Jesus Christus sal terugkeer! Terwyl baie mense beweer dat ons nie kan weet wanneer Hy sal kom nie, gee die Bybel duidelike tekens aan ons wat vir ons aandui dat die tyd naby is.

Die einde van die wêreld interesseer miljoene mense. Baie van die gewildste rolprente soos die Avengers: Endgame van 2019, beeld die wêreld uit wat op die punt van vernietiging is, terwyl ander rolprente soos Captain Marvel, hierdie vernietiging uitbeeld te midde van konflik tussen magte van goed en kwaad. Ander gewilde rolprente soos die 2017-riller Geostorm, beeld wydverspreide natuurrampe uit wat die potensiaal het om ons hele planeet te vernietig.

Beeld enige van hierdie rolprente oor rampe ’n werklike toekoms uit?

Ongelukkig is die werklikheid van verwoestende rampe oral rondom ons of ons nou daarvan bewus is of nie. Hoeveel van ons in Noord-Amerika het selfs gehoor van die verskriklike oorstromings in Sentraal-Afrika in 2019, waartydens talle mense gesterf het en duisende van hulle uit hulle huise waarvan baie vernietig is, gedwing is? Vroeër het die orkaan Dorian skade aan die oostelike kus van Amerika veroorsaak wat die grootste natuurramp in die geskiedenis van die Bahamas was. Dit het ongeveer 70,000 mense haweloos gelaat en honderde mense het vermoedelik gesterf. Na raming het Dorian skade ten bedrae van $7 miljard aan eiendom in die Bahamas alleen berokken.

Elders het brande geweldige vernietiging veroorsaak. In die eerste nege maande van 2019 het meer as 40,000 veldbrande regoor die V.S. ongeveer 4,4 miljoen akker afgebrand. Kalifornië was een van die state wat die ergste getref is. In een verslag is opgemerk:

Indien dit lyk asof veldbrande deesdae byna onafgebroke voorkom en dat daar nie meer ’n spesifieke brandseisoen in Kalifornië is nie, is u reg. Veertien van die 20 mees vernietigende brande in die geskiedenis van die staat het sedert 2007 voorgekom en Kalifornië het nou 78 méér “branddae” as 50 jaar gelede. Ons het ’n nuwe werklikheid besef sedert 2018 die ergste brandjaar geword het wat nog aangeteken is. Elke jaar kan nou moontlik die vorige jaar oortref en rekords opstel wat betref omvang, vernietiging, koste en lewensverlies (“California Fires Are Getting Worse. What’s Going On?,” LAist.com, 28 Oktober 2019).

In baie opsigte lyk dit of dinge in Kalifornië en elders besig is om al hoe erger te raak. Sommige mense sê dat daar nog altyd rampe was en dat natuurrampe nou ’n groter invloed op ons het, bloot as gevolg van die toename van ons bevolking. Ander mense erken die toenemende gevare, maar maak dit af as die gevolge van toevallige gebeurlikhede of ’n verskynsel soos wêreldwye klimaatsverandering.

Wat as daar egter ’n heel ander dimensie vir die oënskynlike toename in natuurrampe en wêreld-onrus is, maar wat daarvan as dinge nie beter word nie? Baie mense is geskok om te hoor dat die Bybel ’n dramatiese toename in spesifieke verskynsels en voorheen ondenkbare rampe en lyding voorspel. Die goeie nuus is egter dat Jesus Christus sal terugkeer en ’n einde aan al die onrus en lyding sal maak en dat u bemoediging daaruit kan put wanneer u vir die tekens van Sy Wederkoms uitkyk.

 

Sal die mensdom oorleef?

Ons leef tans midde in die mensdom se grootse eksperiment om self te regeer, met ander woorde, sonder God. Sal die 193 lidlande van die Verenigde Nasies ooit die weg na wêreldvrede vind? Die geskiedenis behoort die antwoord duidelik te maak! Twee wêreldoorloë gedurende die twintigste eeu was verantwoordelik vir die dood van miljoene mense en gewelddadige wreedheid wat tot nóg miljoene onskuldige burgerlikes se dood gelei het. Dit het die mensdom op die randjie van selfvernietiging gebring as gevolg van kernwapens. Selfs vandag hou biologiese, chemiese, kern- en ander bedreigings ons planeet op die rand van rampspoed en vernietiging.

Sal planeet Aarde dan enigsins oorleef? Is daar enige hoop vir wêreldvrede? Baie mense weet nie dat die Bybel spesifieke gebeure voorspel wat die einde van hierdie era sal inlei nie. Ons lees: “Want dan sal daar groot verdrukking wees soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het en ook nooit sal wees nie. En as daardie dae nie verkort was nie, sou geen vlees gered word nie; maar ter wille van die uitverkorenes sal daardie dae verkort word” (Matthéüs 24:21-22).

Wie sal daardie dae verkort om ons te red? U Bybel openbaar dat Christus na hierdie aarde sal terugkeer om totale vernietiging van die wêreld te voorkom. Daar lê gevaar voor, maar die Skrif deel ons ook die wonderlike goeie nuus mee van ’n toekomstige wêreldregering onder die Koning van konings. Wat behoort ons te doen totdat Hy kom? Baie mense probeer om vir “vandag te leef” en alles wat hulle kan te geniet terwyl hulle die werklikheid vermy van dit wat gaan kom.

Christus wil egter hê dat ons anders sal wees. Hy vermaan ons: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

Hierdie artikel ondersoek sewe tendense of tekens waarvoor ons behoort op te let. Terwyl ons daarvoor op die uitkyk is, sal ons besef dat ons daardie wonderlike dag nader wanneer Jesus Christus weer sal kom en die sewende basuin sal weerklink. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Sal u gereed wees om Hom te ontmoet wanneer Hy kom? U sal gereed wees indien u Sy opdragte gehoorsaam terwyl u u daarvoor voorberei. Wees dus op die uitkyk vir hierdie sewe tekens!

 

1. Toenemende gevaar van kernoorlog

Ondanks baie verdrae wat bedoel is om die toename van kernwapens te beheer, is kundiges bekommerd. Een agentskap berig dat daar sedert 2016 “’n aansienlike agteruitgang was in die standaarde wat verband hou met wapenbeheer en risikovermindering” (“Assessing Progress on Nuclear Nonproliferation and Disarmament,” Arms Control Association, Julie 2019, bl. v). Benewens die bekende kernnasies – Rusland, die Verenigde State, Frankryk, China, die Verenigde Koninkryk, Israel, Indië, Pakistan en Noord-Korea – het die verslag na Iran en Sirië gekyk, waar biologiese en ander vorms van dodelike wapens ook nagevors word en “bewyse gevind is dat Iran, Noord-Korea en Sirië almal onwettig handel dryf in stowwe en tegnologieë met dubbele gebruike [wapens en nie-wapens”] (bl. vi).

Sal Rusland een van sy geskatte 6,850 kernwapens in ’n toekomstige oorlog laat ontplof? Sal die Verenigde State een van sy 6,550 kernwapens laat ontplof? Ons behoort te onthou dat die mensdom daartoe neig om tegnologie nie onbenut te laat nie. In Januarie 2019 het die Bulletin of the Atomic Scientists ons aan hierdie gevaar herinner: “Die huidige situasie, waarin oorvleuelende kern-, klimaat- en inligtingsoorlogvoering dreigemente nie voldoende erken en aangespreek word nie of waar dit bloot geïgnoreer of ontken word, is onvolhoubaar. Hoe langer wêreldleiers en landsburgers hierdie nuwe en abnormale werklikheid met onverskilligheid bejeën, hoe groter is die kans dat die wêreld ’n ramp van geskiedkundige afmetings sal ervaar”. The Bulletin noem ons huidige situasie “’n nuwe abnormaal” (“A new abnormal. It is still 2 minutes to midnight,” Bulletin of the Atomic Scientists, 2019).

Ongelukkig bevestig u Bybel dat die mensdom nog nie klaar is met oorlog nie. Die Skrif voorspel die Derde Wêreldoorlog, wanneer ’n groot leër weswaarts oor die Eufraatrivier sal beweeg.

“En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor. En só het ek in hierdie gesig die perde gesien en die wat op hulle sit, met vuurrooi en blou en swawelgeel borsharnasse. En die koppe van die perde was soos leeukoppe, en uit hulle bekke het vuur en rook en swawel uitgegaan. Deur hierdie drie plae is ’n derde van die mense gedood, deur die vuur en deur die rook en deur die swawel wat uit hulle bekke uitgegaan het” (Openbaring 9:16-18).

So skokkend soos wat dit mag klink, sal ’n derde van alle mense in ’n toekomstige wêreldoorlog sterf! Wees op die uitkyk vir die ontwikkeling van kernvermoëns op die wêreldtoneel.

 

2. Aardbewings en ander natuurrampe

Soos ons hierbo gesien het gaan oorstromings en brande voort om ons planeet te verwoes en dit lyk of dit toeneem. Kyk na die volgende opmerkings deur die Evangelis Gerald E. Weston, hierdie tydskrif se Hoofredakteur, in sy insiggewende boekie “Acts of God: Why Natural Disasters?”

Hawaii is ’n baie gewilde toeristebestemming en net so is die eilande van die Suidelike Stille Oseaan. Hierdie pragtige vulkaniese eilande is die bron van liedere en musiekblyspele. Soos ons egter weet, kan vulkane baie gevaarlik wees vir almal wat te na daaraan woon. Duisende mense het in Pompeii en omgewing omgekom toe die berg Vesuvius in 79 n.C. uitgebars het. Sewe-en-vyftig mense het gesterf toe die berg St. Helens op 18 Mei 1980 uitgebars het ... Daar was waarskuwingstekens van ’n ramp-in-wording, net soos daar ook was voor die berg Vesuvius uitgebars het. Die noordekant van St. Helens het ongeveer 300 voet [± 91 meter] uitgebult en het vyf tot ses voet [± 1-2 meter] per dag gegroei. Waarskuwings om die gebied te ontruim is gegee, maar soos so dikwels die geval is, slaan mense nie ag op sulke waarskuwings nie: “As ’n skrandere die onheil sien, verberg hy hom; maar die eenvoudiges gaan verder, word gestraf” (Spreuke 27:12).

Natuurrampe veroorsaak menslike sowel as finansiële verwoesting soos ons vroeër gesien het. Die National Oceanic and Atmospheric Administration (NOAA) het aan die einde van 2019 berig dat die V.S. sedert 1980 meer as $1,7 biljoen aan finansiële verliese gely het as gevolg van 254 ernstige weerverskynsels wat die land meer as $1 miljard elk gekos het. Gedurende 2019 was dit die vyfde agtereenvolgende jaar waarin die V.S. tien of meer afsonderlike miljarde dollar skade gely het as gevolg van natuurrampe (“Billion-Dollar Weather and Climate Disasters: Overview,” NCDC.NOAA.gov, 8 Oktober 2019). Volgens die NOAA het natuurrampe die Verenigde State in 2018, konserwatief bereken, $91 miljard gekos, terwyl verskeie versekeringsmaatskappye soos Munich Reinsurance selfs hoër beramings toon.

Hierdie syfers toon slegs die V.S. se verliese. Een enkele gebeurtenis in 2011, naamlik die aardbewing en tsoenami wat op 11 Maart die Fukushima-kernkragsentrale in Japan beskadig het – word verbind met meer as 20,000 sterfgevalle en ekonomiese skade van $360 miljard. Dit vergelyk met “slegs” $250 miljard skade en die bykomende ekonomiese impak in Amerika as gevolg van die orkaan Katrina in 2005.

Ons sou kon aangaan met hierdie lys van gebeure en die lyding wat dit veroorsaak betreur, maar u Bybel openbaar dat die ergste rampe van vandag gering is in vergelyking met dit wat aan die einde van hierdie tydperk sal voorkom. Die boek Openbaring verduidelik: “En daar het stemme gekom en donderslae en bliksemstrale, en daar het ’n groot aardbewing gekom soos daar nog nie gewees het vandat die mense op die aarde was nie – so ’n geweldige groot aardbewing” (Openbaring 16:18).

Die Skrif openbaar dat daar verskriklike tye voorlê voor Christus se Wederkoms. “Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke. Maar al hierdie dinge is ’n begin van die smarte” (Matthéüs 24:7-8).

Natuurlik is dit verstandig om voor te berei vir ’n noodtoestand of natuurrampe wat af en toe mag voorkom. Terwyl “diegene wat voorberei vir die oordeelsdag” egter groot hoeveelhede voedsel, water en voorrade opberg, is die enigste voorbereiding wat u uiteindelik sal beskerm teen wat die wêreld sal tref, om ná aan u Verlosser te bly en te doen wat Hy u aansê om te doen!

 

3. ’n Verenigde Europa streef na wêreldwye voorrang

Die Europese Unie het die uitdaging van “Brexit” beleef – die twispunt rondom die Britse kiesers se keuse om die Europese Unie te verlaat asook die gevolge daarvan. Die EU het ook ’n stryd met probleme wat veroorsaak word deur toestroming van vlugtelinge en ander immigrante, waarvan sommiges die totaal verskillende waardes van die lande wat hulle agtergelaat het, na hulle nuwe lande saambring. Kleiner en swakker EU-lande is wrokkig omdat Duitsland daarna streef om ’n leiersrol in ooreenstemming met sy ekonomiese mag uit te oefen, terwyl almal ontsenu is deur die onsekere aard van die Verenigde State se verbintenis tot die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (NAVO).

Baie mense sien in dat slegs ’n sterk en charismatiese mag, eenheid na die sukkelende EU kan bewerkstellig. Inderdaad, u Bybel profeteer dat so ’n leier wel gaan kom, wat gesimboliseer word deur ’n dier met sewe koppe en tien horings. God openbaar die betekenis van hierdie simbool: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (Openbaring 17:12-13).

Tien konings of koninkryke sal hierdie charismatiese leier ondersteun en ’n magtige, verenigde moondheid teweegbring. Die Europese Unie is tans nie so verenig nie, maar wees bedag op internasionale gebeure wat ’n toekomstige samestelling van nasies in Europa sal aanspoor om ’n finale herlewing van die geskiedkundige Romeinse Ryk te bewerkstellig, wat die wêreld op politiese en militêre gebied sal oorheers. Let op die beskrywing van daardie mag: “En die hele wêreld het verwonderd agter die dier aan gegaan ... en die dier aanbid en gesê: Wie is aan die dier gelyk? Wie kan teen hom oorlog voer?” (Openbaring 13:3-4). Die wêreld se magstruktuur sal in die komende jare dramaties verander. Hou verwikkelings in Europa dop namate ’n opkomende Europese Unie hom vir wêreldwye oorheersing beywer en dit uiteindelik ook bereik.

 

4. ’n Magtige leier verenig miljarde mense in ’n godsdiensherlewing

Ons het die profesie gesien van ’n groot supermoondheid wat op die wêreldtoneel te voorskyn sal kom, maar let op dat daar ’n ander wêreldfiguur is wat ook as ’n dier beskryf word. Hierdie simboliese dier het twee horings soos ’n lam.

“En uit die aarde het ek ’n ander dier sien opkom, en hy het twee horings gehad net soos ’n lam en het gepraat soos ’n draak. En hy oefen al die mag van die eerste dier uit voor sy oë, en hy maak dat die aarde en die wat daarop woon, die eerste dier aanbid, waarvan die dodelike wond genees is. Hy doen ook groot tekens, sodat hy selfs vuur uit die hemel laat neerdaal op die aarde voor die oë van die mense. En hy verlei die bewoners van die aarde deur die tekens wat hom gegee is om voor die oë van die dier te doen, deur aan die bewoners van die aarde te sê dat hulle ’n beeld moet maak vir die dier wat die swaardwond ontvang en lewendig geword het” (Openbaring 13:11-14).

Jesus Christus word die Lam van God genoem. Daarteenoor sal hierdie godsdienstige bedrieër Christelik voorkom maar práát soos ’n draak. Dit is nodig dat u op die uitkyk sal wees vir ’n internasionaal gerespekteerde godsdienstige figuur wat ’n invloed sal uitoefen op ’n Europese politieke en militêre supermoondheid. U mag nie toelaat dat hy u mislei nie, alhoewel sy bedrieglike wonderwerke sal veroorsaak dat miljoene mense hom en sy valse godsdiens sal volg. Let op: “... hy wie se koms is volgens die werking van die Satan met allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thessalonicense 2:9). Een van hierdie valse profeet se leuenagtige wonders sal wees om vuur uit die hemel te laat kom, soos ons in Openbaring 13:13 sien.

Die apostel Paulus benadruk dit dat hierdie valse profeet ’n dienskneg van Satan sal wees en nie van God nie en met die koms van Jesus Christus, die Koning van die konings, geoordeel sal word: “... en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak” (2 Thessalonicense 2:8). Wees op die uitkyk vir godsdienstige tendense in Europa, waar ’n groot herlewing van godsdiens miljarde mense na ’n valse en wettelose godsdiens sal aanlok.

 

5. Die gruwel van die verwoesting

Jesus het aan ons ’n uiters belangrike waarskuwingsteken gegee: “Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees, oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug” (Matthéüs 24:15-16). Indien u die boeke van Daniël en Matthéüs in u Bybel gelees het, was u dalk dronkgeslaan oor wat die geheimsinnige “gruwel van die verwoesting” is. Wat is dit en wat beteken dit in die eindtydse profesie?

Dit is duidelik ’n belangrike teken om te verstaan. Dit is die teken dat God se mense sal vlug en die finale drie-en-’n-half jaar lange opeenvolging van profetiese verwoestings van die eindtyd ontsnap.

Geskiedkundig het die Griekse heerser Antiochus Epiphanes in 167 v.C. ’n dekreet uitgevaardig wat die Jode verbied het om tempel-offers te bring. Ons lees: “En deur hom sal leërs op die been gebring word en die heiligdom, die vesting, ontheilig, en hulle sal die voortdurende offer afskaf en die ontsettende gruwel opstel” (Daniël 11:31). Antiochus het nie net die daaglikse offers belet nie, maar hy het ook ’n standbeeld van Jupiter Olympus in die tempel opgerig en almal opdrag gegee om dit te aanbid.

Hierdie gebeurtenis, wat ook in Daniël 8 beskryf word, was ’n voorafskaduwing van ’n geprofeteerde eindtydse mylpaal. “En van die tyd af dat die voortdurende offer afgeskaf en die ontsettende gruwel opgerig word, sal duisend-tweehonderd-en-negentig dae verloop” (Daniël 12:11).

Ja, 1,290 dae voor Jesus Christus se Wederkoms, sal diere-offers weer beëindig word! Jesus waarsku Christene om bedag te wees op ’n gruwel van die verwoesting in die eindtyd! Net soos Antiochus Epiphanes die tempel ontheilig het en die offers in 167 v.C. beëindig het, so sal ’n goddelose gesag ook in die toekoms Joodse offers verbied! Dit is nodig om te let op die verwikkelings in Israel wat sal lei tot die herinstelling van diere-offers deur godsdienstige Jode en vir verwikkelings wat tot ’n internasionale verdrag sal lei wat hierdie offers moontlik sal maak.

 

6. Die Evangelie van die Koninkryk van God word aan alle nasies verkondig

Jesus het hierdie teken gegee om die einde van die mensdom se mislukte pogings aan te dui om wêreldvrede te bewerkstellig: “En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom” (Matthéüs 24:14). U lees voortdurend van daardie Evangelie in hierdie tydskrif, wat die wêreld van môre en die Koninkryk van God op aarde verkondig. Ja, die Koninkryk van God se wêreldheerskappy sal vrede en voorspoed vir alle nasies bring. Dit sal regeer word deur die Koning van die konings en die Here van die here, Jesus Christus. Trouens, Jesus het gekom om daardie Evangelie, oftewel goeie nuus, te verkondig: “En nadat Johannes oorgelewer was, het Jesus in Galiléa gekom en die evangelie van die koninkryk van God verkondig en gesê: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie” (Markus 1:14-15).

Die profeet Jesaja openbaar ’n inspirerende belofte van die Messias se wêreldregerende Koninkryk van vrede: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die Here van die leërskare sal dit doen” (Jesaja 9:5-6).

Die huidige wêreld van konflikte, onderdrukking en oorloë sal deur die Koninkryk van God vervang word – die Regering van God. “En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15).

 

7. Hemelse tekens en die Dag van die Here

Baie mense wat wêreldnuus dophou en Bybelprofesie bestudeer, weet dat ’n kosmiese versteuring in die hemelruim ’n ieder en ’n elk op aarde sal skok. Sommige Bybels het ’n opskrif bo-aan Openbaring 6:12: “Die sesde seël word oopgemaak” – maar waarna verwys dit? Verwys dit na die onlangse verduisterings van die “bloedmaan” wat soveel aandag getrek het? Ons lees die volgende:

“En ek het gesien toe Hy die sesde seël oopgemaak het, en kyk, daar was ’n groot aardbewing; en die son het swart geword soos ’n harige sak, en die maan het geword soos bloed; en die sterre van die hemel het op die aarde geval, soos ’n vyeboom wat deur ’n groot wind geskud word, sy navye laat afval; en die hemel het weggewyk soos ’n boek wat toegerol word, en al die berge en eilande is uit hulle plekke versit; en die konings van die aarde en die grotes en die rykes en die owerstes oor duisend en die magtiges en al die slawe en al die vrymense het hulle weggesteek in die spelonke en in die rotse van die berge, en vir die berge en die rotse gesê: Val op ons en verberg ons vir die aangesig van Hom wat op die troon sit, en vir die toorn van die Lam; want die groot dag van sy toorn het gekom, en wie kan bestaan?” (Openbaring 6:12-17).

Die sogenaamde verduisterings tydens die “bloedmaan” herinner ons beslis aan hierdie geprofeteerde gebeurtenis, maar die werklike verskynsels sal baie meer indrukwekkend wees – selfs vreesaanjaend – dit sal nie verklaar kan word deur die posisies van die aarde, son en maan nie. Hierdie geprofeteerde kosmiese versteurings sal die Dag van die Here, die “groot dag van sy [Christus] toorn” inlui. Deur die Skrif waarsku God ons vooraf van die toekomstige oordele. Die maan sal verander na die kleur van bloed en die son sal donker word. Duisende meteore sal die hemelruim verlig.

Ja, oordeel is aan die kom oor alle nasies van planeet Aarde. Hoe kan u die Groot Verdrukking en die Dag van die Here vryspring? Ons Verlosser vermaan ons: “Maar pas op vir julleself, dat julle harte nie miskien beswaar word deur swelgery en dronkenskap en sorge van die lewe nie, en dié dag julle nie skielik oorval nie. Want soos ’n strik sal hy kom oor almal wat op die hele aarde woon. Waak dan en bid altyddeur, sodat julle waardig geag mag word om al hierdie dinge wat kom, te ontvlug en voor die Seun van die mens te staan” (Lukas 21:34-36).

 

Die gevolgtrekking betreffende hierdie aangeleentheid

Sommige predikante verkondig ’n misleidende boodskap, naamlik dat ons nie die profesieë kan verstaan nie en dat Jesus Christus enige oomblik kan terugkeer. Inteendeel, soos ons in die Bybel sien en soos u aan die hand van ander Wêreld van Môre-publikasies weet, is daar ’n spesifieke profetiese raamwerk waarin u vertroue kan hê. Wat van u persoonlik? U kan te eniger tyd sterf en tydens die opstanding van die heiliges wakker word of tot ’n opstanding van oordeel. U kan nie bekostig om dit uit te stel om aan u Verlosser gehoor te gee nie!

Ons sien uit na die Wederkoms van die Messias, Jesus Christus, om oor alle nasies te regeer en die Koninkryk van God op aarde te vestig. Wat is u belangrikste doelwit? U Bybel gee ons die belangrikste en noodsaaklikste doelwit wat ons ooit sou kan stel: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Matthéüs 6:33). Wees op die uitkyk vir hierdie sewe tekens van Christus se Wederkoms, berei u voor en bid: “... laat u koninkryk kom” (Matthéüs 6:10).