Die Verenigde Koninkryk sukkel met ’n onopgeloste vlugtelingkrisis. Duisende mense durf die gevaarlike Engelse Kanaal-oorgang vanaf Frankryk aan, dikwels in swak en ontoereikende vaartuie, in ’n desperate poging om ’n nuwe en beter lewe te vind.

Dit herinner ’n mens aan ’n tyd meer as 80 jaar gelede, toe klein skepies die wonderwerk van Dunkirk moontlik gemaak het. Die aanbieder van Tomorrow’s World, Rod McNair, het dit bespreek in sy uitsending “The Miracle of Dunkirk”, waarna u aanlyn by TomorrowsWorld.org kan kyk. Gereed om die Britse ekspedisiemagte van vernietiging op die strande van Frankryk te red, het honderde vissers- en plesierbote duisende soldate veilig vanaf die kus van Frankryk na hulle tuiste in Brittanje oor wonderbaarlik rustige waters van die Engelse Kanaal vervoer. Deesdae bring honderde klein bootjies soldate nie huis toe nie; hulle vervoer vlugtelinge na nuwe tuistes in die VK.

Gevaarlike oorgange

Wanneer ons aan vlugtelinge dink, is dit maklik om eerstens te dink aan die suidelike grens van die Verenigde State, wat die vorige president van die V.S. gehoop het om met ’n muur af te skei. Vlugtelinge kom egter algemeen dwarsoor Europa voor.

Geskei van Europa deur sowat 32 verraderlike kilometer water wat die wêreld se besigste skeepsroete uitmaak, het Brittanje sy eie vlugtelingkrisis. In 2021 het meer as 27,000 vlugtelinge, sover bekend, deur daardie waters gereis, soms in gevaarlike klein bootjies, swak toegerus om die kanaal vanaf Frankryk oor te steek en dit is slegs diegene wat onderskep en getel is. Hoeveel ander vlugtelinge die oorgang suksesvol oorgesteek en die land binnegeglip het is onbekend, maar die getal wat onderskep is, is drie keer hoër as dié van die vorige jaar (“France says it is up to UK to solve Channel boat migrant crisis,” Financial Times, 2 Desember 2021). Brittanje openbaar duidelik ’n deurdringbare grens as gevolg van die vragmotors en treine wat in die tonnel onder deur die Engelse Kanaal vanaf Frankryk ry en wat gereeld gebruik word as ’n manier vir vlugtelinge om onder deur die kanaal te glip.

Die fisiese inspanning wat aangewend word om die kus van die Engelse Kanaal selfs net te beréik, is ongelooflik. Mense loop te voet oor die Alpe van Italië na Frankryk, selfs in die winter terwyl hulle swak toegerus is vir die gevaarlike tog. Die gruwelverhale wat met hierdie reise geassosieer word, is amper soortgelyk aan dié van pioniers wat die Rocky Mountains oorgesteek het toe die westelike deel van die V.S. in die negentiende eeu gevestig is. Vanuit Frankryk is ’n toenemende aantal mense onsuksesvol in hulle pogings en verdrink dan in die onstuimige waters van die Engelse Kanaal. Gewetenlose agente verskaf bote wat veels te klein is om selfs in die beste weersomstandighede die kanaal oor te steek en die wonderwerk van Dunkirk word nie herhaal vir diegene wie se bote nie die rowwe see kan hanteer of die skeepsverkeer kan vermy nie.

Die Britse regering het die Franse regering sowat £54 miljoen betaal om die stroom vlugtelinge te help stuit. Tog blyk dit dat Frankryk nie in staat is óf bereid is om in te gryp nie. Die Franse president Emmanuel Macron, beweer dat die Franse meer as 1,552 smokkelaars van mense in hegtenis geneem het, asook sowat 44 smokkelnetwerke oopgevlek het. Indien dit waar is en die aantal vlugtelinge het steeds in 2021 toegeneem, is dit ’n aanduiding van die omvang van die probleem wat Brittanje in die gesig staar.

Waarom Brittanje?

Die meeste van hierdie vlugtelinge is uit die Midde-Ooste en Afrika en hulle probeer om te ontsnap van die politieke, ekonomiese en maatskaplike probleme daar (“Migrant crisis: Why do so many people head to the UK and where are they coming from?” Evening Standard, 26 November 2021). Die Nasionale Ouditkantoor skat dat daar tans tussen 600,000 en 1,200,000 vlugtelinge in Brittanje woon (“Why do migrants cross the Channel to the UK and not stay in France?”, The Times, 26 November 2021). Die feit dat mense deur verskeie ander lande gereis het om die kus van Brittanje te bereik, maak die aanspraak op asiel onmoontlik, aangesien asiel geëis kon word in enige land wat hulle eerste bereik het.

Sommige vlugtelinge het familiebande met inwoners in Engeland. Sommige van hulle kies Brittanje omdat hulle basiese begrip van Engels hulle help om nie ’n totaal onbekende Europese taal aan te leer nie. Behalwe vir familiebande en taal, kan werk in die V.K. gevind word sonder die identiteitsdokumente wat in Europa vereis word.

Die vooruitsig van tydelike indiensneming in die Verenigde Koninkryk se mark-ekonomie, asook hoe maklik dit is om regeringsvoordele te verkry, dra by tot die aansporing om te emigreer ten spyte van die beweerde koste van tot £6,000 per persoon om die Kanaal oor te steek (“Why record Channel drownings are unlikely to deter migrants,” The Week, 26 November 2021). Alhoewel die staat se betalings vir welsyn eintlik minder in Brittanje as in Europa is, maak die aanloklikheid van werk Brittanje ’n uitstekende keuse vir vlugtelinge wat ’n nuwe lewe vir hulleself wil skep. Ann Widdecombe, ’n sekretaris van Binnelandse Sake in vorige Tory-administrasies, het aangeteken dat die Britse samelewing die maklikste in die Westerse wêreld is waarin ’n vlugteling kan verdwyn (“Widdecombe lays out list of reasons why asylum seekers prefer UK to France in radio rant,Express, 11 Oktober 2021).

Brittanje se regering van 2022 is verkies om Brexit te verwesentlik. Een van die sentrale elemente van daardie doelwit was om beheer oor Brittanje se grense te herwin en immigrasie te bestuur sodat werksgeleenthede in die V.K. vir Britse burgers gereserveer kan word. Die vlugteling-situasie maak egter ’n bespotting van enige sodanige beheermaatreëls.

Waar vind ons die grondslag vir die regverdige behandeling van vlugtelinge, van wie sommige van hulle tienduisende dollars aan “fixers” [skelms] betaal het om hulle in staat te stel om net na die verre kus van die Engelse Kanaal te reis –  “fixers” [skelms] wat nog meer gaan eis om hulle in staat te stel om werklik hulle beloofde land te bereik?

Die rol van die vreemdeling

God het die mense van antieke Israel geleer om vreemdelinge met respek te behandel, aangesien hulle self vreemdelinge in Egipte was (Exodus 22:21; Levítikus 19:33-34). Vreemdelinge moes egter die wet gehoorsaam wat in Israel gegeld het, in plaas van om hulle eie wette en idees van aanbidding saam te bring (Levítikus 18:26-29). Alhoewel daar geen aantekening van destydse massa-migrasie is soos wat ons vandag sien nie, was hierdie antieke maatreëls nie ingestel om net af en toe met ’n individu te deel wat onder die Israeliete gewoon het nie. Israel as ’n nasie is gewaarsku dat, indien hulle nalaat om hulle God te gehoorsaam, die vreemdeling onder hulle sou opstaan en oor hulle sou regeer – wat aandui dat vreemdelinge waarskynlik ’n aansienlike deel van die bevolking kon vorm (Deuteronómium 28:43-44).

As ’n afstammeling van antieke Israel, het Brittanje vir baie jare die beleid gevolg wat Europese migrasie aangemoedig het, veral vanuit die ou Ryk en nou uit lande van die Statebond en die E.U. Met migrasie het groter verdraagsaamheid teenoor meervoudige godsdienste gekom, wat mettertyd ’n multikulturele samelewing ontwikkel het waarin Christelike waardes al hoe meer op die kantlyn geskuif is. Wanneer al die alternatiewe spellings [van name] deesdae bymekaar getel word, word Muhammad die mees algemene naam vir ’n Britse seun (“Baby names: Is Muhammad the most popular?” BBC, 26 September 2018).

Ons behoort nie verbaas te wees wanneer ons ’n fundamentele verandering in nasionale waardes, lewenswyses en bevolking waarneem nie – net soos God voorspel het. Indien u meer oor hierdie onderwerp wil weet, bestel asseblief ons gratis publikasie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.