Woon u tans “die kerk van u keuse” by? Is dit net ’n kwessie van persoonlike voorkeur, of het Jesus Christus duidelike riglyne gegee oor die Kerk wat sy mense behoort by te woon?

Biljoene mense neem “toe-oë” sekere belangrike besluite wat hulle hele lewe sal beïnvloed. Behoort u dieselfde te doen? Een van daardie besluite is waar u behoort kerk by te woon. Baie mense volg net hulle ouers of vriende na enige kerk waar hulle ookal is. Ander mense probeer uitkyk vir die kerk met die “beste parkeerterrein”, of die beste jeugprogram, of die “beste koor”.

Wat?

Indien daar ’n ware God is – die Skepper van die hemel en die aarde wat nou, in hierdie tydvak, in menslike sake ingryp om Sy Seun na die aarde terug te stuur as Koning van konings – dan behoort ek en u liewer baie versigtig te wees oor waar en hoe ons probeer om daardie God te aanbid! Soos die meeste van u weet, was miljoene mense in verskriklike godsdienstige oorloë betrokke oor verskeie “verdeeldhede” in die Rooms-Katolieke kerk asook in die Protestantse beweging. Hulle het die waarheid, soos hulle dit verstaan het, ernstig opgeneem. Vir die meeste mense is God deesdae “ver weg” en “onwerklik”. Bywoning van ’n kerk is dus meer ’n “sosiale geleentheid” of ’n manier om “die regte mense te ontmoet” om u besigheid of beroep ’n hupstoot te gee. Hoewel Jesus Christus gesê het: “Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:23-24). Jesus sê ook: “... u woord is die waarheid” (Johannes 17:17).

Kan u God “tevergeefs” aanbid? Jesus sê so! Aangaande die mense wat hulle gelei het, het Hy aan die godsdienstige leiers van Sy dag gesê: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af. Maar tevergeefs vereer hulle My deur leringe te leer wat gebooie van mense is” (Mattheüs 15:8-9). Wees eerlik! Volg die kerk wat u tans bywoon die tradisies van mense?

Wanneer u ’n kerkdiens bywoon, hoor u ’n sinvolle, volledige verduideliking van belangrike gedeeltes in die Bybel wat die hele doel van die menslike bestaan beskryf, die werklikheid van die God van die hemel, die werklikheid van Sy huidige ingryping in die mens se sake en waarom die Almagtige God omtrent een kwart van die Bybel aan profesie gewy het? Het u? Namate die Amerikaners en nasies van Britse afkoms verootmoedig word en God voortgaan om ons “trotse mag” te breek, is dit noodsaaklik dat u God aanbid terwyl u vir die Oordeelsdag voorberei!

God het WEL ’n ware Kerk

Iewers op hierdie aarde het God wel ’n ware Kerk. Daardie Kerk verkondig die volle Waarheid van die Bybel. Dit sal ’n Kerk wees waar die hele doel van die menslike bestaan asook die lewensbelangrike profesieë van die Bybel verduidelik word en die Bybel word ’n werklikheid gemaak vir almal wat daardie Kerk bywoon.

Jesus het ook gesê: “... sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie” (Mattheüs 16:18). Die woord “Hades” beteken “die graf”. Dus sou die graf en al die magte van die hel nie in staat wees om Christus se Kerk deur al die eeue heen, te vernietig nie. Die ware Jesus Christus is die lewende Hoof en Heerser van Sy eie Kerk. “En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee, wat sy liggaam is, die volheid van Hom wat alles in almal vervul” (Efesiërs 1:22-23).

Indien u bereid is om die tyd en intellektuele energie af te staan om dit na te gaan en dit te bewys, sal u in staat wees om daardie Kerk vandag te vind! Dit is die Kerk wat die volle Waarheid van die Bybel sal verkondig. Soos die apostel Paulus aan die ouderlinge in Éfese gesê het: “Want ek het nie nagelaat om aan julle die hele raad van God te verkondig nie” (Handelinge 20:27). Dus sal God se ware Kerk uit diegene bestaan wat werklik die Bybel bestudeer en opreg die heel eerste opdrag van Jesus Christus navolg soos dit opgeteken is in die Evangelies: “Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord van God” (Lukas 4:4).

Dit is duidelik dat Jesus sekerlik dít wat ons die Ou Testament noem, in hierdie stelling ingesluit het, want daar was destyds nog geen Nuwe Testament geskryf nie! Die hele Bybel is deur God geïnspireer en is geskryf sodat ons dit kan bestudeer, verstaan en gehoorsaam. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus” (2 Timótheüs 3:16-17). Die woorde wat in ons eie Bybel vervat is, is die woorde waarvolgens ons behoort te leef en nie enige ander “boeke” wat deur mense geskryf is en wat nie deel van die geïnspireerde manuskrip van Sy Bybel is nie. Die Skrif is bedoel om aan ons weerlegging, teregwysing en onderwysing in geregtigheid te gee. Die meeste kerke laat nie toe dat die Bybel hulle teregwys wanneer hulle verkeerd is nie. Hulle gaan eenvoudig volgens die “tradisies van mense” voort, selfs al word dit keer op keer blootgelê dat hierdie tradisies van die heidendom afkomstig is en dikwels lynreg in teenstelling met die Bybel is!

Wat is u standpunt? Sal u die geloof en die moed hê om hierdie dinge “na te gaan” en te reageer op wat u vind die Waarheid is?

Byna alle geleerdes erken dat die ware Kerk in Openbaring 12 as die bruid uitgebeeld word. Sy word deur die “draak vervolg” wat in vers 9 beskryf word as Satan die duiwel. Alhoewel die ywerige lidmate na ’n plek van veiligheid geneem word, beskryf God in vers 17 dat die duiwel teen die “res” van die ware Kerk gaan oorlog voer – diegene wat agterbly het.

In Openbaring 14:12 gaan God voort om Sy getroue volgelinge te beskryf: “Hier kom die lydsaamheid van die heiliges te pas; hier is hulle wat die gebooie van God en die geloof in Jesus bewaar”. God dui aan dat dit hiérdie mense is wat beskerm sal word gedurende die komende Groot Verdrukking en die verskriklike plae van God wat onmiddellik daarna sal volg!

Maak dit enige verskil hoe u God aanbid? Wil u Sy Goddelike beskerming ervaar in die swaar tye wat voorlê? Natuurlik kan u in die kerk van “u keuse” aanbid – soos die advertensies in godsdienstige Sondagblaaie dikwels sê. Natuurlik kan u die sienswyses van u familie, vriende en medewerkers volg! Sal hulle egter “daar wees” om u tydens die komende wêreldwye ontwrigting te beskerm? Nog belangriker, sal hulle daar wees om u tydens God se oordeel te “red”?

Waarom sal u nie aan uself bewys dat die Bybel die geïnspireerde openbaring van die Skepper is, wat die basiese geestelike kennis is, wat andersins ontoeganklik vir die mensdom sou wees nie? Waarom kyk u nie wat die Woord van God, die Bybel, sê oor waar God se ware Kerk vandag is nie?

Laat die Bybel u besluite lei

Nadat Jesus Christus in die menslike vlees gekom het, het Hy gereeld op die Sabbat mede-Jode in die sinagoge ontmoet. Ons lees in die Evangelie van Lukas: “En Jesus het in die krag van die Gees na Galiléa teruggekeer, en daar het ’n gerug aangaande Hom deur die hele omtrek uitgegaan; en Hy het in hulle sinagoges geleer en is deur almal geprys. Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge en staan op om te lees. En die boek van die profeet Jesaja is aan Hom oorhandig” (Lukas 4:14-17).

Dit was dus Jesus se “gewoonte” om op die sewende-dag Sabbat saam met Sy mede-Jode te aanbid. Dit was Sy beurt as ’n volwasse Joodse man om God se Woord tydens die Sabbatdiens te lees. Die boek Jesaja is aan Hom oorhandig. Nadat Hy ’n gedeelte gelees het wat in werklikheid Sy ware bediening voorspel het, “... begin Hy [om] vir hulle te sê: Vandag is hierdie Skrif in julle ore vervul” (vers 21).

Jesus het die boek van Jesaja “die Skrif” genoem, die Woord van God! Hy leer ons: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan” (Mattheüs 4:4). Hier het die Seun van God bekragtig dat dit wat ons die “Ou Testament” noem, die Skrif is en Hy sê dat ons volgens daardie geïnspireerde Skrif behoort te leef! Dus behoort alle ware Christene – opregte volgelinge van Jesus Christus – gewillig te wees om te leef volgens die geïnspireerde leerstellings van die Skrif, soos Jesus beveel het.

Die oorspronklike ware Kerk was eerstens en altyd op onderrig en prediking van die geïnspireerde Woord van God gefokus! Tydens eredienste het die leraars en ouderlinge die Bybel verduidelik en uitgelê deur direk uit die Bybel te lees en die ware verduideliking aangaande die doel van die lewe asook die Wette van God en Sy plan vir ons almal se lewens aan te dui. Kerkdienste beklemtoon selde indien ooit geskiedenis, filosofie of die “tradisies van mense”.

Alhoewel kerkkore en aktiwiteite beslis geniet kan word, is kerkdienste werklik nuttig slegs in soverre dit volledige verduidelikings en vermanings bied en gelowiges inspireer om die woorde van die Bybel werklik te glo en te gehoorsaam asook om Christus toe te laat om Sy lewe in hulle te leef deur die Heilige Gees (Galasiërs 2:20). Sosialisering en vriendskap is wonderlike kenmerke van die ware Kerk van God. Baie van daardie soort menslike interaksies kan egter ook in die Rotariërklub of “Lions”-klub of ander sosiale forums gevind word. Om voor die Skepper te kom om Hom te aanbid en Sy Waarheid te leer, is op ’n heel ander vlak!

Jesus sê aan ’n heidense vrou wie God op ’n “ander” manier aanbid het: “Vrou, glo My, daar kom ’n uur wanneer julle nie op hierdie berg en ook nie in Jerusalem die Vader sal aanbid nie. Julle aanbid wat julle nie weet nie; ons aanbid wat ons weet, want die saligheid is uit die Jode. Maar daar kom ’n uur, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader in gees en waarheid sal aanbid; want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid. God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid” (Johannes 4:21-24).

Indien u werklik die God van die Bybel en sy Seun Jesus Christus wil dien en aanbid – indien u werklik Hulle seën en beskerming tydens die swaar tye wat voorlê wil geniet – dan behoort u ernstig, aanhoudend en eerlik te probeer om die Kerk wat Jesus Christus gebou het, waarvan Hy die lewende Hoof is, te vind (Efesiërs 1:22). Die Kerk wat werklik Sy volle Waarheid preek en verkondig (Handelinge 28:30-31) en Sy Werk vandag op aarde doen! U moet gewillig, opreg en ywerig wees om die ware God te “soek”. U moet gewillig wees om Hom te dien en te aanbid op die manier wat Hy in Sy geïnspireerde Woord openbaar!

Natuurlik mag dit meer “gerieflik” wees om die kerk van u familie of vriende by te woon, of die naaste kerk in u omgewing. Dit mag meer “pret” wees om ’n kerk wat ’n groot koor of baie aktiwiteite het by te woon. Die Christus van die Bybel waarsku ons ernstig: “En wat noem julle My: Here, Here! en doen nie wat Ek sê nie?” (Lukas 6:46). Waarom wil u dus na ’n kerk gaan waar hele gedeeltes en boeke van die Bybel selde, indien ooit, deeglik in eredienste verduidelik en uiteengesit word? Waar mense wat daar byeenkom nie regtig hulle lewens, gedagtes en aksies deur die kragtige prediking van God se Woord verander nie? Waar die een kwart van die hele Bybel wat geïnspireerde profesie is, selde verduidelik word? Waar die lidmate feitlik geen begrip verkry dat ons nou in die “laaste dae” leef nie? Waar die spesifieke gebeure waarvoor ons moet “waak”, wat Christus se Wederkoms na hierdie aarde sal voorafgaan, nie aan hulle uitgewys word nie?

Waarom sou enigiemand in elk geval sy tyd in so ’n plek wil mors?

Dit is tyd om “wakker te word”!

Namate eindtydse profetiese gebeure versnel – namate die geprofeteerde droogtes, aardbewings, siekte-epidemies en terreurdade begin om ons al hoe meer te raak, sal die handeklappende, singende mense in sommige buurtkerke u kan “red”? Wie kan u en u geliefdes werklik beskerm indien u nie bereid is om die God van die Bybel te soek en “in gees en in Waarheid” te aanbid nie?

Deur die Wêreld van Môre-tydskrif en hierdie Werk is u in kontak gebring met die ware Kerk van God. Indien God werklik u verstand open en indien u die moed het om volgens die Waarheid te handel, dan moedig ek u aan “om deur te druk”. Ondersoek ons selfs meer deeglik. Bewys dat wat ons leer die woorde vanuit u eie Bybel is. Ons leerstellings kan maklik bevestig en bewys word uit die Bybel self, want dit is die Waarheid.

Ek moedig u aan om ons vandag nog te skakel of aan ons te skryf om nog meer van ons gratis literatuur aan te vra. Soos u waarskynlik opgemerk het, is al ons literatuur heeltemal gratis. Daar is twee belangrike boekies wat ek u wil aanmoedig om aan te vra indien u regtig wil verstaan. Hervestig die oorspronklike Christenskap sal vir u ’n openbaring wees van wat regtig met die “hoofstroom” Christendom gebeur het en wat ’n ware Christen behoort te doen. Die boekie Waar is God se ware Kerk vandag? sal dit duidelik uiteensit – met spesifieke bewyse uit die Bybel – wat die belangrike identifiseringstekens van God se ware Kerk is, sodat u kan besef wáár daardie Kerk vandag is.

Die organisasie wat die Wêreld van Môre publiseer streef daarna om regtig die Bybel na te volg. Soos u weet, probeer ons in die Lewende Kerk van God om al die bogenoemde waarhede met ons hele hart te volg. Dit is waarom ons daarna streef om aan die hele wêreld die eindtydse profesieë van die Bybel kragtig te verkondig. Daarom doen ons alles in ons vermoë om die Israelitiese volke oor die komende Groot Verdrukking te waarsku. Met ons hoofkantoor in Charlotte, NC, kantore regoor die wêreld, talle plaaslike gemeentes met hulle eie leraars, wêreldwye radio, televisie, Internetdekking en ’n groeiende uitgewersbedryf, wat hierdie artikel en die Wêreld van Môre-tydskrif insluit, gaan daardie boodskap met toenemende krag uit.

U moet nou besluit wat u omtrent hierdie artikel gaan doen. Moontlik sal dit vir u net nuttig wees om oorweging aan hierdie duidelike Bybelse “identifiseringstekens” te skenk van waar God tans werk – waar Sy ware Kerk vandag is.

Indien u belangstelling egter verder strek – indien God u roep en indien ons u persoonlik van diens kan wees – moet asseblief nie huiwer om aan ons te skryf by die adres van ons kantoor die naaste aan u nie. Ons kan u vrae per pos beantwoord. Andersins, indien u dit aanvra, sal ’n ten volle opgeleide verteenwoordiger van hierdie Werk persoonlik met u kontak maak op ’n tyd en plek wat vir u gerieflik is.

U moet besluit.

Indien u ’n besoek van ’n leraar of verteenwoordiger van hierdie Werk verkies, skakel gerus ons kantoor die naaste aan u, soos gelys onder “Streekkantore” op bladsy 2 van hierdie tydskrif. Skryf of stuur ’n e-pos aan ons naaste kantoor, soos u verkies. Meld net dat u graag ’n besoek verlang en verskaf u adres en telefoonnommer sodat ons verteenwoordiger u kan kontak. Wees verseker dat niemand by u sal opdaag sonder dat u vooraf reël vir ’n geskeduleerde afspraak op ’n tyd, plek en datum wat u verkies nie. Ons leraar of verteenwoordiger sal bloot daar wees om u vrae oor die Bybel of oor hierdie Werk en die Lewende Kerk van God te beantwoord.

Daar sal geen druk op u uitgeoefen word om by enigiets “aan te sluit” nie en geen versoek vir geld vir enige doel nie. U sal egter die geleentheid kry om met ’n ware leraar of verteenwoordiger van die Almagtige God te praat en om ons op ’n persoonlike manier terdeë te ondersoek. U kan navraag doen oor bywoning van eredienste of Bybelstudie indien u dit verkies. Dikwels mag ons leraar selfs voorstel dat u meer van ons literatuur lees en die waarhede van die Bybel meer deeglik aan uself bewys om nog meer seker te wees van u toewyding voordat u enige byeenkomste bywoon. Ons wil hê dat u seker sal wees. Ons probeer om u te dien in u soeke na die ewige lewe in die Koninkryk van God.

Indien God egter werklik u verstand open en u “geroep” is, is ons daarvan oortuig dat u verheug sal wees om ander te ontmoet wat bereid is om hulle lewens aan God en in diens van hulle medemens te stel. U sal ’n groep gelukkige mense vind – dikwels met klein kindertjies – wat hulle Bybels saambring na die eredienste en soos die Bereane “die woord met alle welwillendheid ontvang en elke dag die Skrifte ondersoek of hierdie dinge so was” (Handelinge 17:10-11). Daar sal gewoonlik, afhangende van die grootte van die groep en die plaaslike omstandighede, liedere gesing en aankondigings oor aktiwiteite en nuus van die Werk gedoen word, behulpsame preke gelewer word en ná die byeenkomste met entoesiasme geestelike samesyn geniet word.

Mag God u help, soos ons in 1 Thessalonicense 5:21 lees: “Beproef alle dinge; behou die goeie”. Namate die voleinding van hierdie tydvak vinnig nader kom behoort ons nie alewig doelloos rond te sit en spekuleer nie! God beloon diegene wat ywerig op die Waarheid reageer en alles in hulle vermoë doen om betrokke te raak om Hom en hulle medemense te dien. Jakobus was geïnspireer om aan ons te sê: “En word daders van die woord en nie net hoorders wat julleself bedrieg nie” (Jakobus 1:22). Weereens, maak seker dat u ’n gratis eksemplaar van elkeen van ons uiters nuttige en deeglik gedokumenteerde boekies aanvra, nl. Hervestig die oorspronklike Christenskap en Waar is God se ware Kerk vandag? My vriende, u het werklik hierdie belangrike boekies nodig om aan uself te bewys waar God werk! Gaan oor tot aksie! Kontak ons nou dadelikvoordat u vergeet – en vra u gratis eksemplaar van elk van hierdie boekies aan!

Mag God u help om te verstaan en betrokke te raak terwyl u nog die geleentheid het! U mag nou in u “gemaksone” in ’n ander kerkgenootskap wees. Andersins mag u onder die miljoene “ontkenners” wees – daardie mense wat aan geen kerk behoort nie en dikwels verveeld is óf eenvoudig deur die leemte van “hoofstroom”-godsdiens “afgesit” word. Indien God u nou in hierdie tydvak roep – wil u Skepper hê dat u ’n aktiewe lid van Sy Kerk sal wees deur werklik vir Sy Koninkryk voor te berei en om mense kragtig te waarsku aangaande die komende Groot Verdrukking.

Namate die profetiese gebeure waarvan hierdie Werk u vertel steeds voortgaan om plaas te vind en meer intens raak en namate God u verstand vir die groot Plan open wat Hy hier uitwerk, maak seker dat u daarop reageer. Mag God aan u die begrip, die geloof en die moed gee om tot aksie oor te gaan!