Die wetenskap en die menslike verstand het nuwe hoogtes van prestasies bereik, maar kan ons oorleef sonder God?

Baie lank gelede in die antieke land van Mesopotamië – só lank gelede dat die land nog nie bekend was onder daardie naam nie – het ’n jong beskawing floreer met ’n alledaagse taal, ’n eensgesinde kultuur met die gemeenskaplike doel om die bedreiging van die mensdom se vernietiging te verhoed. In, wat bekend gestaan het as die vlaktes van Shinar, was die beskawing se voortbestaan voorop in die denke van die jong gemeenskap en die dryfveer agter die fokus van hulle pogings.

Daar het ’n bietjie meer as ’n eeu verloop nadat God in die geskiedenis van die mens ingegryp het, deur byna alle lewe op die planeet met ’n verwoestende wêreldwye vloed uit te wis. Die fisiese en sielkundige gevolge van die sondvloed het daartoe gelei dat die massas ’n sterk diktator, ’n bekende man, met die naam Nimrod, gevolg het. Onder sy leiding is een van die grootste argitektoniese prestasies van die antieke wêreld begin – die konstruksie van wat ons as die Toring van Babel ken. Nimrod se doelstellings was die uitbreiding en konstruksie van verskeie stede in die streek en spesifiek ook die Toring van Babel. Dit kon dalk aanloklik voorgekom het – na ’n poging om te verhoed dat nog ’n ander rampspoedige gebeurtenis, die beskawing, soos hy dit geken het, tot ’n einde sou bring. Die toring was egter ’n simbool van die mensdom se pogings om sake in hulle eie hande te neem en om sy eie metodes van selfbehoud uit te dink op die wonderlike ronde “blou planeet” wat ons ons tuiste noem – terwyl dit om sy eie as wentel teen ’n snelheid van 1,000 km per uur (by die ewenaar) en in die ruimte voortspoed teen 67,000 km per uur. Die arrogansie van diegene wat betrokke was by die bou van hierdie toring was verbysterend en dit het deur die eeue heen voortgeduur. Verskeie tale en kulture is gevorm as gevolg van die verwarring by Babel en almal het dieselfde vleeslike uitgangspunt geërf en bevorder steeds wat Nimrod en sy volgelinge gemotiveer het, naamlik dat ons in staat is om sake in ons eie hande te neem en die bepalings van ons eie bestaan voor te skryf.

Laat ons dus vinnig vorentoe beweeg na die huidige tydvak – ’n tyd waarin die mensdom homself midde in tegnologiese vooruitgang bevind – anders as wat in die antieke wêreld denkbaar was.

 

Die era van die mensdom – of die einde daarvan?

Die wetenskap en die menslike rede het nuwe hoogtes bereik, maar tog staar die mensdom die vermeende bedreiging van rampspoedige wêreldwye klimaatsverandering in die gesig. Leiers van nasies regoor die wêreld vergader om te bespreek wat die implikasies sal wees van ’n toename in temperatuur van slegs een of twee grade Celsius. Ooreenkomste word aangegaan, klimaatsverdrae word gesluit en doelwitte word gestel. Die mensdom is vasbeslote om sake in hulle eie hande te neem om die voorspelde rigting van die aarde se klimaat te verander en om ons te red van die bedreiging van uitwissing.

In Kanada het hoofregter Richard Wagner van die hooggeregshof onlangs gesê: “Die onbetwiste bestaan van ’n bedreiging vir die toekoms van die mensdom kan nie geïgnoreer word nie” (CTVNews.ca, 25 Maart 2021). Die hof daar het onlangs ten gunste van federale toepassing van reguleringsheffings beslis en vereis dat alle provinsies gelykwaardige heffings vasstel ten einde koolstofvrystelling te verminder. Hoofregter Wagner het verder in sy uitspraak gesê dat die heffings “nie as belasting beskou word nie; dit is eerder gereguleerde kostes om die GGPPA [Greenhouse Gass Pollution Pricing Act’s] se doel te bevorder deur gedrag te verander” (“Reference re Greenhouse Gass Polution Pricing Act, 2021 SCC,” CanLII.org, 25 Maart 2021).

Hierdie benadering om verskillende metodes te bevorder met die doel om gedrag te verander om ’n klimaatsramp te voorkom, is niks nuuts nie. Greenpeace, ’n organisasie wat hoofsaaklik deur Kanadese gestig is, het sedert die laat 1960’s al probeer om die planeet te red. Peter Wilcox, ’n seekaptein en aktivis vir Greenpeace, het in verband met die primêre doel van klimaat-aktiviste geskryf:

“Een van die belangrikste redes waarom omgewingsbewustes en aktiviste doen wat hulle doen, is om te probeer om ons van onsself te red. Wanneer bote gevaar loop om te sink, stuur hulle ’n S.O.S.-noodroep uit. Ons skip, planeet Aarde en die passasiers daarop is in lewensgevaar, daarom stuur ek ’n ander S.O.S.-sein: ‘Red Onsself’. Net ons kan ons van onsself red, so ek hoop dat ons die boodskap sal kry” (Greenpeace.org, 17 Junie 2016).

Die samelewing en spesifiek die Westerse wêreld, blyk vasbeslote te wees om alles in hulle vermoë te doen om koolstofdioksied in die atmosfeer te verminder. Die doel met hierdie artikel is nie om die potensiële bedreiging of voordele van ’n toename in CO2 (koolstofdioksied) te ondersoek nie. Dit is belangrik om daarop te let dat dit ons verantwoordelikheid is om die planeet te versorg en te onderhou en dit nie te besoedel of te verwaarloos nie; enige poging om onsself van uitwissing te red, is egter dwaasheid as dit nie die volledige onderwerping aan ons Skepper en Sy Wette insluit nie.

Of koolstofdioksied nou ’n besoedelende stof of ’n plantaardige voedsel is, is dit aanmatigend om te glo dat die mensdom die vermoë het om die klimaat ten volle te kan bemeester. Dit oortref selfs Nimrod en sy volgelinge se arrogansie wat betref die bou van ’n toring wat tot by die hemel reik. Dit kom voor asof God heeltemal verwyder is van alle oorweging uit die harte en denke van ons leiers. Die mense van Babel moes net in die lug opkyk toe die son deur die reënwolke breek om die simbool van God se ewige belofte te sien: “... die waters sal nie meer ’n vloed word om alle vlees te verdelg nie” (Génesis 9:15). Indien ons gewillig is om daarop ag te slaan, het God hierdie gebeure in die Bybel opgeteken om ons te vermaan. Sy belofte is duidelik in die voorafgaande hoofstuk geskryf:

“... en die Here het in sy hart gesê: Ek sal die aarde verder nie meer vervloek ter wille van die mens nie, want die versinsels van die mens se hart is sleg van sy jeug af. En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie. Van nou af sal, al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie” (Génesis 8: 21-22).


Hoogmoed kom voor die val

Ons leef in ’n era wat nie veel van die antieke wêreld verskil nie. Leiers glo valslik dat hulle die mag het om ’n toekomstige massa-uitwissing te vermy. Vir hulle om dít te glo, beteken dat hulle tot die gevolgtrekking gekom het dat God nie bestaan nie óf dat hulle die realiteit van hulle menslike beperkings – of albei – verloor het. God word heeltemal uit die prentjie gelaat. Die grootste bedreiging vir die beskawing op die oomblik is nie die stygende seevlak, die wêreldklimaat of enige ander besoedelende stof nie – dit is in werklikheid die wydverspreide korrupsie van karakter wat getoon word deur die arrogansie van Nimrod en die samelewing van vandag.

Indien u hierdie artikel lees en tot die gevolgtrekking kom dat God verseker ’n allesoorheersende deel van die prentjie is, kan u bemoedig word deur die feit dat Hy in beheer is en nie enige rampspoedige gebeurtenis sal toelaat wat tot die uitwissing van lewe op ons planeet sal lei nie. Indien u meer wil weet oor hoe volkome God in beheer is en spesifiek met betrekking tot die klimaat, kan u gerus ’n gratis eksemplaar van ons boekie, Dade van God.– Waarom natuurrampe? aanvra.