Hierdie tydskrif voorspel reeds vir 25 jaar al die vervulling van Bybelse profesie. Hoe kan u bevestig dat dit wat ons sê die waarheid is?
Die Bybel gee ’n eenvoudige waarskuwing aan diegene wat valslik beweer dat hulle ’n boodskap van God ontvang het en beweer dat Hy met hulle gepraat het terwyl Hy dit nie gedoen het nie. Daar was nog altyd en daar is stééds individue wat aanspraak maak op die status van ’n goddelike profeet. Eségiël, ’n ware profeet, dra God se waarskuwing oor teen die maak van voorspellings wat sogenaamd van Hom af kom en dan hoop dat dit sal gebeur.
“Mensekind, profeteer teen die profete van Israel wat profeteer, en sê aan die wat profete uit hulle eie hart is: Hoor die woord van die Here! So spreek die Here Here: Wee die dwase profete wat agter hulle eie gees aan wandel en agter dinge wat hulle nie gesien het nie. ... Hulle het nietigheid gesien en leuenagtige waarsêery, hulle wat daar sê: Die Here het gespreek – terwyl die Here hulle nie gestuur het nie; en dan wag hulle op vervulling van die woord!” Eségiël 13:2-3, 6).
God draai nie doekies om met betrekking tot valse voorspellings wat verkeerdelik aan Hom toegeskryf word nie en noem dit leuens en onsin. Eségiël gaan voort: “Het julle nie ’n bedrieglike gesig gesien en leuenagtige waarsêery gespreek nie deurdat julle sê: Die Here spreek, terwyl Ék nie gespreek het nie? Daarom, so spreek die Here Here: Omdat julle valsheid gespreek en leuenagtige gesigte gesien het, daarom kyk, Ek het dit teen julle, spreek die Here Here” (verse 7-8).
Waarom praat die Wêreld van Môre dus so baie oor profesie? Hoe weet u dat ons woorde die waarheid is?
Dit kan ’n uitdaging wees om Bybelprofesieë te verstaan. Dit sou maklik gewees het indien God net gewoonweg met ons gepraat het in visioene en drome soos Hy met die antieke profete gedoen het, maar dit is nie tans die geval nie. Nie een van ons hier by die Wêreld van Môre maak daarop aanspraak om ’n profeet te wees nie. Dit word dus aan ons oorgelaat om te lees wat hulle geskryf het en om twee sleutelpunte te onderskei: Wie die bestemde ontvangers is en ook die tye wanneer die profesieë vervul sal word. Wat meer is, ons het ’n verantwoordelikheid om daardie geïnspireerde Woorde van God oor te dra aan ander.
Laat ek verduidelik waarom.
Eségiël en die huis van Israel
God het aan die profeet Eségiël ’n ongewone opdrag gegee. Hy is aangesê om ’n boodskap na die huis van Israel te neem en dat hy aanspreeklik gehou sou word indien hy nalaat om dit te doen. Waarom is dit dan vir u van belang? Wat het dit te doen met die Werk van die Wêreld van Môre en sy borg, die Lewende Kerk van God?
Eségiël het ’n klein boekrol gekry, waarop ’n boodskap vir die toekoms geskryf is. Hy is toe aangesê om dit te eet en is beveel:
“Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde; want jy is nie gestuur na ’n volk wat duister van spraak en swaar van tong is nie, maar na die huis van Israel; nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het húlle na jou geluister! Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het ’n harde voorhoof en ’n ongevoelige hart” (Eségiël 3:4-7).
Let op dat daar vier keer, in vier verse, die bestemde ontvanger van Eségiël se boodskap duidelik gemaak word dat dit die huis van Israel is. Hier kom ons nou te staan voor ’n betekenisvolle probleem wat deur min mense verstaan word. Dit is nogtans nie moeilik om op te los nie. Ná koning Salomo se regering het die nasie van Israel in twee afsonderlike nasies verdeel naamlik die huis van Israel in die noorde en die huis van Juda in die suide. Die huis van Israel het uit tien stamme bestaan, terwyl die huis van Juda slegs Juda, Benjamin en baie Leviete ingesluit het. U kan van hierdie skeuring lees in 1 Konings 12.
Die meeste mense dink dat die terme Juda en Israel sinoniem is. Dit is nie so nie. Israel is ’n breër term wat Juda (of Jode) sowel as ander volke insluit. Dit is waar dat alle etniese Jode afstammelinge is van Jakob, wie se naam na Israel verander is. Daarom is hulle kinders van Israel. Alle Israeliete is egter nié Jode nie, net soos alle Amerikaners nie Kaliforniërs is nie. So is diegene wat in Kanada, die Verenigde State en Mexiko woon, in breë terme “Amerikaners” omdat hulle in Noord-Amerika woon maar Kanada, Mexiko en die Verenigde State is drie verskillende lande.
Die Bybel wy vier boeke (1 en 2 Konings en 1 en 2 Kronieke) aan die geskiedenis van hierdie twee afsonderlike nasies. Die huis van Israel is in ballingskap weggevoer na Assirië omstreeks 721-718 v.C. Die huis van Juda is tussen 604 en 585 v.C. deur Nebukadnésar (Babilon) gevange geneem na Chaldéa – meer as honderd jaar nadat die noordelike huis nie meer as ’n nasie bestaan het nie. Die sekulêre sowel as Skriftuurlike geskiedenis toon dat hierdie twee nasies nooit daarna een enkele nasie was nie. Tydens Christus se Wederkoms sal albei nasies bestaan en op daardie tydstip weer een nasie word, soos dit duidelik aangedui word in Eségiël 37:15-28. Neem tyd om hierdie gedeelte te lees. Dit beskryf die toekoms wanneer koning Dawid uit die dood opgewek sal wees en God sy Koninkryk op die aarde gevestig het (verse 23-28).
Sommige vertolkers gee ’n wanvoorstelling van die boeke Esra en Nehemía, wat Eségiël 37 weerspreek deur te beweer dat Israel en die Jode reeds een volk was, omdat ons vind dat sommige Jode teruggekeer het uit Babiloniese ballingskap na die val van daardie ryk in 539 v.C. Hulle verwys na verse soos Nehemía 12:47 en dan na Esra 10:5: “Toe het Esra opgestaan en hy het die owerstes van die priesters, die Leviete en die hele Israel laat sweer om volgens hierdie woord te handel; ... En die hele Israel het in die dae van Serubbábel en in die dae van Nehemía die aandele van die sangers en van die poortwagters gegee, na die eis van elke dag”.
Die bewering dat dit verwys na al twaalf stamme is nogtans op sy beste onkunde en in die ergste sin, misleidend. Wanneer u Esra en Nehemía noukeurig lees, sal u tot die slotsom kom dat hierdie gedeeltes uitsluitlik Jode, Benjaminiete en Leviete beskryf wat uit Babiloniese ballingskap teruggekeer het – die huis van Juda. Nie een van die ander stamme van Israel, wat 120 jaar tevore in Assiriese ballingskap weggevoer was, word in een van hierdie boeke genoem nie. Hou in gedagte dat Jode Israeliete is, maar hulle is nie van die noordelike huis van Israel nie – ’n onderskeid wat soos ons sal sien vir ons vandag belangrik is.
Eségiël het geweet na wie hy gestuur is
Eségiël het in die suidelike nasie van Juda gewoon en was een van die vele ballinge wat in gevangenskap na Babilon geneem was. Hy het geweet wat die verskil tussen die twee lande is wat van die aartsvader Israel afstam. Hoe weet ons egter dat Eségiël nie na die Jode verwys het toe hy met die Joodse gevangenes oor die huis van Israel gepraat het nie? Het hy verstaan dat die fokus van sy boodskap vir die noordelike nasie was en nie vir sy eie nasie nie?
Die antwoord op hierdie vraag is ’n raaisel vir beide geestelikes en leke, maar dit hoef nie te wees nie. Dit is deel van een van die mees opwindende Bybelse waarhede – ’n diepgaande waarheid wat help om sin te maak van ons huidige samelewing en dit verduidelik waarom ons by die Wêreld van Môre, profesie nie verwaarloos nie. Gaan terug na die begin van die boek Eségiël. Maak u eie Bybel oop en lees self hierdie dinge. Moet ons nie glo net omdat ons so sê nie; glo dit omdat u dit sélf in u eie Bybel lees!
Die Jode was in ballingskap in verskillende stadiums oor ’n tydperk van 19 jaar. Eségiël was onder die eerste gevangenes en die boek met sy naam begin ses jaar voor die val van Jerusalem. “IN die dertigste jaar ... toe ek onder die ballinge by die Kebarrivier was … dit was die vyfde jaar van die ballingskap van koning Jójagin – het die woord van die Here uitdruklik gekom tot Eségiël ... die priester, in die land van die Chaldeërs, by die Kebarrivier” (Eségiël 1:1-3).
Blaai nou na hoofstuk 4, waar die profeet aangesê word om die komende beleg van Jerusalem op ’n kleitablet uit te beeld. Hy moes stormramme en ander miniatuur instrumente van oorlogstuig uitbeeld. Waarom? “’n Teken is dit vir die huis van Israel” (vers 3). Jerusalem was egter die hoofstad van die huis van Juda (die Jode). Waarom was die beleg van Jerusalem dan “’n teken vir die huis van Israel”? Het Eségiël nie die verskil geken nie? Het God nie geweet wat die verskil is (sê ek tong in die kies) toe Hy met Eségiël gepraat het nie? Wat hierop volg, bewys dat Eségiël wel geweet het wat die verskil was. Lees dit self. Net nadat God vir Eségiël gesê het dat die beleg van Jerusalem ’n teken vir die huis van Israel sou wees, het God aan hom hierdie ongewone opdrag gegee:
“Gaan lê ook op jou linkerkant, en sit daarop die ongeregtigheid van die huis van Israel; volgens die getal dae dat jy daarop lê, moet jy hulle ongeregtigheid dra. En Ék lê jou die jare van hulle ongeregtigheid op volgens die getal dae, driehonderd-en-negentig dae, dat jy die ongeregtigheid van die huis van Israel moet dra. En as jy met hierdie dae klaar is, moet jy, vir die tweede keer, op jou regterkant gaan lê en die ongeregtigheid van die huis van Juda dra, veertig dae lank: vir elke jaar lê Ek jou een dag op” (Eségiël 4:4-6).
Hierdie profesieë is na die Jode geneem en sommige profesieë is wel op hulle van toepassing. Die fokus van die boek is eintlik op die huis van Israel – ’n ander nasie. Wanneer sal die profesieë vervul word?
Verbind die kolletjies: In die eerste hoofstukke sê God vir Eségiël om na die huis van Israel te gaan (Eségiël 3:1, 4-5, 7). Verder was hy beveel: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (vers 17). Soos wat ons verder gesien het, sou die beleëring van Jerusalem “’n teken vir die huis van Israel” wees. Dit was egter net moontlik vir Eségiël om God se boodskap aan sy eie mense oor te dra, dié van die huis van Juda, wat ook saam met hom in gevangenskap was. Sy boodskap, soos gesien word op die kleitablet wat die beleg van Jerusalem uitbeeld, was ’n boodskap vir die huis van Israel.
’n Wag se plig
Eségiël is meegedeel dat hy “’n wag vir die huis van Israel” moes wees. Ons sien dit in die inleidende hoofstukke waar sy opdrag verduidelik word. Nadat die hardkoppigheid van Sy gehoor deur God beskryf is, sê Hy: “Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eségiël 3:17).
Kyk nou na ’n uiters deurslaggewende gedeelte wat in hoofstuk 33 gevind word waar Eségiël se verantwoordelikheid bevestig word om ’n wag te wees – nie vir die Jode nie, maar vir die huis van Israel. ’n Nuwe element word bygevoeg: Die erns van sy roeping.
“Mensekind, spreek met die kinders van jou volk en sê vir hulle: As Ek die swaard oor ’n land bring, en die mense van die land neem ’n man uit hulle kring en stel hom as wag vir hulle aan, en hy sien die swaard aankom oor die land en blaas met die basuin en waarsku die mense – as dan iemand die geluid van die basuin hoor, maar hom nie laat waarsku nie, en die swaard kom en neem hom weg, dan is sy bloed op sy hoof. Hy het die geluid van die basuin gehoor, maar het hom nie laat waarsku nie: sy bloed is op hom. Maar as hy hom laat waarsku, dan red hy sy siel. As daarenteen die wag die swaard sien kom en met die basuin nie blaas nie, sodat die mense nie gewaarsku is nie, en die swaard kom en neem ’n siel uit hulle weg – dan is hy deur sy ongeregtigheid weggeneem, maar sy bloed sal Ek van die hand van die wag eis. En jy, o mensekind, Ek het jou as wag oor die huis van Israel aangestel; en as jy ’n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku” (Eségiël 33: 2-7).
Ons het reeds gesien dat antieke Israel in twee afsonderlike koninkryke verdeel is. Alhoewel Eségiël ’n gevangene in Babilon was, was sy belangrike boodskap vir die noordelike koninkryk van Israel. Hy moes ’n klein boekrol eet en die boodskap wat daarin was, na die huis van Israel neem (Eségiël 3:1). Die beleg van Jerusalem was ’n boodskap vir die huis van Israel (Eségiël 4:1-3).
Ons sien nou God se bevestiging van Eségiël se roeping en die belangrikheid daarvan om dit uit te voer: “Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel”. Die waarskuwing is dat indien hulle hulle nie bekeer nie, hulle in gevangenskap sal gaan.
“Hier is egter nou ’n probleem”: Die noordelike tien stamme was reeds meer as 120 jaar tevore gevange geneem. Dit wil voorkom asof Eségiël meer as ’n eeu laat was – of wás hy?
Soos vroeër verduidelik, die grootste uitdaging om Bybelse profesieë te verstaan is om te onderskei vir wíe die boodskap bedoel is en wanneer dit vervul sal word. Somtyds is dit duidelik; ander kere is dit nie so duidelik nie. Soos vroeër beskryf is, verstaan ons dat ’n groot gedeelte van die boek Eségiël, nie vir die Jode is nie, maar vir die noordelike tien stamme.
Waarom sou God ’n nasie 120 jaar te laat waarsku dat hulle in ballingskap sal gaan tensy hulle hul van hulle bose dade bekeer? Wat meer is, waarom sou God ’n man kies om dit te doen wie sélf op ’n ander plek in gevangenskap was en nie die vermoë gehad het om, vanweë sy gevangenskap, die boodskap na die bedoelde ontvangers te kon neem nie?
Ons moet tot die gevolgtrekking kom dat God Eségiël daardie boodskap laat opteken het vir ’n toekomstige wag wat daardie waarskuwing na die huis van Israel kon neem, maar wanneer?
Dit is interessant dat ons die frase “huis van Juda” net vyf keer in 48 hoofstukke vind, alhoewel daar duidelik ander verwysings na die Jode is. Die noordelike tien stamme van die huis van Israel word egter meer as 80 keer genoem! Sommige van Eségiël se profesieë was ’n getuienis teen die Jode van sy tyd, maar die meerderheid van God se boodskappe was vir die huis van Israel en dit was nie vir daardie tyd bedoel nie, maar vir óns tyd – die eindtyd.
’n Boodskap vir ons tyd
Die boek Eségiël bevat baie verwysings na die tyd wat lei tot die eindtydperk wat ook die begin van Christus se Heerskappy op aarde aandui. Agt hoofstukke word gewy aan beskrywings van ’n tempel en die dienste gedurende die Millennium (Eségiël 40-47). Hoofstuk 48 beskryf die grense tussen die twaalf stamme van Israel na die Wederkoms van Jesus van Násaret, die Messías. Ons leer dat die twee nasies nie weer bymekaar sal kom voor die tyd van die opstanding nie (Eségiël 37:15-28).
Daar is ook ’n direkte verwysing na die dag van die Here – die tyd van God se eindtyd-ingryping. “Jou profete, o Israel, is soos jakkalse in puinhope. Julle het in die bresse nie opgegaan nie en die muur nie gebou om die huis van Israel, om in die stryd pal te staan in die dag van die Here nie” (Eségiël 13:4-5).
Die mense vir wie Eségiël se boodskap bedoel is was nie die Jode nie, ook nie vir die huis van Israel van sy tyd nie, maar vir die eindtydse afstammelinge van die tien stamme van Israel. Daarom moet daar ’n wag vir die eindtyd wees – maar wie? Dit kan net iemand of een of ander groep mense wees wat van hierdie stamme bewus is en waar hulle hulle aan die einde van die tyd bevind. Behalwe dié van ons hier by die Wêreld van Môre en ’n paar ander oorblywendes van die Worldwide Church of God, onder die leierskap van wyle Herbert W. Armstrong, erken feitlik niemand anders die duidelike leerstellings van die Bybel met betrekking tot hierdie saak nie.
Selfs afgesien van hierdie begrip, maak God dit duidelik dat sy dienaars ’n verantwoordelikheid het waarvoor hulle aanspreeklik gehou sal word, om diegene wat op ’n ramp afstuur te waarsku: “Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! – sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk” (Spreuke 24:11-12).
Volgens die Bybel bestaan die huis van Israel vandag iewers op aarde en dit is nie ’n onbekende deelnemer in geopolitiek nie. Diegene wat weet waar om hierdie stamme te vind, sien hulle na die slagbank wankel en die uiteinde van hulle struikeling gaan verskriklik wees – wat alle verwagting sal oortref.
Indien u graag wil uitvind wat die Bybel aan ons openbaar met betrekking tot hierdie mense aan die einde van die tyd, vra u eie gratis eksemplaar aan van Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? vanaf die streekkantoor naaste aan u, waarvan die kontakbesonderhede op bladsy 2 van hierdie tydskrif verskyn of lees dit aanlyn by wvm.co.za.
Is dit toevallig dat die Amerikaanse volk en volke van Britse afkoms saam met die Jode in die hedendaagse nasie van Israel, hulleself met onenigheid aan alle kante bevind, gedurende die presiese tyd wat hulle hul Skepper verlaat en die mees afstootlike sondes aanhang? Wetteloosheid is aan die orde van die dag. Geweld is besig om toe te neem. Vyandigheid teenoor God is openlik en heftig. Die Tien Gebooie word wêreldwyd verwerp – selfs deur baie mense wat hulleself “Christene” noem. Owerspel vier hoogty en daarmee saam egskeiding (of skeiding, aangesien baie mense nie eers die moeite doen om te trou nie), met kinders wat hopeloos verward agtergelaat word. Moeders neem hulle kleuters na “Drag Queen Story Hours”. Begryp hulle nie wat die gevolge daarvan kan wees nie?
Tensy die Amerikaanse en nasies van Britse afkoms, soos Kanada, Australië, Nieu-Seeland en Suid-Afrika hulle van hulle sondes bekeer, is slawerny binnekort hulle voorland – hoe moeilik dit ook al mag wees om te glo. God laat Hom nie bespot nie en wanneer Hy sy beskermende hand onttrek, sal die ondergang skielik kom, soos Jesaja skryf:
“Gaan nou in, skryf dit op ’n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ’n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid. Want dit is ’n wederstrewige volk, leuenagtige kinders, kinders wat die wet van die Here nie wil hoor nie; wat aan die sieners sê: Sien nie! en aan die profete: Profeteer vir ons nie wat reg is nie; spreek vleitaal vir ons, profeteer bedrieëry; wyk af van die weg, buig af van die pad, laat die Heilige van Israel voor ons aangesig verdwyn! Daarom, so sê die Heilige van Israel: Omdat julle hierdie woord verwerp en vertrou op verdrukking en slinksheid en daarop steun, daarom sal hierdie skuld vir julle wees soos ’n los stuk wat wil val, wat oorhang in ’n hoë muur, waarvan die instorting heeltemal onverwags kom” (Jesaja 30:8-13).
Nee, ons by die Wêreld van Môre is nie profete nie maar ons kan u daarop wys wat die profete van God vir die twee huise van Israel vir óns tyd opgeteken het. Enigiemand wat dit insien, behoort te besef dat dit belangrike tye is en dat rampspoed op die horison is. Dit hoef nie te gebeur indien die mense wat deel is van die huis van Israel en die huis van Juda, hulle van hulle bose weë bekeer nie. Ongelukkig is daar geen teken daarvan nie.
Die profeet Amos beskryf hoe alles klaarblyklik ’n slegte rigting inslaan en waarsku: “Daarom sal Ek só met jou handel, o Israel; omdat Ek só met jou sal handel – maak jou klaar om jou God te ontmoet, o Israel” (Amos 4:12).
Onthou waar u hierdie boodskap gehoor het.