Om te kies wat reg is in plaas van om die makliker uitweg te kies, kan u nie net sterker maak nie, maar ook gelukkiger!

Te midde van ’n pandemie kan die lewe moeilik genoeg wees sonder dat ons dit moeiliker probeer maak. Behoort ons nie te probeer om ons lewens eenvoudiger te maak in moeilike tye nie? Een van die beste maniere om die lewe beter te maak, is miskien soos baie mense geleer het, om uit ons gemaksone te kom en te leer om moeilike dinge te doen!

Ongelukkig lyk dit asof ons samelewing besig is om die teenoorgestelde rigting in te slaan. Gedurende die Groot Depressie in die dertigerjare moes baie tieners help om hulle gesinne te onderhou en het jare voordat hulle amptelik volwasse was, die arbeidsmark betree. Wat dan van vandag? Jean Twenge, ’n professor in sielkunde aan die San Diego Staats-Universiteit, het bevind dat “in terme van volwasse gedrag, lyk 18-jariges nou soos die 15-jariges van die verlede” (“Extended Adolescence: When 25 Is the New 18,ScientificAmerican.com, 19 September 2017). Reeds voor die pandemie het sy deur haar navorsing bevind dat jong volwassenes heel waarskynlik baie minder geneig is om die verantwoordelikhede van volwassenes te aanvaar soos wat hulle ouers of grootouers gedoen het. “Vyf-en-twintig is die nuwe 18 jaar en laat-adolessensie is nie meer ’n teorie nie, maar ’n werklikheid”, sê die psigiater Mirjana Domakonda van die Columbia Universiteit.

Wat beteken dit vir ons toekoms? Die gedrag wat ons in ons jeug aanleer, is waarskynlik die gedrag wat ons gedurende die res van ons lewe sal openbaar. Die jong volwasse jare is juis die tyd van ons lewe wanneer mense die meeste energie en lewenskrag het om aan loopbane, huwelike en gesinne te bestee. Natuurlik ontduik nie alle jong volwassenes verantwoordelikheid en mors hulle tyd nie. Baie van hulle is ywerig, beplan vir die toekoms en werk hard. Hulle is voorbeeldige, onbaatsugtige mense wat hulleself daaraan toewy om ander mense te dien – hulle is egter teen ’n kulturele stroom deur dit te doen. Vir elke energieke jong volwassene wat hard werk en gedissiplineerd is soos dit vervat is in die “Sewe wette van sukses” (sien ons artikel elders in hierdie uitgawe), gaan baie meer van hulle “saam met die stroom” en verbeur geleenthede om te groei.

Wat beteken dit om moeilike dinge te doen? Dit kan beteken dat u uself fisies uitdaag deur ’n marathon te hardloop of ’n werk te aanvaar wat vereis dat u u spiere meer gebruik as waaraan u gewoond is. Dit kan beteken dat u uself op ’n morele vlak uitdaag deur die waarheid te praat in ’n situasie waar ’n leuen na ’n makliker uitweg lyk. Dit kan dalk beteken dat wanneer u die moeiliker vak op skool neem, die gevaar loop om laer punte te kry, maar wat ’n deur oopmaak tot nuwe kennis of geleenthede. Dit kan dalk beteken dat u ’n ongewilde standpunt inneem wat u aan God se kant skaar, maar die gevaar loop om vriende te verloor.

Wie sê dit is moeilik?

Sommige mense mag dalk dink “maar ek is dan ’n Christen” en Jesus het gesê dat dit maklik is om ’n Christen te wees. Jesus het ons sekerlik ’n bemoedigende belofte gegee: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig” (Matthéüs 11:29-30). Het dit egter beteken dat ons net ledig kan bly sit en kies om nie keuses te maak nie? Nee! Ons Verlosser waarsku ons ook: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan. Want die poort is nou en die pad is smal wat na die lewe lei, en daar is min wat dit vind” (Matthéüs 7:13-14).

Hoe versoen ons hierdie teksverse? Jesus het aan ons ’n lewenswyse geleer en Hy het die gawe van die Heilige Gees aan diegene beloof wat hulle sal bekeer, laat doop en hulle daartoe sal verbind om hierdie weg te volg. Die keuses wat Hy ons vra om te maak, kan moeilik wees, maar soos wat ons die Heilige Gees gebruik, word die keuses al hoe makliker wanneer dit ’n gewoonte raak.

Alex en Brett Harris wat in 2008 die boek Do Hard Things” geskryf het waarin veral ’n beroep op jongmense gedoen word om inisiatief te neem en die régte pad bó die maklike pad te kies, hou ’n webwerf in stand wat daaraan gewy is om te rebelleer teen lae verwagtings” (TheRebelution.com). In ’n onlangse artikel word lesers aangemoedig om voordelige gewoontes aan te leer: “Om ’n gewoonte aan te kweek beteken dat, alhoewel dit soms moeilik mag wees, ek daarby sal hou totdat dit in wese tweede natuur word ... Onthou, ’n gewoonte word nie oornag aangekweek nie en daar sal tye wees wanneer dit onmoontlik sal wees om met die gewoonte voort te gaan, maar hou daarby en u sal met verloop van tyd al hoe meer resultate geniet” (“2021 Won’t Go as planned – but Don’t Let That Stop You,TheRebelution.com). Hoe meer ons die vermoë aankweek om klein gewoontetjies te ontwikkel, hoe meer lê ons die grondslag vir die ontwikkeling van groot gewoontes wat ons sal help om deur te druk wanneer ons probleme ondervind.

Moeilik om te groei?

Ironies genoeg, hoewel die Westerse wêreld ewige jeug verafgod, verag dit ook op sekere maniere die jeug. Hoe gereeld het ons gehoor dat Baby Boomers of lede van Generasie X wrede en onkundige kommentaar lewer oor Millenniales en lede van Generasie Z? Tog is dit niks nuuts nie. Dink aan wat die apostel Paulus byna 2,000 jaar gelede aan die jong Evangelis Timótheüs geskryf het. “Laat niemand jou jonkheid verag nie, maar wees ’n voorbeeld vir die gelowiges in woord, in wandel, in liefde, in gees, in geloof, in reinheid” (1 Timótheüs 4:12).

Antieke Israel se koning Salomo het byna 3,000 jaar gelede geskryf dat ons ons jonger jare op ’n bepaalde manier behoort te geniet: “Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring” (Prediker 11:9).

Ja, ons moet ons verheug, maar altyd weet dat God daar is om ons keuses te beoordeel. Soos Salomo gesê het: “Die seun laat hom alreeds aan sy handelinge ken, of sy handelwyse suiwer en of dit reg is” (Spreuke 20:11). Dit is nodig dat ouers hulle kinders aanmoedig om ’n goeie voorbeeld te stel, tesame met vermaning wanneer dit nodig is. Hulle moenie die verwagtings verminder of verskonings maak vir mislukking nie – hulle moet eerder kinders inspireer om te doen wat reg is, al is dit moeilik.

Sê nou maar ons het ons jeug nie so goed benut as wat ons moes nie? Dit is nooit te laat om berou te hê nie – om om te draai en ’n nuwe weg in te slaan – met die hulp van ons Verlosser en met die inwonende Heilige Gees. God vra alle ware Christene om ’n baie moeilike ding te doen – om uit die wêreld uit te kom en voor te berei op ’n toekoms as eerstelinge in Sy Koninkryk. Waarom maak dit saak? Verlossing is mos ’n gratis geskenk of hoe? Wel ja, maar ons beloning hang af van hoe ons daardie geskenk gebruik. Dink aan die “gelykenis van die ponde” in Lukas 19. Die edelman wat aan elke dienskneg ’n pond gegee het – ’n antieke geldeenheid – het hulle nie almal eweveel beloon toe hulle sy belegging met verskillende resultate teruggegee het nie. Die edelman het sy produktiefste dienskneg die grootste beloning gegee en gesê: “Mooi so, goeie dienskneg; omdat jy in die minste getrou gewees het, moet jy gesag hê oor tien stede” (Lukas 19:17).

Vandag se Christene sal ’n wonderlike beloning ontvang indien ons ons bekeer en reageer op God se roeping. Ons kan die eerstelinge word wat sal hulp verleen in God se Koninkryk met Christus se Wederkoms. Paulus vra: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie?” (1 Korinthiërs 6:2). Vandag se getroue Christene sal regters – heersers – in die Koninkryk van God wees. Dit is nou die tyd vir ons om voor te berei – deur die regte ding te doen, selfs al is dit moeilik.

Moeilik om ongevoeligheid te vermy?

Die tweede en derde hoofstukke van Openbaring beskryf sewe geskiedkundige gemeentes en opeenvolgende Kerk tydperke wat dateer vanaf die tyd van die Apostels tot en met die toekomstige eindtyd. Die laaste gemeente is Laodicéa en dit kenmerk die gesindheid van die meeste Christene ten tye van Jesus Christus se Wederkoms. Die waarskuwing aan Laodicéa is ’n waarskuwing vir ons geslag – vir ’n volk wat worstel in die eindtyd teen die vernietiging van geestelike ongevoeligheid: “En skryf aan die engel van die gemeente van die Laodicense: Dít sê die Amen, die getroue en waaragtige Getuie, die begin van die skepping van God: Ek ken jou werke, dat jy nie koud is en ook nie warm nie. Was jy tog maar koud of warm! Maar nou, omdat jy lou is en nie koud of warm nie, sal Ek jou uit my mond spuug” (Openbaring 3:14-16). Wát ’n kontras met die Filadelfía gemeente, wat net enkele verse tevore beskryf is!

Laodicéa is ’n voorbeeld van ’n “louwarm” en ongevoelige samelewing as geheel. Dink daaraan: Harde werk en selfdissipline was net ’n paar generasies vroeër diep ingewortel in die Westerse samelewing. Mense het geweet dat sukses dikwels selfbeheersing behels en vereis dat mense keuses maak wat nie altyd lekker of maklik is nie. Hoe verouderd klink dit nie vandag vir baie mense nie! Selfs die terme “selfdissipline” en “selfbeheersing” klink verouderd! Tog skep God behae in selfbeheersing – dit is ’n vrug van die Gees (Galásiërs 5:22) en die apostel Paulus het daaroor gespreek voor die goewerneur Felix (Handelinge 24:25).

Moeilik om God te gehoorsaam?

Dit is soms moeilik om God te gehoorsaam, veral as die stroom van die samelewing teen ons is. Ons samelewing vind dit byvoorbeeld moeilik om die begeerte na besittings te beheer – dus word kredietkaartskuld al hoe groter. Christus het egter Sy dissipels geleer om nie hulle harte op hulle besittings te plaas nie. Hy het gesê dat, tensy ons bereid is om Hom bo alles te stel, ons nie geskik is om Sy dissipels te wees nie (Matthéüs 19:21).

In die tyd waarin ons nou leef kan dit selfs moeilik wees om God se Sabbat te onderhou. Hoe ironies! Die Sabbat is ’n rusdag, maar baie mense wat geloof en moed beoefen deur dit te onderhou, waag dit om deur familie, vriende en bure verwerp te word. Ons kan die gevaar loop om ons werk te verloor of nie in staat wees om werk te kry nie, omdat ons nie op die Sabbat sal werk nie. Jesus Christus beloof egter dat indien ons gehoorsaamheid aan Hom ons hoogste prioriteit maak, Hy vir ons sal sorg en selfs sal seker maak dat ons het wat nodig is om te eet en om aan te trek (Matthéüs 6:31-33)!

Indien God u dus roep en u verstand open vir die Waarheid, is u bereid om die moeilike dinge te doen? Dit is nie die tyd om terug te deins nie – dit is die tyd om sterk te staan en die uitdaging te aanvaar! Dit is nou die tyd om teen die selfvoldaanheid en onverskilligheid van die samelewing op te staan.

Dit is tyd om u waarlik aan God te onderwerp. Dit is tyd dat ons Hom sal toelaat om ons te bemagtig om die moeilike dinge te doen om Hom te dien, selfs wanneer ander mense dit nie doen nie. God is op soek na mense wat na vore sal tree en Hom sal dien, selfs al is dit moeilik. Die Skrif moedig ons aan deur te sê: “… want die HERE – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is” (2 Kronieke 16:9). Ewige seëninge en geleenthede wag op ware Christene wat gewillig is om hulle aan Hom te verbind, hulleself te onderwerp aan Sy weë en hulle eie ek te oorwin, al is dit moeilik – verál wanneer dit moeilik is!