Ons leef tans in baie gevaarlike tye. Is dit egter net die begin? Wat sê die Bybel oor geweld wat nog voorlê?

Baie belydende Christene het die idee dat Jesus Christus enige oomblik kan terugkeer – dalk selfs vannag. Die Bybel sê egter iets anders. Jesus het vir Sy dissipels spesifieke profesieë gegee en vir hulle gesê om op die uitkyk te wees vir die vervulling daarvan, want Sy Wederkoms sal voorafgegaan word deur tekens – herkenbare neigings en gebeure.

Een daarvan word uitgebeeld deur die tweede perderuiter van die Apokalips, wat beskryf word in die boek Openbaring. Die Skrif waarsku dat teen die einde van hierdie tydperk hierdie perderuiter – op ’n vuurrooi perd – uitkom, “en aan hom wat daarop sit, is dit gegee om die vrede van die aarde af weg te neem, en dat hulle mekaar sou doodmaak; en ’n groot swaard is aan hom gegee” (Openbaring 6:3-4).

Die dissipels het vir Jesus gevra: “Vertel ons, wanneer sal hierdie dinge wees en wat is die teken van u koms en van die voleinding van die wêreld?” (Matthéüs 24:3) en Hy het vir hulle gesê: “En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë … een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; … Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Matthéüs 24:6-8; Markus 13:7-8; Lukas 21:8-10). Alhoewel oorloë beslis deur die geskiedenis heen gewoed het, is daar geen twyfel dat die omvang en grootte van oorlogvoering in die twintigste eeu ongekende vlakke bereik het nie.

Ongekende konflik

Die geskiedkundige Philippe Gigantès het hierdie opsomming van die twintigste eeu gegee: “Daar was twee wêreldoorloë; ’n koue oorlog; baie kleiner oorloë; een groot depressie; twee monsterregerings en hulle ondergang – nazisme en kommunisme; dekolonisasie; massamoorde; oorlogsvliegtuie en atoombomme” (Power and Greed, bl. 187). Die dodetal van die Eerste Wêreldoorlog was meer as 8,5 miljoen; dié van die Tweede Wêreldoorlog was meer as 14 miljoen soldate en 27 miljoen burgerlikes. Boonop het Joseph Stalin en Mao Zedong elk miljoene der miljoene van hulle eie landgenote vermoor toe hulle kommunistiese state gestig het. Nog nooit tevore het oorloë op ’n globale skaal plaasgevind wat soveel lewens geëis het nie.

Jesus se voorspelling dat een “nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander” (Matthéüs 24:7) is ’n akkurate beskrywing van wat vandag besig is om te gebeur. Die Bybelse Griekse woord vir nasie – ethnos – verwys na ’n volk, ras, stam of etniese groep. Die Bybelse Griekse woord vir koninkryk – basileia – beteken ’n nasie, gebied of ryk. Jesus het geprofeteer dat etniese twis en oorloë tussen nasies die nuus aan die einde van hierdie tydperk sou oorheers.

Professor Samuel Huntington van die Harvard-universiteit het die bekende opmerking gemaak: “Die sentrale en gevaarlikste dimensie van die opkomende wêreldpolitieke konflik tussen groepe sal tussen verskillende beskawings wees. Die wedywering tussen supermoondhede word vervang deur die botsing tussen beskawings ... tussen mense wat aan verskillende kulturele groepe behoort ... Botsings tussen beskawings is die grootste bedreiging vir wêreldvrede” (The Clash of Civilizations, bll. 13, 28, 321). Godsdienstige en etniese twis is die kern van baie van die gewelddadige botsings gedurende die afgelope dekades.

Gevaarlike tye lê voor

Die apostel Paulus waarsku “dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards … sonder natuurlike liefde [ongevoelig], onversoenlik … wreed ...” (2 Timótheüs 3:1-5). Dit beskryf wat ons die afgelope jare op ’n wêreldwye skaal gesien het. Op die oomblik is die fokus op die Suid-Chinese See en ons sien hoe Chinese ingenieurs letterlik nuwe Chinese eilande bou om die land se territoriale aansprake uit te brei. Die aandag is ook op die grens tussen die Oekraïne en Rusland gevestig en terwyl bespiegel word of ou etniese spanning in ’n streekoorlog sal ontaard en of Westerse nasies sal ingryp en ’n plaaslike oorlog tot ’n wêreldwye katastrofe sal toeneem. Sal langdurige wantroue tussen Indië en Pakistan in ’n verwoestende kernoorlog uitbreek? Sal Noord-Korea homself as ’n wêreldmoondheid laat geld deur missiele te lanseer wat digbevolkte gebiede kan bereik? Sal toestande in Soedan stabiliseer ná die staatsgreep wat sy regering in Oktober 2021 omvergewerp het of sal dit in groter vernietiging en chaos ontaard?

Ons behoort ook nie die voortslepende sub-nasionale konflikte regoor die wêreld te vergeet nie – van Boko Haram-terroriste regoor Afrika, tot die herlewing van ISIS-selle in Sirië, tot geweld oor “dwelm-baasskap” wat besig is om dele van Mexiko te verwoes – die lys is eindeloos. Nog nooit tevore kon so betreklik min individue, gewapen met die nuutste wapens, groter invloed uitoefen, baie meer as hulle getalle nie, wat hele streke – of selfs ons hele planeet – in gevaar stel!

Is dit dan enigsins ’n wonder dat die volke van die wêreld so ontvanklik sal wees vir ’n magtige geprofeteerde wêreldleier wat sal beloof om die wêreld te beskerm teen soveel onrus? Wat sal egter van sulke beloftes word? In ’n ander eindtydse profesie voorspel Paulus dat “die dag van die Here kom net soos ’n dief in die nag [onverwags]. Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ’n skielike verderf hulle” (1 Thessalonicense 5:2-3). In onlangse dekades het ons vredeskonferensies, gebede vir vrede en optogte vir vrede gesien – tog word die wêreld elke dag gevaarliker! Dit is presies wat Jeremia meer as 2,500 jaar gelede voorspel het. In profesieë wat van toepassing is op Jeremia se tyd asook die toekoms, skryf hy dat “van die profeet tot die priester, pleeg hulle almal bedrog ... en sê: Vrede, vrede! terwyl daar geen vrede is nie” (Jeremia 6:13-14; 8:10-11).

Soos die dae van Noag

Jesus waarsku teen ander toestande wat algemeen sal voorkom net voor Sy Wederkoms. Alhoewel Hy waarsku dat niemand “die dag of die uur” van Sy koms sal weet nie, waarsku Hy dat “net soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Matthéüs 25:13; 24:36-39). Die Skrif openbaar dat in die dae van Noag, was “die aarde ... vol geweld … alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” (Génesis 6:11-13).

Ons moderne samelewing is deurtrek met geweld – in ons huise, ons skole, ons “vermaak” en oral op die wêreldtoneel. Jesus verduidelik dat as gevolg van toenemende geweld, oorlog en onsedelikheid, “... en as daardie dae nie verkort was nie [deur die Wederkoms van Christus], sou geen vlees gered word nie” (Matthéüs 24:21-22). Jesus het duidelik die gevaar van menslike uitwissing verstaan, wat met die koms van die atoombom, in die middel van die twintigste eeu, ’n werklike bedreiging geword het!

Die gevaar het voortgeduur tot in die een-en-twintigste eeu en het tot nuwe vlakke die hoogte ingeskiet ná die aanvalle van 11 September 2001 op V.S. grond. “In die twee dekades sedert die 9/11-aanvalle is die 2001-Authorization for use of Military Force (AUMF) formeel heringestel om optredes teen terrorisme te regverdig – met inbegrip van grondgevegte, lugaanvalle, aanhouding en die ondersteuning van vennootskap tussen weermagte – in 22 lande ... gedurende daardie selfde tyd het die aantal terreurgroepe wat Amerikaners en Amerikaanse belange bedreig, volgens die V.S. Staatsdepartement, meer as verdubbel … Die 2001 AUMF is … reeds deur Biden heringestel om ’n onbekende aantal militêre sendings in 12 lande te dek: Afganistan, Kuba, Djiboeti, Irak, Jordanië, Kenia, Libanon, Niger, die Filippyne, Somalië en Jemen” (“The war on terror is going great – for terrorist groups,” BusinessInsider.com, 6 Januarie 2022). Vrede? Daar is geen vrede nie!

Ons leef verseker in gevaarlike tye, maar daar is nie net slegte nuus nie! Jesus sluit Sy profesieë oor die einde van hierdie tydperk op ’n positiewe noot af en sê: “En as hierdie dinge begin gebeur, ... moet julle ook weet dat die koninkryk van God naby is” (Lukas 21:28-31). In die dae van Noag het God ingegryp met ’n vloed om ’n einde te maak aan menslike korrupsie en geweld, maar Hy het Noag en sy gesin gered om die aarde te herbevolk. In die jare wat voorlê, sal God weereens ingryp om ’n einde te maak aan korrupte menslike gedrag en wêreldwye geweld. Alhoewel die tweede perderuiter van die Apokalips verskriklike vernietiging op die aarde voorspel, sal hy ook die glorieryke toekomstige heerskappy van die Verlosser, Jesus Christus voorafgaan!