Die pluk van koringare

Oral waar Jesus gegaan het, wil dit voorkom asof die godsdiensleiers van Sy tyd Hom gevolg het om te sien of hulle êrens kon fout vind. Aangesien hulle Jesus se leringe as “onortodoks” afgemaak het, was hulle veral geïnteresseerd daarin om Hom as teenstander van die wet in onguns te bring.

Dit is ironies dat baie van diegene wat vandag daarop aanspraak maak dat hulle Jesus volg, steeds die beskuldiging van die skrifgeleerdes en Fariseërs voorhou, naamlik dat Jesus Sy Vader se wet verbreek, omseil of mee weggedoen het. Hulle verwys soms na Markus 2:23-28: “En terwyl Hy op die sabbat deur die gesaaides loop, het sy dissipels al gaande are begin pluk. Toe sê die Fariseërs vir Hom: Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?” (verse 23-24).

Iemand wat honger is, kan voeding verkry deur ryp koringare te pluk, dit tussen die hande te vryf om die doppe te verwyder en die oorblywende graankorrels te eet. Dit was algemene praktyk in Jesus se tyd en as u in ’n graanstreek woon, het u dit dalk self al gedoen.

Die Fariseërs het nie die dissipels van diefstal beskuldig nie. Dit was geoorloof vir verbygangers om graan te neem wat hy daar en dan kon eet, solank hy nie ’n hoeveelheid ge-oes het om later te eet of te verkoop nie. “As jy in die ongesnyde graan van jou naaste kom, mag jy met jou hand are afpluk; maar ’n sekel mag jy nie swaai in die ongesnyde graan van jou naaste nie” (Deuteronomium 23:25).

Ge-oes?

Ten spyte van hierdie teksvers in Deuteronomium, het die Fariseërs Jesus se dissipels daarvan beskuldig dat hulle op die Sabbat ge-oes het, of dan ten minste soos hulle “oes” omskryf. In die wet wat God aan Moses gegee het, naamlik die Tora of Pentateug (Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium), is dit inderdaad verbode om op die Sabbatdag te oes. “Ses dae moet jy arbei, maar op die sewende dag moet jy rus. In die ploegtyd en in die oestyd moet jy rus” (Eksodus 34:21). Geringe voorbereiding en bediening van voedsel word egter wel op die Sabbat toegelaat.

Hoe het dit dan gekom dat die skrifgeleerdes en Fariseërs die dissipels daarvan beskuldig het dat hulle ge-oes, dus gewerk het, op die Sabbatdag? Nadat die stam van Juda van die Babiloniese ballingskap in Esra se tyd teruggekeer het, het die priesterdom ’n uitgebreide, mondelinge tradisie gehad wat die Tora vertolk het. Hierdie mondelinge rabbynse tradisie, wat later gekodifiseer is as die Misjna, is as gesaghebbend beskou en om ’n punt van hierdie vertolking te verbreek, was in dieselfde lig gesien as die verbreking van ’n bepaalde wet in die Tora, soos byvoorbeeld die wet dat daar nie op die Sabbat gewerk mag word nie. Eksodus 20:8-11 sê: “Gedenk die sabbatdag, dat jy dit heilig. Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen; maar die sewende dag is die sabbat van die HERE jou God; dan mag jy géén werk doen nie - jy of jou seun of jou dogter, of jou dienskneg of jou diensmaagd, of jou vee of jou vreemdeling wat in jou poorte is nie. Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig”.

Is tradisie dieselfde as wet?

Wat behels werk? Die Misjna wat uit die mondelinge rabbynse tradisie van Jesus se tyd kom, lys “veertig minus een” take wat beskou word as “werk” - ’n verbreking van die Sabbat - vir ’n Jood.

Die lys sluit landbou aktiwiteite soos dors en uitwan - die verwydering van die doppe van koringare en verdelinge van die gevolglike kaf van die koring - in (Misjna, Shabbath). Onthou dat ’n oortreding van hul mondelinge tradisie van ’n wet vir die skrifgeleerdes en Fariseërs dieselfde was as die verbreking van ’n wet self. Daarom kon die Fariseërs wat Jesus se dissipels dopgehou het waar hulle die koring pluk en vryf, sê: “Kyk, waarom doen hulle op die sabbat wat nie geoorloof is nie?”, hoewel sodanige aktiwiteit nie spesifiek verban of as “oes” in die Pentateug omskryf word nie.

Dit is interessant dat nie alle antieke Joodse gesaghebbendes met die Fariseërs van Jesus se tyd, saamstem nie. Die skrywers van die Talmoed maak die stelling dat ’n mens op die Sabbat koring-are mag pluk en eet, mits hy die koring met sy vingerpunte vryf en nie met die hele hand nie. ’n Ander deskundige (Rabbi Judah ben El’ai) sê dat dieselfde handelinge uitgevoer kon word, mits ’n werktuig nie gebruik word nie.

Die Fariseërs het hul rol as vertolkers van die wet met jaloesie bewaar en enige verskil hewig teengestaan. Jesus, die Groot Wetgewer in persoon, het egter geweet dat hul redenasies soms verkeerd was. Al Jesus se botsings met die skrifgeleerdes en Fariseërs aangaande die Sabbat, het gehandel oor bewysbare foute in hul mondelinge tradisie aangaande die Tora. In elke geval het Jesus na die Skrif gegaan om te onderrig wat eintlik met ’n spesifieke wet bedoel was en sodoende het Hy die Sabbatsgebod bevestig en uitgebrei. Jesus het nooit gesê dat dit toelaatbaar is om die wet, soos aan Moses gegee, te breek nie en Self sou Hy dit nooit doen nie. Baie skrifverklaarders neem verkeerdelik aan dat Jesus en die Fariseërs verskil het oor die geldigheid van die Sabbatsgebod soos in die Tora gegee. In der waarheid het hulle verskil oor ’n deel van die rabbynse mondelinge tradisie, wat die Misjna geword het. Deur die Fariseërs te wys op die regte vertolking van ’n bepaalde aangeleentheid aangaande die Sabbat, het Jesus nie die Sabbat ondermyn of ontken nie, maar dit bevestig.

’n Verkeerde aanname

Die Fariseërs wat die dissipels daarvan beskuldig het dat hulle die Sabbat-oeswet verbreek het, het ’n verkeerde aanname gemaak. Omdat hulle die goddelike wet primêr gesien het as ’n stelsel beperkings, het hulle aangeneem dat die mees beperkende interpretasie van die wet die mees regverdige was. Sodoende het hulle toenemend meer eng beperkings nagestreef en dus soms die bedoeling van die wet uit die oog verloor.

’n Persoon se lewe bestaan egter nie uit wat hy of sy doen of nie doen nie. Die apostel Paulus skryf: “deur die wet is die kennis van sonde” (Romeine 3:20) en Jesus het verseker bekering van sonde onderrig (Markus 1:15). Hy het Sy dissipels ook geleer om ’n bekeerde lewe te leef, wat ’n hele lewenswyse is - om te doen wat reg is in God se oë. Die Fariseërs moes verstaan wat God se prioriteite was in hul Sabbat-onderhouding.

Toe die Fariseërs sien dat die dissipels koringare pluk, kon hulle die wet genadevol vertolk het en honger manne gesien het, wat voorberei en eet. Pleks daarvan het hulle verkies om die wet in sy mees beperkende sin te sien, wat oes en uitwan verbied. Was hul tradisionele vertolking wat God sou wou hê? Jesus kies ’n Bybelse presedent om te wys dat hulle verkeerd was: “En Hy sê vir hulle: Het julle nooit gelees wat Dawid gedoen het nie - toe hy in die nood was, en hy en die wat by hom was, honger gehad het - hoe hy in die huis van God gegaan het in die tyd van Ábjatar [seun van Ahiméleg], die hoëpriester, en die toonbrode geëet het wat vir niemand behalwe die priesters geoorloof is om te eet nie; en ook aan die wat saam met hom was, gegee het? En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat” (Markus 2:25-28).

Terug na Dawid

Baie mense glo dat Jesus Sy reg laat geld het om die Sabbat te verbreek wanneer Hy wou (en dat Sy dissipels by uitbreiding ook kon) of dat Hy op ’n manier met een van die Tien Gebooie weggedoen het. ’n Vinnige kykie na die werklike Bybelse weergawe waarna Jesus verwys het, onthul egter Sy ware bedoeling.

“En Dawid het in Nob gekom by die priester Ahiméleg; en Ahiméleg het Dawid bewend tegemoetgegaan en hom gevra: Waarom is u alleen, en is daar niemand by u nie? En Dawid sê aan die priester Ahiméleg: Die koning het my ’n opdrag gegee en aan my gesê: Laat geen mens iets van die saak weet waarvoor ek jou stuur en wat ek jou opdra nie. Daarom het ek die dienaars ’n sekere plek aangewys. Maar nou, wat is hier by u? Gee vyf brode in my hand, of wat beskikbaar is. En die priester het Dawid geantwoord en gesê: Hier is geen gewone brood by my nie; hier is net heilige brood. As die dienaars hulle maar net vir vroue in ag geneem het. Toe antwoord Dawid die priester en sê vir hom: Sekerlik is die vroue aan ons onthou soos altyd wanneer ek uittrek. Dus is die uitrustings van die dienaars heilig, alhoewel dit ’n ongewyde onderneming is - hoeveel te meer as hulle vandag deur die uitrusting geheilig word! Toe gee die priester hom die heilige brood, want daar was geen ander brood nie, behalwe die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem word, om vars brood neer te sit op die dag as dit weggeneem word” (1 Samuel 21:1-6).

Jesus erken teenoor die Fariseërs dat dit onwettig is vir ’n ongeheiligde persoon om van die toonbrode in God se tabernakel te eet en dit was waar dat slegs die priesters normaalweg geheilig en seremonieel geskik was om dit te eet. Waarom het die Hoëpriester Dawid egter gevra of enige van die manne die afgelope drie dae by vroue was? Slegs een insident in die Bybel koppel drie dae van onthouding met seremoniële heiliging van nie-priesters. Ahiméleg het verwys na lank gelede, toe die Tien Gebooie by Sinai gegee is vir ’n wettige manier om genade te betoon aan die honger manne. “Toe het Moses van die berg af na die volk gegaan en die volk geheilig, en hulle het hul klere gewas. En hy het aan die volk gesê: Hou julle klaar teen die derde dag; moenie naby die vrou kom nie … Daarop het Moses die volk uit die laer gelei om God te ontmoet, en hulle het gaan staan by die voet van die berg” (Eksodus 19:14-15, 17).

Op hierdie wyse het God die hele vergadering toegelaat om seremonieel geheilig te word, sodat hulle voor Hom mag verskyn het, om die uitspreek van die gebooie te hoor.

Nie onwettig

Die Hoëpriester het nie vir Dawid en sy manne gesê dat hulle iets onwettig mag doen nie. Hy het ’n wettige bevinding gemaak, gegrond op ’n antieke presedent wat God deur Moses geskep het en sodoende genade aan die honger, moontlik verhongerde, manne betoon. Hierdie bevinding het die manne toestemming gegee om te eet, omdat hulle seremonieel geheilig was deur hul drie dae lange onthouding. Selfs ’n priester moes seremonieel geheilig wees om die toonbrode wettig te eet (hoewel hierdie heiliging anders gedoen is). Die Hoëpriester kon baie maklik ’n meer beperkende siening gehad het, maar hy het verstaan dat dit nie die mees regverdige benadering sou wees nie. Let ook daarop dat Dawid klaarblyklik onmiddellik Ahiméleg se verwysing herken, so is daar ’n moontlikheid dat die drie dae onthouding reëling ’n bestaande mondelinge tradisie was, waarvan Dawid kennis gedra het.

Onder ander omstandighede sou die optrede van Dawid, sy manne en die Hoëpriester onwettig gewees het, maar Jesus dui aan dat Dawid se optrede in hierdie geval nie onwettig was nie. Sommige mense sê dat Jesus sy dissipels se verbreking van die wet geregverdig het, omdat Hy gedink het dat Dawid die wet gebreek het, maar inderwaarheid verwys Jesus na hierdie insident omdat beide Sy dissipels, sowel as Dawid se optrede, wettig en regverdig was.

In ’n parallelle vertelling in Mattheus 12, haal Jesus aan uit Hosea 6:6: “Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat” (Mattheus 12:7-8).

Jesus wys aan die Fariseërs dat hul tradisionele vertolking van die Tora in hierdie geval verkeerd was. Vir Sy bevinding haal Hy Dawid se Hoëpriester aan wat Moses aangehaal het, wat God aangehaal het. Omdat ons weet dat Jesus die God van die Ou Testament was, haal Jesus Homself in effek aan. Hy is inderdaad “die Here ook van die Sabbat” en omdat Hy dit vir die mensdom gemaak het, is dit Sy reg om dit vir die mensdom te vertolk. Sodoende het Hy die Sabbat uitgebrei en bevestig.

Wat is …

Die Tora?

In Hebreeus “Lering” of “Onderwysing”. In Judaïsme, in die wydste sin die wese van goddelike openbaring aan Israel, die Joodse volk; God se onthulde lering of riglyn vir die mensdom. Die betekenis van “Tora” is dikwels beperk om die eerste vyf boeke van die Ou Testament aan te dui en word ook die “Wet” of “Pentateug” genoem; Genesis, Eksodus, Levitikus, Numeri en Deuteronomium. Die term “Tora” word ook gebruik om die hele Hebreeuse Bybel aan te dui. Omdat die wette en gebruike wat deur mondelinge tradisies oorgedra was, vir sommige Jode ’n onafskeidbare deel uitgemaak het van God se openbaring aan Moses en die “mondelinge Tora”, word die Tora ook verstaan om beide die Mondelinge sowel as die Geskrewe Wet in te sluit” (Encyclopaedia Britannica, “Torah”).

Die Misjna?

Die Misjna wat in Hebreeus, herhaalde studie beteken “... is die oudste gesaghebbende na-bybelse versameling en kodifisering van Joodse mondelinge wette, stelselmatig saamgestel deur verskeie geleerdes (die tannaim genoem), oor ’n tydperk van ongeveer twee eeue. Die kodifisering was vroeg in die 3de eeu ’n finale vorm gegee deur Judah ha-Nasi. Die Misjna is aanvullend tot die geskrewe of Bybelse wette van die Pentateug. Dit verskaf verskeie vertolkings van uitgesoekte wetlike tradisies wat mondeling behoue gebly het sedert, ten minste die tyd van Esra (rondom 450 v.C.)” (op.cit., “Mishna”).

Die Talmoed?

In Hebreeus “Studie” of “Leer” “Hoewel die Misjna die mees omvattende versameling Joodse wette tot daardie tyd bevat, was dit nie bedoel om sake te besleg wat teenstellende vertolkings behels nie. Feitlik dadelik, het Joodse geleerdes in Palestina en Babilon begin om uitgebreide vertolkings van die Misjna te verwerk wat bekend staan as die Gemara. Nadat die werk verskeie eeue later voltooi was, was die Misjna en Gemara tesame opgeneem en die “Talmoed” genoem” (op. cit., “Halakhah”).