Teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog, toe die Spilmoondhede verpletter en Duitsland se stede verwoes was, het die Verenigde State hulp verleen deur middel van hul Marshall Plan, selfs aan hul voormalige vyande in Wes-Europa. Oor die hele wêreld was die VSA bewonder vir hul waardes en vir hul onselfsugtige gawes en hulp aan ander nasies.

Vandag egter, het die VSA orals in die wêreld ’n slegte reputasie. Hul vermaaklikheidsbedryf het pornografie, materialisme en vals waardes uitgevoer wat ontelbare miljoene mense teen hulle voormalige Amerikaanse weldoeners laat draai het. Terwyl hulle eens bewonder was omdat hulle troepe gestuur het om vryheid en morele waardes hoog te hou, word die VSA nou wyd en syd gehaat omdat hulle hul invloed laat geld waar dit nie welkom is nie.

Sal dié situasie binnekort verander? Sal die VSA as morele leier gerespekteer word, of sal die VSA verder verval in morele en sosiale agteruitgang? Om die huidige situasie te kan verstaan, moet ons lesse uit die geskiedenis leer. Ons behoort te verstaan waarom wêreldryke agteruitgaan en verval. Die Romeinse Ryk het floreer in handel, ingenieurswese en argitektuur. Dié Ryk se magtige militêre legioene was gebruik om hul gebiedsgrense uit te brei, maar uiteindelik het die Romeinse Ryk agteruitgegaan en in puin verval. Een van die hoofredes vir die agteruitgang was omdat die gesinslewe verbrokkel het. Toe egskeiding, owerspel en ’n weelderige lewenstyl die eenheid en waardes van die huisgesin verwoes het, het die ryk agteruitgegaan en die Romeinse karakter verswak. Hoe sou u die karakter van u volk, of u omgewing, beskryf?

In die 18e eeu het baie van die stigtersvaders van die VSA besef dat hul nuwe nasie gegrond moes wees op bestendige waardes. Hulle het besef dat hul volk die Almagtige God as die bewerker van vryheid en regering moes erken.

In Junie 1787 het Benjamin Franklin die Grondwetlike Konvensie toegespreek: “Meneer, ek het baie jare agter die rug en hoe ouer ek word hoe meer oortuigende bewyse sien ek van hierdie waarheid – dat God die mens se sake beheer. As geen mossie op die aarde val sonder God se wete nie, is dit moontlik dat ’n ryk kan opgang maak sonder Sy hulp?” (Journal of the Federal Convention, James Madison, red. E.H. Scott, bll. 259-260).

Wat ’n uitsonderlike perspektief. Erken Amerika se wetgewers, kongreslede en staatsmanne in die 21ste eeu hierdie wonderlike waarheid? Westerse nasies se toekoms en oorlewing hang af van hul erkenning en aanvaarding van die Almagtige God en Sy lewenswyse!

Daniel Webster, die groot Amerikaanse staatsman, het hierdie waarskuwing gerig aangaande die toekoms van sy volk: “As daar enigiets aan te beveel is in my gedagtes of my styl, is dit te wyte aan my ouers wat my vroeg in my lewe ’n liefde vir die Skrif geleer het. As ons hou by die beginsels wat die Bybel leer, sal ons land steeds floreer en voorspoedig wees; maar as ons en ons nageslagte die Bybelse instruksies en gesag verwaarloos, kan niemand sê hoe gou ’n katastrofe ons land kan tref en al ons glorie in absolute onbekendheid begrawe nie” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Indien ons sou lewe volgens “die beginsels wat die Bybel leer” – die Tien Gebooie – sal ons steeds voorspoedig wees, op individuele sowel as nasionale vlak. Ongelukkig sal die meeste nasionale leiers en instansies nie standpunt inneem vir Bybelse beginsels nie maar u en ek kan, as individue.

Nasies gee erkenning aan God

Die Verenigde Koninkryk erken God in hul volkslied “God Save the Queen”. Dié volkslied word ook gesing in Kanada, Australië en Nieu-Seeland. Baie ander Westerse volke erken God in hul stigtingsdokumente. Die aanhef van Kanada se Grondwet van 1982, verklaar: “Aangesien Kanada gevestig is op beginsels wat die opperheerskappy van God en die gesag van die wet erken ...” Op 2 Maart 1898 is die grondwet van Australië aanvaar met dié erkenning van God: “Aangesien die inwoners van Nieu-Suid-Wallis, Victoria, Suid-Australië, Queensland, en Tasmanië, wat nederig vertrou op die seëning van die Almagtige God, ooreengekom het om te verenig in een onverdeelbare Federale Statebond onder die Kroon van die Verenigde Koninkryk van Groot Brittanje en Ierland ...”

Sal sodanige amptelike erkennings egter lei tot geregtigheid vir hierdie volke? Ons lees in die Bybel in Spreuke: “Geregtigheid verhoog ’n volk, maar die sonde is ’n skandvlek vir die nasies” (Spreuke 14:34).

Baie van die VSA se stigtersvaders het sonder twyfel geweet dat die Almagtige God die Een is wat ’n volk seën. John Adams, wat later die tweede president van die VSA geword het, het aan God erkenning gegee met die vestiging van die nuwe nasie. Hy het geglo dat die onafhanklikheid van die Verenigde State ’n grootse oomblik sou wees en skryf op 3 Julie 1776 aan sy vrou Abigail: “Ek is geneig om te glo dat toekomstige geslagte dit sal vier as die groot herdenkingsfees. Dit behoort herdenk te word as die dag van bevryding, met gewyde handelinge van aanbidding aan die Almagtige God”.

Hoeveel van Amerika se leiers sal vandag met John Adams saamstem? George Washington, Amerika se eerste president, het verklaar: “Dit is onmoontlik om die wêreld na behore te regeer sonder God en die Bybel” (Halley’s Bible Handbook, bl. 18).

Waarom glo so min van vandag se leiers daaraan? Nasies wat die heerskappy van die Almagtige God nie wil erken nie, sal Sy oordeel in die gesig staar. Thomas Jefferson wie die derde president van die VSA geword het, het die verskriklike gevolge voorsien as God se heerskappy verwerp word: “God wat aan ons lewe gegee het, het aan ons vryheid gegee. Kan ons nasie dink ons vryhede is verseker wanneer ons die enigste stewige grondslag daarvan verwyder, daardie oortuiging in die volk se wete dat hierdie vryhede ’n gawe van God is? Dat oortreding van dié vryhede, God se gramskap tot gevolg sal hê? Ek vrees inderdaad vir my land wanneer ek nadink oor God se billikheid en dat Sy geregtigheid nie vir ewig slaap nie”. ’n Gedeelte van hierdie aanhaling uit sy Notes on the State of Virginia, is uitgebeitel teen die muur van die Jefferson Gedenkteken in Washington, D.C.

God, lewe en vryheid

Ja, die God wat aan ons lewe gegee het, het aan ons vryheid gegee. Het ons, in Jefferson se woorde, die “enigste stewige grondslag” van daardie vryheid verwyder? Indien wel, behoort ons ons te bekeer – op nasionale sowel as persoonlike vlak. Ons behoort die Almagtige God te erken as die ware bron van vryheid, seëninge en voorspoed. God openbaar Sy lewenswyse in die Heilige Skrif. Die Bybel is die Woord van God, en gee ongelooflike waarhede en begrip aan diegene wat hul daartoe sal verbind om volgens daardie Woord te lewe. Soos Jesus gesê het: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Die Bybel wys ons ’n suiwer manier van leef – daardie lewenswyse wat oorvloedige seëninge meebring. Soos Jesus gesê het: “Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê” (Johannes 10:10).

Hoe geniet ons daardie lewe van oorvloed? Daar is ’n oorsaak vir elke gevolg! U Bybel bevestig hierdie lewenswaarheid. “Moenie dwaal nie; God laat Hom nie bespot nie; want net wat die mens saai, dit sal hy ook maai. Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai; maar hy wat in die Gees saai, sal uit die Gees die ewige lewe maai” (Galasiërs 6:7-8).

Ja, ons moet geestelik ingestel wees – nie op vleeslike dinge nie – so vermaan die apostel Paulus (Romeine 8:6). Wat bring egter ’n lewe van oorvloed te weeg? ’n Jong man het dié vraag aan Jesus gestel: “Goeie Meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?” Was Jesus se antwoord: “Jy hoef niks te doen nie?” Nee! Jesus het gesê: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, naamlik God. Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie. Hy vra Hom: Watter? En Jesus sê – dit: Jy mag nie doodslaan nie, jy mag nie egbreek nie, jy mag nie steel nie, jy mag geen valse getuienis gee nie; eer jou vader en moeder; en: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” (Mattheüs 19:16-19).

Glo u u Bybel? Glo u wat Jesus gesê het? Vandag word die Tien Gebooie aangeval. Die Verlosser van die wêreld, ons toekomstige Koning van die konings en Here van die here, het daardie gebooie onderrig. Ons huidige moderne Westerse wêreld verwerp egter daardie gebooie al hoe meer, en verval net verder in immoraliteit.

Net soos wat God die Skepper is van die natuurwette in fisika en chemie, is Hy die Wetgewer van geestelike wette. Daardie wette is net so werklik as die natuurwette! Een van die temas wat van die begin tot die einde van die Bybel verduidelik word, is dat gehoorsaamheid aan God se wette lei tot seëninge. Ongehoorsaamheid aan daardie wette bring vloeke en strawwe mee. Lees net ’n bietjie Deuteronomium 28 en Levitikus 26. Dié hoofstukke is bekend as die “seëninge en vervloekinge” hoofstukke. Let ook op na die heel laaste hoofstuk in u Bybel. Jesus, die Messias, kondig aan hoe skielik en onverwags Hy sal terugkeer na die aarde – dit wat die Wederkoms genoem word. Let op wie geseën sal word en wie nie. “En kyk, Ek kom gou, en My loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte in die stad. Maar buite is die honde en die towenaars en die hoereerders en die moordenaars en die afgodedienaars en elkeen wat leuens liefhet en doen” Openbaring 22:15-22).

Oorsaak en gevolg

Ja, daar is oorsaak en gevolg in die lewe. Wanneer ons die regte oorsaak navolg, kan ons die regte gevolg geniet. Wanneer ons immoraliteit beoefen, het dit pynlike gevolge. Die Almagtige God het die Tien Gebooie gegee sodat ons liefde aan Hom en liefde aan ons medemens kan betoon.

U het dalk nog nie só hieroor gedink nie: Die eerste vier gebooie wys hoe ons liefde aan God moet betoon, en die laaste ses hoe ons teenoor ons medemens liefde moet betoon. Jesus het uitdruklik hierdie twee groot gebooie verduidelik. Toe ’n skrifgeleerde Hom vra: “Wat is die eerste gebod van almal?” was Jesus se antwoord: “Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ’n enige Here; en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod. En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie” (Markus 12:28-31).

Hierdie is die groot gebooie, nie die groot voorstelle nie. Hulle verduidelik wat bitter min mense op aarde werklik verstaan as die doel van menslike bestaan. God wil hê dat ons vir alle ewigheid moet deel wees van Sy goddelike gesin. Hy is die Vader na wie die hele gesin in hemel en op aarde vernoem is (Efesiërs 3:15). Die grondslag vir daardie goddelike gesin is liefde. Ons moet leer om liefdevolle verhoudings te ontwikkel. God is liefde (1 Johannes 4:8, 16). Daarom sê die Almagtige God in die eerste van Sy Tien Gebooie: “Jy mag geen ander gode voor My aangesig hê nie” (Eksodus 20:3). Ons bewys ons liefde aan die ware God wanneer ons vals gode verwerp.

Die ou Egiptiese Ryk het die Israelitiese volk aan slawerny onderwerp. Miskien het u die klassieke rolprent, The Ten Commandments, van Cecil B. DeMille gesien. God het die vals gode van Egipte met tien plae veroordeel en die Israeliete verlos uit slawerny. Terwyl Moses sy volk na die Rooi See gelei het, maak Farao en sy leër gereed om hulle aan te val. Wat het Moses aan die Israeliete gesê? “Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie. Die HERE sal vir julle stry, en julle moet stil wees” (Eksodus 14:13-14). Toe trek die Israeliete deur die see op “droë grond” (vers 22). God het die Israeliete bevry, maar die Egiptiese leër is agter hulle verswelg toe die opgedamde water weer teruggestort het. Die slawe was toe vry! Na etlike weke het Moses en die Israeliete by die berg Sinai aangekom. Die berg het geskud. Donderweer en weerlig en ’n harde trompetgeskal het die toneel ingerig. God het met die hele volk gepraat en aan hulle die Tien Gebooie gegee. Later het Moses die Tien Gebooie op twee kliptafels ontvang, met God se vinger geskrywe (Eksodus 31:18).

Wat het Jesus Self egter gesê oor die Tien Gebooie? Ons het vroeër gesien dat Jesus uitdruklike opdrag gegee het aangaande die gebooie. Jesus het gesê: “Maar as jy in die lewe wil ingaan, onderhou die gebooie” (Mattheüs 19:17). Glo u u Verlosser? Of glo u die vals argumente wat sê dat die gebooie afgeskaf is? Jesus Christus is aan die kruis vasgespyker – nie Sy Gebooie nie! U sondes is simbolies aan die kruis vasgespyker. Maar, as die wet afgeskaf is, dan is daar geen sonde meer nie, en wetteloosheid kan seëvier. Die gebooie definieer wat sonde is. Ons lees: “Elkeen wat die sonde doen, doen ook die wetteloosheid, want die sonde is wetteloosheid” (1 Johannes 3:4). Of, “Elkeen wat sonde doen, oortree die wet van God. Sonde is immers oortreding van die wet van God” (vers 4, NV). Ja, sonde bestaan steeds, en God se Wet bestaan steeds. Die boek aan die Romeine bevestig ook dat die gebooie steeds toepaslik is. “Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie” (Romeine 4:15).

Elke mens wat nog ooit geleef het – behalwe Jesus Christus – het gesondig. Soos die apostel Paulus geskryf het: “... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23). Ons verdien almal die doodstraf vir ons sondes. Paulus het ook geskryf: “Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here” (Romeine 6:23).

Ons moet ons bekeer!

God het aan ons Sy Seun gegee om ons sondeskuld te betaal. Jesus, die Seun van God, het Sy bloed uitgestort om vir ons sondes te betaal. Ons sondes kan vergewe word! Maar, ons moet ons bekeer van ons sondes, Christus se gestorte bloed aanvaar, en Hom as ons Here en Lewende Verlosser aanvaar. Toe die Nuwe-Testamentiese Kerk begin is op Pinksterdag, het die apostel Petrus aan die skare gesê: “Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang” (Handelinge 2:38). In reaksie op Petrus se preek is drieduisend mense daardie dag gedoop (vers 41)!

As u die ware Bybelse doop bestudeer het en daardie punt in u lewe bereik het waar u berou tot bekering ervaar, Christus se offergawe en Sy gesag oor u lewe aanvaar, vra ek u om een van ons leraars te kontak. Ons het verteenwoordigers in baie lande. Skryf gerus aan die streekkantoor naaste aan u (gelys op bladsy 2 van hierdie tydskrif), en een van ons leraars sal u graag ontmoet, waar en wanneer dit u pas, om hierdie lewensbelangrike saak verder met u te bespreek.

Ons moderne Westerse wêreld verwerp al hoe meer die Tien Gebooie en verval net dieper in immoraliteit. Hoe erg is die immoraliteit egter werklik? Verwys na “Moreel aanvaarbaar?” hieronder. Selfs sommige belydende Christene keur optredes goed wat volgens die Bybel se definisie onsedelik is! Die sewende gebod sê uitdruklik: “Jy mag nie egbreek nie” (Eksodus 20:14). Jesus het die gebooie uitgebrei en hulle meer bindend gemaak. Ons moet nie bloot fisiese owerspel vermy nie, maar moet ook owerspel van die hart en denke vermy. Jesus het gesê: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie egbreek nie. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat na ’n vrou kyk om haar te begeer, reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg het” (Mattheüs 5:27-28).

Pleeg u geestelike owerspel in u gedagtes en met u oë? Pornografie deurdrenk ons samelewing, dit lei tot perversie en seksuele slawerny in baie dele van die wêreld. Ons Westerse wêreld bevorder pornografie deur middel van die Internet en die vermaaklikheidsmedia. As u uself oortuig het dat oorgawe aan pornografie aanvaarbaar is, behoort u u daarvan te bekeer! U behoort u geestelike owerspel aan God te erken. Die gevolg van sonde is die dood! U kan vergifnis verkry, maar dan behoort u u te bekeer en u gedagtes en u lewe te verander! U behoort u Bybel te bestudeer en leer om u gedagtes en lewe te suiwer! Ons behoort moderne immoraliteit te verwerp en die lewenswyse van die Bybel en die Tien Gebooie te kies.

Die VSA se president John Adams, het geglo dat die Amerikaanse regering net behoorlik kon funksioneer vir ’n volk met sedelikheid. Hy het geskryf: “Ons het nie ’n regering bewapen met mag om menslike passies te beheer wat nie deur moraliteit en godsdiens beteuel kan word nie. Gierigheid, ambisie, wraak of gallanterie, sal die sterkste bande van ons Grondwet verbreek net soos ’n walvis deur ’n visnet breek. Ons Grondwet is slegs opgestel vir ’n morele en godsdienstige volk. Dit is heeltemal onvoldoende vir die regering van enige ander tipe volk” (Letter to Massachusetts Militia, 11 Oktober 1798).

Sal ons as Bybelse morele en godsdienstige volke lewe? Die Nuwe Verbond wat Jesus ingestel het, het nie God se gebooie afgeskaf nie. Die Nuwe Verbond beklemtoon dat die gebooie – die lewenswyse van liefde – in ons hart en denke geskryf moet wees (Jeremia 31; Hebreërs 8:10). God verwag dat ons die Tien Gebooie in ons daaglikse lewe sal uitleef en die gebooie deel van onsself maak. Hoe? Deur Christus wat Sy lewe in ons leef (Galasiërs 2:20).

Sal u swig voor die aanloklikheid van “moderne moraliteit”, of sal u God se lewenswyse kies – en, met Christus se hulp, volgens Sy Tien Gebooie leef?

Moreel aanvaarbaar?

In Amerika is daar wye aanvaarding van oorgawe aan vele handelswyses wat volgens Bybelse standaarde onsedelik en immoreel is:

Handeling

Persentasie aanvaarding

 
Dobbelary

61

Saamblyery

60

Seksuele fantasering

59

Aborsie

45

Owerspel

42

Pornografie

38

Godslastering en gevloekery

36

Dronkenskap

35

Homoseksuele seks

30

Gebruik van nie-voorgeskrewe dwelms

17

 


Bron: Morality Continues to Decay, Barna Research, November 2003