Ek erken ek is geskok! Voordat ek u egter vertel waarom, laat ek met ’n verwante ompad ’n soortgelyke aangeleentheid verduidelik.

Films bied ’n verwronge beeld van die werklikheid, nogtans vorm dit ons siening oor baie onderwerpe, soos byvoorbeeld geskiedenis en kultuur. Ek het op militêre basisse grootgeword waar teaters so min as 15 of 25 sent toegangsfooi gevra het om elke dag of twee ’n nuwe vertoning te sien. Ek het dus my deel van “D-gegradeerde” [swak gehalte] films gesien. Nee, hierdie gradering is nie ’n mededinger van die Motion Picture Association se G en R-graderings wat eers in 1968 begin het nie. Die nie-amptelike “D”-gradering het beteken dat ’n film ’n lae standaard tema en middelmatige akteurs gehad het. ’n Voorbeeld hiervan sou ’n swart en wit film wees van ’n ontsnapping uit ’n tronk.

Sommige aksie-films word verfilm om te lyk of dit in Shanghai, Hong Kong of Kanton plaasgevind het. Een van dié wat beter was, was Soldier of Fortune met Clark Gable en Susan Hayward, maar Asië was, om die een of ander rede, gewoonlik die agtergrond van tonele waarin rampokkers en twyfelagtige karakters deur die besige strate hardloop. Ek het daardie plekke as uitsonderlike gevaarpunte beskou – omdat die films dit so uitgebeeld het.

In die daaropvolgende jare het ek geleer dat Israel ook ’n skrikwekkende plek was om heen te reis. Koerante en televisienuus het dit so uitgebeeld. Terwyl ek egter in 1978 die geleentheid gehad het om na Israel te reis, het ek werklikwaar veiliger gevoel as in New York. In 1984 vind ek Shanghai, Beijing en ander stede in China baie anders as wat ek verwag het. Ek het geen rampokkers teëgekom nie – net nuuskierige mense wat nie daaraan gewoond was om buitelanders te sien nie. Sedertdien het ek na Guangzhou (voorheen Kanton), Hong Kong en ander stede in China en Asië gereis en daar het ek veiliger gevoel as in sommige dele van Chicago, Los Angeles en selfs Kansas City.

 

Vandag se gruwelike geweld

Om veilig te voel én veilig te wees, is natuurlik twee verskillende aangeleenthede. Ons pas vinnig aan by bekende omgewings. Oor die algemeen voel die meeste Amerikaners – maar beslis nie almal nie – veilig waar hulle woon (“Most Americans feel safe in their own community, big cities still scare many,Today.YouGov.com, 8 September 2020). Dit is duidelik dat die Verenigde State van Amerika nog steeds die gewildste tuiste vir baie mense is – vra maar net die duisende immigrante wat die suidelike grens oorsteek – maar wat van mense in meer welvarende lande? Lyk die “land of the free and home of the brave” al hoe meer na een van daardie films met rampokkers wat in ’n geheimsinnige en gevaarlike stad rondhardloop? Wat dink buitestaanders van Amerika? Wonder hulle dalk waarom iemand dit daar sou wou waag?

Die jaar 2021 was ’n gewelddadige jaar in Amerika. Dit wil voorkom asof ons elke tweede dag van ’n massaskietery hoor. Dit is egter nie wat die feite openbaar nie – dit is baie erger as dit. Gun Violence Archive dokumenteer meer as 350 skietvoorvalle gedurende die eerste ses maande van 2021 waarin vier of meer persone – buiten die aanvaller – in ’n enkele voorval gewond of gedood is. Dit is gemiddeld ongeveer 1,8 massaskietvoorvalle per dag – byna 13 voorvalle per week! Op 30 Junie 2021 was daar 30 massaskietvoorvalle per dag met agt of meer slagoffers en daar was reeds 25 massaskietvoorvalle binne die eerste vyf dae van Julie! Ons kan ons net indink wat die res van die wêreld dink – “Daardie waansinnige Amerikaners en hulle gewere”. Daarom het ek aan die begin van hierdie persoonlike brief aan u erken dat ek geskók is oor hoe erg dit werklik is (“Mass Shootings in 2021,GunViolenceArchive.org, opgestel op 8 Julie 2021).

Die VSA het die meeste vuurwapens per capita volgens enige maatstaf, maar Switserland, met byna 46 vuurwapens per 100 mense, het sedert 2001 geen massaskietvoorvalle gehad nie. Dit is duidelik dat die vuurwapenkulture van hierdie twee lande verskillend is, maar die VSA is nie die enigste land waar geweld met betrekking tot vuurwapens buite beheer is nie. “Die Mexikaanse nasionale veiligheidstelsel ... berig dat 29,406 gevalle van moord in 2019 plaasgevind het, wat 34,588 slagoffers geraak het” en baie hiervan was vuurwapengeweld (“Justice in Mexico releases 2020 Organized Crime and Violence in Mexico Report,JusticeInMexico.org, 30 Julie 2020).

 

Môre se vreedsame wêreld

Alhoewel ons geskok is wanneer ons medemense so min waarde heg aan menslike lewe, behoort dit nie ’n totale verrassing te wees indien ons lees wat die Bybel sê oor die tyd waarin ons lewe nie. Ek het grootgeword en ’n algemene Protestantse kerk bygewoon, maar in al daardie tyd het ek nooit ’n preek oor Bybelse profesie gehoor nie. Waarom? Ten minste ’n kwart van die Bybel is profesie Dit is waar dat kerke vandag meer gereeld oor profesie praat as gedurende my vormingsjare – maar diegene wat dit doen, gebruik byna nooit die regte sleutels om profesie te ontsluit nie.

Die tydskrif Wêreld van Môre en die Tomorrow’s World se beeldsending kondig met vrymoedigheid en akkuraatheid die Wederkoms van Jesus Christus aan – om oor die mensdom te heers. Dit mag dalk vreemd wees vir almal wat nie volle vertroue het in die werklikheid van God se bestaan nie. Behoort dit egter vreemd te wees vir diegene wat werklik glo dat Jesus uit die graf opgewek is? Is die een moeiliker om te glo as die ander?

Tensy Hy weer kom, is ons almal gedoem. Indien ons glo dat Jesus die Seun van God is, glo ons dan Sy woorde? Jesus het gewaarsku dat die mensdom op die rand van uitwissing sou kom en slegs deur Sy ingryping sal dit verhoed word (Matthéüs 24:21-22). So ’n uitwissing was nie moontlik toe Jesus hierdie voorspelling gemaak het nie, maar sedert die uitvinding van die atoombom en ander tegnologieë, is dit nou moontlik. Die Wederkoms van Christus is van kardinale belang om ’n einde te maak aan die bloedbad wat ons vandag sien – absoluut noodsaaklik vir ons voortbestaan.

Die aand voordat Hy gevange geneem is om gekruisig te word, het Jesus aan Sy dissipels gesê: “En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is” (Johannes 14:3). Waar sal Hy dan wees? Die Bybelse antwoord is ondubbelsinnig.

Na Sy opstanding het Jesus vir 40 dae lank aan baie getuies verskyn. Uiteindelik het Sy dissipels op die Olyfberg gevra wanneer Hy Sy Koninkryk sou vestig. Sy antwoord? Hulle moes nie bekommerd wees oor wanneer nie, maar hulle moes die Werk doen waarvoor Hy hulle geroep het. Nadat Hy op hierdie manier gereageer het, het Hy in die lug opgevaar en in ’n wolk verdwyn. Terwyl die verskrikte Apostels staan en toekyk, verskyn twee engele as mense wat praat en sê: “Galilése manne, waarom staan julle en kyk na die hemel? Hierdie Jesus wat van julle opgeneem is in die hemel, sal net so kom soos julle Hom na die hemel sien wegvaar het” (Handelinge 1:11).

Ons lees ook: “En die Here sal Koning wees oor die hele aarde” (Sagaría 14:9). Daar word ook aan ons vertel dat wanneer die sewende basuin geblaas word, sal daar “groot stemme in die hemel [wees] wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid” (Openbaring 11:15). Een na die ander profesie beskryf die Wederkoms van Jesus Christus na hierdie aarde en hoe Sy Koninkryk sal wees.

Voor die gebou van die Verenigde Nasies in New York, is daar ’n standbeeld met die titel “Let Us Beat Swords into Ploughshares”, wat in die 1950’s deur ’n kunstenaar uit die Sowjetunie gemaak is. Dit is ’n “bronsbeeld wat die figuur voorstel van ’n man met ’n hamer in die een hand en in die ander ’n swaard wat hy in ’n ploegskaar omskep. Dit simboliseer die mens se begeerte om oorlog te beëindig en die vernietigende werktuie te omskep in werkbare landbougereedskap tot voordeel van die hele mensdom” (“Let Us Beat Swords Into Ploughshares”, UN.org, verkry 8 Julie 2021).

Dit is merkwaardig dat die VN-webwerf asook verskeie ander bronne wat melding maak van hierdie standbeeld, nalaat om die Bron van inspirasie daarvan te noem. Dit simboliseer meer as “die mens se begeerte om oorlog te beëindig”. Die inspirasie vir die beeld kom direk uit die Bybel, wat ’n rotsvaste belofte gee dat dit sal gebeur wanneer Christus weer kom om die mensdom van selfvernietiging te red. Wat betref Sy Wederkoms en Heerskappy, lees ons: “En Hy sal oordeel tussen die nasies en regspreek oor baie volke; en hulle sal van hul swaarde pikke smee en van hul spiese snoeimesse; nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie” (Jesaja 2:4; vergelyk Miga 4:3). Dit is waaroor die Wêreld van Môre alles handel!