Sedert die Toring van Babel het baie mense probeer om ’n enkele wêreldregering te vestig, maar jammerlik misluk. Die Bybel profeteer egter dat ’n een-wêreldregering in die toekoms ’n werklikheid sal word.

Bybelse profesieë vertel aan ons dat ’n eindtydse wêreldmoondheid die wêreldhandel, internasionale politiek en militêre mag sal oorheers en die mensdom tot op die randjie van algehele selfvernietiging sal lei. Dit sal egter nie die soort wêreldregering wees wat die samesweringsteoretici verwag nie en dit sal gevolg word deur selfs ’n groter regering wat uiteindelik ware vrede na die hele wêreld sal bring!

So lank terug soos die Toring van Babel het die mensdom van ’n een-wêreldregering gedroom. Alhoewel God die mensdom beveel het om oor die aarde te versprei, het hulle in teenstelling met hulle Skepper se wil, verkies om op een plek te bly. Dit was egter nie God se wil dat die mensdom op een plek onder een menslike regering sou verenig nie en Hy het ingegryp om die mensdom oor die aarde te verstrooi deurdat Hy hulle verskillende tale gegee het. (Génesis 11:1-9). Sedertdien het elke koninkryk van die mensdom wat verrys het om so ’n vlak van mag te soek, uiteindelik self tot sy val gekom.

Sal die wêreld ooit onder die beheer van ’n enkele wêreld-oorbruggende regering wees? Indien so ’n wêreldwye gesag wel uit die mense tot stand kom, wat kan ons te wagte wees? Sal dit ons hoop of ons vrese vervul? U Bybel het die antwoorde! God se Woord vertel nie slegs van ’n toekomstige gewelddadige, wrede menslike regering wat beheer oor die hele aarde sal nastreef nie, maar ook van ’n suksesvolle wêreldwye regering wat uiteindelik die vrede sal bring wat die mensdom al so lank begeer. U behoort te weet wat die toekoms van die wêreld en die toekomstige een-wêreldregering sal wees!

’n Geskiedenis van mislukte pogings

Ryke wat die wêreld in die verlede oorheers het, het elkeen ’n hoogtepunt in hulle mag bereik, maar het uiteindelik tot ’n val gekom. Die groot Babiloniese Ryk het byvoorbeeld baie nasies verower, met inbegrip van die koninkryk van Juda in die Midde-Ooste. Hierdie groot ryk het met die beroemde hangende tuine van Babel gespog – een van die sewe wonders van die antieke wêreld. Die antieke geskiedkundige, Herodotus het geskryf: “Benewens die grootte daarvan ... oortref Babilon in glansrykheid elke stad wat aan die wêreld bekend is”. Die verdorwenheid en sedelike verval daarvan het egter tot God se oordeel gelei. Die skrif was aan die muur en die Persiese leër het die sogenaamde onindringbare stad Babilon verower.

Is sulke drome van ’n een-wêreldregering verby? Daar is selfs vandag uitroepe vir ’n een-wêreldregering om ons kritieke wêreldwye konflikte en probleme op te los. Sommige Europeërs verwag ’n herlewing van die ou Romeinse Ryk. Die moderne parlementsgebou van die Europese Unie in Straatsburg roep herinnerings op van hierdie antieke verhaal van die Toring van Babel, wat deur sy onvoltooide struktuur sigbaar weerspieël word en wat die hoop van die EU verteenwoordig om die vele volke en tale vreedsaam onder sy invloed te verenig.

Sulke verwagtings vir Europa spruit uit die vasteland se ervaring van twee verwoestende wêreldoorloë wat op sy grondgebied gewoed het. Sal sulke pogings egter in die hande van nasionalistiese leiers slaag? Die geskiedenis leer ons wat om te verwag.

Aan die einde van die Eerste Wêreldoorlog het die president van Amerika, Woodrow Wilson, ’n volkebond voorgestel wat sou saamwerk om wêreldvrede te skep. Die instelling het misluk en die wêreld het net ’n geslag later nog ’n wêreldoorlog beleef. Na die Tweede Wêreldoorlog in 1945, is die Verenigde Nasies vir dieselfde doel saamgestel. Tog is die onrus in die wêreld rondom ons vandag ’n ontnugterende bewys dat die 193 lidlande van die Verenigde Nasies nie die weg tot volhoubare wêreldvrede gevestig het nie. Die Europese Unie het ook met die druk van nasionalisme geworstel.

In ’n Mei 2015 pouslike omsendbrief het Pous Francis gesê: “Dit is noodsaaklik om sterker en doeltreffender georganiseerde internasionale instellings in te stel, met ampsdraers wat regverdig volgens ’n ooreenkoms tussen nasionale regerings aangewys en bemagtig word om sanksies op te lê ... Daar is ’n dringende behoefte aan ’n ware wêreldwye politieke gesag, soos my voorganger, Blessed John XXIII, ’n paar jaar gelede aangedui het” (Laudato Si, 175).

Menslike regerings, menslike swakhede

Wie sal in beheer wees van so ’n “ware wêreldwye politieke gesag”? Politieke owerhede het deur die geskiedenis heen die selfsugtige doelwitte van wêreldoorheersing weerspieël. Benito Mussolini het ’n herlewing van die Romeinse Ryk beoog. History.com beskryf sy ambisies akkuraat:

As gevolg van Benito Mussolini se selferkende “dors na militêre glorie” het hy met sy skrander intelligensie, psigologiese skerpsinnigheid en politieke uitgeslapenheid, geveg vir beheer oor sy militêre beleid. Oorspronklik ’n revolusionêre sosialis, het hy sy party verlaat om voorspraak te maak vir Italiaanse ingryping in die Eerste Wêreldoorlog. Ná die oorlog, waarin hy as ’n skutter gedien het, het Mussolini besluit dat dit sy roeping is om as ’n moderne keiser oor Italië te regeer en om die Romeinse Ryk te herbou. Hy het die paramilitêre Fascistiese beweging in 1919-1921 tot stand gebring en dit gebruik om na Rome op te ruk, eerste minister te word en om dan die diktatoriale mag oor te neem (1925-1926) (History.com, “Benito Mussolini”).

Italië het met Duitsland verenig en hulle “Spilmoondheid” het ’n nederlaag aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog gely. Sal daar egter nog ’n poging wees om die Romeinse Ryk te laat herleef? Ons het daardie onderwerp al verskeie kere in die Wêreld van Môre bespreek. Die boek Openbaring in u Bybel beeld ’n simboliese dier uit wat ’n magtige militêre, politieke en ekonomiese supermoondheid verteenwoordig en wat geskiedkundig die Romeinse Ryk verpersoonlik het. Openbaring voorspel ’n finale herlewing van daardie ryk en sy invloed op wêreldregering.

Hierdie supermoondheid wat wêreldwyd sal regeer, is nou in die vormingstadia. Hierdie geprofeteerde eindtydse herlewing van die Romeinse Ryk sal deur ’n magtige leier gelei word wat “die dier” genoem word. Let op dat Openbaring 17 vertel dat tien konings of koninkryke, wat deur horings op ’n dier gesimboliseer word, hulle soewereiniteit aan hierdie diktator sal “oorgee”: “En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier. Hulle het een gesindheid en sal hulle krag en mag oorgee aan die dier” (verse 12-13).

Hierdie supermoondheid sal met politieke, ekonomiese en militêre gesag spog. Die wêreldryke van die verlede het militêre mag gebruik om kragtige beheer oor nasies te verkry. Hans Morgenthau, een van die bekendste outeurs van internasionale politiek van sy tyd, het die “stryd vir mag en vrede” in sy klassieke boek, Politics Among Nations, bespreek. Morgenthau gee ’n opsomming van wat hy ’n valse oplossing vir wêreldoorwinning noem:

Dit is duidelik dat ’n wêreldstaat wat deur verowering geskep word en wat nie die ondersteuning van ’n wêreldgemeenskap geniet nie, slegs ’n kans het om vrede binne sy grense te handhaaf indien dit volkome dissipline en lojaliteit onder die miljoene soldate en polisiebeamptes kan skep en handhaaf wat nodig is om sy heerskappy op ’n onwillige mensdom af te dwing. So ’n wêreldstaat sou ’n totalitaristiese monster wees wat op voete van klei rus en die blote gedagte daaraan is vreesaanjaend. (Politics Among Nations, Vierde Uitgawe, bl. 496).

Antieke profesieë van ons tyd

U Bybel beskryf wel ’n eindtydse wêreldmoondheid met voete van klei! Die profeet Daniël beskryf simbolies vier wêreldregerende ryke wat met die finale herleefde Romeinse Ryk eindig. God het aan Nebukadnésar, die koning van antieke Babilon, ’n droom van opeenvolgende wêreldwye koninkryke gegee. Die Joodse profeet Daniël is voor die koning gebring om die droom te verklaar en ons lees van sy beskrywing van die beeld in Daniël 2:31-34:

U, o koning, het ’n gesig gehad—kyk, daar was ’n groot beeld; hierdie beeld was hoog, en sy glans was buitengewoon; dit het voor u gestaan en sy voorkoms was vreeslik. Wat die beeld betref, sy hoof was van goeie goud, sy bors en sy arms van silwer, sy buik en sy lendene van koper, sy bene van yster, sy voete gedeeltelik van yster en gedeeltelik van klei. U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en klei en dit fyngestamp het.

Watter ryke of koninkryke het hierdie beeld gesimboliseer? Die meeste hoogaangeskrewe Bybelgeleerdes stem saam oor hulle identiteite.

Daniël het aan die koning gesê dat die kop van goud, Nebukadnésar self asook sy ryk van Babilon verteenwoordig. Hierdie ryk is met die Medo-Persiese Ryk vervang en dit verteenwoordig die bors en arms van silwer. Die buik en dye van brons verteenwoordig die Grieks-Macedoniese Ryk van Alexander die Grote en die twee bene van Yster verteenwoordig die Romeinse Ryk vanaf 31 v.C. tot 476 n.C. Ten slotte verteenwoordig die tien tone aan die twee voete van yster wat met keramiek-klei gemeng is, ’n toekomstige herlewing van die Romeinse Ryk.

Bybelprofesie openbaar dat ’n groot supermoondheid in Europa sal opstaan en dat dit ’n herlewing van die Romeinse Ryk sal wees. Dit sal ’n groot politiese, militêre en ekonomiese moondheid wees. U kan van sy ekonomiese mag in Openbaring 18 lees. Die Almagtige God waarsku ons om nie aan die sondes van hierdie wêreldregering deel te hê nie! Die apostel Johannes skryf in Openbaring 18:4-5: “En ek het ’n ander stem uit die hemel hoor sê: Gaan uit haar uit, my volk, sodat julle nie gemeenskap met haar sondes mag hê en van haar plae ontvang nie. Want haar sondes reik tot aan die hemel, en God het haar ongeregtighede onthou.”

Hierdie finale eindtydse Diermoondheid wat die wêreld sal regeer sal nie deur Jesus Christus ondersteun word nie, maar deur ’n valse mag wat deur die “draak”, Satan die duiwel, gelei word. Soos Openbaring 13:5-8 verklaar:

En ’n mond is aan hom [die Diermoondheid] gegee wat groot woorde en godslasteringe uitspreek, en aan hom is mag gegee om dit twee-en-veertig maande lank te doen. En hy het sy mond oopgemaak om te laster teen God, om sy Naam en sy tabernakel en die wat in die hemel woon, te laster. Dit is ook aan hom gegee om oorlog te voer teen die heiliges en hulle te oorwin, en aan hom is mag gegee oor elke stam en taal en nasie. En al die bewoners van die aarde sal hom aanbid, almal wie se name nie van die grondlegging van die wêreld af in die boek van die lewe van die Lam wat geslag is, geskrywe is nie.

’n Totaal verskillende wêreldregering

Om na Nebukadnésar se droom terug te keer – hier sien ons dat die standbeeld wat wêreldoorheersende magte verteenwoordig het en wat eindig met die herleefde Romeinse Ryk, vernietig is. Hoe? Daniel verduidelik só aan koning Nebukadnésar:

U het gekyk totdat daar sonder toedoen van mensehande ’n klip losraak wat die beeld getref het aan sy voete van yster en van klei en dit fyngestamp het. Toe is tegelykertyd die yster, die klei, die koper, die silwer en die goud fyngestamp, en dit het soos kaf geword van die dorsvloere in die somer, wat die wind wegneem, sodat daar geen spoor van gevind is nie; maar die klip wat die beeld getref het, het ’n groot rots geword wat die hele aarde gevul het (Daniël 2:34-35).

Die klip wat die wêreldse ryke verslaan het, het die toekomstige Koninkryk van God verteenwoordig. Soos Daniël verklaar het: “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ’n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan” (Daniël 2:44).

Hierdie finale regering wat sal kom en wat deur die klip uitgebeeld word, sal nie maar net nog een van die mens se vele eksperimente van selfregering wees nie – hetsy dit sosialisme, kommunisme, fascisme, monargie, demokrasie of enige van die ander vorms van regering wees wat die mensdom uitgedink het nie.

Wat hulle regeringsvorm ookal is, leef vandag se nasies die weg van dieselfde soort selfsugtige mag wat tot die Derde Wêreldoorlog en die Groot Verdrukking, waarvan Jesus in Matthéüs 24:21-22 gepraat het, sal lei!

Die goeie nuus is dat die toekomstige wêreldregering, wat deur die klip uitgebeeld word en wat “sonder toedoen van mensehande losgeraak” het, alle mense en nasies sal bevoordeel. Daardie regering word die Koninkryk van God genoem! Die Heerser van daardie Koninkryk sal Jesus Christus, die Koning van die konings en die Here van die here wees – die Een wat weet hoe dit is om mens te wees. Die Een wat Sy bloed gestort het sodat ons sondes vergewe kan word.

Onthou hoe Johannes die Doper van die Messias, Jesus Christus, in Johannes 1:29 getuig het: “Die volgende dag sien Johannes Jesus na hom toe kom, en hy sê: Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Ja, hierdie toekomstige wêreldheerser sal ’n liefdevolle, medelydende Koning wees. Hy sal egter ook die mag hê om ’n einde aan onderdrukking, opstand, ongeregtigheid en oorlog te maak. Die profeet Jesaja gee aan ons hierdie inspirerende boodskap oor die toekomstige wêreldregering: “Want ’n Kind is vir ons gebore, ’n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors – tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde” (Jesaja 9:6-7).

’n Regering van ware vrede

Dank God vir Sy liefdevolle soort regering wat wêreldvrede vir alle nasies sal verseker! Die wêreld sal ’n universele regstelsel hê ten einde goddelike vryheid te verseker. Let op wat sê Miga 4:2: “En baie nasies sal heengaan en sê: Kom, laat ons optrek na die berg van die Here en na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons in sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die Here uit Jerusalem.”

Jerusalem, die stad van konflik in ons dag en tyd, sal uiteindelik sy naam as stad van vrede gestand doen. Regoor die wêreld sal voormalige verdedigingsnywerhede wat militêre wapens vervaardig, in bedrywe van vrede omskep word. Christus sal oorlogsugtige volke en nasies bestraf. Die wapens van oorlog sal in instrumente van vrede en produktiwiteit verander word. Sommige van u wat hierdie artikel lees, het dalk al die beeldhouwerk van ’n man wat ’n swaard in ’n ploegskaar omskep, in die tuin van die Verenigde Nasies in New York gesien. Stel u voor hoe die wêreld sal verander van destruktiewe metodes tot produktiewe metodes, soos wat ons in Miga 4:3 lees: “En Hy sal oordeel tussen baie volke en regspreek vir magtige nasies tot in die verte; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.”

Wie sal Christus help om oor die nasies te regeer en daardie vrede te vestig? Die apostel Petrus het Jesus een keer gevra watter verantwoordelikhede hy en sy mede-apostels in die toekomstige tyd sal hê. In Matthéüs 19:28 lees ons van die Messias se antwoord: “En Jesus sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle dat julle wat My gevolg het, in die wedergeboorte wanneer die Seun van die mens op sy heerlike troon gaan sit, julle ook op twaalf trone sal sit en die twaalf stamme van Israel sal oordeel.”

God se regering sal georganiseerd wees en daar sal getroue goewerneurs, konings en priesters wees. Wie sal ook vir Christus help om oor die wêreld te regeer? In ons gratis inspirerende boekie, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? skryf dr. Roderick Meredith in verband met die organisasie van God se Koninkryk:

Wie sal onder Christus heers? God het Abraham verseker opgelei vir ’n posisie van hoë verantwoordelikheid in die wêreld wat voorlê. Die Skrif noem Abraham ‘die erfgenaam van die wêreld’ (Romeine 4:13). Ja, God sal Abraham vir sy geloof beloon deur aan hom ’n posisie van diens oor die hele aarde te gee!

In Eségiël 37:15-28 toon God dat Hy Israel en Juda weer sal herenig. Wat hierdie twee nasies betref, sê Hy: “En Ek sal hulle een volk maak in die land, op die berge van Israel; en een Koning sal vir hulle almal koning wees; en hulle sal nie meer twee nasies wees nie en verder nie meer in twee koninkryke verdeeld wees nie” (vers 22) (bl. 6).

Soos wat ons in Handelinge 13:22 lees, was die antieke koning Dawid ’n man na God se eie hart. Dawid het oor die gekombineerde koninkryke van Juda regeer en hy en Israel sal weer daardie verantwoordelikheid in die toekomstige wêreldregering hê (Eségiël 37:24). Indien u nie ’n eksemplaar van hierdie gratis inligtingsbron, Die Wêreld van Môre: Hoe sal dit daar uitsien? het nie, kan u ons gerus kontak by u naaste streekkantoor, soos gelys op bladsy 2 en u eie eksemplaar aanvra.

U rol in die wêreld van môre!

Ons kan dus verwag dat vername Bybelse toonaangewende persone soos Abraham, Isak, Jakob en Dawid, posisies in die toekomstige een-wêreldregering van God sal hê, maar wat van u? Sal vandag se Christene ook die Koninkryk beërwe? Wat sal hulle rol in daardie Regering wees?

Jesus Christus het aan sy getroue volgelinge gesê dat hulle die aarde (Matthéüs 5:5) en die Koninkryk sal beërwe (Matthéüs 25:34).

Waar sal die heiliges, die getroue Christene, dien en heers in die Koninkryk? Openbaring 2:26 vertel aan ons dat diegene wat in hierdie lewe met Christus se hulp die sonde oorwin, gesag gegee sal word oor die nasies in die toekomstige wêreld. Openbaring 5:10 getuig ook: “... en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.”

Ja, u kan ’n persoonlike en intieme aandeel in God se Koninkryk hê! God roep mense uit alle nasies na Christus om in Sy Koninkryk te wees. Die een-wêreldregering kom binnekort. U behoort daarvoor voor te berei. Bestudeer u Bybel. Visualiseer die veranderde wêreld onder die Koning van die konings.

Die glorieryke Koninkryk van God op aarde sal soveel skoonheid en produktiwiteit voortbring soos wat die wêreld nog nooit beleef het nie. God het die aarde geseën met ontsagwekkende, majestueuse berge, vrugbare valleie en produktiewe vlaktes. Ons verwonder ons aan die ongerepte mere en woelende oseane. Ons waardeer die verskeidenheid blomme, plantlewe, voëls, diere en seelewe. Selfs die natuur sal nog mooier word in die wêreld van môre wanneer selfs die diere se natuur sal verander. Jesaja gee vir ons hierdie visie van die toekomstige 1,000-jarige tydperk van Christus se heerskappy saam met die heiliges:

Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Jesaja 11:6-9).

Daardie nuwe wêreld kom binnekort! U behoort te bid, “... laat u koninkryk kom”! U behoort die verloop van profetiese neigings en tekens dop te hou wat Christus se Wederkoms voorafgaan!