Vraag: Indien die poort nou is en die pad smal, soos Jesus Christus in Mattheüs 7:13-14 sê, hoe kan Sy juk dan sag en sy las lig wees? (Mattheüs 11:30). Verduidelik asseblief hierdie klaarblyklike teenstrydigheid

Antwoord: Met die eerste oogopslag mag dit na ’n teenstrydigheid lyk, maar in werklikheid is dit nie. Om u vraag te kan beantwoord, moet ons elke Skrifgedeelte verstaan, beginnende met Mattheüs 7:13-14.

In hierdie Skrifgedeelte, kontrasteer Jesus twee lewensweë. Hy sê: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind”. Die woord “nou” is ’n vertaling van die Griekse woord wat aanduidend is van “saamgepers” of om in ’n kloof ingeperk te wees deur groot rotse. Die Griekse woord wat vertaal is as “smal” dra die betekenis van “nie wyd nie”, “eng”, “begrens” of “ingehok” (vry vertaal uit An Espository of Biblical Words, ed. Vine, 1985).

God se manier is nie die gewone manier wat die sondige mensdom sou kies of die gerieflikste sou vind nie. Die menslike natuur soek en bly in sy eie selfsugtige gemaksone. Dit [die menslike natuur] voel subtiel gekrenk deur en kom in opstand teen God se manier en Sy Wette – die Tien Gebooie (Romeine 8:7). So bedrieglik is die hart van die mens (Jeremia 17:9), dat baie dink dat hulle in Christus kan glo en kan voortgaan met hul sondige lewenstyl. Jesus vermaan om hierdie rede al Sy volgelinge: “Stry hard om in te gaan deur die nou poort …” (Lukas 13:24). Die Griekse woord vir “stry” is agonizomai, wat eintlik “worstel” of letterlik “om te wroeg” beteken (vry vertaal uit The Companion Bible). Wanneer dit metafories weergegee word as “stry”, soos in 1 Timotheüs 6:12, beteken dit eintlik “veg en stry met alle volharding teen versoeking en teenkanting”.

Die menslike aard is van nature geneig tot selfsugtigheid en ongehoorsaamheid aan God se heilige en regverdige wette. Sonder ’n diep, opregte bekering van sonde, en ’n stryd teen mens se eie menslike aard, sal baie mense eenvoudig nie in staat wees om die deur na God se Koninkryk te vind nie! Die worsteling van elke ware Christen is om self te bekeer van die sondes van die verlede en Godsinnig te word in plaas van eiesinnig! Die oorgrote meerderheid van die mensdom wil nie daardie smal en nou paadjie bewandel nie – hul verkies eerder die maklike en breë weg. Party van hulle sal in Christus se naam profeteer, duiwels uitdryf en baie wonders doen, maar alles tevergeefs (Mattheüs 7:21-23). Waarom? Omdat hulle voortgaan om “die ongeregtigheid te werk” (vers 23). Jesus sal egter diegene wat wel kies om hul te bekeer en afstand te doen van wetverbreking, help om op die smal pad te kom.

Kyk nou na die tweede Skrifgedeelte onder bespreking. Jesus het gesê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Mattheüs 11:28-30). Die apostel Johannes brei uit: “Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie” (1 Johannes 5:3).

God se manier is voorwaar ’n geseënde manier van bevryding van sonde en die gevolge daarvan, wat eindig in die dood (Romeine 6:23). As Christene moet “ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring”, – in volle vertroue dat Jesus Christus ons deur al die probleme en beproewings sal help. “Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle” (Hebreërs 12:1-4; 1 Petrus 5:7). Dit is die swaar gewig van sonde wat ons omring en neerdruk! Deur bekering en geloof in Jesus Christus, kan ons vergewe en vrygelaat word uit die wurggreep van sonde. Jesus het gepraat van twee lewenswyses – verslawing aan sonde, vasgeketting deur skuldgevoelens wat lei tot die ewige dood, in teenstelling met vreugdevolle gehoorsaamheid aan God se manier en ontvangs van oorvloedige seëninge wat lei tot die ewige lewe.

Dit is dus duidelik dat die twee Skrifgedeeltes onder bespreking mekaar nie weerspreek nie, maar eintlik opeenvolgend van aard is. Die een Skrifgedeelte moedig ’n handeling aan – die keuse om gehoorsaam te wees aan God se Wet. Die ander Skrifgedeelte beskryf die gevolge van daardie keuse – ’n sagte juk en ligte las. Waarlik, enigeen wat alreeds daardie keuse gemaak het, besef watter seëninge dit meebring.