Op sekere maniere herinner die wetenskap ons aan een van die Bybelse spreuke: “Dit is die eer van God om ’n saak te verberg, maar die eer van konings om ’n saak na te speur” (Spreuke 25:2). Die natuur-wetenskappe – fisika, chemie, biologie en hulle subvakgebiede – verteenwoordig die gees van hierdie vers. Elkeen van hierdie dissiplines is ’n poging om die werke van die Skepper se hande te verken en feite te soek wat onder die oppervlak weggesteek is. Soos ’n enjin wat onder die motorkap weggesteek is, is soveel van die ingewikkelde, binne-werking van Sy skepping onder die oppervlak verborge en daar is wonders te vinde in die openbaarmaking daarvan.

Dalk help die spreekwoord om te verduidelik hoe wetenskap by die punt gekom het om vandag byna soos ’n godsdiens behandel te word, met die wetenskaplikes as priesters. Daar is ’n aura rondom die werking van die wetenskap. Die bevindings van die wetenskap word nou hanteer op dieselfde manier soos wat uitsprake oor God se openbaring in die Bybel voorheen hanteer was. Diegene wat die konsensus van wetenskaplikes bevraagteken word soms as wêreldse ketters behandel.

Tog, vir die edele strewe wat dit kan wees en die “roem” wat dit meebring, is wetenskap nog steeds ’n baie menslike strewe, onderhewig aan menslike feilbaarheid. Hierdie sy van die wetenskap is onlangs in die nuus bekend gemaak en deur te mediteer oor die bevindings daarvan, kan ons ’n aantal waardevolle dinge leer.

Word daar totsiens gewuif vir swaartekraggolwe?

Indien u in 2017 ’n intekenaar van hierdie tydskrif was, het u dalk ons artikel “Einstein, God en gravitasiegolwe” in daardie jaar se Mei-Junie-uitgawe gelees. Die bevinding wat vroeër daardie jaar bekend gemaak is, was indrukwekkend en inspirerend: ’n Span werkers van die Laser Interferometer Gravitational-Wave Observatory (LIGO)-eksperiment het aangekondig dat swaartekraggolwe uiteindelik ontdek is – die gevolg van ’n botsing van twee gravitasiekolke, ver in die ruimte. Die LIGO-spanne het innoverende en merkwaardig sensitiewe instrumente ontwikkel en dit wil voorkom asof rimpelings aangetoon word wat in die struktuur van ruimtetyd van die heelal voorkom. Hierdie soort rimpelings of swaartekraggolwe, word voorspel deur Albert Einstein se algemene relatiwiteitsteorie.

Die ontdekking was wyd en syd opgehemel en ons het daarvan geskryf en opgemerk hoe merkwaardig dit is dat Einstein met “gedagte-eksperimente” kon begin – beperk deur die beperkings van ons relatief klein wêreldjie – tot akkurate gevolgtrekkings te kom oor sodanige gebeurtenisse diep in die heelal. Die ontdekking was, soos ons destyds geskryf het, “’n huldeblyk aan God se wonderlike en ordelike ontwerp deur die grondslag van die werklikheid!”

Ten minste was dit so tot onlangs.

Soos berig in New Scientist in hulle November 3, 2018-uitgawe (“Wave Goodbye?” deur Michael Brooks), het die deeltjiefisikus en kosmoloog Andrew Jackson asook ’n groep mede-navorsers by die Niels Bohr-instituut in Kopenhagen, Denemarke, begin om die LIGO-resultate te ondersoek die oomblik toe dit aangekondig is en hulle het ernstige vrae gehad. Hulle is kundiges om groot versamelings data te ondersoek en te onderskei tussen egte seine in die data en blote geraas. (Stel u voor u luister na ’n swak radiostasie met baie steurnisse. Die steurnisse is die “geraas”, terwyl die musiek wat u probeer hoor, die “sein” is.)

Die Deense span betwis die opsporing van swaartekraggolwe en beweer dat die LIGO-span die geraas in die data nie behoorlik verwerk het nie en dat die sein wat deur die span opgespoor is, ’n illusie is wat deur daardie fout geskep is. Soos die New Scientist noem, het hulle twyfel ’n aantal wetenskaplikes oortuig. Die meeste van die LIGO-span hou vasberade by hulle oortuiging dat hulle wel swaartekraggolwe opgespoor het en ander weifel in die spektrum tussen daardie posisies.

Dit lyk of die jurie, vir nou altans, nie uitsluitsel hieroor bereik het nie.

Groter lesse

Ongeag hoe die saak uiteindelik besleg gaan word, bied die vrae wat nou die LIGO-ervaring omring, stof tot nadenke.

Eerstens behoort daarop gelet te word dat daar ’n rede is om iets te soek wat God weggesteek het, naamlik die “roem van konings”. Dit is nie ’n maklike taak nie. God se skepping is wonderbaarlik en dien as ’n gepaste monument vir die vindingrykheid en intelligensie van die Een wat dit geskep het. Soos ons in ons eie artikel opgemerk het, is dit ’n wonder dat ons enigiets van die kosmos kan verstaan – ’n eerbetoon aan die feit dat Hy hierdie fisiese ryk gemaak het volgens vasgestelde wette en verordeninge wat ontdek kan word (vergelyk Jeremia 33:25), in ooreenstemming met Sy eie bestaan as ’n ordelike en rasionele God. Dit beteken egter nie dat dit maklik is om dit te vind en te verstaan nie.

Verder kan ons herinner word aan die waarlik nederige posisie wat ons beklee in vergelyking met ons Skepper. Psalm 147:5 verklaar: “Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig.” Let wel: Sy verstand is oneindig. Ons s’n is beslis nie. Koning Dawid het die merkwaardige vermoëns van die verstand van God bedink – asook die vreugdevolle feit dat so ’n verstand eintlik van sy eie klein lewetjie op hierdie wêreld kennis geneem het, het dit hom laat afsluit: “Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie” (Psalm 139:6).

Terwyl ons ware wonders kan ontdek in die veelvuldige skeppings van ons Skepper – die spore van Sy vingerafdrukke op hulle vorms – kry ons net ’n vlugtige blik op dit wat ons kan waarneem. Soos die aartsvader Job opgemerk het: “Kyk, dit is maar die uitlopers van Sy weë, en watter fluisterwoord hoor ons maar van Hom! Wie sou dan die donder van sy magtige dade verstaan?” (Job 26:14). Wanneer ons soek na daardie vingerafdrukke, daardie fluisteringe, behoort nederigheid ons gids te wees. ’n Diepe begrip dat ons in Sy wêreld rondtas, nie Hy in ons s’n nie (vergelyk Handelinge 17:27), behoort ons naaste metgesel te wees.

Die LIGO-bespreking behoort ons ook daaraan te herinner dat ons in hierdie lewe nooit alles sal weet nie, hoe graag ons ook al wil. Die apostel Paulus het daardie feit aangegryp en verstaan dat ons in hierdie tyd “ten dele ken” en dat ons slegs met ons verheerliking en toetrede tot die Koninkryk van God, alles sal weet, net soos God ons ook ken (1 Korinthiërs 13:12). Tot dan sal daar altyd stukkies van die legkaart ontbreek – dalk net genoeg ontbrekende stukkies om ons aan te spoor om ’n oomblik te wag, na te dink en te oorweeg of ons genoeg tyd daaraan bestee om die regte legkaart op te los of nie.

Die grootste soektog

Daar is op die ou einde ’n legkaart wat belangriker is as al die ander – ’n soektog wat ons meer sal verheerlik as enige ander een wat ons kan onderneem. Dit behels om meer te doen as om rond te krap in die werke van Sy hande vir verborge kennis van hoe alles werk. Dit behels aanvaarding van die feit dat ons, almal van ons, die werk van Sy hande is en dat Hy ons vir ’n doel gemaak en gevorm het.

Om daardie doel te ontdek en die manier om daardie doel te bereik, is die soektog van ’n leeftyd. Eerder as om in die donker rond te ploeter – nie in staat om te onderskei tussen die sein en die geraas nie – kan ons dit wat ons nodig het, onmiddellik ontdek, as ons maar net nederig bereid is om na die Bron te gaan. Daar word aan ons vertel dat die soektog nie $620 miljoen sal kos soos die LIGO-opspoorders nie, maar dit kos wel “jou hele hart” en “jou hele siel” (Deuteronómium 4:29). Aan die een kant lyk dit na ’n baie hoër prys. Nogtans is dit inderdaad ’n baie klein prys as u die doel van so ’n soektog verstaan: Nie om deel te hê aan die heerlikheid van konings nie, maar om in die heerlikheid van God te deel (1 Thessalonicense 2:12).