“Gebruik dit of verloor dit” is ’n lewensbelangrike beginsel vir ’n Christelike lewe!

VRAAG: Aangesien die ewige lewe ’n gratis geskenk is van God deur die Heilige Gees, watter rol speel “goeie werke” in die lewe van ’n Christen?

ANTWOORD: Ons kan nie deur ons eie “geregtigheid” en “goeie werke” God oorreed om aan ons die ewige lewe te gee nie. Die Skrif herinner ons: “En ons het almal geword soos ’n onreine, en al ons geregtighede soos ’n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind” (Jesaja 64:6). Ons het almal redding [verlossing] nodig: “... want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God” (Romeine 3:23).

Diegene wat mag aanneem dat hulle deur elke letter van die Wet na te kom die ewige lewe sal verdien, behoort daaraan te dink dat hulle nog nie elke beproewing wat Satan kan bied, ervaar het nie. Voor sy bekering het Saulus gedink dat hy God volkome gehoorsaam. “As iemand anders meen dat hy op die vlees kan vertrou, ek nog meer. Ek is besny op die agtste dag, uit die geslag van Israel, uit die stam van Benjamin, ’n Hebreër uit die Hebreërs; wat die wet betref, ’n Fariseër; wat ywer betref, ’n vervolger van die gemeente; wat die geregtigheid in die wet betref, onberispelik” (Filippense 3:4-6). Saulus het geglo dat hy regverdig was in God se oë, totdat die opgestane en verheerlikte Christus hom op die pad na Damaskus neergevel het (Handelinge 9:1-4).

Die gebooie maak wel saak. ’n Ryk jong man het Jesus gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen om die ewige lewe te beërwe?” (Markus 10:17). Jesus Christus het hom eerstens bestraf en gesê dat niemand behalwe God werklik “goed” is nie. Daarna het Christus voortgegaan om hom te herinner aan die gebooie van God (verse 18-19). Hy het beweer dat hy die gebooie getrou onderhou het, maar Christus het aan hom gesê: “... verkoop alles wat jy het ... kom dan hier, neem die kruis op en volg My” (vers 21). Die ryk jong man het “bedroef weggegaan” (vers 22). Jesus het nie vir die jong man gesê dat onderhouding van die gebooie nie saak maak nie. Christus het eerder daarop gewys dat deur aardse rykdom hoër te ag as die Koninkryk van God, hierdie jong man nie die werke doen wat God van hom verwag nie!

Dit is deur die Heilige Gees in ons dat ons gered word: “... maar die Trooster, die Heilige Gees wat die Vader in My naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het” (Johannes 14:26). Ons ontvang die Heilige Gees na bekering en doop: “En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep” (Handelinge 2:38-39).

Ons is in die proses om “gered” te word (vgl. 1 Korinthiërs 1:18; 2 Korinthiërs 2:15). Ons moet egter nog die proses voltooi: “Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word” (Mattheüs 24:13).

Dit is ’n fout om “geloof” teenoor “werke” te stel. Ons lees: “Maar iemand sal sê: Jy het die geloof en ek die werke. Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon” (Jakobus 2:18). Nie ons werke of die Heilige Gees wat nou in ons is, kan redding waarborg nie. God kan selfs die gawe van die Heilige Gees terugneem, indien ons dit doelbewus verwerp en besluit om nie meer die pad van geregtigheid te volg nie (Hebreërs 6:4-6). Selfs koning Dawid van ouds het die belangrikheid van God se Gees besef en God gevra om dit nie van hom af weg te neem nie (Psalm 51:13). Ons moet versigtig wees om nie die Gees wat God ons gegee het, te “blus” nie (1 Thessalonicense 5:19).

Iemand wat werklik in God en Sy beloftes glo sal onteenseglik daarna streef om Sy Wette te gehoorsaam en die inwonende Heilige Gees, ’n onverdiende gawe van God die Vader, sal ons help om toenemend daaraan gewoond te raak om daardie Wette te gehoorsaam. Indien ons gehoorsaam is en ons onderwerp aan die Gees, sal ons ons foute al hoe meer oorkom namate ons groei in genade en kennis. Ons behoort die gawe van God se Gees te gebruik en die gebruik daarvan sal sigbaar word uit ons werke, anders mag ons dit verloor!