Vraag: Gee God in Handelinge 10:9-16 aan Christene toestemming om vleis te eet wat voorheen as “onrein” beskou was (soos bepaal in Deuteronomium 14:3-21 en Levitikus 11:1-47)?

Antwoord: Wat was die doel van die visioen wat God aan die apostel Petrus gegee het? Het God aan hom gewys dat Hy die vleis wat Hy voorheen as “onrein” verklaar het, nou “rein” maak? Of was daar ’n ander doel met hierdie visioen?

Een belangrike sleutel om die Skrif te verstaan, is om die betrokke gedeeltes in konteks te ondersoek, wat die historiese omstandighede sowel as die verhaal self mag insluit. Die historiese omstandighede van Handelinge 10 is die Nuwe-Testamentiese Kerk in die heel vroegste jare van sy bestaan. Die Apostels het begin om die groot opdrag wat Jesus aan hulle gegee het, uit te voer, naamlik om dissipels van alle nasies te maak en om die evangelie aan elke mens te verkondig (Mattheüs 28:18-20). Ten tye van Petrus se visioen moes hierdie opdrag uitgebrei word na die Heidene [nie-Jode], soos dit nooit voorheen gedoen was nie.

Sedert die tyd van die Eksodus, baie eeue vroeër, wou nougesette godsdienstige Jode niks te doen hê met Heidene nie. Anders as die Jode, was die Heidene nie besny nie. Heidene het nie die gebooie en insettinge van die God van Israel onderhou nie en hulle het nie Israel se God aanbid nie. Heidene was as “onrein” beskou en Jode wou nie met hulle assosieer nie.

Oorweeg nou die konteks van Petrus se visioen. In Handelinge 8 het God die evangelis Filippus gelei om ’n Etiopiese hofdienaar – ’n Heiden – te doop. Daarna volg ’n beskrywing van Saulus se bekering. Saulus, wat die Kerk vervolg het, sou Paulus word, die Apostel vir die Heidene.

Hierna, in Handelinge 10, word aan ’n Heiden, genaamd Cornelius, ’n visioen gegee wat hom inspireer om met Simon Petrus in verbinding te tree (Handelinge 10:1-8). Kort daarna ontvang Petrus ook ’n visioen. Petrus sien ’n groot laken vol van rein en onrein diere wat uit die hemel neergelaat word. Hy word beveel om hulle te slag en te eet. Dit het drie keer gebeur. Petrus het beswaar gemaak en gesê dat hy nog nooit enigiets onreins geëet het nie (verse 11-14). Hy het nie die visioen verstaan as sou dit beteken dat hy nou onrein vleis mag eet nie. Hy het eerder gewonder oor die betekenis van die visioen (verse 17-19).

Die betekenis van die visioen was duidelik gemaak deur wat daarna gebeur het. Petrus het die manne wat deur Cornelius gestuur is, as gaste ontvang en hulle oornag gehuisves (vers 23). Die volgende dag het Petrus en ’n paar van die broeders van Joppe saam met daardie manne na Caesarea gereis om Cornelius, tesame met sy vriende en familie, te gaan besoek. Nadat hy hierdie Heidene ontmoet het, het Petrus verbaas gesê: “Ek sien waarlik dat God geen aannemer van die persoon is nie, maar dat in elke nasie die een wat Hom vrees en geregtigheid doen, Hom welgevallig is” (verse 34–35).

Gedurende hierdie besoek het Cornelius en sy huisgenote die Heilige Gees ontvang (vers 44). Petrus, wat hom voorheen gedistansiëeer het van Heidene, moes nou erken dat God inderdaad met Heidene werk en hy het besef dat hy ’n verantwoordelikheid het om hierdie Heidene te doop.

Nuus van hierdie mylpaal het gou na die ander Apostels en die broeders in Judea versprei. Dit was “groot nuus” dat die Heidene ook die Woord van God ontvang het (Handelinge 11:1). Daar was nogtans vir ’n tyd tog ’n mate van teenstrydigheid. Ten tye van Petrus se besoek aan Jerusalem, het sommige mense hul beswaar uitgespreek dat hy nie slegs met onbesnede Heidene gemeng het nie, maar selfs ook saam met hulle geëet het – mense wie onder Joodse wet as “onrein” beskou was. Aan hierdie kritici het Petrus toe die visioen wat hy ontvang het verduidelik, asook die gebeure wat daarop gevolg het om die betekenis van die laken vol onrein diere te verklaar.

Petrus het afgesluit: “As God dan aan hulle [die Heidene] dieselfde gawe gegee het soos aan ons [Israel] wat in die Here Jesus Christus geglo het, wie was ek dan, dat ek God kon verhinder? En toe hulle dit hoor, het hulle geswyg en God verheerlik en gesê: So het God dan ook aan die heidene die bekering tot die lewe geskenk” (Handelinge 11:17-18).

Dit was die rede en die betekenis van die apostel Petrus se visioen. Dit was hoe hy dit verstaan het. Sy insig was toe gedeel met die ander Christene wat sy beskrywing van wat gebeur het, gehoor het. Die visioen het nie openbaar dat onrein vleis nou geëet mag word nie; dit het openbaar dat die Heidene – wat voorheen as “onrein” beskou was deur die Jode – nou redding gegun word deur die God van Israel.