Bid u gereeld? Wanneer u bid, verwag u 'n antwoord?

Volgens 'n U.S. News & World Report meningspeiling wat in Desember 2004 vrygestel is, sê meer as 40 persent van Amerikaners dat hul gebede “gereeld verhoor word”. Slegs 1,5 persent meen hul gebede word “nooit” verhoor nie. Bykans twee derdes, 64 persent, sê hulle bid minstens eenmaal per dag.

Word u gebede dikwels verhoor? Indien nie, waarom nie? Is daar iets wat u kan doen om dit waarskynlik te maak of selfs te verseker dat God u gebede sal verhoor? U Bybel onthul die antwoord op hierdie belangrike vraag.

Eerstens moet ons vra: is God in staat om selfs die mees onwaarskynlike gebed te verhoor? Hier is wat die apostel Paulus skryf: “En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen” (Efesiërs 3:20-21). Glo u dit? God se mag om gebede te verhoor, oortref u vermoë om te vra by verre.

God sê vir ons om in gebed na Hom te kom. In sy beroemde “Bergpredikasie”, onderrig Jesus Christus: “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word. Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word. Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom 'n klip sal gee; en as hy 'n vis vra, aan hom 'n slang sal gee? As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!” (Mattheus 7:7-11).

Kan u u dit voorstel? God—ons Vader—wil vir ons goeie dinge gee! Hy wil hê ons moet op Hom steun, op Hom staatmaak en op Hom vertrou! Soms bid ons egter en dit voel nie of ons 'n antwoord kry nie. Hoe kan ons dan op Hom staatmaak en Hom vertrou? Waarom blyk dit soms of ons gebede nie verhoor word nie?

Wat is God se reaksie?

Ons kan 'n paar maniere identifiseer waarop God op ons gebede reageer. Soms reageer Hy met 'n vinnige en eenvoudige “ja”. Soms sal Hy sê “ja”, maar eers nadat ons vir 'n ruk lank geduldig gewag het. Sy reaksie is ander kere positief, maar nie die “ja” wat ons verwag het nie—moontlik is dit ongewone omstandighede of voorvalle wat die onderwerp van ons gebede beïnvloed. Soms sal Hy 'n gebed verhoor, maar bekend maak dat die antwoord “nee” is. Laastens—en dit is soms die moeilikste antwoord om te ontvang—sê Hy partykeer “nie totdat jy jou bekeer het nie; tot dan moet jy beproewinge deurmaak en sekere lesse leer.”

Vanselfsprekend verkies ons almal 'n eenvoudige “ja” antwoord op ons gebede. Ons voel soms ons het God se hulp of verlossing spoedig nodig. Koning Dawid van antieke Israel het beslis so daaroor gevoel. Wanneer u baie van die Psalms van Dawid lees, kan u sy opregte benadering tot kommunikasie met God verstaan. U kan daaruit leer en dit in u eie gebede toepas. Toe Dawid eenkeer gevra het om van sy vyande verlos te word, het hy tot God geroep: “O God, maak tog gou om my te red, o Here, om my te help! Laat hulle wat my lewe soek, beskaamd staan en rooi van skaamte word; laat hulle wat behae het in my ongeluk, agteruitwyk en in die skande kom...; Here, vertoef tog nie!” (Psalm 70: 2-3, 5).

Dawid het nie geskroom om God te vra om hom spoedig te help nie! God het Dawid se gebede herhaaldelik verhoor en hom van sy vyande verlos. U kan van Dawid se lewe en sy eensgesindheid met God in 1 en 2 Samuel en 1 en 2 Kronieke lees.

In die Nuwe Testament vind ons baie voorbeelde van verhoorde gebede. Toe die Apostels ten tye van 'n stormagtige nag op 'n skuit in die see van Galilea was, was hulle angsbevange totdat hulle Jesus op die water na hulle toe sien loop het. Jesus het hulle bemoedig en op Sy bevel het Petrus op die water na Hom toe begin stap. Petrus het egter toe sy geloof verloor. “Maar toe hy die sterk wind sien, het hy bang geword; en toe hy begin sink, roep hy uit en sê: Here, red my!” (Mattheus 14:30).

Wat was Jesus se antwoord? Het Hy gesê “ Nee Petrus, Ek gaan jou laat verdrink”. Nee! In teenstelling daarmee het Jesus eerder “dadelik sy hand uitgesteek en hom gegryp en vir hom gesê: Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” (vers 31).

Wanneer iemand innig na God roep vir hulp, kan God onmiddellik ingryp—selfs al het die persoon, soos in die geval van Petrus, min geloof. God kan selfs so 'n ingryping gebruik om ons geloof te versterk. Let op “Daarop klim hulle in die skuit, en die wind het gaan lê. Toe kom die wat in die skuit was, en val voor Hom neer en sê: Waarlik, U is die Seun van God!” (vers 32-33).

Jesus kan vir ons ingryp omdat Hy die Seun van God is. Christene het die magtiging en voorreg om in gebed voor God se troon te verskyn. Jesus het sy dissipels geleer dat: “En in daardie dag sal julle My niks vra nie. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee” (Johannes 16:23). Om in die naam van Jesus te vra, is om met Sy gesag te vra. Wanneer ons voor God se troon verskyn, is dit nie uit eie gesag nie. Ons moet nederig in die gesag van ons Verlosser verskyn. Presies hoe belangrik is nederigheid? Onthou dat dit die Tollenaar (belastinggaarder) was wat gebid het: “O God, wees my, sondaar, genadig!” (Lukas 18:13). Waar Jesus sy nederigheid met die arrogansie van die Fariseër vergelyk, sê Hy: “Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word” (vers 14).

Presies hoe behoort ons te bid? In Mattheus 6:6 sê Jesus ons moet na 'n “binnekamer” of kamer gaan—enige privaat plek sal trouens geskik wees. U sal moontlik langs u bed kniel nadat u opgestaan het en voor u gaan slaap. Kry 'n privaat plek en begin net met God te praat. Deel u dankbaarheid. Deel u hoop. Deel u vrese en bekommernis. Praat net met God soos met 'n vriend, met diepe respek, eerlikheid en openhartigheid. U het nie indrukwekkende woorde of formele taalgebruik nodig nie.

Dit is nuttig as u u Bybel byderhand het wanneer u bid. Wanneer u u woorde met Hom deel, is dit goed om Sy woorde aan ons te onthou soos dit in Sy Woord staan. U sal moontlik deur een van die Psalms te lees, geïnspireer word in u gebed. Lees hoe Dawid tot God geroep het. Hy wou God se leiding hê, nie net 'n antwoord nie, maar die regte en goddelike antwoord wanneer hy gebid het. Dawid wou homself onderwerp aan God se wil. Is dit wat u wil hê? Lees die Psalms en waardeer die voorbeeld wat Dawid gestel het.

Ons moet met nederigheid bid en na God se wil soek. Christene wat God se instruksies volg, kan egter ook met vertroue bid. Die boek Hebreërs beskryf Christus se Goddelike krag as ons bemiddelaar, ons Hoëpriester, wat namens ons aan die regterhand van God sit, langs Hom, op Sy troon. Omdat Hy op Sy troon sit, kan Christene sê, soos ons in Hebreërs lees: “Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van die genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word” (Hebreërs 4:16).

Bevind u uself in 'n tyd van nood? Ons is almal in 'n tyd van nood—altyd! Ons het altyd God se leiding, seëninge en sorg nodig. God het beloof om genade en barmhartigheid aan ons te verleen in ons tye van nood.

Verwag die onverwagte

Ons het gesien dat God soms 'n eenvoudige “ja” in antwoord op ons gebede gee, net soos Christus vir Petrus in die See van Galilea van verdrinking gered het. God kan ons soms 'n positiewe antwoord gee, maar nie die presiese antwoord wat ons verwag het nie. Hy mag 'n ongewone sameloop van omstandighede of 'n onvoorsiene gebeurtenis bewerkstellig. Die antieke Israeliete het dit ervaar tydens hul slawerny in Egipte. Hulle wou vryheid hê en God het dit deur 'n reeks wonderwerke bewerkstellig. Toe die Israeliete vasgekeer was tussen die Skelfsee en die berge, met die vinnig naderende strydwaens van Farao, het ontvlugting onmoontlik gelyk. Maar, God het die onverwagte gedoen en die Skelfsee geskei sodat hulle na veiligheid kon gaan, soos ons in Eksodus 14 lees.

Die apostel Paulus het verwonderd gestaan oor God se wysheid en mag om in sulke situasies in te gryp. Hy het geskryf “O, diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele en onnaspeurlik sy weë” (Romeine 11:13).

By die Skelfsee het God die Israeliete ‘n vinnige en onverwagse antwoord op gebed gegee, selfs al moes hulle baie jare wag vir hul verlossing uit Egipte.

Soms verhoor God 'n gebed en gee ons waarvoor ons vra, maar verwag van ons om vir 'n ruk lank te wag voordat Hy dit toestaan. Ons moet geduldig wees. Jare gelede, het ek 'n diepe begeerte gehad om Jerusalem te besoek. Ek het Psalm 37:4 se belofte opgeëis “Verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart”. God het my gebed verhoor—17 jaar nadat ek dit gebid het! God het uiteindelik aan my versoek voldoen, maar Sy voorlopige antwoord was “wees geduldig!” Ek en my vrou was uiteindelik wonderbaarlik geseën deur mee te maak aan 'n argeologiese opgrawing in die stad van Dawid, Jerusalem. Ek moes egter wag vir God se wil en by Sy tydsberekening berus.

Volhard u in gebed wanneer dit voorkom of God se antwoord “wag en wees geduldig” is? In ons hedendaagse lewe van mikrogolfoonde, kitskoffie, kitskos en vermaak op aanvraag, verwag ons dikwels kitsoplossings. Die Bybel raai egter geduld aan, “want julle het lydsaamheid nodig, om, nadat julle die wil van God gedoen het, die belofte te verkry” (Hebreërs 10:36). Moenie moed opgee met u gebede wanneer dit deel van God se wil is nie. Wees geduldig, totdat u weet dat God geantwoord het.

Soms antwoord God egter “nee” op ons gebede. Hoe is dit moontlik as ons daarna streef om God se wil te doen—wanneer ons poog om nederig en gehoorsaam te wees en om in geloof te leef. Wat beteken 'n “nee” antwoord wanneer ons wil ooreenstem met die wil van God? Toe Jesus in angs gebid het die aand voor Sy kruisiging, het Hy gevra dat die beker van lyding van Hom af weggeneem sou word—mits dit God se wil was! Jesus het gebid “Vader, as U tog maar hierdie beker van My wil wegneem! Laat nogtans nie my wil nie, maar u wil geskied! En 'n engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. En toe Hy in 'n sware stryd kom, het Hy met groter inspanning gebid, en sy sweet het geword soos bloeddruppels wat op die grond val” (Lukas 22:42-44).

Jesus het gevra dat die beker van lyding van Hom af weggeneem sou word, maar slegs as dit God se wil was. Jesus se gebed was om God se wil te doen. Hy het Sy wil aan dié van die Vader onderwerp. God het Jesus se gebed verhoor en Hom krag gegee om te volhard deur Sy beproewing.

Die apostel Paulus het God ook gevra om 'n beproewing van hom af te verwyder: “En dat ek my oor die voortreflikheid van die openbaringe nie sou verhef nie, is my 'n doring in die vlees gegee, 'n engel van die Satan, om my met die vuis te slaan, dat ek my nie sou verhef nie. Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon” (2 Korintiërs 12:7-9).

Wanneer God “nee” sê

Soos in die geval van Jesus en Paulus, kan God ons soms “nee” antwoord. Wanneer Hy dit egter doen, gee Hy ons altyd die krag, mag en genade om Sy antwoord as Sy wil te aanvaar—as dít wat die beste vir ons lewens is. Ons moet die geloof hê om te aanvaar dat ons Skepper weet wat die beste sal wees vir ons en ook hoe om ons te seën.

Ons grootste uitdaging in gebed is moontlik wanneer Hy antwoord: “Jy moet jou eers bekeer en verander voor jou gebed verhoor sal word, intussen moet jy beproewinge deurgaan en sekere lesse leer. Eers wanneer jy die nodige veranderinge gemaak het, sal God weer jou versoek oorweeg!”

Baie mense dink dat hulle enigiets van God kan eis, selfs al is dit duidelik teenstrydig met Sy wil en teen Sy wet. God is nie daar om enige vleeslike versoek wat ons mag hê, toe te staan nie. Die apostel Jakobus waarsku teen diegene wat met verkeerde motiewe bid en sy woorde is beslis 'n akkurate beskrywing van ons hedendaagse wêreldse samelewing: “Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle verkeerd bid, om dit in julle welluste deur te bring”(Jakobus 4:3).

Wanneer ons met 'n selfsugtige gesindheid vir eie gewin bid, met geen oorweging vir die wil van God nie, sal Hy nie ons versoeke toestaan nie. Jakobus beskryf voorts die gesindheid van iemand wat sy gebede beantwoord wil hê: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (vers 8-10).

As ons onsself bekeer en verander en nederig voor God is, sal Hy ons versterk. Hy sal begin om ons gebede te verhoor wanneer ons opreg Sy wil probeer verstaan en uitvoer, soos uitgebeeld deur die lewe en leringe van Jesus Christus. Soos die apostel Petrus skryf: “Want hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle 'n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21).

Namate u na die wil van God streef en bid “Laat U wil geskied” en namate u die opdragte gehoorsaam en uitvoer wat van ons God en Skepper ontvang is, sal u antwoorde op u gebede ontvang. Let op hierdie baie belangrike beginsel: “En wat ons ook al bid, ontvang ons van Hom, omdat ons sy gebooie bewaar en doen wat welgevallig is voor Hom” (1 Johannes 3:22). Die hele Bybel lig ons in oor wat welgevallig is in God se oë. Ons moet ons aan God oorgee—bereidwillig om Hom altyd te gehoorsaam en Sy gebooie te onderhou.

Baie mense is deesdae onder die indruk dat geloof 'n emosionele leefstyl sonder enige behoefte aan gehoorsaamheid is. Jesus vra egter: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Ons moet 'n gesindheid van gehoorsaamheid en begrip vir die gebooie van Christus, asook vir die Wet van God hê.

Die Bybel beklemtoon ook die noodsaaklikheid om in God te glo en om op Sy beloftes te vertrou. “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en 'n beloner is van die wat Hom soek” (Hebreërs 11:6). Ja, God sal diegene seën of beloon wat Hom met ywer soek, daagliks tot Hom bid, daagliks hul Bybel lees, omdat hulle smag daarna om uit te vind wat God wil hê hulle met hul lewens moet doen.

Hebreërs 11—die “geloofshoofstuk”—maak melding van mans en vroue van geloof soos: Abel, Henog, Noag, Abraham, Sara, Isak, Jakob, Josef, Moses, Ragab die prostituut, Dawid en vele ander. Waardeur ontstaan geloof? Let op: “Die geloof is dus uit die gehoor, en die gehoor is deur die woord van God” (Romeine 10:17). Die Bybel is die Woord van God. Lees dit elke dag! Verstaan wat die Skeppergod in die verlede vermag het en ook wat Hy vandag vir u beloof! Namate u begin besef dat God se vermoë om u te help geen perke het nie, sal u groei in die geloof.

Bid dus elke dag in geloof! Bid vir ander mense regoor die wêreld. Bid vir die slagoffers van tragedies en hul gesinne. Bid dat die Koninkryk sal kom! Bid dat die evangelie regoor die wêreld verkondig sal word! Bedank God elke dag vir al die seëninge wat u geniet! Lees u Bybel elke dag om die wonderlike toekoms wat God vir u beplan, te kan verstaan. Verbly uself ook in die liefdevolle verhouding wat u met u Vader in die hemel en met ons Verlosser, Jesus Christus, kan hê. U lewe sal dramaties verander en u sal eerstehands die antwoorde op onverhoorde gebede ervaar!