Bestaan daar werklik ’n Duiwel? Het hy regtig miljoene geestelike wesens onder sy beheer? Kan hulle u affekteer? U behoort te weet!


Dit is deesdae mode om die bestaan van ’n werklike geestelike wese wat Satan die Duiwel genoem word, te ontken. Ons is kastig so “gevorderd” in ons opvoedkunde en insig van dinge, dat selfs baie andersins intelligente mense die werklike bestaan van die Skepper Self ontken – hulle dink sekerlik dat die idee van ’n werklike Satan ’n onkundige oorblyfsel uit die Donker Middeleeue is.

Wat is egter in hierdie geval die waarheid
As ons alle sentimentaliteit en intellektuele hoogmoed ter syde stel, kan ons bewys – uit die geïnspireerde Woord van God en uit aangetekende menslike ondervinding – dat daar ’n werklike Duiwel is? Natuurlik is selfs die gebruik van die Bybel as ’n betroubare naslaanbron, vir party mense soos ’n vervloeking. Indien u persoonlik egter ’n oop gemoed het, behoort u liewer verder te lees! Die uitwerking wat Satan en sy demone het, is skrikwekkend – en Satan se handelswyses is op die huidige oomblik besig om die wêreld om u te affekteer, meer as wat u uself kan begin indink!

Hierdie beskawing, hierdie “tydvak” – die tydperk van 6,000 jaar sedert Adam tot en met die wederkoms van Jesus Christus – was, en is nog steeds, ’n samelewing gedomineer deur Satan die Duiwel en miljoene gevalle engele of “demone” wat hom in opstand teen die Skepper-God gevolg het.

Satan is nie slegs ’n algemene term vir boosheid nie. Satan is nie ’n blinde mag nie. Satan die Duiwel is ’n magtige geestelike persoonlikheid – oorspronklik deur God geskape as ’n gerub – wat teen sy Skepper in opstand gekom het. Sy oorspronklike naam, “Lucifer”, beteken “ligbringer”, maar sedert sy opstand word hy “Satan” genoem – wat “teenstander” beteken.

Kyk hoe het die magtige Lucifer gekonkel om God te onttroon! Sy vernuftige vermoë en sy ydelheid het veroorsaak dat hy besluit het om te wedywer met sy einste Skepper. “Hoe het jy uit die hemel geval, o môrester, seun van die dageraad! Hoe lê jy teen die aarde neergeslaan, oorweldiger van die nasies! En jý het in jou hart gesê: Ek wil opklim in die hemel, my troon verhef bo die sterre van God en sit op die berg van samekoms in die uithoeke van die Noorde. Ek wil klim bo die hoogtes van die wolke, my gelykstel met die Allerhoogste! Ja, in die doderyk sal jy neergewerp word, in die diepste plekke van die kuil!” (Jesaja 14:12-15).

Satan het ’n KONINKRYK

Na sy gekonkelery om volgelinge te verkry, was Satan uit die “berg” of Koninkryk van God geskop. Soos Openbaring 12:3-4 aandui, was Satan in staat om een-derde van die engeleskare oor te haal om hom te volg in sy opstand teen God! Hierdie gevalle engele word in die Bybel “demone” genoem. Satan het dus nou letterlik ontelbare menigtegevalle engele wat sy volgelinge is – in daardie sin, het hy ’n “koninkryk” waaroor hy in die geestelike wêreld heers.

Hy heers ook hier op die aarde. In Esegiël 28:12 lees ons eers die beskrywing van die menslike vors [of prins] van Tirus, ’n magtige man wat – op menslike gebied – dieabsolute leier was oor hierdie “New York” van die antieke wêreld. Esegiël verskuif egter dan sy fokus na die werklike “mag agter die troon” – die koning agter die skerms van hierdie heidense stadstaat. Kyk: “Mensekind, hef ’n klaaglied aan oor die koning van Tirus, en sê vir hom: So spreek die Here Here: Jy was die seëlring van eweredigheid, vol wysheid en volmaak in skoonheid. Jy was in Eden, die tuin van God; allerhande edelgesteentes was jou bedekking: karneool, topaas en jaspis, chrisoliet, oniks, sardoniks, saffier, karbonkel en smarag; en van goud was die werk van jou kassies en groewe aan jou; op die dag toe jy geskape is, is hulle berei” (verse 12-13). Hier vind ons ’n persoonlikheid wat duisende jare voor Tirus bestaan het – in die “Tuin van Eden!” Nogtans was hierdie persoonlikheid ’n geskape wese (vers 15), nie ’n lid van die Godsgesin nie.

Op hierdie wyse openbaar Esegiël dat Satan die eintlike heerser oor hierdie heidense stadstaat was.

Satan word ook geopenbaar as ’n uiters konkelende persoonlikheid. In Mattheüs se beskrywing van Jesus se ondervinding tydens Sy versoeking deur Satan in die wildernis of woestyn, sien ons dat hierdie bose persoonlikheid selfs gewillig is om die Skrif aan te haal en dit vir sy eie doeleindes te verdraai. Hy het selfs die vermetelheid gehad om die Skrif aan te haal vir die Outeur daarvan, Jesus Christus! “Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ’n klip stamp nie” (Mattheüs 4:5-6).

Daarna het Satan Jesus weer versoek: “Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid” (vers 9). Let daarop dat Jesus erken het dat die wêreld se koninkryke onder Satan se beheer is. Hy het nie Satan se heerskappy oor die wêreld se regerings betwis nie!

Jesus het inteendeel geweet watter geestelike beginsels betrokke was en het die gepaste Skrifgedeelte aangehaal deur te sê: “Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien” (vers 10). Jesus het verkies om aan Sy Vader gehoorsaam te wees en om Sy beloning op God se tyd en volgens God semanier te ontvang.

Later, toe Jesus se vyande Hom daarvan beskuldig dat Hy Beëlsebul gebruik om duiwels uit te dryf, het Hy geantwoord: “Elke koninkryk wat teen homself verdeeld is, word verwoes; en elke stad of huis wat teen homself verdeeld is, sal nie bly staan nie. En as die Satan die Satan uitdryf, dan is hy teen homself verdeeld. Hoe sal sy koninkryk dan bly staan?” (Mattheüs 12:25-26).

Satan het dus ’n koninkryk! Soos ons gesien het, is hy die onsigbare “god” van hierdie wêreld (2 Korinthiërs 4:4). Hy is die opperste misleier van individue en nasies. “En die groot draak is neergewerp, die ou slang wat genoem word duiwel en Satanwat die hele wêreld verlei, hy is neergewerp op die aarde, en sy engele is saam met hom neergewerp” (Openbaring 12:9).

Satan oefen invloed uit

Satan is die geestelike wese wat, in die baie nabye toekoms, kragtige invloed sal uitoefen oor ’n charismatiese politieke diktator wat ’n magtige wêreld supermoondheid wat sal herrys uit ’n herleefde en militante verenigde Europa, sal lei en moontlik selfs sal beset. Ongelooflik! Satan sal die “god” wees wat die vals godsdienstige stelsel wat die wêreldoorheersende ekonomiese en militêre moondheid gaan onderskraag, besiel en bemagtig! Moet my asseblief nie sommer glo of my woord daarvoor neem nie – kyk self in die Bybel!

God se woord voorspel dat hierdie toekomstige onderdrukkende stelsel letterlik besiel sal word deur demone. “En ná hierdie dinge het ek ’n engel sien neerdaal uit die hemel, met groot mag, en die aarde is verlig deur sy heerlikheid. En hy het met ’n groot stem kragtig uitgeroep en gesê: Geval, geval het die groot Babilon, en dit het geword ’n woonplek van duiwels en ’n versamelplek van allerhande onreine geeste en ’n versamelplek van allerhande onreine en haatlike voëls, omdat al die nasies gedrink het van die wyn van die grimmigheid van haar hoerery, en die konings van die aarde met haar gehoereer het, en die handelaars van die aarde ryk geword het deur die mag van haar weelderigheid. En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:1-4).

Satan sal hierdie toekomstige wêreldleiers motiveer om teen Christus Self te veg met Sy wederkoms as Koning van die konings en Here van die here! Christus sal egter van Satan ontslae raak en die goddelose heerskappy van hierdie bose wese sal tot ’n gewisse einde kom. “Hulle sal teen die Lam oorlog voer, en die Lam sal hulle oorwin – want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings – en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou” (Openbaring 17:14).

Kan ons selfs maar net begin om ’n denkbeeld te vorm van die diepte van misleiding wat so ontsaglik is dat letterlik miljoene mense verlei sal word om Christus Self tydens Sy wederkoms te beveg? Dit kan ons sekerlik help om die realiteit te besef van wat dit beteken wanneer die Bybel so duidelik aandui dat Satan die Duiwel die “hele wêreld” grootskaals mislei het – baie meer as wat die meeste mense ooit besef het!

Die geïnspireerde boek Daniël gee aan ons ’n verstommende insig in die geestelike dimensie – Satan en sy demone word dikwels uitgebeeld as in direkte beheer van heidense nasies, soos ons regdeur die Bybel sien. Toe Daniël hom dit ten doel gestel het om hom te verootmoedig en God te soek, het ’n engel hom verseker dat sy “woorde gehoor was” en dat God spoedig sou ingryp (Daniël 10:12). Die engel sê toe aan Daniël: “maar die vors van die koninkryk van die Perse het een-en-twintig dae lank teenoor my gestaan, en kyk, Mígael, een van die vernaamste vorste, het gekom om my te help; en ék het daar oorgebly by die konings van Persië” (vers 13). Later het die engel Daniël vertroulik meegedeel: “Weet jy waarom ek na jou gekom het? Ek moet dan nou teruggaan om te veg met die vors van die Perse; en as ek heengegaan het, kyk, dan kom die vors van Griekeland” (vers 20).

Hier het ons ’n duidelike beskrywing van “geestelike oorlogvoering” wat plaasvind – gewoonlik agter die skerms – wat ’n kragtige invloed uitoefen op die opkoms en val van nasies en leiers, asook nasies wat oorloë wen of verloor. Hierdie gebeure is werklikheid. In die nabye toekoms sal soortgelyke gebeure ook dramaties beïnvloed word deur geestelike wesens onder die invloed van Satan die Duiwel!

Dit is die rede waarom die apostel Paulus die heidene in Efese gewaarsku het aangaande die dinge “waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld, volgens die owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2). Later in daardie sendbrief keer hy terug na dieselfde tema: “Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efesiërs 6:12).

Dus is Satan die Duiwel werklik die “god” van hierdie wêreld! Hy is ’n werklike geestelike wese wat grootliks die handelinge van mense beïnvloed. Onderworpe aan God se oorheersende mag, word hy toegelaat om nasies aan te val, om die gedrag van kranksinnige diktators en heersers te beïnvloed – en veroorsaak dat hierdie wêreld oprampspoed afstuur!

Satan se godsdienstige misleiding

Die Bybel maak dit baie duidelik dat Satan, op godsdienstige gebied, sy eie kerke en sy eie predikante het. Satan word duidelik uitgewys as die werklike mag agter die “troon” van die groot vals kerk wat in Openbaring 17 beskryf word. Die apostel Paulus was ook geïnspireer om hierdie waarskuwing tot ons te rig aangaande Satan se vals predikante: “Want as iemand kom en ’n ander Jesus verkondig as wat ons verkondig het, of as julle ’n ander gees ontvang as wat julle ontvang het, of ’n ander evangelie as wat julle aangeneem het, – laat julle jul dit goed geval” (2 Korinthiërs 11:4).

Paulus waarsku: “Want sulke mense is valse apostels, bedrieglike arbeiders wat hulleself verander in apostels van Christus. En geen wonder nie! Want die Satan self verander hom in ’n engel van die lig. Dit is dus niks besonders wanneer sy dienaars hulle ook voordoen as dienaars van geregtigheid nie. Maar hulle einde sal wees volgens hulle werke” (verse 13-15).

Deur die eeue heen het Satan probeer seker maak dat die meeste mense nie die ware Kerk van God en die ware evangelie wat dit verkondig, sal kan uitken nie. Om godsdienstige verwarring aan te wakker het Satan honderde sektes, kerke en godsdienstige groepe geïnspireer, elk met sy eie spesiale soort godsdienstige denkwyse – elke kerk met ’n sekere “persoonlikheid”, om dit so te stel – om voorsiening te maak vir bykans elke soort gevoel of denkrigting wat iemand ook al mag hê. In werklikheid is daar ware demoniese persoonlikhede uit die geestelike wêreld wat menige vals kerke lei.

’n Aantal kerke maak daarop aanspraak om die “ware Kerk” wat Jesus gestig het, te wees. Wanneer die werklike waarheid egter gevind word, eien baie min mense die ware Kerk vir wat dit is, alhoewel die meeste kerke wat daarop aanspraak maak om die “ware Kerk” te wees, ’n heeltemal ander boodskap verkondig as die ware Evangelie wat Jesus Christus en die vroeëre Apostels verkondig het. Indien u graag meer wil weet hoe en waarom dit gebeur het, skakel ons asseblief of skryf dadelik aan ons, of gaan na ons webwerf by www.wvm.co.za en vra ’n gratis kopie aan van ons insiggewende boekie, Hervestig die Christenskap van die Apostels.

In ons tyd gebruik Satan die radio, televisie, films en die Internet om voorsiening te maak vir die wellus van die mensdom, om huise op te breek en om mense andersins te beïnvloed – soveel so dat miljarde mense nie in staat is om die Skepper-God te eien of om te erken dat Sy woord regtig geïnspireer is nie. Ja, die grootste gros van die mensdom bly verblind en mislei (Openbaring 12:9).

Satan het demone

God toon duidelik dat gevalle geestelike wesens deur Satan oor verskeie wêreldsgesinde regerings geplaas is – wat dikwels dan groot invloed uitoefen en mag het oor hul aktiwiteite (Daniël 10). Daar is ook baie Skrifgedeeltes in die Nuwe Testament wat duidelik toon dat Jesus Christus heeltemal bewus was van Satan se demone en hul aktiwiteite, soos ons sien in Markus se relaas waar Jesus ’n duiwel uitgedryf het, terwyl Sy dissipels dit nie kon doen nie (Markus 9:17-29).

In Markus se verhaal het ’n demoon veroorsaak dat ’n man se seun nie kon praat nie. Hierdie demoon het veroorsaak dat sy slagoffer soort van epileptiese aanvalle kry, waartydens hy soms neergegooi was om op die grond rond te rol en veroorsaak het dat skuim uit sy mond gekom het. Jesus se dissipels was nie in staat om hierdie demoon uit te dryf nie. Uiteindelik het Jesus gekom en hierdie onrein gees streng bestraf: “Jou stom en dowe gees, Ek gebied jou, gaan uit hom uit en kom nooit weer in hom nie” (vers 25).

Hier is dit duidelik dat Christus nie met die persoon self gepraat het nie, maar eerder met die demoon! Sodanige bose geeste kan verantwoordelik wees vir ’n groot aantal gevalle van sogenaamde “geestelike ongesteldhede”.

Selfs terwyl die meeste geestelike ongesteldhede wat mense mag ervaar moontlik veroorsaak kon gewees het deur geboorte defekte, ongelukke of siektes, kan dit, namate die einde van hierdie tydperk nader kom, toenemend duidelik word dat demoniese geeste betrokke is by sommige van die gruwelike en buitensporige gedrag wat beskou sal word as “geestelike ongesteldhede” deur Godverwerpende waarnemers!

Ja, ons behoort ten volle bewus te wees van die geestelike wêreld – en van Satan en sy demone!

Wat staan u te doen?

Regdeur die Bybel toon Christus aan ons dat ons proaktief moet wees om te verhoed dat Satan ons mislei en ons weglok van die Waarheid af, of om ons selfs te beïnvloed, of om ons, ons kinders of geliefdes in besit te neem! God beveel ons deur die apostel Jakobus: “Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug. Nader tot God, en Hy sal tot julle nader. Reinig die hande, julle sondaars, en suiwer die harte, julle dubbelhartiges! Weeklaag, treur en ween. Laat julle gelag in treurigheid verander word en julle blydskap in bedruktheid. Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog” (Jakobus 4:7-10).

Elkeen van ons behoort alles moontlik te doen om “nader aan” die ware God van die Bybel te kom. Namate die einde van hierdie tydperk nader kom, behoort ons te erken dat ’n werklike “geestelike oorlog” binnekort in die hemel sal plaasvind en dat Satan brullend na die aarde sal neertuimel – gerugsteun moontlik deur miljoene verdorwe geestelike wesens wat hom sal bystaan om ’n Godverwerpende mensdom te mislei en te disoriënteer (Openbaring 12:10-12). Die Skrif waarsku ons – herhaaldelik – dat ons in ’n “geestelike oorlogvoering” gewikkel is met Satan en sy demone (Efesiërs 6:10-17).

God het die apostel Petrus geïnspireer om ons hierop bedag te maak: “Maar bo alles moet julle mekaar vurig liefhê, want die liefde sal ’n menigte sondes bedek. Wees gasvry jeens mekaar sonder om te murmureer” (1 Petrus 4:8-9). U en ek behoort alles in die stryd te werp om na die God van die Bybel te hunker! Eerlikwaar, dit is tyd om op te hou om “kerk te speel”, om dikwels godsdiens ligtelik op te neem as ’n relatief onbenullige bysaak in ons lewens. Namate die einde van hierdie tydperk vinnig nader kom, sal dit werklik vir ons nodig wees om nader aan die God van die Bybel te wees en om Sy goddelike beskerming te hê – teen menslike magte sowel as teen die geestelike magte van Satan die Duiwel. Dit is nie nodig dat ons vreesagtig moet wees nie. Ons moet egter ons deel doen deur nader aan God te beweeg en dan in Sy beloftes te glo dat Hy ons volkome sal beskerm gedurende die moeilike tye wat voorlê.

Soos die apostel Paulus beveel: “Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly. Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan, en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede. Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus. En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees – dit is die woord van God – terwyl julle met alle gebed en smeking by elke geleentheid bid in die Gees, en juis daartoe waak met alle volharding en smeking vir al die heiliges” (Efesiërs 6:13-18).

Gaan u, persoonlik, werklik voluit om “gereeld te bid” – om werklik na God te hunker en om te probeer doen wat Hy Bestudeeu werklik die Bybel en vra u God vir begrip en die krag om Sy geïnspireerde woord te gehoorsaam? Doen u alles wat u kan om “met God te wandel” net soos Sy getroue dienaars deur die eeue heen gedoen het?

Elkeen van ons behoort onsself hierdie lewensbelangrike vrae af te vra en dit dan eerlik te beantwoord. Satan het mos ’n “koninkryk”. God het Sy teenstander toegelaat om die “god” van hierdie wêreld te wees gedurende die eerste 6,000 jaar van menslike bestaan – jare wat nou vinnig na ’n einde snel. Aan die einde van sy invloedryke tyd sal hierdie bose wese, in desperaatheid, selfs miljoene mense beïnvloed om teen Christus te veg (Openbaring 17:14) voordat hy uiteindelik gebind sal word en in die “vuurpoel” gewerp sal word – sodat hy die mensdom nooit weer sal kan lastig val nie (Openbaring 20:10).

Geagte leser, u behoort bewus te wees van die ontsaglike mag van Satan en sy demone, asook van u behoefte aan die beskerming van die Skepper-God wat oor absolute mag oor Satan beskik. Maak seker dat u die ware God “soek” en Hy sal u verlos en u in Sy ewige Koninkryk opneem – indien u u deel doen.