Jesus het gesê die sagmoediges sal die aarde beërwe, maar miljoene mense glo dat hulle hemel toe gaan wanneer hulle sterf. Wat sê u Bybel?


Miljoene – moontlik miljarde – mense glo dat die saligheid van die hemel die beloning is van diegene wat gered is. Hierdie oortuiging word nie net gedeel deur die meeste mense wat hulself Christene noem nie, maar ook deur lede van baie ander gelowe reg deur die wêreld. Christene glo in die woorde van Jesus Christus. Jesus het van Sy mees basiese en fundamentele leerstellings gegee in wat algemeen bekend staan as die “Bergpredikasie” (Mattheüs 5-7). Hoe het Hy Sy leringe begin? “Salig is die wat arm van gees is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemele. Salig is die wat treur, want hulle sal vertroos word. Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe” (Mattheüs 5:3-5).

Gee noukeurig aandag. Het Jesus gesê dat die armes van gees hemel toe sal gaan, terwyl die sagmoediges die aarde sal beërwe? Nee! Hy het gesê dat die armes van gees geseën sal word met die Koninkryk van die hemele. Die Koninkryk van die hemele sal na die planeet Aarde toe kom wanneer Christus weer kom! Dit is wanneer die wat gered is, opgewek sal word en die Koninkryk sal beërwe.

Jesus leer ons om te bid: “... laat U koninkryk kom” (Mattheüs 6:10). Het Hy ons gevra om te bid vir iets wat moes kom wat alreeds hier is? Indien die Koninkryk hier is, waarom het die wêreld dan sulke gruwels ervaar soos die twee groot Wêreldoorloë van die vorige eeu, sowel as die verskriklike menseslagtings wat gepleeg was teen verskillende etniese groepe?

Nee, die Koninkryk van God is nie alreeds hier nie. Christus moet terugkom om dit te vestig.

Waar is die Koninkryk?

Die apostel Johannes verduidelik dat God sy dienaars geroep het en hulle verlos het “uit elke stam en taal en volk en nasie” (Openbaring 5:9). Wat is hulle lotsbestemming? Sal hulle hemel toe gaan? Die apostel Johannes verduidelik in net die volgende vers: “... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers” (Openbaring 5:10).

God bied nie aan om ons te red sodat ons sonder om iets te doen, kan rus in hemelse saligheid nie. Hy roep ons om konings en priesters te word, wat Jesus Christus – die Koning van die konings – sal bystaan om blywende vrede op die aarde te vestig. Dit is waarom Jesus gesê het dat die sagmoediges – diegene wat Jesus nederig volg, eerder as hul eie wil – die aarde sal beërwe. Wanneer ons bid, “... laat U koninkryk kom” dan bid ons vir die koms van daardie Koninkryk wat vrede na die ganse mensdom sal bring en waarin getroue Christene hul geliefde Verlosser, Jesus Christus, onder Sy leiding sal dien as konings en priesters.

Oor die jare heen het party mense verkondig dat die Kerk, hier op aarde, die Koninkryk is. Andere glo weer dat die Koninkryk in ’n mens se hart is. Die Koninkryk van God is egter ’n letterlike toekomstige koninkryk, wat gevestig sal word tydens Jesus Christus se wederkoms, met Hom as Koning!

 Wat, presies, is ’n koninkryk? Elke koninkryk bestaan uit vier basiese elemente: ’n Regeerder, ’n gebied, wette en onderdane. Hoe het dit dan betrekking op die Koninkryk van God?

Wie is die heerser van God se Koninkryk? Die Bybel beantwoord hierdie vraag in baie plekke. Kyk wat skryf die apostel Johannes: “Toe het ek die hemel geopend gesien; en daar was ’n wit perd, en Hy wat daarop sit, word genoem Getrou en Waaragtig, en Hy oordeel en voer oorlog in geregtigheid. En sy oë was soos ’n vuurvlam, en op sy hoof was baie krone; en Hy het ’n Naam wat geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hy self” (Openbaring 19:11-12). Jesus Christus, wat baie krone dra, sal terugkeer na die planeet Aarde as verowerende Koning (Sagaria 14:3-4).

Hier is nog ’n beskrywing van hoe Jesus sal lyk met Sy wederkoms: “En Hy was bekleed met ’n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar ’n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met ’n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op Sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here” (Openbaring 19:13-16).

Ja, die Heerser van die komende Koninkryk van God sal Jesus Christus Self wees! Bid u: “... laat U koninkryk kom”? Sien u gretig uit na Jesus se wederkoms na die planeet Aarde? Die apostel Johannes het beslis. Johannes het in die voorlaaste vers in u Bybel met sy gebed en vurige hoop afgesluit: “Amen, ja kom, Here Jesus!” (Openbaring 22:20).

 Wanneer Jesus Christus weer kom, sal Sy grondgebied die hele aarde wees! Sy onderdane sal die hele mensdom wees. Die Skrif beskryf dat die hele wêreld die weg na vrede sal leer. Mense sal elke jaar optrek om hulle Koning in Jerusalem te aanbid. Die hele aarde sal leer om dieselfde Bybelse Heilige Dae wat Jesus en die Apostels onderhou het, te vier. “En almal wat oorbly uit al die nasies wat teen Jerusalem aangekom het, sal jaar na jaar optrek om te aanbid voor die Koning, die Here van die leërskare, en om die huttefees te vier” (Sagaria 14:16).

Elke nasie op aarde sal die Koning aanbid – en sal die Huttefees onderhou. Baie mense besef nie dat die Heilige Dae nog steeds vol betekenis is vir Christene vandag nie. Die Nuwe-Testamentiese Kerk is gestig op die dag van die Pinksterfees, alhoewel baie mense vandag vergeet het dat Pinkster een van die Bybelse Heilige Dae is wat God aan Sy mense gegee het. In die boek Handelinge lees ons dat groot getalle mense saamgetrek het om Pinkster te onderhou toe die Apostels hulle toegespreek en duisende bekeer het. Die mense het byeengekom om die dag te onderhou, want dit word so in die Bybel beveel! Soos die NIV Study Bible dit uiteensit: “Pinkster staan ook bekend as die Fees van Weke (Deuteronomium 16:10), die Fees van die Oes (Exodus 23:16) en die dag van eerstelinge (Numeri 28:26)” (bl. 1,645). Vandag verstaan ware Christene dat die Pinksterfees ’n herdenking is van daardie stadium in God se plan van verlossing wanneer Hy, in hierdie huidige tydvak, die “eerstelinge” tot verlossing roep en hulle voorberei om onder Christus in die Millennium te heers.

Wat is die “Evangelie”?

Jesus Christus, die Messias, het gekom om ’n boodskap te verkondig wat baie mense moontlik dink hulle ken, maar wat verbasend min mense eintlik verstaan. Wat het Jesus verkondig? “Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:15). Jesus het die mense geleer dat dit tyd was om op te hou sonde doen, om Sy boodskap te glo en om hul voor te berei vir die komende Koninkryk van God.

Het u uself bekeer? Om u te “bekeer” beteken om te erken dat u gesondig het – God se Wet, die Tien Gebooie, oortree het. Dit beteken nie net om jammer te wees en weersin te hê in u sonde nie, maar om daardie sonde soveel te haat dat u uself daarvan distansieer en begin om ’n nuwe lewe sonder daardie sonde te leef. Bekering beteken om u te verbind om – met God se hulp – u lewe te verander. Wat is sonde? Johannes skryf: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Soos 'n ander vertaling dit stel: “Sonde is immers oortreding van die wet van God” (vers 4, NV).

U kan die evangelie nie glo, tensy u dit verstaan nie! Baie mense wat  dat hulle in Jesus Christus glo, glo in werklikheid nie – of handel nie – volgens wat Hy verkondig het nie. Jesus het gevra: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Indien u werklik ’n Christen is, sal u doen wat Jesus beveel. Indien u waarlik ’n Christen word, sal u Jesus nie op ’n abstrakte manier as u “Verlosser” aanneem sonder om Hom te gehoorsaam nie, maar wel as u Heer en Meester en u sal daarna streef om Hom – met die hulp van die Heilige Gees – te gehoorsaam. Soos Paulus skrywe: “Of weet julle nie dat julle liggaam ’n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort” (1 Korinthiërs 6:19-20).

Ware Christelikheid is ’n lewenswyse. Wanneer u eers bekeerd is, die Evangelie glo en u lewe aan Jesus Christus toegewy het deur die doop, kan Hy Sy lewe in u leef deur die Heilige Gees. Dan kan u groei as ’n Christen en u lewe verander van ’n lewe van selfsug na een van diens en liefde teenoor God en u medemens. Diegene vir wie God vandag roep, word nie slegs geroep vir hul eie saligheid nie; Hy roep hulle om hulle voor te berei om in Sy komende Koninkryk as konings en priesters te dien, soos ons vroeër gesien het. Hul eerste geleentheid om te regeer sal in die Millennium wees – die duisendjarige tydperk wat in u Bybel beskryf word, wanneer Jesus oor ’n herstelde planeet sal heers. Soos Johannes skryf: “Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank” (Openbaring 20:6).

Van waar af sal Christus regeer?

Van watter plek af sal Jesus Christus regeer? Hy sal vanuit Jerusalem regeer. “So sê die Here: Ek keer terug na Sion en sal midde-in Jerusalem woon” (Sagaria 8:3). Trouens, wanneer Hy regeer, sal Jerusalem ’n ander naam hê. Die heel laaste vers in die boek van Esegiël lees: “... en die naam van die stad sal van vandag af wees: Die Here is daar!” (Esegiël 48:35). In Hebreeus is daardie naam Yahweh Shama. Van daar af sal Hy oor Sy koninkryk heers: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaria 14:9).

Wanneer Christus terugkeer om te regeer, sal Hy en die verheerlikte heiliges oor die nasies heers – oor fisiese mense. Christus sal die nasies die lewensweg wat vrede voortbring, leer. Vandag se Christene – opgewek as geestelike wesens (die “eerstelinge”) – sal onder Sy leiding as konings en priesters regeer oor stede en nasies (sien Lukas 19:17; Openbaring 2:26). Hierdie konings en priesters sal die wêreld opvoed in God se waarheid.

Let op hierdie inspirerende Skrifgedeelte wat diegene beskryf wat God se weë gedurende die Millennium geleer sal word: “Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie – maar jou oë sal jou leraars sien” (Jesaja 30:20). U kan een van daardie leraars wees. Wat sal die verheerlikte heiliges – die konings en priesters – die mensdom leer? “... en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan” (vers 21).

In die Millennium sal die leraars God se wet aan die mense leer. Die profeet Jesaja gee aan ons ’n inspirerende voorsmakie van wat sal kom. “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die Here vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die Here, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem” (Jesaja 2:2-3).

Die mensdom se dikwels teenstrydige en onregverdige wette sal nie meer bestaan nie. Onderrig sal gegee word in God se wette en dit sal administreer word vanuit Jerusalem. Die Tien Gebooie is die grondslag van daardie wette. Onthou, Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” – en hy het voortgegaan om verskeie van die Tien Gebooie op te noem (Mattheüs 19:17). Verder het Jesus in Sy “Bergpredikasie” eintlik die Tien Gebooie uitgebrei of verbreed. Hy het hulle meer omvattend en meer bindend gemaak, omdat dit vir Christene nodig is om die Tien Gebooie ook in die gees te onderhou, nie net in die letter nie!

Wat sal die gevolge van God se regering wees? “Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4).

Wanneer Christus weer kom, sal Hy die hele wêreld bekendstel aan die weg van vrede. “Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:7-9).

In die Wêreld van Môre sal al die nasies die ware God ken – die God van u Bybel – en Hy sal diegene seën wat Sy gebooie onderhou, soos Hy nog altyd gedoen het. Neem kennis van hierdie inspirerende Skrifgedeelte wat die seëninge beskryf wat oor ons sal kom wanneer ons gehoorsaam is aan God se wet. “... en hou die gebooie van die Here jou God om in sy weë te wandel en Hom te vrees. Want die Here jou God bring jou in ’n goeie land, ’n land van waterstrome, fonteine en onderaardse riviere wat in die laagtes en op die berge uitkom; ’n land van koring en gars en wingerdstokke en vyebome en granate; ’n land van olieryke olyfbome en heuning; ’n land waarin jy brood sonder skaarste sal eet, waarin niks jou sal ontbreek nie; ’n land waarvan die klippe yster is, en uit die berge waarvan jy koper sal uitkap; en jy sal eet en versadig word en die Here jou God loof oor die goeie land wat Hy jou gegee het” (Deuteronomium 8:6-10).

U glorieryke toekoms

Kan u uself indink in u aandeel om die nasies te leer om God se gebooie te onderhou, en alle mense te help om die oorvloedige lewe wat God belowe het, uit te leef? Indien u een van die “sagmoediges” is – iemand wat na God se wil soek eerder as sy eie – kan God u gebruik om ander mense in Sy weë te onderrig.

Selfs vandag nog staan ons planeet uit soos ’n juweel in die uitgestrektheid van die uitspansel. ’n Tyd sal egter kom wanneer God die aarde met vuur sal reinig en dit sal hernu, voordat die hemel na die aarde sal neerdaal (2 Petrus 3:10-13). Soos die apostel Johannes skryf: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ’n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ’n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God. En God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan. En Hy wat op die troon sit, het gesê: Kyk, Ek maak alles nuut. En Hy het aan my gesê: Skryf, want hierdie woorde is waaragtig en betroubaar” (Openbaring 21:2-5).

U kan ’n aandeel hê in daardie wonderbaarlike toekoms. God noem Sy kinders in Romeine 8:17 Sy erfgename, en “mede-erfgename van Christus”. As erfgename van God sal getroue Christene nie slegs net die aarde beërwe nie – hulle sal die heelal beërwe. Ons lees: “Hy wat selfs sy eie Seun nie gespaar het nie, maar Hom vir ons almal oorgegee het, hoe sal Hy nie saam met Hom ons ook alles genadiglik skenk nie?” (Romeine 8:32). Verder ook: “Alle dinge het U onder sy [die mens se] voete gestel” (Hebreërs 2:8).

 In hierdie laaste twee verse, is die Griekse uitdrukking wat vertaal is as “alle dinge”, ta panta, en beteken letterlik “die alles” – met ander woorde, alle sienlike en onsienlike dinge. Ja, getroue Christene sal uiteindelik die ganse heelal beërf! Vandag droom baie van ons om na die verste uithoeke van die melkweg te reis, en verwonder ons aan die skoonheid van die sterre, nebula en ander ontsagwekkende en pragtige eienskappe van ons heelal. Daar kom ’n tyd wanneer vandag se getroue Christene in staat sal wees om deur die heelal te reis teen die spoed van ’n gedagte!

Ja, God wil hê u moet die aarde beërwe – en nog baie meer! Soos Hy aan ons sê: “Hy wat oorwin, sal alles beërwe; en Ek sal vir hom ’n God wees, en hy sal vir My ’n seun wees” (Openbaring 21:7). Mag God ons almal help om Hom en Sy Koninkryk te soek, sodat ons binnekort die aarde, die heelal en alle dinge mag beërwe!