Vraag: Jesus Christus het mense beskryf wat na 'n plek gaan wat “hel” genoem word, waar “hulle wurm nie sterf [nie].” Wat beteken dit? Is daar wurms in die hel wat vir ewig leef wat mense martel?

Antwoord: 
Die Evangelie volgens Markus haal Jesus aan wat sê: “En as jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel te gaan in die onuitbluslike vuur, waar hulle wurm nie sterf en die vuur nie uitgeblus word nie” (Markus 9:43-44).

Mense vertolk dikwels hierdie Skrifgedeelte waar Jesus uit die boek Jesaja aanhaal verkeerd. Sommiges glo dat dit 'n ewigbrandende vuur beskryf wat die verdoemdes eindeloos martel. Baie mense aanvaar dat die “wurm” verwys na die veroordeelde sondaar se gepynigde gewete wat hom tot in alle ewigheid martel.

Wat is dan die waarheid? Eerstens moet ons kyk na die woord wat in hierdie vers as “hel” vertaal is. Daardie woord is gehenna – 'n Griekse woord wat na die Dal van Hinnom net suid van Jerusalem verwys, waar afval gestort is om heeltemal verbrand en vernietig te word. Die liggame van tereggestelde misdadigers was ook in gehenna gegooi waar hulle deur die vuur verbrand of deur maaiers verorber is.

Wat van die “wurm”? Strong's Exhaustive Concordance verduidelik dat die “wurm” (in Grieks skolex en in Hebreeus tola) waarna verwys word 'n “gulsige maaier” is. Die lewensiklus van hierdie insekte is sodanig dat hulle nie as maaiers “doodgaan” nie – hulle word papies en daarna vlieë, wat weer eiers lê sodat dié weer maaiers word en die siklus herhaal.

Wat het dit alles met die lot van sondaars te doen? Jesus het uit Jesaja 66 aangehaal, wat vir ons die konteks van Sy waarskuwing gee. Jesaja 66 beskryf 'n toekomstige tyd wanneer “alle vlees [sal] kom om te aanbid voor My aangesig, sê die Here” (vers 23). Vers 24 beskryf “die lyke van die mense” wat teen God oortree het en sê dan “hulle wurm sal nie sterwe en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie”. Jesaja het dit duidelik beskryf dat daardie lyke deur die maaiers verteer en deur die vuur verbrand sal word totdat dit heeltemal vernietig is. Die lyke sal nie vir ewig leef en ewigdurend gemartel word nie. Toe Jesus in Markus 9 hierdie vers aangehaal het, het Hy die algehele vernietiging van die sondaars beskryf – nie die ewige marteling nie.

Die gehenna vuur was aan die brand gehou deur die gereelde byvoeging van brandstof uit Jerusalem se afval – wat die liggame van tereggestelde misdadigers ingesluit het, want dit was as vervloek beskou en nie geskik vir 'n normale begrafnis nie (Josua 6:18; 7:11, 25). Enige afval wat in die vuur gegooi is, was verseker van totale vernietiging. Enige besoeker aan Jerusalem kan egter bevestig dat die gehenna vuur suid van Jerusalem nie meer deesdae brand nie. Toe daar niks meer was om te brand nie, het die vuur vanself uitgebrand.

Eweneens kan geen sondaar die gevolge van onboetvaardige sondes – die dood in die “poel van vuur” (Openbaring 20:14-15) – vryspring nie. Diegene wat Christus verwerp, sal vir ewig vernietig word, net soos die lyke in Jesaja 66 en Markus 9. Soos God vir ons sê: “Die siel wat sondig, dié moet sterwe” (Esegiël 18:4, 20). Siele sal vir ewig sterf in die poel van vuur, waar diegene wat God se gawe van die ewige lewe verwerp, hul ewige straf sal ontvang – nie ewigdurende straf nie – omdat hulle teen Hom gerebelleer het. Hulle sal as word, soos ons in Maleagi 4:3 lees. As brand nie vir ewig nie, net so ook nie die siele van hulle wat vir ewig vernietig is nie.

Satan is woedend teenoor God, omdat hy weet dat hy bestem is vir die poel van vuur. Hy doen nou sy uiterste bes om alle mense te oortuig dat hulle van nature onsterflikheid besit, eerder as dat hulle dit as 'n toekomstige geskenk sal kan verkry, wat God aan Christene met die opstanding belowe het. As Satan met hierdie misleiding kan slaag, kan hy die mensdom se begrip van God se liefde, Sy geregtigheid en Sy ware plan vir die mensdom verdraai, sodat hulle dit nie kan verstaan nie. Moenie dat u ook mislei word nie – bestudeer u Bybel en bewys die waarheid aan uself!