Ons kan midde in die smart wat ons beleef – selfs ons eie sterflikheid – verlies van ’n geliefde met vrymoedigheid, moed en hoop in die gesig staar.

Het u al getreur oor die dood van iemand ná aan u? Voel u steeds die pyn van ’n verlies van lank gelede? Miskien het u selfs hierdie vraag gevra: Indien God goed en almagtig is, waarom kry ek so swaar? Die goeie nuus is dat u die dood – selfs u eie – met onverskrokkenheid, moed en hoop kan trotseer.

Nie lank gelede nie is ’n dierbare vriend en kollega van my oorlede en ek is gevra om ’n paar woorde by sy begrafnis te sê. Ek het dit altyd as ’n uitdaging beskou maar ook as ’n groot voorreg om te praat ter ere van die nagedagtenis van iemand wat gesterf het. Die lewe is ’n kosbare geskenk. Veral wanneer ’n mens ’n lang en vol lewe geleef het, is daar soveel dinge om te sê. Sy of haar lewe is soos ’n diamant wat skitter wanneer mens dit draai. ’n Mens sien ervarings, eienskappe, kwaliteite van krag en ja, selfs ’n paar swakhede. Dit is die opsomming van ’n lewe; hoe vat ’n mens dit saam in ’n paar minute? Dit is nogtans ’n eer om in so ’n tyd ter nagedagtenis van ’n dierbare vriend of geliefde te praat.

Wanneer ’n geliefde sterf, treur ons. Baie mense sukkel om deur die moeilike tyd van verlies te kom. Veral in hierdie tye van soveel erge siektes – wanneer die dood jonk en oud, gesond en swak bedreig – hoe kan ons dit hanteer?

Daar is baie antwoorde op daardie vraag – maar gereelde lesers van hierdie tydskrif weet dat ons aan die Bybel vashou as die Waarheid, die Woord van God. Dit is nie net ’n Boek van geskiedenis en profesie nie; dit bevat die antwoorde op die groot vrae van die lewe. Wanneer ons leiding soek oor die dood en die hartseer wat die verlies van ’n geliefde meebring, behoort ons op God se Woord te fokus. Ons eerste en belangrikste sleutel tot die hantering van die dood van ’n geliefde is dus:

#1.  Wend u tot die Bybel vir vertroosting, hoop en antwoorde.

’n Man met die naam Job het duisende jare gelede geleef. Job is erg getref deur baie opeenvolgende beproewings. Hy het geliefdes – sy seuns en dogters – tragies in een dag verloor. Hy was in ’n stryd gewikkel om te verstaan en het selfs vir God vir sy probleme blameer. Die verlies het sy geloof tot in sy diepste wese geskud. Op die ou einde het hy egter sy vertroue in God gestel en oor die hoop van die opstanding nagedink: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe? Dan sou ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom; U sou roep, en ek sou U antwoord, na die maaksel van u hande sou U verlang” (Job 14:14-15).

Job het geglo in die “verandering” wat sou kom – die opstanding uit die dood. Hy het geglo dat die tyd sou aanbreek vir die dooies om op te staan in reaksie op God se roepstem. Inderdaad, u kan van die begin tot aan die einde van die Bybel lees en u sal die bevestiging van lewe na die dood vind. Ons huidige lewe is nie die einde nie.

Terwyl Jesus op hierdie aarde was, was Hy God in die vlees. Wat het Hy oor lewe en dood gesê? Let op: “Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28-29).

Jesus het gesê daar is ’n toekoms ná die dood. Dit is die woorde van die Seun van God Self. Hy Self het reeds uit die dood opgestaan. Die apostel Paulus het oor Christus se lewe na die dood geskryf: “As dit dan gepreek word dat Christus uit die dode opgewek is, hoe sê sommige onder julle dat daar geen opstanding van die dode is nie?” (1 Korinthiërs 15:12).

Ten spyte van Jesus se opstanding, glo baie mense stééds nie. In elke tydperk was daar diegene wat getwyfel het. Paulus het tog verduidelik dat die opstanding van Jesus Christus ’n getuienis was vir honderde mense wat dit aanskou het. Baie van hulle het nog geleef toe Paulus die volgende geskryf het: “Want in die eerste plek het ek aan julle oorgelewer wat ek ook ontvang het, dat Christus vir ons sondes gesterf het volgens die Skrifte; en dat Hy begrawe is, en dat Hy op die derde dag opgewek is volgens die Skrifte; en dat Hy aan Céfas verskyn het; daarna aan die twaalf. Daarna het Hy verskyn aan oor die vyfhonderd broeders tegelyk, waarvan die meeste nou nog lewe, maar sommige al ontslaap het” (1 Korinthiërs 15:3-6).

Oordink Paulus se woorde. Hy het gesê dat terwyl hy geskryf het, het honderde broeders geleef wat Christus gesien het ná Sy opstanding en nog steeds daar was om daaroor te praat. Indien u nie seker is of u die Bybel kan glo nie, hou dan hierdie getuienis in gedagte. Indien dit nie waar is nie, sou Paulus werklik so ’n onbeskroomde stelling gemaak het? Indien Jesus Christus nie werklik opgewek is nie, waarom sou Paulus sy reputasie op die spel plaas? Waarom sou Paulus – sowel as die ander Apostels, later hulle lewens opgeoffer het eerder as om daarteen te preek?

Paulus kon selfs met groot vrymoedigheid sê: “Want vir my is die lewe Christus en die sterwe wins” (Filippense 1:21). Omdat hy geweet het dat hy na die dood by Christus sou wees, het hy geleef as een wat Christus met vertroue in die lewe kon verkondig. Het u en ek daardie selfvertroue?

Ons weet die Bybel gee aan ons waarheid en hoop, maar ons is steeds vlees-en-bloed sterflinge wat diep geraak word deur die verlies van geliefdes. Sommige mense wat treur voel vasgevang, asof hulle nóóit oor die verlies sal kom nie. Die Bybel is besonders deurdat dit ons ’n kykie gee van wat ná die dood gebeur en wanneer ons ’n man, ’n vrou, ’n kind of ’n goeie vriend verloor, kan ons ons na die Bybel wend vir bemoediging en vertroosting, want waar anders kan ons regte antwoorde kry?

Ons treur en ons is hartseer. Ons voel hartseer en voel dalk ’n volslae leegheid. Alhoewel ons in die versoeking kan kom om in onsself terug te trek, is ’n belangrike tweede sleutel om die dood van ’n geliefde te verwerk:

#2.  Reik uit na ander wat omgee en wat kan help.

Mense het oral tradisies en seremonies om die dooies te eer en die lewendes te troos. Dikwels kom familie en vriende bymekaar om te ondersteun en te bemoedig. Huldeblyke oor die oorledene kan gegee word deur diegene wat na aan die persoon was. Ons is hartseer tydens die geleentheid en mag trane stort – maar aan die ander kant is dit genesend en terapeuties om van die lewe, prestasies en selfs ’n humoristiese staaltjie of twee oor ’n geliefde te vertel.

Ek word altyd geraak wanneer ek ’n begrafnis bywoon en iets dieper leer oor ’n ander persoon se lewe. Dit is insiggewend om te hoor wat ’n seun, kleindogter of ander familielid vertel oor wat vir hulle of vir hulle geliefde belangrik was. Daardie herinnerings is kosbaar en veral betekenisvol wanneer dit gedeel word deur iemand wat die persoon goed geken het. Dit behoort gedeel te word. Alhoewel die proses ietwat pynlik is, vind ons almal baat by die verhale van ’n kind van God wat sy of haar wedloop voltooi het.

Soms wil mense wegkruip tydens rou en hartseer en sodoende onttrek hulle hul dikwels van individue in hulle lewe wat hulle die meeste sou kon help. Om deur mense omring te wees wat vir ons lief is, help geweldig baie wanneer ons die rouproses verwerk. Wanneer iemand sterf, is dit nodig dat ons die pogings van ander mense aanvaar wat ons wil troos. Hulle weet dalk nie altyd wat om te sê nie en daar kan dalk ongemaklike oomblikke wees, maar hulle probeer help en dit is goed om daardie hulp te aanvaar. Die pandemie het isolasie meer akuut en pynliker gemaak. As mense hét ons mekaar nodig! Dit is besonder waar gedurende tye van smart en verlies.

Indien u iemand is wat iemand anders wil troos, wees versigtig dat wanneer u uitreik na die een wat treur, u daardie persoon die tyd en ruimte gun om te treur. Prediker 3 herinner ons dat daar ’n tyd is om te treur, te ween en om stil te bly. Daar is selfs ’n tyd om te sterf maar dit is egter nie al wat daar is nie. Daar is ook ’n tyd om te omhels, om lief te hê en te genees. Wanneer u uitreik na diegene wat treur, maak seker dat u dit doen om hulle te help om deur hulle smart te werk en met die proses van genesing te help – nie net om usélf beter te laat voel nie.

In die Evangelies is dit opgeteken dat Jesus geween het toe Sy vriend gesterf het. Ons lees: “Toe Jesus haar [Maria] dan sien ween en die Jode wat saam met haar gekom het, ook sien ween, het Hy geweldig bewoë geword in sy gees en Hom ontstel en gesê: Waar het julle hom neergelê? Hulle sê vir Hom: Here, kom kyk. Jesus het geween” (Johannes 11:33-35).

Dit is moontlik dat Jesus hartseer was as gevolg van die gebrek aan geloof rondom Hom (vers 53). Tog is dit redelik om te glo dat, aangesien Hy ’n vriend van Lasarus was (vers 11) en na aan sy familie was, Hy ook geraak was en hulle hartseer gedeel het.

Soms kan ons as volwassenes vergeet dat kinders en tieners ook droefheid ervaar wanneer hulle ’n grootouer of ander familielid sien sterf. Hulle kan dalk verward wees oor wat besig is om te gebeur, veral as hulle baie jonk is. Sommige kinders kan dalk deur hulle eie emosies verwar word. Ander kinders wys dalk nie eers emosie nie. Hulle mag as gevolg van hulle gevoelens onvanpas optree en hulle swak gedra. Baie webwerwe gee raad om jongmense te help om te rou, maar hulle raad kan ook van toepassing wees vir baie van ons as volwassenes. Hier is een webwerf se voorstelle:

1. Gee uitdrukking aan gevoelens en vind ondersteuning 
Indien u ’n jong persoon is wat hierdie artikel lees en u het iemand aan die dood afgestaan, moenie bang wees om uit te reik na ander mense wat omgee nie. Wees sterk – u kán hierdeur kom. Bly besig en reik uit na u ouers, onderwysers en ander volwassenes wie u kan vertrou. 

2. Vind betekenis
Tye van hartseer en lyding kan ons aanspoor om die groot vrae van die lewe te vra: Waarom is ek hier? Waaroor gaan dit alles? Moenie wegskram van hierdie vrae nie. In die proses om te soek na antwoorde, sal u ook vertroosting vind. 

3. Versorg uself
Dit is maklik om die gewoontes wat ons sterk en gesond hou te laat vaar. Ons kan dalk sleg slaap. Ons kan dalk belangstelling in oefening verloor. Ons is dalk minder versigtig wat ons eetgewoontes aanbetref. Om uself egter fisies te versorg, is in werklikheid noodsaaklik om deur ’n tyd van rou te werk. 

(“Death and Grief,” KidsHealth.org)

#3.  Wend ’n poging aan om die doel van die lewe te verstaan.

Die artikel waaruit ons sopas gelees het, herinner ons daaraan om betekenis in die lewe te vind. Waarlik, om die dood te verstaan, moet ons eers die sin van die lewe verstaan. Waarom is ons hier? Wat beteken die menslike lewe? Is die evolusioniste reg? Is u die resultaat van miljarde proteïene wat net toevallig deur ’n weerligstraal getref is en wat daartoe gelei het dat alles harmonieus en perfek saamwerk?

Die waarheid is dat ons kinders van God is. Ons is na Sy beeld gemaak. In die eerste hoofstuk van die eerste Boek van die Bybel lees ons: “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis ... En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape” (Génesis 1:26-27).

Besef u wat dit beteken? Dit beteken u lyk soos God. Verstaan egter dat Hy in Sy verheerlikte toestand vir ons helderder as die son sou wees. Ons kan Hom nie sien en bly leef nie. Indien ons egter na Hom in die geestelike ryk kon kyk, sou ons Iemand sien wat soos ons lyk, want ons lyk soos Hy!

Hoe seker kan ons wees? Bedink hierdie Skriftuur: “Toe Adam honderd-en-dertig jaar oud was, het hy ’n seun verwek na sy gelykenis, na sy ewebeeld, en hom Set genoem” (Génesis 5:3). Dit is dieselfde frase – gemaak in sy eie gelykenis, na sy beeld – wat in Génesis 1 beskryf hoe dat God die mensdom geskape het. Dus het ons geen probleem om te verstaan dat Set soos sy pa Adam en sy ma Eva, gelyk het nie. Waarom is dit so moeilik om te glo dat ons na die beeld van God gemaak is – dat ons, indien ons God kon sien, sou sien dat ons soos Hy lyk?

Dink hieraan: Dit beteken dat ons op ’n totaal ander vlak as diere bestaan. Ons is gemaak om ’n verbintenis met God te hê, wat ons ’n doel en eindbestemming gee wat soveel groter as dié van enige dier op aarde is. Daar is ’n doel met hierdie lewe. Hierdie lewe is ’n tyd om in karakter te groei – God se karakter. Ons is hier om God en Sy doel te verstaan en ons harte na Hom te wend. Uiteindelik gee Hy ons die geleentheid om saam met Hom in die geestesryk – in Sy Gesin – vir ewig te leef. “kyk wat ’n groot liefde die Vader aan ons bewys het, dat ons kinders van God genoem kan word! Om hierdie rede ken die wêreld ons nie, omdat dit Hom nie geken het nie. Geliefdes, nou is ons kinders van God, en dit is nog nie geopenbaar wat ons sal wees nie; maar ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees, omdat ons Hom sal sien soos Hy is” (1 Johannes 3:1-2).

Hoe wonderlik – ons sal soos Hy wees en ons sal Hom sien soos Hy is. Dit is die doel van die lewe. Die doel van die lewe is nie om soos ’n kers uitgedoof te word, wedergebore te word om weer van voor af ’n fisiese lewe te lei of in die niet te vedwyn nie. Die doel van ons fisiese lewe is om ons voor te berei vir die ewige lewe. “En elkeen wat hierdie hoop op Hom het, reinig homself soos Hy rein is” (1 Johannes 3:3).

Ons leef dus nie net ons lewe doelloos, met geen vooruitsigte vir môre nie. Ons leef vir Christus, om gelykvormig te wees aan Sy karakter. Indien ons dit doen en Sy offerande vir ons sondes aanvaar en Hom nederig vra om ons te lei deur die lewe, sal ons vir ewig leef. Wat ’n voorreg!

Geskape om “alle dinge te erf”

Ons lees “... maar iemand het êrens getuig en gesê: Wat is die mens, dat U aan hom dink, of die mensekind dat U hom besoek?” (Hebreërs 2:6). Waarlik, ons is so onbeduidend in vergelyking met die enorme grootte van hierdie planeet, nog meer onbeduidend in vergelyking met die grootte van die sonnestelsel of die heelal. God het ons tog met ’n doel geskape:

“U het hom ’n bietjie minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie. Maar nou sien ons nog nie dat alle dinge aan hom onderwerp is nie” (Hebreërs 2:7-8).

“Alle dinge” is nog nie onder ons voete gestel nie, soos Paulus verder verduidelik, want op die oomblik is ons net vlees. Wanneer ons egter die lewe ingaan – die ware lewe, die ewige lewe – sal ons ons erfenis ontvang. Wat beteken dit? Indien u dit nog nie gedoen het nie, mag u dalk belangstel om ’n gratis eksemplaar van ons kragtige en insiggewende boekie Wat Gebeur Wanneer U Sterf? aan te vra. Dit is geskryf deur hierdie tydskrif se redaksionele direkteur, mnr. Richard F. Ames. Hy sê vir ons:

“Niks” wat nie onder hom geplaas is nie? “Alles” in onderdanigheid? Ja, dit is die belofte! Die Griekse frase wat in Hebreërs 2:8 as “alle dinge” vertaal word, is ta panta, wat letterlik “die alles” beteken. Soos die Griekse woordeskat verduidelik, beteken ta panta in die absolute sin “die heelal”. God wil vir u, saam met biljoene ander mense, heerskappy gee, nie net oor die aarde nie, maar oor die heelal!

Wanneer u die pynlike verlies ly van diegene wat ná aan u is, moenie wanhoop nie. Daar is hoop. Daar is ’n toekoms. Ons hele lewe is gebou rondom ’n plan wat God besig is om uit te werk. Die menslike gesin is ’n wonderwerk. Die feit dat ons op hierdie planeet kan oorleef, is verstommend wanneer ons besef hoe fyn ingestel ons wêreld moet wees om lewe te ondersteun.

Ons is nie per ongeluk hier nie. Ons is hier vir ’n doel en daardie doel gee ons hoop. Paulus verduidelik: “MAAR broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie” (1 Thessalonicense 4:13).

Gaan lewe en dood met vertroue tegemoet

Miljoene mense leef in vrees vir die dood omdat hulle geen hoop het nie. Hulle glo filosofieë wat hulle leer dat die dood die einde is – vir ewig. Ander mense is doodbang vir die hiernamaals, want hulle is bang hulle geliefdes ly nou intense pyniging in ’n ewigbrandende hel en hulle vrees dat hulle ook so ’n lot tegemoet sal gaan.

Gereelde lesers van hierdie tydskrif weet egter dat die oorgrote meerderheid van diegene wat in hierdie tyd leef en wie nooit die ware Evangelie gehoor het nie, wie net gehoor het van ’n valse Christus of van glad niks nie en wat nooit deur God geroep is nie, hulle geleentheid sal kry gedurende die Groot Wit Troon Oordeel (Openbaring 20:11-15).

Ja, ons God is regverdig en genadig. Waarlik, ons kan soos Paulus sê: “GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word” (2 Korinthiërs 1:3-4).

Die pyn om ’n geliefde te verloor is ’n realiteit. Ons kan egter troos vind in die wete dat daar ’n doel vir swaarkry is en dat die dood nie die einde is nie. Terwyl ons ons tot God wend, saam met Hom wandel en Hom toelaat om vir ons leiding te gee in ons lewe, sal ons Sy doel al hoe meer verstaan en ons sal ander ook op hulle reis kan help.