen, sal Ek julle reëns gee op die regte tyd, en die land sal sy opbrings gee, en die bome van die veld sal hulle vrugte gee. En die dorstyd sal vir julle aanhou tot die druiwe-oes, en die druiwe-oes sal aanhou tot die saaityd, en julle sal jul brood volop eet en veilig in julle land woon” (Levitikus 26:3-5).

God sê egter: “Maar as julle nie na My luister en al hierdie gebooie nie doen nie; en as julle my insettinge verwerp, en as julle siel van my verordeninge ’n afsku het, sodat julle nie al my gebooie doen nie en my verbond verbreek – dan sal Ék dit ook aan julle doen: Ek sal verskrikking oor julle beskik: die tering en die koors wat die oë verteer en die lewe laat versmag; julle sal ook tevergeefs julle saad saai, want julle vyande sal dit opeet” (verse 14-16). Die profesie gaan voort en beskryf die waarlik skrikwekkende dinge wat sal gebeur indien Sy volk nie tot hulle sinne kom en hul Skepper gehoorsaam nie: “En as julle dan nog nie na My luister nie, sal Ek voortgaan om julle sewevoudig weens julle sondes te tugtig. En Ek sal julle trotse mag verbreek, en sal julle hemel maak soos yster en julle aarde soos koper. En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie” (verse 18-20).

Indien daar steeds nie bekering is nie, sal nog korrektiewe straf volg: “En Ek sal julle stede puinhope maak ... En Ek sal julle onder die volke verstrooi en ’n swaard agter julle uittrek; en julle land sal ’n wildernis en julle stede puinhope word” (verse 31-33).

Dit sal vir talle liberale mense aanloklik wees om “die spot te dryf” oor hierdie outydse profesieë. Dit is egter jammer om te sê dat hierdie voorspelde gebeure binnekort gaan begin gebeur tensy ons nasies tot ’n diep en opregte bekering kom voor die Skeppergod! Ons het egter reeds só ver gegaan en só laag gedaal dat dit uiters onwaarskynlik is dat dit sal gebeur.

Gedurende die 1940’s en 1950’s, toe ek ’n jong man was, was die meeste Amerikaners en Britte in ’n mate godsdienstig, maar het tog nog ’n sekere agting gehad vir die idee van ’n ware God, vir die Tien Gebooie en vir die tradisionele gesinstruktuur. Ons toonaangewende politici en leiers het steeds ’n agting vir die Bybel getoon. Seksuele dade was nie op televisie of in die gemiddelde rolprentteater te bespeur nie – en daar is beslis nie eens die afleiding van perverse dade gemaak nie!

In die hedendaagse vermaakliksheidsbedryf, verag talle, indien nie die meeste mense nie, ooglopend die God van die Bybel en Sy Wette en Insettinge, en honderde van die leraars in algemene kerke en politici “gaan maar net saam met die stroom”. Dit is waar ons ons tans bevind. Die Skepper het nou alle rede om te begin om ons volke te tugtig voor dit te laat is.

Selfs daardie politici, belydende Christenleraars en vermaaklikheidsmagnate wat nie aktief perverse gedrag bevorder nie, gaan oor die algemeen “saam” en probeer dit goedpraat – of ten minste neutraal bly – en sê niks om ons mense wakker te skud uit hul geestelike koma nie. Hulle ignoreer die baie direkte opdrag van die apostel Paulus: “Vlug vir die hoerery. Enige sonde wat ’n mens doen, is buite die liggaam, maar wie hoerery bedryf, sondig teen sy eie liggaam. Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korintiërs 6:18-20).

In Deuteronomium 28 spreek God ook tot ons vaders in ’n meegaande profesie. Nadat ontsaglike seëninge belowe word vir gehoorsaamheid aan Sy weë, gee God hierdie plegtige waarskuwing: “Maar as jy nie luister na die stem van die HERE jou God, om sorgvuldig te hou al sy gebooie en sy insettinge wat ek jou vandag beveel nie, dan sal al hierdie vloeke oor jou kom en jou inhaal. Vervloek sal jy wees in die stad, en vervloek sal jy wees in die veld. Vervloek sal wees jou mandjie en jou bakskottel. Vervloek sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee. Vervloek sal jy wees by jou ingang, en vervloek sal jy wees by jou uitgang” (Deuteronomium 28:15-19).

Indien ons aanhou om God se Gebooie en Insettinge te verag, sal hierdie bepaalde profesieë begin plaasvind! God sit later hierdie kragtige profesie voort: “Die vreemdeling wat by jou is, sal hoër en hoër oor jou opklim; en jy sal laer en laer afsak. Hy sal aan jou leen, maar jy sal aan hom nie leen nie; hy sal die kop en jy die stert wees. En al hierdie vloeke sal oor jou kom en jou agtervolg en jou inhaal totdat jy verdelg is, omdat jy nie geluister het na die stem van die HERE jou God om sy gebooie en sy insettinge wat Hy jou beveel het, te hou nie” (verse 43-45).

Al meer Amerikaanse werkgeleenthede word deur uitlanders weggeneem. Soos die rubriekskrywer Lou Dobbs onlangs geskryf het: “Onwettiges ontwrig jaarliks meer as 700,000 Amerikaanse werkers. Die feit is dat die totale direkte koste van onwettige immigrasie ons ekonomie, insluitend maatskaplike dienste, na beraming $20 miljard per jaar beloop. Tel hierby die koste van Amerikaanse uitvoer, die uitkontraktering van Amerikaanse werkgeleenthede aan goedkoop buitelandse arbeidsmarkte. Niemand het nog die totale koste vir ons ekonomie bereken van die honderde duisende werkgeleenthede wat oorsee gedoen word in wat Demokratiese Senator John Kerry van Massachusetts as ‘Benedict Arnold companies’ bestempel nie. Die treffendste getuienis van ons nasionale afhanklikheid is die Amerikaanse handelstekort. Die Amerikaanse handelstekort met Japan en China alleen vir 2003 het ongeveer $190 miljard beloop. Nagenoeg die helfte van die Amerikaanse skatkisobligasies is nou in besit van Asië. ‘Ons is te afhanklik van buitelandse kapitaal’, sê Peter Morici, professor van logistieke, sake en openbare beleid by die Universiteit van Maryland se Robert H. Smith Sakeskool” (U.S. News & World Report, 9 Februarie 2004).

Hoewel die VSA slegs ’n paar jaar gelede die wêreld se grootste uitlener was, is dit vandag waarskynlik die wêreld se grootste lener! Soos Reuters op 18 Februarie 2004 berig: “Die Amerikaanse regering se nasionale skuld – die opgehoopte tekorte van vorige begrotings – het Dinsdag, volgens ’n verslag van die tesourie departement, die $7 triljoen oorskry. In sy daaglikse finansiële verslag wat Woensdag vrygestel is, sê die tesourie dat die Amerikaanse skuld, onderhewig aan ’n limiet wat deur die kongres bepaal is, $7,015 triljoen beloop het, hoër as Vrydag se $6,983”. Hierdie Reuters vrystelling het voorts die reaksie van ’n lid van die Amerikaanse Huis van Verteenwoordigers aangehaal: “Republikein Baron Hill van Indiana, deel van ’n kerngroep Demokrate sê: ‘Dit is eenvoudig sedeloos om ’n nasionale skuld van meer as $7 triljoen te handhaaf, waarvan ons kinders en kleinkinders elke sent sal moet terugbetaal’”.

Ja, dit is beslis “immoreel” vir ons politici in beide partye om aan te hou om al meer te beloof, al meer te bestee en ons toekoms totaal bankrot te maak!

Ons moet egter “die afleidings maak.” Al hierdie gebeure vind plaas omdat ons weggedraai het van die God wat ons in die eerste plek al ons nasionale seëninge gegee het. Deesdae wil baie mense die Tien Gebooie van die publieke plein verwyder. Party mense wil selfs die woorde “under God [onder God]” van die Belofte van Trou en “In God we trust [Ons vertrou op God]” van ons geld verwyder. Is dit dan hoegenaamd ’n wonder dat so baie mense in so ’n anti-God omgewing, die einste woorde van ons Skepper oor die huwelik wil uitdaag? “En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ’n vrou en bring haar na die mens. Toe sê die mens: Dit is nou eindelik been van my gebeente en vlees van my vlees. Sy sal mannin genoem word, want sy is uit die man geneem. Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees” (Genesis 2:22-24).

Wat is die Ewige God van voorneme om te doen om ons wakker te skud? Die profesie in Deuteronomium 28 gee ons die antwoord: “Omdat jy die HERE jou God nie met vreugde en vrolikheid van hart weens die oorvloed van alles gedien het nie, sal jy jou vyand wat die HERE teen jou sal stuur, dien in honger en in dors en in naaktheid en in gebrek aan alles; en hy sal ’n ysterjuk op jou nek sit totdat hy jou verdelg het. Die HERE sal teen jou ’n nasie bring van ver, van die einde van die aarde af, soos ’n arend vlieg – ’n nasie wie se taal jy nie verstaan nie, ’n nasie hard van aangesig, wat ’n grysaard nie ontsien en vir ’n seun geen genade het nie” (verse 47-50).

Vir ’n volledige verduideliking van die agtergrond van hierdie profesie en vir Bybelse en geskiedkundige bewyse van ons nasionale herkoms, skryf beslis vir ons insiggewende boekie, Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid Afrika? U het werklik hierdie inligting nodig om die eindtydgebeure wat nou begin ontvou, te verstaan! Hierdie pragtige boekie sal absoluut gratis aan u gestuur word op versoek.

Ek het u hierdie kort waarskuwing gegee omdat ek opreg hoop dat almal van u leserss kan verstaan en oorgaan tot aksie terwyl daar nog tyd is. Brokkie vir brokkie, gaan ons moet toekyk hoe al hoe meer omstandighede “verkeerd loop” vir die VSA, Kanada, Brittanje, Suid-Afrika en die res van ons Engelssprekende wêreld. Stap vir stap, gaan die Ewige God ons nasies skud en ons volkere aarde toe bring soos nog nooit tevore nie, in die hoop dat baie mense betyds sal wakker word om in die eerste opstanding te wees.

In elke uitgawe van die Wêreld van Môre-tydskrif, sal ons u verdere inligting gee aangaande die drama van eindtydprofesie wat ontvou. Uself hoef nie te vrees nie – mits u bereid is om aksie te neem, want Jesus Christus sê aan Sy dissipels: “En as hierdie dinge begin gebeur, kyk dan na bo en hef julle hoofde op, omdat julle verlossing naby is” (Lukas 21:28).