Die derde aflewering van ons spesiale reeks oor die waarheid agter die Protestantse Hervorming beskryf in besonderhede die gebeure wat uiteindelik tot Luther se breuk met die pousdom gelei het.

Het Martin Luther die Protestantse hervormers gelei om die “geloof wat eenkeer oorgelewer is” te laat herleef? Die antwoorde is skokkend! U behoort die begin van die moderne Protestantisme te verstaan.

Miljoene Protestantse boeke, pamflette en traktaatjies verklaar duidelik die grondslag van die Protestante: “Die Bybel, die hele Bybel en niks anders as die Bybel nie, is die godsdiens van Protestante”.

In die eerste twee aflewerings van hierdie reeks het ons uit die Bybel en die geskiedenisrekords geleer dat ’n merkwaardige verandering in sogenaamde Christelikheid ingetree het kort ná die dood van die oorspronklike Apostels. Heidense seremonies, tradisies en idees is in die belydende Christelike kerk opgeneem. Ons het later gevind dat die korrupsie en wêreldsheid van die regerende Katolieke kerk gedurende die “Donker-eeue” wat gevolg het, Christene van daardie era gelei het om aan bygelowige oortuigings en gebruike te glo wat Petrus of Paulus sou geskok het!

Ons het gevra: Was die Protestantse beweging ’n hervorming van God se ware Kerk wat die pad bystergeraak het? Het die Protestantse hervormers die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” herstel? Was hierdie beweging geïnspireer en gelei deur God se Heilige Gees? Is die “vrugte” bewys daarvan?

Nou sal ons direk na die begin van die werklike Hervorming onder Martin Luther gaan.

Luther se opstand teen Rome

Soos ons gesien het, was daar op die vooraand van die Hervorming baie klagtes en vergrype wat hervorming vereis het. Diegene wat verantwoordelik was vir die geestelike en materiële welsyn van die volk was tevrede om die status quo te handhaaf omdat dit tot hulle eie verryking en godsdienstige of politieke voordeel was.

Tog het die volk na finansiële verligting gesmag – vir ten minste ’n mate van politieke vryheid en van die juk van godsdienstige onderdrukking wat swaar op die bevolking van Europa gerus het.

’n Merkwaardige persoon was nodig om die noodkreet te laat weerklink, wat onvermydelik ’n universele ontploffing sou ontketen, wat lank reeds gesmeul het. Tog kon geen gewone leier – maak nie saak wat sy ideale of persoonlike briljantheid was – hierdie rol vervul nie. Dit sou iemand verg wat homself kon vereenselwig met die onuitgesproke begeertes van die plaaslike prinse, die middelklas, die boerestand – iemand wat homself op ’n unieke manier kon vereenselwig met hulle langdurige griewe en só ’n simbool kon word van die universele drang na ’n algehele rewolusie in die godsdienstige, maatskaplike en politieke lewe van daardie tyd.

Martin Luther was só ’n man.

Die algehele vereenselwiging van Luther met die Protestantse Hervorming, die uniekheid van sy persoonlikheid as die middelpunt en ontmoetingspunt daarvan, word deur alle geskiedkundiges erken. Die geskiedkundige George Fisher beskryf hierdie omstandighede: “Luther was ongetwyfeld die held van die Hervorming. Sonder hom en sy kragtige invloed, sou ander hervormingsbewegings, selfs daardie wat ’n onafhanklike begin gehad het, soos dié van Zwingli, nie kon slaag nie ... Luther sonder die Hervorming, sou ophou om Luther te wees” (Fisher, George P. The Reformation. Charles Scribner's Sons, 1896. bl. 87).

Ons moet ’n basiese agtergrond hê van Luther se kinder- en jongmenslewe ten einde sy latere oortuigings en leerstellings ten volle te verstaan.

Luther se vroeë lewe

Martin Luther is in 1483 in Eisleben, Duitsland, as die seun van ’n plaasboer gebore. Die gesin het ses maande ná Luther se geboorte na Mansfield verhuis en hy is daar in ’n streng atmosfeer en gedissiplineerde deugde opgevoed.

’n Vertroulike blik word gegee in Luther se vroeë huislike- en skoollewe in Roland Bainton se omskrywende biografie: “Luther het na bewering gesê: ‘My ma het my pak gegee totdat die bloed geloop het omdat ek ’n neut gesteel het. Sodanige streng dissipline het my na die kloosterlewe gedryf, alhoewel sy dit goed bedoel het’. Hierdie woorde word beaam deur twee ander persone: ‘My pa het my een keer so geslaan dat ek weggeloop het en ek negatief teenoor hom gevoel het, totdat hy sy bes gedoen het om my terug te wen’. ‘By die skool het ek een oggend vyftien keer pak gekry vir geen rede nie. Daar is van my verwag om meer inskiklik en toegeeflik te wees en in te skakel en ek het nie my les geleer nie’” (Bainton, Roland. Here I Stand. Abingdon Press, 1978. Bll. 7-8).

Selfs wanneer ons vlugtig terugkyk kan ons ’n patroon van voorvalle sien wat uiteindelik daartoe gelei het dat Luther van enige gesag en gehoorsaamheid wou ontvlug. Dit is nodig dat ons sy agtergrond van middeleeuse bygeloof en vrees begryp om sy klem op slegs geloof alleen in later jare ten volle te verstaan.

Die atmosfeer in Luther se gesin was beslis dié van ruwe plaasboere. Daar was egter ’n sterk godsdienstige gesindheid in die gesin en sy pa, Hans, het langs die bed van sy seun gebid en sy ma was in die gemeenskap bekend as ’n baie toegewyde persoon.

Baie elemente van die ou Duitse heidendom was tog vermeng met “Christelike” mitologie in die oortuigings van die plaasboere. Hulle het gedink die woude word deur elwe, dwergies, feetjies, hekse en ander geeste bewoon. Luther se eie ma het geglo dat hulle in staat was om eiers, melk en botter te steel. Luther self het baie van hierdie oortuigings tot sy dood toe behou. Hy het eenkeer gesê: “In my geboorteland, op die top van ’n hoë berg, die Pubelsberg, is ’n meer, waar ’n storm sal ontstaan oor die hele streek wanneer ’n klip daarin gegooi word, omdat die waters die woonplek van gevange demone is” (Bainton, bl. 19). Sy vroeë Katolieke godsdienstige lewe was gevul met tonele van torings, spitse, kloosters, priesters, monnike van verskillende rangordes, versamelings van aandenkings, beierende klokke, aankondigings van aflate, godsdienstige prosessies en sogenaamde genesings by heilige plekke. Deur al hierdie dinge het hy ’n normale godsdienstige opvoeding vir daardie tyd gehad.

Op die ouderdom van vyftien is Luther skool toe gestuur na Eisenach, waar sy ma familie gehad het. Soos baie van die ander arm studente daar, was hy verplig om in die strate te sing en vir brood te bedel. In 1501 het Luther na die Universiteit van Erfurt gegaan en met sy pa ooreengekom om vir ’n loopbaan in die regte te studeer. Terwyl hy ’n student daar was, het ’n aantal geestelike krisisse Luther se kursus ontwrig en uiteindelik sy hele lewe in ’n ander rigting gestuur.

Luther se eie geestelike omwenteling

Voordat ons die spesifieke gebeure vertel wat Luther gelei het om af te wyk van die gewone lewe wat sy vader vir hom beplan het, sal dit nuttig wees om die effek te verstaan wat die normale godsdienstige opleiding van daardie tydperk op jeugdiges in die algemeen en veral op Luther in besonder, gehad het. “Daar is net een aspek waarin Luther anders as ander jongmense van sy tyd was, naamlik dat hy buitengewoon sensitief was en onderhewig was aan afwisselende periodes van uitgelatenheid en depressie van gees. Hierdie wisselende buie het hom dwarsdeur sy lewe geteister. Hy het getuig dat dit in sy jeug begin het en dat die depressie in die ses maande voor sy toetrede tot die kloosterlewe baie erg was” (Bainton, bl. 20).

Ons kan sien dat Luther inderdaad ’n baie gekwelde gemoed gehad het. Hierdie probleem van buierigheid – vererger deur ’n voortdurende skuldgevoel, wat deur die Katolieke leerstellings by Luther veroorsaak is, het tot gevolg gehad dat Luther na ’n soort emosionele ontsnapping uit hierdie innerlike konflikte gesoek het.

Bainton sê: “Die verduideliking lê eerder in die spanning wat middeleeuse godsdiens doelbewus veroorsaak het, deur afwisselend vrees en hoop teen mekaar af te speel. Die hel is gestook, nie omdat mens in ewige vrees geleef het nie, maar juis omdat hulle dit nié gedoen het nie en om genoeg vrees in te boesem om hulle na die sakramente van die kerk te dryf. Indien hulle lam was van vrees, is die vagevuur ingestel by wyse van strafversagting as ’n tussentydse plek waar diegene wat nie sleg genoeg vir die hel is nie of nie goed genoeg vir die hemel is nie, verdere boetedoening mag maak. Indien hierdie kans vir bevryding tot selfvoldaanheid gelei het, is die temperatuur van die vagevuur verhoog en dan was die druk op hulle weer verlig deur middel van aflate” (Bainton, bl. 21).

Dus kan ons sien dat daar maklik op Luther se liggeraaktheid gespeel kon word as gevolg van godsdienstige vrese wat sedert sy kinderjare ingeprent was. Hierdie vrese was ’n integrale deel van die stelsel waarin Luther uiteindelik ’n afsku gekry het.

Moontlik is die eerste in ’n reeks gebeurtenisse wat Luther geleidelik tot sy uiteindelike rol as hervormer gelei het, ’n ontdekking wat hy gemaak het toe hy twintig jaar oud was en reeds sy BA-graad verwerf het. Dit het gebeur terwyl hy eendag na die boeke in die Erfurt-biblioteek gekyk het. Hy het ’n eksemplaar van die Latynse Bybel opgetel. Dit was die eerste keer dat hy ooit ’n Bybel in sy hande gehou het. Hy was verbaas oor die rykdom van die inhoud daarvan en het dit gretig bestudeer (Fisher, bl. 88). Alhoewel hy al ’n geruime tyd verdiep was in humanitêre studies, het hy terwyl hy die Skrifgedeeltes hieroor, vir die eerste keer sowel as daaropvolgende geleenthede gelees het, het die diep godsdienstige onrus, wat hom van sy kinderjare af gepla het, teruggekeer en sy gedagtes in beslag geneem.

Weerlig tref Luther

Later, tydens sy terugkeer na Erfurt ná ’n besoek aan sy ouers, het ’n storm opgesteek en ’n weerligstraal het Luther en sy metgesel getref. Luther het vinnig weer op die been gekom, maar was diep geraak toe hy ontdek het dat sy vriend, Alexis, dood is. Daar en dan het Luther besluit om met God vrede te maak en hy het kort daarna by die Augustynse klooster in Erfurt ingeskryf om ’n priester te word.

Hy is in 1507 tot die priesterdom verorden, maar sy studies en geestelike inspanning het hom nie die innerlike vrede gebring waarna hy so desperaat gesoek het nie. Hy was deur Staupitz, die vikaris [plaasvervanger van Christus] van die orde, aangemoedig om gedeeltes uit die Skrif en van die kerkvaders te bestudeer. Hierdie studie, alhoewel nuttig, het nie die rusteloosheid en innerlike kwellings van Luther gestil nie.

Gedurende hierdie tyd is baie mense deur die opvallende voorkoms van Luther getref. In 1518 het ’n tydgenoot van hom gesê: “Ek kon die man skaars in die gesig kyk, so ’n duiwelse vuur het uit sy oë geflits” (Hausser, Ludwig. The Period of the Reformation, American Tract Society, 1873, bl. 8).

Luther het gevoel dis onmoontlik om God te gehoorsaam

Terwyl hy ’n diep gevoel van persoonlike ontoereikendheid en sonde gevoel het, het hy besluit om die goeie werke te doen wat vir die redding van sy siel voorgeskryf was. Daar was baie sulke praktyke deur die Katolisisme van daardie tyd aanbeveel. “Hy het soms drie dae lank gevas sonder ’n krummel. Die tye van vas was vir hom meer vertroostend as dié van feesviering. Vastyd was meer vertroostend as Paasfees. Hy het homself oordadige nagwake en gebede opgelê, meer as wat deur die reël voorgeskryf is. Hy het die komberse wat hom toegelaat was afgegooi sodat hy byna doodgevries het. Soms was hy trots op sy heiligheid en sou dan sê: ‘Ek het vandag niks verkeerd gedoen nie’. Dan sou twyfel ontstaan. ‘Het jy genoeg gevas? Is jy arm genoeg?’ Hy sou dan ontslae raak van al sy klere, behalwe dit wat deur betaamlikheid vereis was. Hy het in sy latere lewe geglo dat sy eenvoudige streng lewenswyse permanente skade aan sy spysverteringstelsel aangerig het” (Bainton, bl. 34).

Al wat Luther hierdie tyd van Christus geweet het, was dat Hy ’n “streng regter” was van wie hy wou ontvlug. Met ’n gevoel van volkome veroordeling het Luther voortgegaan om sy liggaam en verstand te kasty met die verskillende godsdienstige praktyke wat deur die monnike van sy tyd beoefen is. “Indien ’n monnik ooit deur sy gedrag die hemel  sou verdien, het hy gesê, sou ek ook my weg daarheen gevind het; al my kloosterkamerade kan daarvan getuig” (Lindsay, Thomas. A History of the Reformation. C. Scribner’s Sons, 1906, bl. 427).

Let daarop dat hierdie dinge alles dui op Luther se sterk bande met die Roomse kerk. Hy was totaal deel daarvan, daarin grootgemaak en deurtrek met die kerk se leerstellings. Soos so dikwels in soortgelyke gevalle gebeur, toe die breuk gekom het was dit ’n ontsaglike een.

“Die probleem was dat hy volgens homself net nooit vir God kon tevrede stel nie. Terwyl Luther in sy latere lewe oor die bergpredikasie gepreek het, het hy al soekende, uitdrukking gegee aan sy ontnugtering. Met verwysing na die voorskrifte van Jesus het hy gesê: ‘Hierdie woord is te onbereikbaar en te moeilik vir enigiemand om dit te kan nakom. Dit word bewys, nie net deur ons Here se woord nie, maar deur ons eie ervaring en gevoel. Neem enige opregte man of vrou. Hy sal baie goed klaarkom met diegene wat hom nie uittart nie, maar laat iemand net die geringste irritasie veroorsaak en hy sal in toorn ontvlam ... indien nie teen vriende nie, dan wel teen vyande. Vlees en bloed kan nie daarbo uitstyg nie’” (Bainton, bl. 34).

Luther het in sy eie gedagtes besluit dat dit vir die mens onmoontlik is om te doen wat God verlang. Hy het voortgegaan om na ’n antwoord te soek vir sy skuldkompleks. Nadat hy ’n professor geword het aan die Universiteit van Wittenberg wat saamgewerk het met die Augustynse kloosterorde daar, het hy oor die sendbriewe van Paulus begin klasgee.

Hy het skaars met die uiteensetting van die brief aan die Romeine begin of sy oë het op hierdie gedeelte vasgenael gebly: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe” (Romeine 1:17). Hierdie woorde het ’n diep indruk op Luther gemaak en hy het lank oor die betekenis daarvan gepeins.

Luther se ontnugtering met die pousdom

Terwyl Luther Rome gedurende hierdie tyd besoek het, het hy vol vurige toewyding in die stad rondgeloop, in ’n poging om homself van die geestelike seëninge te verseker wat aangebied was deur besigtiging van verskeie heilige aandenkings en boetedoening by heilige altare. Terwyl hy boete gedoen het op die trappe van die sogenaamde regterstoel van Pilatus, het die Skrifgedeelte wat by hom gespook het weer in sy gedagte opgekom: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.”

Gedurende Luther se verblyf in Rome het ontnugtering in sy gemoed begin toeneem ten opsigte van die ware karakter van die Roomse kerk. Hy het begin insien hoe ’n korrupte en gruwelike stelsel dit geword het. Terwyl hy verskeie misdienste in Rome gelei het, het hy probeer om die waardigheid en eerbied wat hy gevoel het hierdie verrigtinge vereis, te handhaaf. Hy was egter baie ontsteld oor die ligsinnige en heeltemal oneerbiedige wyse waarop die Roomse priesters die sakrament van die altaar bedien het.

D’Aubigne merk op:

Op ’n dag toe hy aan diens was, het hy gevind dat die priesters by ’n aangrensende altaar al séwe misdienste herhaal het, voordat hy (Luther) met een klaar was. “Maak gou, maak gou!” het een van hulle uitgeroep, “stuur aan ons Dame haar Seun terug”; met ’n oneerbiedige skimp na die letterlike verandering van die brood na die liggaam en bloed van Jesus Christus. Op ’n ander keer het Luther nouliks by die Evangelie-boodskap gekom, toe die priester langs hom die mis reeds beëindig het. “Passa, passa!” het laasgenoemde aan hom geskreeu, “maak gou! Maak dit dadelik klaar”.

Sy verbasing was nog groter toe hy in die hoogwaardigheidsbekleërs van die pousdom gevind het wat hy reeds in die geestelikes van laer range waargeneem het. Hy het beter dinge van hulle verwag (D’Aubigne, Merle. History of the Reformation. Delmarva Publications, Inc., 1846. bl. 68).

Tydens sy terugkeer huistoe, het hy gepeins oor die tonele van die vrome pelgrims in Rome wat probeer om redding te bekom deur middel van verskeie pogings. Hy het gesidder toe hy die ligsinnigheid, die morele ellende en die gebrek aan ware geestelike kennis in daardie stad onthou het – hulle wat veronderstel was om “die hoofstad van die Christendom” te wees. Die woorde van Paulus het weer na hom teruggekeer: “Maar die regverdige sal uit die geloof lewe.” Eindelik het hy gevoel dat hy dit kon verstaan.

Die kern van Luther se teologie

Fisher haal Luther se woorde aan: “Deur die Evangelie word daardie geregtigheid geopenbaar wat standhou voor God, waardeur Hy uit genade en blote barmhartigheid, ons regverdig verklaar deur geloof” en “Hier het ek dadelik gevoel dat ek weer geheel en al gebore was en dat ek deur geopende deure die Paradys self binnegegaan het. Daardie gedeelte van Paulus was waarlik vir my die poort na die Paradys”. Soos Fisher opmerk, “Hy het ingesien dat Christus nie as ’n Wetgewer gekom het nie, maar as ’n Verlosser; dat liefde, nie toorn of geregtigheid nie, die motief in Sy opdrag en werk is; dat die vergifnis van sondes deur Hom ’n vrye geskenk is; dat die verhouding van die siel met Hom en deur Hom tot die Vader, wat uitgedruk word deur die term geloof, die reaksie van die siel op die goddelike genade is, al is wat vereis word. Hierdie manier van versoening is sonder die werke van die wet” (Fisher, bl. 91).

Nou sien ons die sentrale fokuspunt van al Luther se teologie. Hierdie leerstelling van regverdigmaking het die hoeksteen van al Luther se daaropvolgende godsdienstige pogings geword. Dit alleen het hom ’n gevoel van bevryding gegee van sy skuldgevoelens en vrees vir die verdoemenis wat by hom gespook het. Ons kan waarlik byvoeg, dit het aan hom ’n manier gegee om die vereistes van God se geestelike Wet te ontduik – wat Luther gevoel het hy nie kon hou nie en wat hy uiteindelik begin haat het.

Dit is duidelik dat Luther met al hierdie bepeinsings oor die Wet, die Katolieke idee van ritualistiese “werke” en boetedoenings gesien het as vervanging vir die Tien Gebooie van God. Behep met die idee om ’n uitweg te vind rondom enige gehoorsaamheid, het hy begin voel dat geloof alleen genoeg is vir verlossing.

Die logiese gevolg van Luther se nuwe posisie het ’n botsing met Rome onvermydelik gemaak. Dit was op die vraag oor die verkoop van aflate dat dit vir die eerste keer bekend geraak het dat hy direk teen die ortodokse Katolieke leer gekant was.

Die leerstelling van aflate

Na sy terugkeer uit Rome het Luther sy onderwysloopbaan aan die Universiteit van Wittenberg hervat en voortgegaan met sy studie van die Skrif en die ontwikkeling van sy teorie van regverdigmaking en redding. Deur aanmoediging van sy kloostervoog Staupitz, het hy sy doktorale studies voltooi sodat hy Staupitz kon vervang met die veronderstelling dat hy die voorsitterskap van Bybelstudies by die universiteit aanvaar. In 1512 het hy die graad Doktor in Godsgeleerdheid verwerf en sy onderwysloopbaan voortgesit.

Die hele tyd het sy idees oor regverdigmaking toegeneem en ontwikkel. Hy skryf: “Ek het werklik begeer om Paulus se brief aan die Romeine te verstaan en niks het in die pad daarvan gestaan nie, behalwe die een uitdrukking, ‘die geregtigheid van God’, omdat ek aangeneem het dit beteken daardie geregtigheid waarvolgens God regverdig is en regverdig handel, wanneer Hy die ongeregtige straf. My situasie was dat, alhoewel ek ’n onberispelike monnik was, ek voor God gestaan het as ’n sondaar, gepla deur my gewete. Ek het geen vertroue gehad dat my verdienste Hom sou laat versag nie. Ek het dus nie ’n regverdige en kwaai God liefgehad nie, maar eerder gehaat en teen Hom gemurmureer. Tog het ek aan die liewe Paulus vasgeklou en ’n groot begeerte gehad om te weet wat hy bedoel het” (Bainton, bl. 49).

Let op dat Luther bely het dat hy God gehaat het in die rol van Wetgewer en Regter. Sy valse Katolieke konsep van gehoorsaamheid het hom verseker verwar oor die werklike geestelike kwessies wat op die spel was. Hy was soos ’n geestelike dronk man wat probeer het om sy weg uit ’n bodemlose put te soek. As gevolg van sy geestelike marteling deur die Katolieke leerstellings, was hy nogtans desperaat vasbeslote om ’n weg te vind rondom gehoorsaamheid, wet en geregtigheid.

Luther skryf: “Dag en nag het ek gepeins totdat ek die verband gesien het tussen die geregtigheid van God en die stelling: ‘... die regverdige, deur sy geloof sal hy lewe’. Ek het toe begryp dat die geregtigheid van God daardie geregtigheid is waardeur genade en blote barmhartigheid ons deur geloof regverdig. Daarna het dit gevoel asof ek wedergebore is en deur oop deure in die paradys ingaan. Die hele Skrif het ’n nuwe betekenis aangeneem en terwyl die ‘geregtigheid van God’ my voorheen met haat gevul het, het dit nou vir my onuitspreeklik soet geword in groter liefde. Hierdie gedeelte van Paulus het vir my ’n poort na die hemel geword ...” (Bainton, bl. 49).

Ons kan dus sien dat Luther, met toenemende klem op regverdigmaking deur geloof alleen, die Roomse gebruik om aflate vir sonde te verkoop, vir hom besonder onaangenaam sou gewees het – ’n wanpraktyk wat hy natuurlik sou wou aanval. Aangesien die kwessie van aflate die regstreekse oorsaak van Luther se breuk met Rome was, sal dit op hierdie stadium baie nuttig wees om ’n kundige beskrywing van hierdie praktyk en die presiese bewoording van die aflate aan te haal.

Beskrywing van aflate

James Wharey beskryf die praktyk van aflate in besonderhede in sy Sketches of Church History (Presbyterian Board of Publication, 1840, bll. 224-225).

Aflate in die Roomse kerk is ’n kwytskelding van straf as gevolg van sonde, wat deur die kerk toegestaan word en veronderstel is om die sondaar van die vagevuur te red. Volgens die leer van die Roomse kerk word al die goeie werke van die heiliges, bo en behalwe daardie wat vir hulle eie regverdiging nodig was, saam met die oneindige verdienste van Jesus Christus, in ’n onuitputlike skatkamer bewaar. Die sleutels hiervan was aan St. Petrus en sy opvolgers, die pouse, toevertrou wat dit dan na goeddunke kon oopmaak. Deur ’n gedeelte van hierdie oorvloedige verdienste aan ’n bepaalde persoon vir ’n som geld oor te dra, kon hy die kwytskelding van sy eie sondes verkry of ’n vrylating van enige persoon van sy keuse, uit die pyn van die vagevuur.

Sulke aflate is eers in die elfde eeu, deur Urbanus II uitgedink, as ’n vergoeding vir diegene wat persoonlik op die glorieryke sending gegaan het om die Heilige Land te verower. Hulle is later aan enigiemand toegeken wat vir daardie doel ’n soldaat gehuur het. Aflate is met verloop van tyd ook aan diegene geskenk wat geld gegee het om enige vrome werk te laat verrig, soos wat deur die pous voorgeskryf is. Die mag om aflate toe te staan is baie deur die kerk van Rome misbruik. Pous Leo X het aflate gepubliseer sodat die pragtige struktuur van die St. Peter’s in Rome, voortgesit kon word, sowel as volkome toestemming aan almal wat geld daartoe sou bydra. Hy het die opbrengs van dié projek winsgewend gevind en die voordeel van die aflate van Sakse en die naburige dele, aan Albert, die keurvors van Mentz en die aartsbiskop van Magdeburg, verkoop. Die winste van ander lande is aan die hoogste bieërs verkoop. Om die meeste wins uit hulle verkope te kry, het die bieërs die beste predikers gebruik om die waarde van die goedere op te jaag. Die vorm van hierdie aflate was soos volg:

“Mag ons Here Jesus Christus aan u genadig wees en u vryspreek deur die verdienste van sy allerheiligste lyding. En ek, deur sy gesag, die van sy geseënde apostels Petrus en Paulus en van die allerheiligste pous, wat dit in hierdie gebiede aan my toevertrou en opgedra het, spreek u vry: Eerstens van alle kerklike sensuur, ongeag waarvoor die skuld ookal is; dan van al u sondes, oortredings en ongeregtighede, hoe geweldig dit ookal mag wees; selfs van daardie wat gereserveer is vir kennisname deur die heilige stoel en vir sover as wat die pouslike gesag van die heilige kerk strek. Ek spreek u vry van alle straf wat u in die vagevuur verdien en plaas dit oor na hulle rekening; en ek herstel u aan die heilige sakramente van die kerk, aan die eenheid van die gelowiges en aan die onskuld en reinheid wat u by die doop besit het; sodat wanneer u sterf, die poorte van straf gesluit sal wees en die poorte van die paradys van heerlikheid geopen sal wees; en indien u nie nou sterf nie, sal hierdie genade ten volle van krag bly tot wanneer u sterwensuur aanbreek. In die naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees”.

Wharey merk op dat die glansryke beskrywings wat die smouse oor die voordeel van aflate gegee het, soms byna ongelooflik was. Hulle het gesê, wanneer ’n man briewe van aflate sou koop, sy siel verseker sou wees van redding. “Kyk”, het hulle gesê, “die hemele is oop; indien u nie nou ingaan nie, wanneer sal u ingaan?”

Dit was die gruwelike misbruik van hierdie reeds afskuwelike praktyk wat Martin Luther gelei het om ’n besliste standpunt teen Rome in te neem. Hy was natuurlik reg om hierdie praktyk teen te staan. Dit het moed geverg om standpunt in te neem. Die vraag wat ons graag wil oorweeg, is of dit hom daartoe gelei het om terug te keer na die “geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is” of was dit eenvoudig om daardie deel van die Katolieke leer waarmee hy nie kon saamstem nie te verwerp en om in die plek daarvan ’n ander suiwer menslik-geïnspireerde kerklike stelsel in te stel wat hom gepas het.

Die aflate vir die St. Peter’s in Rome

In Luther se omgewing was die afkondiging van aflate om te help met die herbou van die St. Peter’s in Rome aan ’n Dominikaan, Tetzel, toevertrou. Hy was ’n ervare smous. Die aflaat was nie werklik in die gemeente van Luther aangebied nie, want die kerk kon nie sonder die toestemming van die plaaslike owerhede ’n aflaat instel nie. In hierdie geval wou die keurvors, Frederick die Wyse, nie sy toestemming gee nie omdat hy nie wou hê dat die aflate van die St. Petrus inbreuk moes maak op die aflate van die All Saints’ Church in Wittenberg nie (Bainton, bl. 57).

Tetzel het tog só naby daaraan gekom dat Luther se gemeentelede oor die grens kon gaan en terugkeer met ongelooflike vergunnings as gevolg van die hoë druk wat uitgeoefen was op hulle in die verkoopsveldtog wat Tetzel en sy mede-smouse gevoer het.

Luther was met reg verontwaardig oor hierdie skaamtelose strafoplegging van die pous en sy hervormersbloed het gekook. Hy het vyf-en-negentig stellings vir debat opgestel en dit aan die deur van die Castle Church in Wittenberg vasgespyker, soos wat dit die destydse gewoonte met openbare publikasie was. Dit was op 31 Oktober 1517.

Baie van Luther se stellings het aanklank gevind by die desperate Duitse kleinboere in finansiële nood en het indirek ’n beroep op die pousdom gedoen om nie meer geld van hulle te eis nie. In sy vyftigste stelling het Luther dit so gestel: “Christene moet geleer word dat indien die pous die afdwinging van die predikers van aflate geweet het, sou hy eerder die St. Peter’s basilika, vernietig tot as, wou gesien het, eerder as om dit te bou met die vel, vlees en gebeentes van sy skape” (Bettenson, Henry. Documents of the Christian Church. G. Cumberlege, Oxford University Press, 1950. bl. 267).

In die driftige besprekings wat daarop gevolg het, het Luther verklaar: “Die inkomste van die hele Christendom word deur hierdie onversadigbare basilisk ingesluk. Die Duitsers lag wanneer dit die gemeenskaplike skat van die Christendom genoem word. Kort voor lank sal al die kerke, paleise, mure en brûe van Rome met ons geld gebou word. Eerstens behoort ons lewende tempels op te rig, nie plaaslike kerke nie en slegs heel laaste die St. Petrus s’n, wat ons nie nodig het nie. Ons Duitsers kan nie by die St. Petrus dienste bywoon nie. Dit is beter dat dit nooit gebou was nie, as dat ons bekrompe kerke beroof behoort te word” (Bainton, bl. 61).

Luther se politieke beroep op sy mede-Duitsers is duidelik in al die vroeë geskrifte oor hierdie onderwerp. Hy argumenteer nie vanuit die geestelike beginsel van wat reg of verkeerd voor God is nie, maar hoofsaaklik uit die nasionalistiese gesindheid dat die geld van aflate aan Duitse godsdienstige sake bestee behoort te word.

Luther se aanval op die pouslike finansiële beleid het ’n redelike eenstemmigheid onder die Duitsers tot gevolg gehad. Hulle het reeds lank gegrief gevoel teenoor die Italiaanse hiërargie – soos wat hulle dit dikwels beskou het. Luther se ander standpunt, dat aflate geestelike skade berokken het aan die ontvanger en dat die pous geen absolute mag oor die vagevuur of die vergifnis van sondes het nie, het ook omstredenheid aangeblaas.

Alhoewel die gemiddelde Duitser waarskynlik slegs die versoek vir finansiële verligting ten volle sou kon verstaan, het slegs Luther se verbinding met hierdie gewilde grief, die idee van godslastering teen die genade van God, die aantrekkingskrag gehad om ’n algemene revolusie te ontketen.

Luther het geen stappe geneem om sy stellings onder die mense te versprei nie. Ander mense het dit stilweg in Duits vertaal en laat druk. Dit het spoedig die besprekingspunt van die hele Duitsland geword en Luther se loopbaan as hervormer is van stapel gestuur (Bainton, bll. 62-63).

Luther se finale breuk met Rome

Toe Luther aanvanklik sy stellings vasgespyker het, het hy dit nie vir algemene verspreiding bedoel nie. Nou dat dit wel versprei is, het hy by sy standpunt gehou in die daaropvolgende gesprekke en traktate wat hy ter verdediging daarvan geskryf het. Alhoewel die nuus van hierdie verwikkelings stadig versprei het, was dit nie lank voordat die owerhede in Rome geweet het dat die grootste deel van Duitsland Luther se kant gekies het nie.

’n Beskuldiging is in Rome teen Luther ingebring en die pous het Kardinaal Cajetan gelas om hom in gesprekke met Luther te verteenwoordig. Hy is aangesê om Luther te probeer oorreed om enige radikale idees prys te gee en om die saak met so min as moontlik ontwrigting te hanteer (Hausser, bll. 19-20). Cajetan se pogings het egter niks verander nie.

Daarna is ’n tweede poging aangewend om Luther binne die Roomse kerk te hou. Carl von Miltitz, ’n pouslike gesant, kon Luther se vertroue wen en ’n ooreenkoms is met hom aangegaan om die stilte te handhaaf – op voorwaarde dat sy vyande dit ook sou doen – totdat pouslike verteenwoordigers die nuwe leerstellings van Luther kon ondersoek. “En dan”, het Luther gesê, “as ek skuldig bevind word daarvan dat ek ’n fout gemaak het sal ek dit vrywillig terugtrek en ek sal nie die mag en glorie van die heilige Roomse kerk verswak nie” (Hausser, bl. 22).

Ons sien dus dat Luther nog steeds die Roomse kerk as “heilig” beskou het! Dit is belangrik om te besef hoe deeglik Luther eintlik in haar filosofieë en leerstellings vasgevang was. Dit is ook waar dat hy uiteindelik baie sterk oor verskeie punte verskil het. Tot die einde was Martin Luther – gebore en grootgemaak – ’n Rooms-Katoliek en ’n Katolieke priester van beroep – letterlik deurweek met die konsepte, dogmas en tradisies wat sy kerk deur die Middeleeue ingesamel het.

Luther het so laat as 3 Maart 1519 aan die pous geskryf: “Allerheiligste Vader, ek verklaar nou voor God en sy skepsels dat dit nooit my bedoeling was, nog minder is dit nou, om iets te doen wat die gesag van die Roomse kerk kan verswak of omverwerp of dié van u Heiligheid nie; nee, meer, ek bely dat die mag van hierdie kerk bo alle dinge is; dat niks in die hemel of op aarde vóór dit gestel behoort te word nie, met uitsondering van Jesus alleen, die Here van almal” (Alzog, Johannes. Manual of Universal Church History, 1878, bl. 195).

Tensy hy in hierdie brief gelieg het, het Martin Luther – selfs op hierdie laat stadium – steeds gevoel dat die Rooms-Katolieke godsdiens die ware Kerk van God op aarde was!

Die verloop van Luther se plan van aksie

Luther se wapenstilstand met Rome om homself nie uit te spreek nie, was kortstondig. Dr. John Eck, ’n teoloog van Leipzig, het Luther in die openbaar uitgedaag om oor sy nuwe leerstellings te debatteer (Hausser, bl. 22). Só het die woordestryd en pamflette herleef.

In die debatte het Luther, soos hy altyd gedoen het, regverdigmaking en redding verwar. Hy het volgehou dat geloof alleen – sonder enige werke – voldoende was vir verlossing. Wanneer hy met teenstrydige stellings uit die Sendbrief van Jakobus gekonfronteer was, het hy die egtheid van die sendbrief bevraagteken (Alzog’s Manual, bl. 302).

Dit is belangrik om te besef dat Luther nie net een keer nie, maar talle kere, die gesag van enige boek in die Bybel wat nie met sy idees oor regverdigmaking gestrook het nie, openlik sou betwis. Ons sal Luther se teenstrydige uitsprake oor die Skrif later in hierdie reeks bespreek.

Na die debatte in Leipzig het dr. Eck hom na Rome gewend om Pous Leo X te waarsku oor die gevaar wat Luther vir die Katolieke kerk in Duitsland geword het. ’n Pouslike bul is in 1520 uitgereik en daarin is Luther en een-en-veertig van sy voorstelle veroordeel. Hyself sou uit die kerk geban word indien hy nie binne sestig dae alles herroep nie (Alzog, bl. 300).

Kragtige ondersteuning neem toe

As gevolg van Luther se gewildheid by die gewone mense sowel as die adel, is die pouslike bul met openlike afkeer in Duitsland ontvang. Baie mense het verklaar dat dit nie nodig was om dit te gehoorsaam nie en Luther se beskermheer, Frederik die Wyse, het openlik gehoorsaamheid aan die bul verwerp. Luther het toe die ongehoorde stap geneem om die pouslike bul in die teenwoordigheid van sy mede monikke, die studente en die inwoners van Wittenberg in die openbaar te verbrand (Hausser, bl. 27).

Hierdie moedige stap om ’n totale breuk met Rome te maak het die aandag van die hele Duitse nasie op Luther se saak gevestig. Hy het vinnig politieke steun gevind in die vriendelike ingesteldheid van die keurvors en van die regsgeleerdes wat ’n jarelange grief gehad het oor die inmenging van kerklike howe in burgerlike sake. Hy het ook bondgenote in die humanistiese geleerdes gevind wat met nasionalistiese vurigheid gevul was en gereed was om die onwaardige behandeling wat Duitsland onder Italiaanse en pouslike beheer gely het, te wreek. Hulle was gereed om met skeltaal en spotskrif te skryf en ook om hulle swaarde te gebruik (Fisher, bl. 102).

Kort ná hierdie gebeure het Luther ’n politieke beroep op die Duitse adel gedoen vir hulle steun. Sy uitdaging aan die “glorieryke Teutoniese volk” wat “gebore is om gesagvoerders te wees” het ’n verstommende uitwerking op baie van die Duitse adel en vorste gehad. Dit was nogtans suiwer polities en hierdie einste tipe versoek is meer onlangs met sukses deur Duitse generaals en diktators gebruik!

Luther het aangedring: “Arme Duitsers wat ons is – ons is mislei! Ons is gebore om gesagvoerders te wees en ons was verplig om die knie te buig onder die juk van ons tiranne en om slawe te word. Naam, titel, uiterlike tekens van koninklikheid waaroor ons alles beskik; mag, gesag, reg, vryheid – al hierdie dinge is oorgedra na die pouse wat ons daarvan beroof het. Hulle kry die koring, ons kry die kaf ... Dit is nou tyd dat die glorieryke Teutoniese volk behoort om op te hou om die marionet van die Roomse pous te wees” (Bettenson, bl. 278).

Van hier af het dit van Luther en sy aanhangers afgehang om ’n nuwe godsdienstige stelsel te probeer vind wat die leerstellings ingesluit het wat uit Luther se aktiewe pen gevloei het. In toekomstige artikels sal ons sien of Luther se stelsel ’n terugkeer was na die geloof, die leerstellings en die gebruike van Christus en die Kerk van die Apostels.