Wat is die heel ingewikkeldste voorwerp in die heelal? Dit is ’n groot vraag – sterrestelsels bestaan uit honderde miljarde sterre en planete en kan beskou word as ingewikkeld, net soos baie ander natuurlike strukture. Onder die mensdom se skeppings is ’n paar merkwaardige werke van groot ingewikkeldheid. Europa se kragtige deeltjie-versneller, die Large Hadron Collider, is ’n ingenieursprestasie wat getuig van groot ingewikkeldheid en op sy dag was die Verenigde State se ruimtependeltuig bekend as die heel ingewikkeldste masjien wat nog ooit uitgevind is. 

Om egter die heel ingewikkeldste enkele voorwerp in die algehele skepping te identifiseer? Dit is nogal ’n moeilike taak. Die uitspraak is tog bekend en dit is nie te betwis nie. Die neurowetenskaplike, David Eagleman, skryf: “Van al die voorwerpe in die heelal, is die menslike brein die heel ingewikkeldste” (“10 Unsolved Mysteries of the BrainDiscover, Augustus 2007).

Hoe kan dit wees? Die menslike brein is relatief klein, dit weeg ongeveer 1½ kg, pas netjies binne-in die menslike skedel en bestaan hoofsaaklik uit water en vet. Meer ingewikkeld as die ruimtependeltuig?

Dit is voorwaar so. Trouens, die menslike brein is ongelooflik ingewikkeld! Dit is voorwaar ’n merkwaardige bewys van die intelligensie en krag van ons ongelooflike Skepper!

Soos die meeste liggaamsweefsel, bestaan die brein uit mikroskopiese selle. Die selle wat lyk of dit die hart van die brein se merkwaardige vermoëns kan wees, is die 80 tot 90 miljard senuweeselle, of neurone, van die brein. Eintlik is dit die ontsagwekkende netwerk van verbindings tussen hierdie neurone wat die brein in staat stel om so kragtig te funksioneer. Deur hulle vertakkende aksone en dendriete, reik neurone uit na mekaar, ’n ingewikkelde netwerk van verbindings met elke individuele neuron wat verbind is met tot meer as tienduisend naburige neurone en skep so ’n grootse stelsel wat voortgaan om volledige menslike begrip te trotseer.

Tydens brein-aktiwiteit beweeg elektriese en chemiese impulse deur hierdie ontsaglike netwerk van neurone in ’n pragtige dans van elektrochemiese aktiwiteit en wisselende patrone. Hierdie ondenkbaar ingewikkelde netwerk van verbindings en die konstante elektrochemiese dans wat daarbinne plaasvind, verteenwoordig op een of ander manier die aktiewe brein, die verkryging van herinneringe en die skep van nuwes, die ontleding van inligting, die verwerking van emosies en die beplanning van ons aksies.

Meer ingewikkeld as die Internet

Brown Universiteit se neurowetenskaplike navorser, Chris Chatham, het die ingewikkeldheid van die brein se onderlinge verbindings netjies opgesom: “Akkurate biologiese modelle van die brein sal omtrent 225,000,000,000,000,000 (225 miljoen miljard) interaksies tussen seltipes, neurosenders, neuromoduleerders, aksonale takke en dendritiese stekels insluit en dit sluit nie die invloede van dendritiese meetkunde, of die ongeveer 1 biljoen glia-selle in wat belangrik mag, of nie mag wees, vir neurale verwerking van inligting nie” (“10 Important Differences between Brains and Computors”, ScienceBlogs.com).

Om dit in perspektief te stel, kan ons hierdie netwerk van verbindings en onderlinge verbindings met die Internet vergelyk. Baie tegnoloë beskou die Internet as die heel ingewikkeldste tegniese stelsel wat nog ooit deur die mens gebou is. Die ontsaglike, wêreldwye versameling van onderwerpe waaruit die Internet bestaan, sal na verwagting 25 miljard interaktiewe toestelle teen 2015 insluit. Daardie baie konneksies sal nog steeds net 0.00001% (een 10 miljoenste) wees van die interaksies wat in die “gewone” menslike brein plaasvind.

Dit is verseker so dat ’n ingewikkelde orgaan met sulke delikate verbindings, ’n brose instrument moet wees. Soos die ou gesegde lui: “Hoe ingewikkelder die pypwerk, hoe makliker is dit om die drein te verstop”.

Die brein is inderdaad vir ’n rede omhul deur ’n harde, benerige skedel. Beskerming daarvan is van die uiterste belang. Breinskade kan tot lewensveranderende gevolge lei. Selfs op hierdie gebied, is die menslike brein nogtans ’n wonder van ingenieurswese, een wat die beste van ons wetenskaplikes en navorsers nog sukkel om te verstaan! Ons is besig om te leer dat die brein ’n merkwaardige vermoë het om self te herstel, te herstruktureeren te “herbedraad” om skade en gebreke te oorkom!

Dink aan die mense wat aan Rasmussen se sindroom ly, waarin inflammasie een hele kant van die brein vernietig het. Slagoffers van hierdie toestand, meestal kinders, ly aan verskriklike stuip-aanvalle. Dokters het geleer dat die beskadigde helfte van die brein soms heeltemal verwyder kan word, terwyl die ander helfte van die brein homself dan met verloop van tyd aanpas om die funksies en prosesse van die vermiste helfte oor te neem, om dan die slagoffer se herinneringe, sin vir humor en persoonlikheid heeltemal ongeskonde te laat!

Kan u uself indink u ontdek dat ongeveer die volle helfte van u rekenaar se hardeskyf heeltemal beskadig en ontoeganklik is, maar dat die ander helfte sigself eenvoudigherprogrammeer om die vermiste inhoud te vervang? Rekenaarkundiges weet dat selfs ’n RAID-opstelling daarop staatmaak om ’n ongeskonde afskrif van die verlore of beskadigde data te vind, nogtans kan die raaiselagtige menslike brein selfs beter doen, dit herstel self “van nuuts af”!

Wat ’n kragtige getuie van God se ewige heerlikheid en onbeperkte intelligensie! Hoewel hoë ambisies gekoester word, betwyfel baie navorsers op die gebied van neurowetenskap en kunsmatige intelligensie of hulle eie skeppings ooit in staat sal wees om die ongelooflike kompleksiteit van die menslike brein te ewenaar.

Dr. Miguel Nicolelis, Duke Universiteit se leidende neurowetenskaplike wat tydens die 2014 Wêreldbeker-sokkertoernooi in Brasilië ’n gedagte-beheerde huidskelet vir verlamdes bekend gestel het, som die probleem van pogings om die brein met ’n rekenaar te reproduseer, netjies op: “Die brein is nie berekenbaar nie en geen ingenieurswerk kan dit namaak nie ... U kan al die rekenaarskyfies in die wêreld hê en u sal nie ’n bewustheid skep nie” (MIT Technology Review, 18 Februarie 2013).

Die brein is nie alleen nie

Vir al sy kompleksiteit, moet ons erken dat die brein tog nie alleen verantwoordelik is vir wie en wat ons is en vir wat die mensdom uniek maak in God se skeppings nie. Ons is meer as ons brein. Soos Job se metgesel, Elihu sê: “Maar dit is die Gees in die mens en die asem van die Almagtige wat hulle verstandig maak” (Job 32: 8).

God beplan dat die mens nie bloot die “kroon van die skepping” sal bly nie, maar om uiteindelik uit te styg bo daardie skepping en by Hom aan te sluit in die huisgesin van God! Met die gees in die mens wat saamwerk met die komplekse menslike brein, het elke mens ’n verstand, die unieke menslike verstand, wat die mens vêr verhewe bo diere plaas! God het ons nie net intelligent gemaak nie; Hy het ons sedelike wesens gemaak met ’n geestelike lewe en met die vermoë om ’n verhouding te hê met ons God, wat Gees is (Johannes 4:24).

Ons brein, soos die res van ons liggame, sal eendag sterf en terugkeer tot stof (Genesis 3:19). Die menslike brein is ’n merkwaardige instrument, maar is nie ewig nie. Die gees in die mens, wat deur God gegee is, word deur Hom teruggeëis by ons dood (Prediker 12:7) en dra daarmee saam die somtotaal van alles wat ons ooit geleer en geweet het, wie ons is en ons persoonlikhede (1 Korinthiërs 2:11), in afwagting op ons toekomstige opstanding!

Ons sien dus in hierdie laaste merkwaardige kapasiteit, sy raaiselagtige vermoë van wisselwerking met ons God-gegewe menslike gees, dat die wonderlike menslike brein selfs nog meer doen as om ons ’n soort “intelligente dier” te maak. Dit speel ’n belangrike rol in die vervulling van God se doel met ons en verteenwoordig ’n belangrike element van Sy ontwerp in ons lewens en Sy plan vir ons ewigheid.

Wat ’n wonderlike skepping verteenwoordig die menslike brein en wat ’n wonderlike Skepper sien ons daarin weerspieël!