Waar Hy praat van traumatiese en aardskuddende gebeure wat Sy Wederkoms onmiddellik vooraf sal gaan, sê Jesus Christus: “Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:36). Soos die meeste van u egter moontlik besef, lees baie min mense selfs hierdie gedeelte van die Bybel, wat nog te sê van dit verstaan.

Trouens, baie min mense bestudeer werklik die Bybel. Baie lees “besielende” gedeeltes soos Psalm 23, maar uiters min delf in die Bybel en probeer dit stelselmatig ontleed en waarlik verstaan. Die God van die skepping is nie vir hulle “werklik” nie. Indien hulle hoegenaamd enige godsdiens het, bestaan die kans dat dit gegrond is óf op steriele, formele rituele, óf op ’n gesing, ’n geteem en opgewerkte menslike emosies. Die meeste belydende Christene bestudeer egter uiters selde die Bybel, drink daarvan in of mediteer daaroor en gee hulself dan oor om te glo en te doen wat dit eintlik sê!

Wanneer die reusagtige gebeure waaroor u Bybel regstreeks profeteer dus in die komende jare begin plaasvind, gaan die meeste mense werklik geskok wees. Waarom? Omdat hulle so “uit voeling” is met die uiteindelike werklikheid – die ware God van Abraham, die God van die Skepping: die God van die Bybel.

Nadat Hy ’n eindtydse inval van die groot stad Jerusalem beskryf, sê Jesus Christus: “En daar sal tekens wees aan son en maan en sterre, en op die aarde benoudheid van nasies in hulle radeloosheid, wanneer see en branders dreun, en mense se harte beswyk van vrees en verwagting van die dinge wat oor die wêreld kom. Want die kragte van die hemele sal geskud word. En dan sal hulle die Seun van die mens sien kom in ’n wolk, met groot krag en heerlikheid” (Lukas 21:25-27). Ekskuus? Sal mense hierdie dinge werklik sien? Ja! En dit sal in die leeftyd van baie van u gebeur!

Waarom wil dit dan voorkom asof so min mense selfs bewus is van wat gaan plaasvind? Dit is omdat hulle mislei is. U Bybel beskryf Satan as “die ou slang wat genoem word duiwel en Satan, wat die hele wêreld verlei [mislei]” (Openbaring 12:9). Die apostel Paulus is geïnspireer om Satan te beskryf as die “owerste van die mag van die lug, van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk” (Efesiërs 2:2).

Hierdie meesterbedrieër het ’n manier om die meeste mense se aandag af te lei, hul tyd in beslag te neem, te veroorsaak dat hulle “oppervlakkige Christene” – indien enigsins Christene – is. Hy trakteer hulle met duisende ure van doellose televisieprogramme wat subtiel – en dikwels nie so subtiel nie – geweld, ongeoorloofde seks, perversie, plesiersoekery en minagting van ouers, onderwysers en bykans alle gesag aanmoedig.

Daar is selfs meer. As die “owerste” van hierdie wêreld se atmosfeer – in oorhoofse beheer van die media waarna die meeste mense kyk en luister – bombardeer Satan letterlik die verstande van tallose miljoene mense met rolprente en televisieprogramme oor ruimtewesens en oorloë tussen wesens van verskillende sterrestelsels vir beheer van die ganse heelal. Vir baie mense blyk dit onskuldig te wees, maar hierdie voorgee “ontsnappingsrolprente” en televisieprogramme raak dikwels aan die dinge wat die Grote God sê gaan gebeur, plaas ’n verdraaide “kinkel” daarop en maak dit goedkoop!

Baie slim!
Omdat hierdie kragtige geesteswese, Satan die duiwel, basies weet dat wat God sê gaan gebeur, kan hy die moderne media gebruik om ’n vals weergawe van toekomsgebeure in die gedagtes van mense te plaas. Hoe opgewonde, verootmoedig en geraak deur God se profesieë sal die meeste van ons jeug wees, nadat hulle na tallose ure van geweld, oorlog, intrige en “buiteruimtelike invalle” gekyk het?

Inderdaad, wanneer die dwergagtige Yoda vir Luke Skywalker sê: “Gebruik die mag”, neem dit moontlik van die opwinding weg vir jongmense wanneer hulle later vertel word dat die kragtigste mag in die heelal God se Heilige Gees is.

Onthou Paulus se woorde: “Want God het ons nie ’n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing” (2 Timotheus 1:7). Vir gans te veel mense wat swart op wit van God se “mag” lees, is dit egter nie naastenby so “werklik” nie as om van die fiktiewe “Mag” te hoor in die een of ander grootskerm filmaanbieding, kompleet in volkleur en lewensgetroue klank!

Dit beteken nie dat daar vir diegene wat God se waarheid ken geen normale vermaakwaarde in party van hierdie aanbiedings is nie. Selfs hier moet ons egter baie versigtig wees oor die hoeveelheid tyd wat ons hiervoor opsy sit en watter gedagtes ons toelaat om ons verstande in te dring.

Geagte vriende, ons is almal betrokke in ’n geestelike oorlog, of ons dit besef al dan nie! Die “owerste” van hierdie aarde se atmosfeer wil ons verstande en die verstande van ons jongmense beheer. Hy sal elke denkbare streek en werktuig aanwend in die stryd om ons verstande te wen. Een van sy hoofwerktuie is om die “ontvlugting-sindroom” te gebruik wat so oorheersend is in ons moderne samelewing.

Omdat die meeste mense God nie werklik “ken” nie en nie baie kennis van Sy doelstellings vir hul lewens het nie, verlustig hulle hulself in ongekende ure van ontvlugting – deur rolprente en televisieprogramme te kyk, fiksie te lees en sinnelose speletjies te speel. Satan kan allerlei vals gedagtes van wat reg en verkeerd is in hul gedagtes plaas en doen dit ook – insluitend vals gedagtes van die ware aard van God en Sy doel. Deur sommige van die profetiese gebeure van die Bybel na te boots en goedkoop te maak, kan Satan die begrip van miljoene mense verdraai. Waar Hy praat van hierdie ganse Satanistiese stelsel, sê God: “Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie” (Openbaring 18:4). Soos die apostel Paulus geïnspireer is om te skryf: “Want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus” (2 Korintiërs 10:4-5).

Die stryd om u verstand gaan dag en nag voort. Sal u Satan weerstaan? Sal u in ’n ware, Christusgeleide ontsnapping uit hierdie menslike samelewing van sonde kom en nie toelaat dat die duiwel met u verstand mors deur blootstelling aan tallose ure van rolprente en televisie nie? Sal u God soek deur werklik u Bybel te bestudeer en toe te laat dat Sy gedagtes en begrippe van wat reg en verkeerd is u denkwyse oorheers?

Die keuse berus by u!
Mag God u help om waarlik te bewys dat Sy Woord – die Bybel – regstreeks geïnspireer is. Mag Hy u help om beheer te neem van u tyd en waarna u kyk en luister, sodat u werklik die vals konsepte en beelde kan vryspring wat hierdie samelewing se ontvlugting onder Satan se invloed so grootskaals bevorder. Mag God u ook help om Sy Woord te bestudeer soos nooit tevore nie, sodat Sy planne en Sy weë die uiteindelike werklikheid in u lewe kan word.