Vraag: Ek verstaan dat dit nie goeie maniere is om “vloekwoorde” te gebruik nie, aangesien baie mense dit as vulgêr en aanstootlik beskou. Waarom maak party mense egter beswaar teen klaarblyklike onskadelike uitlatings soos “jitte,” “jislaaik” of “Grote Griet”. Dit is tog sekerlik verkiesliker bo kru en vulgêre woorde wat party mense in die plek daarvan gebruik. Is ek verkeerd?

Antwoord: Met die eerste oogopslag mag baie mense dink dat hierdie woorde, en ander wat soortgelyk is, waarskynlik baie aanvaarbaarder is as die verskillende “vierletter” woorde in omloop en verkiesliker as daardie ander vulgêre uitdrukkings. Vir ’n Christen mag daardie klaarblyklike “onskuldige” sinsnedes egter meer onvanpas wees as die meer “vulgêre” frases. Waarom? Omdat hulle eufemismes is van die name van God die Vader en Jesus Christus – en diegene wat hulle besig, gebruik dan God se naam ydellik.

Die Skrif waarsku: “Jy mag die Naam van die Here jou God nie ydellik gebruik nie, want die Here sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie” (Eksodus 20:7). Die Psalms is vol lofprysing vir God se naam: “... laat hulle die Naam van die Here loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!” (Psalm 148:13). Lees ook: “Juig tot eer van God, o ganse aarde! Besing die eer van sy Naam, maak heerlik sy lofsang!” (Psalm 66:1-2).

“Maar ‘Grote Griet’ is nie God nie en ‘jitte’ is nie Jesus Christus nie!” sal sommige mense beswaar wil maak. “Wat is daarmee verkeerd om ’n ‘verbloemde eed’ of ’n ‘eufemisme’ te gebruik in die plek van God se naam?” Wel, soos die woordeboek verduidelik, ’n eufemisme is “die versagtende uitdrukking of ’n verbloeming” (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) of ’n “vervanging deur ’n versagtende, indirekte of vae uitdrukking vir ’n gedagte wat as aanstootlik kortaf of grof beskou kan word” (Vrye vertaling van die beskrywing in Random House Dictionary of the English Language). ’n Vae verwysing na God se naam is nog steeds ’n verwysing na Sy naam en behoort nie ’n “plaasvervangende vloekwoord” te word nie. As ons gewoonweg God se naam gebruik, of ’n eufemisme vir God se naam gebruik om uitdrukking te gee aan skok, verrassing of selfs in vloektaal, betoon ons minagting teenoor ons Skepper, ongeag of diegene rondom ons, ons woorde as “vulgêr” mag beskou of nie.

Mense se begrip van wat vulgêr is, mag met verloop van tyd verander, namate die gemeenskap se gewoontes en taalgebruik veranderings ondergaan. Die bewoording van 1 Samuel 25:22 in die Engelse King James Vertaling sou nie vir die lesers daarvan in 1611 as vulgêr voorgekom het nie, maar vandag se lesers sal ongemaklik voel wanneer hulle lees hoe die vertalers van die KJV die sinsnede wat die Hebreeuse woord shathan (Strong’s 8366) bevat, vertaal het. Hoewel die vertaling in die NKJV ooreenstem met die Afrikaanse vertalings en die betekenis meer korrek weergee, sonder om terug te val na die Hebreeuse woord wat vandag as vulgêr beskou sal word. Ons moet sekerlik ag gee aan ander mense in die wyse waarop ons ons woordkeuse doen en dus vulgêre taal vermy. Om God se naam ydellik te gebruik is egter anders – en geestelik ’n baie ernstiger saak.

Hoe behoort ons God se naam te gebruik? In die Nuwe Testament het Christus Sy dissipels opdrag gegee om tot God die Vader in Sy naam te bid. “En wat julle ook al in my Naam mag vra, dit sal Ek doen, sodat die Vader in die Seun verheerlik kan word” (Johannes 14:13). Wanneer ons bid, behoort ons ook eer te gee aan God se naam. “Só moet julle dan bid: Onse Vader wat in die hemele is, laat u Naam geheilig word” (Mattheüs 6:9).

Die dissipels het die siekes deur Jesus Christus se naam genees. “Maar Petrus sê: Silwer en goud het ek nie; maar wat ek het, dit gee ek vir jou: In die Naam van Jesus Christus, die Nasaréner, staan op en loop!” (Handelinge 3:9). Jakobus het Christene aangemoedig om aan te hou om daardie voorbeeld te volg. Hy sê: “Is daar iemand siek onder julle? Laat hom die ouderlinge van die gemeente inroep, en laat hulle oor hom bid nadat hulle hom in die Naam van die Here met olie gesalf het” (Jakobus 5:14).

In die boek Handelinge lees ons dat die Apostels die evangelie deur die naam van Jesus Christus verkondig het (Handelinge 9:15) en in Jesus se naam gedoop het (Handelinge 8:16, 19:5). Paulus het aan die Christene in Efese gesê: “Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net ’n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor” (Efesiërs 4:29).

Die woorde wat ons gebruik is belangrik vir God. Ons behoort seker te maak dat wat ons sê, ons eer en ontsag vir Hom weerspieël.