Baie mense is vandag bekommerd dat wêreldgebeure ’n gevaarlike koers inslaan. Verspreide geweld, globale brutaliteit en wydverspreide korrupsie in regerings en samelewings oorheers die nuus. Baie mense sien die erosie van die Westerse samelewing se fundamentele Judeo-Christelike waardes en die gevolglike sedelike verval – en hulle wonder, waarheen lei hierdie tendense? Wat hou die toekoms in? Terwyl kritici spot, openbaar Bybelprofesieë dat ons moderne wêreld besig is om ’n noodlottige mylpaal in die geskiedenis te nader.

Byna 2,000 jaar gelede het Jesus Christus Sy dissipels beloof dat Hy weer sal kom (Johannes 14:1-3) en Sy Koninkryk op hierdie aarde sal vestig (Daniel 7:27; Handelinge 1:6). Hy het ook voorspel dat Sy Wederkoms baie mense sal verras (Mattheüs 24:44). Hy het nogtans aan gelowiges gesê om “waaksaam” te wees vir ’n reeks spesifieke gebeure wat sou aandui dat Sy Wederkoms naby is (sien Mattheüs 24). Een uitstaande teken wat Jesus gesê het Sy Wederkoms onmiddellik sou voorafgaan, is dat wêreldtoestande soortgelyk sal wees aan ’n vroeëre tyd in die mens se geskiedenis, reg voor ’n wêreldwye krisis, “soos die dae van Noag was, so sal ook die koms van die Seun van die mens wees” (Mattheüs 24:37). Ons getuig dat hierdie eindtydse profesieë besig is om gestalte aan te neem!

Dae van Noag

Baie mense aanvaar dat die Bybelse verhaal van Noag net ’n mite is. Jesus verwys tog na die gebeure van Noag se tyd as ’n feit. Die apostel Paulus vermaan ons om uit hierdie antieke gebeure te leer want hulle “is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons op wie die eindes van die eeue gekom het” (1 Korinthiërs 10:11). Noag het in ’n tyd geleef toe God dramaties ingegryp het in menslike sake vir spesifieke redes – redes wat weer vandag te voorskyn kom. Die Bybel toon aan dat God die menslike beskawing tot stilstand gebring het omdat “die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was ... Maar die aarde was verdorwe voor die aangesig van God, en die aarde was vol geweld ... want alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” (Genesis 6:5-12). Die mensdom het heeltemal van God en Sy weë afgedwaal in ’n onbesonne nastrewing van boosheid. Dít is waarom God die antieke wêreld met ’n sondvloed vernietig het.

Die Skrif en geskiedkundige bronne openbaar ontnugterende ooreenkomste tussen Noag se tyd en ons tyd. Die Bybel toon aan dat mans van Noag se tyd “vir hulle as vroue geneem almal wat hulle verkies het” (Genesis 6:2). Aangaande die boosheid wat daardie tye gekenmerk het, het rabbynse geleerdes 1,500 jaar gelede opgemerk dat hierdie verbintenisse waarskynlik ander mans se vrouens, ander mans en selfs diere ingesluit het. Die invloed van hierdie perverse gedrag het die sondvloed oorleef toe ’n homoseksuele daad tussen ’n dronk Noag en sy kleinseun Kanaän plaasgevind het (Genesis 9:20-25). Die Bybel bestempel hierdie soort seksuele gedrag duidelik as ’n “gruwel” (Levitikus 18:22). God het ’n beskawing beëindig wat die spoor heeltemal byster geraak het – een wat deurspek was met geweld, perversie en allerhande soorte boosheid – hierdie geskiedkundige rekord het vandag vir ons as ’n waarskuwing behoue gebly.

Sodom, Gomorra en daarna

Die Bybel sowel as die geskiedenis bewys dat menslike beskawings ’n neiging het om van Bybelse standaarde van gedrag af te dwaal. Die stede van Sodom en Gomorra bied ’n duidelike voorbeeld van hoe menslike boosheid Goddelike straf tot gevolg gehad het. Die Bybel toon aan dat ’n groot rede waarom God die stede van Sodom en Gomorra vernietig het, die mense se grootskaalse homoseksuele bedrywighede was. Terwyl twee engele wat Lot in Sodom besoek het, het “die mans van Sodom, oud en jonk ... die huis van Lot omsingel. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: ‘Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê’” (Genesis 19:1-5 NV). Die profeet Esegiël skryf dat die sondes van Sodom ook ingesluit het: “... trotsheid, oorvloed van brood en sorgelose rus ... sy het die hand van die arme en behoeftige nie versterk nie” (Esegiël 16:49-50). Die Bybel se weergawe verwys na die aktiwiteite van die stede Sodom en Gomorra as ’n “gruwel” vir God – dit is hoe God verdraaide seksuele praktyke beskou (Levitikus 18:6-24). As gevolg van hierdie sondes het “die Here ... swawel en vuur oor Sodom en Gomorra laat reën” (Genesis 19:24). Argeoloë het oorblyfsels van ’n antieke nedersetting gevind (Early Bronze III), naby Bab edh-Dhra, geleë aan die suidoostelike rand van die Dooie See, wat bewyse van vernietiging toon deur ’n aardbewing en vuur (sien Archeological Study Bible). God se straf vir boosheid was finaal!

Waarskuwings geïgnoreer

’n Ontnugterende les vir ons vandag is dat deur die hele geskiedenis heen, verskeie waarskuwings van naderende goddelike oordeel geïgnoreer en bespot is deur mense wat dit gehoor het. Noag was ’n “prediker van geregtigheid” (2 Petrus 2:5) wat sy geslag vir ongeveer 120 jaar van hulle naderende ondergang gewaarsku het (Genesis 6:3), maar net agt mense – Noag se huisgesin – het op die waarskuwings ag geslaan. Lot se skoonseuns het gedink dat hy “gekskeer” toe hy hulle aangesê het om uit Sodom te vlug omdat dit vernietig gaan word (Genesis 19:14). Die profeet Esegiël het die nasies van Israel (Samaria) en Juda (Jerusalem) herhaaldelik gewaarsku dat God hulle sou straf omdat hulle vergeet het waarom Sodom en Gomorra vernietig is – maar hulle was nogtans aan soortgelyke gruwels skuldig (Esegiël 16:46-52) – hulle het verskriklike gevolge gely.

Die apostel Paulus voorspel dat “in die laaste dae” mense “liefhebbers van hulleself [sal] wees, geldgieriges ... trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers ... sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers ... meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God” (2 Timótheüs 3:1-5) – ’n akkurate beskrywing van ons moderne wêreld. Vandag leef ons in ’n samelewing wat toenemend meer gewelddadig en korrup raak, net soos in die dae van Noag. Onthoofdings, kruisigings en marteling maak weer nuus. Egbreuk, hoerery, pornografie en egskeiding in die Westerse wêreld is aan die orde van die dag. Die aanvaarding en bevordering van homoseksuele gedrag en dieselfde-geslag huwelike – eens as verdraaide gedrag veroordeel – word nou as ’n “alternatiewe lewenswyse” aanvaar en versprei vinnig in nasies wat eens geloof in Bybelse moraliteit bely het. Die doodmaak van ongebore babas deur aborsie het algemeen byval gevind en genadedood is ’n opsie in sommige van hierdie selfde nasies.

Wanneer samelewings die lesse van die geskiedenis ignoreer en begin om te leef asof daar geen God is nie – asof daar nie iets soos reg of verkeerd is nie – sal daar gevolge wees. Dawid skryf in die Psalms dat net dwase sê: “Daar is geen God nie” (Psalm 14:1) en “al die heidene wat God vergeet” sal vernietig word (Psalm 9:18). Agtereenvolgende profete het die antieke Israeliete gewaarsku dat hulle goddelike straf sou verduur omdat hulle God vergeet het (Hosea 8:14; Jeremia 13:24-27). Dit het militêre nederlaag, vernietiging van hulle stede en ballingskap ingesluit. Moses het gewaarsku dat die Israeliete “ná my dood gewis verderflik sal handel en sal afwyk van die weg wat ek julle beveel het, sodat die onheil julle aan die einde van die dae sal teëkom, omdat julle sal doen wat verkeerd is in die oë van die Here om Hom deur die werk van julle hande te terg” (Deuteronomium 31:29) – dit is waar ons ons vandag bevind. Ten spyte van hierdie antieke waarskuwings openbaar Bybelprofesieë dat “daar aan die einde van die dae spotters sal kom” wat die lesse van die geskiedenis sal vergeet, die waarskuwings sal ignoreer en die spot sal dryf met die idee dat Jesus Christus weer gaan kom (2 Petrus 3:1-10). Ons behoort George Santayana se ontnugterende waarskuwing te onthou: “Diegene wat nalaat om uit die geskiedenis te leer is gedoem om dit te herhaal”. Namate die wêreld nog ’n kritieke keerpunt nader, is die vraag: Gaan u vergeet, of sal u die lesse van die geskiedenis onthou?