Xi Jinping, die president van die Volksrepubliek van China, wil sy land se grootheid herstel en die toekoms hervorm deur ou ruilhandelroetes tussen China en die Weste te laat herleef. As een van die wêreld se kragtige en visioenêre leiers, beplan president Xi om triljoene dollars uit te leen vir 900 ontwikkelingsprojekte in meer as 60 lande, ten einde wêreldwye handel met China moontlik te maak. Die Nuwe Syroete-inisiatief sal die konstruksie van hawens, pyplyne, kragstasies, spoorweë en snelweë finansier om goedere oor Asië, tussen Afrika, die Midde-Ooste, Europa en China te vervoer. Hierdie massiewe onderneming word “die nommer een-projek onder die hemel” genoem. (“Why India distrusts China’s One Belt One Road-inisiative”. lowlyinstitute.org, 2 September 2016).

Die beste planne van die mens werk egter nie altyd uit soos dit bedoel is nie. President Xi se ambisieuse plan kan help om antieke eindtydse profesieë te vervul.

Die Syroete se ware doelwitte?

Volgens Chinese bronne is die primêre doel van hierdie uitgebreide projek om ’n goue era van handel in te lui deur koophandel te bevorder, die wêreld se ekonomie te versterk en moderne voordele vir onder-ontwikkelde lande te bring. President Xi hoop die plan “sal nuwe ekonomiese mag vir wêreldwye groei ontketen ... sodat die mens nader aan ’n gemeenskap met ’n gemeenskaplike eindbestemming sal beweeg” (“China’s new Silk Road promises trade and riches, with President Xi at helm”, Reuters, 15 Mei, 2017). Pakistan se president meen dat China se pogings om vriendskap te bevorder en paaie en brûe te bou om handel oor Asië te bevorder, “’n werklike nuwe era van medewerkende interkontinentale samewerking” sal teweegbring, terwyl Chili se president voorspel dat die New Silk Road Initiative die “weg sal baan vir ’n meer omvattende, gelyke, regverdige, welvarende en vreedsame samelewing met ontwikkeling vir almal” (“China’s $900 billion New Silk Road. What you need to know”. World Development Forum, weforum.org, 26 Junie 2017).

Ontleders in Indië, Japan, Europa, Rusland en Amerika is egter baie bekommerd. Met ’n bevolking van ongeveer 1,4 miljard mense het China een van die grootste ekonomieë op die planeet. Groot hulpbronne word benodig om die ekonomie aan die gang te hou en Sentraal-Asiatiese lande langs die Syroete het enorme neerslae olie, gas en minerale wat China nodig het. Deur geld te leen aan hierdie nasies om vervoerfasiliteite te bou, verkry die Chinese toegang en potensiële beheer oor hierdie bronne. Die lenings (aangebied sonder die vereiste deursigtigheid, demokrasie en menseregte) behels dikwels ooreenkomste om Chinese tegnologie, Chinese staal, Chinese ingenieurs en Chinese arbeid te gebruik. Dit skep ’n mark vir die oortollige kapasiteit van China se fabrieke en verhoed afdankings in hierdie staatsbesighede. Die lande wat in die skuld is word dan meer verantwoordelik gehou vir China se belange en eise (“China’s Silk Road project: A trap or an opportunity?” Al Jazeera, 17 Mei 2017).

Verskeie waarnemers sien ook ’n duidelike geopolitieke strategie agter die Nuwe Syroete Projek. President Xi is daartoe verbind om die “Chinese droom” te verwesenlik – die lewens van sy mense te verbeter en om China na sy regmatige plek te herstel as middelpunt van die wêreldtoneel. Hy fokus nie net op die uitbreiding van die Chinese ekonomie deur die verkryging van hulpbronne en markte vir China se uitvoere nie, maar ook om die wêreld se grootste militêre mag te moderniseer met die vermoë om “China se mag in die buiteland te laat geld teen alle mededingers. President Xi se mikpunt is ook om nasionalisme en trots op die herstel van ’n Groot China te laat herleef” (“Behold the New Emperor of China”. The Wall Street Journal, 17 Oktober 2017). Al hierdie dinge maak ander nasies in die streek senuweeagtig, wanneer hulle besef dat China sy wêreldwye invloed uitbrei en die omvang van sy geldstelsel met lenings en handel versterk (bloomberg.com, 15 Mei 2017). Die hawens en spoorweë van die Nuwe Syroete kan in die toekoms ook gebruik word om China se militêre magte oor Asië te vervoer (hindustantimes.com, 25 Mei 2017).

Vir eeue lank het China homself as die Middelpunt Koninkryk beskou – die middelpunt van die wêreld – aan wie ander nasies eerbied verskuldig is vanweë sy kulturele superioriteit. Uit ’n Chinese perspektief het hierdie verhewe status in die 1800’s verlore gegaan as gevolg van aggressie deur buitelandse moondhede (Groot-Brittanje, Rusland, Japan en Amerika). Vir ’n volk met ’n geskiedenis van nasionale verhewendheid, is “China se val van grootheid – die laaste 150 jaar van China se groot vernedering – ’n afwyking, ’n ontheiliging van China se spesiale kwaliteit en ’n persoonlike belediging vir elke individuele Chinees. Dit moet uitgewis word en sy oortreders verdien die nodige straf” (Brzezinski, Zbigniew. The Grand Chessboard, 1997, bll. 15, 158). Om China se geskiedenis te verstaan, werp lig op waarom moderne China daarop gefokus is om te herwin wat deur hom beskou word as sy regmatige prominensie in die wêreld. Dit is ook die rede waarom China vasbeslote is om nie deur ander moondhede gekortwiek of teruggehou te word nie en waarom dit versterkte kunsmatige eilande in die Suid-Chinese See skep en spoorweë en paaie regoor Sentraal-Asië bou. In die 1800’s het Rusland en Groot-Brittanje gewedywer vir beheer oor Sentraal-Asië – die Groot Spel – op die teorie dat wie ookal die hartland van Asië beheer, die wêreld sal beheer (Brzezinski, bll. 38-39). Vandag sien ons ’n nuwe Groot Spel in dieselfde deel van die wêreld, tussen ’n nuwe stel mededingers, een wat die wêreldwye landskap in die komende jare sal beïnvloed.

Antieke eindtydse profesieë

Baie mense in ons moderne wêreldse tyd besef nie dat Bybelse profesieë lank reeds die scenario voorspel het wat ons vandag sien ontwikkel nie. Die Skrif openbaar dat God die verloop van die geskiedenis lei – Hy “maak nasies groot en laat hulle omkom” (Job 12:23-24) en Hy “sit konings af en stel konings aan” (Daniël 2:21). China het ’n lang geskiedenis van oorheersing in Asië, maar dit het omstreeks 1500 n.C. begin verander, toe die Europese nasies hulle mag oor die hele wêreld begin uitoefen het. Uiteindelik het Engeland en Amerika die dominante moondhede op die wêreldverhoog geword. Hulle het ’n reeks baie spesifieke Bybelse profesieë vervul (sien Wat lê voor vir Amerika en Brittanje, asook Suid-Afrika?). Hierdie selfde profesieë waarsku egter dat die Israelitiese nasies wat deur God geseën word hulle voorrangposisies sal verloor as hulle van God sou wegdraai (Levitikus 26 en Deuteronómium 28) – presies wat vandag besig is om te gebeur.

Die Bybel beskryf ’n klimaktiese eindtydse konflik tussen hoofmoondhede in Europa, die Midde-Ooste en Asië – een waarin Amerika opvallend afwesig is. Die profeet Daniël skryf dat ’n koning van die Suide (’n Arabies-Moslemse moondheid) ’n koning van die Noorde sal uitdaag (’n Europese moondheid wat bande het met die antieke Romeinse Ryk). Hierdie Europese “diermoondheid” sal oorwin en in die Midde-Ooste inbeweeg, maar sal verontrus word deur en reageer op nuus wat “van die ooste en noorde af kom” – die rigting van Rusland en China (Daniël 11:40-44). Hoewel Rusland en China mededingende belange in Sentraal-Asië het, kan Westerse sanksies hierdie twee nasies na mekaar toe dryf (Deutsche Welle, 12 Mei 2017). In reaksie op hierdie Europese militêre aksie, sal ’n groot weermag ’n aanval van oos van die Eufraatrivier loods (oor die Nuwe Syroete se padnetwerk?) wat een derde van die mensdom sal vernietig (Openbaring 9:13-18). Later sal hierdie “konings van die Ooste” in die Midde-Ooste in die vallei van Megiddo (Armagéddon) vergader – vir ’n finale klimaktiese stryd net voor die Wederkoms van Jesus Christus (Openbaring 16:12-16). Alhoewel dit nie die toekoms is wat deur president Xi vir China en die wêreld beoog nie, is dit wat die God van die hemel op die aarde teweeg sal bring (sien Jesaja 46:8-11). Vrede, voorspoed en geregtigheid sal nie deur die Nuwe Syroete-inisiatief tot stand kom nie, maar deur die Koninkryk van God, gevestig deur die terugkerende Jesus Christus.