Weet u wat aangaan?

Rooi lug in die aand is matrose se vreugde. Rooi lug in die môre en matrose word gewaarsku. Vir duisende jare al besef mense dat dit voordelig sou wees om die tekens van die tye te kon lees om sodoende toekomstige gebeure te voorspel. Somtyds kan die tekens vir almal sigbaar wees, maar slegs diegene wat in staat is om dit in die regte verband te plaas kan verstaan wat dit vir die toekoms inhou!

Matrose en andere wat finansieel van die see afhanklik was, het geleer dat rooi lug in die oggend ’n heel ander betekenis gehad het as rooi lug in die aand. Aangesien die meeste weerpatrone van wes na oos beweeg, beteken rooi lug in die aand – wanneer die son in die weste ondergaan – dat ’n onbewolkte nag voorlê. In teenstelling hiermee beteken rooi lug in die oggend dat die son die onderkant van naderende stormwolke verlig wat uit die weste opkom.

Jesus Christus verwys na hierdie verskynsel in ’n gesprek met die Fariseërs en Sadduseërs. “In die aand sê julle: Mooi weer, want die lug is rooi. En in die môre: Stormweer vandag, want die lug is donkerrooi” (Matthéüs 16:2-3).

Die Fariseërs en Sadduseërs het ’n sekere mate van wysheid gehad, wat hulle in staat gestel het om (onder andere) komende weerpatrone te lees. Hulle was egter nie so wys soos wat hulle gedink het hulle is nie. Christus het hulle bestraf vir hulle onvermoë om die tekens te lees van die tye waarin hulle leef. “Geveinsdes, julle weet wel om die voorkoms van die lug te onderskei en kan julle nie die tekens van die tye onderskei nie?” (Matthéüs 16:3). Hulle het vir die Messias gewag om te verskyn, maar kon nie insien dat Hy reg voor hulle staan nie! Christus het later ’n soortgelyke frase gebruik om Sy dissipels te leer om op die uitkyk te wees vir Sy Wederkoms (Matthéüs 24:32-35). Hy het hulle van tekens vertel wat met Sy Wederkoms en die voleinding van die wêreld sou gepaardgaan (Matthéüs 24:3).

Is u daarvan bewus?

Is u op die uitkyk vir die tekens van die tye? Sien u die storm wat oor die horison opsteek? Paulus skryf dat aan die einde van hierdie tydperk: “... swaar tye sal kom. Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God; mense wat ’n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af” (2 Timótheüs 3:1-5). Watter tydperk kan dit beskryf indien dit nie die huidige tydperk is nie? Die profeet Daniël beskryf die einde van die wêreld as ’n tyd wanneer “baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder” (Daniël 12:4). Dink aan die prestasies in vervoerwese die afgelope eeu en die ontploffing van kennis wat deur die digitale era aangebreek het.

Daar is ’n skroeiende rooi oggendlug. Die tekens is daar om gesien te word, maar dit kan nie behoorlik sonder konteks van God se Heilige Skrif – die Bybel – verklaar word nie. Die tekens dui op ’n broeiende storm wat die mensdom heeltemal kan vernietig, as dit nie vir Jesus Christus se geprofeteerde Wederkoms is om orde in die wêreld te skep nie!

Word wakker! Wêreld van Môre-aanbieders en skrywers is besig om ’n reeks insiggewende aanbiedings in die komende weke en maande saam te stel en ek moedig u aan om een naby u by te woon. Besonderhede kan gevind word by TomorrowsWorld.org. Vir ’n oorsig van die tekens van die tye wat voor Jesus Christus se Wederkoms moet plaasvind, kan u gerus ons gratis boekie lees: Veertien Tekens wat Christus se Wederkoms Aankondig.