Vraag: Ek het in my Bybel gesoek vir bewyse van “Goeie Vrydag” wat my kerk vier, maar ek kon dit nie vind nie. Wat sien ek nie raak nie?

Antwoord: U behoort geprys te word dat u die Skrif so noukeurige lees! Die Bybel openbaar wat Jesus Christus op die Vrydag voor sy opstanding gedoen het – maar die waarheid is nie wat die meeste belydende Christene vandag glo nie!

Ons weet uit die Skrif dat Christus drie volle dae en nagte – 72 uur – in die graf was. Hy moes dit doen ten einde die Bybelse teken van Jona te vervul, soos Hy aan die skrifgeleerdes en die Fariseërs verklaar het: “Maar Hy antwoord en sê vir hulle: ’n Slegte en owerspelige geslag soek na ’n teken, en geen teken sal aan hom gegee word nie, behalwe die teken van die profeet Jona. Want soos Jona drie dae en drie nagte in die buik van die groot vis was, só sal die Seun van die mens drie dae en drie nagte in die hart van die aarde wees” (Matthéüs 12:39-40).

Hierdie feit op sigself bewys dat die algemeen aanvaarde “Goeie Vrydag tot Paassondag” kronologies nie korrek kan wees nie, aangesien die kruisiging van Jesus op ’n Vrydagmiddag Hom tot Maandagmiddag in die graf moes hou.

Wanneer sê die Skrif dan, is Christus opgewek? Let op hierdie Skrifgedeelte: “En op die eerste dag van die week kom Maria Magdaléna vroeg, terwyl dit nog donker was, by die graf en sien dat die steen van die graf weggeneem was. Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en by die ander dissipel vir wie Jesus liefgehad het, en sê vir hulle: Hulle het die Here uit die graf weggeneem, en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie” (Johannes 20:1-2).

Maria Magdalena se besoek op die “eerste dag van die week” beteken dat sy ná die Sabbat na Christus se graf is, met ander woorde in die nagtelike ure – voor die son die Sondag opgekom het – maar Jesus was nie meer in die graf nie. Tel dus 72 uur terug en dit is onmoontlik dat Jesus op ’n Vrydag gekruisig is!

Die Skrif openbaar dat Jesus omstreeks 15:00 gesterf het (Matthéüs 27:46-50). Die Evangelie volgens Johannes gee ons nog ’n belangrike besonderheid oor wat onmiddellik ná Sy dood gebeur het. Ons lees: “En dat die liggame nie op die sabbat aan die kruis sou bly nie, aangesien dit die voorbereiding was – want die dag van daardie sabbat was groot – het die Jode Pilatus gevra dat hulle bene gebreek en hulle weggeneem moes word” (Johannes 19:31).

Die “Voorbereidingsdag” is die dag voor die Sabbat, wanneer take van alledaagse werksaamhede verrig word in afwagting op die komende Sabbatsrus. Ons het dus reeds gesien dat Vrydag nie die dag van Christus se dood was nie, aangesien Hy reeds 72 uur dood moes wees voor die einde van die sewende dag van die week! Is dit ’n skynbare teenstrydigheid in die Bybel? Nee! Let op die beskrywing dat die komende Sabbat ’n “groot dag” sou wees. Dit is ’n verwysing na een van die “jaarlikse Sabbatte” (Levitikus 23:6-36). Christus is in die ure onmiddellik voor die Eerste Dag van Ongesuurde Brode gekruisig (vers 6).

Ons weet dus uit die Skrif dat Jesus Christus kort voor sononder, voor die Eerste Dag van Ongesuurde Brode aangebreek het, begrawe is. Ons weet dat Hy 72 uur later, voordat die eerste dag van die week begin het, opgestaan het. Dit beteken dat Hy teen die einde van die weeklikse sewende-dag Sabbat opgestaan het. Hy moes dus op ’n Woensdag gekruisig gewees het – nie op “Goeie Vrydag” soos so baie mense nou glo nie. Op “Goeie Vrydag” was Jesus dood en in die graf, ter vervulling van die profesie.

Kerke wat aan die Goeie Vrydag en Paassondag tradisies vashou, ontken nie net die duidelike woorde van die Skrif nie, maar ook die enigste teken wat Jesus as bewys van Sy Messiasskap gegee het. Indien u ’n Messias aanbid wat op die Sondag opgestaan het na net 36 uur in die graf, aanbid u nie die ware Jesus Christus van die Bybel nie, maar eerder ’n vervalsing wat deur mense uitgedink is en u aandag van God en Sy Waarheid wil wegneem. Vir meer inligting oor valse leerstellings wat aan die opstanding van Jesus Christus geheg word, vra asseblief u gratis eksemplaar van ons boekie EASTER the Untold Story, aan.