Verdwaal en alleen in die Maine-woude, het Geraldine Largay haar swart notaboekie opgetel en op 6 Augustus 2013 haar laaste inskrywing gemaak: “Bel my man George en my dogter Kerry, wanneer u my liggaam vind. Dit sal vir hulle die grootste weldaad wees om te weet dat ek dood is en waar u my gevind het – dit maak nie saak hoeveel jaar van nou af nie”. Die lyk van mev. Largay, toegerits in haar slaapsak, is jare later deur ’n landmeter gevind, haar oorskot was net twee kilometer van die besige Appalachian wandelpad af. Daar word vermoed dat sy haar kaarte verkeerd gelees het en tragies meer as een verkeerde draai gemaak het (“Lost Hiker Was Two Miles From Appalachian Trail When She Died,NBCNews.com, 27 Mei 2016). Elke jaar veroorsaak ’n verkeerde draai wat ’n reisiger êrens neem, rampspoedige gevolge.

Baie mense voel ook dat die samelewing self ’n verkeerde draai gemaak het en die pad byster geraak het. Van die manier waarop ons ons regering organiseer, tot hoe ons ons geloof beoefen, lyk dit of ons vasgevang is in ’n nimmereindigende agteruitgang van standaarde en sedes op baie terreine van die moderne lewe. Waar het ons die pad byster geraak?

 

Mislukte regering

Word ons regering deur God geïnspireer? Amerikaners beskou die Verenigde State dikwels as ’n “Christelike nasie” sonder ’n staatsingestelde geloofsbelydenis. Is dit ’n billike aanname? Dink daaraan dat ten minste sewe van Amerika se oorloë teen belydende Christenstryders gevoer is. Dit sluit die nasie se burgeroorlog in, waarin honderde duisende mense wat hulleself Christene noem, ander selfbelydende Christene op die slagveld afgemaai het. Wil die Jesus Christus van die Bybel dalk iets beters van ons hê (Lukas 3:14)?

Jesus het daarop gewys dat “My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie; as my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my dienaars geveg het” (Johannes 18:36). Hier het die Messías Hom van regerings en oorloë van hierdie wêreld gedistansieer. Dit is duidelik dat Jesus Christus geen poging aangewend het om menslik-uitgedinkte regerings tydens Sy aardse bediening te verander nie. Wat betref die komplotte, raad en bondgenootskappe van regerings, sê die Psalmdigter: “Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik” (Psalm 2:4-5). Daniël het geskryf oor ’n tyd wanneer “die God van die hemel ’n koninkryk [sal] verwek ... dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak” (Daniël 2:44). In Openbaring 11:15 openbaar Jesus Christus aan Johannes ’n toekomstige tyd wanneer al die “koninkryke van die wêreld die eiendom van onse Here geword het en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.” Dit kom voor asof God nie ’n binnekring hervormer is nie, maar verkies om dinge van die begin af te vorm.

Waarom sluit God elke menslike vorm van regering in hierdie verklarings in? Die regerings van die mens, met inbegrip van die Amerikaanse republiek, het misluk. Vandag sien ons bloot die gevolge van die gevaarlike koers waarop die mens hom lank gelede begewe het. Die V.S.-Grondwet en alle ander menslike gefabriseerde dokumente wat bedoel is om te lei in die ontwikkeling van regverdige en onpartydige samelewings – al is hulle positiewe eienskappe lofwaardig – kan nie die Skrif vervang om menslike gedrag en verhoudings te lei nie. Per slot van rekening, dit is “nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Soos Salomo geïnspireer is om in twee Skrifgedeeltes op te teken: “Daar is ’n weg wat vir ’n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood” (Spreuke 14:12; 16:25).

 

Mislukte godsdiens

Regering is een saak, maar is ons bereid om te vra of selfs ons Godsdiens deur God geïnspireer is? Is Godsdiens die kern van die morele agteruitgang van vandag? Baie konserwatiewe kenners sou wou hê dat ons post-moderne invloede verwerp en teruggaan na die “geloof van ons vaders”. Ander mense sien die probleem egter as ’n harde en veroordelende gees wat hulle nie glo Christus sou goedpraat nie.

Ons moet in elk geval erken dat die verkeerde koers wat die samelewing ingeslaan het lank voor die chaos van 2020 begin het, lank voor sosiale media en selfs lank voor die dwelmverslaafde teenkultuur van die 1960’s. Die hedendaagse godsdienstige ineenstorting het sy oorsprong in werklikheid nog lank voor Christelikheid die strande van Noord-Amerika bereik het.

Hoe kan dit wees? In die vormingsjare van “Christelikheid” het dominante kerkorganisasies leerstelling na leerstelling verwerp wat deur Christus ingestel is en deur die Apostels onderrig is. Hulle het in plaas daarvan hulle gewend tot leerstellings wat aanklank gevind het by heidene regdeur die hele Romeinse ryk. Christus en Sy Apostels het nie die viering van Kersfees of Paasfees onderrig nie, ook nie van ’n onsterflike siel, ’n ewigheid in die helse vuur vir sondaars of ’n siel se opvaring na die hemel tydens die dood nie. Geleerdes en teoloë erken dat al hierdie oortuigings ’n voor-Christelike oorsprong het en dat dit wat Christelikheid genoem word, sy aantrekkingskrag vermeerder het deur nie-Christelike leerstellings en oortuigings geleidelik aan te neem, sowel as om die regerings – van die Romeinse keiser Konstantyn af – te gebruik om die nakoming daarvan te bevorder of selfs af te dwing.

Waarom maak dit saak? Omdat die apostel Johannes aan ons vertel dat die hele wêreld mislei word deur Satan wat die god van hierdie wêreld is (Openbaring 12:9; 2 Korinthiërs 4:4). Indien die hele wêreld mislei is, moet dit ook die derde van die wêreldbevolking insluit wat die Christelike geloof bely. Christelikheid is in duisende sektes en denominasies opgebreek wat elkeen hulle eie interpretasie van die Skrif kragtig verdedig, hoe kan hulle almal reg wees?

Christus het nogtans gesê dat Hy wel ’n “klein kuddetjie” op die aarde het (Lukas 12:32). Hierdie klein kuddetjie ware Christene bely nie net Jesus se Naam nie maar hulle streef daarna om die Goddelik geopenbaarde kode van morele gedrag toe te pas (Matthéüs 7:21-23).

 

Ware geloof sal seëvier

Die oorgrote meerderheid van die mensdom het God se ware identiteit lankal vergeet. Die profeet Jesaja het in antieke tye gepraat oor die menslike neiging om ons Skepper te vergeet: “Ek het kinders grootgemaak en verhoog, maar húlle het teen My oortree. ’n Os ken sy besitter en ’n esel die krip van sy eienaar, maar Israel het geen kennis nie, my volk verstaan nie. Wee die sondige nasie, die volk swaar van skuld, die geslag van kwaaddoeners, die kinders wat verderflik handel! Hulle het die Here verlaat, die Heilige van Israel verag, hulle het agtertoe weggedraai” (Jesaja 1:2-4). Paulus het kort na die opstanding van Christus oor hierdie neiging geskryf en gesê dat baie mense in sy tyd “alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword” (Romeine 1:21-22). Soos dit in Génesis 3 opgeteken is aan die begin van die menslike geskiedenis, het ons eerste ouers vinnig en maklik die waarheid vir ’n leuen verruil. Net so het die hoofstroom “Christendom” binne honderd jaar na Christus se kruisiging meer in gemeen gehad met die heidendom as met die Bybel. As hoogtepunt van daardie agteruitgang, verval die hedendaagse samelewing bloot meer openlik en veragtelik dieper in sy heidense oorsprong in.

Utopie sal nié onder ons gebrekkige, korrupte menslike regerings voorkom nie. Wanneer ons verby ons rou patriotiese emosies kom, sien ons dat menslike regerings misluk, ongeag watter party aan bewind is. Christene as ambassadeurs en burgers van die hemelse land moet “eers die koninkryk van God soek” (Matthéüs 6:33) en daardie Koninkryk sal eers met Christus se Wederkoms kom en sal aangekondig word deur die laaste van die sewe basuine (Openbaring 11:15).

Geraldine Largay en vele ander van die hedendaagse “verlore reisigers” sal nog uit die graf wakker word in ’n helder, wonderlike wêreld. Daar sal ’n ware “goue era” van vrede, voorspoed, harmonie en geregtigheid wees. Dit sal net op één manier plaasvind – onder die heerskappy van die terugkerende “Koning van die konings”, die Almagtige, Gees-verheerlikte Jesus Christus. God het vir ons ’n wonderlike boek as gids gegee naamlik die Bybel. Die Bybel is soortgelyk aan ’n padkaart en Hy belowe dat Hy die mensdom nog “op die paaie van geregtigheid” sal lei (Psalm 23:3).