Namate die Wêreld op die nuwe sekuriteitsvennootskap tussen Australië, die Verenigde Koninkryk en die Verenigde State reageer, ontbreek dit die meeste mense aan die kennis van die diep gewortelde verbintenis tussen hierdie lande.

Met toenemende Chinese militêre teenwoordigheid in die Asiatiese Stille Oseaan en die Suid-Chinese See, het Australië se gevoel van nasionale veiligheid toenemend bedreig geraak. Weens ’n gebrek aan die ekonomie of mannekrag om homself effektief sonder hulp te verdedig – terwyl China probeer om die streek as ’n opkomende supermoondheid te oorheers – het Australië probeer om alliansies buite die streek te skep en uit te brei. Een hoofresultaat van hierdie poging is op 16 September 2021 verwesenlik toe die Amerikaanse president Joe Biden aangekondig het dat ’n nuwe veiligheidsvennootskap tussen Australië, die Verenigde Koninkryk en die V.S.A. gevorm sal word. Dit is AUKUS “gedoop” (“AUKUS: UK, US and Australia pact signals Asia-Pacific power shift,BBC, 16 September 2021). Hierdie nuwe alliansie sal Australië se nasionale veiligheid aansienlik versterk, aangesien die V.S. en die V.K. ’n belangrike bydrae sal lewer op die gebied van tegnologiese infrastruktuur en intelligensie tot ’n nasie wat ’n toenemende Chinese bedreiging in die gesig staar.

Australië sal kruismissiele en insig in kwantumtegnologie bekom en kernaangedrewe duikbote sal in Adelaide, Suid-Australië, vervaardig word. Die Osborne Naval Shipyard sal die primêre gebied vir produksie wees. Dit is ’n belangrike stap vir Adelaide, ’n stad wat geskiedkundig nie ’n groot rol op die wêreldtoneel gespeel het nie. Die V.S. en die V.K. sal konsultasie- en kwaliteitbeheerleiding aan vervaardigers in Adelaide verskaf namate tegnologiese kennis oorgedra word.

Waarom is dit so belangrik? Een van die belangrikste redes is dat “kernduikbote baie meer geheimsinnig te werk kan gaan as konvensionele duikbote – hulle funksioneer baie stil, kan maklik beweeg en is moeiliker om op te spoor. Minstens agt duikbote sal ondersteun word, hoewel dit nie duidelik is wanneer hulle ontplooi sal word nie. Die proses sal langer neem weens ’n gebrek aan kern-infrastruktuur in Australië. Hulle sal slegs met kernreaktors aangedryf word eerder as om as kernwapens gebruik te word”.

Tekens van ’n nuwe wêreldorde?

Teenreaksies van bondgenote en vyande het vinnig op die AUKUS-ooreenkoms gevolg. Frankryk met wie Australië ’n 2016-duikbootkontrak van $90 miljard gekanselleer het om die AUKUS-ooreenkoms moontlik te maak, is briesend oor die nuus. Die Franse minister van Buitelandse Sake, Jean-Yves Le Drian, het AUKUS as ’n “rugsteker” bestempel en gesê dat Australië hulle vertroue geskend het (“‘Stab in the back’: French fury as Australia scraps submarine deal,” The Guardian, 16 September 2021).

Sommige mense sien die ooreenkoms as ’n poging van die V.S. om bondgenote se vertroue te herwin ná sy omstrede onttrekking uit Afghanistan. Leiers van die V.K. dring daarop aan dat dit nie bedoel was om Frankryk – wat ’n gewaardeerde en noue militêre bondgenoot bly – uit te daag nie. Tog het Frankryk die ooreenkoms as ’n aanval geïnterpreteer en aanvanklik met diplomatieke aggressie gereageer en sy ambassadeurs aan die Verenigde State en Australië na Parys teruggeroep voordat hulle weer vinnig ontplooi is (“Furious Over Sub Deal, France Recalls Ambassadors to U.S. and Australia,” The New York Times, 17 September 2021).

Australië het teruggekap op Franse beskuldigings en gesê dat hulle altyd hul eie nasionale belang eerste sal stel en ernstige kommer uitgespreek dat ouer dieselaangedrewe duikboottegnologie nie voldoende sal wees om nasionale grense te verdedig nie (“Australia had deep and grave concerns about French submarine’s capabilities, PM says,” CNN, 19 September 2021).

China het die ooreenkoms ’n militêre bedreiging genoem wat gelykstaande is aan die Koue Oorlog en het AUKUS gewaarsku dat dit sy eie belange skade sal berokken. Alhoewel die V.S. en die V.K. herhaaldelik verklaar het dat hierdie alliansie nie ’n bedreiging vir China is nie, is sommige mense nie so oortuig daarvan nie.

Die Chinese Kommunistiese Party sien hierdie stap as ’n indirekte teenaanval teen sy ambisie om ’n sterker militêre benadering teen Taiwan te volg – ’n klein eilandjie wat die vasteland van China teenstaan en gerugsteun word deur sterk Amerikaanse militêre steun. Theresa May, die voormalige V.K. premier, het kommer uitgespreek dat hierdie ooreenkoms Brittanje in ’n aggressiewe oorlog sou insleep indien hulle Taiwan teen China verdedig. Die Britse premier, Boris Johnson, is voorbereid om Taiwan te verdedig indien internasionale reg bedreig word. Hy het ’n direkte waarskuwing aan die Chinese regering gegee (“Aukus pact: UK and US battle to contain international backlash,” The Guardian, 16 September 2021).

Die woordvoerder van die Chinese Ministerie van Buitelandse Sake, Zhao Lijian, het laat deurskemer dat die Chinese regering dalk vir Australië kan beskuldig van die oortreding van sy verbintenis ingevolge die Verdrag van Rarotonga, wat die vervaardiging, besit of verkryging van kernwapens verbied (“China howls at perceived threat of new ‘AUKUS’ agreement,” Politico, 16 September 2021).

In reaksie op hierdie dreigemente het Australië se Minister van Verdediging aan joernaliste gesê: “Dit is nie die eerste keer dat ons verskillende uitbarstings van China in terme van Australië se posisie sien nie. Ons is ’n trotse demokrasie in ons streek. Ons staan saam met ons bure in die Indiese Oseaan om blywende vrede te verseker en hierdie samewerking maak dit ’n veiliger streek. Dit is die werklikheid en geen hoeveelheid propaganda kan die feite verontagsaam nie” (The Guardian).

AUKUS sal Australië slegs die sewende nasie ter wêreld maak wat kernaangedrewe duikbote besit. Dit stem ooreenstem met die vermoë wat reeds deur China (BBC) besit word. Die duikbote kan tot vyf maande onder water bly en is moeiliker om op te spoor as konvensionele diesel-ekwivalente. Dit sal ook die V.S en die V.K. in staat sal stel om ’n groter teenwoordigheid in die streek van die Asiatiese Stille Oseaan te verkry.

Om enige veronderstelde bedreiging in perspektief te plaas, sou die eerste kernkragduikbote nie voor die vroegste in 2040 in Adelaide gebou word nie. Intussen kan V.S. en Britse duikbote vanaf Darwin in Noord-Australië gelanseer word om Suidoos-Asiatiese aktiwiteit te monitor (“The nuclear technology behind Australia’s Aukus submarine deal,” Financial Times, 19 September 2021).

Brittanje is op soek na nuwe alliansies nadat hulle die Europese Unie verlaat het en kundiges hou voet by stuk dat die V.K. en Frankryk sleutelpilare van ’n Europese veiligheidsorde sal wees. Die V.S. probeer om deur hierdie alliansie ’n vastrapplek in die Europese nasionale veiligheidstelsel te behou. Sal hierdie drie nasies – die V.K., die V.S. en Australië – egter ’n sterk alliansie as ’n groep wêreldleidende nasies kan handhaaf?

Die toekoms van huidige wêreld-alliansies

Die Wêreld van Môre erken dat die Verenigde State en mense van Britse afkoms hulle oorsprong in die Israelitiese stamme van Manasse en Efraim het. Daar kom ’n tyd wanneer hierdie nasies nie in staat sal wees om hulle krag te behou nie; hulle sal God se Goddelike beskerming verloor en gevange geneem word deur ’n toekomstige Europese supermoondheid wat baie nasies tot onderwerping sal bring. Die profeet Eségiël is geïnspireer om te skryf: “Want so sê die Here HERE: Kyk, Ek sal jou oorgee in die hand van hulle wat jy haat, in die hand van hulle van wie jou siel vervreemd geraak het. En hulle sal jou as vyand behandel en al jou goed wegneem en jou naak en bloot laat staan, sodat jou ontugtige skaamte ontbloot kan word. Ja, jou skandelike dade en jou hoererye” (Eségiël 23:28-29).

AUKUS lyk dalk soos ’n alliansie wat ’n leeftyd sal hou – baie soos die 1949-vorming van NAVO (Noord-Amerikaanse Verdragsorganisasie) en die 1951-stigting van ANZUS (Australië, Nieu-Seeland en Verenigde State se Veiligheidsverdrag). Omdat ons hedendaagse Israelitiese nasies hulle egter nie van hulle sondes bekeer het nie, kom daar ’n tyd waarna die Bybel verwys as “benoudheid vir Jakob” (Jeremia 30:7). Hewige druk van Frankryk en China mag dalk verdere geografiese spanning in die Asiatiese Stille Oseaan en Europa veroorsaak. Alhoewel moderne Israelitiese nasies nog die mees verwoestende tydperk in hulle geskiedenis in die gesig staar, sal God hulle uiteindelik van algehele uitwissing red.

Dit is nodig dat ons Jesus Christus se vermaning deeglik in gedagte hou om onsself voor te berei vir die vinnig naderende Koninkryk van God, wat alle wêreldregerings en alliansies sal vervang, ongeag hoe klein of hoe groot hulle is. Christus het aan Sy dissipels gesê: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36).