Die hoofstroom Christendom het byna alles wat Christus werklik geleer het verloor, maar Sy Ware manier van lewe is nie ’n geheim nie.

Het u al ooit gewonder waarom daar so baie Christelike denominasies is? Waarom is daar nie net een kerk waaroor almal kan saamstem nie? Is daar iets wat u hieraan behoort te doen?

Die Skrif meld dat, toe die Heilige Gees op Pinkster in 31 n.C. op die eerste Christene neergedaal het, was die dissipels van die Verlosser “almal eendragtig bymekaar” (Handelinge 2:1). Die een boodskap wat hulle verkondig het, is in verskeie tale gehoor, en baie nuwe gelowiges het tot bekering gekom toe hulle hierdie leerstelling gehoor het in ’n taal wat hulle verstaan het.

Dit was die eerste Pinksterfees wat die Kerk wat Jesus Christus gestig het, gehou het. Tog is daar vandag letterlik duisende kerke wat beweer dat hulle Christene is. Hoe kon een Kerk, duisende kerke geword het?

Behoort ons hieroor verbaas of selfs geskok te wees? Glad nie! Jesus het presies dít voorspel in Sy beroemde Olyfberg-profesie, toe Hy die heel eerste teken gegee het betreffende die einde van hierdie huidige tydperk: “Pas op dat niemand julle mislei nie. Want baie sal onder my Naam kom en sê: Ek is die Christus! en hulle sal baie mense mislei” (Matthéüs 24:4-5).

Ja, baie kom wel in Sy Naam en noem hulle godsdiens Christelik, maar verkondig iets heeltemal anders as wat Hy verkondig het. Daar is selfs ’n paar bedrieërs wat beweer dat húlle Christus is, maar Hy het werklik gewaarsku dat baie van hulle sou verkondig dat Hy die beloofde Messías, die Christus of “die gesalfde” van God is, maar wat tog teenstrydig is met – of selfs teen – Sy Ware leerstellings gepreek het.

Weet u waar God se Ware Kerk vandag is? Is dit te vinde onder die duisende denominasies wat beweer dat hulle Christelik is? Kom ons ondersoek sommige van die leerstellings wat baie mense as vanselfsprekend aanvaar, maar wat so duidelik soos daglig die verskil tussen die Skrif en die valse leerstellings van só baie hoofstroomkerke aantoon.

Hou Christus se opstanding in gedagte

Dit is baie maklik vir enigiemand om navorsing te doen en te bewys dat Jesus se Apostels nooit ’n vakansiedag gevier het met feestelik gekleurde eiers en sjokolade hasies nie. Besef u dat die opvatting van “Paassondag” nêrens in die Skrif voorkom nie?

Onthou dat Maria Magdaléna Sondagoggend na Christus se graf toe gegaan het. Wat het sy gesien? “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2). ’n Engel het aan die vroue wat na Christus se graf gekom het, gesê: “Hy het opgestaan” (Matthéüs 28:1-6; Markus 16:1-6; Lukas 24:1-8).

Jesus se opstanding het nie op Paassondag plaasgevind nie! In werklikheid toon u Bybel aan dat Christus presies drie dae en drie nagte na Sy kruisiging uit die graf opgestaan het. Soos die apostel Johannes opgeteken het: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31). Daardie “groot dag” – nié die weeklikse Sabbat nie, maar ’n jaarlikse Sabbat wat as die Eerste Dag van Ongesuurde Brode bekend staan – het Woensdagaand teen sononder begin. Vir Jesus, om die “teken van die profeet Jona” te kon vervul wat Hy in Matthéüs 12:38-40 gegee het, moes hy in die graf bly vir dieselfde tydperk van drie dae en drie nagte wat Jona in die buik van die groot vis se maag was. Hy wás! Hy was Woensdag kort voor sononder begrawe en Hy het drie dae later, kort voor sononder op die sewende-dag Sabbat, opgestaan!

Presies net soos hulle Verlosser, het Christene ook die Pasga gehou, maar dit het nou ’n bykomende betekenis gekry naamlik ‘n herdenking van Christus se offerande. Hou in gedagte wat die apostel Paulus aan die Korinthiese broerders wat die heilige onderhouding van daardie dag misbruik het, skryf: “Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ’n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie? Suiwer dan die ou suurdeeg uit, sodat julle ’n nuwe deeg kan wees – soos julle inderdaad ongesuurd is – want ook ons paaslam [pasgalam] is vir ons geslag, naamlik Christus. Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van ondeug en boosheid nie, maar met die ongesuurde brode van reinheid en waarheid” (1 Korintiërs 5:6-8).

Christus se dissipels volg vandag nog die voorbeeld van Sy Apostels en gaan voort om die Pasga te onderhou, nie die self-uitgedinkte en heidense “Paassondag” nie. Lees ons insiggewende boekie Die Pasga: Die storie wat nie vertel is nie, vir meer inligting.

Weeklikse aanbidding

Die meeste mense wat hulleself Christene noem, neem aan dat dit vanselfsprekend is dat Sondag die toepaslike weeklikse aanbiddingsdag is. Het Christus of Sy Apostels weeklikse eredienste op die eerste dag van die week gehou?

In die Bybel word geboekstaaf dat Paulus jare ná die dood, begrafnis en opstanding van Christus gepreek het vir Jode asook vir heidene wat op die sewende-dag Sabbat bymekaargekom het. Nadat die Jode vertrek het, het die heidene in sy gehoor ’n baie belangrike versoek gerig: “En toe die Jode uit die sinagoge gaan, het die heidene versoek dat daardie woorde op die volgende sabbat tot hulle gespreek sou word” (Handelinge 13:42). Paulus het aan hulle versoek voldoen. “En op die volgende sabbat het byna die hele stad saamgekom om die woord van God te hoor” (vers 44). Hy het nie op ’n Sondag vir hulle gepreek nie maar het gewag tot hulle weeklikse dag van aanbidding – die sewende-dag Sabbat!

Eers in die vierde eeu n.C. het Rome die onderhouding van Sondag dwarsdeur die Romeinse Ryk afgedwing. Keiser Konstantyn het sy lewe as ’n heidense sonaanbidder deurgebring en nadat hy by die Roomse kerk aangesluit het, het hy in 321 n.C. die volgende edik uitgevaardig: “Laat alle magistrate en mense ... rus op die eerbiedwaardige dag van die son” (The New Schaff-Herzog Encyclopedia of Religious Knowledge, vol. 11, bl. 147, beklemtoning bygevoeg).

Slegs ’n paar jaar later het leiers van die Roomse kerk verklaar: “Christene sal nie ver-Joods en op Saterdag ledig wees nie, maar sal op daardie dag werk; maar die dag van die Here moet hulle veral eer en aangesien hulle Christene is, sal hulle indien moontlik, op daardie dag geen werk doen nie. As daar egter gevind word dat hulle besig is om te ver-Joods, sal hulle van Christus uitgesluit word” (A History of the Councils of the Church, volume 2). Ware Christene is as ketters bestempel omdat hulle dieselfde Sabbat onderhou het as wat Jesus en Sy oorspronklike Apostels onderhou het!

Dit is duidelik dat die Roomse kerk vir die verandering na Sondagaanbidding verantwoordelik was. Op watter gesag? Die bekende Rooms-Katolieke teoloog, James Cardinal Gibbons, het ruiterlik erken dat “u die Bybel van Génesis tot Openbaring mag lees en u sal geen enkele reël vind wat die heiligmaking van Sondag magtig nie. Die Skrif handhaaf die godsdienstige nakoming van Saterdag, ’n dag wat ons nooit heilig nie” (Faith of Our Fathers).

Oor hierdie feit stem ons by die Wêreld van Môre saam met kardinaal Gibbons: Indien die Bybel u gesag is, het u geen voet om op te staan om Sondag as u weeklikse dag van aanbidding te beskou nie! Ons ontken egter dat Gibbons se kerk daardie gesag het of gehad het om so ’n verandering te maak! Christus se oorspronklike Christenskap het gehoorsaamheid aan die Skrif geleer wat moontlik gemaak word deur die gawe van die Heilige Gees. Die Ware Christelike Kerk van vandag doen dieselfde. Tog was daar deur die geskiedenis heen ’n voortdurende neiging om heidense tradisies met Christus se leerstellings te vermeng en selfs om Sy leerstellings uit kerke te verdryf wat beweer dat hulle Sy Naam dra! Soos die geskiedskrywer Will Durant in Caesar and Christ opgemerk het, “Christelikheid het nie die heidendom vernietig nie; dit het dit aangeneem”.

Ander gevaarlike veranderings

Watter ander veranderings is misleidend aangebring in die beoefening van die oorspronklike Christelikheid? Jesus en Sy Apostels het die Bybelse jaarlikse Feeste en Heilige Dae onderhou. Hulle het nie die dag van Jesus se geboorte gevier nie. Die meeste betroubare ensiklopedieë dokumenteer die oorspronklike heidense vieringe rondom 25 Desember as heidens. Een van die belangrikste feeste wat dwarsdeur die Romeinse Ryk gevier was, was die Saturnalia, ter ere van Saturnus, die god van landbou. Die Encyclopædia Britannica vertel ons dat die Saturnalia ...

... die gewildste van Romeinse feeste geword het en die invloed daarvan word steeds regoor die Westerse wêreld gevoel. Terwyl dit oorspronklik gehou was op 17 Desember, is dit later tot sewe dae verleng. Dit was die vrolikste fees van die jaar: Alle werk en sake is gestaak, slawe het tydelike vryheid gekry om te sê en te doen wat hulle wou, sekere morele bepalings is verslap en geskenke is vrylik uitgeruil. Die viering van Kersfees en die Nuwejaar is direk deur die Saturnalia beїnvloed (1974, volume 8, bl. 916).

Die meeste geleerdes sal erken dat Jesus nie in die winter gebore is nie, maar in die herfs – September of Oktober. Presies wat is die doel van Sy geboorte? Die kommersiële, heidense gebruike rondom die wintervakansie verberg die doel van die Messías. U kan baie meer hieroor lees in ons insiggewende boekie Is Kersfees Christelik? Vandag weet min mense selfs wat die doél van Jesus se geboorte is, alhoewel ’n engel dit aan Maria bekend gemaak het: “En die engel sê vir haar: Moenie vrees nie, Maria, want jy het genade by God gevind. En kyk, jy sal swanger word en ’n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem. Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:30-33).

Die engel het gesê dat Jesus nie net ’n koning sou wees nie, maar die Koning van ’n Koninkryk wat nooit sal eindig nie! Wat het Jesus verkondig toe Hy 30 jaar later met Sy openbare bediening begin het? “Jesus [het] in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Hier sien ons nóg ’n groot verskil tussen die Christelikheid van Jesus Christus en die groot aantal moderne vervalsings wat Sy Naam gebruik. Christus en Sy Kerk het die Evangelie van die Koninkryk van God verkondig en gaan steeds voort om dit te verkondig – die Koninkryk wat vir ’n duisend jaar lank op aarde regeer sal word deur die Koning van die konings en die Here van die here (Openbaring 19:16; Openbaring 20:4). U weet dalk van ten minste een groot denominasie wat sê dat die Koninkryk van God nou op aarde is. Die Skrif toon egter dat die Koning se aardse heerskappy oor alle nasies nie aangekondig sal word voordat die geprofeteerde sewende basuin weerklink het nie: “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

Ongelukkig het die meeste mense wat hulleself Christene noem, nie opgelet na die Ware goeie nuus wat Christus verkondig het nie! Hy sal terugkeer as Koning oor al die nasies op die aarde! Wanneer Hy Sy volmaakte Regering in Sy Koninkryk gevestig het, sal die wêreld, vrede ervaar soos nog nooit tevore nie. “... en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie” (Lukas 1:33).

Wat van die “Protestantse Hervorming”?

Daar kan baie meer hieroor gesê word as wat ons in een kort artikel kan bespreek. Indien u regtig belangstel om te weet hoe die Protestantse Hervorming nie daarin geslaag het om die hoofstroom Christendom te hervorm nie, gaan na TomorrowsWorld.org en lees die reeks “The Plain Truth About the Protestant Reformation”. Dit is in die Maart-April 2018 tot Mei-Junie 2019-uitgawes van hierdie Afrikaanse tydskrif gepubliseer. Martin Luther, Johannes Calvyn en baie ander het weliswaar werklike probleme met die Rooms-Katolieke se leer en praktyk geïdentifiseer, maar in baie opsigte het hulle dieselfde probleme in stand gehou en hulle eie nuwe probleme bygevoeg! Die laaste boek in u Bybel, die boek Openbaring, beskryf ’n “moeder”-kerk wat ’n hoer is, met baie hoer-“dogter”-kerke wat hulleself in werklikheid onteer het deur die Ware leerstellings van Christus te laat vaar. Dit klink miskien moeilik om te glo, maar u kan sélf die bewyse lees!

Selfs in die kerke wat glo dat hulle die foute van die Rooms-Katolieke kerk hervorm het, word wetteloosheid of ongeregtigheid, soos die Bybel dit noem, wyd verkondig en beoefen. Die apostel Paulus het die gemeente in Thessaloníka gewaarsku: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk” (2 Thessalonicense 2:7). Dieselfde “wetteloosheid” word in die hedendaagse kerke geleer, wat wil hê dat u moet glo dat Christus met die Tien Gebooie weggedoen het en dat ons dus wetteloosheid kan beoefen omdat ons nou onder die genade is! Enige ware volgeling van Christus verstaan egter dat genade ons op geen manier toelaat om te sondig nie! U kan die artikel “Genade: Vrygespreek om te sondig?” elders in hierdie uitgawe lees.

Jesus het aan ’n ryk jong man wat die ewige lewe gesoek het, gesê: “Maar as jy die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Matthéüs 19:17). Jesus het toe verskeie van die Tien Gebooie opgenoem. Die Tien Gebooie weerspieël die twee groot Gebooie: Hoe om God lief te hê en hoe om ’n mens se naaste lief te hê. Soos wyle dr. Roderick C. Meredith in Hervestig die Oorspronklike Christenskap skryf:

In die Bergrede het Jesus beslis nie met God se geestelike Wet “weggedoen” nie (Matthéüs 5:17). Hy het eerder die Tien Gebooie “vervul”. Hy het verduidelik dat ons ons nie net daarvan moet weerhou om ander mense dood te maak nie, maar dat ons hulle nie eers met minagting of haat moet bejeën nie (verse 20-23), want dit is die “gees” van moord. Ons behoort selfs nie eens ons vyande te “haat” nie. Soos Jesus duidelik gesê het: “Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê; seën die wat julle vervloek, doen goed aan die wat vir julle haat, en bid vir die wat julle beledig en julle vervolg” (vers 44).

Oorspronklike Christenskap is dus ’n lewenswyse van liefde. Geagte Leser, dit is nodig dat u u Bybel en die geskiedenis bestudeer. Wat het met die oorspronklike Christelikheid van Christus gebeur? Jesus Christus is vandag en vir ewig die Hoof van Sy Liggaam, die Kerk (Kolossense 1:18), en Hy “is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid” (Hebreërs 13:8). Die oorspronklike Christenskap van Christus bly geestelik aktief en vervul die opdrag wat Hy aan Sy kerk gegee het. Dit is nodig dat u na die oorspronklike, Bybelse Christelikheid soek en die Ware Kerk van Christus vind.

Teen die vierde eeu n.C. het verskillende groepe aanspraak gemaak op die naam van Christelikheid terwyl hulle nie-bybelse leerstellings aangeneem en vervalste denominasies geword het. In werklikheid het die “afval” of “opstand” wat in u Bybel beskryf word, reeds in die eerste eeu begin (2 Thessalonicense 2:3). Die apostel Paulus skryf: “Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is reeds aan die werk” (2 Thessalonicense 2:7).

Ware Christelikheid hoef nie vir u ’n raaisel te bly as u u Bybel bestudeer en die leerstellings daarvan volg nie. Wil u die Jesus Christus van die Bybel, Sy oorspronklike leerstellings en Sy lewenswyse volg? Hy sê vir ons in Lukas 4:4: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God.” Jesus het dit gesê toe die Nuwe Testament nog nie geskryf was nie. Hy het gepraat van wat ons vandag die Ou Testament noem. Indien u volgens elke Woord van God gaan lewe, is dit nodig dat u die hele Bybel, wat uit die Nuwe en Ou Testament bestaan, lees en gehoorsaam!

Dus, wat sal u kies? Die Christelikheid van u Bybel, of ’n valse godsdiens wat heidense vakansiedae en wetteloosheid aanmoedig? Dit is nodig dat u die Waarheid soek!