Die stryd teen mans en seuns is nog nooit so fel geveg soos vandag nie. Word jong manne se toekoms opgeoffer in die naam van moderne idees en vooruitgang?

Wie sou kon raai dat ’n YouTube-video met die titel “Do Schools Discriminate Against Boys?” soos ’n veldbrand sou versprei en meer as 3,2 miljoen mense daarna sou kyk? Dit is onwaarskynlik dat Tomorrow’s World se Kanadese streeksredakteur, Stuart Wachowicz, sou kon weet hoe suksesvol sy ses-minuut Viewpoint-video sou wees. Niemand van ons sou ook kon raai dat die oorweldigende aantal reaksies daarop van jong mans en seuns sou kom nie. Baie van hulle is nog op hoërskool waar hulle diskriminasie in hulle eie opvoedkundige instellings ervaar het.

Sommige reaksies kan dalk toegeskryf word aan verskonings en bitterheid as gevolg van persoonlike mislukkings, maar is daar dalk meer aan verbonde as suur druiwe? Om ander mense vir ’n mens se tekortkominge te blameer is maklik, maar dit is net so maklik en net so dwaas om te aanvaar dat alle klagtes in hierdie kategorie val. Terwyl die oorlog teen mans en seuns al dekades lank aan die gang is, was dit nog nooit so opvallend soos dit vandag is nie – jong mans in die Verenigde State, Kanada en elders in die Westerse wêreld besef dit wanneer teen hulle gediskrimineer word.

’n Oneerlike verslag

Sommige mense onthou dalk nog die 1992-verslag wat deur die Amerikaanse Vereniging van Universiteitsvroue (AAUW) vrygestel is, met die titel “How Schools Shortchange Girls”. Dit het bewerings bevat dat seuns in die klaskamer bevoordeel word terwyl meisies buite rekening gelaat en geïgnoreer word. Dit is egter later bewys dat die verslag bevooroordeeld en bedrieglik was.

Die bevinding wat die meeste versprei is, was dat onderwysers die seuns agt keer meer toelaat om te praat of deel te neem as vir meisies, maar soos met die res van die gevolgtrekkings, was dit pure nonsens. Hulle data was gebaseer op ’n ou 1981-studie wat eintlik gesê het dat seuns agt keer meer as meisies berispe word en dat driekwart van die meisies en seuns gesê het hulle dink onderwysers komplimenteer meisies meer gereeld, dink hulle is slimmer en wil eerder tussen vroulike studente wees. Daardie vlak van verdraaiing was duidelik regdeur die AAUW-verslag (James Dobson, Bringing Up Boys, 2001, bl. 172).

Die verslag het groot aandag in akademiese kringe en die media geniet en het dramatiese veranderings meegebring in hoe skole die twee geslagte benader het. “Hoewel die verslag nou wyd in die professionele gemeenskap gediskrediteer is vir wat dit was – ’n blatante poging om opvoedkundige hulpbronne van seuns te weerhou en om meisies as slagoffers voor te hou – is die skade gedoen. Dit het gelei tot ’n onregverdige verdeling van beskikbare hulpbronne wat tot vandag toe voortduur” (bl. 172). Die skadelikste was toe die Verenigde State se Kongres, wat steun van verskeie vroue-organisasies wou werf, die “Geslagsgelykheid in Onderwyswet goedgekeur het. Dit het honderde miljoene dollars per jaar toegeken aan programme wat ontwerp was om die [sogenaamde] vooroordeel teen meisies reg te stel”. Daar was bykomend tot die wet, geld begroot om onderwysers wat “onbewustelik seksisties” was te “herprogrammeer” (bl. 173).

Veertig jaar later

So waar is ons vandag? Hierdie neiging ten gunste van meisies in die onderwys, wat op die vroegste vlakke begin, het sy uitwerking gehad. Op 6 September 2021 het The Wall Street Journal ’n meningsopname deur Douglas Belkin gepubliseer met die titel “A Generation of American Men Give Up on College: I Just Feel Lost”. Die syfers is kommerwekkend. Ongeveer 60 persent van kollege-toelatings is vroue en skole vir hoër onderwys sukkel om die manlike bevolking op die 40 persent-vlak te hou. ’n Professor in politieke wetenskap, Samuel Goldman, wys in ’n ander meningsopname daarop dat die verhouding in getalle tussen mans en vroue selfs erger sou gewees het as daar nie ’n bietjie knoeiery oor toelatingsvereistes was nie.

Die toenemende geslagsgaping is ’n ope geheim in hoër onderwys. Met geen van die ophef wat gepaard gaan met hulle strewe na rassediversiteit nie, gee baie instellings ’n toelatingsvoordeel aan mans. Een rede hiervoor is dat administrateurs vrees dat vroue ook minder geneig is om in te skryf wanneer die manlike studentegetalle tot onder 40 persent daal (“The American elite will be female,” The Week, 8 September 2021).

Dit is slegs deel van die verontrustende prentjie. Om universiteit toe te gaan is een ding – om te gradueer is iets anders. “Onder die Universiteit van Vermont se voorgraadse studente behaal ongeveer 55% van manlike studente hulle graad binne vier jaar in vergelyking met 70% van vroue” (The Wall Street Journal). Om te illustreer hoe betekenisvol dit is: Indien die Universiteit van Vermont ’n tipiese inskrywingsverdeling van 60/40 het, sal 42 vroue uit elke 100 studente binne vier jaar gradueer, maar net 22 mans! Dit behoort ’n wekroep te wees – maar is dit?

Sommige mense mag dalk sê – wat daarvan?, terwyl hulle argumenteer dat mans steeds meer geld verdien en die magsposisies in hierdie wêreld beklee. Goldman wys egter daarop dat dit “grootliks ’n generasie-effek” is. Hy verduidelik dat leiers vandag op alle terreine, hetsy in die nywerheid, handel, kommunikasie of die regering, “hulle loopbane dekades gelede begin het, toe kollege studenteverenigings meer gelykop verdeel was (en in sommige gevalle uitsluitlik manlik was). Dit sal verbasend wees indien die geslagsverhouding in die hoër bestuursgroep oor nog 20 jaar dieselfde gebly het”. Goldman verduidelik verder, wat vir almal voor die hand liggend behoort te wees. “Omdat elite-instellings byna uitsluitlik kollege-gegradueerdes aanstel, is kampusse die vertrekpunt vir vroulike oorheersing in die uitgewersbedryf, die kultuurbedryf en areas van die korporatiewe wêreld – veral die massiewe bedryf van menslike hulpbronne.”

Die dubbele standaard strek verder as onderwys. Vir dekades lank het vroue probeer om feitlik elke gebied binne te dring wat voorheen vir mans gereserveer was. Vroulike verslaggewers het gelyke toegang tot mans se kleedkamers geëis om spelers te ondervra en jong vroue het daarna gestreef om in seuns se bofbalspanne te speel. Enigiets wat hoofsaaklik manlik was, het ’n teiken geword – maar kan mens jou ooit voorstel dat mans in vroue se kleedkamers toegelaat word of in vrouesport meeding?

Wel, nou kan ons. Optredes het inderdaad gevolg; deur ’n bisarre ompadroete, val mans en seuns vandag alles wat vroulik is binne – bloot deur te beweer dat hulle vrouens is wat in manlike liggame vasgevang is. Meisies en vroue word opsy geskuif aangesien hierdie opportunistiese of verwarde mans een rekord ná die ander in vroulike baan- en veld-items verbeter asook in gewigstoot-byeenkomste. Beurse wat na regte na meisies behoort te gaan, word aan biologiese seuns toegeken wat nooit biologiese meisies kan word nie. Ek kan my net indink watter woede ouers moet voel wanneer hulle sien hoe hulle dogters op hierdie manier beroof word.

Daar is tog ’n ander kinkel aan die sage van meisies wat alles wat manlik is wil binnedring. In Oktober 2017 het die Boy Scouts van Amerika besluit om meisies by hulle organisasie te laat aansluit. In 2019 is dit in al die organisasie se programme geïmplementeer. Dit is dus nie verbasend nie dat diegene wat die meeste as gevolg van hierdie wending ontsteld was, die Girl Scouts was!

Die probleem is nie dat spesiale programme die meisies in akademie, sport en leierskap aangemoedig het nie, maar dat sulke hulpbronne oorwegend in een rigting gaan. Net soos meisies spesiale behoeftes het, het seuns dit ook – van wie te veel van hulle sonder behoorlike ondersteuning en motivering, rigtingloos raak en verlore voel. Dit is duidelik opmerkbaar in so baie seuns wat ná hoërskool nie weet wat om volgende te doen nie. Seuns het leiding en fokus broodnodig. The Wall Street Journal berig: “Sosiale wetenskaplike navorsers voer aan dat afleidings en struikelblokke vir onderwys meer druk plaas op seuns en jong mans, met inbegrip van videospeletjies, pornografie, toenemende vaderloosheid en gevalle van oordiagnosering van verwante medikasie as gevolg van onrustigheid by seuns”. Soos die siviele ingenieurswese-student Luke Weiss dit stel: “Ek sien baie ouens wat vir vier jaar hier is om bier te drink, dagga te rook, te kuier en ’n graad te kry”.

Wat ons sien is ’n wêreld wat onderstebo gekeer is. In plaas daarvan dat mans leiers word, sien ons baie van hulle doelloos ronddwaal namate meer leiersposisies aan vroue toegeken word. Sommige vroue verheug hulle ongetwyfeld in hierdie ommekeer. Bedagsame vroue soos die kollege-inskrywingskonsultant Jennifer Delahunty, verstaan dat hierdie toedrag van sake niks goeds vir die samelewing as geheel inhou nie. The Wall Street Journal het hierdie diepgaande insig van Delahunty gedeel: “Daar is te veel op die spel om geïgnoreer te word. Indien ’n mens eerstens omgee vir ons samelewing en tweedens, indien ’n mens vir vroue omgee, behoort mens ook vir die seuns om te gee. Indien ’n mens dieselfde aantal mans en vrouens met dieselfde vlak van opleiding het, lei dit net na ’n beter samelewing en dit maak dinge beter vir vroue”.

Die hoofoorsaak

Niks hiervan behoort ons te verbaas nie, aangesien die wêreld verder verwyderd raak van sy Skepper en Sy Instruksieboek vir die mensdom. Indien ons wel ’n produk van skepping en ontwerp is, moet die Skepper en Ontwerper immers weet wat die beste vir diegene is wat Hy geskep en ontwerp het. Inderdaad, Hy weet dit!

Die profeet Jesaja het God se waarskuwing aan ons gegee dat ’n ommekeer van tradisionele geslagsrolle in die eindtyd sou plaasvind: “Die drywers van my volk is kinders, en vroue heers oor hulle. o My volk, jou leiers is verleiers, en die weg wat jou pad moes wees, het hulle tot ’n dwaalweg gemaak” (Jesaja 3:12). Die onmiddellike profesie was vir die “huis van Juda” in die agtste eeu v.C., maar Jesaja se profesieë is tweeledig. Dit is ook van toepassing op die eindtyd, soos ons sien wanneer Jesaja 2:2-4 die profesie definieer wat geld vir “die einde van die dae”. Jesaja se profesieë is ook van toepassing op Juda se broers in die “huis van Jakob” (verse 5-6), ook bekend as die “huis van Israel”, aangesien Jakob se naam na Israel verander is (Génesis 32:28). Die tien stamme van die huis van Israel en die huis van Juda is twee afsonderlike nasies wat selfs in oorlog met mekaar was. Om meer oor hierdie wonderlike waarheid te wete te kom, bestel ons gratis boekie Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika? of lees dit aanlyn by wvm.co.za.

Professor Goldman se voorspelling dat “die Amerikaanse elite vroulik sal wees” is korrek en Jesaja het hom met meer as 2,700 jaar “voorgespring”! Dit was natuurlik nie Jesaja nie, maar ons Skepper wat hom geïnspireer het om dit vooraf te verstaan. In ’n later gedeelte haal Jesaja vir God aan wat sê: “Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen” (Jesaja 46:9-10).

God weet die beste

Manlike en vroulike verhoudings was nog nooit in perfekte balans nie. Inteendeel. Selfs vandag word vroue in sommige lande regoor die wêreld gruwelik mishandel. In sommige kulture word meisies nie toegelaat om skool toe te gaan nie en vrouens mag genadeloos geslaan word sonder enige gevolge vir hulle eggenotes. Daar word egter in die Westerse wêreld ’n ander uiterste praktyk bevorder en aangeneem, waarin mans behandel word as onbeholpe dwase wat nie in staat is om die leierskaprol te vervul wat deur hulle Skepper aan hulle gegee is nie.

Radikale feministe, van wie baie mannehaters en lesbiërs is – dalk as gevolg van mishandeling of ander traumas in hulle eie lewens – ontken die Godgegewe rolle van mans en vrouens. Te veel mans word nie opgelei om die liefdevolle voorsieners en beskermende leiers te wees waarvoor hulle geskape is nie. Die Bybel sit hierdie eenvoudige feite uiteen: “Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man. Want die man is ook nie ter wille van die vrou geskape nie, maar die vrou ter wille van die man. Daarom moet die vrou ’n aanduiding van gesag op die hoof hê ter wille van die engele. En tog, in die Here is die man nie sonder die vrou nie, en die vrou ook nie sonder die man nie. Want soos die vrou uit die man is, so is ook die man deur middel van die vrou; maar alles is uit God” (1 Korinthiërs 11:8-12).

Vir enigiemand wat nie bevooroordeeld is nie, is dit duidelik dat mans en vrouens fisies en psigologies verskil, maar hierdie verskille word dikwels gering geag. Vandag se media beeld dikwels vir ons die vrou uit wat tot die redding van die man kom. Sou dit nodig wees om ’n buiteband van ’n motor te vervang? Die vrou kom tot die redding. Is daar ’n probleem met die besigheid? Die vrou is beskikbaar. Wanneer stadsboewe iemand aanval? Daar is sy weer – ’n wonder in gevegskuns wat sterker en vinniger as enige man is. Is dit egter die realiteit? Ek dink ons ken die antwoord.

Mans en vrouens is gemaak om mekaar aan te vul, nie om met mekaar mee te ding nie. Mans is fisies ontwerp om beskermers en voorsieners te wees. Dit is nie dat ’n vrou nie kan voorsien nie – om die waarheid te sê, dit sal dalk nodig wees in spesifieke situasies, soos wanneer haar man ’n siekte of besering opdoen. Dit mag nodig wees om rolle tydelik – of selfs permanent – om te ruil en daar is geen stigma aan verbonde nie. ’n Man kan steeds die doeltreffende hoof van sy huishouding in sulke situasies wees. Wanneer mans hulle egter nie voorberei vir hulle regmatige plek om die broodwinner te wees nie en dit aan die vrou oorgelaat word om in die arbeidswêreld uit te gaan, ontstaan daar maklik probleme. ’n Vrou het veral nodig om liefgehê te word en ’n man het veral nodig om gerespekteer te word en hierdie behoeftes sal meer waarskynlik onbevredig gelaat word wanneer die rolle omgeruil word of vervaag.

God beveel: “VROUE wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here” in plaas daarvan om oor die posisie van leierskap in die gesin te baklei. “Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het” (Efésiërs 5:22-25).

Waarom manlik en vroulik

Radikale feministe minag lank reeds sulke gedeeltes as “seksisties” – sonder om te verstaan dat God se plan waarde heg aan mans en vrouens, tot so ’n mate dat hulle dit nie vir hulleself kan voorstel nie. Met verwysing na die huweliksverbond gaan Paulus voort om te sê: “Daarom moet die man sy vader en sy moeder verlaat en sy vrou aankleef, en hulle twee sal een vlees word. Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente. In alle geval moet elkeen van julle ook afsonderlik sy eie vrou liefhê net soos homself, en die vrou moet die man eerbiedig” (Efésiërs 5:31-33).

Die eenheid tussen ’n man en sy vrou in die huwelik is noodsaaklik vir ’n goed geordende samelewing. Die geskiedenis toon dat net soos dit met die gesin gaan, so gaan dit met die nasie. ’n Huwelik tussen een biologiese man en een biologiese vrou kan kinders in ’n gebalanseerde, koesterende en liefdevolle omgewing voortbring waartoe manlik én vroulik unieke eienskappe bydra. Die gesin is ’n volmaakte opleidingsterrein vir die aanleer van goeie maniere, omgee vir ander, selfdissipline en selfopoffering. Ons weet dat gesinne dalk nie volmaak aan hierdie ideaal voldoen nie, maar dit verander nie die feit dat die huwelik soos God dit bedoel het, die beste manier is om die mensdom te laat voortbestaan nie.

Is dit egter bloot die doel van die lewe om die menslike ras voort te plant? Glad nie. Die Bybel openbaar dat God besig is om Sy eie Gesin te bou waarin mense gebore kan word. Die apostel Paulus het koning Dawid se vraag aangehaal: “Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind dat U hom besoek?” (Hebreërs 2:6). Met ander woorde, wat is die doel van die lewe? Waarom is ons hier? Is ons bloot ontwikkelde diere met geen doel en geen hoop ná ons kort lewensduur op hierdie afgeleë planeet nie?

Paulus gaan voort en haal aan uit Psalm 8: “U het hom ’n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel” (Hebreërs 2:7-8). Dan voeg hy by in vers 8: “Want in die onderwerping van alle dinge aan hom, het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie”. Waarom sulke gesag en verantwoordelikheid?

Paulus verduidelik dan waarom Jesus gekom het en die einddoel wat Hy beplan het om te bewerkstellig:

“[M]aar ons sien Hom, naamlik Jesus, wat vir ’n kort tydjie minder as die engele gemaak is, vanweë die lyde van die dood met heerlikheid en eer gekroon, sodat Hy deur die genade van God vir elkeen die dood sou smaak. Want dit het Hom betaam, ter wille van wie alle dinge en deur wie alle dinge is, as Hy baie kinders na die heerlikheid wou bring, om die bewerker van hulle saligheid deur lyde te volmaak. Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie” (Hebreërs 2:9-11).

Nêrens is hierdie waarheid duideliker as in Romeine 8:14-17 nie:

“Want almal wat deur die Gees van God gelei word, dié is kinders van God. Want julle het nie ontvang ’n gees van slawerny om weer te vrees nie, maar julle het ontvang die Gees van aanneming tot kinders deur wie ons roep: Abba, Vader! Die Gees self getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is; en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus, as ons naamlik saam met Hom ly, sodat ons ook saam met Hom verheerlik kan word.”

Lees dit stadig en oordink die volle betekenis daarvan!

Die onderskeid tussen man en vrou is nie toevallig nie. God het ons geskep met ’n grootse doel voor oë. Die menslike huwelik beeld die huwelik tussen Jesus en Sy Kerk uit, met Sy heiliges wat gesamentlik die “bruid van Christus” sal word as ’n helper vir hulle Man. “Hierdie verborgenheid is groot, maar ek sê dit met die oog op Christus en die gemeente” (Efésiërs 5:32; vergelyk Openbaring 19:6-9). Diegene wat hoop om as seuns en dogters in God se Gesin opgewek te word (2 Korinthiërs 6:16-18), het nodig om God se doel vir die man en vrou in hierdie lewe te verstaan.

Manne en vroue behoort mekaar op te bou, nie mekaar af te breek nie. Elkeen het ’n rol om te vevul in God se groot doel vir die mensdom. Daar is ’n geestelike wese wat alles in sy vermoë doen om die gesinstruktuur wat God ontwerp het, te ontwrig en om te keer (Efésiërs 2:2; 2 Korinthiërs 4:3-4). Wanneer seuns sonder behoorlike leiding en rigting gelaat word, raak hulle verward oor wat hulle manlike rol in die lewe is – die rol van ’n liefdevolle leier. Dit maak nie net manne seer nie; dit maak vroue ook seer. Trouens, dit maak die hele samelewing seer.

Om meer oor hierdie onderwerp te wete te kom, kontak u naaste streekkantoor (sien lys op bladsy 2 van hierdie tydskrif) of gaan na ons webwerf by wvm.co.za en lees of bestel ons gratis boekies Wat is die doel van die lewe? en Bou ’n vreugdevolle huwelik.